Showing posts with label afrikaans. Show all posts
Showing posts with label afrikaans. Show all posts

Sunday, 3 February 2013

Die limiete van argeologie en teksstudies: die uittog

In hierdie artikel word die geloofwaardigheid van die Bybelse verhaal oor die uittog van Israel uit Egipte bespreek. As daar geen argeologiese bewyse vir die uittog is nie, beteken dit dat ons om daardie rede die historisiteit daarvan moet betwyfel? Dat dit dus nie plaasgevind het nie? Hierdie vrae het baie te doen met die vermoë van argeologie om finale uitsprake te maak. Die eintlike vraag is dus: Wat is die limiete van argeologie en teksstudies, en hoe raak dit ons verstaan van die uittog. Die artikel (met voorskrif) het in die September 2012 uitgawe van die tydskrif Markplein verskyn.

Daar het die laaste paar maande (sedert Markplein 2012/01) 'n intense gesprek oor die beperkinge van argeologie en teksstudies ontstaan, met spesifieke verwysing na die Israeliete se uittog. Ek het in 'n aantal briewe aangevoer dat Diek van Wyk (sien sy artikels in Markplein 2012/04 en 2012/05) en Sakkie Spangenberg (sien sy reaksie in Markplein 2012/06) vanuit 'n modernistiese perspektief te hoog opgee vir hierdie dissiplines. Ek het in hierdie verband selfs van "pseudo-wetenskaplikheid" gepraat, onder andere in verwysing na "Bybelwetenskap". In hierdie artikel bespreek ek die limiete van beide argeologie en teksstudies (Bybelwetenskap) in meer detail. 

Die wetenskap word tradisioneel in Afrikaanse kringe baie hoog aangeslaan. Daar word algemeen aanvaar dat wetenskaplikes weet waarvan hulle praat. Ons vind dan ook dat feitlik alle dissiplines in Afrikaans as "wetenskappe" beskryf word - so ook argeologie en teksstudies (Bybelwetenskap). Maar hoe wetenskaplik is hierdie "wetenskappe"? Wat is die limiete van hierdie dissiplines? En wat is die implikasies daarvan vir uitsprake wat hierdie dissiplines kan en nie kan maak nie? Ook ten opsigte van die historisiteit van Bybelse verhale soos die uittog.

Daar was 'n tyd toe alle dissiplines gepoog het om as empiriese wetenskappe (dit is wat in Engels onder "wetenskap" verstaan word) erken te word. So ook argeologie en teksstudies. Maar is hierdie empiriese wetenskappe? Alhoewel argeoloë met waarneembare objekte werk, en dit dus as 'n empiriese dissipline beskou kan word, voldoen dit nie aan die vereistes van 'n empiriese wetenskap soos dit wêreldwyd verstaan word nie. Die belangrikste onderliggende rede hiervoor is dat argeoloë nie toegang het tot die historiese werklikheid (soos dit destyds bestaan het) wat hulle ondersoek nie - die argeologiese rekord is altyd onherroeplik onvolledig. Ook teksstudies - wat vandag as 'n hermeneutiese (interpreterende) dissipline erken word - het geen toegang tot die werklike teksgeskiedenisse (ook nie van die Bybel) nie. Daarteenoor ondersoek beide natuur- en sosiale wetenskaplikes 'n huidig-bestaande (alhoewel ontoeganklike) werklikheid.

As gevolg van hierdie beperking kom argeoloë (teksstudies word later aangespreek) voor twee onoorbrugbare probleme te staan. Ten eerste is alle opgrawings 'n nie-herhaalbare ervaring. Ander argeoloë sou nie noodwendig tot dieselfde gevolgtrekkings kom nie. Daar is 'n menigte gevalle waar argeoloë oor die interpretasie van opgrawings verskil. Ten tweede weet argeoloë nooit of hul data (statisties gesproke) verteenwoordigend van die destydse historiese situasie is nie. Opgrawings is nie herhaalbare eksperimente soos in die natuurwetenskappe of gekontroleerde ondersoeke soos in die geesteswetenskappe nie. Alhoewel argeologie "ervaring" insluit, is opgrawings nie eksperimente nie; opgrawings is nie herhaalbaar of 'n verteenwoordigende steekproef nie. In die tyd van die sogenaamde Nuwe Argeologie in die vroeë sestiger jare is daar nog gepoog om argeologie op 'n "wetenskaplike" basis te plaas, maar daardie benadering het intussen plek gemaak vir "Postprosesualisme", wat kontekstuele en interpreterende argeologie insluit. Sedertdien is daar ruimte vir 'n "plurality of readings" ooreenkomstig verskillende interpretasies soos Julian Thomas skryf: "[E]ven artifacts will be understood in different ways by people who come to them with different understandings which emerge from different social experiences... In understanding may give rise to hegemonic struggles over the definition of reality. It would be a mistake to argue in these circumstances that one group has a true appreciation of the situation, while another is laboring under false consciousness" [1].  Daar is vandag in die filosofie van argeologie 'n reaksie teen vroeëre hegemoniese pogings tot beheer oor interpretasie (wat voortbou op die Franse filosoof Michel Foucault se werk oor "mag").

Argeologie het dood gewoon nie die vermoë wat soms (veral deur argeoloë self) daaraan toegeken word nie. In baie gevalle het daar net nie genoeg bewyse oorgebly om die literêre bronne te bevestig of te ontken nie. Alhoewel argeoloë soms weens 'n gebrek aan bewyse aanvaar dat sekere gebeure (soos die uittog) nie plaasgevind het nie, is dit 'n positivisties-modernistiese aanslag wat nie deur enige wetenskapfilosoof onderskryf kan word nie. Geen bewyse is beslis nie 'n bewys van geen bewyse nie. Ten spyte hiervan het sommige argeoloë 'n oordadige vertroue (so tipies van die modernisme) in die genoegsaamheid van die argeologiese bewyslas soos blyk uit Diek se aanhaling van die argeoloog William G. Dever, wat selfversekerd noem dat argeologiese data as "primêre bron" gebruik moet word om die geskiedenis (soos die van Israel) te rekonstrueer. Alhoewel argeologiese data sekerlik 'n belangrike bron van inligting is, is dit beslis nie die enigste nie en die verheffing daarvan tot "primêre bron" gaan teen al die problematiek van praktiese argeologie in. Ek kan hoeveel voorbeelde gee om die ontoereikendheid van argeologiese data te illustreer. Neem byvoorbeeld die oorblyfsels van die Akkadiese Ryk (ca. 2300-2100 vC) - wat deur die millennia as die grootste van alle ryke in antieke Mesopotamië onthou is. Mario Liverani skryf: "If we didn't know from the texts that the Akkad empire really existed, we would not be able to postulate it from changes in settlement pattern, nor from the evolution of material culture" [2]. Ons kan dieselfde omtrent die Dawidiese ryk sê. Voor die ontdekking van die Tel Dan stela 'n paar jaar gelede, waarop die woorde "huis van Dawid" verskyn, was daar 'n konsensus onder baie geleerdes dat hy nooit gelewe het nie.

Wanneer dit by migrasie kom (soos die uittog en intog van Israel), is die situasie selfs nog meer problematies. Die argeologiese getuienis wat met migrasie verband hou is so oop vir interpretasie dat argeoloë in baie gevalle nie kan besluit hoe om die argeologiese rekord te interpreteer nie. Ek gee verskeie voorbeelde van sulke verskille in interpretasie in my artikel "A critique of archaeology as a science" wat op 19 Augustus 2012 op my blog gepos is by www.wmcloud.blogspot.com. In baie gevalle sou argeoloë nooit van sulke migrasies weet as dit nie in literêre bronne vermeld is nie. Neem byvoorbeeld die migrasie van die handelaars wat hulleself in die Ou Assiriese periode (ca.1800 v.C.) in Anatolië (in die hedendaagse Turkye) gaan vestig het. Malcolm Weiner skryf hieromtrent: “As Machfeld Mellink, James Mellaart and others have observed, had the tablets not survived little else would suggest the existence of an Assyrian colony, since the colonists adopted local architecture and pottery... Tablets tell us of many Assyrian trading colonies in Anatolia...  [i]t would be very difficult to identify something which is specifically Assyrian without the tablets” [3].  Sonder die tekste sou argeoloë nie vermoed het dat groot getalle Assiriërs na Anatolië migreer het en daar teenwoordig was nie. Alhoewel ek kan verstaan dat Dick skryf "Dit spreek dus vanself dat die Israeliete op hul staanplekke in die Sinai-woestyn ook oorblyfsels moes nagelaat het" (Markplein 2012/05), is dit duidelik dat die situasie allermins so eenvoudig is. Alhoewel die Bybel die roete aandui waarlangs die Israeliete sou trek, verskil navorsers oor die interpretasie van die gegewens. Die Israeliete sou voorts lank op 'n plek moes bly om noemenswaardige getuienis agter te laat. Die Sinai is soos die Bybel noem en ekself al meermale gesien het, 'n "groot en vreeslike" woestyn waar die hitte, winde en stortreëns alle oorblyfsels tot niet maak en bedek. Om na oorblyfsels daar te soek is soos om na die spreekwoordelike naald in 'n hooimied te soek (nie dat daar al deeglik gesoek is nie!).

Daar is selfs 'n verdere probleem, naamlik dat daar in die tyd van die Nuwe Argeologie 'n sterk partydigheid in argeologiese kringe teen migrasie was soos David Anthony skryf: "Migration has been demonized and has mystified Western archaeologists since the rise of ‘New Archaeology’ in the late 1960’s… Several writers have noted that the rise and fall of the popularity of migration and diffusion in western archaeology seems closely linked to the prevailing milieu in politics, national interests and intellectual trends” [4]. Dit toon dat baie nie-wetenskaplike invloede 'n impak op argeologiese sieninge het en dat "polities korrekte" sieninge soms op hegemoniese wyse afgedwing word. Alle argeologiese data is wyd oop vir interpretasie - die hegemonie van polities korrektheid gee erkenning aan sekere sieninge en wys andere af.  Ina Brand vertel in Markplein 2012/07 hoe hierdie aanslag steeds in die praktyk onder argeoloë voorkom. Sy skryf: "In die jongste tyd is daar egter 'n beweging wat die Bybel as artefak heeltemal wil verban en dit as blote propaganda-fiksie wil uithou uit alle argeologiese bevinding". Geen wonder dat daar so geredelik in krities-argeologiese kringe aanvaar word dat die uittog nie plaasgevind het nie.

In enige ondersoek na die verlede is tekste soos die Bybel ook belangrik. Die belangrikste vraag omtrent tekste is: hoe betroubaar is die inligting wat daarin voorkom? Om hierdie saak te ondersoek word die teksgeskiedenis van tekste soos die Bybel bestudeer. Dissiplines soos teksstudies het egter dieselfde probleem as argeologie, naamlik dat die werklike teksgeskiedenis onherroeplik verlore is. In die tyd van positivisme is daar veronderstel dat niks omtrent 'n teks soos die Bybel geglo kan word as dit nie deur argeologiese bewyse gesteun word nie. Daar is oordadig krities na die teks gekyk en mettertyd is daar op grond van verkeerde verwagtinge aanvaar dat die meeste van die gebeure wat daarin vertel word nie plaasgevind het nie. Vandag weet ons egter dat argeologie nie 'n empiriese wetenskap is nie en dat feitlik alle argeologiese data onvolledig, onder-verteenwoordigend en voorlopig is. In soverre teksstudies in die positivisties-modernistiese metodiek van die verlede gegrond is (wat ook alle wondergebeure in beginsel ontken) en steeds so 'n aanslag volg, is dit ten diepste gekompromitteer.  Omdat die data wat vir die bevestiging van hipoteses en uiteindelik teorieë gebruik word, so voorlopig en oop vir interpretasie is, staan dissiplines soos teksstudies op dryfsand en daar is geen manier waarop daardie geleerdes kan bewys dat hul teorieë beter met die historiese situasie ooreenkom as die tradisionele beskouing wat die inligting in die teks as betroubaar aanvaar nie. Dit is geen wonder dat 'n bekende Christen filosoof soos Alvin Plantinga die volgende sê nie: "There is no compelling or even reasonably decent argument for supposing that the procedures and assumptions of [historical Biblical criticism] are to be preferred to those of traditional Biblical commentary" (Biblical Archaeology Review Jul/Aug 2012).

