Tuesday, 31 January 2012

Die Euro-lande beweeg na 'n fiskale unie - 'n eskatologiese perspektief

Op Maandag, 30 Januarie 2012, het 25 van die 27 EU lande 'n fiskale verdrag in Brussels aanvaar wat belangrike implikasies vir die toekoms van die Europese Unie inhou. Dit laat die 17 Eurolande (wat die euro as geldeenheid gebruik) toe om hul monotêre unie stelselmatig tot 'n fiskale unie op te gradeer.  Wat ons in effek vind, is dat daar nou 'n multi-spoed Europese Unie tot stand kom - lande soos Brittanje sit uit terwyl 'n kerngroep lande voortgaan om hul ekonomieë verder te integreer. Ek het hierdie gebeure reeds in my boek oor die Arabiese Opstande voorsien.  Vanuit 'n eskatologiese perspektief (die studie van die laaste dae), is hierdie gebeure van groot belang omdat dit 'n belangrike stap in die moontlike totstandkoming van 'n herstelde Romeinse Ryk, wat volgens Bybelprofesieë in die tyd van die einde op die toneel sal verskyn, verteenwoordig.


Diegene wat die nuus dophou, sal weet dat dit sedert 8 Desember 2011, toe die Britse eerste minister, David Cameron, uit 'n beraad van Europese leiers gestorm het, in media kringe gons oor die totstandkoming van 'n sogenaamde "multi-spoed" Europese Unie (EU).  Die gevolg van daardie gebeure is dat die EU in effek nou in twee groepe verdeel is, naamlik 'n kerngroep wat voortgaan met verdere integrasie, en 'n buite kring, met Brittanje vooraan, wat uitsit. Sommige beskou hierdie gebeure, wat Brittanje as 'n toeskouer op die kantlyn laat, as "a major turning point in the history of the EU".  Met die verdrag wat nou op 30 Januarie 2012 aanvaar is, en in Maart formeel onderteken word, raak hierdie multi-spoed Europa 'n praktiese werklikheid.

Die basiese raamwerk vir 'n multi-spoed EU is al lank terug gelê toe sommige EU lande die euro as geldeenheid aanvaar het, terwyl andere vir eers uitgesit het omdat hul ekonomie nog nie daarvoor gereed was nie. Dit het tot gevolg gehad dat daar 'n groep lande was wat die euro as geldeenheid aanvaar het (daar is tans 17 Eurolande) asook 'n groep lande wat nog hul eie geldeenhede gebruik het (tans 10 lande). Hierdie dinge is egter in die raamwerk van die EU ooreengekom en in EU verdrae opgeneem wat deur al die EU lande goedgekeur is.  Die situasie het egter intussen verander omdat Brittanje nie meer, soos die ander EU lande, daarna streef om uiteindelik die pond met die euro te vervang nie. Dit het tot gevolg dat Brittanje se oogmerke al meer van die ander EU lande s'n verskil.

Wat die huidige verdrag - wat die "fiskale verdrag" genoem word - so besonders maak, is dat die ander lande - ten spyte van Brittanje se teenstand - voortgaan om hul ekonomieë te integreer en selfs aan die Europese Kommissie toesig oor hul begrotings gee.  Daar ontstaan dus 'n kerngroep lande, wat ten spyte van die opposisie van Brittanje, voortgaan met verdere integrasie al is dit nie in die raamwerk van die EU nie.  Hierdie lande gebruik wel die instellings van die Europese Unie, soos die Europese Kommissie en die EU geregshof (court of justice), om hierdie verdrag te implementeer. Hierdie ontwikkelinge skep 'n presedent wat geweldige belangrike implikasies vir die toekoms van die EU inhou.  Hierdie dinge, asook die eskatologiese implikasies van daarvan, is die fokus van hierdie artikel.

Die fiskale verdrag van 30 Januarie 2012

Die fiskale verdrag wat deur al 17 Eurolande, asook 'n verdere kring van 8 lande, wat Brittanje en die Tsjeggiese republiek uitsluit, aanvaar is, sluit die volgende in:

1. Die doel is om nouer koördinasie van begrotingsbeleid regdeur die EU te bevorder en lande in die EU te verhoed om buitensporige skuld aan te gaan wat die voortbestaan van die euro kan bedreig.
2. Alle Eurolande word verplig om hul konstitusies so aan te pas dat dit hulle dwing om "gebalanseerde" begrotings te aanvaar.  Hulle skuld mag nie meer as 0.5% van hul BBP (bruto binnelandse produk) wees nie.  Daar moet outomatiese brieke wees wat inskop en regstelling vereis.
3. Die Europese Kommissie moet die toepassing van die verdrag monitor en diegene wat daarvan verdink word dat hulle nie by die reëls hou nie, kan voor die EU geregshof (court of justice) gebring word, wat op hul beurt 'n boete van tot 0.1% van BBP aan daardie lande kan oplê.
4. Lande wat die verdrag onderteken kan geldelike hulp van die Europese Stabiliteitsmeganisme (ESM) ontvang - 'n permanente fonds wat deur die sentrale banke van die verskillende lande gefinansier word en in Julie 2012 ingestel word. (Dit forseer die Eurolande om die verdrag so vinnig moontlik goed te keur.)
5. Die verdrag word van krag sodra 12 van die 17 Eurolande dit goedgekeur het.
6. Alhoewel dit 'n inter-regeringsooreenkoms is wat buite om die EU aanvaar word, is dit in pas met EU wet en word dit in effek deur die EU instellings bestuur.

Die hoofrede waarom Brittanje weier om hierdie ooreenkoms te onderskryf (en dit dus buite die EU om ooreengekom word), is omdat hulle nie toesig oor hul begroting - en uiteindelik ook die finansiële instellings soos die Bank van Engeland in die "City" van Londen - aan die Europese Kommissie wil afstaan nie (sien my artikel op 8 Januarie 2012 op hierdie blog waarin die rol van die "City" bespreek word - "Is 'n Irannese oorlog op hande? 'n ondersoek na oorlog- en vredefases".)  Alhoewel Brittanje hierdie verdrag teenstaan en selfs in beginsel die gebruik van die EU instellings vir die monitering van die verdrag kan veto, wil hulle dit nie doen nie omdat hulle hulself dan sal uitsluit van enige verdere betrokkenheid by die voortgaande proses van die fiskale integrasie van die EU.  So 'n stap sal in elk geval nie daardie lande stop om met hul planne voort te gaan nie - dit sal gewoon tot gevolg hê dat Brittanje al hul invloed daar verloor.

Die implikasies van die fiskale verdrag

Alhoewel hierdie verdrag nie tot 'n volwaardige fiskale unie lei waarvolgens die hele Eurogebied as 'n enkele ekonomie bestuur word nie, is dit tog 'n baie belangrike stap in daardie rigting soos Mario Draghi, die president van die Europese Sentrale Bank gesê het: "It is the first step towards a fiscal union". Daar word dan ook verskeie verdere maatreëls in die vooruitsig gestel, waaronder die instelling van EU skuldbriewe (EU "bonds"), wat deur al die Eurolande onderskryf word, die verdere vergroting van die ESM (die stabiliteitsfonds) tot E 1000 biljoen, die uitbouing van die Europese Sentrale Bank (ESB) tot lener van laaste toevlug ("lender of last resort") (alhoewel die ESB reeds by die aankoop van die skuldbriewe van Eurolande soos Griekeland en Italië betrokke was) asook die instelling van 'n finansiële belasting.  In Maart sal meer gedetailleerde voorstelle oor sommige van hierdie dinge aan die Eurogroep lande voorgelê word.  Lande soos Duitsland en Frankryk wil nie te vinnig met die proses van fiskale integrasie beweeg en sodoende die druk op daardie Eurolande wat groot staatskuld het, verlig nie; die swaard van die huidige finansiële krisis dwing daardie lande om pynlike strukturele regstellings aan hul ekonomieë te maak wat hulle nie andersins sal doen nie.

