Sunday, 15 April 2012

Om te glo of nie te glo nie...

Hierdie artikel het in Pomp 12 verskyn en word met toestemming hier gepos.

Daar het ‘n nuwe era vir Afrikaners aangebreek. Vir die eerste keer in hulle geskiedenis voel hulle hulself vry – intellektueel vry. Vry om oor alles spontaan na te dink – en veral oor geloofsake. Tot onlangs was die Afrikaner nog vasgevang in ‘n godsdienstige paradigma waarin dit wat die kerk gesê het sondermeer aanvaar is. Maar daardie tyd is verby. Wat die geloof betref, wil al meer Afrikaners op hul eie voete staan. Hulle wil dinge vir hulleself uitmaak. Dit sal jammer wees as hulle hul onbewustelik weer by ‘n nuwe oënskynlik-wetenskaplike paradigma laat intrek – een wat glad nie so bevrydend is as wat ‘n mens aanvanklik sou dink nie. As hulle in effek nie vir hulleself dink nie, maar weer andere naloop.

Die tydvak van verandering wat die Afrikaner tans beleef herinner baie aan die periode van Verligting in die Europese geskiedenis. In ‘n sekere sin het die Afrikaner in Suid-Afrika die Europese Verligting en die daaropvolgende ingrypende veranderinge in die Europese samelewing vrygespring – en beleef hulle nou hul eie verligting. Soos in agtiende eeuse Europa is daar ‘n wegbeweeg van die aanvaarding van die kerk se gesag – wat in beide gevalle in ‘n geloofwaardigheidskrisis gedompel is vanweë hul steun aan ‘n onderdrukkende politieke gesag. In beide gevalle het die politieke veranderinge die deure van twyfel wyd laat oopswaai. En in beide gevalle het wetenskaplike skeptisisme deur daardie deur begin beur. Na die Verligting het die wetenskaplike paradigma die Christelike een tot ‘n groot mate in Europa verplaas. Gaan dieselfde in Afrikaner kringe gebeur? Of het die Afrikaner steeds rede om te glo?

Die impak van die Europese Verligting

Een van die groot name in die Europese Verligting is dié van die filosoof Immanuel Kant. In een van sy skrywes het Kant die publiek aangemoedig om vir hulself te begin dink – om nie maar die leerstellings wat aan hulle voorgehou word slaafs na die volg nie. Hyself het ook diep nagedink oor die vraag of daar nog plek is vir geloof in ‘n wêreld waarin Newton se vergelykings die hoop uitgehou het dat alles uiteindelik wetenskaplik verklaar sal kan word. Kant se gevolgtrekking was dat daar sekere beperkinge is wat suiwer rede nooit sal kan oorkom nie en dit skep die ruimte waarin geloof kan bestaan.

Sedert die Verligting het die Christelike paradigma wat die Europese samelewing gekenmerk het, stadig maar seker plek gemaak vir die wetenskaplike paradigma. Waar mense voorheen die Bybel as riglyn tot die verstaan van die wêreld gebruik het, het hulle nou die wetenskap as riglyn aanvaar. Vir die meeste natuur en geesteswetenskaplikes, asook gewone mense wat hierdie paradigma aanvaar, is die wetenskap die enigste geldige manier waarop ons na ons wêreld kan kyk (dit word ook scientisme genoem). Vir baie beteken dit, in teenstelling met wat Kant voorgestel het, dat die wetenskap uiteindelik al die antwoorde sal hê. Daar is verskeie vooraanstaande wetenskaplikes wat glo dat die wetenskap uiteindelik alles sal kan verklaar. So sal geloof uiteindelik verdwyn.

Dit geld egter nie net die wetenskaplikes nie. Soos in die geesteswetenskappe, het baie teoloë ook in die gees van die dag in die wetenskaplike paradigma ingekoop. Ek praat natuurlik nie nou van behoudende teoloë of daardie fundamentele teoloë wat selfs met Kant ‘n probleem gehad het omdat hy deel van die Verligting was nie. Wat daardie teoloë betref, het hulle aanvaar dat die wetenskaplike metode ook as vertrekpunt tot die studie van die Bybel gebruik moet word. By die wetenskaplike metode is verstaan die gekontoleerde ondersoek na die wette wat ons wêreld – wat tot die materiële wêreld gereduseer is – onderlê. Hiervolgens moet die Bybel vanuit ‘n wetenskaplike bril gelees word.