Met hierdie agtergrond kan ons in meer detail op die uittog fokus.  As ons die genoemde problematiek omtrent sulke migrasies in ag neem, asook die voortdurende stryery onder argeoloë oor die interpretasie van argeologiese fondse en datering (veral wat Israel betref), dan is dit glad nie voor die hand liggend waarom die uittog ontken moet word nie. Soos James K. Hoffmeier in sy boek The Archaeology of the Bible (2008) aantoon, is daar heelwat ondersteunende getuienis vir die Bybelse verhaal oor Israel se verblyf in Egipte, die uittog en die verowering van Kanaan. Ek noem enkele voorbeelde. Daar is uitbeeldings van Semitiese slawe wat stene maak (en deur stokke geslaan word) uit die tyd van koning Thutmose III van die Agtiende Dinastie (1479-1425 v.C.). Alhoewel daar nie fisiese bewyse vir Israel se tyd in die woestyn is nie, is daar wel getuienis dat Jerigo verwoes is en daarna vir lank onbewoond was soos in die Bybel vertel word (Jos. 6:26; 1 Kon. 16:34). Hierdie verwoesting is aanvanklik deur John Garstang tot ca.1400 v.C. gedateer, maar Kathleen Kenyon het dit later tot ca.1550 v.C. herdateer. Onlangs het Bryant Wood egter geargumenteer dat Kenyon sekere krities-belangrike pottery verkeerd gedateer het en dat Garstang se datering reg was. Hierdie datum kom goed met die Bybelse datering ooreen. Hoffmeier verskil met W.F Albright se teorie van 'n dramatiese verwoesting van Kanaänitiese stede en onderskryf 'n "limited conquest of key sites in strategic areas" ooreenkomstig die inligting in Josua 11:3 en Exodus 23:29-30. Hiervolgens is net Jerigo, Ai en Hazor verbrand. Daar is inderdaad bewys dat Hazor ook in daardie tyd verbrand is (die datum is ietwat onseker). Die naam "Israel" word die eerste (en enigste) keer in 1208 v.C. in 'n Egiptiese inskripsie, deur koning Merneptah, die seun en opvolger van Raamses II, genoem in 'n konteks wat op hul teenwoordigheid in die land dui. Rondom hierdie tyd is daar skielik 'n dramatiese toename in landbou dorpies in Israel waarneembaar (93% van hierdie dorpe is nuut). Dit word tipies met die aanwas van Israel in die nuwe land verbind. Die monoteïstiese hervormings van Akhenaten van die Agtiende Dinastie (1352-1336 v.C.) hou dalk ook met Israel se vroeëre verblyf in Egipte verband.

Daar kan uiteindelik verskeie narratiewe omtrent die uittog gekonstrueer word. Diek verwys na die narratief van die argeoloë Israel Finkelstein en Neil Asher Silberman (Markplein 2012/05). Hulle is van mening dat die verhale oor die uittog in die sewende eeu v.C. in die tyd van koning Josia saamgesnoer is. In hierdie geval sou die verhaal op ‘n metaforiese vlak uitdrukking gee aan die stryd tussen die jong koning Josia en farao Necho en aan die vrese, aspirasies en hoop op ‘n nuwe toekoms van die Juda van die tyd. Hierdie narratief aanvaar dat die uittog nie plaasgevind het nie en probeer verduidelik waar die verhaal ontstaan het. Alhoewel hierdie hipotese op die oomblik vir sommige geleerdes sin maak, sal die volgende geslag waarskynlik (soos tipies in hierdie milieu gebeur) nie veel waarde daaraan heg nie.

Hierteenoor onderskryf ek die tradisionele narratief. Dit is na my mening uit die Bybelse teks duidelik dat die verhaal van die uittog ten diepste in die Israelitiese psige ingeweef was. Mense soos ek wat die gediskrediteerde histories-kritiese paradigma wat uit die modernisme gegroei het verwerp, kan geen rede sien waarom die Bybelse inligting omtrent die uittog nie aanvaar kan word nie. Saam met Richard Averbeck (in 'n artikel in die boek "Mesopotamia and the Bible", sien p107) is ek van mening dat die Bybelse verhale deur die eeue sorgvuldig in die raamwerk van 'n aaneenlopende tradisie oorgedra en opgeteken is soos daar op baie plekke in die Bybelse teks genoem word [5]. Argeologiese data korreleer ook heel goed met die inligting in die Bybel. Ek sluit af met 'n aanhaling uit my boek Op soek na Abraham en sy God (Griffel, 2012): "Alhoewel daar 'n sekere kritiese weergawe oor die Bybelse teks saamgestel kan word... (wat) dit as laat en vol twyfelagtige legendes afmaak, kan daar na my mening 'n beter weergawe saamgestel word wat toon dat dit goed met ander buite-Bybelse tekste en argeologiese data korreleer" (p109).

[1] Thomas, Julian. 2005. Materiality and the Social. In Pedro Paulo Funari, Andres Zarankin and Emily Stovel (eds.), Global Archaeological Theory. Contextual Voices and Contemporary Thoughts. New York: Kluwer Academic/Plenum Publishers.
[2] Liverani, M. 1993. Akkad: An Introduction. In Mario Livernai (ed.), Akkad. The First World Empire: structure, ideology and traditions. Padova: Sargon srl.
[3] Wiener, Malcolm H. 1984. Crete and the Cyclades in LM I: The tale of the conical cups. In Hägg, R. and Marinatos, N. (eds.), The Minoan Thalassocracy, Myth and Reality.  Stockholm.
[4] Anthony, David W. 1997. Prehistoric Migration as Social Process. In Chapman, J. and Hamerow, H. (eds.), Migrations and Invasions in Archaeological Explanation, BAR International Series 664.  Oxford: Archaeopress, Oxford.
[5] Averbeck, Richard E.  2002.  Mesopotamia and the Bible.  In Mark W. Chavalas & K. Lawson Younger (jr) (eds.), Sumer, the Bible, and Comparative Method; Historiography and Temple Building.  Grand Rapids: Baker Academic.

Willie Mc Loud

Dr Willie Mc Loud se ander skrywes aan Markplein is ook op hierdie blog gepos (www.wmcloud.blogspot.com) en kan gelees word deur op die sleutelwoord "Markplein" regs op die blog te klik.
Klik om te lees: A critique of archaeology as a science
Asook A critique of Biblical Criticism as a scholarly discipline

Monday, 3 September 2012

Abraham is die skakel

Is daar enige bewyse dat Abraham 'n historiese figuur was soos wat in die Genesis verhaal vertel word? Dit is die tema van hoofstuk 1 van my nuwe boek oor Abraham en sy God wat hier gepos word.

“En Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en Sarai, sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en dié het saam met hulle uit Ur van die Chaldeërs getrek om na die land Kanaän te gaan” (Gen. 11: 31).

Ons studie begin by Abraham (eers Abram genoem). Volgens die Bybel was Abraham een van die belangrikste voorouers van Israel. God het hom geroep terwyl hy nog in die stad Ur in die suidelike Sumeriese vlaktes gewoon het (Gen. 11: 28, 12: 1, 15: 7; Hand. 7: 2). Alhoewel die Bybel nie daaroor uitbrei nie, kry ’n mens die indruk dat sy familie toe alreeds vir baie jare daar woonagtig was. Die Bybel verwys na dié stad as Ur “van die Chaldeërs” – wat aandui watter Ur ter sprake is. Die Chaldeërs is ’n ander naam vir die Neo-Babiloniërs en die uitdrukking word sporadies vanaf die tiende eeu v.C. vir die gebied suid van die stad Babel gebruik.

Ur is ’n baie ou Mesopotamiese stad wat naby die mond van die Eufraatrivier by die Persiese Golf geleë was. Die seevlak het sedertdien gedaal en die ruïnes van Ur (Tell el-Huqayyar) lê vandag redelik ver van die see. Dit was ’n baie belangrike Sumeriese stad wat tot so laat as die laaste deel van die derde millennium v.C. (±2000 v.C.) nog die sentrum van die Sumeriese kultuur was. In daardie tyd was dit die hoofstad van die konings van die Derde Dinastie van Ur (Ur III) – die laaste Sumeriese heersers wat oor Mesopotamië sou regeer.

Volgens die Bybel het Abraham saam met ’n aantal van sy familielede uit Ur na die land Kanaän geïmmigreer. Hulle het al met die Eufraatrivier op tot by die stad Haran getrek en vandaar suidwaarts na Kanaän. Abraham verteenwoordig dus ’n baie belangrike skakel tussen die antieke Sumeriese beskawing en die latere Israel. As
ons oorblyfsels van die Sumeriese tradisie in die Israelitiese literatuur waarneem, dan moet ons die moontlikheid oorweeg dat dit ten minste gedeeltelik deur Abraham na Sumerië teruggaan – dit is nou as ons die Abrahamse verhaal ernstig kan opneem …

’n Historiese Abraham?

As ons die geskiedkundigheid van die Abraham-verhaal wil ondersoek, moet ons eers weet wanneer hy sou lewe. Om ’n datum vir Abraham vas te stel, word twee belangrike jaartellings in die Bybel gebruik, naamlik die tydsduur van Abraham se koms na Kanaän tot Israel se uittog uit Egipte (Eks. 12: 40) asook die tydsduur van die uittog tot die bou van die tempel (1 Kon. 6: 1).

Volgens die Joodse geskiedskrywer, Josefus (Antiquities of the Jews, XV: 2), wat kort ná die tyd van Christus geskryf het, het Abraham 430 jaar voor die uittog uit Egipte in Kanaän aangekom. Ons vind hierdie selfde inligting in die Nuwe Testament (Gal. 3: 16, 17) waar Paulus (soos baie ander Nuwe Testamentiese skrywers) uit die Septuaginta, die Griekse vertaling van die Bybel wat uit die tyd voor Christus dateer, aanhaal. Ons lees in die Septuaginta: “Now the sojourning of the children of Israel, and of their fathers, which they sojourned in the land of Canaan and in the land of Egypt, was 430 years” (Eks. 12: 40). Ons Bybel (in al die vertalings) laat die gedeelte weg wat ek in kursief geplaas het [5]. Verder was die tydsduur van die uittog tot die vierde jaar van koning Salomo, toe hy met die bou van die tempel begin het, 480 jaar (1 Kon. 6: 1). Dit verskil weereens van die Septuaginta wat die getal jare as 440 aangee. As ons die huidige aanvaarde datum vir die vierde regeringsjaar van Salomo as 967 v.C. neem, dan het Abraham volgens die Septuaginta in 1837 v.C. van Haran na Kanaän getrek. Volgens ons Bybel was dit heelwat vroeër.

Aangesien Abraham nie ’n bekende koning uit die antieke tyd is nie, is die kans dat daar enige argeologiese bewys vir sy bestaan oorgebly het ontsettend klein. Wat ons wel kan doen, is om te kyk of die milieu waarbinne die Bybel hom plaas, inpas by die raamwerk van daardie tyd. Daar is verskeie studies wat op aspekte soos die politieke, kulturele en sosiale omgewing fokus en toon dat die beskrywings in die Bybel heel goed met ander data uit daardie tyd korreleer. Ek wil gewoon op die belangrikste gebeure in Abraham se lewe fokus en kyk of daar onafhanklike getuienis daarvoor bestaan.

Die Elamitiese inval in Kanaän

Die belangrikste gebeurtenis wat Abraham in die raamwerk van die wyer Midde-Oosterse wêreld plaas, is die Elamitiese inval wat in sy tyd sou plaasvind. Elam was in die suidweste van hedendaagse Iran, oos van Mesopotamië, geleë. Volgens Genesis 14 het ’n koalisie van magte onder die aanvoering van die Elamitiese koning, Kedor-Laómer, ’n inval in die omgewing van die Dooie See geloods. Abraham het toe saam met ’n aantal Amoritiese vorste die plunderaars agternagesit en hulle verslaan.

Is daar enige buite-Bybelse bronne wat van so ’n gebeurtenis melding maak? Volgens Mesopotamiese tekste was daar net een geleentheid waarop die magte van ’n Elamitiese heerser in die vroeg-tweede millennium v.C. tot bo in Sirië opgetrek het. Dit was in 1822 v.C. (volgens die sogenaamde hoë kronologie) toe Siwepalar-
huppak, die koning van Elam (1826-1799 v.C.), probeer het om sy gesag oor die hele Mesopotamië af te dwing. Suidelike Mesopotamië het op daardie stadium onder sy beheer geval en bekende heersers van daardie tyd, soos Hammurabi van Babilon en Zimri-Lim van Mari, het hom as “vader” aangespreek. Hierdie inval het egter daartoe gelei dat die Elamiete uit Mesopotamië verdryf is [6].

As hierdie die inval is waarna die Bybel verwys – en daar is geen ander inval wat ter sprake kan wees nie – dan was daar ’n groep onder die Elamitiese invallers wat vanuit Sirië ’n inval in die Dooie See-gebied geloods het. Dit was dan hierdie groep wat deur Abraham en sy bondgenote verslaan is. Wat die datum van die inval
betref, korreleer dit ook goed met die datum in die Septuaginta (wat toon dat die Septuaginta die korrekte datering bevat). Hiervolgens sou Abraham in 1837 v.C. uit Haran na Kanaän vertrek en 15 jaar later by hierdie geveg betrokke wees.

Daar is ook ’n ooreenkoms tussen die naam van die Elamitiese heerser wat volgens die Bybel agter die inval gesit het, naamlik Kedor-Laómer, en Kudu-zulus, die broer van die Elamitiese koning. Kedor kan duidelik ’n vervorming van Kudu wees en Laómer is moontlik ’n bynaam. Kudu-zulus was koning van die Elamitiese stad Susa en het onder die oorhoofse gesag van sy broer Siwe-palar-huppak gestaan. Sy dienaars was vroeër ook betrokke by invalle na die Weste. Hulle het byvoorbeeld die stad Esnunna in Mesopotamië geplunder waarna Kudu-zulus daar gaan woon het.

Ons vind dus dat Kudu-zulus die direkte leier van die westelike Elamitiese magte was en dat sy dienaars plundertogte soos dié waarna daar in Genesis 14 verwys word, onderneem het. Daar is dus ’n baie goeie korrelasie tussen die Bybelse en buite-Bybelse beskrywings van daardie tydsomstandighede. Soos die Bybel noem, is die Elamiete ook ná hierdie inval uit die land verdryf.

