Monday, 26 September 2011

Die Arabiese Opstande - Voorwoord

Hierdie boekie is die verwerking van ‘n reeks lesings wat ek onlangs by ‘n gemeente in Bloemfontein gegee het. Ek is gevra om oor die huidige wêreldsituasie in die lig van Bybelprofesieë te praat. Alhoewel ek nie iemand is wat alles wat in die wêreld gebeur na die Bybel probeer deurtrek nie – daar is baie ingrypende gebeure wat nie direk met Bybelprofesieë verband hou nie – is ek tog van mening dat sekere gebeure soos die Arabiese opstande wat tans in Noord-Afrika en die Midde-Ooste voorkom, met die vervulling van Bybelprofesieë in verband kan staan. Na my oordeel kan dit – afhangende van hoe die situasie verder ontvou – ‘n belangrike baken op die pad na die einde wees. Dit kan dus vir ons sê of die wederkoms nou wel regtig naby is of nie.

Een van die belangrikste redes waarom die Arabiese opstande belangrik is vir enige studie oor Bybelprofesieë, is omdat dit die potensiaal het om die hele situasie in die Midde-Ooste en die Middellandse See-gebied dramaties te verander. As daar ‘n demokratiese groepering van lande rondom die Middellandse See tot stand kom, sal dit maklik by die opkomende Europese Unie ingeskakel kan word (miskien met
sekere beperkings soos die op vrye migrasie). Dan sal die Unie al meer soos ‘n herstelde Romeinse Ryk lyk. So ‘n Ryk kan maklik in die eindtydse antichristelike ryk oorgaan as die Antichris beheer daarvan oorneem.

Intussen is daar ‘n groep lande binne die Europese Unie wat ook vanjaar van die ander begin wegbeweeg het. Hulle vorm ‘n kerngroep lande wat mettertyd al verder polities sal integreer. Dit is in hul midde dat daar ‘n heerser vir Europa kan verrys. Dit is in elk geval wat agter die skerms beplan word. In sekere geheime groepe word beplan dat iemand uit die sogenaamde “Rooi Slang” familie mettertyd die leisels van die Europese Unie sal oorneem.

Profesieë wat in hierdie boek ter sprake kom, is dié in Daniël en Openbaring oor die dier wat tien horings het (Dan. 2, 7; Open. 13), oor die Antichris wat as ‘n ander horing tussen die tien horings uitgebeeld word, profesieë oor Libië, Iran, die Slag van Gog en Magog (Eseg. 38, 39) asook oor Israel se herstel in 1948 (die vyeboom wat bot?) en die Millennium (wat nie in 2000 n.C. gekom het nie). Ek kyk krities na sieninge wat telkens nuwe lappe op ou geskeurde klere plak. Voorts ontwikkel ek alternatiewe interpretasies wat meer inpas by die huidige stand van sake.

Hierdie is nie ‘n reeks teoretiese lesings oor die profesieë nie – die gedagte was eerder om ‘n gemaklike gesprek te voer oor die praktiese implikasies van hierdie gebeure in die raamwerk van Bybelprofesieë oor die eindtyd. Die boek is vir die gemiddelde Christenleser bedoel wat ‘n belangstelling in beide wêreldgebeure en Bybelprofesieë het.

Die reeks lesings waarna verwys word kan per reeks DVDs verkry word by die volgende adres: Ebenhaeser Gemeente, Posbus 28593, Danhof, 9310 (Selfoon 0828980853).

Willie Mc Loud (http://wmcloud.blogspot.com/)
Julie 2011
Die Strand

Tuesday, 13 September 2011

Die Europese Unie - wat gaan aan?

Inleiding

Die Europese Unie (EU) is in 'n krisis - of beter: die Euro is in 'n krisis.  Die wêreldwye ekonomiese insinking het 'n enorme impak op die Euro en daar is sprake dat die einde van die Euro op hande is.  Sommige dink dat dit net 'n kwessie van tyd is voordat die Eurosone verkrummel.  Maar is dit werklik so?  Of is daar 'n groter plan in werking.

Dit is natuurlik nie die eerste maal dat die Europese Unie (vroeër die Europese Gemeenskap genoem) deur sulke krisisse gaan nie.  Dink maar aan Swart Woensdag 16 September 1992 toe spekulasie teen die Pond die Britse regering gedwing het om daardie geldeenheid aan die Europese uitruil meganisme (die voorloper van die Euro) te onttrek.  Die vraag is of iets soortgelyks weer sal gebeur. Of sommige van die lande van die Euro gedwing sal word om die Eurosone te verlaat.

