Monday 3 August 2015

Die probleem met Goddelike wreedheid in die Ou Testament

Vir die eietydse mens is dit moeilik om die gedeeltes in die Ou Testament te verstaan waar mense op God se bevel onder die banvloek kom en doodgemaak word. Vir ons lyk dit gewoon na Goddelike wreedheid wat op geen manier goed gepraat kan word nie. Hoe is dit moontlik dat God sulke wreedhede kon beveel? Maak dit van Hom 'n wrede en aggressiewe God? Ek toon dat hierdie moeilike sake wel sinvol verduidelik kan word. Ek argumenteer selfs dat daar 'n besondere kontinuïteit tussen die Ou en Nuwe Testamentiese beskouings bestaan ten spyte van sommige populêre uitsprake tot die teendeel.

Eietydse lesers van die Bybel stoei dikwels om die etiese norme van ou Israel te verstaan. Hoe is dit moontlik dat God kon opdrag gee dat mense - mans, vroue en kinders - met die banvloek getref word? Hoe is dit moontlik dat 'n profeet van God soos Elia die priesters van Baal met wie hy verskil het, kon slag? Hoekom is daar soveel wreedheid wat in opdrag van God gepleeg is in die Ou Testament - en hoe is dit moontlik dat dieselfde God wat Homself in Jesus Christus sou openbaar (wat die toonbeeld van Goddelike liefde is), terselfdertyd sulke wrede opdragte aan sy dienaars en sy volk kon gee? Alhoewel hierdie 'n moeilike kwessie is, poog ek in hierdie essay om sinvolle voorstelle op die tafel te plaas.

Wanneer ons die Ou Testament lees, dan is dit belangrik dat ons besef dat dit in 'n antieke wêreld afspeel wat op 'n radikaal ander wyse as ons oor dinge gedink het. Ons moet hulle histories-kulturele verbondenheid in ag neem as ons hul verhale lees. Die wreedheid wat ons in die vroeë periode van Israel se geskiedenis vind, was tipies van die wyer wêreld waarin hulle geleef het. Vandag nog vind ons 'n soortgelyke konteks in sekere afgesonderde dele van die wêreld soos in Afganistan waar stamme 'n besonder wrede benadering tot die lewe volg. Die vraag is egter: Hoe kon dieselfde God wat Christene vandag dien, destyds sulke wrede opdragte gee? Staan God nie buite die mens en sy historiese gebondenheid nie?

Alhoewel God volgens die Bybel buite die skepping staan, is dit terselfdertyd so dat God deur sy Gees deur die profete gepraat het binne die konteks van daardie tyd. Vir hulle was daardie dinge duidelik nie verkeerd op dieselfde wyse as wat ons dit as verkeerd beskou nie. Alhoewel ons mag dink dat ons vanuit ons eietydse posisie hul waardes en dade moet veroordeel, verduidelik dit nog nie hoe hulle daardie waardes as reg kon beskou nie. Die eintlike vraag wat ons moet beantwoord, is dus: Hoe kan ons die etiese waardes van destydse Israel regverdig? En hoe kan die veranderende etiese waardes van die Bybel met 'n onveranderlike God versoen word? Is daar iets soos vaste morele waardes?

Die etiese konteks van ou Israel

Dit is vir ons onmoontlik om ons in die posisie van ou Israel in te dink. Ons is, net soos hulle, onlosmaaklik binne ons eie kultuurraamwerk vasgevang. Dit het filosowe soos Heidegger ons kom leer. Tog kan ons hul kultuurraamwerk bestudeer en dit kan ons help om meer begrip vir hul denkwyse te hê. In hierdie verband is dit belangrik om te besef dat ou Israel die kosmos en hul plek daarbinne totaal anders as ons gesien het. Die konsepte wat hulle hieromtrent gehad het, was deel van die antieke wêreld waarbinne hulle gelewe het.