Abraham in Egipte

’n Ander belangrike gebeurtenis in die Abrahamse verhaal, is dat hy oënskynlik kort na sy aankoms in Kanaän, verder na Egipte afgereis het omdat daar ’n hongersnood in die land was (Gen. 12). Dit plaas Abraham ook in die Egiptiese konteks. Sy koms na Egipte het nie ongesiens verbygegaan nie omdat sy vrou Sara (toe nog Sarai genoem) baie mooi was en sy die aandag van die Egiptiese vorste getrek het.

Aangesien Abraham bang was dat hulle hom vir sy vrou om die lewe sou bring, het hy voorgegee dat sy sy suster was. Sy is dus in die farao se paleis opgeneem, terwyl Abraham met geskenke oorlaai is. Die farao het egter uitgevind dat sy Abraham se vrou was en hulle is uit Egipte verdryf. Is daar enige bewys van Abraham se besoek aan Egipte? Daar is getuienis wat moontlik met Abraham se besoek verband hou. By Beni Hasan in Egipte is daar ’n uitbeelding in die graf van ’n plaaslike goewerneur, ene Khnumhotep II, wat ’n groep Semiete voorstel wat oënskynlik van Kanaän na Egipte gereis het. Die leier van die groep word genoem as Abi-shai/r, ’n Amoritiese vorm van die naam Abraham [7].

Is hierdie ’n uitbeelding van Abraham se besoek aan Egipte? Volgens die Bybel was Abraham wel ’n vername persoon wat so ’n uitbeelding sou regverdig – hy word byvoorbeeld ’n “vors (magtige prins)” genoem (Gen. 28: 6). Sy koms na Egipte het ook opspraak verwek. Alhoewel die naam ook elders voorkom, is dit duidelik moontlik dat hierdie ’n uitbeelding van Abraham se besoek aan Egipte kan wees – as dit in die regte tyd val.

Die groot vraag is dus of hierdie uitbeelding in die tyd val toe Abraham Egipte besoek het. Ons is gelukkig in die sin dat die besoek in die genoemde Beni Hasan-uitbeelding redelik goed gedateer kan word. Dit het in die sesde jaar van koning Senuseret II se regering plaasgevind. Die regering van hierdie koning kan met behulp van ’n astronomiese waarneming van die heliese opkoms van die ster Sirius wat in die tyd van sy opvolger Senuseret III gemaak is, redelik akkuraat bereken word. Daarvolgens het hy van 1844-1837 v.C. regeer.8 Dit beteken dat die besoek van Abi-shai/r (Abraham), in Senuseret II se sesde regeringsjaar, in 1838 v.C. sou plaasvind.

Indien die Bybelse Abraham direk van Haran na Egipte gereis het, dan sou hy so vroeg as 1837 v.C. daar aankom. As ons in gedagte hou hoe lank terug hierdie dinge plaasgevind het, en die foutgrens waarbinne so ’n datering gedoen word in ag neem, dan kan daar eintlik nie enige wesenlike twyfel bestaan dat hierdie na dieselfde gebeurtenis verwys nie. As ons verder al die ooreenkomste in ag neem – dat beide groepe Semiete van Kanaän was, met Abi-shai/r (Abraham) as leier, wat ’n vermelding in Egipte regverdig – dan is die kans inderdaad baie klein dat verskillende gebeure ter sprake is. Ons kan dus aanvaar dat dit waarskynlik Abraham se besoek is wat by Beni Hasan uitgebeeld word.

Ons vind dus dat daar heelwat buite-Bybelse gegewens is wat korrespondeer met die Bybelse weergawe van gebeure. Daar was ’n tyd toe navorsers ’n positiwistiese benadering gevolg het – of te wel, “bring eers al die bewyse voor ons iets aanvaar” – maar die akademiese klimaat het verander en daar is vandag ’n begrip vir die feit dat daar baie dinge is wat ons nie weet of ooit sal weet nie. Die bevestiging dat daar inderdaad in Abraham se tyd ’n Elamitiese inval in Sirië plaasgevind het, wys net weer dat ’n mens nie te gou moet wees om die geskiedskrywing in die Bybel te betwyfel nie. Saam met die uitbeelding in die Beni Hasan-graf, is dit nogal sterk getuienis dat die Abrahamse verhaal in die Bybel ernstig opgeneem kan word.

Die bevestiging dat daar ’n Elamitiese inval in Abraham se tyd plaasgevind het en dat die Beni Hasan-uitbeelding mooi met Abraham se besoek aan Egipte korreleer, toon dat ons wel die Abrahamse verhaal in Genesis as geskiedkundig kan beskou – ten spyte van die konsensus onder baie geleerdes dat die patriargale verhale in Genesis nie as geskiedenis gelees kan word nie. So was daar in baie kringe ook vroeër ’n konsensus dat die vroeë monargiese verhale (soos dié van koning Dawid) nie as geskiedenis gelees moet word nie – dit was totdat die mid-negende-eeuse Tel Dan Stela in 1993/4 ontdek is waarin daar eksplisiet na die “Huis van Dawid” verwys word.

Ons kan na my mening aanvaar dat so ’n voorvader van Israel genaamd Abraham gelewe het en dat sommige oorblyfsels van die Sumeriese tradisie wat in Genesis (en elders in die Hebreeuse Bybel) aangetref word, met sy koms uit daardie wêrelddeel verband hou.


Bronverwysings

[5] Die Masoretiese teks (die standaard Hebreeuse teks wat vir ons Bybelvertalings gebruik is) verskil op verskeie plekke van die Hebreeuse Vorlage-teks, wat in die paar eeue v.C. vir die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuaginta genoem) gebruik is. Soms is die Septuaginta se teks beter – die heel oudste teks van die Bybel wat by Qumran onder die Dooie See-rolle gevind is en nog in ’n paleo-Hebreeuse skrif geskryf is, stem byvoorbeeld eerder met die Vorlage as met die Masoretiese teks ooreen (Hengel 2002: 84). Die Nuwe Testamentiese skrywers gebruik (anders as hedendaagse Christene) meestal ’n teks wat met die Septuaginta ooreenkom. Die rede vir verskille tussen tekste het gedeeltelik daarmee te doen dat die vroegste tekste nie altyd vir die latere geslagte duidelik was nie. Dit kan baie mooi gesien word in die vroegste bestaande Hebreeuse teks (alhoewel nie van die Bybel nie) wat in 2008 naby Jerusalem ontdek is. Dit dateer uit die tyd van koning Dawid en is in ’n paleo-Kanaänitiese skrif geskryf. Dit sou nie vir latere generasies maklik wees om die teks te lees nie (vgl. 1 Kron. 4: 22).
[6] Van de Mieroop 2005:17
[7] Hoffmeier 2008:42
[8] Dit veronderstel dat die waarneming by Elephantine in die suide van Egipte gemaak is. Die berekening is deur Krauss gedoen (Rohl 1995: 390). Na my mening gee hierdie Sotiese datering (i.e. gebaseer op Sirius se heliese opkoms) saam met die hoë kronologie in Mesopotamië die beste resultate vir ’n geïntegreerde datering van alle periodes in die wyer Midde-Ooste.

Skrywer: Dr Willie Mc Loud (Ref. wmcloud.blogspot.com).

Aangehaal uit sy boek Op soek na Abraham en sy God, 'n studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale (Griffel).
Lees ook: Abraham en sy God; Inleiding




Tuesday, 7 August 2012

Abraham en sy God - Inleiding

Hierdie is die inleiding van die boek Op soek na Abraham en sy God, 'n Studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale.


“[Sumer] for all practical purposes lies within and, in fact,
chronologically and literarily, at the beginning of the historical
stream of biblical Israel”
– Richard Averbeck

Kan ons vandag nog die Genesis-verhale ernstig opneem? Kan ons dit as geskiedenis beskou? Vir baie Christene is dit nie belangrike vrae nie. Hulle glo gewoon dat daardie verhale korrek is. Daar is egter baie ander wat oor hierdie saak nadink. As die Bybelse verhale wel geskiedkundig is, dan verwag ’n mens dat sommige van daardie gebeure ook in ander buite-Bybelse bronne sal voorkom. Is daar enige bewyse dat hierdie verhale nie net in die Bybel voorkom nie, maar ook in die verhale van ander antieke volkere soos die Sumeriërs? Volgens Genesis speel sommige van die verhale juis in vroeë Mesopotamië af.

In hierdie boek fokus ek op die verhale van Genesis 2-14. Dit is die verhale oor die vroegste geskiedenis van die Abrahamse familie [1] – van lank voordat hulle in Kanaän gaan woon het. Hiervolgens het Abraham aanvanklik in antieke Mesopotamië (in hedendaagse Irak) gewoon en speel ’n groot deel van die vroeë verhaal daar af. Dit is waar die vlakte van Sinear (Gen. 11: 2) asook Abraham se geboortestad, “Ur van die Chaldeërs” (Gen. 11: 28) geleë was.

Alhoewel dit nie duidelik is hoe lank Abraham se voorsate daar vertoef het nie, is daar geen twyfel dat sommige van hulle volgens Genesis 2-14 op ’n stadium daar gewoon het nie. Daar is dan ook ’n goeie rede waarom hulle daar sou wou woon: van ten minste sesduisend jaar gelede tot vierduisend jaar gelede het een van die mees besondere antieke beskawings, dié van die Sumeriërs, in die suidelike Mesopotamiese vlaktes floreer. As ons meer omtrent die oorspronge en tradisies van die Abrahamse familie wil verstaan, is dit sekerlik sinvol om die Sumeriese literatuur te ondersoek. Dit kan belangrike lig op daardie tradisies werp.

In hierdie boek ondersoek ek die Sumeriese wortels van die vroegste Bybelse tradisies. Ek toon aan dat daardie vroeë verhale waaronder dié van Henog, Nimrod, die vloed en die toring van Babel ook in die Sumeriese bronne vermeld word. Maar is daar enige buite-Bybelse bewys dat hierdie dinge regtig gebeur het? Om hierdie vraag te beantwoord, ondersoek ek die argeologiese getuienis wat daarmee verband hou. As ons in die regte periode soek, vind ons getuienis wat daarop dui dat die Genesis-verhaal wel breedweg bevestig kan word. Die Sumeriese literatuur help ons ook om ander temas in Genesis 2-14 – soos die boom, Adam asook die Bybelse wêreldbeskouing – beter te verstaan.

Dit is egter nie net die vroeë verhale wat na Sumerië teruggaan nie; daar is rede om te glo dat die vroegste vorm van die Israelitiese godsdiens – soos die verering van die God El as beide die Allerhoogste en die Almagtige deur Abraham – ook na daardie wêrelddeel teruggevoer kan word. Dit is vanuit daardie Sumeriese fondasies dat die latere Israelitiese godsdiens in die Kanaänitiese milieu verder gegroei het.

Daar is geleerdes wat reken dat die vroeë Genesis-verhale [2] eerder tydens die Babiloniese ballingskap uit Babilonië ontleen is omdat daar ’n mate van ooreenstemming tussen die Bybelse en Babiloniese tradisies is. Hierdie boek daag daardie siening uit. Na my mening is die verskille tussen die Babiloniese en Hebreeuse tradisies net te groot om direkte ontlening ernstig te oorweeg. Dit is verder ook uiters onwaarskynlik dat Joodse skrywers hul eie volk se geskiedenis sou versin en dat hul volksgenote, wat met die oeroue oorgelewerde tradisies bekend was, dit sonder meer sou aanvaar. Ek stel dus voor dat die ooreenstemming eerder toon dat beide tradisies na ’n baie vroeër gemene tradisie uit die Sumeriese tyd teruggaan, toe Abraham se familie nog in Sumerië gewoon het.

Geleerdes beweer ook dat die vroeë Israelitiese tradisies baie uit die Kanaänitiese milieu ontleen het. Veral wat die Israelitiese godsdiens betref, lyk dit of El se rol as “vader van die gode” in daardie wêreld tuis hoort. Ook Jahweh se rol as koning in die goderaad is volgens Bybelse geleerdes uit daardie wêreld ontleen. Volgens sommige was die eerste millenniumse (v.C.) Siries-Kanaänitiese godsdiens die model vir hierdie ontwikkeling in die Israelitiese godsdiens. Ek wil egter voorstel dat daardie model eerder in vroeë Sumerië te vinde is, waar El al vroeg aanbid is.

Dit bring my by die vraag: Hoe het dit gebeur dat daardie Sumeriese tradisies in Israelitiese kringe bly voortleef het? Die antwoord hierop lê in die Abrahamse verhaal opgesluit. Volgens die Bybelse verhaal het Abraham van Sumerië gekom – sy koms na Kanaän gee duidelik ’n baie sinvolle verduideliking oor hoe sulke Sumeriese tradisies later deel van Israel se erfenis kon word. Alhoewel baie geleerdes skepties staan oor die geskiedkundigheid van die Abrahamse verhaal, is daar nou meer as ooit tevore rede om te glo dat dié verhaal
’n betroubare weergawe van gebeure is.

