Monday, 26 March 2012

Die Nuwe Toring van Babel

Hierdie is die eerste hoofstuk van my boek "Die Arabiese Opstande, hoe raak dit die vervulling van Bybelprofesieë oor die eindtyd?" en die enigste wat ek op my blog gaan plaas. Om die Arabiese opstande in eskatologiese lig te beskou, bespreek ek eers die profesieë wat oënskynlik van toepassing is.  Ek fokus op daardie deel van die profesie wat nog nie vervul is nie en probeer bepaal hoe die eindtydse toneel lyk wat in hierdie profesieë voorsien word.  Eers daarna fokus ek op die Arabiese opstande en die huidige gebeure in Europa.  Wat is my gevolgtrekking? As ons weet hoe om na die gebeure te kyk, sal ons sien dat 'n nuwe "toring van Babel" voor ons oë begin gestalte kry. 

Daniël 7:7-14, 19, 23-27: Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was ’n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het TIEN HORINGS gehad. Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ’n ander horinkie tussen hulle op… 
Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ’n Oue van dae gaan sit het… en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen… ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is… 
Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie. 
Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier… So het hy gesê: die vierde dier – die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel. En die TIEN HORINGS – uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan en ’n ander een sal ná hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp. En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd. 
Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig. Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.

Inleiding

My pa het altyd gesê dat ’n mens die Bybel saam met die koerant moet lees. ’n Mens moet beide die Bybel en die koerant lees – en jy moet dit saam lees. Daar was dan ook reeds van vroeg af by my ’n intense belangstelling in beide Bybelprofesieë en wêreldgebeure. In 1989 het ek my eerste boek oor wêreldgebeure geskryf onder die titel Akteurs in die Laaste Drama. Alhoewel ek Openbaring, Daniël asook ander profetiese gedeeltes intensief bestudeer het, het dit omtrent 16 jaar geneem voordat ek myself gereed gevoel het om ’n boek oor die profesieë te skryf. Toe, nadat ek ook al die sieninge versigtig bestudeer het, het ek Oppad na Armageddon in 1995 uitgebring.
Die interpretasie van Bybelprofesieë is nie iets wat in ’n leemte geskied nie. Dit gebeur tipies dat Christene in die verstaan van profesieë deur hul eietydse situasie beïnvloed word. En dit is nie verkeerd nie – elke geslag kan maar die gebeure van hul tyd in die raamwerk van profesieë oor die toekoms interpreteer. Dit is deel van die praktiese uitlewing van die verwagting dat die wederkoms selfs in hul tyd sal plaasvind. Elke geslag kan maar die Here Jesus verwag. So het Paulus ook verwag dat die Here in sy tyd sou kom. Dit is ook hoe hy gebeure in sy eie tyd geïnterpreteer het (byvoorbeeld 2 Thes. 1:3-8).
Ons kennis vermeerder darem oor tyd soos ons in Daniël lees (Dan. 12:4). Soos die wêreldsituasie ontwikkel en die wederkoms nader kom, begin sommige profesieë oor die toekoms al meer sin maak. Ons vind byvoorbeeld dat sieninge wat 500 jaar gelede sin gemaak het, net nie meer vandag inpas by die huidige wêreldsituasie nie. Dit beteken dus dat ons moet aanbeweeg. Dit is nie dat hulle toe verkeerd was nie; dit is gewoon dat hulle nie die kennis gehad het wat ons vandag het nie. Die wêreld het verander op wyses wat hulle toe nooit kon voorsien nie. Soos tyd aanstap en die kennis vermeerder, so verstaan ons ook die Skrif beter. Soos die tyd van die einde nader kom en die wederkoms uiteindelik op hande is, sal alles natuurlik mooi in plek val. Net soos die Bybel gesê het dat dit sal gebeur.
Interpretasie verander dus met tyd. Dit is baie belangrik dat ons dit weet wanneer ons met die profesieë omgaan. Daar is sieninge wat uit ’n periode dateer toe die wêreldsituasie so geïnterpreteer kon word – en vandag is daar steeds mense in die kerk wat daardie siening huldig. Die wêreld het egter sedertdien verander. Ons moet dan maar vir mekaar sê dat ons sulke sieninge wat vyfhonderd of ’n duisend jaar terug dateer, moet laat vaar. Geen siening, geen interpretasie is vas nie – net die geïnspireerde Woord is vas. Nie ons interpretasie daarvan nie.
Sommige dink dat hul interpretasie die enigste is wat reg en korrek is. En miskien is hulle reg – solank die wederkoms egter vertoef sal hulle natuurlik nie weet of hulle reg is nie. Ons moet dus by die punt kom dat ons ’n openheid het, ’n vryheid, om te glo dat ’n bepaalde interpretasie beter is as ’n ander een, maar waar ons terselftertyd ruimte laat vir die moontlikheid dat ons interpretasie verkeerd kan wees. Ons moet nie dink “Ons is die enigste groep wat die waarheid het, en hierdie waarheid wat ons het kan nie verander nie want dit is die waarheid van die Bybel”, nie. Dit is nie die waarheid van die Bybel nie, dit is ons interpretasie van die waarheid van die Bybel.
In hierdie hoofstuk wil ek by die profesieë van Daniël oor die tien tone en die tien horings stilstaan (Dan. 2, 7). Ek wil kyk hoe die interpretasie van hierdie gedeelte deur die eeue verander het. Ek wil ook kyk na ’n eietydse interpretasie van hierdie profesie – veral in die lig van die Arabiese opstande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Die Profesie Wys tot by die Wederkoms

