Monday, 7 November 2011

Wetenskap en geloof

Is daar in die wetenskaplike era waarin ons leef nog plek vir geloof?  Of is die wetenskap stadig maar seker besig om geloof uit die samelewing te verdryf?  Is dit enigsins moontlik om wetenskap en geloof met mekaar te versoen?  Of weerspreek die wetenskaplike siening van die wêreld die gelowige beskouing - en meer spesifiek die Christelike beskouing - van die kosmos?  Kan hierdie twee aspekte van ons menswees met mekaar versoen word?  Dit is vrae wat versigtig oordink moet word omdat dit hier oor die somtotaal van ons bestaan gaan.  

Sedert die aanvang van die wetenskaplike era in die sewentiende eeu, worstel die mens met die vraag: Wat behoort die verhouding tussen die wetenskap en geloof te wees.  Is daar plek vir beide in ons leefwêreld? Is die mens beter af met die een of die ander?  Of is beide nodig om 'n vol lewe te lei?  Daar is natuurlik 'n wye spektrum van uiteenlopende sieninge oor hierdie saak.  Aan die een kant is daar wetenskaplikes soos Richard Dawkins wat geloof as 'n euwel in die samelewing sien.  Aan die ander kant is daar Christene wat die wetenskap met groot wantroue bejeën.  Daar is egter ook baie mense wat hulle tussen hierdie teenpole bevind en die wetenskap en geloof op 'n manier byeen bring.


Wanneer die verhouding tussen die wetenskap en geloof onder die soeklig kom, moet ons ten eerste vra: Waarom word hierdie twee aspekte van ons lewe teenoor mekaar gestel?  Wat is die rede dat dit enigsins in opposisie tot mekaar gestel word?  Om hierdie vraag te kan beantwoord kan ons na die sieninge van daardie wetenskaplikes en Christene kyk wat hulle aan die teenpole van die gesprek bevind.  Miskien is die brug tussen die twee nie so groot as wat enige van hierdie groepe dink nie.  Ons gaan ook kyk hoe die wetenskap en geloof byeen gebring word.  Nie al die pogings tot "versoening" is uiteindelik suksesvol nie.

'n Plek vir geloof ?

Die wetenskap soos ons dit vandag ken, het sy ontstaan in die rasionalisme van sewentiende eeuse Europa gehad.  Sedert René Descartes (1596-1650) se "ek dink, daarom is ek", het die westerse mens groot klem op die rasionele aspek van ons menswees geplaas.  Die wetenskap het uit hierdie rasionele benadering tot die wêreld ontstaan.  Dit was gou duidelik dat die die wetenskap die mensdom se kennis oor die kosmos dramaties sou verbreed.  So het Galileo Galilei (1564-1642) se waarnemings getoon dat Nicolaus Copernicus (1473–1543) se "heliosentriese" model van die sonnestelsel korrek is.  Daarmee is die ou wêreld finaal agter gelaat. 

Hierdie gebeure word soms as die eerste groot oorwinning van wetenskap oor geloof voorgehou.  Hiervolgens is die geosentriese model deel van die Christelike perspektief - en het die wetenskap daardie onkunde kom regstel.  Alhoewel dit so is dat die Bybel vanuit 'n geosentriese raamwerk (i.e.van die perspektief van 'n aardse waarnemer) geskryf is en die destydse Katolieke Kerk dit as die enigste korrekte siening beskou het, het die geosentriese model eerder met die kennis van die tyd (wat na Aristoteles as leermeester opgesien het) as met geloof in God te doen.  Geloof gaan duidelik baie dieper as die bepaalde siening wat 'n gelowige omtrent die materiële kosmos huldig.


Die verklarende krag van die wetenskap het dramaties duidelik geword toe Isaac Newton (1642-1727) sy drie bewegingswette (en sy gepaardgaande konsep van universele gravitasie) geformuleer het.  Hierdie wette het die planetêre bewegings eenvoudig, elegant en akkuraat beskryf.  Vir baie het dit gelyk of die wetenskap uiteindelik alles sal kan verklaar.  Dit het aan die moderne mens van daardie tyd 'n geweldige vertroue in die rasionele vermoëns van die mens gegee.  Sou daar iets vir die mens onmoontlik wees?  Die uitsonderlike krag van die rasionele brein was weer sigbaar toe Albert Einstein (1879-1955) sy relatiwiteitsteorieë vroeg in die twintigste eeu geformuleer het.  Sy model kon die kosmos oënskynlik tot 'n baie hoe vlak van akkuraatheid beskryf.

Wat ons in modernisme - en die daaruit voortspruitende ateïsme - mee te doen het, is 'n bepaalde interpretasie van die wetenskap.  Hierdie interpretasie gaan baie verder as die basiese verstaan van die wetenskap as die sistematiese ondersoek na die wette van die natuur.  Dit neem die wetenskap as vertrekpunt om 'n metafisiese beskouing van die kosmos te formuleer - naamlik dat alles uiteindelik wetenskaplik verklaarbaar sal wees.  Daar is dus geen ruimte vir geloof in God in hierdie beskouing nie.  Vir hierdie wetenskaplikes is Occam se skeermes (Occam's razor) die maatstaf wat ons moet gebruik - dat eenvoudige verklarings beter is as komplekses.  Hulle is dus van mening dat ons die eenvoudigste moontlike hipotese moet gebruik om die bestaan en totaliteit van die kosmos te verklaar.