Wanneer ons die antieke wêreld bestudeer, dan is daar veral een faktor wat 'n prominente rol in hul verstaan van die wêreld gespeel het. Dit is dat hulle voortbestaan voortdurend op die mees basiese, eksistensiële vlak bedreig is. In daardie tyd was die stryd om oorlewing baie meer intensief as vandag in soverre invallende hordes enige dag kon opdaag, plunder en mense om die lewe bring. Dit was 'n wêreld waarin chaos en wanorde die reël was - daar was voortdurende onsekerheid oor basiese voortbestaan in die toekoms. Ons moet die kulturele raamwerk van die antieke Midde Oosterse mens binne hierdie konteks verstaan - dit is die konteks waarbinne die destydse etiese norme nie alleen algemeen aanvaar is nie, maar ook as die enigste sinvolle regulerende beginsels geopereer het.

Binne die konteks van die fundamentele bedreiging van hul wêreld, was die natuurlike reaksie van die antieke mens nie alleen om binne groepsverband skuiling te vind nie, maar ook om die groep se belange bo dié van individue te ag. In hierdie konteks is mense se waarde volgens hul potensiële bydrae tot die voortbestaan van die groep waartoe hulle behoort het bepaal. Dit beteken dat mense primêr volgens hulle utilitêre waarde (usefulness) vir die groep beoordeel is. Mans wat kon veg was oor die algemeen meer werd vir die groep as vrouens wat hoofsaaklik belangrik was om nasate vir die groep te verseker.

Vanweë die voortdurende eksistensiële bedreiginge was individue beperk in die mate waarin hulle onafhanklik van die groep besluite kon neem - daar was 'n streng gesagstruktuur waarin die koning en die oudstes oor die belange van die groep gewaak het. Die rede hiervoor is eenvoudig: individuele besluite kan maklik in stryd wees met die belange van die groep en kan dit selfs ondermyn. Ons vind vandag nog in sekere gebiede waar stamme 'n groot mate van kohesie het (veral in die woestyngebiede van die Midde-Ooste, Noord-Afrika, Afganistan ens.) dat die gesag van die oudstes die hele familielewe bestuur. Ons kan hierdie konteks makliker verstaan as ons dit met ons huidige weermag konteks in verband bring waar gesagstrukture streng is en waarin elkeen se waarde hoofsaaklik op utilitêre gronde bepaal word.

Daar was egter ook 'n ander beginsel wat veral in die raamwerk van families, stamme en volksverband (in soverre volke uit stamme bestaan het) asook in stede geopereer het. Binne die konteks van die familie het familiebande en onderlinge liefde tot 'n sekere mate die utilitêre beginsel oorskadu. In soverre iemand tot 'n familie behoort het, het so iemand 'n menswaardigheid gehad wat hulle nie daarbuite kon hê nie. In die wyer konteks van die eie samelewing is hierdie menswaardigheid formeel in die raamwerk van die etiese wette opgeneem. Om te verseker dat niemand bevoordeel word nie en dat geregtigheid seëvier is sulke wette in die antieke Midde-Ooste rondom die beginsel van 'n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand geformuleer (dit was die basis vir 'n regverdige orde in 'n wanordelike wêreld). Sulke wette was in die algemeen nie op diegene buite die groep (en diegene wat in die groep aanvaar is) van toepassing nie behalwe tot die mate waartoe enige onreg volgens dieselfde beginsel van geregtigheid vergeld moes word - buite die groep het utilitêre beginsels oorheers.

Diegene buite die eie groep is net soos diegene binne groepsverband primêr binne hul groepskonteks onderskei. Mense se groepsidentiteit het grotendeels hul menslike identiteit bepaal. Aangesien dit slegs binne iemand se eie groepsverband was dat hulle wesentlike menswaardigheid toegesê is, is hulle buite daardie konteks feitlik uitsluitlik in utilitêre terme gesien - hetsy as 'n bedreiging of as iemand wat op een of ander wyse die groep tot voordeel kon dien. Tot vandag vind ons in tye van oorlog - wanner groepe voel dat hulle op 'n radikale wyse bedreig word - dat die "ander" maklik as 'n groep gekarakteriseer word en dat diegene wat tot hulle behoort of hulle daarby skaar maklik onder suspisie kom en dat daar gewoonlik baie streng teen "verraaiers" opgetree word.