In Daniël 7 word vertel hoedat die profeet in ’n naggesig ’n visioen oor die toekoms gehad het. Hy het vier verskillende diere uit die see sien opkom. Elke dier simboliseer ’n opeenvolgende koninkryk wat op die wêreldtoneel sou verskyn. Hierdie koninkryke sou/sal met verloop van tyd, oor ’n baie lang periode, die een ná die ander hul verskyning maak. Die periode begin met die Babiloniese Ryk en duur tot en met die koms van die Seun van ’n Mens op die wolke van die hemel.
Jesus help ons om hierdie profesie reg te verstaan. Hy praat tipies van Homself in die derde persoon as die “Seun van die Mens”. Jesus identifiseer Homself dus met die “Seun van ’n Mens” waarvan Daniël 7 praat. Voorts maak Hy ook die profesie in Daniël 7 oor die “Seun van ’n Mens” wat op die wolke van die hemel sal kom, op sy eie wederkoms van toepassing. Hy sê dat Hyself die “Seun van ’n Mens” is wat eendag op die wolke van die hemel sal kom (Matt. 24:30; Mark.13:26; Luk. 21:27). Dit sal in die tyd van die eindoordeel plaasvind waarna die onvernietigbare ryk van die heiliges sal aanbreek (Dan. 7:9-14, 26,27).
Volgens Jesus se interpretasie van die profesie sal die totale tydperk wat in Daniël 7 ter sprake is – dit is van die eerste dier tot en met die koms van die Seun van ’n Mens op die wolke van die hemel – van die Babiloniese Ryk tot sy eie wederkoms duur. So hier het ons met ’n profesie te doen wat deur die eeue ontvou. Dis is nogal ’n verstommende profesie omdat dit soveel detail bevat en so presies sê wat deur die loop van die eeue sal gebeur.
Dit is duidelik verkeerd om die vervulling van hierdie profesie heeltemal in die tyd voor Christus te plaas – en te dink dat die skrywer eerder geskiedenis as profesie geskryf het. Dit moet nie as geskiedenis gelees word soos sommige liberale teoloë dit wil hê nie, maar as ’n profesie. Ons vind dan ook dat die ooreenkoms met wêreldgebeure baie meer treffend is as die gedeelte as ’n profesie gelees word.

’n Kort Bespreking van die Profesie

Voordat ek begin met die bespreking van Daniël 7 wil ek net eers noem dat hierdie profesie nie los gelees kan word van die profesie in Daniël 2 oor die beeld wat Nebukadnesar gesien het nie. Dié beeld se kop was van goud, sy bors en arms van silwer, sy buik en heupe van koper, sy bene van yster, sy voete asook sy tien tone was van yster en klei. Die twee profesieë in Daniël 2 en 7 moet langs mekaar geplaas word. Hulle kom punt vir punt ooreen. Omdat hierdie twee profesieë so treffend ooreenstem is enige verklaring wat hulle nie langs mekaar plaas as verwysende na dieselfde gebeure nie, problematies.
Ons kan die ooreenkomste kortliks opsom. Die kop van goud kom met die leeu ooreen. Die bors en arms van silwer kom met die beer ooreen wat aan die een kant opgerig is. Die buik en heupe van koper kom met die luiperd met vier koppe ooreen. Die bene van yster kom met die vreeslike dier met yster tande ooreen – in beide gevalle word die yster dan ook beklemtoon. Die tien tone van die beeld kom met die tien horings op die laaste dier ooreen. Die Rots wat die beeld vermorsel kom met die koms van die Seun van ’n Mens ooreen, wanneer die vorige ryke vernietig en die ryk van die heiliges opgerig sal word. Die onderskeie dele van die beeld kom dus met die opeenvolgende diere ooreen.

Fig. 1 Uiteensetting van Daniël 2 en 7.

RYK                                         DANIËL 2                               DANIËL 7
Babel                                       Kop van Goud                          Leeu
Meders & Perse                         Bors/Arms Silwer                    Beer
Griekse (Alexander)                  Buik van Koper                        Luiperd
In vier verdeel                                                                        Vier koppe
Romeinse                                 Bene van Yster                        Vreeslike dier
Bisantynse- en Heilige
Romeinse Ryk                            Voete
Tien lande in die Europese
Unie wat polities integreer         Tien Tone                               Tien horings
Antichris                                                                                Ander horing
Verdrukking                                                                           Verdrukking
Godsryk                                   Groot Klip                              Koninkryk van die
                                                                                            Seun van die Mens
 