Na my mening het hierdie tradisies saam met die Abrahamse familie na Kanaän gekom. Daarna is dit vir geslagte mondeling onder sy nasate oorgedra, alhoewel vroeë skriftelike bronne (wat in die mis van die verlede verlore geraak het) nie uitgesluit kan word nie. Diegene wat hierdie tradisies getrou van geslag tot geslag oorgedra en bewaar het, was die profete. Onder diegene wat dit aanvanklik opgeskryf het, word Moses as ’n belangrike skakel vermeld (Eks. 17: 14; 24: 7).[3]

Profete het oënskynlik van die vroegste tyd onder die Israeliete voorgekom. Ons vind dat Abraham reeds ’n profeet genoem word (Gen. 20: 7). Moses was ’n profeet (Deut. 18: 15; 34: 10); so ook Aäron (Eks. 7: 1) en sy suster Miriam (Eks. 15: 20). In hulle tyd sou daar ook ander profete soos Eldad en Medad opereer (Num. 11: 26). Later kom Deborah en Samuel. In die tyd van Saul was daar ook groepe profete bedrywig (1 Sam. 10: 5). Die Israelitiese profete was regdeur Israel se geskiedenis tot ná die ballingskap aktief.

Dit lyk of die Israelitiese profete baie soos die digters en sjamane van ander antieke volke geopereer het, wat die bewakers van daardie volke se tradisies was en dit van geslag na geslag oorgedra het. Profesieë is dan ook tipies in digterlike vorm uitgespreek. Ons lees in baie gevalle dat die profete nie alleen in hul geestelike ervarings die Oppergod gesien het nie, maar dat hulle selfs toegang tot die goderaad (’n baie belangrike konsep in die Bybel) gehad het – wat daarop dui dat hierdie raad deel van ’n lewende tradisie was, wat deur die eeue in hul midde bly voortleef het.

Dit is opvallend dat hulle ook diegene was wat die “Jahweh-alleen”- tradisie in stand gehou het.[4] Aangesien hulle die oudste tradisies in stand gehou het, kan dit daarop dui dat daardie tradisie baie oud was. Volgens die Bybel het dié tradisie by Moses ontstaan aan wie God Hom vir die eerste maal as Jahweh geopenbaar het
(Eks. 6: 2).

Ek gaan nie in hierdie boek die Genesis-verhale volledig behandel nie. Hierdie is nie as ’n volledige werk oor die onderwerp bedoel nie. Ek gaan gewoon enkele aspekte aanspreek. Ek begin met Abraham (Hoofstuk 1). As sy verhaal as geskiedenis geneem kan word, is hy ’n belangrike skakel tussen die Sumeriese en Israelitiese wêrelde.

Dan kyk ek na die ooreenkoms tussen die Bybelse en Sumeriese weergawes van die na-vloedse periode, die identifisering van enkele Bybelpersone soos Nimrod, Henog en Adam in die raamwerk van die Sumeriese geskiedenis, die aanbidding van die Hebreeuse God El in Sumerië, die Sumeriese verstaan van die “drieverdieping” wêreldbeskouing wat ons in die Bybel vind asook die vroeë voorkoms van sjamanisme en die profetiese tradisie. Ek het die onderwerpe gekies op grond van my eie belangstelling.

Hierdie boek is die vrug van jare se studie in die vroeë Bybelse en Sumeriese geskiedenis en tradisies. In die proses het ek die vroeë Sumeriese literatuur deeglik deurgelees en verskeie navorsingstoere saam met ’n paar vriende na sommige van die wêrelddele waarin die verhale afspeel onderneem.Verskeie foto’s, wat deur skrywer se reisgenoot Evert Buurman geneem is tydens hul reise, is in hierdie boek opgeneem. Ek het ook ’n wye studie van die akademiese materiaal oor die onderwerp gedoen. Verder was ek bevoorreg om vir ’n paar jaar deel van ’n Sumeriese leesgroep te wees waar ek ’n liefde vir die Sumeriese wigskrif en taal ontwikkel het. Dit is egter belangrik om te onthou dat hierdie nie ’n literêre of teologiese studie is nie, maar ’n
studie oor die geskiedkundigheid van die Genesis-verhale.

Die boek is gewoon as ’n inleiding tot die onderwerp bedoel. Dit is op die gemiddelde leser gerig wat geen agtergrond oor die Sumeriese wêreld het nie. Die boek is so geskryf dat hulle dit stimulerend en interessant sal vind. Tog is dit ook so dat die kwessies wat ek in hierdie boek aanspreek, allermins eenvoudig is. Sommige daarvan is werklik moeilike sake. In ons tyd is daar baie Afrikaanse mense wat vir die eerste keer werklik vir hulleself oor dinge begin nadink (en hopelik nie maar net weer andere in die stroom van skeptisisme naloop
nie). Ek vertrou dat hulle by hierdie boek, waarin sulke sake ook vanuit ’n behoudende Christenperspektief onder die soeklig kom, sal baat vind.

Ek glo dat daar in die huidige intellektuele klimaat in Suid-Afrika ’n behoefte aan ’n boek soos hierdie is, wat op die vroegste wortels van Israel (en in effek die Christentradisie) fokus. As denker en skrywer is ek verplig om die kernvrae wat in ons tyd rondom hierdie kwessies gevra word, aan te spreek en vir die gewone denkende Christen sinvolle voorstelle op die tafel te plaas – wat hopelik verdere debat daaroor sal stimuleer. Ek beskou dit gewoon as ’n inleidende gesprek oor daardie dinge. Die boek is hoofsaaklik gerig op persone
wat dink, wat wonder en wat selfs twyfel.

Alhoewel sommige van die dinge wat ek in hierdie boek bespreek vir die gemiddelde Christen vreemd sal voorkom omdat hulle dalk nie die Bybel so versigtig vir leidrade fynkam, wat lig op die heel vroegste sieninge kan werp nie (die Bybel werp ’n sluier oor baie van daardie vroeë sieninge; dit is die “verborge dinge” – Deut. 29: 29), glo ek dat die nuutste argeologiese en literêre data juis aantoon dat die Bybelse verhale – en meer spesifiek die verhale van Genesis 2-14 – as betroubaar aanvaar kan word. Alhoewel daar steeds baie
gebreke in ons kennis is, het ons vandag ’n uitgebreide argeologiese kennis oor die totale periode waaroor die Bybel handel. Soos ons in die boek Daniël lees, word dinge al duideliker soos wat die “kennis vermeerder” (Dan. 12: 4). Om onduidelikhede te help opklaar, het ek verskeie notas in die teks ingevoeg.

Diegene wat ná die lees van hierdie boek uitsien na ’n meer indiepte bespreking van die vroeë tradisies, kan my komende boek omtrent die vroegste buite-Bybelse tradisies oor die Gevalle Engele aanskaf. Ek skryf ook van tyd tot tyd relevante artikels op my blog, http://wmcloud.blogspot.com/. Lesers kan daarop inskryf.

Willie Mc Loud
Januarie 2012
Die Strand


Notas
1. By Abrahamse familie bedoel ek nie net Abraham se nasate nie, maar ook diegene wat saam met hom in Ur gewoon het.
 2. Hulle reken veral dat die pre-patriargale verhale uit Babiloniese (en Griekse) bronne saamgeflans is.
 3. Volgens die Hebreeuse tradisie het die profete (en ander Bybelskrywers) onder die inspirasie van God se Gees geopereer (2 Sam. 23: 2; 2 Tim. 3: 16; 1 Pet. 1: 11; 2 Pet. 1: 21). Hul geskrifte word dus deur behoudende Christene, waaronder ek myself reken, as Goddelik geïnspireerd beskou. Sien Bylaag 1 vir my siening oor Bybelse inspirasie.
 4. Dit is die tradisie waarvolgens Jahweh die enigste God is wat aanbid mag word.

Sunday, 29 July 2012

Op soek na Abraham en sy God


Dr Willie Mc Loud se nuwe boek het pas verskyn. Die titel is Op soek na Abraham en sy God, 'n Studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale. Hier is die teks op die agterblad asook die Inhoudsopgawe.


Teks op die agterblad

Op soek na Abraham en sy God is ’n tydige boek oor ’n uiters relevante onderwerp. Dit lewer ’n baie belangrike bydrae tot die kontemporêre gesprek oor die betroubaarheid van die Bybelse verhale. Daar is vandag al meer mense wat wonder of ons nog die Genesis-verhale kan glo? Of Abraham regtig gelewe het? Of ons die verhale oor die “toring van Babel”, die taleverwarring, die vloed en die tuin van Eden nog ernstig kan opneem? Vir sommige is die tradisionele antwoorde net nie meer aanvaarbaar nie. Sekere dinge word net nie meer geglo nie. Maar beteken dit dat die Genesis-verhale maar net stories is wat in latere tye meestal uit Babiloniese bronne saamgestel is? Beteken dit dat ons daardie verhale maar as onbetroubaar kan afskryf?

In hierdie boek toon die skrywer dat dit nié so is nie. Hy formuleer ’n grondige kritiek op sommige geleerde opinies hieroor. Hy verbreed die gesprek oor die Genesis-verhale deurdat hy, anders as baie ander geleerdes, die antieke Sumeriese bronne raadpleeg. Hy toon dat onlangse argeologiese ontdekkings daarop dui dat ons alle rede het om in ’n historiese Abraham te glo. Verder het ons goeie rede om te dink dat die vroegste verhale in Genesis saam met die Abrahamse familie uit Mesopotamië na Kanaän saamgebring is.

Die boek fokus ook op die God van Abraham. Was Hy maar net ’n vroeë stamgod? Of is daar rede om te glo dat Hy sedert die vroegste tye in Mesopotamië vereer is soos die Genesis-verhale impliseer? Die skrywer bespreek ook ander antieke konsepte soos die “Seuns van God”, die goderaad, die godeberg in die uithoeke van die noorde, die drieverdiepingkosmos, die “hemel” en die “doderyk”, Satan, die boom van die lewe, die slang en die gerubs wat die boom bewaak het.

Die inhoud is aktueel, stimulerend en bied beslis stof tot nadenke. Die boek is ’n goeie belegging vir elkeen wat belangstel in die betroubaarheid van die Bybelse verhale. 

 Inhoudsopgawe
 
1. Abraham is die skakel - 13
2. Die vlakte van Sinear - 19
3. Die toring van Babel - 27
4. Wie was Henog? - 37
5. Die goderaad - 47
6. Die “God van julle vaders” - 57
7. Die drieverdiepingkosmos - 71
8. Sjamane en profete - 83
9. Slotgedagtes - 93

 

Tuesday, 10 July 2012

Die kerk is by 'n kruispad: 'n ope brief aan die kerk

"As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?" (Ps. 11:3)
 
Die kerk in Suid-Afrika staar 'n krisis in die oë.  Die kerk se reaksie gaan bepaal of sy in die volgende geslag nog relevant sal wees en of sy ook soos in Europa bykans irrelevant gaan word.  In hierdie ope brief maak ek praktiese voorstelle oor hoe die kerk relevant kan bly.  Lesers is welkom om dit aan hul eie geestelike leiers aan te stuur. 

Daar is 'n roering in Afrikaanse geledere. Ander opinies en denke as die waaraan ons gewoond is, is aan die orde van die dag.  Ons hoor gereeld van teoloë, predikante en gewone mense wat sê dat hulle aan die Bybelse boodskap twyfel.  In radio gesprekke, koerant artikels en briewe, op internet gespreksforums, in boeke, op blogs, om die kampvuur en oral vind gesprekke plaas waarin mense oor hierdie dinge praat. Oral op die intellektuele markplein word kompeterende idees bespreek en gedebatteer.  En dit lyk of baie mense deur die stroom van twyfel meegevoer word. Al meer mense raak los van die kerk.  Lidmaat getalle neem af.  In baie gemeentes is dit meestal ou mense wat kom.  Jong mense bly weg.  Die vraag is: wat moet die kerk in 'n tyd soos hierdie doen?  In hierdie ope brief maak ek 'n paar voorstelle oor wat gemeentes kan doen om vandag steeds relevant te bly.


Relevant

Alhoewel die kerk nie altyd daarop ag slaan nie, is die omringende samelewing besig om baie vinnig te verander.  Ons hele kultuur is besig om te verander.  Waardes wat vroeër hoog aangeslaan is, verval in onguns - ander waardes kom in hulle plek.  Ek praat nou nie net van morele waardes nie; ek praat van kultuurwaardes.  Waar die Afrikaanse kultuur vroeër baie op gesag klem gelê het, is dit vandag in om gesag te betwyfel.  Die outokratiese posisie van die pa in die gesin, die onderwyser by die skool en die dominee in die gemeenskap het plek gemaak vir 'n meer demokratiese styl waarin verskillende opinies en insigte binne die raamwerk van 'n oop gesprek hoog aangeslaan word.  Vaste oortuigings en sieninge maak plek vir meer genuanseerde perspektiewe.  Oorgelewerde beginsels word bevraagteken; dit word opsy gesit as oorlewering van die ou mense. 

Dit is binne hierdie veranderende klimaat dat die kerk haarself vandag bevind.  Omdat die kerk uit die tyd van outokraties-vaste oortuigings kom, is dit vir baie Christene moeilik om aan te pas en te verander. In baie gemeentes toon die manier van kerk hou, die kleredrag (dink aan die swart pakke en wit dasse), die samesang en die liturgie dat hulle tot 'n vorige era behoort.  Soms lyk dit soos 'n toneel wat 'n mens aan die Amerikaanse Amish laat dink.  Hierdie manier van doen maak nie meer vir die hedendaagse mens sin nie.  Dit is dan ook verblydend dat baie gemeentes vernuwe - gesonde maar tog ingrypende vernuwing, nie net kosmetiese veranderinge wat aangebring word nie.  As die kerk vandag steeds relevant wil bly, sal gemeentes oor hierdie dinge moet saampraat, saamdink en saamdoen.  As die verskeidenheid gawes van die gemeentelede nie werklik in die gemeente tot hul reg kom nie, sal mense mettertyd belang in die kerk begin verloor.  Ons hoef nie aan die voorpunt van verandering te wees nie, maar ons moet ook nie agter die tyd wees nie.