Die belangrikste implikasie van hierdie verdrag is dat dit 'n groep lande binne die raamwerk van die EU toelaat om, ten spyte van die opposisie van ander lande, met verdere integrasie voort te gaan.  Alhoewel hierdie verdrag buite die EU om geskied, word die EU instellings soos die Europese Kommissie, die EU geregshof, die ESM (die stabiliteitsfonds), en moontlik later ook die ESB (die sentrale bank) by die implementering daarvan betrek.  Dit is moontlik dat hierdie verdrag in effek 'n presedent stel waarvolgens sommige lande, verder in die toekoms, nog verder kan integreer en hul ook op die bestaande EU strukture kan beroep.  In hierdie verband dink ek aan die uiteindelike doelwit van die unie wat in feitlik al die EU verdrae genoem word, naamlik die ideaal van "an ever closer union". 'n Mens kan dink dat daar uiteindelik 'n groep lande sal wees wat die stap neem om 'n volledige politieke unie te vorm - 'n Verenigde State van Europa.

Wat verder van belang is, is dat hierdie verdrag vir die eerste keer nie deur al die lande wat dit onderteken, goedgekeur hoef te word voordat dit van krag word nie.  Sodra die parlemente van 12 Eurolande dit goedgekeur het, word dit van krag.  Dit los die probleem op waaronder die Lissabon verdrag gebuk gegaan het, naamlik dat daar sommige lande is wat sulke verdrae deur referendums moet goedkeur. Ons kan dus verwag dat al die verdere verdrae wat die Eurolande onder mekaar sluit, hierdie voorbeeld sal volg.  Dit sal verseker dat die proses van integrasie binne die Eurogebied nou aansienlik sal versnel.

'n Ander belangrike presedent wat tydens die Eurokrisis gestel is, is dat daar in die lande wat deur die krisis oorweldig is - Griekeland en Italië - onverkose leiers aan bewind gekom het.  Dit kan beteken dat daar ook in die toekoms in tye van krisis ander onverkose leiers aan bewind kan kom.  Sulke krisisse is nie altyd finansieël nie - dink maar aan militêre krisisse.  In die destydse Romeinse republiek was dit juis in tye van militêre krisis dat die generaals die magsrol oorgeneem en die keiserryk uiteindelik tot stand gekom het.

'n Eskatologiese perspektief

Alhoewel hierdie verdrag maar 'n klein treetjie op die pad is, is die implikasies daarvan asook die voorbeeld wat daardeur gestel word, van groot belang vir die eskatologiese studie oor eindtydse gebeure. In my boek "Die Arabiese Opstande" (Aug. 2011) het ek voorgestel dat daar mettertyd so 'n multi-spoed EU tot stand sal kom, waarvolgens die Eurolande sal voortgaan met fiskale integrasie ten spyte van die teenstand deur lande soos Brittanje.  Dit is presies wat sedert Desember 2011 begin gebeur het. Ek het ook in artikels op hierdie blog genoem dat die krisis nie die unie sal laat disintegreer nie; dit sal eerder tot verdere integrasie in die Eurogebied aanleiding gee.  Dit is wat nou gebeur.

Maar waarom is die multi-spoed EU vanuit 'n eskatologiese perspektief belangrik?  Die antwoord is eenvoudig: dit laat sommige EU lande toe om verder as die ander te integreer.  Dit kan uiteindelik daartoe lei dat tien lande in die hart van Europa besluit om die pad van volle politieke integrasie te stap - ooreenkomstig die Bybelse profesieë oor die tien-horing (tone) ryk wat in die laaste dae in die raamwerk van 'n herstelde Romeinse Ryk sal opstaan (die EU begin al meer daarna lyk).  (Sien my artikel op 22 Januarie 2012 op hierdie blog, "Die tien horings van Daniël 7, waarna verwys dit?")  Hulle sal 'n leier oor hulle aanstel - wat met die uiteindelike Antichris ooreenkom.  Nou is dit sekerlik opvallend dat die aanstelling van onverkose leiers oor sommige Eurolande, die weg ook in hierdie opsig berei sodat daardie lande wat verder integreer, ook so 'n leier oor hulle kan aanstel.  As die gebeure in die destydse Romeinse tyd vir ons 'n aanduiding kan wees van wat beplan word, dan kan ons verwag dat so iemand mettertyd soos die destydse keisers in die EU aan bewind kan kom.  

Slotgedagtes

Die "fiskale verdrag" wat op 30 Januarie 2012 ooreengekom is, is 'n baie belangrike gebeurtenis in die raamwerk van die EU.  Dit laat 'n kerngroep van lande toe om, ten spyte van Brittanje se teenstand, na 'n fiskale unie voort te beweeg waardeur hul ekonomieë uiteindelik gesamentlik bestuur sal word.  Dit skep 'n presedent waarvolgens 'n verdere groep lande, uiteindelik ook polities kan integreer.  Dit is in hierdie verband dat hierdie gebeure met ons verwagtinge oor die vervulling van Bybelse profesieë ooreenkom - volgens die profesieë oor die tien horings (tone) sal daar uiteindelik so 'n groep lande wees wat in die raamwerk van 'n herstelde Romeinse Ryk opstaan.  Verder stel die aanstelling van onverkose leiers in Eurolande ook die voorbeeld waarvolgens daardie lande wat polities integreer, 'n leier oor hulle kan aanstel.  Dit sal presies ooreenkom met die profesieë, waarvolgens die genoemde tien "konings", 'n leier oor hulle sal aanstel.  As so 'n persoon aangestel word, en hy soos die keisers van ouds begin opereer - bo alle presidente en konings - dan kan ons vir die koms van die Antichris begin uitkyk.

Alhoewel die tyd van die einde nog nie op hande is nie, is dit duidelik dat die huidige gebeure (soos die Arabiese opstande - sien my boek "Die Arabiese Opstande") - 'n belangrike stap in daardie rigting kan verteenwoordig.  Ons moet nou maar wag en kyk hoe die toneel verder ontvou en of die profesieë uiteindelik in ons tyd in vervulling sal gaan.

Sunday, 22 January 2012

Die tien horings van Daniël 7 - waarna verwys dit?

Die profesieë wat aan die profeet Daniël toegeskryf word, is van die mees besondere profesieë in die Bybel. Alhoewel sommige Bybelverklaarders dink dat dit daar oor dinge gaan wat lankal verby is, is daar baie ander verklaarders wat van mening is dat sommige van daardie profesieë - soos die in Daniël 7 waarin daar na die tien horings verwys word - steeds in vervulling moet gaan.  Waarom dink hulle so? En is dit moontlik dat daardie profesie op ons eie tyd dui?  In hierdie artikel neem ek al die Bybelgedeeltes wat na hierdie tien horings verwys, versigtig onder oë en kyk ek of daar enige rede is om te dink dat dit in ons eie tyd in vervulling kan gaan.

Volgens die Bybel het Daniël omtrent 2600 jaar gelede gelewe.  Dit impliseer dat die profesieë wat aan hom toegeskryf word al eeue - selfs millennia - oud is.  Tog word dit vandag steeds intensief deur Bybelverklaarders en gewone Christene bestudeer wat glo dat sommige daarvan nog in vervulling moet gaan - dalk in ons eie tyd.  Onder hierdie profesieë tel die profesie van Daniël 7 oor die verskillende diere wat uit die see (i.e. die mensdom) te voorskyn kom, naamlik 'n leeu, 'n beer, 'n luiperd en 'n groot, verskriklike dier met tien horings op sy kop.  Volgens die verklaring in die teks wys die diere op verskillende koninkryke wat deur die loop van die eeue op die wêreldtoneel sou verskyn (Dan. 7:17; 23).