Daar is aan Daniël geopenbaar dat die kop van goud na die Babiloniese Ryk verwys (Dan. 2:37, 38). Dit is dus ook waar van die leeu. Ons weet dus wanneer beide hierdie profesieë ’n aanvang neem. Beide begin met die Babiloniese Ryk. Van hier af is dit redelik eenvoudig – ’n mens moet net kyk na al die ryke wat deur die loop van die eeue in die Midde-Ooste verskyn het (en waarmee Israel as God se volk te doen gehad het). Na die kop van goud volg die bors en arms van silwer – silwer is nie heeltemal so waardevol soos goud nie. So kom die beer ook nie by die koning van die diere, naamlik die leeu, nie. Dit wys op die volgende ryk, naamlik die Meders en Persiese Ryk. Die twee arms verwys duidelik na die twee dele van die ryk – die Persiese Ryk en die Mederse deel wat daarby geïnkorporeer is.
Daarna kom die buik en heupe van koper of dan die luiperd met vier koppe. Die volgende ryk was die Grieks-Macedoniese Ryk van Alexander die Grote. Na sy dood is Alexander se ryk in vier verdeel – vandaar die luiperd se vier koppe. Weereens is dit ’n baie presiese beskrywing van hoe hierdie ryk daar uitgesien het.
 Daarna kom die bene van yster. Yster is die sterk metaal. Daniël plaas hierdie ryk duidelik in ’n ander kategorie as die voriges. In Daniël 7 word daar beklemtoon dat hierdie dier verskillend van die ander is – dit is ’n skrikwekkende dier. Hierdie dier het groot yster tande waarmee hy alles verskeur en verslind. Hy sou oor die hele wêreld heers. Daar is net een ryk wat hiermee ooreenkom en wat magtiger as al die voorafgaande ryke was. Dit is die Romeinse Ryk wat ná die Grieks-Macedoniese Ryk – en die vier dele waarin daardie ryk verdeel is, waaronder die Ptolemeïese en Seleuciese Ryke – op die toneel verskyn het.

Die Romeinse Ryk

Die Romeinse keisers was van die magtigste heersers wat ooit op aarde geheers het. Dink aan Julius Ceasar. Hy het Wes-Europa verower en tot in Brittanje opgetrek. Hy was ’n buitengewone generaal en die eerste keiser van die Romeinse Ryk. Na sy dood is hy as ’n god vereer. Sy aangenome seun was Augustus Ceaser. In sy tyd was die uithoeke van die aarde onder die gesag van die Romeine. Augustus is selfs tydens sy lewe as ’n god vereer. Hulle was duidelik groot en magtige manne. Ons gedenk hulle vandag nog onbewustelik gedurende die maande Julie en Augustus, wat na hulle vernoem is.
Ons gebruik vandag ook nog die Romeinse regstelsel. Ook die administratiewe stelsel van die Romeinse Ryk het deur die eeue bly voortbestaan. Die Romeinse Ryk het dan ook, ooreenkomstig die profesie, tot in die Midde-Ooste gestrek en Israel self het vir ’n tyd, toe Jesus op aarde was, onder die juk van die Romeine gestaan. Dit lyk dus vir my baie logies om te veronderstel dat die groot en magtige ryk van Daniël 2 en 7 die Romeinse Ryk was.
Wat verder opval, is dat die beeld natuurlik twee bene van yster het. Ons kan onsself afvra of dit ook in die geskiedenis in vervulling gegaan het? Die Romeinse Ryk is inderdaad in 285 n.C. in twee verdeel, in ’n oostelike en ’n westelike deel – feitlik presies in die middel van die Romeinse Ryk. Dit kom treffend ooreen met die twee bene van die beeld. In latere tye het die Westelike Romeinse Ryk in die weste bestaan, met Rome as hoofsetel en die Bisantynse Ryk in die oostelike deel van die ou Romeinse Ryk, met Konstantinopel (Bisantium - die “Nuwe Rome”) as hoofsetel.
Hierdie presiese vervulling van die profesie ten opsigte van die vierde dier in die Romeinse Ryk toon die bonatuurlike aard van Bybelprofesieë, duidelik aan. Daniël kon menslik gesproke nie hierdie groot en verskriklike ryk voorsien het nie. Geen mens sou dit kon voorsien nie. As ons vandag terugkyk, dan kan ons duidelik sien dat die Romeinse Ryk inderdaad in grootte en krag, die ander ryke ver oortref het. Romeinse keisers soos Julius Ceaser en Augustus het die konings wat voor hulle gekom het ook ver oortref.