Die verhouding met die goderealm

In die konteks van eksistensiële bedreiging is daar na die gode vir beskerming gekyk. Deur die aanbidding van die gode (en al die kultushandelinge wat daarmee gepaard gaan) kon daar op die beskerming van die gode aanspraak gemaak word. In die raamwerk van die derde/tweede millennium in die antieke Middel-Ooste het families dus tipies sekere familiegode vereer wat na daardie families sou omsien. Ons vind ook dat volke sekere (families van) gode vereer het. As sodanig kan ons van die "sakrale" beginsel praat: almal binne 'n sekere familie of volkskonteks het tot dieselfde heilige orde (godsdienstige kultus) behoort. Aangesien die familiegode as beskermers van families in die raamwerk van eksistensiële bedreiginge opgetree het, is individuele keuse natuurlik ook nie in hierdie verband toegelaat nie.


Volgens die boek Genesis was El-Sjaddai Abraham se familiegod. Die volksgod van Israel was Jahweh, wat telkens die "God van Israel" genoem word. Jahweh is die naam waaronder El-Sjaddai Homself volgens die Pentateug aan Moses geopenbaar het (sien Ex. 6:2). Volgens die Mosaïse verbond sou Israel Hom vereer en sou Hy na hulle omsien. As volksgod word sy verhouding met die volk in terme van beide liefde en onderwerping aan sy gesag beskryf (die verhouding tot God as koning oor Israel is gewoon as 'n verlenging van die familieverhoudinge beskou waarbinne die koning en oudstes gesag uitgeoefen het); Hy is ook die een wat teenoor hul vyande hul voortbestaan sou verseker.

Wat die antieke mens (ou Israel) se verhouding met die gode (God) betref, het hulle ook nie die groter kosmos soos ons gesien nie. Hulle het 'n radikaal ander konsep van die kosmos gehad wat ek nie hier in enige diepte kan bespreek nie. Wat wel vir ons huidige bespreking belangrik is, is dat hulle die menswêreld in die wyer raamwerk van die godewêreld geplaas het. Die rede hiervoor is dat die menslike gees (genus) net soveel as deel van die geesteswêreld (godewêreld) beskou is as ander geeste en gode - wat ten nouste in die daaglikse familielewe van die antieke mens ingeweef was. Die dood het nie die menslike bestaan in enige finale sin afgebaken soos ons vandag daaroor dink nie - die mens het terselfdertyd tot die geestesrealm behoort. Die menslike bestaan het gewoon in 'n ander vorm na die dood voortgegaan. In soverre sekere volke sekere gode aanbid het, het hulle in lewe en dood tot die ryksgebied van daardie gode behoort. Die gesag wat die gode oor die mense uitgeoefen het, het dus verby hierdie wêreld tot die groter raamwerk van die gode gestrek.

Vanuit die Ou Testamentiese perspektief staan beide Israel en hul vyande uiteindelik onder God se gesag wat as die koning oor die kosmos beskou is - bo al die ander gode. God se gesag strek verder as die aardse bestaan waarbinne etiese wette die eie samelewing reguleer - alle mense en gode staan uiteindelik onder God se gesag of sal hulle uiteindelik daaraan moet onderwerp (vgl. Ps. 82). As sodanig kon God sy gesag soewerein oor die hele kosmos uitoefen - en was Hy uiteindelik die een wat die mensdom op morele gronde sou oordeel. As sodanig is alle mense aan die basiese morele wette wat God in die kosmos ingestel het onderwerpe (alhoewel nie spesifiek aan die Mosaïse wet nie) - wette wat uiteindelik deur God in alle mense se gewete ingegee is (sien Paulus se argument hieromtrent in Romeine 1:18-2:16).

In hierdie verband is dit God se soewereine reg as heerser oor die kosmos om mense volgens hul dade aan die hand van sy morele wette te oordeel (die gedagte dat mense uiteindelik vir hul dade geoordeel word is regoor die antieke Midde Ooste aanvaar [1]). Binne hierdie konteks maak dit geen verskil of God sy oordeel binne hierdie wêreld of in die hiernamaals uitvoer nie. Voorts kon God besluit wat die tydstip is waarop Hy sy oordeel uitvoer - en Hy kon dit doen in die konteks waarin Hy sy volk se oorlewing en voortbestaan verseker (soos toe Hy die inwoners van Kanaan in hul hand oorgegee het).