Met die koms van kwantummeganika, kwantum velde teorie en string teorie het die prentjie egter dramaties verander.  Dit was skielik duidelik dat die kosmos baie meer kompleks is as wat wetenskaplikes ooit sou kon droom.  In string teorie word 'n hoër dimensionele struktuur vir ons kosmos gepostuleer wat vir ons sintuie en wetenskaplike instrumente ontoeganklik is.  Dit beteken dat daar ander wêrelde binne ons kosmos kan bestaan wat vir ons ontoeganklik is.  Christene sou hierop kon antwoord dat dit al meer begin lyk na die tipe kosmos wat hulle nog altyd voorgestaan het, naamlik een waarbinne geestesrealms bestaan wat vir ons gewone sintuie ontoeganklik is (sien my artikel op hierdie blog oor Kant se noumenele realm).  Die nuutgevonde erkenning van die kompleksiteit van ons kosmos skep dus opnuut die ruimte waarbinne geloof kan bestaan.  

Alhoewel daar nog baie wetenskaplikes is wat in die modernistiese raamwerk opereer, kan daar geen twyfel bestaan dat die algemene publieke siening omtrent die groter werklikheid van ons bestaan aanbeweeg het nie. Dit is duidelik dat Occam se skeermes nie op ons metafisiese siening van die kosmos toegepas kan word nie - dit lei tot reduksionele beskouings van die kosmos.    



Wantroue in die wetenskap

Daar is baie Christene wat op hul beurt weer in die wetenskap twyfel.  Hulle is van mening dat baie van die wetenskaplike uitsprake nie waar kan wees nie omdat dit teen die Bybel as God se geopenbaarde woord ingaan.  Volgens hulle behoort die wetenskap ondergeskik aan die Bybel gestel te word.  Christene behoort die wetenskaplike bevindinge net te aanvaar in soverre dat inpas by dit wat die Bybel sê. Sommige is selfs van mening dat wetenskaplikes doelbewus daarop uit is om die Bybel verkeerd te bewys.

Dit is nie moeilik om te verstaan waarom Christene skepties oor die wetenskap staan nie.  Baie wetenskaplikes is ateïste.  'n Mens kan dus verwag dat hulle sieninge oor die kosmos deur hul eie oortuigings beïnvloed sal word.  Dit is presies wat die invloedryke wetenskapsfilosoof Thomas Kuhn (1922-1996) gesê het.  Volgens hom is alle wetenskaplikes in 'n sekere wetenskaplike paradigma vasgevang.  Hul sieninge word grotendeels deur die leerskool waardeur hulle gegaan het bepaal.  Tydens hul opleiding word sekere veronderstellings, konsepte en idees - die hele raamwerk van denke - wat deur daardie akademiese gemeenskap aanvaar word, by hulle vasgelê.  Aangesien die meeste wetenskaplikes binne 'n modernistiese paradigma opereer, kan ons aanvaar dat dit 'n impak op hul aanvaarding of verwerping van teorieë sal hê.

Ten spyte van hierdie problematiek, streef die meeste wetenskaplikes daarna om die wette van die natuur so akkuraat moontlik te beskryf en so goed moontlik te verstaan.  Neem byvoorbeeld die lang debat oor die ontstaan van die kosmos wat gedurende die middel van die vorige eeu in wetenskaplike kringe gewoed het. Daar was twee sieninge oor die kosmos wat beide groot steun geniet het, naamlik dat die kosmos staties is en dat dit met die Groot Knal (Big Bang) begin het.  Vir baie wetenskaplikes het die Groot Knal model te veel ooreenkoms met die Christelike skeppingsverhaal getoon.  Dit was juis 'n Christen (Katolieke) wetenskaplike (Georges Lemaître) wat hierdie model die eerste maal geformuleer het.  Tog het verskillende tipe waarnemings omtrent die agtergrondradiasie uiteindelik die skaal ten gunste van die Groot Knal teorie laat swaai..

Vir baie Christene is die Groot Knal model nie net gemaklik versoenbaar met die Bybel nie; hulle (veral Christen filosowe) is van mening dat dit 'n sterk saak vir die bestaan van God maak.  Tog stem alle Christene nie daarmee saam nie.  Daar is sommige wat van mening is dat ons die skeppingsverhaal in Genesis1 net op een manier kan verstaan, naamlik dat God die kosmos sesduisend jaar gelede in sewe letterlike sondae geskep het.  Hulle dink dat daar net een korrekte manier is om die Bybelse teks te verstaan en voel dat alle ander verklarings die waarheid van die Bybel in gedrang bring.  Wat hulle nie besef nie, is dat hulle ook in 'n sekere paradigma vasgevang is waarvolgens net een bepaalde siening korrek is.  In werklikheid is die teks oop is vir 'n verskeidenheid interpretasies (dink aan die "gaping" siening, die dag-as-tydperk siening ens.).  Soos met die heliosentries-geosentriese debat is dit duidelik beter om daardie interpretasies van die teks te aanvaar wat inpas by die wetenskaplike verstaan van die kosmos.  Uiteindelik sal God se openbaring in die Skrif tog nie van sy openbaring in die natuur verskil nie (Ps. 19).