Die Voortsetting van die Romeinse Ryk

Dit is belangrik om daarop te let dat die hele onderste deel van die beeld, van die area onder die heupe af, uit yster of gedeeltelik uit yster bestaan. Die bene, die voete asook die tone bestaan uit yster of gedeeltelik uit yster. Alhoewel daar nou klei bykom, is die yster steeds teenwoordig in die voete sowel as die tone. Die voete sowel as die tone bestaan uit yster en klei.
Dit beteken dat die voete sowel as die tone as ’n voortsetting van dieselfde ryk, die Romeinse Ryk, beskou kan word. Tog is dit nie dieselfde as die Romeinse Ryk wat met die bene ooreenkom nie. Aangesien die yster deurgaans voorkom, kan ons verstaan waarom die ooreenkomstige dier in Daniël 7 as net een enkele dier uitgebeeld word – as ’n dier met tien horings.
Dit bring ons by die vraag: Hoe moet ons die klei interpreteer? Wat het met die Romeinse Ryk gebeur dat klei by die yster bygekom het? Welke veranderings het plaasgevind? Vandag het ons die voorreg om in retrospek te kan terugkyk. Ons weet dat daar in die tyd van die Romeinse Ryk ’n groot groepering van mense in Europa teenwoordig was wat onderwerp is – maar ook hul onafhanklikheid buite die grense van die Romeinse Ryk behou het. Dit was die Germane. Al die Germaanse volke soos onder andere die Oos-Gote, die Wes-Gote, die Lombarde en die Vandale – daar is hoeveel verskillende volke wat hulle mettertyd binne die Romeinse Ryk kom vestig het. Hulle was die voorouers van volke soos die Franse, die Duitsers en ander groepe wat vandag steeds in Europa bly.
Wat sal die klei wees as die yster na die Romeinse Ryk verwys? Dit lyk of ons die klei met die Germaanse volkere moet vereenselwig. Ons lees dan ook dat die yster en klei deur menslike gemeenskap met mekaar vermeng sal raak (Dan. 2:43). Die yster en klei verwys dus na volke, na die Romeine en die Germaanse volke, wat onderskeidelik as hard en bros beskryf word. Dit lyk dus na ’n sinvolle verklaring om die klei met die Germaanse volkere te vereenselwig. Die yster en die klei vorm mettertyd een ryk as voortsetting van die Romeinse Ryk.
Dit bring ons by die voete van yster en klei. Dit kom in die plek van die bene. Dit wys op ’n voortsetting van die Romeinse Ryk (die yster is steeds teenwoordig), met beide Romeine en Germaanse volke daarin teenwoordig. Tog is dit nie die ou Romeinse Ryk nie omdat dit duidelik van die bene van yster onderskei word. Die twee voete vloei wel uit die twee bene van die Romeinse Ryk voort – dit kom in die plek van die twee dele waarin daardie ryk verdeel is (Dan. 2:41). Voete is duidelik nie so prominent soos bene nie – dit sou dus nie so vernaam soos die Romeinse Ryk wees nie.
Waar pas die voete in die geskiedenis in? Wel, ons moet gewoon kyk watter ryke uit die twee bene van die Romeinse Ryk voortgekom het. In die Ooste was die Bisantynse Ryk ’n voortsetting van die Oostelike deel van die Romeinse Ryk. Dit is soms ook die Ryk van die Grieke genoem omdat die Griekse gebiede (behalwe vir Konstantinopel) die hartland van die ryk gevorm het. Hierdie ryk het van 306 n.C. tot 1453 n.C. bestaan. In die Peloponnese (Suid-Griekeland) het dit nog tot 1460 n.C. teen die Ottomane (Moslems) uitgehou.
In die Weste het daar ook ’n ryk in die plek van die Westelike Romeinse Ryk opgekom. Dit was die Heilige Romeinse Ryk, wat van 800 n.C. tot 1806 n.C. bestaan het. Dit het beslag gekry toe die Franse koning, Karel die Grote, deur die pous tot die nuwe Konstantyn gekroon is. Soos Konstantyn was Karel die nuwe kampvegter vir die Christelike geloof. Aangesien Rome een van die gesagspole in die ryk was, is dit as’t ware as ’n voortsetting van die Romeinse Ryk beskou. Na die val van die Bisantynse Ryk, het die Romeinse Ryk slegs in hierdie ryk bly voortleef.
Soos die naam Heilige Romeinse Ryk aantoon, was die ryk “heilig” in die sin dat die pous sy seën daaroor uitgeroep het – slegs die pous kon die keiser tot hoof van die ryk kroon. Dit was Romeins in die sin dat die kroningsplegtigheid van die keisers steeds in Rome plaasgevind het. Rome was steeds die godsdienstige setel van die ryk. Die ryk het dus uit twee gesagspole bestaan, naamlik die keiser en die pous. Die een setel was in Rome; die ander was daar waar die keiser sy troon gevestig het. Teenoor Rome – waar hul nasate baie van die Romeinse tradisies voortgesit het – was die keiser wat van Germaanse afkoms was.
Hierdie tweeledigheid het daartoe gelei dat hierdie ryk soms baie verdeeld was. Daar was soms ’n groot stryd tussen die keiser en die pous oor wie die uiteindelike gesag in die ryk gehad het. Dit kan verband hou met die profesie in Daniël dat hierdie ryk “verdeeld” sou wees (Dan. 2:41). Dat die ryk nie alleen uit die verdeelde Romeinse Ryk sou voortkom nie, maar dat dit ook intern verdeeld sou wees – verdeeld tussen die yster (Romeine) en die klei (die Germaanse volke) (Dan. 2:41), tussen die Roomse pous en die Germaanse keiser.
Die Heilige Romeinse Ryk het dele van die ou Romeinse Ryk sowel as die Germaanse gebiede, wat vroeër buite daardie ryk geval het (i.e. beide yster en klei), ingesluit. Dit het aan en af deur die eeue bestaan en die hartland daarvan het mettertyd van Frankryk na die Duitse state en later na Oostenryk verskuif. In 1806 het Napoleon ’n einde daaraan gemaak.