Die samelewing verander egter ook in ander opsigte.  Wat vir die kerk van belang is, is die wyse waarop die wetenskap deel van die Afrikaanse lewens- en wêreldbeskouing geraak het.  Die oorgrote meerderheid Afrikaanse mense dink nie meer aan die wetenskap as ondergeskik aan geloof nie.  Hulle aanvaar die wetenskaplike uitsprake en baie stoei om dit met hul geloof te versoen.  Weereens is daar sekere vaste oortuigings wat dele van die kerk kenmerk.  Daar is diegene wat hul interpretasie van Bybelse gedeeltes tot onaantasbare waarhede verhef - terwyl daar regoor die wêreld baie ander Christene in hul eie teologiese stroom is (hetsy gereformeerd, evangelies, pinkster of charismaties) wat ander interpretasies voorstaan wat makliker met die wetenskap versoenbaar is.

Dit wat die kerk sê moet (soos dit wat die kerk doen) vir die gemiddelde persoon in die samelewing sin maak.  Dit help nie om die wetenskaplike verstaan van ons kosmos as onsin af te maak nie - die gewone persoon kan dit net nie meer aanvaar nie.  Die wetenskap ondersoek immers God se openbaring in die natuur - wat sekerlik nie in stryd met God se openbaring in die Skrif sal wees nie.  Die fout lê nie noodwendig by die wetenskap nie; dit kan ook by ons simplistiese interpretasie van die Bybelse teks lê.  Ek bepleit nie dat Christene die wetenskap klakkeloos napraat nie.  Daar is sekere dinge soos die oorsprong van lewe waarvoor die wetenskap nog nie antwoorde het nie.  Sommige wetenskaplike teorieë soos die neo-Darwinistiese teorie van evolusie is na my mening ook nog problematies (sien my artikel "Wetenskap en Geloof").

Tog is dit ook so dat daar ander dinge is waaroor daar al lankal konsensus bereik is soos dat die aarde baie oud is.  Wetenskaplike dissiplines soos astronomie, geologie en argeologie toon onomwonde dat die aarde oud is. Dit help nie dat ons die wetenskap feitlik in totaliteit verwerp net omdat dit met ons interpretasie van gedeeltes soos Genesis 1 (wat verskillend verstaan kan word) verskil nie.  Op grond van hierdie beskouing dink die gemiddelde persoon in die samelewing dat die Bybel totaal onvanpas vir vandag is.  Hulle dink dat die Bybel - en dus ook die kerk - nie meer relevant vir ons tyd is nie.  Hoe kan hulle in die Bybelse God glo, as hulle nie vertroue in die Bybelse boodskap het nie?

Eietydse impak


As dit wat die kerk doen en sê vir die gemiddelde persoon sin maak, dan is daar altyd iewers 'n geleentheid waar gemeentes 'n impak op so iemand se lewe kan maak. Dit beteken dat die kerk ook vandag - en juis vandag - dinge moet doen wat 'n verskil in mense se lewens maak.  Die vraag is: waar maak ons daardie verskil?  Baie kerke is so na binne gerig en hul lidmate lewe in so 'n gemaksone, dat hulle geen impak op die wêreld daarbuite het nie. Die bedoeling is sekerlik nie dat die kerk net 'n sosiale klub moet wees nie; sy moet 'n boodskap vir die mense van haar tyd hê.  Die kerk moet 'n vars boodskap hê wat toon dat en hoe die Bybelse boodskap in hul eie tyd relevant is (dit sal voortspruit uit 'n verhouding met die hoof van die kerk, naamlik Jesus Christus).  Die vraag is of die kerk dit regkry om daardie boodskap prakties uit te dra en uiteindelik vrug op hul arbeid het.

Die kerk het geen ander alternatief as om op 'n wye front aktief aan die kontemporêre gesprek deel te neem nie.  Dit sal nie help om maar net vir die beste te hoop nie.  Soos in die bekende lese "ora et labora" (bid en werk) genoem word, sal die kerk ook moet werk.  Geestelike leiers, gemeentelede en andere behoort oor kontemporêre kwessies saam te praat - hulle behoort die inisiatief te neem om toepaslike gesprekke op 'n relevante wyse binne die raamwerk van die sosiale markplein van denke te voer.  Om sinvol aan hierdie gesprek te kan deelneem, sal al die media benut moet word - veral ook die elektroniese media.  Dit is immers waar 'n baie groot deel van die gesprek plaasvind.

Alhoewel daar baie kerke is wat webtuistes het, is daar baie min mense buite hul kerk wat dit besoek. Sommige het groepe op Facebook - maar dit is weereens tot gemeentelede beperk wat daar saampraat.  Dink net daaraan: bykans een uit elke sewe mense op die aarde gebruik Facebook en internetgebruikers spandeer omtrent een uit elke sewe minute op Facebook!  Dit is nie alleen 'n geweldige groot gespreksruimte nie, dit bied 'n enorme geleentheid vir die kerk om sy boodskap in die wêreld uit te dra.  Om 'n groter impak te hê, moet verskillende benaderings op die internet gekombineer word, naamlik webtuistes, Facebook profiele en groepe, blogs, links asook gespreksforums.

Die kerk het in die verlede foute gemaak.  Baie van die mense wat vandag erg krities teenoor die kerk staan, het op 'n stadium binne die raamwerk van die kerk seer gekry.  Sommige van hulle het met 'n harde, ongenaakbare, liefdelose kerkstruktuur te doen gekry.  Die kerk het haarself ook baie maal in die verlede (ook in Suid Afrika tydens die Apartheidsjare) gekompromitteer deur met die heersende politieke gesag hande te vat.  Dit is egter ook so dat daar menigtes is wat deur die eeue die liefde van Christus in die kerk se ontferming en ondersteuning beleef het.  Christenstemme was deur die eeue die gewete van die samelewing (al het die kerk ook baie maal daarin misluk) en het 'n groot bydrae gelewer tot die uitroeiing van euwels soos slawerny.  Die kerk moet nie dat gebeure uit die verlede haar vrymoedigheid wegneem om as morele stem in die samelewing op te tree nie.  Maar dan sal die kerk ook prakties 'n voorbeeld moet stel.

'n Besondere boodskap

Ons lewe in 'n postmoderne wêreld waarin verskillende narratiewe (maniere om die wêreld te verstaan) met mekaar meeding.  (Dit beteken nie dat 'n mens by post-modernisme as filosofie en ideologie inkoop nie). Ons almal is bekend met die wetenskaplike narratief wat fokus op daardie deel van die wêreld wat vir ons instrumenteel toeganklik is.  Die wetenskap ondersoek die sigbare, tasbare wêreld van die sintuie en maak uitsprake oor hoe daardie wêreld werk.  Ons weet egter ook dat die kosmos baie meer kompleks is as wat wetenskaplikes ooit sou kon droom -  daar is vandag sprake van 'n hoër dimensionele struktuur van die kosmos en deeltjies wat nie waargeneem kan word nie. Die Scientistiese beskouing wat die omvang van die kosmos tot hierdie instrumenteel-waarneembare aspek reduseer, is duidelik baie simplisties - al is daar sommige in Afrikaanse kringe wat vandag nog hieroor opgewonde raak (sien my artikel "Om te glo of nie te glo nie...").

Die Christelike narratief sê dat die kosmos uit baie meer as net atome en molekules bestaan. Dit glo in die bestaan van 'n groter werklikheid - dat daar meer is as net die koue materiële wat in die wetenskap ondersoek word.  Christene sien in hul daaglikse lewe die wonder van God se hand.  Dat God lewe, dat Hy in ons lewens betrokke is, dat Hy vandag nog wonders doen.  Dat Christenwees 'n besondere ervaring is.  In 'n wêreld waar koue materialisme die wonder van hoop uitdoof, sal daar altyd 'n plek vir die Christelike boodskap wees - om soos lig in die wêreld te skyn.

Slot

Die kerk in Suid-Afrika staan voor 'n baie belangrike kruispad - gaan sy maar op die ou manier voortgaan en al meer irrelevant word?  Gaan sy vasstaan by uitgediende metodes en sieninge? Gaan sy al meer op die rand van die samelewing uitgestoot word?  Of gaan sy aanpas?  Gaan sy pragmaties die uitdaging in die oë kyk en vra: hoe kan ons, sonder om die kernwaarhede prys te gee, verander sodat dit wat ons doen en sê vir die mense van ons tyd sin maak? Meer nog: hoe kan ons boodskap vandag relevant wees? Die kerk het 'n besondere boodskap van hoop - maar hulle sal dit op 'n geloofwaardige wyse moet oordra. Ek glo dat die mense van ons tyd in afwagting na die kerk kyk om te sien of sy gaan opleef tot die oomblik. Die groot vraag is: gaan sy?

Hierdie artikel is gebaseer op praatjies wat die skrywer oor dieselfde onderwerp in gemeentes gee.
Skrywer: Dr Willie Mc Loud (ws.mcloud@gmail.com)

Verdere artikels deur Dr Willie Mc Loud:

Wetenskap en Geloof
Om te glo of nie te glo nie...  

Sy nuutste boek is Op Soek na Abraham en sy God. Dit handel oor die betroubaarheid van die vroeë Genesis verhale.

Monday, 4 June 2012

Is Bybelse wetenskap 'n pseudo-wetenskap?

In 'n brief in die Maart uitgawe van die tydskrif Markplein het ek genoem dat Bybelse "wetenskaplikes" hulle na my mening met 'n pseudo-wetenskap besig hou. Daar was heelwat reaksie op die brief en die hoofartikel in die Mei uitgawe het spesifiek op wetenskap vs pseudo-wetenskap gefokus. Na aanleiding van daardie artikel het ek my probleem met die Bybelse "wetenskaplikes" verder uitgelig in 'n brief wat pas in die Junie uitgawe verskyn het. Ek plaas die brief hier.


Dit lyk of my verwysing na "pseudo-wetenskaplike" metodiek asook na "sogenaamde Bybelse 'wetenskaplikes' wat hulle na my mening met 'n pseudo-wetenskap besig hou", in Markplein (Maart 2012), behoorlik die tonge aan die gons het. Soveel so dat Diek dit goedgedink het om met die hoofartikel in die Mei uitgawe daarop te reageer. Ek wil graag op my opmerkings uitbrei en sommer op my beurt op sy artikel reageer.


1.    Soos Diek tereg noem, moet ons eerstens oor die uitdrukking "wetenskap" besin. Hoe moet ons die term "Bybelse wetenskaplikes" verstaan wat deesdae gereeld in die media vir mense soos Sakkie Spangenberg gebruik word? Daar kan na my mening geen twyfel bestaan dat hierdie geleerdes (hoofsaaklik in navolging van die Duitse positivistiese tradisie) 'n modernistiese aanslag tot die ontleding van die Bybelse teks volg waarvolgens daar gepoog word om hierdie vakdissipline op 'n empiries-wetenskaplike basis te plaas nie. Dit is waarom hulle byvoorbeeld nie wonderwerke - wat 'n groter werklikheid as die wetenskaplik-toeganklike aspek van die kosmos veronderstel - in hul perspektief kan akkommodeer nie. Daarom glo daardie geleerdes nie in die maagdelike geboorte of die opstanding nie. Ek wil hierdie vertrekpunt ten sterkste kritiseer - ek dink nie ons moet enigsins so met die Bybelse teks omgaan nie. As ons "wetenskap" eerder as "sistematiese studieveld" (Diek se "kennis-paradigma") definieer, kan ons altyd 'n groter werklikheid veronderstel en op 'n sistematiese wyse van byvoorbeeld Kant se "praktiese rede" in ons hermeneutiese studie van die teks gebruik maak. Op hierdie wyse kan ons vir wonderwerke ruimte maak (sien in hierdie verband my artikel in Pomp.
 
2.    Indien die empiriese wetenskap (implisiet of eksplisiet) as vertrekpunt tot die studie van die Bybelse teks geneem word, dan moet die maatstaf van empiriese toetsing en verifikasie onderskryf word soos in die natuur- en sosiale wetenskappe. En hier lê die probleem. Ten spyte van die ensemble van geleerde opinies, is daar geen manier waarop hierdie "wetenskaplikes" hul teoretiese modelle aan gekontroleerde empiriese toetsing kan onderwerp en dus enige wesentlike kennis-uitsprake kan maak nie. Die ontstaansgeskiedenis van die Bybelse teks is vir altyd verlore wat impliseer dat geen van hul hipoteses hieromtrent sinvol getoets kan word nie - die JEPD hipotese oor die bronne vir die Ou Testament wat vir lank aanvaar is, het byvoorbeeld in die laaste tyd heeltemal verkrummel. Voorts is die argeologiese data feitlik nooit genoegsaam verteenwoordigend nie (dit is nie 'n gekontroleerde steekproef nie!) en ook nooit sonder interpretasie nie (wat soms wyd uiteenlopend is). Ons kan niks anders doen as om ruimte te maak vir verskeie narratiewe nie. Ek bring juis binnekort 'n boek uit waarin ek 'n totaal ander narratief as die heersende "wetenskaplike" beskouing omtrent die vroeë Genesis-verhale verdedig, naamlik dat ons met baie ou Israelitiese tradisies te doen het wat deur die Abrahamse familie uit Sumerië saamgebring is (Op soek na Abraham en sy God. 'n Studie oor die historisiteit van die vroeë Genesis verhale, Griffel). Dit beteken dat Abraham 'n historiese figuur was - ek toon dan ook dat daar goeie argeologiese getuienis is wat so 'n siening ondersteun. Verder is daar Sumeriese bronne en argeologiese data wat die historisiteit van die pre-patriargale verhale breedweg ondersteun.
 