Volgens hierdie benadering tot die Bybel kan dit wat in die realm van die bonatuurlike val nie meer aanvaar word nie. Dit beteken noodwendig dat alle verwysings na die bonatuurlike, na wonderwerke en na profesieë met ‘n knippie sout geneem moet word. Dit wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie, behoort tot die domain van bygeloof en oudtydse fabels. Vir die moderne teoloog is dit wat nie wetenskaplik verklaarbaar is nie ook nie moontlik nie. Die geloof moet inval by dit wat die wetenskap sê.

Afrikaanse teoloë het, in navolging van hul oorsese eweknieë, ook ‘n geruime tyd terug begin om die wetenskaplike metode by die studie van die Bybel te inkorporeer – dit selfs as vertrekpunt tot die studie van die Bybel begin gebruik. Mettertyd het die implikasies van die voorafveronderstellings wat daarmee gepaard gaan egter – soos ‘n mens kan dink – daartoe gelei dat selfs die basiswaarhede van die Bybel in gedrang gekom het. Voor die aanslag van die wetenskap het al meer geestelike dominos geval.

Alhoewel sommige teoloë wat oënskynlik meer behoudend ingestel is, probeer wal gooi en die streep by Jesus probeer trek, is hulle kans op sukses maar skraal. Want as jy die wetenskaplike metode as vertrekpunt neem, wat kan jy anders verwag – jy sal noodwendig by die gevolgtrekking uitkom dat die meeste van dit wat in die Evangelies opgeskryf is nie werklik kon gebeur nie, dat Jesus se profesieë oor die val van Jerusalem eers na die gebeure geskryf is en dat wondergebeure soos die maagdelike geboorte en opstanding nie moontlik is nie.

Teoloë in die sogenaamde Nuwe Hervorming wat hul vertroue in die kerk verloor het – nie net oor dié se betrokkenheid by die apartheidsbeleid nie, maar ook vanweë die selektiewe wyse waarop die kerk se teoloë volgens hulle die wetenskaplike metode op die Bybel toepas – het skielik met groot bravade in ware Bybelwetenskaplikes ontpop. Hulle is ten minste konsekwent – hulle neem die wetenskaplike metode tot sy logiese uiteindelike gevolgtrekking.

Die wetenskaplike paradigma is in ‘n krisis

n Mens wonder of Afrikaners en veral Afrikaner intellektia ook hierdie pad sal volg. Of hulle ook deur die “wetenskaplike” betower sal word. Of hulle ook die Christelike paradigma vir die wetenskaplike sal verruil. Gelukkig het die Afrikaner vandag ‘n verdere opsie. Daar is al meer stemme wat opgaan teen die wetenskaplike paradigma. Dit is nie dat die wetenskap verwerp word nie. Dit is gewoon dat al meer mense besef dat die wetenskap nie al die antwoorde het of ooit sal hê nie.

Wetenskaplikes kom agter dat ons wêreld baie meer kompleks is as wat die moderne mens – wat tussen die agtiende en die vroeg-twintigste eeu gelewe het – ooit sou kon dink. Alhoewel dit eens gelyk het of Newton se vergelykings dinge perfek verklaar, weet ons vandag dat dit nie so is nie. Einstein se vergelykings, wat voortbou op sy teorie dat massa ruimte buig, gee ‘n baie meer akkurate beskrywing wat inpas by ons waarnemings. Tog moes selfs Einstein sy kop in ongeloof skud as dit by kwantumfisika kom. Want Einstein se relatiwiteitsteorie en kwantumfisika gee uiteenlopende resultate.

