Sunday 20 May 2012

Die stilte voor die storm?

Die verwysings in die media na 'n moontlike oorlog teen Iran het die laaste tyd ietwat afgeneem. Beteken dit dat die waarskynlikheid van so 'n oorlog ook afgeneem het, of is dit net die stilte voor die storm? In hierdie essay wys ek daarop dat daar 'n hele paar dinge is wat eers in plek moet wees voordat die Weste by so 'n oorlog betrokke sal raak.  Maar wanneer dit gebeur, kan ons verwag dat dit maklik tot 'n wye Midde-Oosterse oorlog kan uitkring.  

Daar was momente in die geskiedenis wat altyd onthou sal word omdat dit so ironies was.  Een daarvan is die verwysing van die destydse Britse eerste minister Neville Chamberlain op 30 September 1938 na "vrede vir ons tyd". Dit was kort nadat die belangrikste Europese moondhede en Nazi Duitsland die Munich Ooreenkoms gesluit het, waarvolgens hulle die Nazi's tegemoet gekom het met hul instemming tot die anneksasie van Sudetenland in Tsjeggo-Slowakye. Binne 'n jaar daarna het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek.

Daar geld vandag 'n baie soortgelyke situasie. Nadat die spanning met Iran in die eerste paar maande van 2012 aansienlik toegeneem het, het die groot moondhede (Ses Nasies) intussen hul gesprek met Iran rondom die land se atoom verrykingsprogram hervat. Die eerste gesprek het op 14 April in Istanbul in Turkye plaasgevind en die volgende byeenkoms is op 23 Mei in Bagdad in Irak. Dit lyk of hulle die Irannese op 'n manier probeer tegemoet kom - soos die Europese moondhede destyds met die Nazi's.  Barak Obama is gewoon die hedendaagse Chamberlain wat agteroor buig om 'n oorlog te probeer vermy.  Die kaarte is egter baie swaar teen enige vreedsame oplossing gelaai. Die kans dat so 'n oorlog gaan uitbreek is baie groot - al wat dit teëhou is die feit dat die wêreldsituasie (vanuit 'n Westerse perspektief) nog nie heeltemal vir so 'n oorlog gereed is nie.

Waarom is so 'n oorlog bykans onafwendbaar?

Die enkele belangrikste rede vir so 'n oorlog is seker dat Israel die Irannese verrykingsprogram as 'n eksistensiële bedreiging beskou.  Dit beteken dat die Israeli's van mening is dat hierdie program tot die kernbewapening van Iran kan lei, wat die toekomstige voortbestaan van Israel sal bedreig.  Die Israeli's verwys in hierdie verband na die Nazi holokarst - die eerste minister Benjamin Netanyahu het reeds genoem dat hy sal toesien dat so iets nie weer gebeur nie. Die Israeli's sal nie enige kanse met hul eie voortbestaan as 'n volk in die land Israel neem nie.

Die Israeli's wys daarop dat die Irannese leiers al verskeie dreigemente in hierdie verband gemaak het - op Sondag 20 Mei het die militêre stafhoof, Maj. Gen. Hassan Firouzabadi, weer tydens 'n toespraak aan 'n verdedigingsbyeenkoms gesê: “The Iranian nation is standing for its cause and that is the full annihilation of Israel".  Die Irannese het ook 'n tyd gelede dit reggekry om 'n verrykkingsgraad van 20% te bereik (wat beteken dat verryking vir wapendoeleindes binne hul bereik is). Voorts is hulle baie sku om met die Internasionale Atoomenergie Agentskap (IAEA) saam te werk - veral wat hul ondergrondse fasiliteit by Parchin betref. Die Israeli's is van mening dat die Irannese vir tyd speel in 'n poging om alle bewyse van  kern-verwante ploftoetse daar te verwyder. Verder is hulle bekommerd oor die ander ondergrondse fasiliteit by Dasht e-Kavir (Groot Sout Woestyn). Die Irannese bedreiging het oor die jare toegeneem en is nou op 'n stadium waar dit 'n wesentlike gevaar vir Israel kan inhou.

Ons moet egter nie die Israelse bedreiging los van die groter prentjie sien nie. Israel se belange is ten nouste met die Anglo-Amerikaanse belange verweef.  Ons kan eintlik van die Anglo-Amerika-Israel belange praat.  Die belangrikste rede waarom die Engelse destyds tot die Israeli's se vestiging in die land Israel toegestem het (die Balfour Verklaring), was omdat dit 'n eenvoudige manier was om 'n permanente vastrap plek vir hul eie belange in die Midde-Ooste te verseker.  Vanuit 'n geopolitieke perspektief was dit 'n briljante skuif.

