Monday 15 April 2013

Die profeet

"En die profete-seuns wat in Jerigo was, het dit op 'n afstand gesien en gesê: Die Gees van Elia rus op Elisa!" (11 Kon. 2:15)

Daar is al verskeie artikels oor die Israelitiese profetiese tradisie en sekere spesifieke profesieë op hierdie blog gepos. Al hierdie artikels het 'n intellektuele inslag. Alhoewel hierdie artikel oor die profeet dus op die vorige artikels volg, verskil dit tog in die sin dat dit 'n geestelike artikel is. Dit is dan ook die eerste geestelike artikel wat op hierdie blog verskyn. Ek vertrou dat lesers dit van waarde sal vind.

Wanneer ek aan 'n profeet dink, dan dink ek aan Elia. Daar was natuurlik baie Bybelse profete, maar om een of ander rede dink ek aan Elia as die Bybelse tipe van die profeet. Elia was 'n baie besondere mens – en daar word weer later in die Nuwe Testament na hom verwys. Ons lees dat Johannes die Doper, wat die weg vir Jesus se bediening voorberei het, in die "gees en krag" van Elia opgetree het (Luk. 1:17). En Jakobus, die broer van die Here, skryf dat Elia 'n mens soos ons was (Jak. 5:17, 18). Hiermee wil hy ons uitdaag dat die Here ons ook soos Elia kan gebruik.

Wat is dit omtrent Elia wat vir my uitstaan? Dit is nie soseer een of ander daad wat Elia gedoen het nie. Dis eerder sy hele profiel – die profiel van die profeet. Hy was vreesloos, afgesonder, absoluut gehoorsaam aan die Here. Hy het "voor die aangesig van die God van Israel gestaan" (1 Kon. 17:1; 18:15). Dit beteken dat hy besonder naby die Here gelewe het. Hy was 'n "man van God" (1 Kon. 17:18, 24). Hy het God se stem duidelik gehoor en was bereid om dit sonder vrees uit te voer. Hy was 'n man van gebed – sy afsondering het sekerlik met sy gebedslewe te doen gehad. Hy was 'n man van geloof – hy het vas geglo dat die Here dit wat Hy gesê het ook sal doen. Dit is asof Elia niks en niemand anders gevrees het as die Here nie.

Maar wat is die rede dat Elia so 'n besondere man, so 'n besondere profeet, was? Dit is waarskynlik dieselfde vraag waaroor sy dienaar Elisa gewonder het. Wat het van Elia die profeet gemaak wat hy was? Toe Elisa die kans kry om iets van Elia te begeer voor laasgenoemde se wegvoering, toe weet hy wat hy wil hê. Hy wou daardie selfde Gees hê wat op Elia rus. Dit is wat Elia van die res onderskei het: die Gees van Here het met groot krag deur Elia gewerk. Hy was bowenal 'n man vol van die Gees van die Here. Dit was sy geheim: die Gees van die Here. Ja, al die ander dinge soos afsondering, gebed, gehoorsaamheid, vreesloosheid het uiteindelik daartoe gelei dat die Gees van die Here 'n besondere instrument in hom kon vind. Maar dit alles sonder die Gees van die Here sou weinig beteken. Hy was vol van die Gees van die Here.

Wat my verder oor die verhaal van Elia en Elisa opval, is dat Elia se werk en bediening uiteindelik deur Elisa voortgesit is. Elisa het "'n dubbele deel" van die Gees van Elia van God ontvang (2 Kon. 2:9). Dieselfde Gees wat op Elia was, was later op Elisa – en baie later op Johannes die Doper. En daar sal moontlik ook in die eindtyd 'n man opstaan waarop die Gees van die Here so sal rus (Open. 11:3, 6). Ons vind dus dat die Gees van die Here ook na Elia se wegvoering op Elisa gerus het. Die profete-seuns wat ver weg gestaan het tydens Elia se wegvoering, het opgemerk dat die "Gees van Elia" op Elisa rus. Elisa word dan ook baie maal daarna 'n "man van God" genoem. Die Here het magtiglik deur hom gewerk.

Hoe raak dit ons? Ek glo dat die Gees van die Here steeds vandag in krag deur mense se lewens kan werk. Daar is soveel verhale van godsmanne wat oor die afgelope paar eeue gelewe het. Wanneer ek sulke verhale lees, dan spoor dit my aan om God met hernude ywer te dien. In ons eie land staan Dr Andrew Murray uit. Hy was 'n baie besondere man van God en was ook God se instrument in die destydse geestelike herlewing in die Kaap. En daar was andere wat in sy voetspore gevolg het. Dink maar aan Dr Kolie Kotze en andere.

Nader aan myself... Ek was bevoorreg om verskeie sulke manne en vroue te ken. As ek aan die Bybelse profiel van die profeet dink, dan dink ek veral aan my eie pa. Hys nou al oud – het onlangs 79 geword. Hy was deur sy lewe, vir die tyd wat ek hom geken het, 'n man van God. Hy was 'n man van gebed. Hy was 'n man van geloof. Ek onthou hoedat hy en 'n groepie van sy vriende naweke gaan afsonder en bid het. En die Here het wonderlik deur hom gewerk. Toe ek per geleentheid op Upington gepreek het, het verskeie van die ouer garde aan my vertel van die goddelike tye wat hulle destyds onder sy bediening ervaar het. Hy het 'n geweldige impak op my eie lewe gehad. Ek dink deesdae baie terug aan sy lewe. Wat my die meeste bybly, is daardie bewustheid van God se teenwoordigheid. My begeerte is dat dit ook in my eie lewe sal wees.

Deesdae is als vinnig, maklik, goedkoop, moeiteloos. So ook die godsdiens. Daar word baie gearbei, maar daar gebeur ook nie veel nie. Ons samelewing verander. Mense se waardes verander. Alles gaan agteruit. Ek wonder of God weer in ons tyd met krag sal werk. Of daar weer ware profete soos van ouds sal opstaan. Manne wat vol van die Gees van die Here is. Manne en vroue wat in die voetspore van die vroeëre godsmanne sal volg. Soms lyk dit asof daar geen erns meer is nie. Geen bereidwilligheid om op te offer nie. Om af te sonder, om te bid tot God werk. Miskien sal die Here wel weer sulke mense vind. Persone wat deur die Gees van die Here gedryf, met Hom sal ontmoet en in ons tyd 'n ware verskil sal maak. Mag die Here dit doen.

Skrywer: Dr Willie Mc Loud (Ref. www.wmcloud.blogspot.com)

1 comment: