Tuesday, 31 January 2012

Die Euro-lande beweeg na 'n fiskale unie - 'n eskatologiese perspektief

Op Maandag, 30 Januarie 2012, het 25 van die 27 EU lande 'n fiskale verdrag in Brussels aanvaar wat belangrike implikasies vir die toekoms van die Europese Unie inhou. Dit laat die 17 Eurolande (wat die euro as geldeenheid gebruik) toe om hul monotêre unie stelselmatig tot 'n fiskale unie op te gradeer.  Wat ons in effek vind, is dat daar nou 'n multi-spoed Europese Unie tot stand kom - lande soos Brittanje sit uit terwyl 'n kerngroep lande voortgaan om hul ekonomieë verder te integreer. Ek het hierdie gebeure reeds in my boek oor die Arabiese Opstande voorsien.  Vanuit 'n eskatologiese perspektief (die studie van die laaste dae), is hierdie gebeure van groot belang omdat dit 'n belangrike stap in die moontlike totstandkoming van 'n herstelde Romeinse Ryk, wat volgens Bybelprofesieë in die tyd van die einde op die toneel sal verskyn, verteenwoordig.


Diegene wat die nuus dophou, sal weet dat dit sedert 8 Desember 2011, toe die Britse eerste minister, David Cameron, uit 'n beraad van Europese leiers gestorm het, in media kringe gons oor die totstandkoming van 'n sogenaamde "multi-spoed" Europese Unie (EU).  Die gevolg van daardie gebeure is dat die EU in effek nou in twee groepe verdeel is, naamlik 'n kerngroep wat voortgaan met verdere integrasie, en 'n buite kring, met Brittanje vooraan, wat uitsit. Sommige beskou hierdie gebeure, wat Brittanje as 'n toeskouer op die kantlyn laat, as "a major turning point in the history of the EU".  Met die verdrag wat nou op 30 Januarie 2012 aanvaar is, en in Maart formeel onderteken word, raak hierdie multi-spoed Europa 'n praktiese werklikheid.

Die basiese raamwerk vir 'n multi-spoed EU is al lank terug gelê toe sommige EU lande die euro as geldeenheid aanvaar het, terwyl andere vir eers uitgesit het omdat hul ekonomie nog nie daarvoor gereed was nie. Dit het tot gevolg gehad dat daar 'n groep lande was wat die euro as geldeenheid aanvaar het (daar is tans 17 Eurolande) asook 'n groep lande wat nog hul eie geldeenhede gebruik het (tans 10 lande). Hierdie dinge is egter in die raamwerk van die EU ooreengekom en in EU verdrae opgeneem wat deur al die EU lande goedgekeur is.  Die situasie het egter intussen verander omdat Brittanje nie meer, soos die ander EU lande, daarna streef om uiteindelik die pond met die euro te vervang nie. Dit het tot gevolg dat Brittanje se oogmerke al meer van die ander EU lande s'n verskil.

Wat die huidige verdrag - wat die "fiskale verdrag" genoem word - so besonders maak, is dat die ander lande - ten spyte van Brittanje se teenstand - voortgaan om hul ekonomieë te integreer en selfs aan die Europese Kommissie toesig oor hul begrotings gee.  Daar ontstaan dus 'n kerngroep lande, wat ten spyte van die opposisie van Brittanje, voortgaan met verdere integrasie al is dit nie in die raamwerk van die EU nie.  Hierdie lande gebruik wel die instellings van die Europese Unie, soos die Europese Kommissie en die EU geregshof (court of justice), om hierdie verdrag te implementeer. Hierdie ontwikkelinge skep 'n presedent wat geweldige belangrike implikasies vir die toekoms van die EU inhou.  Hierdie dinge, asook die eskatologiese implikasies van daarvan, is die fokus van hierdie artikel.

Die fiskale verdrag van 30 Januarie 2012

Die fiskale verdrag wat deur al 17 Eurolande, asook 'n verdere kring van 8 lande, wat Brittanje en die Tsjeggiese republiek uitsluit, aanvaar is, sluit die volgende in:

