Tuesday, 19 June 2018

Om God te glo

Daar is sekere dinge wat net daardie Christene verstaan wat in ‘n ware verhouding met God leef. Een hiervan is die stem van God. Skielik, onverwags, ervaar sulke persone in hul diepste menswees ‘n onverklaarbare wete dat God praat. Soms is dit wanneer hulle stiltetyd hou. Terwyl hulle deur die teks van die Bybel lees gebeur dit soms – en gewoonlik heeltemal onverwags – dat ‘n teks of ‘n gedeelte van ‘n teks skielik op ‘n baie persoonlike wyse lewend word en daar ‘n bewustheid kom dat God praat. Alhoewel dit ook gebeur dat Christene hulle eie begeertes in die teks inlees doen dit geen afbreek aan die feit dat God inderdaad met sy kinders praat nie.

God praat nie net met sy kinders nie. Somtyds sê God aan hulle wat in die toekoms sal gebeur. Dit gebeur gewoonlik in die vorm van beloftes wat God gee. Wanneer Christene die stem van God hoor – soos die skape die stem van hul herder hoor soos Jesus noem – dan gebeur dit dat hulle besef dat daardie belofte baie direk op dinge in hul eie lewe van toepassing is. Tussen al die baie beloftes in die Bybel, is daar dan daardie enkeles wat God baie direk aan sy kinders binne hul bepaalde omstandighede gee. Daardie beloftes is God se woorde wat direk op hulle van toepassing is. Sulke beloftes is soms baie spesifiek. En dan weet sy kinders dat dit wat God gesê het ook sal gebeur.

Soms lyk dit of omstandighede baie direk teen God se gegewe beloftes ingaan. Dinge gebeur wat lyk of dit God se beloftes totaal weerspreek. Dan kom die versoeking om te dink dat ons ons maar misgis het. Maar diegene wat sy stem ken weet dit is nie die regte antwoord nie. Vir hulle kan dit ‘n sielewroeging raak omdat dit lyk of God se woord nie uitkom nie. Of God nie sy woord volbring het nie. Dan lyk dit of als verlore is en of dit wat God gesê het onder geen omstandighede kan gebeur nie. Dit lyk of God ons versaak het.

Onder sulke omstandighede is daar ‘n paar opsies. Die een is om God te verwyt en kwaad te wees vir Hom. Om sy karakter as die God van sy woord te bevraagtaken. Die ander is om als waarin jy glo te hersien – miskien ken jy nie regtig die stem van die Here nie? Dalk was dit maar net ‘n vergissing? Maar as God baie duidelik gepraat het is dit nie so maklik om dit eenkant toe te stoot nie. Dan is die vraag: gaan ons bly glo of gaan ons maar moed opgee? Gaan ons soos Abraham “teen hoop op hoop” bly glo of gaan ons maar tou opgooi en aanvaar dat dinge nie uitgewerk het soos ons geglo het nie? Die Christen kan egter ook volhard in die geloof en gewoon die hele situasie aan die Here oorgee met ‘n innerlike vrede wat berus dat Hy wel weet wat Hy doen.
Image result for abraham God painting
Die engel keer dat Abraham vir Isak aan God offer - Rembrandt van Rijn

Ek glo dat God ons geloof eer. Wanneer ons Hom vertrou teen alle omstandighede en “bewyse” in. Ek was al by geleentheid in omstandighede waar my geloof tot die uiterste getoets is. Waar dit vir my gelyk het daar is geen manier waarop God se woord kan uitkom nie. Maar dan dink ek terug aan tye waartydens ek voor die versoeking was om op te gee en ek besluit het om God op sy woord te neem. En waar ek gesien het dat God inderdaad die God is wat sy woord hou. Ja, dat Hy die God van wonders is.

Ek onthou ‘n paar sulke geleenthede. Ek was nog ‘n student op Stellenbosch Universiteit toe die Here die belofte aan my gegee het: “die wat in Hom glo sal nooit beskaamd staan nie” (1 Pet. 2:6). So gebeur dit in my tweede studiejaar dat ek tydens ‘n predikaattoets ‘n totale “blank” slaan (ek onthou die vak was Optika). Alhoewel ek die vorige dag al die werk deurgegaan het, was dit als skielik weg. En indien ek die toets sou dop moes ek die vak herhaal. Ek onthou hoe ek daar gesit en gedink het: Here, ek dien u. Alhoewel my geestelike werk baie tyd in beslag neem, het ek wel als deurgegaan. U het belowe en ek gaan nie maar tou opgooi en uitloop nie! Ek gaan in geloof bly sit!

