Inleiding
Die Europese Unie (EU) is in 'n krisis - of beter: die Euro is in 'n krisis. Die wêreldwye ekonomiese insinking het 'n enorme impak op die Euro en daar is sprake dat die einde van die Euro op hande is. Sommige dink dat dit net 'n kwessie van tyd is voordat die Eurosone verkrummel. Maar is dit werklik so? Of is daar 'n groter plan in werking.
Dit is natuurlik nie die eerste maal dat die Europese Unie (vroeër die Europese Gemeenskap genoem) deur sulke krisisse gaan nie. Dink maar aan Swart Woensdag 16 September 1992 toe spekulasie teen die Pond die Britse regering gedwing het om daardie geldeenheid aan die Europese uitruil meganisme (die voorloper van die Euro) te onttrek. Die vraag is of iets soortgelyks weer sal gebeur. Of sommige van die lande van die Euro gedwing sal word om die Eurosone te verlaat.
Belange groepe in die Unie
Alhoewel dit so mag lyk, is daar nie iets soos onbeplande gebeure wat op daardie front plaasvind nie. Selfs die huidige gebeure rondom die Euro moet in hierdie lig gesien word. Ons moet dit sien in die raamwerk van mededingende belange groepe wat hul oogmerke vir die Unie probeer bevorder. Hierdie groepe sluit 'n breë raamwerk van politici, finansiële en ekonomiese leiers, geld base, spekulante en andere in.
Daar is veral twee sulke groepe, naamlik die Anglo-Amerikaanse groepering en die Frans-Kontinentale groepering. Beide groepe het 'n netwerk van belange wat regdeur die Unie strek. Eersgenoemde groep wil die mag van die Europese Unie op allerlei wyses inperk sodat dit nie ten koste van die VSA as 'n magsblok te voorskyn tree nie. Hierdie groep se belange is sigbaar in die Britse beleid oor die afgelope paar dekades waar daar op allerlei wyses gepoog is om die verdere integrasie van die Europese lande te belemmer. Alhoewel hulle met verloop van tyd gedwing is om baie toegewings te maak, behou hulle byvoorbeeld steeds 'n vetoreg op enige Europese militêre beleid.
Wat die Frans-Kontinentale groep betref, wil hulle weer die Europese Unie as 'n politieke reus vestig wat onafhanklik van die VSA op die wêreld front kan opereer. Hulle beskou Charles de Gaulle as toonbeeld van iemand wat 'n onafhanklike en sterk Frankryk (en dus Europa) voorgestaan het. Die ideaal van hierdie groep word mooi in die Franse beleid tydens die Chirac era (hy was die vorige Franse president) weerspieël. In daardie tyd het ons gereeld gehoor dat daar na 'n uiteindelike "multi-polêre" wêreld gestreef moet word waarin daar nie een moondheid is (i.e. die VSA) wat alleen die kitaar slaan nie.
Hierdie groepe het al in die verlede ernstig koppe gestamp. So kan die onttrekking van die Britse Pond uit die Europese uitruil meganisme waarskynlik aan spekulante van die Franse groep toegeskryf word. Ons kan ook aan die periode direk voor die Tweede Golf Oorlog dink toe Jacques Chirac die Anglo-Amerikaners se beplande oorlog in Irak ernstig teengestaan het. In daardie tyd was die verhoudinge tussen die "ou Europa" en die VSA baie suur. Chirac se standpunt dat die VSA se optrede nie moreel geregverdig kon word nie het baie ander lande gemotiveer om ook standpunt teen die VSA in te neem. Ons kan selfs die huidige afname in die VSA invloed in die wêreld gedeeltelik na Chirac se anti-VSA groepering terugvoer (saam met die hele debakel in die na-oorlogse Irak).