Die Tien Tone

So kom ons by die tien tone wat met die tien horings op die kop van die laaste dier in Daniël 7 ooreenkom. Die tien tone kom ná die voete. Hulle bestaan ook uit yster en klei. Dit lyk of ons hulle in die tyd van die einde moet verwag, want dit is die laaste koninkryk wat in Daniël 2 genoem word voordat die Rots verskyn, wat ons vroeër met die uiteindelike ryk van Christus vereenselwig het.
In Daniël 7 word genoem dat daar na die tien horings ’n verdere “horing” tussen die ander sal verskyn. Hierdie horing word menslik voorgestel met oë en mond. Hy mishandel die heiliges vir “’n tyd en tye en ’n halwe tyd” (i.e. drie en ’n halwe jaar) (Dan. 7:25). Dit is in sy tyd dat die wederkoms sal plaasvind.
 Voordat ek oor die betekenis van die tien tone praat, en ek dit met die huidige gebeure in Noord-Afrika en die Midde-Ooste in verband bring, wil ek net eers demonstreer hoe die interpretasie van hierdie profesie met tyd verander het. Dit wys dat ons altyd moet onthou dat enige interpretasie van profesieë wat nog nie finaal vervul is nie, voorlopig is.
Gestel ons het 500 jaar terug in die Middeleeue gelewe. Hoe sou ons dan hierdie profesie verstaan het? Hoe sou die hervormers en die verklaarders van daardie tyd die tien tone in die raamwerk van hulle tyd identifiseer? Hulle sou uit die profesie weet dat die tien tone uit die Romeinse Ryk voortkom. Die logiese afleiding sou wees dat die tien tone op die lande wys wat mettertyd oral in Europa beslag gekry het, waar die verskillende Germaanse groepe hul gaan vestig het. Die ander horing wat tussen die tien verskyn, het hulle weer met die pousdom vereenselwig aangesien baie Christene onder die Katolieke Kerk vir hulle geloof gely en gesterf het.
Alhoewel ons vandag verstaan hoekom hulle so gedink het – dit was die enigste moontlike verklaring vir die tyd waarin hulle gelewe het – het daardie verklaarders ’n probleem gehad. Soos tyd aangeloop het, het die aantal lande wat onder die Katolieke gesagsfeer gestaan het, gedurig verander. Die rede hiervoor was dat die nasiestaat nog nie bestaan het nie en die afbakening van lande was dus baie vloeibaar. Sommige lande is gekonsolideer en andere het verskyn. Nuwe lande het ook die Christelike geloof aanvaar.
Alhoewel daar soms nagenoeg tien sulke lande was, is dit nie moontlik om enige tien lande uit te sonder nie. Onder die verklaarders wat hierdie siening voorstaan, noem 27 ’n totaal van 65 verskillende lande. In retrospek kan ons sien dat ons daardie periode eerder met die voete as met die tone moet vereenselwig alhoewel dit miskien ’n embriofase van ’n toekomstige vervulling was. Ek sal in die volgende hoofstuk meer oor die finale horing sê.

