Monday, 4 June 2012

Is Bybelse wetenskap 'n pseudo-wetenskap?

In 'n brief in die Maart uitgawe van die tydskrif Markplein het ek genoem dat Bybelse "wetenskaplikes" hulle na my mening met 'n pseudo-wetenskap besig hou. Daar was heelwat reaksie op die brief en die hoofartikel in die Mei uitgawe het spesifiek op wetenskap vs pseudo-wetenskap gefokus. Na aanleiding van daardie artikel het ek my probleem met die Bybelse "wetenskaplikes" verder uitgelig in 'n brief wat pas in die Junie uitgawe verskyn het. Ek plaas die brief hier.


Dit lyk of my verwysing na "pseudo-wetenskaplike" metodiek asook na "sogenaamde Bybelse 'wetenskaplikes' wat hulle na my mening met 'n pseudo-wetenskap besig hou", in Markplein (Maart 2012), behoorlik die tonge aan die gons het. Soveel so dat Diek dit goedgedink het om met die hoofartikel in die Mei uitgawe daarop te reageer. Ek wil graag op my opmerkings uitbrei en sommer op my beurt op sy artikel reageer.


1.    Soos Diek tereg noem, moet ons eerstens oor die uitdrukking "wetenskap" besin. Hoe moet ons die term "Bybelse wetenskaplikes" verstaan wat deesdae gereeld in die media vir mense soos Sakkie Spangenberg gebruik word? Daar kan na my mening geen twyfel bestaan dat hierdie geleerdes (hoofsaaklik in navolging van die Duitse positivistiese tradisie) 'n modernistiese aanslag tot die ontleding van die Bybelse teks volg waarvolgens daar gepoog word om hierdie vakdissipline op 'n empiries-wetenskaplike basis te plaas nie. Dit is waarom hulle byvoorbeeld nie wonderwerke - wat 'n groter werklikheid as die wetenskaplik-toeganklike aspek van die kosmos veronderstel - in hul perspektief kan akkommodeer nie. Daarom glo daardie geleerdes nie in die maagdelike geboorte of die opstanding nie. Ek wil hierdie vertrekpunt ten sterkste kritiseer - ek dink nie ons moet enigsins so met die Bybelse teks omgaan nie. As ons "wetenskap" eerder as "sistematiese studieveld" (Diek se "kennis-paradigma") definieer, kan ons altyd 'n groter werklikheid veronderstel en op 'n sistematiese wyse van byvoorbeeld Kant se "praktiese rede" in ons hermeneutiese studie van die teks gebruik maak. Op hierdie wyse kan ons vir wonderwerke ruimte maak (sien in hierdie verband my artikel in Pomp.
 
2.    Indien die empiriese wetenskap (implisiet of eksplisiet) as vertrekpunt tot die studie van die Bybelse teks geneem word, dan moet die maatstaf van empiriese toetsing en verifikasie onderskryf word soos in die natuur- en sosiale wetenskappe. En hier lê die probleem. Ten spyte van die ensemble van geleerde opinies, is daar geen manier waarop hierdie "wetenskaplikes" hul teoretiese modelle aan gekontroleerde empiriese toetsing kan onderwerp en dus enige wesentlike kennis-uitsprake kan maak nie. Die ontstaansgeskiedenis van die Bybelse teks is vir altyd verlore wat impliseer dat geen van hul hipoteses hieromtrent sinvol getoets kan word nie - die JEPD hipotese oor die bronne vir die Ou Testament wat vir lank aanvaar is, het byvoorbeeld in die laaste tyd heeltemal verkrummel. Voorts is die argeologiese data feitlik nooit genoegsaam verteenwoordigend nie (dit is nie 'n gekontroleerde steekproef nie!) en ook nooit sonder interpretasie nie (wat soms wyd uiteenlopend is). Ons kan niks anders doen as om ruimte te maak vir verskeie narratiewe nie. Ek bring juis binnekort 'n boek uit waarin ek 'n totaal ander narratief as die heersende "wetenskaplike" beskouing omtrent die vroeë Genesis-verhale verdedig, naamlik dat ons met baie ou Israelitiese tradisies te doen het wat deur die Abrahamse familie uit Sumerië saamgebring is (Op soek na Abraham en sy God. 'n Studie oor die historisiteit van die vroeë Genesis verhale, Griffel). Dit beteken dat Abraham 'n historiese figuur was - ek toon dan ook dat daar goeie argeologiese getuienis is wat so 'n siening ondersteun. Verder is daar Sumeriese bronne en argeologiese data wat die historisiteit van die pre-patriargale verhale breedweg ondersteun.
 
3.    My grootste probleem met die gebruik van die benaming "Bybelse wetenskaplikes", is dat daardie geleerdes hierdie term gebruik om gewig aan hul uitsprake te gee. Hulle probeer daardeur hul narratief teenoor ander narratiewe as die "wetenskaplike" narratief voorhou - waarby hulle na my mening 'n empiriese wetenskap bedoel (dit is ook hoe die term in die volksmond verstaan word). Dit is nie alleen onwaar nie (hul studieveld voldoen glad nie aan die vereistes daarvoor nie), dit is inderwaarheid misleidend. Dit mislei die publiek wat dink dat hulle "wetenskaplikes" in die empiries-wetenskaplike sin is en wat op grond daarvan hulle uitsprake hoog aanslaan. Hierdie is tipies die situasie wanneer ons met 'n pseudo-wetenskap te doen het. Alhoewel daar 'n voortdurend-veranderende grys area tussen wetenskap en pseudo-wetenskap bestaan, vereis wetenskapsfilosowe tipies dat toetsbaarheid in die afbakeningskriteria wat tussen die twee onderskei, ingesluit word. Die wiki-definisie vir pseudo-wetenskap wat Diek aanhaal beklemtoon ook dat dit nie "betroubaar getoets" kan word nie. Hyself lê klem op "bewyse". Dit is ongelukkig presies wat in die "Bybelse wetenskap" ontbreek - daar is geen manier waarop hul hipoteses op 'n empiries-betroubare wyse getoets kan word nie. 

Ek is dankbaar dat Markplein vir ander opinies ruimte maak. Alhoewel Coenie in die laaste uitgawe van Markplein wonder of godsdienstige gesprek oor uiteenlopende standpunte heen sinvol kan plaasvind, wil ek hom bemoedig: Markplein skep so 'n gespreksruimte en ek is seker dat ons mettertyd 'n ware "oop gesprek" hier sal sien.

Klik by "onderwerpe" (regs op die blog) op die woord "Markplein" om die ander brief ook te lees.