Monday, 18 November 2013

Kan ons nog in die hemel glo?

In hierdie essay gee ek die redes waarom ek in die hemel glo. Daar is wetenskaplike, filosofiese, geskiedkundige en geestelike redes waarom ons in die hemel kan glo. In die lig hiervan kan blote skeptisisme maklik na 'n onredelike standpunt lyk.

Ek het vroeër vanjaar met Bertus Osbloed van Niekerk en 'n klompie van sy vriende (ek het darem ook 'n vriend saam gehad) van die Renaissance gemeentes, wat noue bande met die sg. “Nuwe Hervorming” beweging het, by 'n restaurant in Somerset-Wes gekuier. Ons het oor verskeie sake soos die betroubaarheid van die Bybelse teks, die duiwel asook oor die hemel gepraat. Wat die hemel betref, het ons eintlik nie baie ver gekom nie en ek hoop ons sal die gesprek nog iewers voortsit. In hierdie essay wil ek graag die kwessie van die hemel verder aanroer.

Alhoewel ons maar relatief kort gesels het, is dit is vir my duidelik dat Bertus en sy vriende agnosties is oor God se bestaan. Hulle dink nie dat die Bybelse vertelling omtrent God se openbaring in die geskiedenis gesag dra nie. En hulle glo nie in die hemel nie. Nou is dit sekerlik so dat dit baie onwaarskynlik is dat 'n mens in die hemel sal glo as jy nie in God glo nie. Ek glo in God en ek glo dat Jesus die Seun van God is – en ek glo in die hemel. Maar ek moet steeds aan myself die vraag vra: Waarom glo ek dat daar 'n hemel is? En waarom dink ek dat die Bybelse inligting oor die hemel gesag dra? Ek wil enkele dinge in hierdie verband aanspreek.

In hierdie essay benader ek die kwessie van die hemel vanuit verskeie hoeke. Ek gee 'n kort agtergrond oor die antieke voor-wetenskaplike beskouing van die hemel. Vir baie Bybelse geleerdes is dit moeilik om die antieke konsep van die hemel met die postmoderne denkwyses te versoen. Tog bou hul kritiek op die hemel grotendeels voort op die modernistiese beskouing oor die kosmos toe baie geleerdes daarvan oortuig was dat ons net dit wat wetenskaplik gegrond kan word, as geloofwaardig kan aanvaar. Dit is egter nie 'n siening wat vandag meer veel aansien geniet nie.

Regdeur die essay vra ek myself: Wat is die belangrikste rede waarom ek in die hemel glo? Is dit omdat ek genoegsame wetenskaplike getuienis het dat die hemel bestaan? Sekerlik nie. Die wetenskaplike getuienis is nie genoegsaam om enige uitspraak vir of teen die bestaan van die hemel te maak nie. As ons die vraag 'n bietjie aanpas, en vra: Hoe is die bestaan van die hemel moontlik? of : Hoe kan ons die bestaan van die hemel met die huidige wetenskaplike kennis van die kosmos versoen?, dan dink ek dat 'n sinvolle antwoord gegee kan word. In hierdie verband is dit opvallend dat slegs die wetenskaplike ontwikkelinge oor die afgelope eeu – en veral oor die laaste paar dekades – my toelaat om hierdie vrae sinvol te beantwoord. Die rede hiervoor is gewoon omdat die kosmos duidelik 'n baie meer komplekse plek is as wat die modernistiese mens ooit kon droom. 'n Groot deel van die skeptisisme oor die hemel is juis die gevolg van 'n baie simplistiese vertolking van ons beperkte wetenskaplike kennis.

