Monday, 5 December 2011

Oorlogswolke begin oor die Midde-Ooste saampak

Die situasie in Sirië het die laaste tyd baie versleg en die konflik aldaar het die potensiaal om dramaties te eskaleer.  Gaan Sirië dieselfde pad as Tunisië, Egipte en Libië loop deurdat die populêre opstand uiteindelik op die val van die regime uitloop? Of gaan die konflik in Sirië tot 'n oorlog uitkring waarby die omringende lande ingesuig word?  Gaan Iran uiteindelik daarby ingesleep word?  In Die Arabiese Opstande het ek voorgestel dat ons in die afsienbare toekoms so 'n oorlog kan sien.

Die outokratiese regerings van Tunisië, Egipte en Libië het geval.  Gaan Sirië volgende aan die beurt wees?  Die situasie in Sirië is stadig maar seker besig om te intensifiseer.  Aangesien die rewolusies in die ander lande nou al op 'n manier besleg is, is al die aandag op die oomblik op Sirië.  Anders as met die ander lande, het Sirië egter 'n paar belangrike bondgenote, wat nie alleen aan daardie regering meer beweegruimte bied nie, maar wat ook daartoe kan lei dat die situasie uiteindelik op 'n Midde-Oosterse oorlog uitloop.  Ons kan reeds sien hoedat die opponerende koalisies begin vorm aanneem.  As dinge verder versleg, kan hierdie groepe maklik in 'n oorlog teenoor mekaar te staan kom.  Daar is egter baie nuanses wat in ag geneem moet word.
 
Die Siriese situasie 

Die populêre opstand in Sirië is nou al vir bykans 'n jaar aan die gang.  Sedert dit in Maart vanjaar in 'n volskaalse rewolusie ontwikkel het, het daar volgens Menseregte organisasies reeds meer as 4000 mense gesterf - maar die syfer is waarskynlik baie hoër.  Hierdie ongevalle syfer spruit voort uit die geweldadige wyse waarop die regering van president Bashar al-Assad probeer om die opstande te onderdruk.  Tenks en sluipskutters is in die dorpe waar die meeste opstande voorkom ontplooi.  Duisende betogers is al in hegtenis geneem en baie het as gevolg van marteling in aanhouding gesterf - dit sluit heelwat kinders in.

Dit intensiteit van die konflik het toegeneem toe al meer soldate uit die weermag begin dros het eerder as om op die betogers te skiet.  Hulle het die Vrye Siriese Weermag gevorm wat nou volgens berig al omtrent 20 000 lede het.  Skermutselings met die weermag begin toeneem en die term "burgeroorlog" word al meer gebruik.  Die Arabiese Bond het Sirië onlangs uitgeskop en sanksies teen die regering goedgekeur.  Die VN se menseregte raad het ook die geweld veroordeel.

Tog het die Buiteland nog nie - soos in die Libiese situasie - direk by die situasie in Sirië begin betrokke raak nie. Alhoewel daar al 'n poging by die VN se sekuriteitsraad was om die Siriese regering vir die geweld veroordeel, het Rusland en China dit geveto.  Die VSA en die EU het wel sanksies ingestel en alle olie invoere van Sirië gestaak.  Na die instelling van sanksies deur die Arabiese Bond, is daar nou weer 'n poging om die VN daarby te betrek, maar dit is onwaarskynlik dat Rusland daartoe sal instem.  Die Franse het voorgestel dat humanitêre korridors afgedwing word om mense te help om die geweld te ontvlug.  Die Turke het ook al van 'n buffersone langs die Turkse grens gepraat.  Daar is egter nog geen eenstemmigheid oor hierdie voorstelle of die implementering daarvan nie.

Sirië is anders as Libië

Alhoewel dit mag lyk of Sirië mettertyd dieselfde pad as Libië sal loop waar die VN 'n intervensie goedgekeur het om die mense teen die geweldadige optrede van die regering te beskerm, is daar belangrike verskille tussen hierdie lande.  Die belangrikste enkele verskil is seker die rol van Rusland.  Tot dusver in die konflik het die Russiese media die Siriese narratief oor gebeure nagepraat, naamlik dat die weermag nie teen weerlose betogers optree nie, maar teen gewapende boewe.