Hierdie profesie kom ook in die Nuwe Testament ter sprake.  So is daar onder die profesieë wat in die boek Openbaring opgeteken is, een wat duidelik by hierdie profesie omtrent die dier met die tien horings aansluit.  In hierdie geval word 'n dier beskryf wat 'n samestelling is van die diere van Daniël 7 (Open. 13:1,2).  Hy het wel sewe koppe - waarop daar weereens tien horings is.  Volgens die teks het hierdie tien horings in daardie tyd steeds in die toekoms gelê (Open. 17:12).

Die groot vraag is wanneer hierdie profesie oor die tien horings in vervulling gaan?  Is dit reeds vervul of moet dit nog in vervulling gaan?  Ek gaan ten eerste die profesie in Daniël 7 versigtig ondersoek, waarna ek by Openbaring 13 en 17 stilstaan.  Ons vind 'n redelik uitgebreide verduideliking van die tien horings in Openbaring 17.  Daarna sal ek die vraag oor 'n moontlike vervulling in ons eie tyd onder oë neem.

Die visioen van Daniël 7

Volgens Daniël 7 het Daniël in 'n gesig gesien hoedat vier groot diere uit die see opkom.  Die eerste was soos 'n leeu, met vlerke van 'n arend.  Die tweede was soos 'n beer, met drie ribbes in sy bek.  Die derde was soos 'n luiperd, met vier vlerke op sy rug, asook vier koppe.  Die vierde was "vreeslik en skrikwekkend en baie sterk", met yster tande.  Dit het "verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap" (Dan. 7:7).  Verder was daar tien horings op sy kop.  Terwyl Daniël toekyk, het daar 'n verdere horing op die laaste dier se kop verskyn.  Drie van die vorige horings is ontwortel om vir hierdie horing plek te maak.  Die horing het mens-oë en 'n mond wat groot dinge teen die Allerhoogste spreek.  Hy mishandel die heiliges van die Allerhoogste vir drie en 'n half jaar lank ('n tyd, tye en 'n halwe tyd, Dan. 7:25, vgl. Open. 12:14, 11:3, 13:5).

Dan sien die profeet hoe trone reggesit word en hoe 'n oue van dae daar (op sy troon tussen die ander trone?) gaan sit. Ons lees verder "die gereg het gaan sit" (Dan. 7:10) wat dalk na regters verwys wat op die trone plaasneem.  Verder word die boeke geopen. Die gereg oordeel toe die horing en ontneem hom van sy heerskappy.  Die dier word gedood en sy liggaam verbrand.  Ons lees verder dat daar een, soos die "Seun van 'n mens", met die wolke van die hemel kom en na die oue van dae gebring word.  Hy ontvang toe die heerskappy, eer en "koningskap".  Al die volke, nasies en tale vereer Hom en sy koninkryk is ewig en onvernietigbaar (Dan. 7:14). Dit word ook die koninkryk van die "volk van die heiliges van die Allerhoogste" genoem.

Volgens die verklaring in die teks verwys die vier diere na vier "konings", maar daar word later genoem dat dit eintlik koninkryke is (Dan. 7:17,23).  Volgens die profesie sou daar dus vier koninkryke wees wat na mekaar op die wêreldtoneel verskyn.  As ons gewoon na die kenmerke van die diere kyk, dan lyk dit of die leeu op die Babiloniese Ryk dui wat in Daniël se eie tyd op die toneel was. Dit is deur die Ryk van die Perse (die Meders en Persiese Ryk volgens Dan. 8:20) en daarna deur die ryk van die Grieke (waarna daar ook in Dan. 8:21 verwys word) opgevolg.  Die vier koppe van die luiperd verwys duidelik na die vier dele waarin die Griekse Ryk na Alexander die Grote se dood verdeel is.

Waarna verwys die vierde dier?  Alhoewel daar verklaarders is wat dit met die regeringstyd van een van die latere konings wat in een van die vier dele van die Griekse Ryk (die Siriese deel van die ryk) aan bewind gekom het, naamlik Antiochus Ephiphanus, verbind omdat die beskrywing van die laaste horing gedeeltelik met hom ooreenkom (hy het die Jode baie vervolg ens.), is daar andere wat dit met die Romeinse Ryk vereenselwig.  Hierdie laaste interpretasie aanvaar dat die visioene wat in die boek Daniël opgeskryf is, bonatuurlik van aard is en dat Daniël as profeet in staat was om dinge wat in die toekoms lê (selfs die verre toekoms) korrek te voorsien.  

Die rede waarom verklaarders die vierde dier met die Romeinse Ryk verbind, is omdat die uitbeelding daarvan as buitengewoon sterk, "vreeslik en skrikwekkend", met "groot yster tande" (volgens sommige vertalings), die indruk laat dat hierdie dier baie magtiger as die voriges was.  Dit is nie waar van Antiochus Epiphanus nie; dit is wel waar van die Romeinse Ryk.  Dit maak dan ook baie meer sin om Antiochus in die raamwerk van die voorafgaande Griekse Ryk te plaas omdat hy oor een van die vier dele (koppe) heers.  Verder weet ons dat Jesus die uitbeelding van die "Seun van 'n mens" wat met die wolke van die hemel kom (Dan. 7:13), op sy wederkoms van toepassing maak (Matt. 24:30 ens.).  Dit impliseer noodwendig dat die tyd wanneer die laaste dier (of horing) geoordeel word, waarna die koningskap aan die "Seun van die mens" gegee word, volgens die Christen interpretasie eers na die tyd van Christus plaasvind.  Die vierde dier dui dus op die Romeinse Ryk.

Daar is ander interne getuienis in die boek Daniël wat ook daarop dui dat die vierde dier na die Romeinse Ryk verwys. In die droom van Nebukadnesar (asook Daniël) wat in Daniël 2 beskryf word, vind ons 'n profesie wat presies met die een in Daniël 7 ooreenkom.  In hierdie geval word die wêreldryke as verskillende metale waarvan 'n groot beeld gemaak is, uitgebeeld (Dan. 2:37-42).  Die kop is van goud, die bors en arms is van silwer, die maag en heupe is van koper, die bene is van yster en die voete en tone is van yster gemeng met klei.  Die bene van yster verwys na 'n "vierde koninkryk" (Dan. 2:40), waarvan die beskrywing presies met die vierde en vreeslike dier van Daniël 7, wat ook daar die "vierde koninkryk" (Dan. 7:23) versinnebeeld, ooreenkom.  Dit is hard soos yster - yster kan alles fynstamp en verpletter.  So sal hierdie ryk alles fynstamp en vergruis.  Dit is duidelik nie toevallig dat die vierde metaal, naamlik yster, met die vierde dier, wat ook "groot yster tande" het, ooreenkom nie.

Hierdie verskillende metale verwys weereens na die Babiloniese Ryk (dit word eksplisiet in Dan. 2:37,38 genoem), die Persiese Ryk, die Griekse Ryk en 'n verdere buitengewone ryk waarvan die beskrywing treffend met die Romeinse Ryk ooreenkom.  Dit is nie net die geweldige mag van daardie ryk wat mooi deurkom nie.  Dit is opvallend dat die twee bene van die beeld ook treffend met die twee dele waarin die Romeinse Ryk verdeel is ooreenkom.  Verder kom die tien tone duidelik met die tien horings op die vierde dier ooreen.  Volgens die profesie sal 'n klip in 'n berg losraak, afrol en die beeld verbrysel.  Volgens die verklaring in die teks verwys die klip, wat groei tot 'n groot rots wat die hele aarde vul, na die ewige, onvernietigbare koninkryk wat reg aan die einde sal aanbreek - duidelik ooreenkomstig die koninkryk van die "Seun van 'n mens" in Daniël 7.   

Die tien horings in Daniël 7

As ons aanvaar dat die profeet Daniël wel in sy gesigte die toekoms voorspel het, dan is die identifikasie van die vierde koninkryk met die Romeinse Ryk verreweg die beste verklaring vir die gedeeltes.  Dit pas ook in by die Christen perspektief dat die koms van die "Seun van 'n mens" op die wolke van die hemel in Daniël 7 op die wederkoms van Jesus dui.  Ons kan dus nou met hierdie agtergrond die betekenis van die tien horings (of tien tone) verder ondersoek.