Ons kan nou die probleem van Goddelike wreedheid in die Ou Testament in hierdie konteks probeer verstaan. In alle gevalle waar ons vind dat volke onder die banvloek gekom het, word dit duidelik uitgespel dat hulle onder God se oordeel gestaan het wat op die uitoefening van 'n bevel in die konteks van Goddelike regspraak verstaan moet word. In die geval van die nasies van Kanaan word daar dikwels op hul sondige (gruwelike) praktyke gewys en in die geval van die Amalekiete het dit met hul handelinge tydens die uittog te doen. Vanuit die profetiese perspektief het die "maat van hul sondes" vol geraak (sien Gen. 15:16) en het die tyd van God se oordeel vir hulle aangebreek. Selfs in die geval waar Elia die Baalpriesters geslag het moet dit in hierdie terme verstaan word. Baie later, toe Nebukadnesar Jerusalem ingeneem en hy verskeie onder die Israelitiese adel en hul kinders "geslag" het, is dit ook in terme van God se oordeel verstaan omdat hulle die praktyke van die volke van Kanaan gevolg het (2 Kon. 17: 1-23; 21:1-12; 25:7).

Ons vind dus dat vyandige volke nie maar willekeurig uitgewis is nie. God se oordeel word altyd in die raamwerk van sy regverdigheid geplaas - binne God se raad was daar 'n regverdige verhoor wat (in die gevalle onder bespreking) in die raamwerk van die banvloek voltrek is. Alhoewel sy oordeel deur natuurrampe kon plaasvind (dink aan Sodom en Gomorra), kon dit ook deur oorlog (in die voltrekking van die banvloek) en selfs deur individue soos Elia volvoer word. As sodanig is dit belangrik om daarop te let dat die volvoering van God se oordeel in hierdie wêreld verby hierdie aardse bestaan strek - dit het primêr met God se gesag oor die totale kosmos te doen. Diegene wat deur die banvloek sterf staan onder God se oordeel soos wat alle mense onder God se (regverdige) oordeel staan na die dood.

Tog bly dit 'n vraag waarom almal, vrouens en kinders ingesluit, deur die banvloek getref is. Ons kan dit duidelik nie losmaak van die antieke denke waarvolgens vyande as 'n groep onder dieselfde kam geskeer is nie. Ons kan dit net verstaan in die konteks van die bedreiginge van die tyd waarin daardie mens gelewe het - enige iemand wat tot die vyande behoort kon dalk meewerk om die identiteit en voortbestaan van die groep te bedreig. Dit is ook die rede wat in die Ou Testament aangevoer word (vgl. Deut. 7). Die rede waarom almal onder die banvloek gekom het, is dat die sterk kultuurgebondenheid van daardie tyd maklik daartoe kon lei dat gespaardes uit die ander volke (kinders ingeslote) mettertyd kon poog om wraak te neem of in die geheim ander gode sou aanbid. Laasgenoemde het die fundamentele verbondsverhouding tussen God en Israel bedreig en as sodanig dus ook God se beskerming van sy volk wat aan daardie terme onderworpe was.

As sodanig is hierdie bedreiging as 'n eksistensiële bedreiging vir Israel se voortbestaan as volk van God beskou - en 'n mens kan dink dat dat dit selfs daartoe sou kon lei as die beginsel van die banvloek nie onder sekere omstandighede toegepas is nie. Heelwat later, in die tyd van Elia en Elisa, is die familielyn van Dawid byvoorbeeld bykans uitgewis (vgl. 2 Kon. 11 ens.). Sonder die voortbestaan van Israel as volk van God in die raamwerk van die Mosaïse verbond, en van die familielyn van Dawid, sou God se beloftes nie waar word nie en sou die Messias nie gebore word nie.  

In hierdie konteks kan ons sien dat die antieke mens - ou Israel ingeslote - 'n sekere vorm van utilitaristiese etiek toegepas het waarvolgens etiese beginsels deur die "groter belang" (greater good) bepaal is. Vandag nog gebeur dit in die raamwerk van etiese dilemmas dat die lewens van mense ter wille van die groter belang opgeoffer word. So word individue ter wille van die voortbestaan en voorspoed van die groter groep prysgegee. Tot vandag staan die beginsels van universele morele waardes (met alle mense se menswaardigheid as basis; filosofies begrond op Emmanuel Kant se morele filosofie) en die utilitaristiese beginsels waarvolgens sommige persone soms vir die "groter belang" opgeoffer word (bv. in oorloë, slagoffers van alle vorme van land-, see- en lugverkeer ens.; filosofies begrond op Jeremy Bentham en John Stuart Mill se morele filosofie) in konflik met mekaar. Alhoewel sulke besluite gewoonlik nie in terme van die veroordeling van sulke persone in regsterme gemaak word nie, is dit wel hoe die banvloek in ou Israel verstaan is. 