Die Anglo-Amerikaners het deur die eeue hul belange deur vrede sowel as oorlog bevorder. Hulle werk volgens 'n langtermyn plan waarvolgens hulle hul finansiële belange deur opeenvolgende oorlog en vredesiklusse bevorder (sien die artikel wat ek op 8 Januarie 2012 op hierdie blog gepos het, "Is 'n Irannese Oorlog op hande? - 'n ondersoek na oorlog en vredesiklusse"). My studie van historiese oorlog en vredesiklusse dui daarop dat ons rondom die jaar 2014 'n baie groot oorlog teen Iran kan verwag (Hierdie datum is op die 4 oorlog en vredesiklusse van die vorige 100 jaar gebaseer). Die rede waarom Iran (saam met Sirië) vir hierdie oorlog op gelyn word, is nie net omdat hulle 'n eksistensiële bedreiging vir Israel inhou nie, maar ook omdat hulle 'n kritiese bedreiging vir die Anglo-Amerikaanse belange in die Islamitiese Midde-Ooste inhou.  Sulke oorloë volg tipies wanneer daar 'n kompeterende moondheid is wat die Anglo-Amerikaanse belange ernstig bedreig.

As dit sou gebeur dat Islamitiese groepe regdeur die gebied waar die Arabiese Lente voorgekom het met Iran affilieer, sal hulle die Weste effektief uit daardie gebied kan uitsluit. Maar nou word die hele Sunni-groepering onder die Moslems (die Moslembroeder-groepe ingesluit) in effek in 'n losse alliansie teen die Iran-Sirië-Hezbollah groepering betrek (sien die artikel wat ek op 27 Februarie 2012 op hierdie blog gepos het: "Die Siriese konflik verdeel Israel se vyande"). Dit beteken dat bykans die hele Moslem wêreld (die Midde-Oosterse Sunni groepering) gedwing word om met die Weste saam te werk omdat hulle Iran as 'n vyand beskou - hoofsaaklik omdat Iran die Siriese regering teen die rebelle ondersteun. Dit is waarom dit so belangrik is dat die aanloop tot so 'n oorlog reg "bestuur" word om te verseker dat die Weste nie net as beskermers van Israel optree nie, maar ook van die Sunni Moslems (soos hulle in Libië gedoen het). So 'n oorlog sal baie van die lande waar die Arabiese Lente plaasgevind het, in 'n meer permanente alliansie met die Weste betrek.

Daar is ook ekonomiese redes vir so 'n oorlog. Soos ek in die genoemde artikel oor oorlog en vredesiklusse aantoon, het al die groot oorloë oor die afgelope eeu groei in die Westerse ekonomieë gestimuleer.  Al hierdie oorloë het dan ook op 'n periode van ernstige ekonomiese insinking gevolg.  Die oorlogsfase begin met 'n groot finansiële krisis en gepaardgaande resessie/depressie (oor die afgelope eeu: 1907-8, 1929-33, 1957-58, 1980-82), gevolg deur 'n periode van ekonomiese stagnasie en 'n verdere resessie, waarna die oorlog uitbreek. Die mees onlangse siklus het duidelik met die ekonomiese krisis en "groot resessie" van 2008-9 begin.  Verskeie Europese ekonomieë is tans besig om 'n verdere resessie in te gaan (sommige is al lankal daarin) en die kans is goed dat dit die VSA ekonomie kan aftrek. Dit is tipies wanneer ons die volgende oorlog kan verwag.  

Wat moet eers in gereedheid gebring word?

Daar is egter baie dinge wat eers in gereedheid gebring moet word voordat die Weste met so 'n oorlog gemaklik sal wees. Ek gaan gewoon 'n aantal daarvan kortliks toelig:

1. Die belangrikste gevaar vir die Westerse belange is dat 'n Israeliese aanval teen Iran die Moslem wêreld teen Israel sal verenig. Dit is waarom die VSA baie sterk daaroor voel dat so 'n aanval binne die raamwerk van breër alliansie plaasvind wat nie alleen NAVO nie, maar ook belangrike Moslem lande soos Katar, die Verenigde Emirate en selfs Saoedi-Arabië insluit.  Dit is ook die rede waarom die VSA so by Israel aanhou om die vredesproses met die Palestyne aan die gang te kry - al bereik hulle nie enige resultate nie. Dit temper die negatiewe sentiment jeens Israel. Dit is dan ook opvallend dat Benjamin Netanyahu vroeg in Mei die Kadima party by sy regerende alliansie ingesluit het (nadat Kadima net twee weke te vore van leierskap verwissel het). Sy vorige alliansie vennote het nie aan hom veel ruimte vir sulke onderhandelinge gegee nie - die Kadima party daarenteen, is sterk op vrede met die Palestyne gefokus.