Daar is egter ook 'n derde groepering. As dit nie vir hulle was nie, sou die Europese Unie waarskynlik nooit beslag gekry het nie. Dit is 'n groep wat persone van beide bogenoemde groepe insluit en wat daarna streef om gemeenskaplike grond te vind. Hulle probeer 'n gesamentlike VSA-Europese raamwerk daarstel. Op hierdie stadium is NAVO een van die belangrikste forums wat help om hierdie samewerking uit te bou - veral nadat die huidige Franse president, Nicolas Sarkozy - die Franse weer in NAVO terug gebring het (De Gaulle het hulle onttrek). Sy regering is dan ook verbind tot die oogmerke van hierdie derde groep.
Kompromie in die Unie
Die wyse waarop hierdie groepe in die verlede kon saamwerk was eenvoudig - vir elke stap van "verbreding" van die Unie, was daar 'n ooreenkomstige "verdieping" in die Unie. Die Anglo-Amerikaanse groep wil graag sien dat die Unie verbreed om uiteindelik 'n baie groot groepering van lande, waaronder Moslem demokrasieë soos Turkye, in te sluit. Hulle dink veral in terme van 'n reuse vryhandelsgebied. Dit sal noodwendig tot gevolg hê dat die Franse stem in die Unie sy gewig verloor. Die Frans-Kontinentale groepering wil weer 'n verdieping in die Unie sien - hulle wil sien dat die Unie al meer polities integreer. Hulle staan dus 'n uiteindelike politieke unie voor wat selfs as teenwig vir die VSA kan dien. Hierdie twee sieninge is versoen deurdat daar telkens 'n stap in beide rigtings gegee is.
In hierdie verband kan ons twee groot stappe noem wat die Unie die laaste aantal jare geneem het. Die een was toe daar tien lande (meestal Oos-Europese lande) op 1 Mei 2004 tot die Unie toegelaat is - duidelik 'n dramatiese verbreding van die Unie. Die ander was die Lissabon verdrag wat op 1 Desember 2009 van krag geword het. Dit het weer 'n aansienlike verdieping in die Unie bewerk. So is die Unie nou vir die eerste maal 'n regspersoon en verteenwoordigers van die Unie kan ooreenkomste namens die Unie sluit. Verder het die Europese parlement groter magte gekry en 'n President vir die Europese Raad (saamgestel deur die leiers van die EU lande) sowel as 'n Verteenwoordiger van die Unie vir buitelandse en sekuriteitsbeleid is aangestel.
Hierdie kompromis het egter sy limiet bereik. Brittanje sien byvoorbeeld nie kans om nog magte aan die Unie af te staan nie. Hulle wil nie in hierdie stadium aan enige verdere noemenswaardige verdieping in die Unie deel hê nie. Daar moes dus 'n ander ooreenkoms tussen die groepe beding word - 'n verdere konsensus wat oor 'n lang tyd bereik is. Dit maak ruimte vir 'n multi-spoed Europa. Dit laat daardie lande wat hul strukture verder wil integreer toe om dit te doen. Daar is egter 'n baie belangrike beperking op hierdie multi-spoed EU, naamlik dat daar nie 'n kerngroep van lande moet wees wat uiteindelik polities integreer en sodoende wel 'n teenwig vir die VSA vorm nie.
Wat die Anglo-Amerikaners sedert die Blair tyd voorstaan, is 'n EU wat uit "klubs" bestaan. Hulle wil nie 'n EU hê wat soos konsentriese sirkels lyk nie, maar een wat soos die Olimpiese ringe lyk. Om te verhoed dat sommige lande 'n koherente kerngroep uitmaak, moet die integrasie van die Unie binne die raamwerk van sulke klubs geskied. Ons vind dan ook dat daar tans 'n aantal sulke groepe bestaan, naamlik die EU, die Eurogroep en die Schengen groep.