Die Nuwe Testamentiese bedeling

Die etiese waardes van die Ou Testament het in die Nuwe Testament subtiele veranderinge ondergaan. Alhoewel daar 'n duidelike kontinuïteit is tussen die Ou en Nuwe Testamentiese wêrelde in soverre beide ou Israel en die vroeë kerk uit die Israelitiese tradisie gegroei het, is daar tog 'n baie belangrike klemverskuiwing. Met Jesus Christus het die ou beginsels verander. Ons kan nou kyk hoe dinge verander het. Dit in sigself sal ook help om die ou Israelse konteks beter te verstaan.

Die eerste belangrike verskuiwing in denke is dat God die hele wêreld in sy genade insluit. Alhoewel proseliete al vroeg in ou Israel aanvaar is (dink aan Ragel in Jerigo) en van die latere profete hul boodskap tot die omringende volke gerig het, is dit eers met die Nuwe Testament dat die gedagte dat God graag mense van alle nasies by sy koninkryk wil insluit, werklik begin veld wen het. Waar die Ou Testament primêr van God as die "God van Israel" praat wat hom met Israel as volk bemoei, verbreed die Nuwe Testament die fokus sodat God nou die God van die gelowiges uit alle nasies word. Nou vind ons dat alle mense tot die verbondsverhouding met God toegelaat kan word. Een van die belangrikste uitsprake in hierdie verband is seker die bekende Johannes 3:16: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê".

Met hierdie verbreding van God se verbondsbedeling, kom daar ook 'n radikale verandering rakende die sakrale beginsel. Waar die oudstes van die familie en die volk voorheen die besluite namens individue geneem het, vind ons dat die individu nou tot sy eie besluit rakende die aanbidding van God opgeroep word. Skielik moet die individu self kies of hy/sy Jesus Christus as Messias en Verlosser wil aanvaar. Nou kom daar 'n stryd binne die konteks van families - volgens Jesus sal families ten diepste oor Hom verdeeld raak (Matt. 10:34-37). Wat die "ander" betref, diegene wat vroeër as vyande hanteer is: nou vind ons dat die volgelinge van Jesus opgeroep word om hul vyande lief te hê (vgl. die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, i.e. binne en buite volksverband). Diegene wat op 'n menslike vlak as vyande gereken mag word, is nie noodwendig vyande van God nie.

Die klem op individuele keuse het belangrike implikasies. Individue ontvang 'n sekere waardigheid (dignity) wat nie voorheen as sodanig erken is nie. Volgens die Nuwe Testament is die individu so belangrik dat Jesus Christus vir hulle kom sterf het. Die individu is 'n persoon wat vir God belangrik is: daarom moet ons hulle ook so beskou. Voorts beteken dit dat daar nie gewoon op die groep en hul belange gefokus word nie; individuele omstandighede moet in ag geneem word. In die Nuwe Testament word die wet (die reëls wat die samelewing orden) met genade gekomplimenteer soos ons lees: "die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom" (Joh. 1:17). Wanneer die individu se omstandighede in ag geneem word, dan bring ons eie menslike gebreke en swakhede God se genade in fokus (Heb. 4:15, 16).

Die vraag omtrent wie aan God se koninkryk behoort raak nou baie meer kompleks. Waar dit in ou Israel relatief eenvoudig was omdat volke in hul geheel sekere gode aanbid het, is dit in die kerkera allermins die geval: elke individu is teenoor God verantwoordelik vir sy/haar lewe (in die Ou Testament het hierdie beginsel ook ten opsigte van God se uiteindelike oordeel oor die kosmos gegeld). Nou is die mens - selfs die wat waarlik met God wandel - ook aan gebreke en swakhede onderworpe. Die kwessie van die uitvoering van God se oordele raak baie meer kompleks; omdat ons menslike oordeel beperk is kan die mens nie meer namens God sy oordeel uitoefen nie. God alleen kan regverdig oordeel. In soverre die latere Rooms Katolieke Kerk weer die sakrale konsep wou terug bring en namens God wou oordeel, het hulle inderdaad onregverdig opgetree - in die Nuwe Testamentiese bedeling is daar nie meer plek vir Ou Testamentiese beginsels nie!

