In hierdie artikel word die geloofwaardigheid van die Bybelse verhaal oor die uittog van Israel uit Egipte bespreek. As daar geen argeologiese bewyse vir die uittog is nie, beteken dit dat ons om daardie rede die historisiteit daarvan moet betwyfel? Dat dit dus nie plaasgevind het nie? Hierdie vrae het baie te doen met die vermoë van argeologie om finale uitsprake te maak. Die eintlike vraag is dus: Wat is die limiete van argeologie en teksstudies, en hoe raak dit ons verstaan van die uittog. Die artikel (met voorskrif) het in die September 2012 uitgawe van die tydskrif Markplein verskyn.
Daar het die laaste paar maande (sedert Markplein 2012/01) 'n intense gesprek oor die beperkinge van argeologie en teksstudies ontstaan, met spesifieke verwysing na die Israeliete se uittog. Ek het in 'n aantal briewe aangevoer dat Diek van Wyk (sien sy artikels in Markplein 2012/04 en 2012/05) en Sakkie Spangenberg (sien sy reaksie in Markplein 2012/06) vanuit 'n modernistiese perspektief te hoog opgee vir hierdie dissiplines. Ek het in hierdie verband selfs van "pseudo-wetenskaplikheid" gepraat, onder andere in verwysing na "Bybelwetenskap". In hierdie artikel bespreek ek die limiete van beide argeologie en teksstudies (Bybelwetenskap) in meer detail.
Die wetenskap word tradisioneel in Afrikaanse kringe baie hoog aangeslaan. Daar word algemeen aanvaar dat wetenskaplikes weet waarvan hulle praat. Ons vind dan ook dat feitlik alle dissiplines in Afrikaans as "wetenskappe" beskryf word - so ook argeologie en teksstudies (Bybelwetenskap). Maar hoe wetenskaplik is hierdie "wetenskappe"? Wat is die limiete van hierdie dissiplines? En wat is die implikasies daarvan vir uitsprake wat hierdie dissiplines kan en nie kan maak nie? Ook ten opsigte van die historisiteit van Bybelse verhale soos die uittog.
Daar was 'n tyd toe alle dissiplines gepoog het om as empiriese wetenskappe (dit is wat in Engels onder "wetenskap" verstaan word) erken te word. So ook argeologie en teksstudies. Maar is hierdie empiriese wetenskappe? Alhoewel argeoloë met waarneembare objekte werk, en dit dus as 'n empiriese dissipline beskou kan word, voldoen dit nie aan die vereistes van 'n empiriese wetenskap soos dit wêreldwyd verstaan word nie. Die belangrikste onderliggende rede hiervoor is dat argeoloë nie toegang het tot die historiese werklikheid (soos dit destyds bestaan het) wat hulle ondersoek nie - die argeologiese rekord is altyd onherroeplik onvolledig. Ook teksstudies - wat vandag as 'n hermeneutiese (interpreterende) dissipline erken word - het geen toegang tot die werklike teksgeskiedenisse (ook nie van die Bybel) nie. Daarteenoor ondersoek beide natuur- en sosiale wetenskaplikes 'n huidig-bestaande (alhoewel ontoeganklike) werklikheid.
As gevolg van hierdie beperking kom argeoloë (teksstudies word later aangespreek) voor twee onoorbrugbare probleme te staan. Ten eerste is alle opgrawings 'n nie-herhaalbare ervaring. Ander argeoloë sou nie noodwendig tot dieselfde gevolgtrekkings kom nie. Daar is 'n menigte gevalle waar argeoloë oor die interpretasie van opgrawings verskil. Ten tweede weet argeoloë nooit of hul data (statisties gesproke) verteenwoordigend van die destydse historiese situasie is nie. Opgrawings is nie herhaalbare eksperimente soos in die natuurwetenskappe of gekontroleerde ondersoeke soos in die geesteswetenskappe nie. Alhoewel argeologie "ervaring" insluit, is opgrawings nie eksperimente nie; opgrawings is nie herhaalbaar of 'n verteenwoordigende steekproef nie. In die tyd van die sogenaamde Nuwe Argeologie in die vroeë sestiger jare is daar nog gepoog om argeologie op 'n "wetenskaplike" basis te plaas, maar daardie benadering het intussen plek gemaak vir "Postprosesualisme", wat kontekstuele en interpreterende argeologie insluit. Sedertdien is daar ruimte vir 'n "plurality of readings" ooreenkomstig verskillende interpretasies soos Julian Thomas skryf: "[E]ven artifacts will be understood in different ways by people who come to them with different understandings which emerge from different social experiences... In understanding may give rise to hegemonic struggles over the definition of reality. It would be a mistake to argue in these circumstances that one group has a true appreciation of the situation, while another is laboring under false consciousness" [1]. Daar is vandag in die filosofie van argeologie 'n reaksie teen vroeëre hegemoniese pogings tot beheer oor interpretasie (wat voortbou op die Franse filosoof Michel Foucault se werk oor "mag").