In ‘n sekere sin sluit Einstein die moderne era af en begin die post-moderne bedeling by kwantumfisika. En met kwantumfisika verdwyn die self-versekerdheid van die moderne mens soos mis voor die son. Met kwantumfisika betree ons die post-moderne era waarin mense ten eerste ‘n afkeer in die hoogwaardige houding van modernisme het en ten tweede besef dat ons steeds onseker is oor baie dinge waaroor die moderne mens gedink het dat hy seker is.

Die inherente teenstrydigheid tussen relatiwiteitsteorie en kwantumfisika bring die onsekerheid van die post-moderne bedeling in fokus. Volgens Einstein kan niks vinniger as die spoed van lig beweeg nie; volgens kwantumfisika is die kosmos op een of ander onverstaanbare wyse onderling verbonde en kan “boodskappe” baie vinniger as die spoed van lig trek. Volgens Einstein is die wette van die kosmos deterministies – volgens kwantumfisika kan die uitkoms nie vooraf bepaal word nie. Volgens Einstein kan niks sonder ‘n oorsaak gebeur nie – elke deeltjie het sy bepaalde posisie waaruit dit deur ‘n ander deeltjie verplaas kan word. Maar volgens kwantumfisika word hierdie oorsaak-en-gevolg beginsel opgehef – ons kan dieselfde deeltjie (die sogenaamde kwantum superpositionering) gelyktydig op twee verskillende plekke aantref en ons kan twee verskillende deeltjies op dieselfde oomblik op dieselfde plek aantref (die sogenaamde Bose-Einstein kondensaat). Laasgenoemde val in die raamwerk van dinge wat (alhoewel op ‘n groter skaal) tradisioneel as “wonderwerke” beskryf sou word.

Hoe kan twee strydige teorieë albei die kosmos korrek beskryf? Ons teorieë skiet duidelik te skort. Wat meer is, ons het geen manier om vas te stel of ons teorieë enigsins die kosmos beskryf soos dit werklik is nie. Dit is modelle wat goed met ons waarnemings ooreenkom, maar ons weet nie of dit is hoe die kosmos werklik daar uitsien nie. Buig massa werklik die ruimte of is dit maar net ‘n sinvolle metafoor? Daar is geen manier om dit te bepaal nie! Dit geld ook enige teorie oor die ontstaan van die kosmos – soos dié van die Groot Knal. Dit is weereens ‘n goeie model wat met ons waarnemings ooreenkom – maar die wetenskap sal nooit kan sê hoe die kosmos werklik ontstaan het nie. Al wil wetenskaplikes graag glo dat hulle eendag al die antwoorde sal hê, is dit redelik duidelik dat hulle dit nooit sal hê nie.

n Nuutgevonde openheid in ‘n postmoderne era

In ‘n poging om ‘n finale teorie te ontwikkel wat alle bekende kragte integreer, begin wetenskaplikes hulle tot interessante uitheemse postulate wend. So stel wetenskaplikes voor dat daar sekere ruimtelike dimensies bestaan wat vir ons sintuie ontoeganklik is. Hierdie dimensies is blykbaar baie klein en ineengevou. Daar kan voorts ook ander tyd-dimensies as die bekende een bestaan. Dit beteken dat daar ‘n hele wêreld binne ons wêreld kan bestaan wat vir ons sintuiglik en instrumenteel ontoeganklik is!

Dit lyk of die wetenskap begin worstel met die moontlike bestaan van ‘n “noumenele” realm – soos Kant daardie aspek van die kosmos genoem het wat vir ons sintuie ontoeganklik is. Dit is juis waarom Kant so belangrik is vir ons bespreking – hy het meer as 200 jaar gelede reeds die bestaan van ‘n noumenele aspek van die kosmos gepostuleer wat baie ooreenkom met die hoër dimensionele struktuur van ons kosmos waarvan hedendaagse teoretiese fisici praat. Dit is hier in die noumenele realm waar Kant die ruimte vind waarbinne die menslike gees en engele kan bestaan.

