Sunday 29 July 2012

Op soek na Abraham en sy God


Dr Willie Mc Loud se nuwe boek het pas verskyn. Die titel is Op soek na Abraham en sy God, 'n Studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale. Hier is die teks op die agterblad asook die Inhoudsopgawe.


Teks op die agterblad

Op soek na Abraham en sy God is ’n tydige boek oor ’n uiters relevante onderwerp. Dit lewer ’n baie belangrike bydrae tot die kontemporêre gesprek oor die betroubaarheid van die Bybelse verhale. Daar is vandag al meer mense wat wonder of ons nog die Genesis-verhale kan glo? Of Abraham regtig gelewe het? Of ons die verhale oor die “toring van Babel”, die taleverwarring, die vloed en die tuin van Eden nog ernstig kan opneem? Vir sommige is die tradisionele antwoorde net nie meer aanvaarbaar nie. Sekere dinge word net nie meer geglo nie. Maar beteken dit dat die Genesis-verhale maar net stories is wat in latere tye meestal uit Babiloniese bronne saamgestel is? Beteken dit dat ons daardie verhale maar as onbetroubaar kan afskryf?

In hierdie boek toon die skrywer dat dit nié so is nie. Hy formuleer ’n grondige kritiek op sommige geleerde opinies hieroor. Hy verbreed die gesprek oor die Genesis-verhale deurdat hy, anders as baie ander geleerdes, die antieke Sumeriese bronne raadpleeg. Hy toon dat onlangse argeologiese ontdekkings daarop dui dat ons alle rede het om in ’n historiese Abraham te glo. Verder het ons goeie rede om te dink dat die vroegste verhale in Genesis saam met die Abrahamse familie uit Mesopotamië na Kanaän saamgebring is.

Die boek fokus ook op die God van Abraham. Was Hy maar net ’n vroeë stamgod? Of is daar rede om te glo dat Hy sedert die vroegste tye in Mesopotamië vereer is soos die Genesis-verhale impliseer? Die skrywer bespreek ook ander antieke konsepte soos die “Seuns van God”, die goderaad, die godeberg in die uithoeke van die noorde, die drieverdiepingkosmos, die “hemel” en die “doderyk”, Satan, die boom van die lewe, die slang en die gerubs wat die boom bewaak het.

Die inhoud is aktueel, stimulerend en bied beslis stof tot nadenke. Die boek is ’n goeie belegging vir elkeen wat belangstel in die betroubaarheid van die Bybelse verhale. 

 Inhoudsopgawe
 
1. Abraham is die skakel - 13
2. Die vlakte van Sinear - 19
3. Die toring van Babel - 27
4. Wie was Henog? - 37
5. Die goderaad - 47
6. Die “God van julle vaders” - 57
7. Die drieverdiepingkosmos - 71
8. Sjamane en profete - 83
9. Slotgedagtes - 93

 

No comments:

Post a Comment