Maar die feit dat die hemel gemaklik versoenbaar is met ons wetenskaplike kennis, is nie die belangrikste rede waarom ek in die hemel glo nie. Ek is van mening dat die uitsprake wat ons in die Nuwe Testament oor die hemel vind, geloofwaardig is en gesag dra. Ek kyk na Paulus se skrywe. Voorts glo ek dat Jesus se uitsprake hieromtrent geglo kan word. In hierdie verband noem ek enkele dinge omtrent die betroubaarheid van die Jesus-woorde in die Evangelie van Johannes. Uiteindelik kan ons natuurlik nie die bestaan van die hemel bewys nie; ons glo daaraan of nie. En ek dink dat ons goeie rede het om daarin te glo.

Die pre-wetenskaplike hemel

Die konsep van die hemel is baie oud. Ons vind verwysings na die hemel in die vroegste Sumeriese tekste. Ons vind dit ook regoor die antieke wêreld asook later in die Hebreeuse tradisie. Die antieke siening kan kortliks saamgevat word in 'n drie-verdieping beskouing van die kosmos, met die hemel bo, die aarde in die middel en die doderyk onder die aarde. Baie kontemporêre geleerdes is van mening dat daardie vroeë beskouing primitief is omdat dit uit 'n pre-wetenskaplike leefwêreld kom waarin mense 'n baie simplistiese beskouing oor die kosmos gehad het. Daardie mense sou dink dat die hemel “bo” die aarde is – en ons weet vandag dat daar nie van “bo” die aarde gepraat kan word nie.

In my boek Abraham en sy God (2011) bespreek ek die antieke beskouing in detail. Ek fokus op die vroegste denke hieromtrent en toon dat dit inderwaarheid 'n baie gesofistikeerde siening van die kosmos is wat op die beweging van die sterrehemel gebaseer is. Ongelukkig werk baie Bybelse geleerdes met 'n karikatuur van daardie siening wat hulle dan gemaklik afskiet. Ek gaan nie daardie antieke siening hier volledig bespreek nie ('n blits uiteensetting sal nie daaraan reg doen nie); wat ek wel kan noem is dat die antieke mens, sedert die tyd van die Sumeriërs en sekerlik lank voor hulle, geglo het die “hemel” wat ons in die noordelike sterrehemel kan onderskei, slegs 'n sigbare eweknie van die werklike hemel is wat in die geesteswêreld verborge is. Hulle het geglo dat daar 'n onsigbare “direksionele” wêreld (i.e. wat ons wêreld impakteer) agter die sigbare wêreld verborge lê – 'n wêreld waarin die geeste, gode en God self bestaan. So, die hemel moet dus in die onsigbare geestesrealm gevind word – en soos ek hieronder sal aantoon is daar geen rede waarom ons nie hierdie siening ernstig kan opneem nie.

Die rede waarom sommige Bybelse geleerdes soveel klem op die pre-wetenskaplike aard van die Bybelse teks asook konsepte soos die hemel lê, is omdat hulle van mening is dat die moderne en postmoderne mens doodgewoon nie meer daardie narratief as geloofwaardig kan beskou nie. Waarom dink hulle so? Hulle is van mening dat die wetenskaplike era onherroeplik met die pre-wetenskaplike wêreldbeskouing weggedoen het. Ons kan dus nie meer veel waarde heg aan sieninge wat uit daardie primitiewe tyd kom nie. Hierdie siening word onderlê deur die standpunt dat die wetenskap ons enigste betroubare maatstaf omtrent die werklikheid is.

Alhoewel niemand dit sal betwyfel dat ons wetenskaplike wêreldbeskouing die antieke siening verplaas het nie, is daar geen rede om te dink dat die wetenskap ons enigste maatstaf omtrent die werklikheid is nie. Wetenskaplikes dink deesdae dat bekende materie slegs sowat 7% van die kosmos uitmaak. Daar is 'n erkenning dat ons steeds baie min omtrent die kosmos weet en wetenskaplikes wat dink dat ons binnekort als wat ons kan weet gaan deurgrond, word nie meer in filosofiese kringe ernstig opgeneem nie. Ons besef vandag dat die kosmos baie meer kompleks is as wat die modernistiese mens – wat so vol bravade gedink het dat daar geen beperkinge op die menslike vermoëns is nie – ooit sou kon dink.

