In hierdie artikel ondersoek ek die hipotese dat oorlog en vrede deel van 'n aaneenlopende siklus is wat herhalend voorkom. Alhoewel sulke siklusse oënskynlik al vir eeue voorkom, fokus ek veral op die laaste eeu. Om so 'n siklus sinvol te omskryf, bou ek voort op die werk van vroeë baanbrekers soos prof. Spykman van Yale Universiteit. As ons veronderstel dat sulke siklusse met 'n finansiële krisis begin, gevolg deur 'n ekonomiese insinking, 'n groot oorlog en 'n daaropvolgende tyd van voorspoed, kan ons vier siklusse in die 1907-2007 periode onderskei. Ons kan vra waarom sulke siklusse sou voorkom en kyk watter vooruitskouings op grond daarvan gemaak kan word. As ons die model van oorlog- en vredesiklusse ernstig opneem, lyk dit of ons binne die volgende paar jaar 'n groot oorlog teen Iran te wagte kan wees.
Is oorlog en vrede bloot 'n onvoorspelbare aspek van ons wêreld? Of is daar 'n sekere reëlmaat waarvolgens oorlog en vrede afwisselend op die wêreldtoneel voorkom? Volgens sommige analiste is daar al vir baie eeue 'n sekere patroon waarvolgens opeenvolgende oorlog- en vredesiklusse mekaar opvolg. Is dit werklik so? En as dit inderdaad so blyk - wat is die implikasies vir ons wêreld? Dit lyk of ons daaruit kan aflei dat 'n groot oorlog met Iran op hande is.
Vroeë baanbrekerswerk
In enige studie - ook van internasionale aangeleenthede - is dit belangrik om geskiedkundige tendense versigtig te ondersoek met die hoop dat ons daardeur iets omtrent die toekoms kan leer. Die groot vraag is altyd of sulke tendense toevallig is en of dit deur een of ander patroon onderlê word. As 'n patroon teenwoordig is, is daar gewoonlik een of ander onderliggende rede waarom dit voorkom. Ons kan presies dieselfde in ons ondersoek na die moontlike bestaan van opeenvolgende oorlog- en vredesiklusse doen. Indien daar wel getuienis vir die bestaan van sulke siklusse is, kan ons kyk wat so 'n model voorspel.
Een van die belangrikste studies wat ooit oor oorlog onderneem is, is die van Nicholas J. Spykman, Sterling professor van Internasionale Verhoudinge (Public Relations) aan die Yale Universiteit. In sy studie, "America's Strategy in World Politics", wat deur die Yale Instituut van Internasionale Studies geborg en in 1942 gepubliseer is, maak hy die opspraakwekkende onthulling dat sekere oorloë - die waarin Brittanje deelneem - 'n duidelike sikliese patroon volg. Volgens hom word die Britse beleid van die vorige paar eeue deur "a constant succession of cycles of shifting partners, isolation, alliance and war" gekenmerk.
Prof. Spykman onderskei drie verskillende tipes oorloë waaraan Brittanje deelgeneem het. Die belangrikste tipe is die wat teen die lande gevoer is wat op 'n bepaalde stadium as imperialistiese Brittanje se grootste teenstanders beskou is. Die doel was om die magsbalans binne die raamwerk van Europa vir hulleself te behou, en die politieke en gebiedsuitbreiding van enige Europese staat te verhoed. Vir hierdie doel is militêre alliansies saamgestel wat telkens sterker as die van die opponente was. Hierdie alliansies het voortdurend verander namate die internasionale politieke situasie verander het. Dit is hierdie tipe oorloë wat deel was van 'n siklus van oorloë. Die tweede tipe oorlog was die wat in effek daarop gerig was om die situasie vir die volgende groot oorlog op te stel. Die derde tipe is imperialistiese oorloë wat daarop gerig was om beheer oor strategiese bronne te verkry.
