Tuesday 7 August 2012

Abraham en sy God - Inleiding

Hierdie is die inleiding van die boek Op soek na Abraham en sy God, 'n Studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale.


“[Sumer] for all practical purposes lies within and, in fact,
chronologically and literarily, at the beginning of the historical
stream of biblical Israel”
– Richard Averbeck

Kan ons vandag nog die Genesis-verhale ernstig opneem? Kan ons dit as geskiedenis beskou? Vir baie Christene is dit nie belangrike vrae nie. Hulle glo gewoon dat daardie verhale korrek is. Daar is egter baie ander wat oor hierdie saak nadink. As die Bybelse verhale wel geskiedkundig is, dan verwag ’n mens dat sommige van daardie gebeure ook in ander buite-Bybelse bronne sal voorkom. Is daar enige bewyse dat hierdie verhale nie net in die Bybel voorkom nie, maar ook in die verhale van ander antieke volkere soos die Sumeriërs? Volgens Genesis speel sommige van die verhale juis in vroeë Mesopotamië af.

In hierdie boek fokus ek op die verhale van Genesis 2-14. Dit is die verhale oor die vroegste geskiedenis van die Abrahamse familie [1] – van lank voordat hulle in Kanaän gaan woon het. Hiervolgens het Abraham aanvanklik in antieke Mesopotamië (in hedendaagse Irak) gewoon en speel ’n groot deel van die vroeë verhaal daar af. Dit is waar die vlakte van Sinear (Gen. 11: 2) asook Abraham se geboortestad, “Ur van die Chaldeërs” (Gen. 11: 28) geleë was.

Alhoewel dit nie duidelik is hoe lank Abraham se voorsate daar vertoef het nie, is daar geen twyfel dat sommige van hulle volgens Genesis 2-14 op ’n stadium daar gewoon het nie. Daar is dan ook ’n goeie rede waarom hulle daar sou wou woon: van ten minste sesduisend jaar gelede tot vierduisend jaar gelede het een van die mees besondere antieke beskawings, dié van die Sumeriërs, in die suidelike Mesopotamiese vlaktes floreer. As ons meer omtrent die oorspronge en tradisies van die Abrahamse familie wil verstaan, is dit sekerlik sinvol om die Sumeriese literatuur te ondersoek. Dit kan belangrike lig op daardie tradisies werp.

In hierdie boek ondersoek ek die Sumeriese wortels van die vroegste Bybelse tradisies. Ek toon aan dat daardie vroeë verhale waaronder dié van Henog, Nimrod, die vloed en die toring van Babel ook in die Sumeriese bronne vermeld word. Maar is daar enige buite-Bybelse bewys dat hierdie dinge regtig gebeur het? Om hierdie vraag te beantwoord, ondersoek ek die argeologiese getuienis wat daarmee verband hou. As ons in die regte periode soek, vind ons getuienis wat daarop dui dat die Genesis-verhaal wel breedweg bevestig kan word. Die Sumeriese literatuur help ons ook om ander temas in Genesis 2-14 – soos die boom, Adam asook die Bybelse wêreldbeskouing – beter te verstaan.

Dit is egter nie net die vroeë verhale wat na Sumerië teruggaan nie; daar is rede om te glo dat die vroegste vorm van die Israelitiese godsdiens – soos die verering van die God El as beide die Allerhoogste en die Almagtige deur Abraham – ook na daardie wêrelddeel teruggevoer kan word. Dit is vanuit daardie Sumeriese fondasies dat die latere Israelitiese godsdiens in die Kanaänitiese milieu verder gegroei het.

Daar is geleerdes wat reken dat die vroeë Genesis-verhale [2] eerder tydens die Babiloniese ballingskap uit Babilonië ontleen is omdat daar ’n mate van ooreenstemming tussen die Bybelse en Babiloniese tradisies is. Hierdie boek daag daardie siening uit. Na my mening is die verskille tussen die Babiloniese en Hebreeuse tradisies net te groot om direkte ontlening ernstig te oorweeg. Dit is verder ook uiters onwaarskynlik dat Joodse skrywers hul eie volk se geskiedenis sou versin en dat hul volksgenote, wat met die oeroue oorgelewerde tradisies bekend was, dit sonder meer sou aanvaar. Ek stel dus voor dat die ooreenstemming eerder toon dat beide tradisies na ’n baie vroeër gemene tradisie uit die Sumeriese tyd teruggaan, toe Abraham se familie nog in Sumerië gewoon het.