So sit ek maar daar en bekyk die vraestel. Als lyk soos Grieks! Na meer as ‘n uur (van die twee-uur vraestel) het ek nog niks geskryf nie. En toe: terwyl ek so kyk, sien ek die getal langs een van die vrae wat soos ‘n puntetoekenning lyk maar wat ek skielik in my hart weet is die antwoord wat om een of ander wyse deurgeglip het op die vraestel. Ek gebruik toe die getal (ek dink dit was 2) en stel dit terug in die formule. Vandaar doen ek die hele vraag terugwerkend. Ek was skaars klaar toe is die tyd verby. En so kry ek toe 40 % (volpunte vir die vraag!) - my laagste punt ooit maar genoeg om eksamen te gaan skryf.

Ek onthou nog ‘n geval. In later jare toe ek reeds getroud was het die Here vir my ‘n belofte gegee dat Marthé weer sou swanger word. Sy het verskeie miskrame gehad en toe sê die Here: “Daar sal geen misdragtige of onvrugbare in jou land wees nie” (Ex. 23:26). Sy raak toe weer swanger. Terwyl ek met ‘n uitreik in ‘n ander dorp besig was, bel sy en laat weet dat sy weer bloei. Dit was hoe al die vorige miskrame aangekondig is! Als het geblyk verlore te wees. Ek het in die kamer gegaan en die Here ernstig aan sy belofte herinner. Ek het Hom daarop gewys dat Hy die God van sy woord is. Toe ek weer met Marthé praat hoor ek sy is in die hospital opgeneem en dat die hartjie wonder bo wonder teen alle verwagtinge in steeds klop! En so het my jongste vasgebyt en is sy later gebore.

Ek kan nog verskeie sulke gevalle onthou. Ek kan ‘n meer onlangse een vertel. ‘n Paar jaar gelede het ek vir my meestersgraad in filosofie by UCT ingeskryf. Die graad het uit ‘n deel kursuswerk bestaan wat ek in die eerste jaar moes voltooi asook ‘n kort tesis wat ek daarna moes skryf. Ek het die tesis – wat op die filosofie van Immanuel Kant en kwantum fisika gefokus het – in die volgende jaar voltooi (met dubbel die toegelate hoeveelheid woorde!). Die finale uitslag sloer toe vir omtrent 6 maande. Uiteindelik hoor ek van die universiteit en maak ‘n afspraak om die prof te gaan sien. Daardie oggende sê die Here: “die steen wat die bouers verwerp het, het die hoeksteen geword” (Matt. 21:42). Ek besef toe daar is moeilikheid.

Uiteindelik vind ek dat die twee eksterne eksaminatore (van die VSA en Spanje onderskeidelik) dramaties van mekaar verskil het. Die een het in sy verslag geskryf: “the thesis is a remarkable achievement and truly outstanding” asook “This MA thesis is better than most PhD theses I have read” terwyl die ander een ‘n baie meer negatiewe opinie gehad het. Uiteindelik het die tweede eksaminator se punt gegeld. Alhoewel dit ‘n heel gemiddelde punt was, was ek baie teleurgesteld omdat ek ‘n baie beter punt verwag het (ek het my honneurs in filosofie met lof geslaag).

Op grond van die belofte het ek besluit om die essay aan uitgewers te stuur. Ongelukkig was daar maar min wat bereid was om so ‘n lang essay vir publikasie te oorweeg. Ek het dus meestal maar die eerste hoofstuk gestuur. Ek is drie maal weggewys.  Soms was ek maar baie moedeloos en het gewonder of die woord van die Here ooit sou uitkom. Tog is die Here getrou. Uiteindelik is die essay (wat intussen tot ‘n monograaf gegroei het soos ek die terugvoer bygewerk het!) deur ‘n internasionale aanlyntydskrif aanvaar wat spesialiseer in die werk van Immanuel Kant - met vyf keurders wat dit moes oorweeg. Dit is onlangs gepubliseer ("Kant, Noumena and Quantum Physics" in Contemporary Studies in Kantian Philosophy 3, 2018). Ek het net weereens besef dat die Here altyd getrou is.

Ek hoop my getuienis sal vir andere tot bemoediging dien. Deur al die baie jare wat ek die Here ken, het ek gevind dat ons Hom absoluut kan vertrou. Al maak dinge glad nie sin nie. Al lyk dit of die feite die geloof heeltemal weerspreek. Al lyk dit totaal onmoontlik. Die Here is die God van sy woord soos ons lees: “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Num. 23:19). Ons kan Hom vertrou. Soos Abraham moet ons die toets van geloof deurstaan – al neem dit baie jare voor die woord van die Here uitkom.

Na so baie jare kan ek maar net sê dat dit vir my so ‘n wonderlike voorreg is om die Here God te ken. Om Hom te dien. Om te weet: Hy is die Almagtige God wat als in sy hand hou. Ons kan God en sy weë nie verstaan nie. Ons moet ook nie probeer nie. Maar as God werklik iets gesê het dan sal Hy dit ook doen as ons Hom op sy woord neem. Hy is die Here. Hy is die God van sy woord!

Dr Willie Mc Loud (Ref. wmcloud.blogspot.com)

No comments:

Post a Comment