Hy onderskei die volgende oorloë as deel van so 'n siklus:
1. Die Napoleontiese Oorlog van 1793-1815 teen Frankryk
2. Die Turkse Oorlog van 1827-1829 teen Turkye (en Egipte)
3. Die Krimeaanse Oorlog van 1853-1856 teen Rusland, (Pruise) en die VSA
4. Die Russies-Turkse Oorlog van 1977-1878 teen Rusland
5. Die Spaans-Amerikaanse Oorlog van 1898-1899 teen Spanje (en Duitsland)
6. Die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 teen Duitsland, Oostenryk-Hongarye, Turkye en Bulgarye
7. Die Tweede Wêreldoorlog van 1939-1945 teen Duitsland, Japan, Hongarye, (Italië) ens.
In sy boek oor die "City" van Londen getiteld "The Empire of 'The City', the Jekyll/Hyde nature of the British Government" (1946), skryf E.C. Knuth dat die eintlike hand agter hierdie oorloë die geldmagnate van die "City" van London is wat in effek agter die Bank van Engeland (wat 'n privaat besit is) verskuil is en in die naam van die "Crown" opereer. Hy noem veral Lord Rothschild, wie se rol in hierdie verband duidelik blyk uit onder andere 'n verwysing in die Britse eerste minister David Lloyd George (1916-1922) se boek "Better Times". Volgens hom het hierdie geldmagnate hulleself later versteek agter instellings soos die IMF en die Internasionale Bank vir Rekonstruksie en Ontwikkeling wat in 1944 by Bretton Woods ingestel is. Volgens die statute van hierdie organisasies is hulle bo alle regsprosesse verhewe en is hulle immuun teen enige regsaksies (wat daarop gemik is om enige iets by hulle te soek, te konfiskeer of te vervreem).
Knuth verwys verder na die betrokkenheid van die Franse by al die Britse sikliese oorloë sedert die Napoleontiese oorlog (1793-1815). Volgens hom is die rede hiervoor dat die Franse finansiële oligargie onder leiding van Baron Edouard de Rothschild soortgelyke mag oor die Franse uitgeoefen het. Ek moet hier noem dat hierdie Brits-Franse alliansie met president De Gaulle, wat die Franse uit NAVO se geïntegreerde militêre beheerstruktuur onttrek het, tot 'n einde gekom het en eers weer in 2010 deur president Sarkozy hernu is. (In 'n artikel op hierdie blod, getiteld "Die Europese Unie - wat gaan aan?" bespreek ek die rol van die Gaulistiese Frans-Kontinentale opponente van die Anglo-Amerikaners in die totstandkoming van die Europese Unie). Knut noem verder dat die Engelse geldbase onder leiding van Cicil Rhodes ook in 1902 'n alliansie met hul Amerikaanse eweknieë gesluit het. Hierdie alliansie is goed gedokumenteer deur die bekende geskiedkundige, Prof. Carroll Quigley, in sy boek "The Anglo-American Establishment" (1949). Hierdie alliansie geld steeds vandag.
Alhoewel ek tot nou nog net na die Britse sikliese oorloë verwys het, is die geldbase van die "City" in Brittanje asook in die VSA natuurlik ook belangrike rolspelers in die wêreldmarkte. Die veronderstelde oorlog- en vredesiklusse staan dan ook ten nouste met die wêreldekonomie in verband. 'n Verdere boek wat veral op hierdie ekonomiese aspek fokus, is "War Cycles, Peace Cycles" (1985) van Richard Kelly Hoskins. Volgens hom is die oorlog- en vredessiklusse 50 jaar lank, wat hom by die gevolgtrekking bring dat dit Jubilee siklusse is. Hy onderskei 'n periode van hoë pryse en ekonomiese voorspoed en 'n periode van lae pryse, depressie en oorlog. Sy werk toon baie ooreenkoms, en is waarskynlik beïnvloed deur, die welbekende Kondratiev ekonomiese golfteorie wat siklusse van ongeveer 50 jaar postuleer.
Daar is sekerlik nog baie skrywers wat hieroor geskryf het, maar ek volstaan hiermee. Van hierdie skrywers het redelik lank terug geskryf en dit is 'n ope vraag of hierdie siklusse nog steeds voorkom. In hierdie artikel wil ek voorstel dat, alhoewel daar 'n groot element van onvoorspelbaarheid in die wêreldmarkte en ekonomie is, dit tog lyk of ons steeds sulke siklusse kan onderskei. Na my mening moet ons nie die ekonomiese siklusse voorop stel nie, maar die oorlogsiklusse wat binne die ekonomiese siklusse ingebed is. Tog is beide die oorlogstyd en die vredestyd van ekonomiese voorspoed onlosmaaklike dele van dieselfde siklus.
Oorlog- en vredesiklusse
Uit die werk van bogenoemde skrywers blyk dit dat die genoemde oorlog- en vredesiklusse na twee opeenvolgende periodes in een siklus verwys, naamlik een van finansiële krisis, ekonomiese insinking en oorlog en 'n daaropvolgende een van ekonomiese groei en voorspoed. In my ondersoek na historiese oorlog- en vredesiklusse het ek die gebeure van die afgelope eeu in ag geneem.