Volgens die verduideliking in die teks wys die tien horings op "tien konings" wat uit die vierde koninkryk (die Romeinse Ryk) opstaan (Dan. 7:24).  Dit is onduidelik of hulle die een na die ander verskyn en of hulle almal gelyk op die toneel is.  Ons lees verder dat die ander horing (die een wat die heiliges vervolg), eers na hulle opstaan.  Hy werp drie van die vorige heersers neer wanneer hy verskyn.  Dit kan impliseer dat al tien gelyk op die toneel is, sodat drie van die tien dan vir die ander horing plek maak.

In die voorstelling van die beeld volg die tien tone ook na die bene (en die voete).  Die yster van die bene is steeds gedeeltelik in die tone teenwoordig - wat daarop dui dat die tien tone uit daardie koninkryk van yster voortkom.  Die gelyktydigheid van die tien tone (soos die twee bene) dui moontlik daarop dat hulle saam op die toneel is.  Ons lees dan ook dat die tien tone op 'n enkele koninkryk dui: "En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is - dit sal 'n verdeelde koninkryk wees" (Dan. 2:42).

Ons kan dus uit hierdie bespreking van die twee profesieë in Daniël die volgende gevolgtrekkings maak:

1. Die tien horings/tone verskyn in die raamwerk van die ou Romeinse Ryk.
2. Hulle verskyn eers na die verdeling van die Romeinse Ryk in twee dele (uitgebeeld as twee bene).
3. Hulle verskyn eers na die ryk van die voete, wat eksplisiet van die tone onderskei word (Dan. 2:41,42).  Hierdie voete-ryk is 'n voortsetting van die ou Romeinse Ryk omdat die yster - wat daardie ryk versinnebeeld - steeds in hierdie ryk teenwoordig is.  Dit verskyn eers na die yster (die ou Romeinse Ryk) en is oënskynlik onbelangrik in vergelyking met die ander omdat dit nie in Daniël 7 (of weer later in Openbaring) genoem word nie. (Ek argumenteer in my boek Die Arabiese Opstande dat die twee voete na die Oostelike Bisantynse Ryk (306-1453 n.C.) en die Westelike Heilige Romeinse Ryk (800-1806 n.C.) verwys wat uit die twee dele van die Romeinse Ryk voortgekom het.)
4. Dit lyk of die tien horings/tone gelyk in een koninkryk aan beheer is.
5. Die feit dat die tien horings op die vierde dier (die Romeinse Ryk) voorkom, kan impliseer dat hulle weer daardie ryk sal oprig in die vorm van 'n herstelde Romeinse Ryk.
6. Die regering van die ander horing (die een wat die heiliges vervolg) volg eers na die koninkryk van die tien horings/tone.

Die tien horings in Openbaring

Die tien horings waarvan ons in Daniël 7 lees, word weer later in die Bybel, in die boek Openbaring, as deel van die profesieë in daardie boek vermeld.  In Openbaring word die tien horings op die koppe van die draak (wat die duiwel versinnebeeld) asook die "dier" voorgestel.  Daar kan geen twyfel bestaan dat die profesie oor die dier in Openbaring voortbou op die vroeëre profesie in Daniël 7 nie.  In hierdie geval is die dier 'n samestelling van die vier diere van Daniël 7 - dit het die bek van 'n leeu, die pote van 'n beer, lyk oorhoofs soos 'n luiperd (dit het seker kolle) en het verder tien horings op sy sewe koppe.  Al wat nuut bykom, is die verwysing na sewe koppe. Ons lees dat die dier 'n groot oorwinnaar in 'n oorlog is en dat "die hele wêreld" verwonderd agter hom aangaan.

Wat opval omtrent die bespreking van die dier in Openbaring 13, is dat dit treffend met die laaste horing van Daniël 7 (die een wat die heiliges vervolg) ooreenkom.  So lees ons dat hy 'n mond het wat groot woorde en godslasteringe spreek, nes die horing doen (Open. 13:5,6; Dan. 7:8,25). Hy maak oorlog teen die heiliges en oorwin hulle, nes die horing die heiliges van die Allerhoogste mishandel (Open. 13:7; Dan. 25). Beide doen dit ook vir drie en 'n half jaar (42 maande).  Ons lees verder dat hy mag ontvang oor elke stam, taal en nasie.  Uiteindelik veg hy saam met die konings van die aarde en hul leërs teen Christus, wat op 'n wit perd in die stryd uittrek (Open. 19:11-21).  Die dier word gevang en in die vuurpoel gewerp. Daar is ook, soos in Daniël 7, sprake van trone wat reggesit word en persone wat daarop op gaan sit om 'n oordeel uit te spreek (Open. 20:4).  Daarna regeer Christus saam met die opgestane heiliges (Open. 20:4).  Hier kom Christus duidelik met die "Seun van 'n mens" van Daniël 7 ooreen.      

Ek wil nou kyk wat die teks omtrent die tien horings op die koppe van die dier sê. Soos in Daniël 7, verwys die tien horings in hierdie geval na tien "konings" (Open. 17:12; Dan. 7:24).  Soos die laaste horing van Daniël 7 (die een wat die heiliges vervolg) met die tien horings geassosieer word, so word die dier van Openbaring (wat duidelik met daardie horing ooreenkom), met hulle verbind.  Daar kan geen twyfel bestaan nie dat die profesie in Openbaring slegs verder uitbrei op die profesie van Daniël 7 en dat dit dus verdere lig op dieselfde tien horings werp.

Volgens die verduideliking in Openbaring 17 het die tien konings se regeringstyd tydens die openbaring aan Johannes steeds in die toekoms gelê.  Hulle het toe nog geen koningskap ontvang nie (Open. 17:12).  Dit lyk of hulle gesamentlik op die toneel sal wees, want ons lees dat hulle een "gesindheid" ("mind") het en dat hulle hul "krag en mag" aan die dier oorgee (open. 17:13).  Nadat hulle hul heerskappy aan die dier oorgee heers hulle vir 'n periode van "een uur" saam met hom (Open. 17:12,17).  Ons kan ook hieruit aflei dat hul eie regeringstyd die van die dier voorafgaan aangesien hulle reeds "krag en mag" het wanneer die dier op die toneel verskyn.  Ons lees ook dat hulle "hulle heerskappy" aan die dier oorgee totdat die "woord van God volbring" is (Open. 17:17). Tydens hulle regering sal hulle die "prostituut" verbrand wat op een of ander wyse met Rome in verband staan (Open. 17:18) (Ek bespreek die prostituut in my boek Die Arabiese Opstande). Uiteindelik trek hulle saam met die dier in die oorlog teen die Lam (Christus) uit (Open. 17:14).

So, waarna verwys die dier en die tien konings?  Daar is verklaarders wat die visioene van Openbaring met die gebeure van daardie tyd (die eerste eeu n.C.) in verband bring.  Volgens hulle verwys die dier na 'n Romeinse keiser soos Nero.  Die probleem met hierdie siening is dat die regering van die tien konings steeds in die tyd van die openbaring aan Johannes (~96 n.C.) in die toekoms was - die dier, wat eers na hulle kom, kon dus nie al vroeër op die toneel wees nie.  Verder is dit duidelik dat die dier in die tyd direk voor die wederkoms van Christus regeer.  As ons enigsins in 'n letterlike wederkoms glo, dan kan ons nie hierdie verklaring aanvaar nie. 

As ons by die profesieë in Daniël 2 en 7 kan gaan kers opsteek, dan lyk dit of die vervulling van die profesie oor die tien konings asook die dier/horing eers na die val van die ou Romeinse Ryk (die ryk van yster) sou volg.  Dit volg verder ook eers na die verdere voete-ryk van yster en klei.  Dit kon dus nie in die tyd toe die boek Openbaring geskryf is, plaasvind nie. Daar is dus baie verklaarders wat die dier met die Antichris verbind (Joh. 4:3).