Argeologie het dood gewoon nie die vermoë wat soms (veral deur argeoloë self) daaraan toegeken word nie. In baie gevalle het daar net nie genoeg bewyse oorgebly om die literêre bronne te bevestig of te ontken nie. Alhoewel argeoloë soms weens 'n gebrek aan bewyse aanvaar dat sekere gebeure (soos die uittog) nie plaasgevind het nie, is dit 'n positivisties-modernistiese aanslag wat nie deur enige wetenskapfilosoof onderskryf kan word nie. Geen bewyse is beslis nie 'n bewys van geen bewyse nie. Ten spyte hiervan het sommige argeoloë 'n oordadige vertroue (so tipies van die modernisme) in die genoegsaamheid van die argeologiese bewyslas soos blyk uit Diek se aanhaling van die argeoloog William G. Dever, wat selfversekerd noem dat argeologiese data as "primêre bron" gebruik moet word om die geskiedenis (soos die van Israel) te rekonstrueer. Alhoewel argeologiese data sekerlik 'n belangrike bron van inligting is, is dit beslis nie die enigste nie en die verheffing daarvan tot "primêre bron" gaan teen al die problematiek van praktiese argeologie in. Ek kan hoeveel voorbeelde gee om die ontoereikendheid van argeologiese data te illustreer. Neem byvoorbeeld die oorblyfsels van die Akkadiese Ryk (ca. 2300-2100 vC) - wat deur die millennia as die grootste van alle ryke in antieke Mesopotamië onthou is. Mario Liverani skryf: "If we didn't know from the texts that the Akkad empire really existed, we would not be able to postulate it from changes in settlement pattern, nor from the evolution of material culture" [2]. Ons kan dieselfde omtrent die Dawidiese ryk sê. Voor die ontdekking van die Tel Dan stela 'n paar jaar gelede, waarop die woorde "huis van Dawid" verskyn, was daar 'n konsensus onder baie geleerdes dat hy nooit gelewe het nie.
Wanneer dit by migrasie kom (soos die uittog en intog van Israel), is die situasie selfs nog meer problematies. Die argeologiese getuienis wat met migrasie verband hou is so oop vir interpretasie dat argeoloë in baie gevalle nie kan besluit hoe om die argeologiese rekord te interpreteer nie. Ek gee verskeie voorbeelde van sulke verskille in interpretasie in my artikel "A critique of archaeology as a science" wat op 19 Augustus 2012 op my blog gepos is by www.wmcloud.blogspot.com. In baie gevalle sou argeoloë nooit van sulke migrasies weet as dit nie in literêre bronne vermeld is nie. Neem byvoorbeeld die migrasie van die handelaars wat hulleself in die Ou Assiriese periode (ca.1800 v.C.) in Anatolië (in die hedendaagse Turkye) gaan vestig het. Malcolm Weiner skryf hieromtrent: “As Machfeld Mellink, James Mellaart and others have observed, had the tablets not survived little else would suggest the existence of an Assyrian colony, since the colonists adopted local architecture and pottery... Tablets tell us of many Assyrian trading colonies in Anatolia... [i]t would be very difficult to identify something which is specifically Assyrian without the tablets” [3]. Sonder die tekste sou argeoloë nie vermoed het dat groot getalle Assiriërs na Anatolië migreer het en daar teenwoordig was nie. Alhoewel ek kan verstaan dat Dick skryf "Dit spreek dus vanself dat die Israeliete op hul staanplekke in die Sinai-woestyn ook oorblyfsels moes nagelaat het" (Markplein 2012/05), is dit duidelik dat die situasie allermins so eenvoudig is. Alhoewel die Bybel die roete aandui waarlangs die Israeliete sou trek, verskil navorsers oor die interpretasie van die gegewens. Die Israeliete sou voorts lank op 'n plek moes bly om noemenswaardige getuienis agter te laat. Die Sinai is soos die Bybel noem en ekself al meermale gesien het, 'n "groot en vreeslike" woestyn waar die hitte, winde en stortreëns alle oorblyfsels tot niet maak en bedek. Om na oorblyfsels daar te soek is soos om na die spreekwoordelike naald in 'n hooimied te soek (nie dat daar al deeglik gesoek is nie!).