Wetenskaplikes postuleer selfs die bestaan van onwaarneembare deeltjies! Hulle postuleer byvoorbeeld die bestaan van gravitone wat volgens vooruitskouings van tegnologiese ontwikkeling selfs in ‘n honderd jaar nie waargeneem sal kan word nie. Hierdie deeltjies, wat gravitasievelde onderlê, is so skelm dat ons hulle net nie kan waarneem nie. Maar dink nou daaroor: is dit nie verbasend dat gravitasie so ‘n basiese deel van ons lewe uitmaak, terwyl die deeltjies wat dit daarstel nie waargeneem kan word nie!

Hoeveel ander deeltjies is vir ons verborge? En wat van die moontlike bestaan van liggame wat suiwer uit sulke deeltjies saamgestel is? Hoe ‘n groot deel van die skepping sal ons nooit met ons sintuie kan waarneem nie? Wat buite die vermoë van die enige menslike laboratorium val! Wie kan nog die positiwistiese standpunt huldig dat dit wat nie waargeneem kan word nie ook nie bestaan nie. Dit is duidelik dat enige metafisiese beskouing wat die essensie van ons wêreld tot die wetenskaplik-verklaarbare beperk, ‘n totaal reduksionele beskouing is.

Wanneer ons aanvaar dat ons wêreld baie wyer strek as die vier dimensies van ruimte en tyd, dat dit baie dieper gaan as meganisties-deterministiese beskrywings van atome en selle, dat dit baie meer omvattend is as direk waarneembare dinge wat in ‘n eksperiment ondersoek kan word, dan kan ons, soos Kant voorstel, ruimte maak vir ‘n noumenele of geestelike realm – waarbinne die menslike gees, ander geeste asook die Goddelike Gees opereer. Dan kan ons glo dat daar ingrypende oomblike in die geskiedenis was toe God met sy hand die gordyn van die materiële wêreld effe oopgetrek en iets van Homself aan ons openbaar het.

Dan kan ons maar in God glo. En as ons in God glo – wie wil in ‘n God glo wat nie wonderwerke kan doen nie. Wie wil in ‘n God glo wat ver weg staan – wat nie persoonlik met ons kan praat nie? Wie wil in ‘n God glo wat nie God is nie! Daarom kan Christene maar glo in die maagdelike geboorte en die opstanding.

Wat staan ons te doen?

Aangesien daar steeds diegene is wat met groot bravade ander probeer oortuig dat elementêre deeltjies, atome, selle en organismes die somtotaal van die kosmos is, bestaan die gevaar dat die Afrikaner na hulle sal luister en uiteindelik hulle geloof op die altaar van die wetenskap sal prysgee. Wanneer hy die mes van wetenskaplike skeptisisme in die hand neem, kan hy so maklik die hart uit sy geloof wegsny. Maar dit is op hierdie punt dat ons moet besef dat ons nie ons geloof so blindelings in die wetenskap moet plaas nie. Alhoewel diegene wat dit doen vas glo dat hulle reg is – is dit ‘n vreemde geloof want dit is ‘n geloof sonder enige noemenswaardige hoop.

Wat staan ons te doen? Alhoewel die wetenskap sy plek het, is daar duidelik ook ruimte vir ware geloof. Die wetenskap en geloof behoort hande te vat. Wat egter die gebruik van die wetenskaplike metode vir Bybelanalise betref, dink ek die tyd het gekom om dit soos ‘n onvanpaste gereedskapstuk eenkant te sit – as ongeskik vir die kompleksiteit van Bybelse ontleding. Die inkorporering daarvan in die studie van die Bybel is ‘n oorblyfsel van modernisme. Die studie van die Bybel is nie en kan nooit werklik ‘n wetenskap wees nie.