Die sewe koppe van die dier

Ons kan nou na die verklaring van die sewe koppe van die dier in Openbaring 17 kyk omdat dit ook lig op die tien horings werp.  Volgens die teks verwys die koppe na die sewe berge waarop die prostituut sit (moontlik die sewe bekende heuwels waarop Rome gebou is).  Dit verwys verder ook na "sewe konings", waarvan vyf reeds (in daardie tyd) geval het, een (die sesde een) toe op die toneel was en nog een (die sewende een) steeds moes opstaan. Die sewende een is slegs vir 'n kort tydjie op die toneel.  Die dier, wat nie onder die sewe tel nie maar by hulle behoort, is self die agtste (Open. 17:10).

Verwys hierdie sewe “konings” na sewe individuele konings? As die dier se regering eers na die ou Romeinse Ryk aanbreek soos ek in die vorige paragraaf aangetoon het, dan kan hierdie nie na sewe opeenvolgende konings in die Romeinse tyd verwys nie.  Net soos die vier "konings" in Daniël 7 nie op individuele konings dui nie, maar op koninkryke, verwys hierdie "konings" dan ook op koninkryke.  Maar na watter koninkryke verwys dit? Aangesien die profesie in Openbaring duidelik by die profesieë in Daniël 2 en 7 aansluit, kan ons aanvaar dat die vier koninkryke van Daniël onder hierdie sewe gereken moet word.  Ons kan verder aanvaar dat die vierde koninkryk van Daniël 2 en 7 ooreenkom met die sesde van hierdie sewe koninkryke, naamlik die een wat in Johannes se tyd aan bewind was – die Romeinse Ryk. Dit beteken dat daar twee vroeëre koninkryke is wat nie in Daniël 2 en 7 vermeld word nie.

Om te bepaal watter koninkryke te sprake is – van al die baie wat deur die eeue op die wêreldtoneel verskyn het en nog sal verskyn – moet ons vra wat die rede kan wees dat sekere koninkryke bo ander uitgesonder word. Ons vind die antwoord op hierdie vraag in die profesieë van Daniël. Daar gaan dit oor koninkryke wat deur die loop van die eeue oor die volk Israel beheer uitgeoefen het. Al die ryke wat daar uitgebeeld word, naamlik die Babiloniese Ryk, die Persiese Ryk, die Griekse Ryk (veral nadat die ryk in vier verdeel is) asook die Romeinse Ryk, het beheer oor Israel uitgeoefen. Op grond hiervan kan ons postuleer dat die twee vroeëre koninkryke wat by die sewe ingesluit word, die Assiriese Ryk en die Egiptiese Koninkryk (gedurende die Derde Tussentydse Periode) is, wat ook (in die tyd voor Daniël) oor Israel beheer uitgeoefen het (vgl. 1 Kon. 14:25, 26).

Dit bring ons by die sewende koninkryk wat net vir 'n kort tydjie op die toneel is voordat die laaste ryk – die van die dier – volg. Waarna verwys hierdie ryk? Dit is moontlik dat dit na die ryk van die tien konings verwys, wat juis die ryk van die dier (die agtste ryk) vooraf gaan. Ek het vroeër getoon dat hulle gesamentlik oor 'n koninkryk regeer voordat hulle hul mag aan die dier oorgee, waarna hulle saam met hom heers (vgl. Dan. 2:42; Open. 17:17). Ons lees verder dat hulle vir “een uur” mag ontvang (alhoewel dit waarskynlik is wanneer hulle saam met die dier heers) – wat duidelik op 'n kort tydperk dui ooreenkomstig die tydsduur van die sewende ryk. As die sewende koninkryk op die regeringstyd van die tien konings betrekking het, dan kan ons verwag dat hulle ook soos die vorige ryke oor die gebied van Israel gesag sal uitoefen. Wat die agtste ryk van die dier betref, sal hy moontlik ook oor Israel gesag uitoefen omdat hy – volgens Daniël 7 (waar hy as die laaste horing uitgebeeld word) – die “heiliges” sal vervolg, wat op persone uit Israel kan dui omdat daardie profesie ten eerste op Israel betrekking het (dit kan natuurlik ook op ander "heiliges" dui).

Ons kan dus nou uit die bespreking van Openbaring 13 en 17 die volgende gevolgtrekking maak:

1. Die tien horings wys op "konings" wat gesamentlik oor 'n koninkryk heers.  Omdat ons lees dat hulle "soos konings" heers (Open. 17:12), is hulle dalk nie "konings" in die tradisionele sin van die woord nie.
2. Die koninkryk van die tien konings het tydens die openbaring aan Johannes steeds in die toekoms gelê.
3. Die koninkryk van die tien konings kom moontlik met die laaste van die sewe koninkryke (soos uitgebeeld deur die sewe koppe van die dier) ooreen wat die ryk van die dier voorafgaan.  Dit impliseer dat hulle ook oor Israel mag uitoefen.  Ons kan hier onthou dat die horings oorspronklik op die vierde dier van Daniël 7 (die Romeinse Ryk) voorkom, wat kan impliseer dat hulle weer daardie ryk in een of ander vorm oprig (sien bo).  Israel het juis in die magsgebied van daardie ryk geval.
4. Die tien konings gee hul mag aan die dier oor, waarna hulle saam met hom regeer.
5. Die tien konings trek saam met die dier in 'n oorlog teen Christus uit.
6. Die tien konings en die dier word verslaan, waarna die oordeel plaasvind en Christus se ryk volg.  

Die koninkryk van die tien konings

Ons vind dus die volgende: die tien horings op die kop van die vierde dier van Daniël 7, die tien tone van Nebukadnesar se beeld asook die tien horings op die sewe koppe van die dier van Openbaring 13 en 17, verwys almal na dieselfde tien konings wat saam oor 'n enkele koninkryk heers. Hierdie koninkryk is vir 'n kort tyd op die toneel. Dit verskyn in die geografiese gebied van die ou Romeinse Ryk. Dit is moontlik dat hierdie ryk grotendeels met die gebied van daardie ryk ooreenkom (as 'n herstelde Romeinse Ryk) – en dat selfs Israel binne hul gesagsgebied val (soos met al die ryke voor dit wat in die profesieë uitgebeeld word). Alhoewel daar sedert die Romeinse Ryk verskeie ryke was wat oor die land van Israel gesag uitgeoefen het, was die volk natuurlik nie toe in die land teenwoordig nie.  Dit is eers in 1948 dat hulle weer in hul land herstel is.  Ons kan dus aanvaar dat hierdie ryk nog nie op die toneel verskyn het nie.  As ons glo dat die profesie sal uitkom, kan ons steeds daarvoor uitkyk. 

Volgens Daniël 7 sal daar 'n verdere horing op die kop van die vierde dier verskyn. Hy kom ooreen met die dier van Openbaring 13 en 17. Hierdie heerser verskyn in die tyd voor die wederkoms op die toneel. Hy heers vir drie en 'n half jaar en vervolg die heiliges. Volgens baie verklaarders wys dit op die uiteindelike Antichris. Wanneer hy aan bewind kom, word drie van die tien konings volgens Daniël 7 “ontwortel”. Dit kan gewoon beteken dat hulle terugstaan sodat hy 'n gesagsposisie kan verkry. Volgens Openbaring 13 is daar steeds tien konings, selfs nadat die dier aan bewind gekom het. Hulle heers vir 'n tyd saam met hom. Dit is opvallend dat ons lees dat hulle “soos konings” heers (Open. 17:12), wat kan impliseer dat hulle dalk nie konings in die tradisionele sin van die woord sal wees nie.