Belange groepe in die Unie

Alhoewel dit so mag lyk, is daar nie iets soos onbeplande gebeure wat op daardie front plaasvind nie.  Selfs die huidige gebeure rondom die Euro moet in hierdie lig gesien word.  Ons moet dit sien in die raamwerk van mededingende belange groepe wat hul oogmerke vir die Unie probeer bevorder.  Hierdie groepe sluit 'n breë raamwerk van politici, finansiële en ekonomiese leiers, geld base, spekulante en andere in.

Daar is veral twee sulke groepe, naamlik die Anglo-Amerikaanse groepering en die Frans-Kontinentale groepering.  Beide groepe het 'n netwerk van belange wat regdeur die Unie strek.  Eersgenoemde groep wil die mag van die Europese Unie op allerlei wyses inperk sodat dit nie ten koste van die VSA as 'n magsblok te voorskyn tree nie.  Hierdie groep se belange is sigbaar in die Britse beleid oor die afgelope paar dekades waar daar op allerlei wyses gepoog is om die verdere integrasie van die Europese lande te belemmer. Alhoewel hulle met verloop van tyd gedwing is om baie toegewings te maak, behou hulle byvoorbeeld steeds 'n vetoreg op enige Europese militêre beleid.

Wat die Frans-Kontinentale groep betref, wil hulle weer die Europese Unie as 'n politieke reus vestig wat onafhanklik van die VSA op die wêreld front kan opereer.  Hulle beskou Charles de Gaulle as toonbeeld van iemand wat 'n onafhanklike en sterk Frankryk (en dus Europa) voorgestaan het.  Die ideaal van hierdie groep word mooi in die Franse beleid tydens die Chirac era (hy was die vorige Franse president) weerspieël.  In daardie tyd het ons gereeld gehoor dat daar na 'n uiteindelike "multi-polêre" wêreld gestreef moet word waarin daar nie een moondheid is (i.e. die VSA) wat alleen die kitaar slaan nie.

Hierdie groepe het al in die verlede ernstig koppe gestamp.  So kan die onttrekking van die Britse Pond uit die Europese uitruil meganisme waarskynlik aan spekulante van die Franse groep toegeskryf word.  Ons kan ook aan die periode direk voor die Tweede Golf Oorlog dink toe Jacques Chirac die Anglo-Amerikaners se beplande oorlog in Irak ernstig teengestaan het.  In daardie tyd was die verhoudinge tussen die "ou Europa" en die VSA baie suur.  Chirac se standpunt dat die VSA se optrede nie moreel geregverdig kon word nie het baie ander lande gemotiveer om ook standpunt teen die VSA in te neem.   Ons kan selfs die huidige afname in die VSA invloed in die wêreld gedeeltelik na Chirac se anti-VSA groepering terugvoer (saam met die hele debakel in die na-oorlogse Irak). 

Daar is egter ook 'n derde groepering.  As dit nie vir hulle was nie, sou die Europese Unie waarskynlik nooit beslag gekry het nie.  Dit is 'n groep wat persone van beide bogenoemde groepe insluit en wat daarna streef om gemeenskaplike grond te vind.  Hulle probeer 'n gesamentlike VSA-Europese raamwerk daarstel.  Op hierdie stadium is NAVO een van die belangrikste forums wat help om hierdie samewerking uit te bou - veral nadat die huidige Franse president, Nicolas Sarkozy - die Franse weer in NAVO terug gebring het (De Gaulle het hulle onttrek).  Sy regering is dan ook verbind tot die oogmerke van hierdie derde groep.

Kompromie in die Unie


Die wyse waarop hierdie groepe in die verlede kon saamwerk was eenvoudig - vir elke stap van "verbreding" van die Unie, was daar 'n ooreenkomstige "verdieping" in die Unie. Die Anglo-Amerikaanse groep wil graag sien dat die Unie verbreed om uiteindelik 'n baie groot groepering van lande, waaronder Moslem demokrasieë soos Turkye, in te sluit.  Hulle dink veral in terme van 'n reuse vryhandelsgebied.  Dit sal noodwendig tot gevolg hê dat die Franse stem in die Unie sy gewig verloor.  Die Frans-Kontinentale groepering wil weer 'n verdieping in die Unie sien - hulle wil sien dat die Unie al meer polities integreer. Hulle staan dus 'n uiteindelike politieke unie voor wat selfs as teenwig vir die VSA kan dien.  Hierdie twee sieninge is versoen deurdat daar telkens 'n stap in beide rigtings gegee is.