Geleerdes beweer ook dat die vroeë Israelitiese tradisies baie uit die Kanaänitiese milieu ontleen het. Veral wat die Israelitiese godsdiens betref, lyk dit of El se rol as “vader van die gode” in daardie wêreld tuis hoort. Ook Jahweh se rol as koning in die goderaad is volgens Bybelse geleerdes uit daardie wêreld ontleen. Volgens sommige was die eerste millenniumse (v.C.) Siries-Kanaänitiese godsdiens die model vir hierdie ontwikkeling in die Israelitiese godsdiens. Ek wil egter voorstel dat daardie model eerder in vroeë Sumerië te vinde is, waar El al vroeg aanbid is.

Dit bring my by die vraag: Hoe het dit gebeur dat daardie Sumeriese tradisies in Israelitiese kringe bly voortleef het? Die antwoord hierop lê in die Abrahamse verhaal opgesluit. Volgens die Bybelse verhaal het Abraham van Sumerië gekom – sy koms na Kanaän gee duidelik ’n baie sinvolle verduideliking oor hoe sulke Sumeriese tradisies later deel van Israel se erfenis kon word. Alhoewel baie geleerdes skepties staan oor die geskiedkundigheid van die Abrahamse verhaal, is daar nou meer as ooit tevore rede om te glo dat dié verhaal
’n betroubare weergawe van gebeure is.

Na my mening het hierdie tradisies saam met die Abrahamse familie na Kanaän gekom. Daarna is dit vir geslagte mondeling onder sy nasate oorgedra, alhoewel vroeë skriftelike bronne (wat in die mis van die verlede verlore geraak het) nie uitgesluit kan word nie. Diegene wat hierdie tradisies getrou van geslag tot geslag oorgedra en bewaar het, was die profete. Onder diegene wat dit aanvanklik opgeskryf het, word Moses as ’n belangrike skakel vermeld (Eks. 17: 14; 24: 7).[3]

Profete het oënskynlik van die vroegste tyd onder die Israeliete voorgekom. Ons vind dat Abraham reeds ’n profeet genoem word (Gen. 20: 7). Moses was ’n profeet (Deut. 18: 15; 34: 10); so ook Aäron (Eks. 7: 1) en sy suster Miriam (Eks. 15: 20). In hulle tyd sou daar ook ander profete soos Eldad en Medad opereer (Num. 11: 26). Later kom Deborah en Samuel. In die tyd van Saul was daar ook groepe profete bedrywig (1 Sam. 10: 5). Die Israelitiese profete was regdeur Israel se geskiedenis tot ná die ballingskap aktief.

Dit lyk of die Israelitiese profete baie soos die digters en sjamane van ander antieke volke geopereer het, wat die bewakers van daardie volke se tradisies was en dit van geslag na geslag oorgedra het. Profesieë is dan ook tipies in digterlike vorm uitgespreek. Ons lees in baie gevalle dat die profete nie alleen in hul geestelike ervarings die Oppergod gesien het nie, maar dat hulle selfs toegang tot die goderaad (’n baie belangrike konsep in die Bybel) gehad het – wat daarop dui dat hierdie raad deel van ’n lewende tradisie was, wat deur die eeue in hul midde bly voortleef het.

Dit is opvallend dat hulle ook diegene was wat die “Jahweh-alleen”- tradisie in stand gehou het.[4] Aangesien hulle die oudste tradisies in stand gehou het, kan dit daarop dui dat daardie tradisie baie oud was. Volgens die Bybel het dié tradisie by Moses ontstaan aan wie God Hom vir die eerste maal as Jahweh geopenbaar het
(Eks. 6: 2).

Ek gaan nie in hierdie boek die Genesis-verhale volledig behandel nie. Hierdie is nie as ’n volledige werk oor die onderwerp bedoel nie. Ek gaan gewoon enkele aspekte aanspreek. Ek begin met Abraham (Hoofstuk 1). As sy verhaal as geskiedenis geneem kan word, is hy ’n belangrike skakel tussen die Sumeriese en Israelitiese wêrelde.

Dan kyk ek na die ooreenkoms tussen die Bybelse en Sumeriese weergawes van die na-vloedse periode, die identifisering van enkele Bybelpersone soos Nimrod, Henog en Adam in die raamwerk van die Sumeriese geskiedenis, die aanbidding van die Hebreeuse God El in Sumerië, die Sumeriese verstaan van die “drieverdieping” wêreldbeskouing wat ons in die Bybel vind asook die vroeë voorkoms van sjamanisme en die profetiese tradisie. Ek het die onderwerpe gekies op grond van my eie belangstelling.