1. Die doel is om nouer koördinasie van begrotingsbeleid regdeur die EU te bevorder en lande in die EU te verhoed om buitensporige skuld aan te gaan wat die voortbestaan van die euro kan bedreig.
2. Alle Eurolande word verplig om hul konstitusies so aan te pas dat dit hulle dwing om "gebalanseerde" begrotings te aanvaar.  Hulle skuld mag nie meer as 0.5% van hul BBP (bruto binnelandse produk) wees nie.  Daar moet outomatiese brieke wees wat inskop en regstelling vereis.
3. Die Europese Kommissie moet die toepassing van die verdrag monitor en diegene wat daarvan verdink word dat hulle nie by die reëls hou nie, kan voor die EU geregshof (court of justice) gebring word, wat op hul beurt 'n boete van tot 0.1% van BBP aan daardie lande kan oplê.
4. Lande wat die verdrag onderteken kan geldelike hulp van die Europese Stabiliteitsmeganisme (ESM) ontvang - 'n permanente fonds wat deur die sentrale banke van die verskillende lande gefinansier word en in Julie 2012 ingestel word. (Dit forseer die Eurolande om die verdrag so vinnig moontlik goed te keur.)
5. Die verdrag word van krag sodra 12 van die 17 Eurolande dit goedgekeur het.
6. Alhoewel dit 'n inter-regeringsooreenkoms is wat buite om die EU aanvaar word, is dit in pas met EU wet en word dit in effek deur die EU instellings bestuur.

Die hoofrede waarom Brittanje weier om hierdie ooreenkoms te onderskryf (en dit dus buite die EU om ooreengekom word), is omdat hulle nie toesig oor hul begroting - en uiteindelik ook die finansiële instellings soos die Bank van Engeland in die "City" van Londen - aan die Europese Kommissie wil afstaan nie (sien my artikel op 8 Januarie 2012 op hierdie blog waarin die rol van die "City" bespreek word - "Is 'n Irannese oorlog op hande? 'n ondersoek na oorlog- en vredefases".)  Alhoewel Brittanje hierdie verdrag teenstaan en selfs in beginsel die gebruik van die EU instellings vir die monitering van die verdrag kan veto, wil hulle dit nie doen nie omdat hulle hulself dan sal uitsluit van enige verdere betrokkenheid by die voortgaande proses van die fiskale integrasie van die EU.  So 'n stap sal in elk geval nie daardie lande stop om met hul planne voort te gaan nie - dit sal gewoon tot gevolg hê dat Brittanje al hul invloed daar verloor.

Die implikasies van die fiskale verdrag

Alhoewel hierdie verdrag nie tot 'n volwaardige fiskale unie lei waarvolgens die hele Eurogebied as 'n enkele ekonomie bestuur word nie, is dit tog 'n baie belangrike stap in daardie rigting soos Mario Draghi, die president van die Europese Sentrale Bank gesê het: "It is the first step towards a fiscal union". Daar word dan ook verskeie verdere maatreëls in die vooruitsig gestel, waaronder die instelling van EU skuldbriewe (EU "bonds"), wat deur al die Eurolande onderskryf word, die verdere vergroting van die ESM (die stabiliteitsfonds) tot E 1000 biljoen, die uitbouing van die Europese Sentrale Bank (ESB) tot lener van laaste toevlug ("lender of last resort") (alhoewel die ESB reeds by die aankoop van die skuldbriewe van Eurolande soos Griekeland en Italië betrokke was) asook die instelling van 'n finansiële belasting.  In Maart sal meer gedetailleerde voorstelle oor sommige van hierdie dinge aan die Eurogroep lande voorgelê word.  Lande soos Duitsland en Frankryk wil nie te vinnig met die proses van fiskale integrasie beweeg en sodoende die druk op daardie Eurolande wat groot staatskuld het, verlig nie; die swaard van die huidige finansiële krisis dwing daardie lande om pynlike strukturele regstellings aan hul ekonomieë te maak wat hulle nie andersins sal doen nie.

Die belangrikste implikasie van hierdie verdrag is dat dit 'n groep lande binne die raamwerk van die EU toelaat om, ten spyte van die opposisie van ander lande, met verdere integrasie voort te gaan.  Alhoewel hierdie verdrag buite die EU om geskied, word die EU instellings soos die Europese Kommissie, die EU geregshof, die ESM (die stabiliteitsfonds), en moontlik later ook die ESB (die sentrale bank) by die implementering daarvan betrek.  Dit is moontlik dat hierdie verdrag in effek 'n presedent stel waarvolgens sommige lande, verder in die toekoms, nog verder kan integreer en hul ook op die bestaande EU strukture kan beroep.  In hierdie verband dink ek aan die uiteindelike doelwit van die unie wat in feitlik al die EU verdrae genoem word, naamlik die ideaal van "an ever closer union". 'n Mens kan dink dat daar uiteindelik 'n groep lande sal wees wat die stap neem om 'n volledige politieke unie te vorm - 'n Verenigde State van Europa.

Wat verder van belang is, is dat hierdie verdrag vir die eerste keer nie deur al die lande wat dit onderteken, goedgekeur hoef te word voordat dit van krag word nie.  Sodra die parlemente van 12 Eurolande dit goedgekeur het, word dit van krag.  Dit los die probleem op waaronder die Lissabon verdrag gebuk gegaan het, naamlik dat daar sommige lande is wat sulke verdrae deur referendums moet goedkeur. Ons kan dus verwag dat al die verdere verdrae wat die Eurolande onder mekaar sluit, hierdie voorbeeld sal volg.  Dit sal verseker dat die proses van integrasie binne die Eurogebied nou aansienlik sal versnel.