Ons kan nou op die eietydse situasie fokus.  Omdat die koninkryk van die tien konings in die raamwerk van die ou Romeinse Ryk verskyn, kan ons die gebeure in Europa dophou om te sien of daar onder die lande van die Europese Unie (i.e. waar die ou Romeinse Ryk eens was) sommige is wat verder integreer om uiteindelik 'n politieke magsblok op die been te bring wat op so 'n ryk kan uitloop.  Ons kan verder die Arabiese lande rondom die Middellandse See, waar die opstande was, dophou om te sien of daar demokrasieë tot stand kom.  As die gebied rondom die Middellandse See mettertyd in die raamwerk van die Europese Unie geakkommodeer word, dan sal daardie blok al meer na 'n herstelde Romeinse Ryk begin lyk.  Ek bespreek hierdie dinge volledig in my boek Die Arabiese Opstande.

Skrywer: Dr Willie Mc Loud (Ref. wmcloud.blogspot.com)

Sunday, 8 January 2012

Is 'n Irannese oorlog op hande? - 'n ondersoek na oorlog- en vredesiklusse

In hierdie artikel ondersoek ek die hipotese dat oorlog en vrede deel van 'n aaneenlopende siklus is wat herhalend voorkom.  Alhoewel sulke siklusse oënskynlik al vir eeue voorkom, fokus ek veral op die laaste eeu.  Om so 'n siklus sinvol te omskryf, bou ek voort op die werk van vroeë baanbrekers soos prof. Spykman van Yale Universiteit.  As ons veronderstel dat sulke siklusse met 'n finansiële krisis begin, gevolg deur 'n ekonomiese insinking, 'n groot oorlog en 'n daaropvolgende tyd van voorspoed, kan ons vier siklusse in die 1907-2007 periode onderskei.  Ons kan vra waarom sulke siklusse sou voorkom en kyk watter vooruitskouings op grond daarvan gemaak kan word.  As ons die model van oorlog- en vredesiklusse ernstig opneem, lyk dit of ons binne die volgende paar jaar 'n groot oorlog teen Iran te wagte kan wees.


Is oorlog en vrede bloot 'n onvoorspelbare aspek van ons wêreld?  Of is daar 'n sekere reëlmaat waarvolgens oorlog en vrede afwisselend op die wêreldtoneel verskyn?  Volgens sommige analiste is daar al vir baie eeue 'n sekere patroon waarvolgens opeenvolgende oorlog- en vredesiklusse mekaar opvolg.  Is dit werklik so?  En as dit inderdaad so blyk - wat is die implikasies vir ons wêreld?  Dit lyk of ons daaruit kan aflei dat 'n groot oorlog met Iran op hande is.


Vroeë baanbrekerswerk

In enige studie - ook van internasionale aangeleenthede - is dit belangrik om geskiedkundige tendense versigtig te ondersoek met die hoop dat ons daardeur iets omtrent die toekoms kan leer.  Die groot vraag is altyd of sulke tendense toevallig is en of dit deur een of ander patroon onderlê word.  As 'n patroon teenwoordig is, is daar gewoonlik een of ander onderliggende rede waarom dit voorkom.  Ons kan presies dieselfde in ons ondersoek na die moontlike bestaan van opeenvolgende oorlog- en vredesiklusse doen.  Indien daar wel getuienis vir die bestaan van sulke siklusse is, kan ons kyk wat so 'n model voorspel.


Een van die belangrikste studies wat ooit oor oorlog onderneem is, is die van Nicholas J. Spykman, Sterling professor van Internasionale Verhoudinge (Public Relations) aan die Yale Universiteit.  In sy studie, "America's Strategy in World Politics", wat deur die Yale Instituut van Internasionale Studies geborg en in 1942 gepubliseer is, maak hy die opspraakwekkende onthulling dat sekere oorloë - die waarin Brittanje deelneem - 'n duidelike sikliese patroon volg.  Volgens hom word die Britse beleid van die vorige paar eeue deur "a constant succession of cycles of shifting partners, isolation, alliance and war" gekenmerk.

Prof. Spykman onderskei drie verskillende tipes oorloë waaraan Brittanje deelgeneem het.  Die belangrikste tipe is die wat teen die lande gevoer is wat op 'n bepaalde stadium as imperialistiese Brittanje se grootste teenstanders beskou is.  Die doel was om die magsbalans binne die raamwerk van Europa vir hulleself te behou, en die politieke en gebiedsuitbreiding van enige Europese staat te verhoed.  Vir hierdie doel is militêre alliansies saamgestel wat telkens sterker as die van die opponente was. Hierdie alliansies het voortdurend verander namate die internasionale politieke situasie verander het. Dit is hierdie tipe oorloë wat deel was van 'n siklus van oorloë.  Die tweede tipe oorlog was die wat in effek daarop gerig was om die situasie vir die volgende groot oorlog op te stel.  Die derde tipe is imperialistiese oorloë wat daarop gerig was om beheer oor strategiese bronne te verkry.

Hy onderskei die volgende oorloë as deel van so 'n siklus:
1. Die Napoleontiese Oorlog van 1793-1815 teen Frankryk
2. Die Turkse Oorlog van 1827-1829 teen Turkye (en Egipte)
3. Die Krimeaanse Oorlog van 1853-1856 teen Rusland, (Pruise) en die VSA
4. Die Russies-Turkse Oorlog van 1977-1878 teen Rusland
5. Die Spaans-Amerikaanse Oorlog van 1898-1899 teen Spanje en (Duitsland)
6. Die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 teen Duitsland, Oostenryk-Hongarye, Turkye en Bulgarye
7. Die Tweede Wêreldoorlog van 1939-1945 teen Duitsland, Japan, Hongarye,(Italië) ens.


In sy boek oor die "City" van Londen getiteld "The Empire of 'The City', the Jekyll/Hyde nature of the British Government" (1946), skryf E.C. Knuth dat die eintlike hand agter hierdie oorloë die geldmagnate van die "City" van London is wat in effek agter die Bank van Engeland (wat 'n privaat besit is) verskuil is en in die naam van die "Crown" opereer.  Hy noem veral Lord Rothschild, wie se rol in hierdie verband duidelik blyk uit onder andere 'n verwysing in die Britse eerste minister David Lloyd George (1916-1922) se boek "Better Times".  Volgens hom het hierdie geldmagnate hulleself later versteek agter instellings soos die IMF en die Internasionale Bank vir Rekonstruksie en Ontwikkeling wat in 1944 by die Bretton Woods ingestel is.  Volgens die statute van hierdie organisasies is hulle bo alle regsprosesse verhewe en is hulle immuun teen enige regsaksies (wat daarop gemik is om enige iets by hulle te soek, te konfiskeer of te vervreem). 

Knuth verwys verder na die betrokkenheid van die Franse by al die Britse sikliese oorloë sedert die Napoleontiese oorlog (1793-1815).  Volgens hom is die rede hiervoor dat die Franse finansiële oligargie onder leiding van Baron Edouard de Rothschild soortgelyke mag oor die Franse uitgeoefen het.  Ek moet hier noem dat hierdie Brits-Franse alliansie met president De Gaulle, wat die Franse uit NAVO se geïntegreerde militêre beheerstruktuur onttrek het, tot 'n einde gekom het en eers weer in 2010 deur president Sarkozy hernu is.  (In 'n artikel op Willie's blog, http://wmcloud.blogspot.com/, "Die Europese Unie - wat gaan aan?" bespreek ek die rol van die Gaulistiese Frans-Kontinentale opponente van die Anglo-Amerikaners in die totstandkoming van die Europese Unie).  Knut noem verder dat die Engelse geldbase onder leiding van Cicil Rhodes ook in 1902 'n alliansie met hul Amerikaanse eweknieë gesluit het.  Hierdie alliansie is goed gedokumenteer deur die bekende geskiedkundige, Prof. Carroll Quigley, in sy boek "The Anglo-American Establishment" (1949).  Hierdie alliansie geld steeds vandag.