Onlangse gebeure
Dit bring ons by die huidige gebeure. Ons moet ons nie teen die krisis vas staar nie. Die Euro is oor so 'n lang tyd met soveel moeite op die been gebring, dat dit uiters onwaarskynlik is dat die Euro gaan kraak. Wat ons eerder moet raaksien, is 'n georkestreerde poging deur die finansiële markte om die Eurogroep te dwing om (teen die publieke opinie in) verder te integreer. Ons vind eienaardig genoeg dat selfs die Anglo-Amerikaanse media positiewe uitsprake oor die vorming van 'n meer geïntegreerde Eurosone maak (dit is genoeg om ons oor die toekoms van die Euro gerus te stel). Daar ontwikkel 'n algemene konsensus dat die Eurogroep ook deur 'n fiskale onderbou ondersteun moet word.
Maar is die Anglo-Amerikaners dan nie teen sulke verdere integrasie gekant nie? Nie solank dit in die raamwerk van sekere "klubs" van EU lande plaasvind nie. Die verdere fiskale integrasie van die Eurosone word dan ook deur 'n ander belangrike "klub" uitgebalanseer. Dit is die klub van Europese lande wat saam by militêre aksies soos die in Libië betrokke is. Die militêre samewerkingsooreenkoms wat 'n tyd gelede tussen die Sarkozy regering en die Britse regering gesluit is, vorm die basis van hierdie groep lande.
Die Sarkozy regering - wat weet dat die Anglo-Amerikaners 'n uiteindelike vetoreg oor enige toekomstige EU militêre samewerking behou - werk dus nou met die Anglo-Amerikaanse groepering saam. Ons vind dat Frankryk in die hart van altwee hierdie belangrike EU klubs staan, naamlik van die Eurolande wat ekonomies verder wil integreer asook van die wat op militêre gebied saamwerk. Die verdieping in die Eurosone word dus uitgebalanseer deur 'n verdieping in militêre samewerking met die Anglo-Amerikaners. Vir tyd en wyl kan die proses van Europese integrasie dus voortgaan. Al die groeperinge weet dat hierdie kompromie op hierdie stadium waarskynlik die enigste manier is om hul eie belange te bevorder.
Waarheen Europa?
Ten spyte van die kompromie, lyk dit of die EU stadig maar seker begin lyk soos die Franse groep wil hê. Ons vind byvoorbeeld dat daar, ten spyte van die "klubs", wel 'n kerngroep lande is wat aan die hart van al die klubs staan. Ek verwag ook dat al meer van daardie lande, soos Frankryk, mettertyd by die genoemde militêre groep sal aansluit. Daar sal dus 'n kerngroep lande wees wat op alle terreine hul ekonomiese, militêre en politieke kragte saamsnoer.
Maar wat van Brittanje se vetoreg? Alhoewel dit 'n baie belangrike troefkaart is, het die ander groep weer hul eie troefkaarte waarvan die belangrikste seker hul vetoreg op Turkye (en ander sulke lande) se insluiting in die EU is. Op 'n sekere stadium sal Brittanje verplig wees om selfs hierdie vetoreg prys te gee. Dit is op daardie punt dat die EU al meer op sy eie bene sal kan staan. Die vraag is of die Frans-Kontinentale groep die Britte so sal kan uitoorlê dat die toekomstige Europa 'n onafhanklike rolspeler op die wêreldtoneel sal wees.
Dit is net 'n kwessie van tyd voordat die Frans-Kontinentale groep weer iemand uit hul eie geledere (soos Jacques Chirac) in Frankryk aan bewind kry. Dan sal hulle in 'n baie beter posisie wees om weer hul eie stempel op die proses af te dwing. Ons kan verwag dat dit 'n groot impak op verdere ontwikkelinge in die EU sal hê. Dan kan dinge vinnig dramaties verander.
Intussen moet ons maar net rustig wag en kyk wat gebeur. Ten minste weet ons dat die proses van EU integrasie steeds op koers is. Die huidige krises is in effek net nog 'n fasiliteerder vir daardie integrasie.
Ek bespreek die verband tussen hierdie gebeure en Bybel profesieë oor die eindtyd in my boek oor die Arabiese opstande.
No comments:
Post a Comment