Ek veronderstel dat die oorlogsfase van die siklus tipies met 'n finansiële krisis begin wat lei tot 'n resessie/depressie en 'n periode van stagnasie, gevolg deur 'n groot oorlog teen een van die Anglo-Amerikaners se vernaamste imperialistiese mededingers. Soms is daar wel 'n tyd van matige ekonomiese groei na die aanvanklike krisis, maar dit lei uiteindelik tot 'n resessie waarna die oorlog uitbreek. Tydens die oorlog word daar gepoog (nie altyd suksesvol nie) om die belangrikste politieke en ekonomiese mededingers wat in die voorafgaande vredestyd na vore getree het weer op hul plek te sit en die Anglo-Amerikaanse belange polities-territoriaal uit te bou. Dit vestig ook 'n nuwe magsbalans wat daarop gemik is om al die belangrikste rolspelers in toom te hou.
Wat die vredesfase van die siklus betref, begin dit direk na die einde van die oorlog. Dit word tipies deur 'n na-oorlogse resessie (a "reconversion crisis") gekenmerk, gevolg deur 'n redelike lang periode van groei en voorspoed. Gedurende hierdie periode is daar soms kleinere ekonomiese insinkings. Alhoewel dit 'n vredesfase genoem word, kom daar wel van die ander tipe oorloë in hierdie tyd voor waartydens die toneel vir die volgende groot oorlog reggeskuif word. Tydens die vredesfase word daar gepoog om al meer lande in die raamwerk van wêreldhandel te betrek met die oënskynlike doel om die winste van die Anglo-Amerikaanse geldbase, wat bowenal 'n beleid van vrye handel nastreef, te optimeer.
Ek kon sedert die begin van die vorige eeu vier sulke oorlog- en vredesiklusse siklusse onderskei. Omdat die VSA na die Eerste Wêreldoorlog as die senior vennoot na vore getree het, fokus ek hoofsaaklik op hul rol gedurende hierdie periode.
1. Die siklus begin met die paniek van 1907 en die gepaardgaande resessie van 1907-8 in die Westerse wêreld waartydens daar 'n 31% afname in die besigheidsaktiwiteit in die VSA was. Dit is gevolg deur die resessies van 1910-11 en 1913-14. Die 1907 gebeure het gekulmineer in die wet van 1914 waardeur die Federale Reserwe Bank (ook in privaat besit) ingestel is. In Brittanje was dit veral die 1913 depressie wat baie erg was. Daarna het die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 gevolg waartydens Duitsland die belangrikste imperialistiese opponent was. Hierdie oorlog het die VSA ekonomie weer laat inskop. Brittanje het slegter gevaar en met 'n geweldige skuldlas daaruit gekom, gevolg deur die na-oorlogse depressie van 1919-21. Die jare van 1921-1929 was goeie jare in die VSA, ook bekend as die "roaring twenties". Die periode het 22 jaar geduur.
2. Die siklus begin met die val van die aandelemark in 1929. Dit is gevolg deur die "Groot Depressie" van 1929-1933, waartydens daar 'n 26.7% afname in die VSA se BBP was. Die globale ekonomiese insinking het tot laat in die 30's voortgeduur, met 'n verdere resessie in 1937. Daarna het die Tweede Wêreldoorlog van 1939-1945 gevolg, weereens teen Duitsland en haar bondgenote. Die na-oorlogse Jelta beraad het die magsbalans vir die volgende aantal dekades opgestel. Die oorlog het weereens die VSA ekonomie laat inskop. Die tydperk 1945-56 was oor die algemeen 'n periode van groei, waarvan veral die vroeë 50's "booming years" was. Dit is wel in 1953 deur 'n effense resessie (die na-Koreaanse Oorlog resessie) onderbreek. Die periode het 28 jaar geduur.