3.    My grootste probleem met die gebruik van die benaming "Bybelse wetenskaplikes", is dat daardie geleerdes hierdie term gebruik om gewig aan hul uitsprake te gee. Hulle probeer daardeur hul narratief teenoor ander narratiewe as die "wetenskaplike" narratief voorhou - waarby hulle na my mening 'n empiriese wetenskap bedoel (dit is ook hoe die term in die volksmond verstaan word). Dit is nie alleen onwaar nie (hul studieveld voldoen glad nie aan die vereistes daarvoor nie), dit is inderwaarheid misleidend. Dit mislei die publiek wat dink dat hulle "wetenskaplikes" in die empiries-wetenskaplike sin is en wat op grond daarvan hulle uitsprake hoog aanslaan. Hierdie is tipies die situasie wanneer ons met 'n pseudo-wetenskap te doen het. Alhoewel daar 'n voortdurend-veranderende grys area tussen wetenskap en pseudo-wetenskap bestaan, vereis wetenskapsfilosowe tipies dat toetsbaarheid in die afbakeningskriteria wat tussen die twee onderskei, ingesluit word. Die wiki-definisie vir pseudo-wetenskap wat Diek aanhaal beklemtoon ook dat dit nie "betroubaar getoets" kan word nie. Hyself lê klem op "bewyse". Dit is ongelukkig presies wat in die "Bybelse wetenskap" ontbreek - daar is geen manier waarop hul hipoteses op 'n empiries-betroubare wyse getoets kan word nie. 

Ek is dankbaar dat Markplein vir ander opinies ruimte maak. Alhoewel Coenie in die laaste uitgawe van Markplein wonder of godsdienstige gesprek oor uiteenlopende standpunte heen sinvol kan plaasvind, wil ek hom bemoedig: Markplein skep so 'n gespreksruimte en ek is seker dat ons mettertyd 'n ware "oop gesprek" hier sal sien.

Klik by "onderwerpe" (regs op die blog) op die woord "Markplein" om die ander brief ook te lees.

Sunday, 20 May 2012

Die stilte voor die storm?

Die verwysings in die media na 'n moontlike oorlog teen Iran het die laaste tyd ietwat afgeneem. Beteken dit dat die waarskynlikheid van so 'n oorlog ook afgeneem het, of is dit net die stilte voor die storm? In hierdie essay wys ek daarop dat daar 'n hele paar dinge is wat eers in plek moet wees voordat die Weste by so 'n oorlog betrokke sal raak.  Maar wanneer dit gebeur, kan ons verwag dat dit maklik tot 'n wye Midde-Oosterse oorlog kan uitkring.  

Daar was momente in die geskiedenis wat altyd onthou sal word omdat dit so ironies was.  Een daarvan is die verwysing van die destydse Britse eerste minister Neville Chamberlain op 30 September 1938 na "vrede vir ons tyd". Dit was kort nadat die belangrikste Europese moondhede en Nazi Duitsland die Munich Ooreenkoms gesluit het, waarvolgens hulle die Nazi's tegemoet gekom het met hul instemming tot die anneksasie van Sudetenland in Tsjeggo-Slowakye. Binne 'n jaar daarna het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek.

Daar geld vandag 'n baie soortgelyke situasie. Nadat die spanning met Iran in die eerste paar maande van 2012 aansienlik toegeneem het, het die groot moondhede (Ses Nasies) intussen hul gesprek met Iran rondom die land se atoom verrykingsprogram hervat. Die eerste gesprek het op 14 April in Istanbul in Turkye plaasgevind en die volgende byeenkoms is op 23 Mei in Bagdad in Irak. Dit lyk of hulle die Irannese op 'n manier probeer tegemoet kom - soos die Europese moondhede destyds met die Nazi's.  Barak Obama is gewoon die hedendaagse Chamberlain wat agteroor buig om 'n oorlog te probeer vermy.  Die kaarte is egter baie swaar teen enige vreedsame oplossing gelaai. Die kans dat so 'n oorlog gaan uitbreek is baie groot - al wat dit teëhou is die feit dat die wêreldsituasie (vanuit 'n Westerse perspektief) nog nie heeltemal vir so 'n oorlog gereed is nie.

Waarom is so 'n oorlog bykans onafwendbaar?

Die enkele belangrikste rede vir so 'n oorlog is seker dat Israel die Irannese verrykingsprogram as 'n eksistensiële bedreiging beskou.  Dit beteken dat die Israeli's van mening is dat hierdie program tot die kernbewapening van Iran kan lei, wat die toekomstige voortbestaan van Israel sal bedreig.  Die Israeli's verwys in hierdie verband na die Nazi holokarst - die eerste minister Benjamin Netanyahu het reeds genoem dat hy sal toesien dat so iets nie weer gebeur nie. Die Israeli's sal nie enige kanse met hul eie voortbestaan as 'n volk in die land Israel neem nie.

Die Israeli's wys daarop dat die Irannese leiers al verskeie dreigemente in hierdie verband gemaak het - op Sondag 20 Mei het die militêre stafhoof, Maj. Gen. Hassan Firouzabadi, weer tydens 'n toespraak aan 'n verdedigingsbyeenkoms gesê: “The Iranian nation is standing for its cause and that is the full annihilation of Israel".  Die Irannese het ook 'n tyd gelede dit reggekry om 'n verrykkingsgraad van 20% te bereik (wat beteken dat verryking vir wapendoeleindes binne hul bereik is). Voorts is hulle baie sku om met die Internasionale Atoomenergie Agentskap (IAEA) saam te werk - veral wat hul ondergrondse fasiliteit by Parchin betref. Die Israeli's is van mening dat die Irannese vir tyd speel in 'n poging om alle bewyse van  kern-verwante ploftoetse daar te verwyder. Verder is hulle bekommerd oor die ander ondergrondse fasiliteit by Dasht e-Kavir (Groot Sout Woestyn). Die Irannese bedreiging het oor die jare toegeneem en is nou op 'n stadium waar dit 'n wesentlike gevaar vir Israel kan inhou.

Ons moet egter nie die Israelse bedreiging los van die groter prentjie sien nie. Israel se belange is ten nouste met die Anglo-Amerikaanse belange verweef.  Ons kan eintlik van die Anglo-Amerika-Israel belange praat.  Die belangrikste rede waarom die Engelse destyds tot die Israeli's se vestiging in die land Israel toegestem het (die Balfour Verklaring), was omdat dit 'n eenvoudige manier was om 'n permanente vastrap plek vir hul eie belange in die Midde-Ooste te verseker.  Vanuit 'n geopolitieke perspektief was dit 'n briljante skuif.

Die Anglo-Amerikaners het deur die eeue hul belange deur vrede sowel as oorlog bevorder. Hulle werk volgens 'n langtermyn plan waarvolgens hulle hul finansiële belange deur opeenvolgende oorlog en vredesiklusse bevorder (sien die artikel wat ek op 8 Januarie 2012 op hierdie blog gepos het, "Is 'n Irannese Oorlog op hande? - 'n ondersoek na oorlog en vredesiklusse"). My studie van historiese oorlog en vredesiklusse dui daarop dat ons rondom die jaar 2014 'n baie groot oorlog teen Iran kan verwag (Hierdie datum is op die 4 oorlog en vredesiklusse van die vorige 100 jaar gebaseer). Die rede waarom Iran (saam met Sirië) vir hierdie oorlog op gelyn word, is nie net omdat hulle 'n eksistensiële bedreiging vir Israel inhou nie, maar ook omdat hulle 'n kritiese bedreiging vir die Anglo-Amerikaanse belange in die Islamitiese Midde-Ooste inhou.  Sulke oorloë volg tipies wanneer daar 'n kompeterende moondheid is wat die Anglo-Amerikaanse belange ernstig bedreig.

As dit sou gebeur dat Islamitiese groepe regdeur die gebied waar die Arabiese Lente voorgekom het met Iran affilieer, sal hulle die Weste effektief uit daardie gebied kan uitsluit. Maar nou word die hele Sunni-groepering onder die Moslems (die Moslembroeder-groepe ingesluit) in effek in 'n losse alliansie teen die Iran-Sirië-Hezbollah groepering betrek (sien die artikel wat ek op 27 Februarie 2012 op hierdie blog gepos het: "Die Siriese konflik verdeel Israel se vyande"). Dit beteken dat bykans die hele Moslem wêreld (die Midde-Oosterse Sunni groepering) gedwing word om met die Weste saam te werk omdat hulle Iran as 'n vyand beskou - hoofsaaklik omdat Iran die Siriese regering teen die rebelle ondersteun. Dit is waarom dit so belangrik is dat die aanloop tot so 'n oorlog reg "bestuur" word om te verseker dat die Weste nie net as beskermers van Israel optree nie, maar ook van die Sunni Moslems (soos hulle in Libië gedoen het). So 'n oorlog sal baie van die lande waar die Arabiese Lente plaasgevind het, in 'n meer permanente alliansie met die Weste betrek.

Daar is ook ekonomiese redes vir so 'n oorlog. Soos ek in die genoemde artikel oor oorlog en vredesiklusse aantoon, het al die groot oorloë oor die afgelope eeu groei in die Westerse ekonomieë gestimuleer.  Al hierdie oorloë het dan ook op 'n periode van ernstige ekonomiese insinking gevolg.  Die oorlogsfase begin met 'n groot finansiële krisis en gepaardgaande resessie/depressie (oor die afgelope eeu: 1907-8, 1929-33, 1957-58, 1980-82), gevolg deur 'n periode van ekonomiese stagnasie en 'n verdere resessie, waarna die oorlog uitbreek. Die mees onlangse siklus het duidelik met die ekonomiese krisis en "groot resessie" van 2008-9 begin.  Verskeie Europese ekonomieë is tans besig om 'n verdere resessie in te gaan (sommige is al lankal daarin) en die kans is goed dat dit die VSA ekonomie kan aftrek. Dit is tipies wanneer ons die volgende oorlog kan verwag.  

Wat moet eers in gereedheid gebring word?

Daar is egter baie dinge wat eers in gereedheid gebring moet word voordat die Weste met so 'n oorlog gemaklik sal wees. Ek gaan gewoon 'n aantal daarvan kortliks toelig:

1. Die belangrikste gevaar vir die Westerse belange is dat 'n Israeliese aanval teen Iran die Moslem wêreld teen Israel sal verenig. Dit is waarom die VSA baie sterk daaroor voel dat so 'n aanval binne die raamwerk van breër alliansie plaasvind wat nie alleen NAVO nie, maar ook belangrike Moslem lande soos Katar, die Verenigde Emirate en selfs Saoedi-Arabië insluit.  Dit is ook die rede waarom die VSA so by Israel aanhou om die vredesproses met die Palestyne aan die gang te kry - al bereik hulle nie enige resultate nie. Dit temper die negatiewe sentiment jeens Israel. Dit is dan ook opvallend dat Benjamin Netanyahu vroeg in Mei die Kadima party by sy regerende alliansie ingesluit het (nadat Kadima net twee weke te vore van leierskap verwissel het). Sy vorige alliansie vennote het nie aan hom veel ruimte vir sulke onderhandelinge gegee nie - die Kadima party daarenteen, is sterk op vrede met die Palestyne gefokus.

Die nuwe alliansie plaas Israel in 'n uitstekende posisie om 'n aanval op Iran te loods. Dit is nie alleen die breedste regerende alliansie in Israel se geskiedenis nie (wat 'n baie stabiele regering beteken), dit sluit ook drie vorige stafhoofde van die Israeli weermag in, naamlik Ehud Barak (minister van verdediging), Shaul Mofaz (visie eerste minister - die Kadima leier) en Moshe Yaalon (minister van strategiese belange).  Shaul Mofaz is nou verantwoordelik om die Palestynse weerstand teen die vredesproses af te breek en dit weer aan die gang te kry.  

2. Dit is belangrik dat Hamas, die Moslem groep wat die Gaza gebied (direk suid van Israel) regeer, verder van die Iran alliansie vervreemd raak.  Alhoewel Hamas hulleself tot onlangs nog primêr ten opsigte van hul vyandskap met Israel gedefinieer het, het die Siriese konflik hulle gedwing om van posisie te verander.  Hulle steun nou die Siriese opposisie teenoor die regering wat op hul beurt deur die Irannese ondersteun word. Die rede vir hierdie verandering is dat die Siriese opposisie die Siriese Moslembroeders insluit wat soos Hamas 'n uitvloeisel van die Egiptiese Moslembroeders is.  Daar is selfs berigte dat die Moslembroeders, wat 'n groot invloed in die Siriese Nasionale Raad het (wat as 'n buitelandse spreekbuis vir die opposisie optree), nou aktief met die bewapening van die Vrye Siriese Weermag begin het.