Alhoewel ek tot nou nog net na die Britse sikliese oorloë verwys het, is die geldbase van die "City" in Brittanje asook in die VSA natuurlik ook belangrike rolspelers in die wêreldmarkte.  Die veronderstelde oorlog- en vredesiklusse staan dan ook ten nouste met die wêreldekonomie in verband.   'n Verdere boek wat veral op hierdie ekonomiese aspek fokus, is "War Cycles, Peace Cycles" (1985) van Richard Kelly Hoskins.  Volgens hom is die oorlog- en vredessiklusse 50 jaar lank, wat hom by die gevolgtrekking bring dat dit Jubilee siklusse is.  Hy onderskei 'n periode van hoë pryse en ekonomiese voorspoed en 'n periode van lae pryse, depressie en oorlog. Sy werk toon baie ooreenkoms, en is waarskynlik beïnvloed deur, die welbekende Kondratiev ekonomiese golfteorie wat siklusse van ongeveer 50 jaar postuleer.

Daar is sekerlik nog baie skrywers wat hieroor geskryf het, maar ek volstaan hiermee.  Van hierdie skrywers het redelik lank terug geskryf en dit is 'n ope vraag of hierdie siklusse nog steeds voorkom.  In hierdie artikel wil ek voorstel dat, alhoewel daar 'n groot element van onvoorspelbaarheid in die wêreldmarkte en ekonomie is, dit tog lyk of ons steeds sulke siklusse kan onderskei.  Na my mening moet ons nie die ekonomiese siklusse voorop stel nie, maar die oorlogsiklusse wat binne die ekonomiese siklusse ingebed is.  Tog is beide die oorlogstyd en die vredestyd van ekonomiese voorspoed onlosmaaklike dele van dieselfde siklus.

Oorlog- en vredesiklusse

Uit die werk van bogenoemde skrywers blyk dit dat die genoemde oorlog- en vredesiklusse na twee opeenvolgende periodes in een siklus verwys, naamlik een van finansiële krisis, ekonomiese insinking en oorlog en 'n daaropvolgende een van ekonomiese groei en voorspoed. In my ondersoek na historiese oorlog- en vredesiklusse het ek die gebeure van die afgelope eeu in ag geneem.

Ek veronderstel dat die oorlogsfase van die siklus tipies met 'n finansiële krisis begin wat lei tot 'n resessie/depressie en 'n periode van stagnasie, gevolg deur 'n groot oorlog teen een van die Anglo-Amerikaners se vernaamste imperialistiese mededingers.  Soms is daar wel 'n tyd van matige ekonomiese groei na die aanvanklike krisis, maar dit lei uiteindelik tot 'n resessie waarna die oorlog uitbreek. Tydens die oorlog word daar gepoog (nie altyd suksesvol nie) om die belangrikste politieke en ekonomiese mededingers wat in die voorafgaande vredestyd na vore getree het weer op hul plek te sit en die Anglo-Amerikaanse belange polities-territoriaal uit te bou.  Dit vestig ook 'n nuwe magsbalans wat daarop gemik is om al die belangrikste rolspelers in toom te hou.

Wat die vredesfase van die siklus betref, begin dit direk na die einde van die oorlog.  Dit word tipies deur 'n na-oorlogse resessie (a "reconversion crisis") gekenmerk, gevolg deur 'n redelike lang periode van groei en voorspoed.  Gedurende hierdie periode is daar soms kleinere ekonomiese insinkings.  Alhoewel dit 'n vredesfase genoem word, kom daar wel van die ander tipe oorloë in hierdie tyd voor waartydens die toneel vir die volgende groot oorlog reggeskuif word.  Tydens die vredesfase word daar gepoog om al meer lande in die raamwerk van wêreldhandel te betrek met die oënskynlike doel om die winste van die Anglo-Amerikaanse geldbase, wat bowenal 'n beleid van vrye handel nastreef, te optimeer.  

Ek kon sedert die begin van die vorige eeu vier sulke oorlog- en vredesiklusse siklusse onderskei.  Omdat die VSA na die Eerste Wêreldoorlog as die senior vennoot na vore getree het, fokus ek hoofsaaklik op hul rol gedurende hierdie periode. 

1. Die siklus begin met die paniek van 1907 en die gepaardgaande resessie van 1907-8 in die Westerse wêreld waartydens daar 'n 31% afname in die besigheidsaktiwiteit in die VSA was.  Dit is gevolg deur die resessies van 1910-11 en 1913-14.  Die 1907 gebeure het gekulmineer in die wet van 1914 waardeur die Federale Reserwe Bank (ook in privaat besit) ingestel is. In Brittanje was dit veral die 1913 depressie wat baie erg was.  Daarna het die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 gevolg waartydens Duitsland die belangrikste imperialistiese opponent was.  Hierdie oorlog het die VSA ekonomie weer laat inskop.  Brittanje het slegter gevaar en met 'n geweldige skuldlas daaruit gekom, gevolg deur die na-oorlogse depressie van 1919-21.  Die jare van 1921-1929 was goeie jare in die VSA, ook bekend as die "roaring twenties". Die periode het 22 jaar geduur.

2. Die siklus begin met die val van die aandelemark in 1929.  Dit is gevolg deur die "Groot Depressie" van 1929-1933, waartydens daar 'n 26.7% afname in die VSA se BBP was. Die globale ekonomiese insinking het tot laat in die 30's voortgeduur, met 'n verdere resessie in 1937.  Daarna het die Tweede Wêreldoorlog van 1939-1945 gevolg, weereens teen Duitsland en haar bondgenote.  Die na-oorlogse Jelta beraad het die magsbalans vir die volgende aantal dekades opgestel.  Die oorlog het weereens die VSA ekonomie laat inskop. Die tydperk 1945-56 was oor die algemeen 'n periode van groei, waarvan veral die vroeë 50's "booming years" was. Dit is wel in 1953 deur 'n effense resessie (die na-Koreaanse Oorlog resessie) onderbreek.  Die periode het 28 jaar geduur.

3. Die siklus begin nie met 'n finansiële krisis nie omdat daar 'n "nie-paniek" konsensus in finansiële kringe bestaan het.  Tog was die 1957-8 globale resessie die ergste sedert die Groot Depressie.  Hierdie insinking het tot in die vroeë 1960's geduur.  In 1961 sluit die VSA 'n militêre verdrag met die Suid-Viëtnamese regering.  Die eerste ondersteuningstroepe is in 1961 daarheen gestuur en daarna aanhoudend vermeerder totdat die VSA in 1965 direk by hierdie Koue Era militêre konflik betrokke geraak het (As mede-voorsitter van die Geneva ooreenkomste kon Brittanje nie openlik by die oorlog betrokke raak nie. Tog toon gedeklassifiseerde leërs dat Brittanje wel op klandestiene wyse daarby betrokke was).  Hierdie oorlog was hoofsaaklik daarop gemik om die USSR - wat op groot skaal indirek daarby betrokke was - se mag in te perk.  Enige direkte konfrontasie met daardie moondheid was onmoontlik omdat beide die VSA en die USSR kernwapens besit het.  Die VSA ekonomie het gedurende die oorlogsperiode van 1961-1969 gegroei. In 1973 (toe die VSA betrokkenheid by die oorlog beëindig is) volg die eerste oliekrisis en 'n gepaardgaande resessie, gevolg deur 'n groeiperiode.  Die periode het 22 jaar geduur.

4. Die siklus begin met die tweede energie krisis in 1979.  Dit is gevolg deur die globale resessie(s) van 1980-82.  Die 1981-2 resessie word as die ergste resessie sedert die Groot Depressie beskou. In 1982 het die Latyns-Amerikaanse staatskuld krisis ook dramaties geïntensifiseer.  Ek beskou die beroemde toespraak van president Ronald Reagan in 1982 waarin hy NAVO se groot vyand, die USSR, as "totalitarian evil" beskryf het as die begin van die dramatiese intensifisering van die Koue Oorlog. Van daardie tyd af het die VSA se militêre spandering geweldig gegroei en daarmee saam hul ekonomie (1982-90). (Aan die ander kant van die wêreld het die twee moondhede mekaar ook indirek in Afganistan die stryd aangesê).  Na die val van Kommunisme in 1989-91 het die langste periode van groei in die VSA gevolg. Dit is deur die dot.com insinking onderbreek (die aandelemark het baie ingesink maar die gepaardgaande resessie was matig) waarna daar 'n verdere tyd van besondere goeie groei was. Die periode het 28 jaar geduur.