'n Voller lewensbestaan


Wanneer wetenskaplikes toegee dat die wetenskap nie enige metafisiese beskouinge oor die somtotaal van ons bestaan ondersteun nie en Christene toegee dat die Bybel 'n verskeidenheid sieninge oor die fisiese bestaan van dinge kan ondersteun, kan die wetenskap en geloof hande vat.  Dit beteken dat beide die wetenskap en geloof 'n plek in ons lewe kan hê.  Die Christen hoef nie die wetenskap as 'n bedreiging vir sy/haar geloof te sien nie.  Ons kan eerder sê dat die wetenskap ons help om die fisiese wêreld beter te verstaan terwyl die geloof ons help om sin van die groter werklikheid van ons bestaan te maak.  Ons kan mense wees wat beide dink en glo.

Dit beteken nie dat wetenskap en geloof heeltemal apart gehou moet word asof dit op twee wedersyds uitsluitende sfere van ons lewe betrekking het nie.  Die twee is tog op 'n manier tot mekaar verbonde.  Ons leef uiteindelik in een wêreld waarbinne beide die fisiese en geestelike (vanuit 'n geloofsperspektief) realms onherroeplik tot mekaar verbonde is.  Ek het vroeër genoem dat die nuutste voorstelle omtrent die bestaan van 'n hoër dimensionele struktuur van die kosmos met die Christelike geloof in 'n geesteswêreld in verband kan staan.  Uiteindelik is ons as mense deel van beide aspekte van die wêreld en dit maak nie sin om dit te skei nie.

Hierdie benadering los nie al die probleme rondom wetenskap en geloof op nie.  Die wetenskap gee uiteindelik nie finale antwoorde nie net soos wat die geloof ook nie nou al oorgaan in aanskoue nie.  Soms word 'n model wyd in die wetenskaplike gemeenskap aanvaar ten spyte van belangrike tekortkominge - veral as daar geen alternatiewe model bestaan nie.  Wanneer sulke modelle ter self ter tyd teen die grein van die Bybelse boodskap ingaan, is dit te verstane dat die meeste Christene versigtig is om dit te aanvaar.

Dink maar aan die teorie van evolusie.  Teenoor die presiese voorspellings wat ons in wetenskaplike modelle soos relatiwiteitsteorie en kwantumfisika vind, het die evolusiemodel van Darwin eintlik niks korrek voorspel nie.  Dit is ook al dramaties aangepas om die getuienis te akkomodeer (die kritikus kan dit as ad hoc hipoteses sien wat bygevoeg word om die model te red).  Dit het ook nie vergelykbare verklarende krag om byvoorbeeld die bestaan van lewe te verduidelik nie.  Geen wonder dat 'n wetenskapsfilosoof soos Karl Popper (1902-1994) van mening was dat die teorie van natuurlike seleksie nie 'n toetsbare wetenskaplike teorie is nie maar 'n metafisiese navorsingsprogram.  Vir hom was die veronderstelling dat die sterkste oorleef eintlik 'n tautologie (jy vind wat jy vooraf veronderstel).

Vanuit 'n Christelike perspektief lyk dit of die willekeurige wyse waarop evolusie ontvou die bestaan van God oorbodig maak   Ons vind selfs dat evolusioniste soos Dawkins in effek Tyd in die plek van God stel omdat Tyd volgens hom bykans alles denkbaar kan doen. Dit is dus te verstane dat Christene hulle oor die algemeen nie met evolusie kan versoen nie.  In hierdie geval is dit waarskynlik wys om maar rustig te wag en te kyk of daar nie 'n beter wetenskaplike model verskyn nie.

Ten spyte van sulke gevalle waar wetenskaplike modelle en die Bybel moeilik versoen kan word, is daar baie meer gevalle waar dit nie net moontlik is nie, maar ook noodsaaklik.  Dit laat die Christen toe om beide die wetenskap en geloof as belangrike aspekte in sy/haar menswees te aanvaar.  Op hierdie manier kan mense 'n voller lewe lei omdat hulle die nie alleen die koue feite van die wetenskap akkomodeer nie, maar ook die warm hoop beleef wat net geloof kan bied.


Willie Mc Loud is 'n wetenskaplike met 'n PhD in fisika en 'n Christen

1 comment:

  1. Uitstekende stuk. Sien ook uit na soortgelyke essay in POMP 12 wat later hierdie maand verskyn.
    Evert

    ReplyDelete