3. Die siklus begin nie met 'n finansiële krisis nie omdat daar 'n "nie-paniek" konsensus in finansiële kringe bestaan het. Tog was die 1957-8 globale resessie die ergste sedert die Groot Depressie. Hierdie insinking het tot in die vroeë 1960's geduur. In 1961 sluit die VSA 'n militêre verdrag met die Suid-Viëtnamese regering. Die eerste ondersteuningstroepe is in 1961 daarheen gestuur en daarna aanhoudend vermeerder totdat die VSA in 1965 direk by hierdie Koue Era militêre konflik betrokke geraak het (As mede-voorsitter van die Geneva ooreenkomste kon Brittanje nie openlik by die oorlog betrokke raak nie. Tog toon gedeklassifiseerde leërs dat Brittanje wel op klandestiene wyse daarby betrokke was). Hierdie oorlog was hoofsaaklik daarop gemik om die USSR - wat op groot skaal indirek daarby betrokke was - se mag in te perk. Enige direkte konfrontasie met daardie moondheid was onmoontlik omdat beide die VSA en die USSR kernwapens besit het. Die VSA ekonomie het gedurende die oorlogsperiode van 1961-1969 gegroei. In 1973 (toe die VSA betrokkenheid by die oorlog beëindig is) volg die eerste oliekrisis en 'n gepaardgaande resessie, gevolg deur 'n groeiperiode. Die periode het 22 jaar geduur.
4. Die siklus begin met die tweede energie krisis in 1979. Dit is gevolg deur die globale resessie(s) van 1980-82. Die 1981-2 resessie word as die ergste resessie sedert die Groot Depressie beskou. In 1982 het die Latyns-Amerikaanse staatskuld krisis ook dramaties geïntensifiseer. Ek beskou die beroemde toespraak van president Ronald Reagan in 1982 waarin hy NAVO se groot vyand, die USSR, as "totalitarian evil" beskryf het as die begin van die dramatiese intensifisering van die Koue Oorlog. Van daardie tyd af het die VSA se militêre spandering geweldig gegroei en daarmee saam hul ekonomie (1982-90). (Aan die ander kant van die wêreld het die twee moondhede mekaar ook indirek in Afganistan die stryd aangesê). Na die val van Kommunisme in 1989-91 het die langste periode van groei in die VSA gevolg. Dit is deur die dot.com insinking onderbreek (die aandelemark het baie ingesink maar die gepaardgaande resessie was matig) waarna daar 'n verdere tyd van besondere goeie groei was. Die periode het 28 jaar geduur.
5. Die siklus begin met die finansiële krisis van 2007-11 en die Groot Resessie van 2008-9, die ergste sedert die Groot Depressie. Verder is daar die EU staatskuld krisis wat steeds voortduur.
Ons vind dat die totale oorlog- en vredesiklus, wat beide fases insluit, gemiddeld 25 jaar geduur het - die gemiddelde tydsduur van die oorlogsfase was 13.7 jaar; die van die vredesfase was 11.2 jaar. Dit korrespondeer goed met die gemiddelde tydperk tussen die aanvang van die verskillende groot oorloë wat met voorspelbare reëlmaat op mekaar gevolg het, naamlik 23 jaar (Ek het al 9 oorloë sedert die begin van die Napoleontiese Oorlog in 1793 in ag geneem.) Hierdie periode is omtrent die helfte van Hoskins se 50 jaar siklus (of die Kondratiev golf), wat impliseer dat hy in effek twee siklusse in een gereken het.
Die resessies/depressies waarmee die siklusse begin het (1907-8, 1929-33, 1957-58, 1980-82, 2008-9) - wat telkens die groot oorloë voorafgegaan het - is nie alleen mooi uit mekaar gespasieer nie (22-28 jaar uitmekaar); dit verteenwoordig ook die ergste ekonomiese insinkings van die afgelope 100 jaar. Dit is duidelik dat die militêre-industriële kompleks telkens tydens hierdie oorloë die Anglo-Amerikaanse ekonomieë na die groot insinkings laat inskop het. (Lande soos China gebruik op hul beurt groot infrastruktuur projekte om die ekonomie aan te dryf). Verder het dit ook die finansiële belange van die Anglo-Amerikaanse geldbase ten koste van hul belangrikste opponente in ander lande uitgebou. Die siklusse het oënskynlik nie met die Tweede Wêreldoorlog tot 'n einde gekom het nie, maar duur steeds voort. Wat wel belangrik is, is dat die gebruik van kernwapens tot gevolg gehad het dat daar sedert die Tweede Wêreldoorlog geen direkte konfrontasies tussen die Anglo-Amerikaanse geallieerde magte en hul opponent (die USSR) kon plaasvind nie.
'n Komende oorlog teen Iran?