Die filosoof Immanuel Kant het lang gelede reeds geargumenteer dat ons empiriese benadering tot die kosmos slegs tot die fenomenele wêreld beperk is. Dit is die wêreld wat ons rondom ons of deur wetenskaplike ondersoek kan waarneem. Volgens hom is daar 'n aspek van die kosmos waartoe ons geen direkte toegang het nie – dit is die noumenele wêreld (afgelei van “nous” wat “mind” beteken) wat buite ons konsepte van ruimte en tyd lê. Ons kan daardie aspek van die wêreld bedink, maar nooit direk empiries waarneem nie. As die kosmos inderdaad is soos hy sê (en hy voer goeie argumente vir sy siening aan), dan is daar sekere beperkinge op menslike rede.  Sy bekendste werk, Critique of Pure Reason, stel dit juis ten doel om te toon dat ons rede onherroeplik beperk is tot die fenomenele wêreld. Ons kan nooit enige finale gevolgtrekkings maak oor die werklikheid soos dit waarlik daar uitsien nie.

Kant onderskei drie benaderings ten opsigte van die gebruik van ons rede. Daar is die dogmatiese beskouing waarvolgens sekere sieninge (soos die bestaan van die hemel) dogmaties en sonder bewys onderskryf word. Verder is daar is die kritieke beskouing waarvolgens sulke sieninge op 'n radikale wyse gekritiseer kan word – hy verwys hier veral na David Hume en sy volgelinge (B789). Laastens is daar sy eie kritieke benadering wat beide die dogmatiese en skeptiese sieninge kritiseer. Sy sieninge kritiseer die gebruik van rede buite die grense wat rede self daarvoor stel.

Ons kan die dogmatikus kritiseer, maar ons kan ook die skeptikus kritiseer omdat hy nie in ag neem dat ons menslike beperkinge ons onherroeplik terughou van enige finale kennis oor die kosmos nie. Ons kan gewoon nie sekere antwoorde vanuit die raamwerk van suiwer spekulatiewe rede gee nie. Die wetenskap sal gewoon nooit enige finale antwoorde vir of teen die bestaan van die hemel kan gee nie. Ons kan wel die wetenskaplike uitsprake oor die kosmos met 'n ander, geestelike beskouing komplimenteer – dit is nou as ons dink dat ons rede het om dit te doen. Ek glo dat ons wel so 'n rede het.

Die hemel en die wetenskap

Ons sou kan sê dat ons beperkte wetenskaplike kennis ruimte maak vir geloof. Maar dit is nie genoegsaam om maar net te sê dat omdat die wetenskap nie als weet nie, daarom kan ons daardie kennis-gaping met enige vorm van geloof vul nie. Ons moet darem seker redes gee waarom ons dink dat ons die wetenskap met geloof kan komplimenteer. In hierdie verband is daar verskeie redes, waarvan die eerste is dat ons huidige wetenskaplike kennis gemaklik versoenbaar is met die antieke konsep van die hemel. In stede om te vra: Is daar genoegsame wetenskaplike getuienis vir die bestaan van die hemel?, kan ons vra: Hoe kan ons die bestaan van die hemel met die huidige wetenskaplike kennis van die kosmos versoen? Ek dink dat 'n mens 'n sinvolle antwoord hierop kan gee.

Een van die belangrikste ontwikkelings in die wetenskap die afgelope eeu was die ontdekking van kwantum fisika. Wetenskaplikes het ontdek dat daar 'n aspek van ons kosmos is wat baie anders lyk as die fenomenele wêreld waaraan ons gewoond is. Die kwantum wêreld het ander reëls – Newton se bekende wet van oorsaak-gevolg word opgehef, die elementêre kwantum deeltjies (wat nie “deeltjies” in die klassieke sin is nie) is op 'n manier onderling met mekaar verbind al is hulle hoe ver van mekaar verwyder, daar is spontane oorsaaklikheid wat ons fenomenele wêreld impakteer ens. Dit is 'n wêreld wat nie empiries vir ons toeganklik is nie – en kom presies met Kant se noumenele wêreld ooreen. Ek het in 'n essay wat ek by die jaarlikse PSSA (Philosophy Association of SA) gelees het, geargumenteer dat ons die kwantum realm as die demonstrasie van Kant se noumenele realm kan neem [1]. Dit sal beteken dat die siel, wat Kant in die noumenele realm plaas, in effek in die kwantum realm kan bestaan (sien veral nota 7 in [1]).