5.  Die siklus begin met die finansiële krisis van 2007-11 en die Groot Resessie van 2008-9, die ergste sedert die Groot Depressie. Verder is daar die EU staatskuld krisis wat steeds voortduur.

Ons vind dat die totale oorlog- en vredesiklus, wat beide fases insluit, gemiddeld 25 jaar geduur het - die gemiddelde tydsduur van die oorlogsfase was 13.7 jaar; die van die vredesfase was 11.2 jaar.  Dit korrespondeer goed met die gemiddelde tydperk tussen die aanvang van die verskillende groot oorloë wat met voorspelbare reëlmaat op mekaar gevolg het, naamlik 23 jaar (Ek het al 9 oorloë sedert die begin van die Napoleontiese Oorlog in 1793 in ag geneem.)  Hierdie periode is omtrent die helfte van Hoskins se 50 jaar siklus (of die Kondratiev golf), wat impliseer dat hy in effek twee siklusse in een gereken het.    

Die resessies/depressies waarmee die siklusse begin het (1907-8, 1929-33, 1957-58, 1980-82, 2008-9) - wat telkens die groot oorloë voorafgegaan het - is nie alleen mooi uit mekaar gespasieer nie (22-28 jaar uitmekaar); dit verteenwoordig ook die ergste ekonomiese insinkings van die afgelope 100 jaar.  Dit is duidelik dat die militêre-industriële kompleks telkens tydens hierdie oorloë die Anglo-Amerikaanse ekonomieë na die groot insinkings laat inskop het.  (Lande soos China gebruik op hul beurt groot infrastruktuur projekte om die ekonomie aan te dryf).  Verder het dit ook die finansiële belange van die Anglo-Amerikaanse geldbase ten koste van hul belangrikste opponente in ander lande uitgebou.  Die siklusse het oënskynlik nie met die Tweede Wêreldoorlog tot 'n einde gekom het nie, maar duur steeds voort.  Wat wel belangrik is, is dat die gebruik van kernwapens tot gevolg gehad het dat daar sedert die Tweede Wêreldoorlog geen direkte konfrontasies tussen die Anglo-Amerikaanse geallieerde magte en hul opponent (die USSR) kon plaasvind nie.

'n Komende oorlog teen Iran?

Volgens my analise van die oorlog- en vredesiklusse, het die laaste siklus in 2007 begin.  Uit die tendense wat ons in die vorige siklusse waarneem, lyk dit of ons moontlik binnekort 'n verdere resessie en 'n daaropvolgende groot oorlog kan verwag.  Maar wanneer kan ons so 'n oorlog verwag?  Die gemiddelde tydsverloop van die begin van die siklus - met die aanbreek van die finansiële krisis - tot die uitbreek van die oorlog (of dan die Anglo-Amerikaanse betrokkenheid daarby) was 7 jaar gedurende die vorige vier siklusse. Dit beteken dat die jaar 2014 die grootste waarskynlikheid vir die uitbreek van so 'n oorlog het.  As ons egter in ag neem dat daar vanjaar (2012) reeds 30 jaar verloop het sedert die intensifisering van die Koue Oorlog - wat langer is as die gemiddelde tydsverloop van 23 jaar tussen die uitbreek van hierdie oorloë (die eerste twee oorloë wat ons in ag neem het ook 34 jaar uitmekaar begin) - dan lyk dit of hierdie oorlog selfs vroeër kan plaasvind.


Dit is nie moeilik om te voorspel watter land die volgende teiken van die Anglo-Amerikaanse oorlogsmasjien sal wees nie.  Dit is Iran.  Op hierdie stadium hou Iran die grootste bedreiging vir die Anglo-Amerikaanse belange in die Midde-Ooste in - veral omdat hulle binnekort kernwapens tot hul beskikking kan hê.  Soos al die vorige opponente van hierdie groep, het Iran ook 'n imperialistiese ingesteldheid en ondersteun hulle verskillende lande en groepe buite hul grense wat die Weste vyandig gesind is.

Die Anglo-Amerikaners het dan ook deur 'n hele aantal oorloë oor die laaste paar jaar - die twee Golfoorloë, die oorlog in Afganistan en die Libiese oorlog - die toneel vir so 'n groot oorlog teen Iran opgestel.  Twee buurlande, naamlik Irak en Afganistan, het nou goeie verhoudings met die VSA (alhoewel Irak na die ontrekking van die VSA se troepe aan die einde van 2011 meer oop vir Irannese invloede is).  VSA troepe is ook al rondom Iran gestasioneer, naamlik in Afganistan, Koeweit, Bahrein, Katar, Jemen en Saoedi-Arabië.  Irak en Libië sal verseker dat die Weste selfs tydens so 'n oorlog toegang tot genoeg olie het. In 'n artikel op Willie's blog, http://wmcloud.blogspot.com/, "Oorlogswolke begin oor die Midde-Ooste saampak", bespreek ek die moontlike koalisies wat in so 'n oorlog teenoor mekaar te staan sal kom.  Omdat die Europese ekonomie baie erg deur die huidige ekonomiese krisis geraak word, verwag ek dat Brittanje en Frankryk 'n prominente rol in so 'n oorlog sal speel (om so die Europese ekonomie te laat inskop).

Dit is te betwyfel of die Anglo-Amerikaners sal poog om Iran heeltemal as 'n vyand te elimineer. Die insluiting van verskeie Arabiese lande by hul koalisie berus op die voortbestaan van die Irannese bedreiging. Dit is verder moontlik dat so 'n oorlog teen Iran die eerste van verskeie sal wees, net soos wat daar twee Wêreldoorloë teen Duitsland en twee groot oorloë teen die USSR gevoer is - die Viëtnamese Oorlog en die (finale intensifisering van die) Koue Oorlog.  Na so 'n Irannese Oorlog sal 'n nuwe magsbalans tussen die groot moondhede (die VSA, die EU en Rusland) in die Midde-Ooste gevestig word.  Ons kan byvoorbeeld verwag dat Sirië deel van die Westerse invloedsfeer sal word.

Slotgedagtes

Uiteindelik ken niemand die toekoms nie.  Hierdie is ook nie 'n poging om die toekoms te voorspel nie. Wat ek in hierdie artikel doen, is om die historiese oorlog- en vredesiklusse te ondersoek en te bepaal of daar genoegsame getuienis vir die bestaan van sulke siklusse is.  My gevolgtrekking is dat dit inderdaad lyk of sulke siklusse voorkom.  Alhoewel daar 'n element van willekeurigheid is, is dit moontlik dat ons die herhalende elemente kan gebruik as 'n model om sekere vooruitskouings omtrent die toekoms te maak.  Op grond daarvan kan ons 'n verdere ekonomiese insinking voorsien - wat tipies direk voor die uitbreek van die oorlog voorkom - asook 'n daaropvolgende oorlog.  Ander oorwegings toon dat Iran die mees waarskynlike Anglo-Amerikaanse opponent tydens so 'n oorlog sal wees. Dit lyk of ons in die volgende paar jaar 'n groot oorlog teen Iran kan verwag.

Indien hierdie vooruitskouings korrek is, sal ons meer vertroue in die bestaan van oorlog- en vredesiklusse kan hê.  Dit sal impliseer dat ons nie maar hierdie patrone in die geskiedenis inlees nie, maar dat dit waarskynlik werklik bestaan. As dit so uitkom, sal ons ook ander aspekte van die siklusse verder kan ondersoek.