Die Russe, wat enige VN resolusie kan veto, het lang historiese bande met Sirië.  Hierdie bande gaan terug na die Koue Oorlog en Rusland het selfs nog militêre personeel op die grond in Sirië.  Hulle het ook onlangs 72 supersoniese cruise missiele, wat al 'n geruime tyd terug deur die Siriërs bestel en betaal is, afgelewer.  Dit het 'n reikwydte van 300km en is hoofsaaklik vir die verdediging van hul kuslyn bedoel.  Die Russe het ook 'n vliegdekskip en twee ondersteuningskepe na die Middellandse See gestuur (waar die VSA reeds 'n vliegdekskip het).

Die Russe sien Sirië as 'n baie belangrike strategiese vennoot in die Midde-Ooste.  Behalwe vir Iran, is dit die enigste land met wie hulle werklik diepliggende bande het.  As die rewolusie in Sirië sou slaag, en daar 'n demokraties-verkose regering aan bewind kom, sal die nuwe regering beslis nie dieselfde bande met Rusland handhaaf nie - juis vanweë die Russe se steun aan die Assad regering.  Rusland sal dus alles in hul vermoë doen om te verhoed dat die Libië situasie in Sirië herhaal word.

Daar is egter ook ander belangrike verskille.  Sirië het ook belangrike vennote in die direkte omgewing, terwyl die Libiese regering - behalwe vir sommige Afrika en Suid-Amerikaanse lande (waaronder Suid-Afrika!) - baie geïsoleerd was.  Daar is veral twee sulke lande, naamlik Iran en Libanon.  In Libanon het die militante Moslem groep, Hezbolla, tans 'n sterk invloed in die regering en hulle weier dan ook om die sanksies van die Arabiese Bond teen Sirië te implementeer (Sirië se ander buurlande, Irak en Jordanië, sal vanweë hul afhanklikheid van Siriese handel ook nie op hierdie stadium al die sanksies instel nie).  Die leier van Hezbolla, Hassan Nasrallah, het dit duidelik gestel dat hulle bereid is om saam met die Siriese regering te veg. Hulle is waarskynlik alreeds saam met die Irannese by die onderdrukking van die Siriese opstand betrokke.

Soos die Irannese, behoort Hezbolla tot die Shi'ite groepering onder die Moslems.  Ook die Alawiete, waartoe die Siriese heersers behoort, het uit die Shi'ites ontstaan. Hulle is 'n  minderheidsgroep in beide Sirië en Libanon.  Hierdie groepe is dus godsdienstige bondgenote.  Dit is dus moontlik dat hulle mettertyd by die konflik in Sirië ingesleep sal word. 

Die rol van Iran

Indien daar direkte buitelandse inmenging in Sirië plaasvind, kan dit uiteindelik gebeur dat Iran tot die konflik toetree.  Iran is baie magtiger as Sirië en indien dit sou gebeur dat hulle by die konflik betrek word, sal dit op 'n baie groot oorlog uitloop.  Die Westerse konflik met Iran het die laaste tyd ook dramatiese toegeneem nadat die Internasionale Atoomenergie Agentskap (IAEA) in hul verslag verlede maand genoem het dat daar aanduidings is dat Iran by die bou van kernwapens betrokke is. Israel het selfs met 'n aanval op die Irannese installasies gedreig.  Alhoewel hulle oogmerk waarskynlik is om die Russe en Chinese te beïnvloed om nie verdere sanksies teen Iran in die VN se veiligheidsraad te veto nie, is die Israeli's baie onvoorspelbaar en is so 'n aanval nie uitgesluit nie.  Hulle het vroeër ook die Siriese kernprogram met 'n aanval vernietig.   

Die aanval van Irannese betogers op die Britse ambassade in Teheran het die situasie verder laat versleg.  Beide lande het hul diplomatieke personeel onttrek en daar is dus nie veel kanale oop om enige misverstande wat mag opduik uit die weg te ruim nie (die VSA praat al lankal nie met die Irannese nie).  Verder het die Europese Unie nou ook sanksies teen Iran ingestel.  Hulle oorweeg selfs 'n boikot van Irannese olie - wat seker eers sal realiseer wanneer Libië se olieproduksie dit kan aanvul.  In geval van 'n militêre konflik sal die Weste dus nie van Iran se olie afhanklik wees nie.