Daar is selfs 'n verdere probleem, naamlik dat daar in die tyd van die Nuwe Argeologie 'n sterk partydigheid in argeologiese kringe teen migrasie was soos David Anthony skryf: "Migration has been demonized and has mystified Western archaeologists since the rise of ‘New Archaeology’ in the late 1960’s… Several writers have noted that the rise and fall of the popularity of migration and diffusion in western archaeology seems closely linked to the prevailing milieu in politics, national interests and intellectual trends” [4]. Dit toon dat baie nie-wetenskaplike invloede 'n impak op argeologiese sieninge het en dat "polities korrekte" sieninge soms op hegemoniese wyse afgedwing word. Alle argeologiese data is wyd oop vir interpretasie - die hegemonie van polities korrektheid gee erkenning aan sekere sieninge en wys andere af. Ina Brand vertel in Markplein 2012/07 hoe hierdie aanslag steeds in die praktyk onder argeoloë voorkom. Sy skryf: "In die jongste tyd is daar egter 'n beweging wat die Bybel as artefak heeltemal wil verban en dit as blote propaganda-fiksie wil uithou uit alle argeologiese bevinding". Geen wonder dat daar so geredelik in krities-argeologiese kringe aanvaar word dat die uittog nie plaasgevind het nie.
In enige ondersoek na die verlede is tekste soos die Bybel ook belangrik. Die belangrikste vraag omtrent tekste is: hoe betroubaar is die inligting wat daarin voorkom? Om hierdie saak te ondersoek word die teksgeskiedenis van tekste soos die Bybel bestudeer. Dissiplines soos teksstudies het egter dieselfde probleem as argeologie, naamlik dat die werklike teksgeskiedenis onherroeplik verlore is. In die tyd van positivisme is daar veronderstel dat niks omtrent 'n teks soos die Bybel geglo kan word as dit nie deur argeologiese bewyse gesteun word nie. Daar is oordadig krities na die teks gekyk en mettertyd is daar op grond van verkeerde verwagtinge aanvaar dat die meeste van die gebeure wat daarin vertel word nie plaasgevind het nie. Vandag weet ons egter dat argeologie nie 'n empiriese wetenskap is nie en dat feitlik alle argeologiese data onvolledig, onder-verteenwoordigend en voorlopig is. In soverre teksstudies in die positivisties-modernistiese metodiek van die verlede gegrond is (wat ook alle wondergebeure in beginsel ontken) en steeds so 'n aanslag volg, is dit ten diepste gekompromitteer. Omdat die data wat vir die bevestiging van hipoteses en uiteindelik teorieë gebruik word, so voorlopig en oop vir interpretasie is, staan dissiplines soos teksstudies op dryfsand en daar is geen manier waarop daardie geleerdes kan bewys dat hul teorieë beter met die historiese situasie ooreenkom as die tradisionele beskouing wat die inligting in die teks as betroubaar aanvaar nie. Dit is geen wonder dat 'n bekende Christen filosoof soos Alvin Plantinga die volgende sê nie: "There is no compelling or even reasonably decent argument for supposing that the procedures and assumptions of [historical Biblical criticism] are to be preferred to those of traditional Biblical commentary" (Biblical Archaeology Review Jul/Aug 2012).
Met hierdie agtergrond kan ons in meer detail op die uittog fokus. As ons die genoemde problematiek omtrent sulke migrasies in ag neem, asook die voortdurende stryery onder argeoloë oor die interpretasie van argeologiese fondse en datering (veral wat Israel betref), dan is dit glad nie voor die hand liggend waarom die uittog ontken moet word nie. Soos James K. Hoffmeier in sy boek The Archaeology of the Bible (2008) aantoon, is daar heelwat ondersteunende getuienis vir die Bybelse verhaal oor Israel se verblyf in Egipte, die uittog en die verowering van Kanaan. Ek noem enkele voorbeelde. Daar is uitbeeldings van Semitiese slawe wat stene maak (en deur stokke geslaan word) uit die tyd van koning Thutmose III van die Agtiende Dinastie (1479-1425 v.C.). Alhoewel daar nie fisiese bewyse vir Israel se tyd in die woestyn is nie, is daar wel getuienis dat Jerigo verwoes is en daarna vir lank onbewoond was soos in die Bybel vertel word (Jos. 6:26; 1 Kon. 16:34). Hierdie verwoesting is aanvanklik deur John Garstang tot ca.1400 v.C. gedateer, maar Kathleen Kenyon het dit later tot ca.1550 v.C. herdateer. Onlangs het Bryant Wood egter geargumenteer dat Kenyon sekere krities-belangrike pottery verkeerd gedateer het en dat Garstang se datering reg was. Hierdie datum kom goed met die Bybelse datering ooreen. Hoffmeier verskil met W.F Albright se teorie van 'n dramatiese verwoesting van Kanaänitiese stede en onderskryf 'n "limited conquest of key sites in strategic areas" ooreenkomstig die inligting in Josua 11:3 en Exodus 23:29-30. Hiervolgens is net Jerigo, Ai en Hazor verbrand. Daar is inderdaad bewys dat Hazor ook in daardie tyd verbrand is (die datum is ietwat onseker). Die naam "Israel" word die eerste (en enigste) keer in 1208 v.C. in 'n Egiptiese inskripsie, deur koning Merneptah, die seun en opvolger van Raamses II, genoem in 'n konteks wat op hul teenwoordigheid in die land dui. Rondom hierdie tyd is daar skielik 'n dramatiese toename in landbou dorpies in Israel waarneembaar (93% van hierdie dorpe is nuut). Dit word tipies met die aanwas van Israel in die nuwe land verbind. Die monoteïstiese hervormings van Akhenaten van die Agtiende Dinastie (1352-1336 v.C.) hou dalk ook met Israel se vroeëre verblyf in Egipte verband.