Daar is verskillende dinge wat Hamas na die middelgrond dwing.  Nadat die verhouding tussen Iran en Hamas onlangs begin agteruit gaan het, het die Irannese begin om die Islamitiese Jihad, 'n ander groep in die Gaza gebied, van wapens te voorsien. Hamas bevind hulle dus nie meer aan die ekstreme end van die spektrum nie. Die pragmatisme van die ander Broeders groepe (veral die in Egipte, Tunisië en Sirië), dien ook as voorbeeld vir Hamas. Verder begin Hamas en Fatah, die ander Palestynse groep wat oor die Wesbank heers, ook al nouer saamwerk en daar is 'n moontlikheid dat hulle ooreenkoms om voor die einde van die jaar 'n verkiesing te hou, sal realiseer. Dan sal Hamas nie meer die absolute heerser in die Gaza gebied wees nie.  Dit beteken dat Hamas, soos die ander Broeders groepe in die lande waar die Arabiese opstande suksesvol was, as 'n normale politieke party binne 'n demokratiese bestel sal begin funksioneer.

3. Die lande waar die Arabiese opstande plaasgevind het, moet stabiele regerings hê. Stabiele regerings sal verseker dat daar nie groepe in daardie lande is wat vryelik opereer en in staat sal wees om die anti-Iran alliansie te destabiliseer nie. Dit is veral waar van Libië waar daar in Junie 'n verkiesing gehou word.  Verkiesings is egter nie genoeg nie; dit moet regerings wees wat 'n demokratiese bestel onderskryf, wat in staat is om daardie lande effektiewelik te beheer en bereid is om (vanuit 'n Westerse perspektief) met Westerse lande saam te werk. In Tunisië is daar reeds 'n stabiele regering wat grotendeels pro-Westers is. In Egipte is daar al parlementêre verkiesings gehou. Alhoewel die Islamiete omtrent 70% van die setels gewen het, het die parlement nie veel uitvoerende mag nie.  Die presidensiële verkiesings is op 23 en 24 Mei, met die tweede rondte op 16 en 17 Junie.

4. Die Siriese konflik polariseer die Moslem wêreld.  Hoe langer dit voortduur, hoe meer sal die Moslem lande waar die Arabiese opstande plaasgevind het - waar die Islamitiese partye (en veral die Moslembroeder groepe) oor die algemeen baie steun geniet - in 'n anti-Iran groepering gekonsolideer word.  Dit beteken dat dit in die Westerse belang is dat die konflik solank moontlik uitgerek word.  Sodra die omringende lande uiteindelik wel direk by die konflik betrokke raak (deur bv. buffersones), is die moontlikheid groot dat dit in 'n wyer Midde-Oosterse oorlog kan uitkring waarin lande soos Iran, Turkye, Katar, Saoedi-Arabië (en dalk Egipte, Tunisië en Libië) asook NAVO betrokke is. Selfs Rusland kan indirek (selfs direk?) daarby betrokke raak. So 'n oorlog sal die anti-Iran groepering redelik suksesvol binne 'n permanente alliansie met die Weste kan intrek.

Soos die Siriese konflik voortsleep, sal die twee opponerende Siriese groepe - wat hulle by die rebelle of die regering skaar - ook al duideliker uitkristaliseer. Die Siriese opposisie, wat redelik verdeeld is, sal moet begin saamwerk om 'n meer verteenwoordigende liggaam daar te stel met wie die "Vriende van Sirië" kan saamwerk. Daar is sommige onder die opposisie wat van mening is dat die invloed van die Moslembroeders in die Siriese Nasionale Raad te groot is en dat hulle Sirië op 'n ondemokratiese wyse sal regeer as hulle aan bewind kom.  Hulle is ook bang dat die Sunni's wraak op die regerende Alawiete sal neem. Hoe dit ook al sy, dit lyk of die Vrye Siriese Weermag die afname in geweld tydens die pogings om die VN-plan van Kofi Annan te implementeer, gebruik om beter te organiseer en te bewapen. Die Internasionale Rooi Kruis is van mening dat die konflik in dele van Sirië reeds as 'n burgeroorlog geklassifiseer moet word. Dit beteken dat die Siriese konflik waarskynlik nog lank sal voortduur - tot die Weste gereed is om betrokke te raak.  

5. Daar is verskeie algemene dinge wat hierby gevoeg kan word. So is daar die Israelse en NAVO se missielskilde wat al funksioneer, maar nog nie ten volle operasioneel is nie. Die Israeli's het hul nuut opgerigte skild 'n paar weke gelede getoets toe die Islamitiese Jihad Israel met missiele bestook het en dit was besonder suksesvol. Die VSA sal verder ook graag hul betrokkenheid in Afganistan wil afskaal voordat so 'n oorlog uitbreek (hul huidige betrokkenheid duur tot 2014). Op die afgelope NAVO vergadering is daar dan ook besluit dat die Afgaanse troepe vanaf mid-2013 die leiding in alle operasies sal begin neem.

En dan is daar natuurlik die VSA presidentsverkiesing in November. Dit is baie onwaarskynlik dat president Obama, wat homself as iemand voorhou wat vrede eerder as oorlog voorstaan, voor die verkiesing by 'n oorlog teen Iran betrokke sal raak. Alhoewel hy daarna meer gewillig sal wees, is die waarskynlikheid vir 'n oorlog baie groter as die Republikeinse kandidaat (waarskynlik Mitt Romney) die verkiesing in November wen.  Laastens is daar die Westerse olieboikot teen Iran waarvolgens lande wat Irannese olie invoer tot 28 Junie tyd het om ander verskaffers te vind. Dit sal hopenlik die impak van so 'n oorlog op die olieprys verminder.

Slot

Alhoewel die konflik met Iran die laaste tyd al minder in die nuus was, is die Weste onverpoosd besig om hulle op so 'n moontlike oorlog voor te berei. Die VSA het die laaste tyd aan verskeie oorlogsoefeninge in die Middellandse See, Jordanië (langs die Siriese grens) en elders deelgeneem. Daar is ook baie ander dinge wat stadig maar seker in plek skuif sodat die Westerse belange deur so 'n oorlog bevorder kan word.  Die heel belangrikste is seker om te verseker dat 'n wye Sunni-Moslem groepering van regoor die Midde-Ooste (en Noord-Afrika) by so 'n alliansie teen Iran ingesluit word.

Die hernude pogings om 'n ooreenkoms met Iran oor hul atoom verrykingsprogram te bereik, het wel die situasie ietwat getemper, maar ons moet dit waarskynlik in dieselfde lig sien as die destydse pogings om 'n kompromis met Nazi Duitsland te bereik. Dit is onwaarskynlik dat daar "vrede vir ons leeftyd" sal wees. Alhoewel niemand die toekoms kan voorspel nie, lyk dit so al of daar 'n baie groot oorlog op pad is.

 Skrywer: Dr Willie Mc Loud (http://www.wmcloud.blogspot.com/)

Sunday, 15 April 2012

Om te glo of nie te glo nie...

Hierdie artikel het in Pomp 12 verskyn en word met toestemming hier gepos.

Daar het ‘n nuwe era vir Afrikaners aangebreek. Vir die eerste keer in hulle geskiedenis voel hulle hulself vry – intellektueel vry. Vry om oor alles spontaan na te dink – en veral oor geloofsake. Tot onlangs was die Afrikaner nog vasgevang in ‘n godsdienstige paradigma waarin dit wat die kerk gesê het sondermeer aanvaar is. Maar daardie tyd is verby. Wat die geloof betref, wil al meer Afrikaners op hul eie voete staan. Hulle wil dinge vir hulleself uitmaak. Dit sal jammer wees as hulle hul onbewustelik weer by ‘n nuwe oënskynlik-wetenskaplike paradigma laat intrek – een wat glad nie so bevrydend is as wat ‘n mens aanvanklik sou dink nie. As hulle in effek nie vir hulleself dink nie, maar weer andere naloop.

Die tydvak van verandering wat die Afrikaner tans beleef herinner baie aan die periode van Verligting in die Europese geskiedenis. In ‘n sekere sin het die Afrikaner in Suid-Afrika die Europese Verligting en die daaropvolgende ingrypende veranderinge in die Europese samelewing vrygespring – en beleef hulle nou hul eie verligting. Soos in agtiende eeuse Europa is daar ‘n wegbeweeg van die aanvaarding van die kerk se gesag – wat in beide gevalle in ‘n geloofwaardigheidskrisis gedompel is vanweë hul steun aan ‘n onderdrukkende politieke gesag. In beide gevalle het die politieke veranderinge die deure van twyfel wyd laat oopswaai. En in beide gevalle het wetenskaplike skeptisisme deur daardie deur begin beur. Na die Verligting het die wetenskaplike paradigma die Christelike een tot ‘n groot mate in Europa verplaas. Gaan dieselfde in Afrikaner kringe gebeur? Of het die Afrikaner steeds rede om te glo?

Die impak van die Europese Verligting

Een van die groot name in die Europese Verligting is dié van die filosoof Immanuel Kant. In een van sy skrywes het Kant die publiek aangemoedig om vir hulself te begin dink – om nie maar die leerstellings wat aan hulle voorgehou word slaafs na die volg nie. Hyself het ook diep nagedink oor die vraag of daar nog plek is vir geloof in ‘n wêreld waarin Newton se vergelykings die hoop uitgehou het dat alles uiteindelik wetenskaplik verklaar sal kan word. Kant se gevolgtrekking was dat daar sekere beperkinge is wat suiwer rede nooit sal kan oorkom nie en dit skep die ruimte waarin geloof kan bestaan.

Sedert die Verligting het die Christelike paradigma wat die Europese samelewing gekenmerk het, stadig maar seker plek gemaak vir die wetenskaplike paradigma. Waar mense voorheen die Bybel as riglyn tot die verstaan van die wêreld gebruik het, het hulle nou die wetenskap as riglyn aanvaar. Vir die meeste natuur en geesteswetenskaplikes, asook gewone mense wat hierdie paradigma aanvaar, is die wetenskap die enigste geldige manier waarop ons na ons wêreld kan kyk (dit word ook scientisme genoem). Vir baie beteken dit, in teenstelling met wat Kant voorgestel het, dat die wetenskap uiteindelik al die antwoorde sal hê. Daar is verskeie vooraanstaande wetenskaplikes wat glo dat die wetenskap uiteindelik alles sal kan verklaar. So sal geloof uiteindelik verdwyn.

Dit geld egter nie net die wetenskaplikes nie. Soos in die geesteswetenskappe, het baie teoloë ook in die gees van die dag in die wetenskaplike paradigma ingekoop. Ek praat natuurlik nie nou van behoudende teoloë of daardie fundamentele teoloë wat selfs met Kant ‘n probleem gehad het omdat hy deel van die Verligting was nie. Wat daardie teoloë betref, het hulle aanvaar dat die wetenskaplike metode ook as vertrekpunt tot die studie van die Bybel gebruik moet word. By die wetenskaplike metode is verstaan die gekontoleerde ondersoek na die wette wat ons wêreld – wat tot die materiële wêreld gereduseer is – onderlê. Hiervolgens moet die Bybel vanuit ‘n wetenskaplike bril gelees word.

Volgens hierdie benadering tot die Bybel kan dit wat in die realm van die bonatuurlike val nie meer aanvaar word nie. Dit beteken noodwendig dat alle verwysings na die bonatuurlike, na wonderwerke en na profesieë met ‘n knippie sout geneem moet word. Dit wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie, behoort tot die domain van bygeloof en oudtydse fabels. Vir die moderne teoloog is dit wat nie wetenskaplik verklaarbaar is nie ook nie moontlik nie. Die geloof moet inval by dit wat die wetenskap sê.

Afrikaanse teoloë het, in navolging van hul oorsese eweknieë, ook ‘n geruime tyd terug begin om die wetenskaplike metode by die studie van die Bybel te inkorporeer – dit selfs as vertrekpunt tot die studie van die Bybel begin gebruik. Mettertyd het die implikasies van die voorafveronderstellings wat daarmee gepaard gaan egter – soos ‘n mens kan dink – daartoe gelei dat selfs die basiswaarhede van die Bybel in gedrang gekom het. Voor die aanslag van die wetenskap het al meer geestelike dominos geval.

Alhoewel sommige teoloë wat oënskynlik meer behoudend ingestel is, probeer wal gooi en die streep by Jesus probeer trek, is hulle kans op sukses maar skraal. Want as jy die wetenskaplike metode as vertrekpunt neem, wat kan jy anders verwag – jy sal noodwendig by die gevolgtrekking uitkom dat die meeste van dit wat in die Evangelies opgeskryf is nie werklik kon gebeur nie, dat Jesus se profesieë oor die val van Jerusalem eers na die gebeure geskryf is en dat wondergebeure soos die maagdelike geboorte en opstanding nie moontlik is nie.

Teoloë in die sogenaamde Nuwe Hervorming wat hul vertroue in die kerk verloor het – nie net oor dié se betrokkenheid by die apartheidsbeleid nie, maar ook vanweë die selektiewe wyse waarop die kerk se teoloë volgens hulle die wetenskaplike metode op die Bybel toepas – het skielik met groot bravade in ware Bybelwetenskaplikes ontpop. Hulle is ten minste konsekwent – hulle neem die wetenskaplike metode tot sy logiese uiteindelike gevolgtrekking.