In hierdie verband kan ons twee groot stappe noem wat die Unie die laaste aantal jare geneem het.  Die een was toe daar tien lande (meestal Oos-Europese lande) op 1 Mei 2004 tot die Unie toegelaat is - duidelik 'n dramatiese verbreding van die Unie. Die ander was die Lissabon verdrag wat op 1 Desember 2009 van krag geword het.  Dit het weer 'n aansienlike verdieping in die Unie bewerk.  So is die Unie nou vir die eerste maal 'n regspersoon en verteenwoordigers van die Unie kan ooreenkomste namens die Unie sluit.  Verder het die Europese parlement groter magte gekry en 'n President vir die Europese Raad (saamgestel deur die leiers van die EU lande) sowel as 'n Verteenwoordiger van die Unie vir buitelandse en sekuriteitsbeleid is aangestel.

Hierdie kompromis het egter sy limiet bereik.  Brittanje sien byvoorbeeld nie kans om nog magte aan die Unie af te staan nie.  Hulle wil nie in hierdie stadium aan enige verdere noemenswaardige verdieping in die Unie deel hê nie.  Daar moes dus 'n ander ooreenkoms tussen die groepe beding word - 'n verdere konsensus wat oor 'n lang tyd bereik is.  Dit maak ruimte vir 'n multi-spoed Europa.  Dit laat daardie lande wat hul strukture verder wil integreer toe om dit te doen.  Daar is egter 'n baie belangrike beperking op hierdie multi-spoed EU, naamlik dat daar nie 'n kerngroep van lande moet wees wat uiteindelik polities integreer en sodoende wel 'n teenwig vir die VSA vorm nie.

Wat die Anglo-Amerikaners sedert die Blair tyd voorstaan, is 'n EU wat uit "klubs" bestaan.  Hulle wil nie 'n EU hê wat soos konsentriese sirkels lyk nie, maar een wat soos die Olimpiese ringe lyk.  Om te verhoed dat sommige lande 'n koherente kerngroep uitmaak, moet die integrasie van die Unie binne die raamwerk van sulke klubs geskied.  Ons vind dan ook dat daar tans 'n aantal sulke groepe bestaan, naamlik die EU, die Eurogroep en die Schengen groep.

Onlangse gebeure

Dit bring ons by die huidige gebeure.  Ons moet ons nie teen die krisis vas staar nie.  Die Euro is oor so 'n lang tyd met soveel moeite op die been gebring, dat dit uiters onwaarskynlik is dat die Euro gaan kraak. Wat ons eerder moet raaksien, is 'n georkestreerde poging deur die finansiële markte om die Eurogroep te dwing om (teen die publieke opinie in) verder te integreer.  Ons vind eienaardig genoeg dat selfs die Anglo-Amerikaanse media positiewe uitsprake oor die vorming van 'n meer geïntegreerde Eurosone maak (dit is genoeg om ons oor die toekoms van die Euro gerus te stel).  Daar ontwikkel 'n algemene konsensus dat die Eurogroep ook deur 'n fiskale onderbou ondersteun moet word. 

Maar is die Anglo-Amerikaners dan nie teen sulke verdere integrasie gekant nie?  Nie solank dit in die raamwerk van sekere "klubs" van EU lande plaasvind nie.  Die verdere fiskale integrasie van die Eurosone word dan ook deur 'n ander belangrike "klub" uitgebalanseer.  Dit is die klub van Europese lande wat saam by militêre aksies soos die in Libië betrokke is.  Die militêre samewerkingsooreenkoms wat 'n tyd gelede tussen die Sarkozy regering en die Britse regering gesluit is, vorm die basis van hierdie groep lande.  

Die Sarkozy regering - wat weet dat die Anglo-Amerikaners 'n uiteindelike vetoreg oor enige toekomstige EU militêre samewerking behou - werk dus nou met die Anglo-Amerikaanse groepering saam.  Ons vind dat Frankryk in die hart van altwee hierdie belangrike EU klubs staan, naamlik van die Eurolande wat ekonomies verder wil integreer asook van die wat op militêre gebied saamwerk.  Die verdieping in die Eurosone word dus uitgebalanseer deur 'n verdieping in militêre samewerking met die Anglo-Amerikaners. Vir tyd en wyl kan die proses van Europese integrasie dus voortgaan.  Al die groeperinge weet dat hierdie kompromie op hierdie stadium waarskynlik die enigste manier is om hul eie belange te bevorder.

Waarheen Europa?