Ons weet nog relatief min van die kwantum wêreld. Dit blyk dat daardie wêreld uit 'n verweefdheid van kwantum velde bestaan wat buite ons ruimte-tyd dimensies lê. Slegs die gebeure wat vanuit daardie velde spontaan in ons fenomenele wêreld manifesteer, val binne ons ruimte-tyd dimensies. Dit is moontlik dat die kwantum wêreld in ander ruimte-tyd dimensies bestaan. Wetenskaplikes wat worstel om 'n verenigde teorie oor die kosmos daar te stel, wat poog om die vier fundamentale kragte (elektromagnetiese krag, sterk en swak kernkrag asook swaartekrag) in een teorie byeen te bring, het al voorgestel dat ons dit net kan doen as ons sekere klein ingevoude ruimtelike dimensies veronderstel wat binne die struktuur van ons kosmos ingebed is [2]. Ons ruimtelike dimensies is dan met sulke dimensies gevul waarin daar in beginsel ander deeltjies en selfs strukture (soos die menslike siel/gees) teenwoordig kan wees wat nie vir ons sintuie toeganklik is nie. Dit sal beteken dat daar 'n hele wêreld binne ons fenomenele wêreld bestaan wat glad nie direk empiries toeganklik is nie – 'n wêreld waarvan ons nog bitter min weet.

Die doel van hierdie bespreking is nie om te toon dat die kwantum wêreld met die geesteswêreld ooreenkom nie. Al wat ek hier doen is om te toon dat daar inderdaad so 'n “geesteswêreld” binne die raamwerk van die fenomenele wêreld kan bestaan – presies soos die antieke mens gedink het [3]. Alhoewel die wetenskap nie op hierdie stadium die antieke konsep van die geesteswêreld of die hemel kan onderskryf nie, kan so 'n konsep gemaklik met die wetenskaplike verstaan van ons wêreld versoen word. Daar is geen rede om te dink dat die wetenskap die konsep van die hemel ondermyn nie. Om die waarheid te sê, Kant vereenselwig uiteindelik ook die noumenele wêreld met die toekomstige wêreld waarop ons as Christene hoop (B835-839).

Die Bybelse hemel

Die feit dat die wetenskap gemaklik met die konsep van die hemel as 'n plek in 'n ander dimensie versoen kan word, is egter nie die belangrikste rede waarom ek in die hemel glo nie. Dit ondersteun wel my geloof in die bestaan van so 'n plek. My geloof in die hemel is op die Bybelse getuienis in hierdie verband gebaseer. Ek is van mening dat die Bybelse uitsprake oor die hemel geloofwaardig is. Ons kan dit maar glo.

Een van die belangrikste plekke in die Bybel waar die hemel as uiteindelike bestemming van gelowiges ter sprake kom, is in Paulus se skrywe aan die gemeente in Korinthe. Daar argumenteer hy dat ons in die hemel as onverganklike bestemming van die opgestane gelowiges kan glo omdat Christus uit die dood opgestaan het. Paulus begin sy rede met 'n geloofsbelydenis wat duidelik met die skrywe van die brief in 54 n.C. reeds lank in die vroeë kerk in gebruik was: “[I]n die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Cefas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy ook verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels; en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene” (1 Kor 15:3-8).