Daar kan uiteindelik verskeie narratiewe omtrent die uittog gekonstrueer word. Diek verwys na die narratief van die argeoloë Israel Finkelstein en Neil Asher Silberman (Markplein 2012/05). Hulle is van mening dat die verhale oor die uittog in die sewende eeu v.C. in die tyd van koning Josia saamgesnoer is. In hierdie geval sou die verhaal op ‘n metaforiese vlak uitdrukking gee aan die stryd tussen die jong koning Josia en farao Necho en aan die vrese, aspirasies en hoop op ‘n nuwe toekoms van die Juda van die tyd. Hierdie narratief aanvaar dat die uittog nie plaasgevind het nie en probeer verduidelik waar die verhaal ontstaan het. Alhoewel hierdie hipotese op die oomblik vir sommige geleerdes sin maak, sal die volgende geslag waarskynlik (soos tipies in hierdie milieu gebeur) nie veel waarde daaraan heg nie.
Hierteenoor onderskryf ek die tradisionele narratief. Dit is na my mening uit die Bybelse teks duidelik dat die verhaal van die uittog ten diepste in die Israelitiese psige ingeweef was. Mense soos ek wat die gediskrediteerde histories-kritiese paradigma wat uit die modernisme gegroei het verwerp, kan geen rede sien waarom die Bybelse inligting omtrent die uittog nie aanvaar kan word nie. Saam met Richard Averbeck (in 'n artikel in die boek "Mesopotamia and the Bible", sien p107) is ek van mening dat die Bybelse verhale deur die eeue sorgvuldig in die raamwerk van 'n aaneenlopende tradisie oorgedra en opgeteken is soos daar op baie plekke in die Bybelse teks genoem word [5]. Argeologiese data korreleer ook heel goed met die inligting in die Bybel. Ek sluit af met 'n aanhaling uit my boek Op soek na Abraham en sy God (Griffel, 2012): "Alhoewel daar 'n sekere kritiese weergawe oor die Bybelse teks saamgestel kan word... (wat) dit as laat en vol twyfelagtige legendes afmaak, kan daar na my mening 'n beter weergawe saamgestel word wat toon dat dit goed met ander buite-Bybelse tekste en argeologiese data korreleer" (p109).
[1] Thomas, Julian. 2005. Materiality and the Social. In Pedro Paulo Funari, Andres Zarankin and Emily Stovel (eds.), Global Archaeological Theory. Contextual Voices and Contemporary Thoughts. New York: Kluwer Academic/Plenum Publishers.
[2] Liverani, M. 1993. Akkad: An Introduction. In Mario Livernai (ed.), Akkad. The First World Empire: structure, ideology and traditions. Padova: Sargon srl.
[3] Wiener, Malcolm H. 1984. Crete and the Cyclades in LM I: The tale of the conical cups. In Hägg, R. and Marinatos, N. (eds.), The Minoan Thalassocracy, Myth and Reality. Stockholm.
[4] Anthony, David W. 1997. Prehistoric Migration as Social Process. In Chapman, J. and Hamerow, H. (eds.), Migrations and Invasions in Archaeological Explanation, BAR International Series 664. Oxford: Archaeopress, Oxford.
[5] Averbeck, Richard E. 2002. Mesopotamia and the Bible. In Mark W. Chavalas & K. Lawson Younger (jr) (eds.), Sumer, the Bible, and Comparative Method; Historiography and Temple Building. Grand Rapids: Baker Academic.
Willie Mc Loud
Dr Willie Mc Loud se ander skrywes aan Markplein is ook op hierdie blog gepos (www.wmcloud.blogspot.com) en kan gelees word deur op die sleutelwoord "Markplein" regs op die blog te klik.
Klik om te lees: A critique of archaeology as a science
Asook A critique of Biblical Criticism as a scholarly discipline
No comments:
Post a Comment