Ten spyte van die kompromie, lyk dit of die EU stadig maar seker begin lyk soos die Franse groep wil hê.  Ons vind byvoorbeeld dat daar, ten spyte van die "klubs", wel 'n kerngroep lande is wat aan die hart van al die klubs staan.  Ek verwag ook dat al meer van daardie lande, soos Frankryk, mettertyd by die genoemde militêre groep sal aansluit.  Daar sal dus 'n kerngroep lande wees wat op alle terreine hul ekonomiese, militêre en politieke kragte saamsnoer.

Maar wat van Brittanje se vetoreg?  Alhoewel dit 'n baie belangrike troefkaart is, het die ander groep weer hul eie troefkaarte waarvan die belangrikste seker hul vetoreg op Turkye (en ander sulke lande) se insluiting in die EU is.  Op 'n sekere stadium sal Brittanje verplig wees om selfs hierdie vetoreg prys te gee.  Dit is op daardie punt dat die EU al meer op sy eie bene sal kan staan. Die vraag is of die Frans-Kontinentale groep die Britte so sal kan uitoorlê dat die toekomstige Europa 'n onafhanklike rolspeler op die wêreldtoneel sal wees.

Dit is net 'n kwessie van tyd voordat die Frans-Kontinentale groep weer iemand uit hul eie geledere (soos Jacques Chirac) in Frankryk aan bewind kry.  Dan sal hulle in 'n baie beter posisie wees om weer hul eie stempel op die proses af te dwing.  Ons kan verwag dat dit 'n groot impak op verdere ontwikkelinge in die EU sal hê.  Dan kan dinge vinnig dramaties verander.

Intussen moet ons maar net rustig wag en kyk wat gebeur.  Ten minste weet ons dat die proses van EU integrasie steeds op koers is.  Die huidige krises is in effek net nog 'n fasiliteerder vir daardie integrasie.

Ek bespreek die verband tussen hierdie gebeure en Bybel profesieë oor die eindtyd in my boek oor die Arabiese opstande.

Saturday, 3 September 2011

Nuwe Boek: Die Arabiese Opstande

Verwagtinge en voorspellings van die wederkoms is so oud soos die Christendom self.  Onlangs was daar weer die volgelinge van Harold Camping wat onsuksesvol was in hul voorspellings oor die  wegraping op 21 Mei 2011.

Vir die ernstige student oor die wederkoms was 1948 ’n besondere baken.  Dit was die jaar van die  herstel van Israel en die gepaardgaande verwagting dat die laaste geslag aangebreek het. Baie verklaarders het gevolglik gedink dat Jesus se koms voor 2000 n.C. sou plaasvind en daarmee saam die 1,000 jaar vrederyk.

Waar het hierdie verklaarders verkeerd gegaan? Moet ons nou alle vertroue in die profetiese woorde van die Bybel laat vaar? Sekerlik nie sê die skrywer van Die Arabiese Opstande.  In hierdie boek skets Willie Mc Loud ’n toekomsperspektief gebaseer op verskeie bekende Bybelprofesieë en toon dat die eindtoneel inderdaad stadig maar seker in gereedheid kom.

Hy toon dat die huidige opstande in die Arabiese lande ’n belangrike baken is op hierdie pad. Eers was daar die opstande in Oos-Europa, toe in die lande oos en noord van die Swart See, en nou in die  Arabiese lande al rondom die Middellandse See. Is dit toevallig? Is dit slegs maar die opmars van  demokrasie? Nee, ’n nuwe wêreldorde is stadig maar seker besig om vorm aan te neem – een wat treffend ooreenkom met die eindtydse toneel wat lank terug in die Bybel voorspel is.

Hy toon aan dat die opkomende Europese Unie wat op verstommende wyse van 6 tot 27 lidlande gegroei het, sentraal staan in hierdie nuwe orde. As die Arabiese demokrasieë later ook in die Unie geakkomodeer word, sal dit al meer na ’n herstelde Romeinse Ryk begin lyk. Dit is die antichristelike ryk waarvan die Bybel profete gepraat het. Hy bespreek ook die “Rooi Slang” familie wat onverpoos agter die skerms werk om een uit hulle geledere uiteindelik op die troon van ’n toekomstige Unie te plaas.

Hierdie boek is ’n absolute moet vir elkeen wat in eindtydse profesieë belangstel. Daar is vars insigte oor die interpretasie van belangrike profesieë asook ’n geïntegreerde perspektief op die toekoms.

Dr Willie Mc Loud bestudeer al vir bykans 25 jaar die verband tussen wêreldgebeure en  Bybelprofesieë.  Hy het al verskeie boeke oor die tema geskryf en tree gereeld as spreker op.