Paulus argumenteer dat daar goeie getuienis vir die opstanding is. Die opstanding is sedert die vroegste tyd in die kerk se geloofsbelydenis opgeneem. Christus het na sy dood in 'n verheerlikte liggaam aan verskeie persone asook aan groepe persone verskyn – waarvan die meeste nog met Paulus se skrywe gelewe het. Hy noem dat Christus se opstanding die rede is waarom diegene wat in Hom glo, ook kan weet dat hulle eendag met die opstanding van die dode sal opstaan. As ons in Christus se opstanding glo – en Paulus dink dat ons goeie rede het om dit wel te glo – dan het ons alle rede om in die opstanding en die hemel as ewige salige bestemming te glo. Ek stem met Paulus saam dat daar goeie getuienis vir die opstanding is – en dat gelowiges dus rede het om in die hemel te glo.

Ons vind verder ook regdeur die evangelies dat Jesus na die hemel of "koninkryk van die hemele" verwys waar die regverdiges uiteindelik saam met God, Jesus self en die engele sal wees (vgl. Mark. 12:25-27; 13:26-27, 32; Mat. 13:43 ens.) [4]. Een van die mooiste uitsprake in hierdie verband kom in die Evangelie van Johannes voor. Daar lees ons hoedat Jesus se: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 16:1-3). Alhoewel daar sommige uit Bybelse Kritisisme kringe is wat hierdie uitsprake as laat en onbetroubaar probeer afmaak, het ek al vroeër in 'n artikel op hierdie blog getoon dat daardie aanslag onherroeplik deur die modernistiese wortels daarvan gekompromitteer is [5]. Die kritiek teen die betroubaarheid van die Nuwe Testamentiese getuienis is uiters eensydig en uiteindelik onwetenskaplik.

Ek kan wel iets oor die Evangelie van Johannes sê waarin hierdie uitspraak van Jesus voorkom. Alhoewel daar 'n siening is dat die evangelie baie laat geskryf is en dus nie Jesus se woorde korrek kan weergee nie, is daar rede om te dink dat presies die teendeel waar is. Volgens die interne getuienis is hierdie evangelie deur die geliefde dissipel geskryf wat aanvanklik deel van Johannes die Doper se volgelinge was (Joh. 1:35-43). Johannes het naby Qumran gedoop en het moontlik tot die Qumran groep behoort. Hulle was toegewyde Jode wie se sieninge grotendeels tot die hoofstroom Joodse denke behoort het behalwe vir die besondere klem op die Messiaanse verwagting, afsondering asook die verwerping van die destydse tempeldiens.

Ons vind dan ook in hierdie evangelie 'n sterk verbintenis met Johannes die Doper en die Qumran groep. Daar is twee getuienisse van Johannes die Doper, 'n beklemtoning van motiewe wat tipies was van die Qumran groep (bv. die klem op die konflik tussen lig en duisternis, tussen die seuns van die lig en van die duisternis – Joh. 1:5-10; 3:19-21; 8:12), 'n assosiasie met persone wat Qumran gebruike volg, soos die man wat die kruik na die bo-vertrek gedra het (slegs in gemeenskappe waar min vroue was, soos die van Qumran, waar mans hulleself afgesonder het, is kruike deur mans gedra). Dit toon dat die evangelie waarskynlik deur iemand geskryf is wat sulke bande met die Qumran groep gehad het. En dit impliseer dat die mees waarskynlike skrywer van hierdie evangelie wel Johannes die apostel was soos tradisioneel veronderstel word – die een wat eers 'n volgeling van Johannes die Doper was en later as die geliefde apostel bekend was.

Ons vind dus dat beide die opstanding sowel as Jesus se eie woorde aan ons rede gee om in die hemel te glo. Alhoewel ek nie hier 'n lang argument in hierdie verband kan voer nie, glo ek dat ons goeie rede het om dit as betroubare getuienis vir die hemel te beskou. As Jesus self sê dat gelowiges met verwagting op die hemel kan uitsien, dan kan ons dit maar doen! Jesus se opstanding bevestig dat ons sy woorde in hierdie verband ernstig kan opneem. En alhoewel ons natuurlik nie hierdie dinge kan bewys nie, het ons goeie rede om dit te glo.