Die NAVO magte beplan al lankal vir so 'n gebeurlikheid.  Dit is die groot rede waarom hulle al 'n geruime tyd daaraan werk om 'n missielskild vir die Europese lande op te rig.  Turkye het dan ook onlangs ingestem om 'n vroeë waarnemingstelsel as deel van 'n NAVO skild te huisves.  Dit het tot gevolg gehad dat 'n Irannese bevelvoerder gesê het dat Iran dit sal aanval as hulle bedreig word.  Die belangrikste rede waarom hierdie skild nog nie ten volle gerealiseer het nie, is omdat die Russe dit teenstaan.  Hulle is van mening dat so 'n skild maklik in 'n verdedigingskild teen Russiese missiele omgesit kan word.  Volgens hulle gaan dit teen die gedagte van wedersydse ontwapening in.  Dit lyk egter of daar nou met die oprigting daarvan voortgegaan word.      

'n Komende oorlog?

Ons vind dat die koalisies wat tydens so 'n oorlog teenoor mekaar te staan kan kom, al hoe duideliker uitkristaliseer.  Ek het reeds na die Siriese bondgenootskap met Iran en Libanon verwys.  Alhoewel Rusland hulle goedgesind is en Vladimer Putin, wat waarskynlik volgende jaar weer die Russiese president sal word, 'n baie hardvogtige houding jeens die Weste openbaar, sal Rusland nie somaar direk by so 'n konflik betrokke raak nie.  Rusland sal nie somaar so baie waag vir 'n land soos Sirië nie.

Wat 'n moontlike teen-koalisie betref, het die boikotaksie van die Arabiese Bond daardie lande in effek alreeds in 'n bondgenootskap teen Sirië verenig.  Sommige van daardie lande soos Katar, Jordanië en die Verenigde Emirate was ook vroeër by die aanvalle teen Libië betrokke.  Sommige ander lande, soos Saoedi-Arabië, is ook al vir jare aan die voorpunt van die stryd teen die Irannese invloed in die Midde-Ooste. Die vermeende sameswering van persone met Irannese bande om die Saoedi ambassadeur in die VSA te vermoor, het hul verhouding met Iran verder versuur.  Ook die Bahreinse regering het die Irannese onlangs daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om die brug na Saoedi-Arabië op te blaas.     

Die belangrikste ander Moslem land (buite die Arabiese Bond) wat deel van hierdie groepering uitmaak, is Turkye.  Turkye het deurentyd die Arabiese Bond oor Sirië gekonsulteer, en het ook hul eie sanksies teen Sirië ingestel.  Alhoewel Turkye amptelik 'n beleid van zero probleme met hul buurlande navolg, het die gebeure in Sirië hulle in direkte konfrontasie met daardie regering gebring.  Die rede hiervoor is dat Turkye hulleself as die model van 'n Moslem demokrasie beskou - as die segsman van die Moslem massas wat deur opstande demokrasie nastreef.  Die huidige bewindhebbers, die AK party (Adalet ve Kalkınma Partisi), is ook 'n gematigde godsdienstige Moslem party wat, soos die meeste lande van die Arabiese Bond, tot die Sunni groepering onder die Moslems behoort.  

Soos in Turkye, het sulke partye ook in beide Tunisië en Egipte (en moontlik ook Libië) die meerderheid steun.  Alhoewel Iran hierdie groepe as vennote wil sien in hul anti-Westelike benadering, is hierdie groepe in effek alreeds deel van die Westers-gesinde groepering van Moslemlande.  Die rede hiervoor is dat hul Moslembroeders in Sirië in die voorste linie teen die Assad regering betrokke is.  Hulle staan dus in opposisie tot die Siriese regering.  Die lande waar hierdie groepe na die rewolusie deel van die nuwe regerings vorm, is dan ook almal deel van die Arabiese Bond state wat die sanksies teen Sirië ingestel het.  Verder word hierdie groepe deesdae oor die algemeen in die Westerse media in 'n positiewe lig uitgebeeld as "gematig" (mild) godsdienstig en dit lyk of die Westerse regerings oor die algemeen 'n positiewe houding jeens hulle het. Hulle verteenwoordig 'n Islamitiese middelgrond teenoor die uiters konserwatiewe Salafiste.