’n Eietydse Interpretasie van die Tien Tone/Horings

Hoe kan ons vandag die tien tone interpreteer? Soos ons hierbo verduidelik het, kan ons die Romeinse Ryk met die bene van yster vereenselwig en die voete van yster en klei met die Bisantynse Ryk en die Heilige Romeinse Ryk wat as die laaste voortsetting van die Romeinse Ryk gereken kan word. Wat van die tien tone? Die tone van yster en klei is duidelik ’n verdere ontwikkeling in hierdie raamwerk. Die tien tone verskyn ná die voete van yster en klei. Dit beteken dat die tien tone eers ná die Heilige Romeinse Ryk sal verskyn en ook daaruit sal voortkom.
In ’n sekere sin is die tien tone ook ’n voortsetting van die Romeinse Ryk. Ons lees dan ook dat die yster (die nasate van die Romeine) steeds in die tone teenwoordig is. In die profesie oor die diere wat uit die see opkom (Dan. 7) en wat oor dieselfde gebeure handel, lees ons ook dat die tien horings te voorskyn sal tree waar die Romeinse Ryk eens was: “En die tien horings – uit daardie koninkryk (die vierde koninkryk wat met die vierde dier ooreenkom) sal tien konings opstaan” (Dan. 7:24).
Dit is moontlik dat ons die volgende fase in die profesie, naamlik die tien tone, met die vereniging van Europa moet vereenselwig. Ek het dan ook al in 1995 in die boek Oppad na Armageddon - 31 bepeinsings oor Openbaring en ander Bybelprofesieë, voorgestel dat die tien tone asook die tien horings op ’n federale ryk in Europa dui wat uiteindelik uit tien lande sal bestaan. Die Europese Unie wat in Wes-Europa begin opkom, kan as die eerste tree in daardie rigting beskou word.
Ons vind interessant genoeg dat die eerste ses lande wat met die proses van integrasie begin het in die gebied lê wat vroeër deel van die Heilige Romeinse Ryk was. Verder was Rome van die begin af belangrik in die Unie. Een van die belangrikste Europese verdrae was die Verdrag van Rome wat in 1957 gesluit is en waardeur die Europese Gemeenskapsmark (die voorloper van die Unie) tot stand gekom het.
In 1995 was dit slegs lande in Wes-Europa (behalwe vir Griekeland) wat deel van die Verenigde Europa uitgemaak het en ek het dienooreenkomstig die klem op Wes-Europa geplaas. Daar was op daardie stadium 15 lande. Maar wat het gebeur in die 16 jaar wat intussen verbygegaan het? Die Europese Unie het gegroei
en het beide die westelike sowel as die oostelike dele van die destydse Romeinse Ryk begin insluit.
Hierdie ontwikkeling bring die gebeure in Europa nog meer treffend met die profesie ooreen. Aangesien daar aan elke been vyf tone is, sal die tien lande heel moontlik uit altwee bene van die Romeinse Ryk kom. Soos wat lande in Oos-Europa – lande soos Griekeland, Bulgarye, Romenië en uiteindelik ook die Balkan state – deel van die Europese Unie word, sien ons hoe lande uit altwee dele van die ou Romeinse Ryk by die Europese Unie ingesluit word.
Daar is egter ’n probleem. Alhoewel die Verenigde Europa met min lande begin het, het dit intussen tot sewe en twintig lande aangegroei. Volgens die profesie sal daar tien tone wees – nie sewe en twintig nie. Hoe gaan ons dit met die profesie versoen? Op grond van die feit dat daar meer as tien lande in die Europese Unie is, is daar sommige Skrifverklaarders wat die profesie op allerhande ander maniere probeer interpreteer.
Een moontlike oplossing is om die Ottomaanse Ryk in opvolging van die Romeinse Ryk te beskou aangesien dit in die plek van die oostelike deel van die Romeinse Ryk, die Bisantynse Ryk, gekom het. Dit is inderwaarheid so dat hierdie Ryk ook oor Palestina beheer uitgeoefen het en dus ’n volgende ryk ná die Romeinse Ryk in die Midde-Ooste verteenwoordig. Hulle is dus van mening dat ons die tien tone tussen die Moslemlande van die Midde-Ooste sal sien opkom.
Tog was Israel nie in die tyd van die Ottomaanse Ryk in Palestina teenwoordig nie. As die profesie primêr oor ryke handel wat oor Israel beheer sou uitoefen (die profesie is duidelik met die oog op Israel se toekoms gegee), kan ons nie die Ottomaanse Ryk daarby insluit nie. Ons vind dan ook dat daar in Daniël 7 geen verdere dier na die vierde een (die Romeinse Ryk en sy voortsettings) vermeld word wat voor die wederkoms op die toneel sal verskyn nie. Volgens beide die profesieë van Daniël 2 en 7 sal die tien tone uit die vorige ryk (die Romeinse Ryk) te voorskyn kom.

Nuwe Gebeure in die Europese Unie

Ek het vroeër genoem dat die interpretasie van onvervulde profesieë nie losgemaak kan word van die verklaarder se eie tydsomstandighede nie. As ’n mens te vroeg lewe, soos die hervormers van vyfhonderd jaar gelede, is dit feitlik onmoontlik om so ’n profesie reg te vertolk. Omdat hulle nie in die regte tydsvak gelewe het nie, was dit vir hulle onmoontlik om te voorsien wat ons vandag in retrospek weet omdat ons oor die geskiedenis terugkyk. Maar ons weet ook nie of ons self in die tyd sal lewe waarin die profesie oor die tien tone in vervulling sal gaan nie.
Dit is wel moontlik dat die wêreldtoneel al meer in daardie rigting ontvou. Soos die wêreldsituasie verander sal ons interpretasie dus al meer of al minder sin maak. Nuwe ontwikkelinge op die wêreldtoneel versterk sekere sieninge en maak ander weer onwaarskynlik.
Dit bring ons by huidige gebeure. Ek wil op twee belangrike ontwikkelinge fokus wat direk uit die wêreldwye ekonomiese krisis voortgespruit het. Ten eerste is daar die eerste pogings van die Eurolande (die lande in die Europese Unie wat die Euro as gemeenskaplike geldeenheid aanvaar het) om hul ekonomië in die lig van die finansiële krisis te herstruktureer. Dit het tot gevolg dat hierdie lande die ander lande van die Europese Unie vooruitgaan in hul pogings tot integrasie.
Ten tweede is daar die Arabiese opstande wat ook direk uit die krisis voortvloei. Dit kan lei tot die demokratisering van die Arabiese lande wat al om die Middellandse See lê en selfs tot hul toekomstige insluiting by die Unie. Ek sal aantoon hoe hierdie twee stelle gebeure saam in die raamwerk van die toekomstige Europese Unie verstaan moet word. Ek wil dit dan met die profesieë oor die tien tone en die tien horings in verband bring.
As ’n mens die Anglo-Amerikaanse media lees (tydskrifte soos byvoorbeeld The Economist), dan merk jy gou uit hul reaksie watter ontwikkelinge in die Europese Unie van belang is. Wanneer hulle so te sê histeries begin raak soos destyds toe die Europese parlement ingestel is, dan weet jy dat belangrike gebeure in die Unie ter sprake is. Iets soortgelyks het onlangs weer gebeur waaroor sommige in die Anglo-Amerikaanse media baie ongelukkig is. Die rede vir die ongelukkigheid is omdat sommige lande in die Unie, naamlik die Eurogroep – wat die Euro as geldeenheid aanvaar het – nou begin weg beweeg van ander lande in die Unie.
Die leiers van hierdie lande het as gevolg van die ekonomiese krisis in Europa vir die eerste keer onafhanklik van die ander lande vergader. Hierdie groep word die “Regering van die Eurogebied” genoem. Hulle beplan om al hul finansiële strukture al meer te integreer. As hierdie proses voortduur sal hierdie lande ’n kerngroep binne die Europese Unie vorm wat mettertyd ook polities al meer geïntegreerd sal raak.
Aangesien die Anglo-Amerikaners baie teen die verdere politieke integrasie van die Europese Unie gekant is – Brittanje is tans besig met wetgewing om alle toekomstige oorgawe van magte aan die Unie aan referendums te onderwerp – is hulle baie ongemaklik met hierdie ontwikkeling. Hulle besef dat hulle, en enkele ander lande wat soos hulle voel, op die langtermyn buite hierdie kerngroep sal val. Alhoewel die Anglo-Amerikaners voorheen hierdie ontwikkeling in die Unie probeer stop het, laat die Nice Verdrag wat in 2003 van krag geword het, die ander lande toe om met so ’n proses voort te gaan.