Die nuwe alliansie plaas Israel in 'n uitstekende posisie om 'n aanval op Iran te loods. Dit is nie alleen die breedste regerende alliansie in Israel se geskiedenis nie (wat 'n baie stabiele regering beteken), dit sluit ook drie vorige stafhoofde van die Israeli weermag in, naamlik Ehud Barak (minister van verdediging), Shaul Mofaz (visie eerste minister - die Kadima leier) en Moshe Yaalon (minister van strategiese belange).  Shaul Mofaz is nou verantwoordelik om die Palestynse weerstand teen die vredesproses af te breek en dit weer aan die gang te kry.  

2. Dit is belangrik dat Hamas, die Moslem groep wat die Gaza gebied (direk suid van Israel) regeer, verder van die Iran alliansie vervreemd raak.  Alhoewel Hamas hulleself tot onlangs nog primêr ten opsigte van hul vyandskap met Israel gedefinieer het, het die Siriese konflik hulle gedwing om van posisie te verander.  Hulle steun nou die Siriese opposisie teenoor die regering wat op hul beurt deur die Irannese ondersteun word. Die rede vir hierdie verandering is dat die Siriese opposisie die Siriese Moslembroeders insluit wat soos Hamas 'n uitvloeisel van die Egiptiese Moslembroeders is.  Daar is selfs berigte dat die Moslembroeders, wat 'n groot invloed in die Siriese Nasionale Raad het (wat as 'n buitelandse spreekbuis vir die opposisie optree), nou aktief met die bewapening van die Vrye Siriese Weermag begin het.

Daar is verskillende dinge wat Hamas na die middelgrond dwing.  Nadat die verhouding tussen Iran en Hamas onlangs begin agteruit gaan het, het die Irannese begin om die Islamitiese Jihad, 'n ander groep in die Gaza gebied, van wapens te voorsien. Hamas bevind hulle dus nie meer aan die ekstreme end van die spektrum nie. Die pragmatisme van die ander Broeders groepe (veral die in Egipte, Tunisië en Sirië), dien ook as voorbeeld vir Hamas. Verder begin Hamas en Fatah, die ander Palestynse groep wat oor die Wesbank heers, ook al nouer saamwerk en daar is 'n moontlikheid dat hulle ooreenkoms om voor die einde van die jaar 'n verkiesing te hou, sal realiseer. Dan sal Hamas nie meer die absolute heerser in die Gaza gebied wees nie.  Dit beteken dat Hamas, soos die ander Broeders groepe in die lande waar die Arabiese opstande suksesvol was, as 'n normale politieke party binne 'n demokratiese bestel sal begin funksioneer.

3. Die lande waar die Arabiese opstande plaasgevind het, moet stabiele regerings hê. Stabiele regerings sal verseker dat daar nie groepe in daardie lande is wat vryelik opereer en in staat sal wees om die anti-Iran alliansie te destabiliseer nie. Dit is veral waar van Libië waar daar in Junie 'n verkiesing gehou word.  Verkiesings is egter nie genoeg nie; dit moet regerings wees wat 'n demokratiese bestel onderskryf, wat in staat is om daardie lande effektiewelik te beheer en bereid is om (vanuit 'n Westerse perspektief) met Westerse lande saam te werk. In Tunisië is daar reeds 'n stabiele regering wat grotendeels pro-Westers is. In Egipte is daar al parlementêre verkiesings gehou. Alhoewel die Islamiete omtrent 70% van die setels gewen het, het die parlement nie veel uitvoerende mag nie.  Die presidensiële verkiesings is op 23 en 24 Mei, met die tweede rondte op 16 en 17 Junie.