Ons kan dus sê dat die kultuurraamwerk van Israel in die Nuwe Testamentiese tyd sodanig verander het (veral omdat die politieke milieu baie meer stabiel geraak het) dat 'n nuwe stel etiese reëls in gebruik kon kom. Hiervolgens word alle individue as sodanig belangrik geag (as iemand met menslike waardigheid (dignity)), wie se eiesoortige omstandighede in ag geneem moet word. Mense kan nie meer namens God sy oordele uitvoer nie - Christene moet selfs hul vyande liefhê. Die groep wat binne God se verbond ingesluit word verbreed om individue uit alle volke en tale in te sluit. Op hierdie wyse raak die etiese waardes gebaseer op individuele menswaardigheid wat vroeër binne die volksraamwerk van ou Israel gegeld het, nou ook op 'n sekere wyse op alle mense van toepassing. Alhoewel die Mosaïse wet primêr met uiterlike handelinge en verhoudings te doen het, kon die beginsels wat dit onderlê in een fundamentele morele beginsel opgesom word wat alle mense geld: liefde tot God en ander mense.

Ons kan nou vra: as mense nie God se oordele regverdig kan uitvoer nie (vanweë hul eie swakhede en foute), hoe kan die oordeel wat God deur mense in die Ou Testament uitgevoer het as regverdig beskou word? Alhoewel dit in die konteks van daardie tyd waarin individue nie binne groepsverband onderskei is in soverre vyande betref nie, en dit sekerlik in daardie konteks die enigste sinvolle regulerende etiese beginsel was (i.e. gebaseer op utilitêre beginsels), mag dit tog beteken dat dit binne die individuele beoordeling van 'n persoon se dade onregverdig kon wees. In hierdie verband dink ek dat Paulus se verwysing na die "tye van onkunde" hier van toepassing is alhoewel hy die term vir die periode van heidense onkunde gebruik (Hand. 17:30). Selfs Israel was toe nog vanweë hul kulturele gebondenheid in 'n periode van onkunde (alhoewel hulle gedink het dat hul etiese beginsels regverdig was). As sodanig sal God sekerlik alle individue uiteindelik op hul eie terme oordeel volgens die beginsels wat Hy in die Nuwe Testament geopenbaar het (na my mening sal kinders wat nie toerekeningsvatbaar is nie, byvoorbeeld nie onregverdig veroordeel word nie).

Morele waardes: is dit relatiewe waardes?

Hoe moet ons nou oor die Christelike morele waardes dink? Is dit relatiewe waardes? Om hierdie vraag te beantwoord kan ons na die verband tussen die Mosaïse wet en die wet van Christus (vgl. 1 Kor. 9:21 ens.) in die Nuwe Testament  kyk. Die Mosaïse wet is op kliptafels gegee. Alhoewel dit die "woorde van God" bevat het, was dit tog onvolmaak in soverre die materialisering daarvan op kliptafels dit tot 'n aardse konteks gereduseer het. Die feit dat Moses daardie tafels stukkend gegooi het is 'n kragtige uitbeelding van die onvolmaaktheid van daardie wet. Dit is ook hoe Paulus dit in die Nuwe Testament verstaan (sien 2 Kor. 3). In die Nuwe Testament word God se wet deur sy Gees op die tafels van gelowiges se harte geskryf en dit kan opgesom word met die woorde "Goddelike liefde". Hierdie wet is volmaak want dit is die essensie van God se Gees wat in ons woon. Alhoewel dit as sodanig buite enige kulturele konteks staan, bring ons uitlewing daarvan dit altyd weer binne so 'n konteks. Alle pogings om dit binne 'n sekere praktiese konteks uit te werk vind terselfdertyd binne 'n kulturele konteks plaas.

