In hierdie geestelike essay fokus ek op gebed. Die gebed wat werk.
"Elkeen wat bid ontvang; en elkeen wat soek, vind" (Matt. 7:8)
Alle Christene bid. Gebed is deel van die praktiese uitlewing van geloof. Gebed bring ons in die geestelike stemming waarin ons God kan beleef. Deur gebed tree ons met God in gesprek. Persone wat hul geestelike lewe ernstig opneem, is oor die algemeen ook mense wat meer tyd in gebed spandeer. Maar soms lyk dit of gebed nie werk nie. Soms voel dit of ons te vergeefs bid. Soms wil ons ophou bid.
Die Bybel maak baie van gebed. Van Genesis tot Openbaring lees ons van mense wat gebid het. Daar is verskeie gebede in die Bybel opgeteken. Die deurlopende tema in die Bybel is dat God gebed verhoor. Ons lees telkens hoedat God gebede verhoor het. Die meeste gebede kom reg in die middel van die Bybel in die Psalms voor. Daar lees ons male sonder tal hoedat Dawid tot God bid met die verwagting dat God hom sal hoor. En telkens het hy gevind dat God hom uitgered het.
Gebed het bowenal met vertroue te doen. As ek vertroue in God het, dat Hy my sal verhoor, dan bid ek met verwagting. In gebed gaan dit tot 'n baie groot mate oor my idee of beskouing van God. As ek God as 'n vader sien, as een wat vir my omgee en wat regtig na my luister, bid ek anders as wanneer ek maar net uit gewoonte bid of as deel van een of ander ritueel. Dit is waarom die Onse Vader gebed juis so die konsep van God as vader beklemtoon. As verlostes kan ons God ons vader noem - Hy is nie net die vader van Jesus Christus nie; Hy is ook ons vader. As ons regtig glo dat God ons vader is, en ons sy kinders, dan kan ons ook soos kinders na hul vader gaan. Anders as aardse vaders wat soms in gebreke bly, is Hy die volmaakte vader wat vir ons toeganklik is deur Jesus Christus.
Die gesin waarin ons grootword, het 'n geweldige groot impak op ons gebedslewe. Die optrede van ons eie vader het 'n blywende invloed op die wyse waarop ons God sien. Voorts het die wyse waarop ons God in die huis leer ken, ook 'n groot invloed op ons geloof in God en ons verwagting dat God ons sal verhoor. As ons in 'n huis grootword waarin gebed positief beleef word, dan wil ons ook graag bid. As ons duidelike insidente van gebedsverhoring onthou, dan wek dit by ons die verwagting dat God ons sal verhoor. Ons dink terug aan daardie tye toe God ons (of ons gesinslede) se gebede verhoor het. So kan ek geleenthede onthou waar my ouers my as jong seun ingeroep het om saam met hulle oor sake te bid, waarna hulle telkens verhoor is. Dit het 'n groot indruk op my jong gemoed gelaat. In later jare kon ek ook met verwagting vir sake bid en ek onthou besondere voorbeelde van gebedsverhoring. Sulke insidente van gebedsverhoring skep by ons die verwagting dat God ons hoor en dat Hy ons ook sal verhoor.
Wanneer ek in gebed na God kom, dan kan ek Hom op 'n baie besondere wyse beleef. Wanneer ek van God se teenwoordigheid bewus word, raak ek ook bewus waar daar dinge in my lewe is wat skeiding bring, wat my verhouding met God vertroebel. Net soos wat daar soms dinge tussen ons en ons aardse vaders kan kom wat daardie verhouding kan skaad, so is dit ook met God. Ons kan inderdaad 'n diepe vrede en innerlike geestelike gemeenskap met God beleef wat die verstand te bowe gaan. Meer nog, ons kan ervaar dat God met ons praat en sy wil omtrent ons gebed aan ons bekend maak. Die wonder van gebed is dat God ons antwoord selfs voordat Hy ons gebed verhoor.
Gebed is uiteindelik nie maar net 'n blinde hoop nie, maar 'n gesprek waarin God ook met ons praat. Soos enige vader maak God ook sy besluite aan ons bekend. God kan diep in ons gees, deur sy Woord of deur omstandighede met ons praat. Hy kan met 'n Ja of 'n Nee antwoord. Hy kan sê ons moet net wag. Hy kan vir tye net stil wees [1]. Wat gebedsverhoring so besonders maak, is dat ons kan weet dat God uiteindelik ook sal doen wat Hy gesê of belowe het. Ek kan met 'n vaste vertroue verby alle omstandighede na God kyk met die verwagting dat Hy sal doen wat Hy gesê het. Dat Hy my sal verhoor. Ons kan in die gebed "volhou soos een wat die onsienlike sien" (Heb. 11:27). As ons God eers leer ken het as die Een wat gebed verhoor, as die Een wat sy woord waarmaak, dan het ons 'n onwrikbare vertroue dat Hy dit altyd sal doen.
Ons leef in 'n tyd waarin daar al meer oor God getwyfel word. As ons twyfel oor God se bestaan, kan ons tog nie met oorgawe bid nie. As ons gebedsverhoring sinies beskou as dinge wat maar toevallig so gebeur het, sal ons nie met verwagting bid nie. As ek egter uit ervaring weet dat God werklik gebed verhoor, kan hierdie dinge nie my geloof raak nie. Ongeag wat wie mag sê, ek weet my Verlosser leef en dat Hy my hoor en verhoor wanneer ek bid. Alhoewel andere wat daarmee onbekend is, ons belewing van God op allerlei wyse kan afmaak, weet ons dat ons God werklik in ons lewens beleef. Dat Hy met ons praat. Ons weet dat God gebed verhoor.
Soms het ons nie so 'n geskiedenis met God nie. Dalk is ons geloofslewe maar net tradisioneel sonder enige werklike belewing van God. Dit verhoed ons nie om God op 'n dieper vlak op die proef te stel nie. Om Hom so te sê, uit te probeer nie. God ken ons harte. As ons in eerlikheid Hom op die proef stel, sal Hy ons nie teleur stel nie. Ons sal vind dat Hy graag ons vader wil wees. Dat ons maar ons lewens aan Hom kan toevertrou. Dat ons Hom vader kan noem. As ons eers gebedsverhoring beleef het, sal ons nie anders kan as om weer en weer met verwagting te bid nie. Ons kan God maar op die proef stel. Hy verhoor gebed.
[1] Ek sal DV in 'n latere skrywe in meer detail op God se stem fokus.
Skrywer: Dr Willie Mc Loud (www.wmcloud.blogspot.com)
Lees ook:
Die profeet
Wrong choices
The Power of God
Something or Someone is Missing
Revival is of the Lord
Om God te glo
No comments:
Post a Comment