Die enigste rede waarom baie persone in daardie Islamitiese kringe nie met so 'n pro-Westerse alliansie gemaklik sal wees nie, is omdat een so 'n groep, Hamas, die groot vyand van Israel in Gaza is.  Indien Israel in die alliansie teen Iran ingesluit word, kan hierdie uitgebreide Moslem alliansie teen Sirië en Iran wankelrig raak.  Dit is waarom die Siriese groepering sal probeer om Israel by die konflik in te sleep (soos Saddam Hoessein ook destyds probeer doen het) en waarom die VSA alles in hul vermoë sal doen om Israel daaruit te hou of die vredesproses aan die gang te kry (wat nie somaar sal gebeur nie).  Die verbreking van bande tussen Turkye en Israel na die flotilla debakel kan moontlik ook in hierdie lig gesien word.

Hoe sal dit gebeur?


Ons kan duidelik sien hoedat 'n moontlike alliansie teen Sirië en Iran begin vorm aanneem.  Die konflik tussen die twee groeperinge het ook in die laaste maand dramaties toegeneem - alhoewel dit natuurlik nog net op 'n mondelinge vlak is.  Indien die situasie verder versleg, kan enige vonk die kruitvat laat ontplof.  Dit is moontlik dat Turkye uiteindelik nie meer bereid sal wees om op die kantlyn te sit terwyl die dodetal in Sirië toeneem nie.  In so 'n geval sal hulle - ten spyte van die Russiese veto - saam met sekere bondgenote by 'n humanitêre aksie aldaar betrokke raak.  Sodra dit gebeur is die weg oop vir enige van die ander lande om hulle van enige kant by die konflik aan te sluit.  Daar is natuurlik verskeie ander dinge wat ook tot so 'n oorlog aanleiding kan gee.


Alhoewel dit mag lyk of hierdie opbou na 'n konflik spontaan gebeur, is dit nie die geval nie.  In my boek oor die Arabiese opstande bespreek ek die opeenvolgende vredes- en oorlogsfases waardeur die wêreld gaan.  Ek gaan dit nie nou hier bespreek nie.  Die rede waarom Iran in die spervuur kom, is omdat hulle die belangrikste kwesbare opponent van die Westerse belange in die Midde-Ooste verteenwoordig.  Die groot aansporing vir al Iran se vyande - ook in die Midde-Ooste - is om te verhoed dat hulle 'n kernwapen ontwikkel.  Indien dit gebeur, sal die Midde-Oosterse magsbalans dramaties ten gunste van Iran draai.  Lande maak nie oorlog as hul opponente kernwapens het nie - dit sal dus as 'n afskrikmiddel vir enige aggressie teen Iran dien.  

Slotgedagtes

 
Alhoewel ons kan vind dat Rusland uiteindelik toegee aan die oproep vir buitelandse betrokkenheid by Sirië en daardie regering soos die Libiese regering tot 'n val kom, lyk so 'n uitkoms baie onwaarskynlik. Rusland sal waarskynlik aanhou om hul veto te gebruik - en dit kan daartoe lei dat die konflik dramaties eskaleer omdat die Westerse lande (waarby ek veral Turkye insluit) se morele beskouing hulle uiteindelik sal dwing om betrokke te raak.  Dit sal dan tot oorlog lei - wat nie deur die VN se sekuriteitsraad gereguleer word nie.  

Dit is sekerlik moontlik dat gemoedere weer op een of ander wyse kan kalmeer.  Sanksies kan die Siriese regering dwing om toegewings te maak en 'n onderhandelde skikking met die opposisie te bereik.  Op hierdie stadium lyk so 'n uitkoms baie onwaarskynlik.  Solank die Libanese banke die Siriërs help en Rusland hulle ondersteun, het hulle nie veel rede om tot 'n skikking te kom nie.  Die Siriese heersers weet baie goed dat hulle nie alleen onttroon sal word soos in Tunisië en Egipte nie, maar dat hulle ook vir misdade teen die mensdom vervolg sal word. Hulle is reeds by die omdraaipunt verby.