Die wetenskaplike paradigma is in ‘n krisis

‘n Mens wonder of Afrikaners en veral Afrikaner intellektia ook hierdie pad sal volg. Of hulle ook deur die “wetenskaplike” betower sal word. Of hulle ook die Christelike paradigma vir die wetenskaplike sal verruil. Gelukkig het die Afrikaner vandag ‘n verdere opsie. Daar is al meer stemme wat opgaan teen die wetenskaplike paradigma. Dit is nie dat die wetenskap verwerp word nie. Dit is gewoon dat al meer mense besef dat die wetenskap nie al die antwoorde het of ooit sal hê nie.

Wetenskaplikes kom agter dat ons wêreld baie meer kompleks is as wat die moderne mens – wat tussen die agtiende en die vroeg-twintigste eeu gelewe het – ooit sou kon dink. Alhoewel dit eens gelyk het of Newton se vergelykings dinge perfek verklaar, weet ons vandag dat dit nie so is nie. Einstein se vergelykings, wat voortbou op sy teorie dat massa ruimte buig, gee ‘n baie meer akkurate beskrywing wat inpas by ons waarnemings. Tog moes selfs Einstein sy kop in ongeloof skud as dit by kwantumfisika kom. Want Einstein se relatiwiteitsteorie en kwantumfisika gee uiteenlopende resultate.

In ‘n sekere sin sluit Einstein die moderne era af en begin die post-moderne bedeling by kwantumfisika. En met kwantumfisika verdwyn die self-versekerdheid van die moderne mens soos mis voor die son. Met kwantumfisika betree ons die post-moderne era waarin mense ten eerste ‘n afkeer in die hoogwaardige houding van modernisme het en ten tweede besef dat ons steeds onseker is oor baie dinge waaroor die moderne mens gedink het dat hy seker is.

Die inherente teenstrydigheid tussen relatiwiteitsteorie en kwantumfisika bring die onsekerheid van die post-moderne bedeling in fokus. Volgens Einstein kan niks vinniger as die spoed van lig beweeg nie; volgens kwantumfisika is die kosmos op een of ander onverstaanbare wyse onderling verbonde en kan “boodskappe” baie vinniger as die spoed van lig trek. Volgens Einstein is die wette van die kosmos deterministies – volgens kwantumfisika kan die uitkoms nie vooraf bepaal word nie. Volgens Einstein kan niks sonder ‘n oorsaak gebeur nie – elke deeltjie het sy bepaalde posisie waaruit dit deur ‘n ander deeltjie verplaas kan word. Maar volgens kwantumfisika word hierdie oorsaak-en-gevolg beginsel opgehef – ons kan dieselfde deeltjie (die sogenaamde kwantum superpositionering) gelyktydig op twee verskillende plekke aantref en ons kan twee verskillende deeltjies op dieselfde oomblik op dieselfde plek aantref (die sogenaamde Bose-Einstein kondensaat). Laasgenoemde val in die raamwerk van dinge wat (alhoewel op ‘n groter skaal) tradisioneel as “wonderwerke” beskryf sou word.

Hoe kan twee strydige teorieë albei die kosmos korrek beskryf? Ons teorieë skiet duidelik te skort. Wat meer is, ons het geen manier om vas te stel of ons teorieë enigsins die kosmos beskryf soos dit werklik is nie. Dit is modelle wat goed met ons waarnemings ooreenkom, maar ons weet nie of dit is hoe die kosmos werklik daar uitsien nie. Buig massa werklik die ruimte of is dit maar net ‘n sinvolle metafoor? Daar is geen manier om dit te bepaal nie! Dit geld ook enige teorie oor die ontstaan van die kosmos – soos dié van die Groot Knal. Dit is weereens ‘n goeie model wat met ons waarnemings ooreenkom – maar die wetenskap sal nooit kan sê hoe die kosmos werklik ontstaan het nie. Al wil wetenskaplikes graag glo dat hulle eendag al die antwoorde sal hê, is dit redelik duidelik dat hulle dit nooit sal hê nie.

‘n Nuutgevonde openheid in ‘n postmoderne era

In ‘n poging om ‘n finale teorie te ontwikkel wat alle bekende kragte integreer, begin wetenskaplikes hulle tot interessante uitheemse postulate wend. So stel wetenskaplikes voor dat daar sekere ruimtelike dimensies bestaan wat vir ons sintuie ontoeganklik is. Hierdie dimensies is blykbaar baie klein en ineengevou. Daar kan voorts ook ander tyd-dimensies as die bekende een bestaan. Dit beteken dat daar ‘n hele wêreld binne ons wêreld kan bestaan wat vir ons sintuiglik en instrumenteel ontoeganklik is!

Dit lyk of die wetenskap begin worstel met die moontlike bestaan van ‘n “noumenele” realm – soos Kant daardie aspek van die kosmos genoem het wat vir ons sintuie ontoeganklik is. Dit is juis waarom Kant so belangrik is vir ons bespreking – hy het meer as 200 jaar gelede reeds die bestaan van ‘n noumenele aspek van die kosmos gepostuleer wat baie ooreenkom met die hoër dimensionele struktuur van ons kosmos waarvan hedendaagse teoretiese fisici praat. Dit is hier in die noumenele realm waar Kant die ruimte vind waarbinne die menslike gees en engele kan bestaan.

Wetenskaplikes postuleer selfs die bestaan van onwaarneembare deeltjies! Hulle postuleer byvoorbeeld die bestaan van gravitone wat volgens vooruitskouings van tegnologiese ontwikkeling selfs in ‘n honderd jaar nie waargeneem sal kan word nie. Hierdie deeltjies, wat gravitasievelde onderlê, is so skelm dat ons hulle net nie kan waarneem nie. Maar dink nou daaroor: is dit nie verbasend dat gravitasie so ‘n basiese deel van ons lewe uitmaak, terwyl die deeltjies wat dit daarstel nie waargeneem kan word nie!

Hoeveel ander deeltjies is vir ons verborge? En wat van die moontlike bestaan van liggame wat suiwer uit sulke deeltjies saamgestel is? Hoe ‘n groot deel van die skepping sal ons nooit met ons sintuie kan waarneem nie? Wat buite die vermoë van die enige menslike laboratorium val! Wie kan nog die positiwistiese standpunt huldig dat dit wat nie waargeneem kan word nie ook nie bestaan nie. Dit is duidelik dat enige metafisiese beskouing wat die essensie van ons wêreld tot die wetenskaplik-verklaarbare beperk, ‘n totaal reduksionele beskouing is.

Wanneer ons aanvaar dat ons wêreld baie wyer strek as die vier dimensies van ruimte en tyd, dat dit baie dieper gaan as meganisties-deterministiese beskrywings van atome en selle, dat dit baie meer omvattend is as direk waarneembare dinge wat in ‘n eksperiment ondersoek kan word, dan kan ons, soos Kant voorstel, ruimte maak vir ‘n noumenele of geestelike realm – waarbinne die menslike gees, ander geeste asook die Goddelike Gees opereer. Dan kan ons glo dat daar ingrypende oomblike in die geskiedenis was toe God met sy hand die gordyn van die materiële wêreld effe oopgetrek en iets van Homself aan ons openbaar het.

Dan kan ons maar in God glo. En as ons in God glo – wie wil in ‘n God glo wat nie wonderwerke kan doen nie. Wie wil in ‘n God glo wat ver weg staan – wat nie persoonlik met ons kan praat nie? Wie wil in ‘n God glo wat nie God is nie! Daarom kan Christene maar glo in die maagdelike geboorte en die opstanding.

Wat staan ons te doen?

Aangesien daar steeds diegene is wat met groot bravade ander probeer oortuig dat elementêre deeltjies, atome, selle en organismes die somtotaal van die kosmos is, bestaan die gevaar dat die Afrikaner na hulle sal luister en uiteindelik hulle geloof op die altaar van die wetenskap sal prysgee. Wanneer hy die mes van wetenskaplike skeptisisme in die hand neem, kan hy so maklik die hart uit sy geloof wegsny. Maar dit is op hierdie punt dat ons moet besef dat ons nie ons geloof so blindelings in die wetenskap moet plaas nie. Alhoewel diegene wat dit doen vas glo dat hulle reg is – is dit ‘n vreemde geloof want dit is ‘n geloof sonder enige noemenswaardige hoop.

Wat staan ons te doen? Alhoewel die wetenskap sy plek het, is daar duidelik ook ruimte vir ware geloof. Die wetenskap en geloof behoort hande te vat. Wat egter die gebruik van die wetenskaplike metode vir Bybelanalise betref, dink ek die tyd het gekom om dit soos ‘n onvanpaste gereedskapstuk eenkant te sit – as ongeskik vir die kompleksiteit van Bybelse ontleding. Die inkorporering daarvan in die studie van die Bybel is ‘n oorblyfsel van modernisme. Die studie van die Bybel is nie en kan nooit werklik ‘n wetenskap wees nie.

As alternatief kan ons weereens by Kant gaan kers opsteek. Hy ontwikkel die konsep van “praktiese rede” – baie ooreenkomstig Aristoteles se “praktiese wysheid” (phronesis) wat eerder met gesonde oordeel as wetenskaplike kennis in verband staan. Die wyse mens (phronimos) besin oor die praktiese werklikheid van ons menslike bestaan deur die inagneming van ‘n verskeidenheid situasies, besluite en aksies (ek is nie hier soseer geintereseerd in die uiteindelike etiese oogmerk daarvan nie). As Kant van “praktiese rede” praat, dan aanvaar hy dat ons vanuit ons praktiese belewing van die lewe moet argumenteer. Dat ons die werklikheid – waaroor die wetenskap ons so baie leer – as vertrekpunt neem in ons denke. Maar terselftertyd aanvaar praktiese rede dat die kosmos baie wyer strek as bloot die sintuiglik-waarneembare.

Volgens Kant kan ons vanuit ons praktiese belewing van die lewe sekere afleidings oor die groter geheel maak – oor daardie aspekte van die kosmos wat nie vir ons sintuie toeganklik is nie. Ons kan vanuit die sintuiglik waarneembare (die fenomenele) oor die nie-direk-waarneembare (noumenele) argumenteer. Kant argumenteer byvoorbeeld dat die praktiese werklikheid van menslike verantwoordelik vir keuses (waarsonder daar geen regstelsel kan wees nie) aantoon dat mense nie net tot die fenomenele wêreld behoort nie, maar ook tot die noumenele. Dit is omdat ons tot hierdie noumenele aspek van die kosmos behoort – waar die wet van vryheid geld – dat ons vryelik keuses kan uitoefen ten spyte daarvan dat die wêreld rondom ons deterministies is. Al kan ‘n groot deel van ons gedrag maklik voorspel word, is daar altyd die moontlikheid vir ingrypende verandering en is ons uiteindelik verantwoordelikheid vir ons dade.

Baie teoloë gebruik in elk geval ‘n mate van “praktiese wysheid” – alhoewel miskien nie doelbewus as ‘n metode vir Bybelanalise nie. Praktiese wysheid kan gemaklik binne die hermeneutiese tradisie geakkomodeer word – daar is verskeie studies wat juis daarop fokus. Na my mening moet praktiese wysheid en rede doelgerig by die studie van die Bybel ingespan word. Daar is dan ook Bybelstudente wat praktiese rede gebruik om vanuit die gegewens in die Nuwe Testament ten gunste van byvoorbeeld die historisiteit van die opstanding te argumenteer. ‘n Mens kan selfs so ver gaan om te sê dat wetenskaplikes vandag van Kant se praktiese rede gebruikmaak as hulle kennis-uitsprake maak oor daardie dimensies wat vir ons sintuie ontoeganklik is.

Slotgedagtes

My hoop is dat Afrikaners, in die wydste sin van die woord, net soos Immanuel Kant destyds tydens die Europese Verligting, hul nuut gevonde vryheid met verantwoordelikheid sal uitleef. Dat hulle mooi sal nadink voordat hulle hul geloof in God vir ‘n geloof in die wetenskap verruil. Na my mening is beide nodig. Die wetenskap het sy plek – solank dit nie metafisiese aansprake maak omtrent die somtotaal van dit wat bestaan nie. ‘n Eerlike wetenskap erken dat die agtiende eeuse vertroue wat die verligtingsmens so arrogant en selfversekerd in die wetenskap gestel het, heeltemal misplaas was. Maar ter selftertyd moet die eerlike gelowige erken dat ons nie maar alles wat tradisioneel in die Christelike tradisie oorgelewer is, sonder kritiek kan aanvaar nie.

Gesonde vryheid is nie om radikaal als wat jou aan die verlede bind prys te gee nie. Dit is eerder om goeie oordeel aan die dag te lê – om daardie praktiese wysheid te hê wat jou in staat stel om te laat vaar wat teen alle rede in gaan, maar om dit wat waarde aan jou lewe gee te behou, al kan rede dit nie deurgrond nie. Kennis sal altyd gebrekkig wees. Maar geloof, al skiet dit ver te kort, laat die lamp van hoop helder brand. 

Die skrywer, Willie Mc Loud, is 'n wetenskapsfilosoof met 'n PhD in Fisika en MA in Filosofie. Besoek sy blog by http://wmcloud.blogspot.com/.

Lees ook:
Die profeet
God hoor
Wrong choices
Om God te glo