Hierdie boek is die vrug van jare se studie in die vroeë Bybelse en Sumeriese geskiedenis en tradisies. In die proses het ek die vroeë Sumeriese literatuur deeglik deurgelees en verskeie navorsingstoere saam met ’n paar vriende na sommige van die wêrelddele waarin die verhale afspeel onderneem.Verskeie foto’s, wat deur skrywer se reisgenoot Evert Buurman geneem is tydens hul reise, is in hierdie boek opgeneem. Ek het ook ’n wye studie van die akademiese materiaal oor die onderwerp gedoen. Verder was ek bevoorreg om vir ’n paar jaar deel van ’n Sumeriese leesgroep te wees waar ek ’n liefde vir die Sumeriese wigskrif en taal ontwikkel het. Dit is egter belangrik om te onthou dat hierdie nie ’n literêre of teologiese studie is nie, maar ’n
studie oor die geskiedkundigheid van die Genesis-verhale.

Die boek is gewoon as ’n inleiding tot die onderwerp bedoel. Dit is op die gemiddelde leser gerig wat geen agtergrond oor die Sumeriese wêreld het nie. Die boek is so geskryf dat hulle dit stimulerend en interessant sal vind. Tog is dit ook so dat die kwessies wat ek in hierdie boek aanspreek, allermins eenvoudig is. Sommige daarvan is werklik moeilike sake. In ons tyd is daar baie Afrikaanse mense wat vir die eerste keer werklik vir hulleself oor dinge begin nadink (en hopelik nie maar net weer andere in die stroom van skeptisisme naloop
nie). Ek vertrou dat hulle by hierdie boek, waarin sulke sake ook vanuit ’n behoudende Christenperspektief onder die soeklig kom, sal baat vind.

Ek glo dat daar in die huidige intellektuele klimaat in Suid-Afrika ’n behoefte aan ’n boek soos hierdie is, wat op die vroegste wortels van Israel (en in effek die Christentradisie) fokus. As denker en skrywer is ek verplig om die kernvrae wat in ons tyd rondom hierdie kwessies gevra word, aan te spreek en vir die gewone denkende Christen sinvolle voorstelle op die tafel te plaas – wat hopelik verdere debat daaroor sal stimuleer. Ek beskou dit gewoon as ’n inleidende gesprek oor daardie dinge. Die boek is hoofsaaklik gerig op persone
wat dink, wat wonder en wat selfs twyfel.

Alhoewel sommige van die dinge wat ek in hierdie boek bespreek vir die gemiddelde Christen vreemd sal voorkom omdat hulle dalk nie die Bybel so versigtig vir leidrade fynkam, wat lig op die heel vroegste sieninge kan werp nie (die Bybel werp ’n sluier oor baie van daardie vroeë sieninge; dit is die “verborge dinge” – Deut. 29: 29), glo ek dat die nuutste argeologiese en literêre data juis aantoon dat die Bybelse verhale – en meer spesifiek die verhale van Genesis 2-14 – as betroubaar aanvaar kan word. Alhoewel daar steeds baie
gebreke in ons kennis is, het ons vandag ’n uitgebreide argeologiese kennis oor die totale periode waaroor die Bybel handel. Soos ons in die boek Daniël lees, word dinge al duideliker soos wat die “kennis vermeerder” (Dan. 12: 4). Om onduidelikhede te help opklaar, het ek verskeie notas in die teks ingevoeg.

Diegene wat ná die lees van hierdie boek uitsien na ’n meer indiepte bespreking van die vroeë tradisies, kan my komende boek omtrent die vroegste buite-Bybelse tradisies oor die Gevalle Engele aanskaf. Ek skryf ook van tyd tot tyd relevante artikels op my blog, http://wmcloud.blogspot.com/. Lesers kan daarop inskryf.

Willie Mc Loud
Januarie 2012
Die Strand


Notas
1. By Abrahamse familie bedoel ek nie net Abraham se nasate nie, maar ook diegene wat saam met hom in Ur gewoon het.
 2. Hulle reken veral dat die pre-patriargale verhale uit Babiloniese (en Griekse) bronne saamgeflans is.
 3. Volgens die Hebreeuse tradisie het die profete (en ander Bybelskrywers) onder die inspirasie van God se Gees geopereer (2 Sam. 23: 2; 2 Tim. 3: 16; 1 Pet. 1: 11; 2 Pet. 1: 21). Hul geskrifte word dus deur behoudende Christene, waaronder ek myself reken, as Goddelik geïnspireerd beskou. Sien Bylaag 1 vir my siening oor Bybelse inspirasie.
 4. Dit is die tradisie waarvolgens Jahweh die enigste God is wat aanbid mag word.

No comments:

Post a Comment