Die Arabiese Opstande

Terwyl hierdie dinge in Europa gebeur, vind ons skielik ook dramatiese veranderinge in Noord-Afrika. Opstande kom regoor die Arabiese gebied rondom die Middellandse See en selfs wyer in die Midde-Ooste voor. Die omstandighede vir sulke opstande was ideaal – grootskaalse ekonomiese insinking, mense wat onrustig raak omdat hulle ekonomies gefrustreerd is, jong mense wat moderne tegnologie gebruik en die behoefte aan ’n vryer samelewing.
In lande soos Tunisië en Egipte was hierdie opstande reeds suksesvol en is die autokratiese heersers van hul mag ontneem. Oral word gepraat van die “Arabiese Ontwaking” of die “Arabiese Lente”. Dit lyk of daar demokraties-verkose regerings in hierdie lande aan bewind kan kom. Gaan hierdie lande inderdaad demokrasië word? Alhoewel dit nog ’n lang tyd sal neem, is dit heeltemal moontlik dat baie van hulle (almal?) mettertyd demokrasië sal word.
Hierdie gebeure kom baie ooreen met die opstande wat destyds met die val van Kommunisme in Oos-Europa voorgekom het. En net soos die Europese Unie daardie lande aan die hand gevat het op hul pad na demokrasie, so het die Unie alreeds hulp aan Tunisië, Egipte asook die Libiese rebelle aangebied. Turkye word allerweë as ’n toonbeeld van Moslem demokrasie beskou – en hierdie lande word aangemoedig om die Turkse voorbeeld te volg.
Die moontlikheid bestaan dat hierdie lande op die langer termyn net soos die Oos-Europese lande (en moontlik ook ander lande rondom die Swart See) by die Europese Unie ingeskakel sal word. Onderhandelinge in hierdie verband is alreeds met Turkye aan die gang alhoewel dit ’n tyd gelede vasgeval het.
Daar bestaan reeds ’n groep lande rondom die Middellandse See-kus wat op Franse inisiatief met mekaar asook die Unie begin saamwerk het. As hierdie lande demokrasië word kan daardie hele

 

Fig 2. Die Verenigde Europa as die toring van Babel


gebied mettertyd by die Unie ingeskakel word. Alhoewel hulle miskien nie volwaardige lede van die Unie sal word nie, sal hulle moontlik spesiale lede word wat deel van die vryhandelsgebied uitmaak, maar waarin sekere dinge soos die vrye vloei van mense beperk sal wees. So ’n verloop van gebeure sal beteken dat die Europese Unie al meer soos ’n herstelde Romeinse Ryk begin lyk aangesien die lande rondom die Middellandse See almal in die gebied van die ou Romeinse Ryk val.