Ek moet eerlik erken dat al hierdie getuienis nie die hoofrede is waarom ek in die hemel glo nie – alhoewel dit natuurlik als bydra tot my geloof in die hemel. Die belangrikste rede waarom ek in die hemel glo het eerder met my eie geloof en diepe belewing van God te doen. Ek ervaar God in my lewe – noem dit 'n diep geestelike intuïsie [3] – en omdat ek God so beleef glo ek ook in die hemel. Ek het 'n innerlike sekerheid dat God in my leef – en dat ek ook eendag die hemel met Hom sal deel. Hierdie belewing is gegrond in die Bybelse teks waarna ek reeds hierbo verwys het.

Slot

Op die vraag: Is die hemel 'n werklike plek? kan ek met oortuiging Ja antwoord. Alhoewel die hemel natuurlik nie 'n plek in die fenomenele wêreld is nie, is dit 'n plek wat in 'n geestelike, maar tog werklike, dimensie bestaan. Alhoewel die hemel 'n baie ou konsep is wat sedert die vroegste tye in tekste genoem word, doen die voor-wetenskaplike beskouing van die hemel geen afbreek aan my geloof in die hemel nie. Soos die antieke mens geglo het, is die hemel in die onsigbare wêreld agter die sigbare verborge. Dit bestaan in 'n ander realm, in 'n geestelike realm.

Daar was 'n tyd toe die modernistiese mens op simplistiese wyse gedink het dat ons net dinge kan glo wat ons kan bewys. Die probleem is egter dat, soos Immanuel Kant getoon het, dit onmoontlik is om te bewys dat die hemel bestaan of nie bestaan nie. Die modernistiese skeptisisme is in sigself simplisties omdat dit slegs die fisies-waarneembare onderskryf. Ons weet vandag dat die kosmos baie wyer strek: die kwantum realm bestaan al het ons geen direkte empiriese toegang daartoe nie. Wat opvallend is, is dat als wat ons van die kwantum realm weet presies ooreenkom met dit wat Kant oor die noumenele realm geargumenteer het. As ons die kontemporêre teoretiese fisici ernstig opneem, dan is dit goed moontlik dat daardie realm uiteindelik in ander ruimte-tyd dimensies bestaan. Dit is baie moontlik dat daardie realm niks anders is nie as die geesteswêreld waarin die antieke mens geglo het en waarin hulle ook die hemel geplaas het.

Ek glo in die hemel omdat Jesus gesê het dat so 'n plek bestaan. Sy opstanding bevestig dat dit wat Hy gesê het die waarheid is. Alhoewel ek nie daardie dinge kan bewys nie, is ek oortuig dat ek goeie rede het om dit te glo. Voorts glo ek nie alleen in die hemel omdat die Bybel daarvan praat nie, maar veral ook omdat ek in God glo en Hom daagliks in my lewe ervaar. Ek aanvaar dat sommige nie my geloof deel nie, maar diesulkes het beslis nie meer bewyse aan hul kant nie. Blote skeptisisme wat op onmoontlike feite aandring wat nie vir ons as mense beskore is nie, is duidelik om daardie rede onredelik. Ek glo daarenteen dat Christene goeie rede het om in die hemel te glo.

[1] Ek skryf tans 'n artikel waarin ek toon dat ons die kwantum realm as die demonstrasie van die noumenele realm kan neem.
[2] Sien: Kant's noumenal realm reconsidered in the light of contemporary developments in physics
[3] Sien: Is the spirit world more than an idea?  Die essay fokus op die filosofiese tradisie en die geestesrealm.
[4] Hierdie essay leen dit nie tot 'n in-diepte bespreking van die begrip "koninkryk van God" in die evangelies nie.

Skrywer: Dr Willie Mc Loud (ref. www.wmcloud.blogspot.com)