'n Ander belangrike presedent wat tydens die Eurokrisis gestel is, is dat daar in die lande wat deur die krisis oorweldig is - Griekeland en Italië - onverkose leiers aan bewind gekom het.  Dit kan beteken dat daar ook in die toekoms in tye van krisis ander onverkose leiers aan bewind kan kom.  Sulke krisisse is nie altyd finansieël nie - dink maar aan militêre krisisse.  In die destydse Romeinse republiek was dit juis in tye van militêre krisis dat die generaals die magsrol oorgeneem en die keiserryk uiteindelik tot stand gekom het.

'n Eskatologiese perspektief

Alhoewel hierdie verdrag maar 'n klein treetjie op die pad is, is die implikasies daarvan asook die voorbeeld wat daardeur gestel word, van groot belang vir die eskatologiese studie oor eindtydse gebeure. In my boek "Die Arabiese Opstande" (Aug. 2011) het ek voorgestel dat daar mettertyd so 'n multi-spoed EU tot stand sal kom, waarvolgens die Eurolande sal voortgaan met fiskale integrasie ten spyte van die teenstand deur lande soos Brittanje.  Dit is presies wat sedert Desember 2011 begin gebeur het. Ek het ook in artikels op hierdie blog genoem dat die krisis nie die unie sal laat disintegreer nie; dit sal eerder tot verdere integrasie in die Eurogebied aanleiding gee.  Dit is wat nou gebeur.

Maar waarom is die multi-spoed EU vanuit 'n eskatologiese perspektief belangrik?  Die antwoord is eenvoudig: dit laat sommige EU lande toe om verder as die ander te integreer.  Dit kan uiteindelik daartoe lei dat tien lande in die hart van Europa besluit om die pad van volle politieke integrasie te stap - ooreenkomstig die Bybelse profesieë oor die tien-horing (tone) ryk wat in die laaste dae in die raamwerk van 'n herstelde Romeinse Ryk sal opstaan (die EU begin al meer daarna lyk).  (Sien my artikel op 22 Januarie 2012 op hierdie blog, "Die tien horings van Daniël 7, waarna verwys dit?")  Hulle sal 'n leier oor hulle aanstel - wat met die uiteindelike Antichris ooreenkom.  Nou is dit sekerlik opvallend dat die aanstelling van onverkose leiers oor sommige Eurolande, die weg ook in hierdie opsig berei sodat daardie lande wat verder integreer, ook so 'n leier oor hulle kan aanstel.  As die gebeure in die destydse Romeinse tyd vir ons 'n aanduiding kan wees van wat beplan word, dan kan ons verwag dat so iemand mettertyd soos die destydse keisers in die EU aan bewind kan kom.  

Slotgedagtes

Die "fiskale verdrag" wat op 30 Januarie 2012 ooreengekom is, is 'n baie belangrike gebeurtenis in die raamwerk van die EU.  Dit laat 'n kerngroep van lande toe om, ten spyte van Brittanje se teenstand, na 'n fiskale unie voort te beweeg waardeur hul ekonomieë uiteindelik gesamentlik bestuur sal word.  Dit skep 'n presedent waarvolgens 'n verdere groep lande, uiteindelik ook polities kan integreer.  Dit is in hierdie verband dat hierdie gebeure met ons verwagtinge oor die vervulling van Bybelse profesieë ooreenkom - volgens die profesieë oor die tien horings (tone) sal daar uiteindelik so 'n groep lande wees wat in die raamwerk van 'n herstelde Romeinse Ryk opstaan.  Verder stel die aanstelling van onverkose leiers in Eurolande ook die voorbeeld waarvolgens daardie lande wat polities integreer, 'n leier oor hulle kan aanstel.  Dit sal presies ooreenkom met die profesieë, waarvolgens die genoemde tien "konings", 'n leier oor hulle sal aanstel.  As so 'n persoon aangestel word, en hy soos die keisers van ouds begin opereer - bo alle presidente en konings - dan kan ons vir die koms van die Antichris begin uitkyk.

Alhoewel die tyd van die einde nog nie op hande is nie, is dit duidelik dat die huidige gebeure (soos die Arabiese opstande - sien my boek "Die Arabiese Opstande") - 'n belangrike stap in daardie rigting kan verteenwoordig.  Ons moet nou maar wag en kyk hoe die toneel verder ontvou en of die profesieë uiteindelik in ons tyd in vervulling sal gaan.

No comments:

Post a Comment