Die Nuwe Toring van Babel

Wat het dit met die profesie oor die tien tone/horings te doen? Dit sal duidelik word sodra ons al hierdie ontwikkelings saam beskou. Wat ons vind is dat die Europese Unie, wat tot onlangs nog saam voort beweeg het, nou in verskillende vlakke begin vertak, naamlik die Eurolande wat verder wil integreer, lande soos Engeland wat nie verder enige mag aan die Unie wil afstaan nie en dan die lande soos Turkye wat daarby ingesluit kan word, maar wat waarskynlik nooit volle lidmaatskap van die Unie sal verkry nie. Ek is van mening dat die lande rondom die Middellandse See waar die opstande voorkom mettertyd deel van die derde groep sal word.
Nou wil ek ’n amptelike plakaat van die Verenigde Europa voor oë roep (fig. 2). Die plakaat dateer uit die tyd toe daar nog net twaalf lande in die Verenigde Europa was (i.e. 1986-1993). Dit toon die skildery van Pieter Bruegel van die onvoltooide toring van Babel met verskillende vlakke na bo wat hy in 1563 voltooi het. Op die plakaat is twaalf sterre bo die toring aangebring ooreenkomstig die twaalf lande waaruit die Verenigde Europa na die insluiting van Spanje en Portugal in 1986 bestaan het. Die onderste ster is egter agter die top van die toring verborge sodat net elf sterre sigbaar is. Die boonste een is die grootste en die ander tien is in 'n skuinsgedraaide reghoekige vorm daaronder gerangskik. Die byskrif lees: “Many Tongues, One Voice”. Dit wys op die feit dat die lande van die Verenigde Europa hul verskille agter gelaat het en met een stem op die wêreldtoneel begin praat.
Wat veral interessant is, is die vorm van die toring. Dit is ’n tipiese Mespotamiese ziggurat. Die “toring van Babel” het so gelyk. Die stap-piramiede by Saqqara in Egipte lyk ook so. Dit bestaan uit verskillende vlakke. Daar is ’n breë onderste vlak, ’n tweede vlak bo dit en so voorts. In die middel is ’n kern deel wat die hoogste strek. Ek wil voorstel dat die toekomstige Europese Unie baie soos hierdie piramide gaan lyk.
Op die heel basiese vlak sal alle lande in die Unie deur sekere minimum vereistes soos ’n vryemarkstelsel geïntegreerd wees (die vlak waarop lande soos Turkye en ander Moslem demokrasieë rondom die Middellandse See sal wees). Daarna sal ’n kleiner groep lande volg wat verder geïntegreerd is (miskien die vlak waarop lande soos Engeland sal wees). Die groep lande wat een geldstelsel deel sal ’n verdere kleinere groep vorm (die Eurolande). Dit is moontlik dat daar nog ’n verdere groep lande sal wees wat ’n ware politieke unie vorm.
Dit is interessant dat die Bybel ook vir Rome, en in ’n sekere sin die Romeinse Ryk, met Babel vereenselwig. Ons lees byvoorbeeld in Openbaring 17:18 van die groot stad wat destyds heerskappy oor die konings van die aarde gevoer het, naamlik Rome. Nadat hierdie stad val is daar ’n uitroep: “Geval, geval, het die groot Babilon” (Open. 18:2; Open. 17:5). Ook Petrus verwys na Rome onder die naam “Babilon” (1 Pet. 5:13). Dit impliseer dat Rome die nuwe Babel is. Die gebruik van die toring van Babel as simbool vir die herstelde Romeinse Ryk, as dit daartoe kom, sal dus heel gepas wees.

Die Tien Tone/Horing

Ons moet maar die situasie in die toekoms dophou. Ons moet kyk hoe die situasie in Noord-Afrika en die Midde-Ooste verder ontvou. Ons moet kyk of daar inderdaad demokrasië in die Arabiese lande rondom die Middellandse See tot stand kom. As dit gebeur en hierdie lande begin soos Turkye al nader aan die Europese Unie beweeg, dan kan die toekomstige Europa maklik lyk soos ek dit hier geskets het.
So ’n Europa sal ongeveer dieselfde geografiese gebied as die destydse Romeinse Ryk – saam met die Germaanse gebiede wat daarbuite geval het – insluit. Dit sal baie soos ’n herstelde Romeinse Ryk begin lyk. Ek wil voorstel dat daar mettertyd in die kern van Europa ’n groep lande sal wees wat verder polities integreer – ’n groep wat uit tien lande sal bestaan ooreenkomstig die profesie van Daniël oor die tien tone/horings. Dit sal dan uit hierdie geledere wees dat die ander horing waarvan ons in Daniël 7 lees, te voorskyn sal tree. Die koms van hierdie antichristelike heerser sal ’n aanduiding wees dat die koms van Christus naby is.
So beskou is die Arabiese opstande ’n baie belangrike baken op die pad. Dit is opvallend dat hierdie opstande in Noord-Afrika en die Midde-Ooste juis met die veranderinge in die Europese Unie – die totstandkoming van die Regering van die Eurogroep – saamgeval het. Beide staan met die opkoms van ’n sterker Unie in verband. As dit nie was vir die wêreldwye ekonomiese insinking wat beide tot gevolg gehad het nie, sou ’n mens amper kon dink dat dit so beplan is. Dit alles dui op ’n nuwe fase in die totstandkoming van die Europese Unie wat al meer soos ’n herstelde Romeinese Ryk kan begin lyk. ’n Fase wat maklik tot die vervulling van die profesie oor die tien tone/horings kan lei.

Om "Die Arabiese Opstande" te bestel, klik onder "Koop Die Arabiese Opstande" reg onder die foto van die boek wat regs op hierdie blog verskyn. Om na die inhoudsopgawe of voorwoord te kyk, klik op die foto van die boek.