4. Die Siriese konflik polariseer die Moslem wêreld.  Hoe langer dit voortduur, hoe meer sal die Moslem lande waar die Arabiese opstande plaasgevind het - waar die Islamitiese partye (en veral die Moslembroeder groepe) oor die algemeen baie steun geniet - in 'n anti-Iran groepering gekonsolideer word.  Dit beteken dat dit in die Westerse belang is dat die konflik solank moontlik uitgerek word.  Sodra die omringende lande uiteindelik wel direk by die konflik betrokke raak (deur bv. buffersones), is die moontlikheid groot dat dit in 'n wyer Midde-Oosterse oorlog kan uitkring waarin lande soos Iran, Turkye, Katar, Saoedi-Arabië (en dalk Egipte, Tunisië en Libië) asook NAVO betrokke is. Selfs Rusland kan indirek (selfs direk?) daarby betrokke raak. So 'n oorlog sal die anti-Iran groepering redelik suksesvol binne 'n permanente alliansie met die Weste kan intrek.

Soos die Siriese konflik voortsleep, sal die twee opponerende Siriese groepe - wat hulle by die rebelle of die regering skaar - ook al duideliker uitkristaliseer. Die Siriese opposisie, wat redelik verdeeld is, sal moet begin saamwerk om 'n meer verteenwoordigende liggaam daar te stel met wie die "Vriende van Sirië" kan saamwerk. Daar is sommige onder die opposisie wat van mening is dat die invloed van die Moslembroeders in die Siriese Nasionale Raad te groot is en dat hulle Sirië op 'n ondemokratiese wyse sal regeer as hulle aan bewind kom.  Hulle is ook bang dat die Sunni's wraak op die regerende Alawiete sal neem. Hoe dit ook al sy, dit lyk of die Vrye Siriese Weermag die afname in geweld tydens die pogings om die VN-plan van Kofi Annan te implementeer, gebruik om beter te organiseer en te bewapen. Die Internasionale Rooi Kruis is van mening dat die konflik in dele van Sirië reeds as 'n burgeroorlog geklassifiseer moet word. Dit beteken dat die Siriese konflik waarskynlik nog lank sal voortduur - tot die Weste gereed is om betrokke te raak.  

5. Daar is verskeie algemene dinge wat hierby gevoeg kan word. So is daar die Israelse en NAVO se missielskilde wat al funksioneer, maar nog nie ten volle operasioneel is nie. Die Israeli's het hul nuut opgerigte skild 'n paar weke gelede getoets toe die Islamitiese Jihad Israel met missiele bestook het en dit was besonder suksesvol. Die VSA sal verder ook graag hul betrokkenheid in Afganistan wil afskaal voordat so 'n oorlog uitbreek (hul huidige betrokkenheid duur tot 2014). Op die afgelope NAVO vergadering is daar dan ook besluit dat die Afgaanse troepe vanaf mid-2013 die leiding in alle operasies sal begin neem.

En dan is daar natuurlik die VSA presidentsverkiesing in November. Dit is baie onwaarskynlik dat president Obama, wat homself as iemand voorhou wat vrede eerder as oorlog voorstaan, voor die verkiesing by 'n oorlog teen Iran betrokke sal raak. Alhoewel hy daarna meer gewillig sal wees, is die waarskynlikheid vir 'n oorlog baie groter as die Republikeinse kandidaat (waarskynlik Mitt Romney) die verkiesing in November wen.  Laastens is daar die Westerse olieboikot teen Iran waarvolgens lande wat Irannese olie invoer tot 28 Junie tyd het om ander verskaffers te vind. Dit sal hopenlik die impak van so 'n oorlog op die olieprys verminder.

Slot

Alhoewel die konflik met Iran die laaste tyd al minder in die nuus was, is die Weste onverpoosd besig om hulle op so 'n moontlike oorlog voor te berei. Die VSA het die laaste tyd aan verskeie oorlogsoefeninge in die Middellandse See, Jordanië (langs die Siriese grens) en elders deelgeneem. Daar is ook baie ander dinge wat stadig maar seker in plek skuif sodat die Westerse belange deur so 'n oorlog bevorder kan word.  Die heel belangrikste is seker om te verseker dat 'n wye Sunni-Moslem groepering van regoor die Midde-Ooste (en Noord-Afrika) by so 'n alliansie teen Iran ingesluit word.

Die hernude pogings om 'n ooreenkoms met Iran oor hul atoom verrykingsprogram te bereik, het wel die situasie ietwat getemper, maar ons moet dit waarskynlik in dieselfde lig sien as die destydse pogings om 'n kompromis met Nazi Duitsland te bereik. Dit is onwaarskynlik dat daar "vrede vir ons leeftyd" sal wees. Alhoewel niemand die toekoms kan voorspel nie, lyk dit so al of daar 'n baie groot oorlog op pad is.

 Skrywer: Dr Willie Mc Loud (http://www.wmcloud.blogspot.com/)

No comments:

Post a Comment