Ons kan sê dat presies dieselfde geld rakende God se woorde aan die profete. Dit is woorde van God wat deur mense uitgespreek is in die kulturele konteks waarin hulle gelewe het. Binne hulle konteks is God se woorde inderdaad regverdig. Daar was geen ander manier waarop God Homself op 'n sinvolle wyse aan hulle kon openbaar nie - omdat hulle kultuurgebonde was (net soos ons vandag) kon hul etiese waardes (volgens utilitêre beginsels) nie anders beslag kry as in daardie konteks nie. As ons dit egter buite daardie konteks in die raamwerk van die Nuwe Testamentiese of ons kontemporêre waardesisteem beoordeel, lyk dit onregverdig. Dit is omdat die maatstaf van regverdigheid (as uitdrukking van God se geregtigheid) volgens konteks verander. Alhoewel dieselfde morele beginsels geld, verander die konteks van toepassing, i.e. etiese waardes is kultuurgebonde [2]. In hierdie verband praat teoloë van die progressiewe openbaring van God - dit was eers in Christus Jesus dat God Homself volkome geopenbaar het.

Slot

Die kwessie van sogenaamde Goddelike wreedheid in die Ou Testament is nie maklik om te verstaan nie - veral omdat ons in 'n totaal ander kultuurkonteks lewe waarin hul etiese norme glad nie vir ons sin maak nie. Op dieselfde wyse sou ons etiese norme glad nie vir die mense van daardie tyd sin maak nie - hul wêreldbeskouing was totaal anders as ons sin.

In hul wêreldbeskouing is daar 'n duidelike en definitiewe onderskeid tussen die volk Israel (en diegene wat hulle by haar geskaar het) en die ander volke in soverre God in 'n verbondsverhouding met Israel gestaan het. In die raamwerk van daardie tyd was dit algemeen dat mense 'n fundamentele onderskeid tussen hul eie samelewing en die "ander" getref het. Aan die ander kant was daar weinig onderskeid tussen die menslike en goderealms - die goderealm het binne die menslike sfeer gestalte gekry. Wanneer God sy oordeel (deur mense) op andere voltrek, staan dit op 'n sekere wyse op dieselfde basis as dié waarin Hy sy oordeel na die dood oor mense asook oor gode volbring.

Ons kan daardie etiese norme beter verstaan as ons begryp hoe daardie antieke wêreldbeskouing in die Nuwe Testamentiese konteks aangepas is. Nou is die konsep van God se verbond aansienlik verbreed - waar dit voorheen op die volk Israel gefokus was, raak dit nou 'n wêreldwye konsep wat persone uit alle volke en tale insluit. Die sakrale konsep maak plek vir individuele keuse. In hierdie raamwerk raak dit vir mense onmoontlik om God se oordeel uit te voer - alle mense het foute en swakhede en dit word in die feilbaarheid van menslike oordeel gereflekteer.

Ons kan nou verstaan dat God se geregtigheid binne elke kultuurkonteks op 'n ander wyse as regverdig beskou kan word. Alhoewel God se morele wet ewig en onveranderd is, is die etiese manifestasie daarvan altyd kultuurgebonde. Wanneer ons God vir "wreedhede" in die antieke tyd wil verkwalik, dan verstaan ons nie die basiese beginsel rakende ons eie lewe nie - ons etiese waardes maak net sin in die konteks van ons eie wêreldbeskouing. Dit is juis die feit dat ons van sulke dinge in die Bybel lees, wat bevestig dat die Bybel 'n betroubare verhaal bevat wat binne 'n antieke konteks afgespeel het. As dit nie so was nie sou niemand die Bybelse verhale geloofwaardig gevind het nie!

[1] Shushan, Gregory. 2009. Conceptions of the Afterlife in Early Civilizations. Londen: Continuum.
[2] Ons kan agter al tien gebooie sulke morele beginsels onderskei wat as die gronde vir beide die Mosaïse Wet en die wet van Christus dien. Neem die Sabbat as voorbeeld. In die konteks van Israel as volk het die beginsel van rus binne die uiterlike rus van 'n Sabbatdag beslag gekry. In die konteks van die Nuwe Testament kry dit primêr beslag binne die konteks van gelowiges se innerlike rus (vgl. Heb. 4).


Willie Mc Loud (Ref. wmcloud.blogspot.com)

No comments:

Post a Comment