As alternatief kan ons weereens by Kant gaan kers opsteek. Hy ontwikkel die konsep van “praktiese rede” – baie ooreenkomstig Aristoteles se “praktiese wysheid” (phronesis) wat eerder met gesonde oordeel as wetenskaplike kennis in verband staan. Die wyse mens (phronimos) besin oor die praktiese werklikheid van ons menslike bestaan deur die inagneming van ‘n verskeidenheid situasies, besluite en aksies (ek is nie hier soseer geintereseerd in die uiteindelike etiese oogmerk daarvan nie). As Kant van “praktiese rede” praat, dan aanvaar hy dat ons vanuit ons praktiese belewing van die lewe moet argumenteer. Dat ons die werklikheid – waaroor die wetenskap ons so baie leer – as vertrekpunt neem in ons denke. Maar terselftertyd aanvaar praktiese rede dat die kosmos baie wyer strek as bloot die sintuiglik-waarneembare.

Volgens Kant kan ons vanuit ons praktiese belewing van die lewe sekere afleidings oor die groter geheel maak – oor daardie aspekte van die kosmos wat nie vir ons sintuie toeganklik is nie. Ons kan vanuit die sintuiglik waarneembare (die fenomenele) oor die nie-direk-waarneembare (noumenele) argumenteer. Kant argumenteer byvoorbeeld dat die praktiese werklikheid van menslike verantwoordelik vir keuses (waarsonder daar geen regstelsel kan wees nie) aantoon dat mense nie net tot die fenomenele wêreld behoort nie, maar ook tot die noumenele. Dit is omdat ons tot hierdie noumenele aspek van die kosmos behoort – waar die wet van vryheid geld – dat ons vryelik keuses kan uitoefen ten spyte daarvan dat die wêreld rondom ons deterministies is. Al kan ‘n groot deel van ons gedrag maklik voorspel word, is daar altyd die moontlikheid vir ingrypende verandering en is ons uiteindelik verantwoordelikheid vir ons dade.

Baie teoloë gebruik in elk geval ‘n mate van “praktiese wysheid” – alhoewel miskien nie doelbewus as ‘n metode vir Bybelanalise nie. Praktiese wysheid kan gemaklik binne die hermeneutiese tradisie geakkomodeer word – daar is verskeie studies wat juis daarop fokus. Na my mening moet praktiese wysheid en rede doelgerig by die studie van die Bybel ingespan word. Daar is dan ook Bybelstudente wat praktiese rede gebruik om vanuit die gegewens in die Nuwe Testament ten gunste van byvoorbeeld die historisiteit van die opstanding te argumenteer. ‘n Mens kan selfs so ver gaan om te sê dat wetenskaplikes vandag van Kant se praktiese rede gebruikmaak as hulle kennis-uitsprake maak oor daardie dimensies wat vir ons sintuie ontoeganklik is.

Slotgedagtes

My hoop is dat Afrikaners, in die wydste sin van die woord, net soos Immanuel Kant destyds tydens die Europese Verligting, hul nuut gevonde vryheid met verantwoordelikheid sal uitleef. Dat hulle mooi sal nadink voordat hulle hul geloof in God vir ‘n geloof in die wetenskap verruil. Na my mening is beide nodig. Die wetenskap het sy plek – solank dit nie metafisiese aansprake maak omtrent die somtotaal van dit wat bestaan nie. ‘n Eerlike wetenskap erken dat die agtiende eeuse vertroue wat die verligtingsmens so arrogant en selfversekerd in die wetenskap gestel het, heeltemal misplaas was. Maar ter selftertyd moet die eerlike gelowige erken dat ons nie maar alles wat tradisioneel in die Christelike tradisie oorgelewer is, sonder kritiek kan aanvaar nie.

Gesonde vryheid is nie om radikaal als wat jou aan die verlede bind prys te gee nie. Dit is eerder om goeie oordeel aan die dag te lê – om daardie praktiese wysheid te hê wat jou in staat stel om te laat vaar wat teen alle rede in gaan, maar om dit wat waarde aan jou lewe gee te behou, al kan rede dit nie deurgrond nie. Kennis sal altyd gebrekkig wees. Maar geloof, al skiet dit ver te kort, laat die lamp van hoop helder brand. 

Die skrywer, Willie Mc Loud, is 'n wetenskapsfilosoof met 'n PhD in Fisika. Besoek sy blog by http://wmcloud.blogspot.com/.