Volgens my analise van die oorlog- en vredesiklusse, het die laaste siklus in 2007 begin. Uit die tendense wat ons in die vorige siklusse waarneem, lyk dit of ons moontlik binnekort 'n verdere resessie en 'n daaropvolgende groot oorlog kan verwag. Maar wanneer kan ons so 'n oorlog verwag? Die gemiddelde tydsverloop van die begin van die siklus - met die aanbreek van die finansiële krisis - tot die uitbreek van die oorlog (of dan die Anglo-Amerikaanse betrokkenheid daarby) was 7 jaar gedurende die vorige vier siklusse. Dit beteken dat die jaar 2014 die grootste waarskynlikheid vir die uitbreek van so 'n oorlog het. As ons egter in ag neem dat daar vanjaar (2012) reeds 30 jaar verloop het sedert die intensifisering van die Koue Oorlog - wat langer is as die gemiddelde tydsverloop van 23 jaar tussen die uitbreek van hierdie oorloë (die eerste twee oorloë wat ons in ag neem het ook 34 jaar uitmekaar begin) - dan lyk dit of hierdie oorlog selfs vroeër kan plaasvind.
Dit is nie moeilik om te voorspel watter land die volgende teiken van die Anglo-Amerikaanse oorlogsmasjien sal wees nie. Dit is Iran. Op hierdie stadium hou Iran die grootste bedreiging vir die Anglo-Amerikaanse belange in die Midde-Ooste in - veral omdat hulle binnekort kernwapens tot hul beskikking kan hê. Soos al die vorige opponente van hierdie groep, het Iran ook 'n imperialistiese ingesteldheid en ondersteun hulle verskillende lande en groepe buite hul grense wat die Weste vyandig gesind is.
Die Anglo-Amerikaners het dan ook deur 'n hele aantal oorloë oor die laaste paar jaar - die twee Golfoorloë, die oorlog in Afganistan en die Libiese oorlog - die toneel vir so 'n groot oorlog teen Iran opgestel. Twee buurlande, naamlik Irak en Afganistan, het nou goeie verhoudings met die VSA (alhoewel Irak na die ontrekking van die VSA se troepe aan die einde van 2011 meer oop vir Irannese invloede is). VSA troepe is ook al rondom Iran gestasioneer, naamlik in Afganistan, Koeweit, Bahrein, Katar, Jemen en Saoedi-Arabië. Irak en Libië sal verseker dat die Weste selfs tydens so 'n oorlog toegang tot genoeg olie het. In 'n artikel op hierdie blog, naamlik "Oorlogswolke begin oor die Midde-Ooste saampak", bespreek ek die moontlike koalisies wat in so 'n oorlog teenoor mekaar te staan kan kom. Omdat die Europese ekonomie baie erg deur die huidige ekonomiese krisis geraak word, verwag ek dat Brittanje en Frankryk 'n prominente rol in so 'n oorlog sal speel (om so die Europese ekonomie te laat inskop).
Dit is te betwyfel of die Anglo-Amerikaners sal poog om Iran heeltemal as 'n vyand te elimineer. Die insluiting van verskeie Arabiese lande by hul koalisie berus op die voortbestaan van die Irannese bedreiging. Dit is verder moontlik dat so 'n oorlog teen Iran die eerste van verskeie sal wees, net soos wat daar twee Wêreldoorloë teen Duitsland en twee groot oorloë teen die USSR gevoer is - die Viëtnamese Oorlog en die (finale intensifisering van die) Koue Oorlog. Na so 'n Irannese Oorlog sal 'n nuwe magsbalans tussen die groot moondhede (die VSA, die EU en Rusland) in die Midde-Ooste gevestig word. Ons kan byvoorbeeld verwag dat Sirië deel van die Westerse invloedsfeer kan word.
Slotgedagtes
Uiteindelik ken niemand die toekoms nie. Hierdie is ook nie 'n poging om die toekoms te voorspel nie. Wat ek in hierdie artikel doen, is om die historiese oorlog- en vredesiklusse te ondersoek en te bepaal of daar genoegsame getuienis vir die bestaan van sulke siklusse is. My gevolgtrekking is dat dit inderdaad lyk of sulke siklusse voorkom. Alhoewel daar 'n element van willekeurigheid is, is dit moontlik dat ons die herhalende elemente kan gebruik as 'n model om sekere vooruitskouings omtrent die toekoms te maak. Op grond daarvan kan ons 'n verdere ekonomiese insinking voorsien - wat tipies direk voor die uitbreek van die oorlog voorkom - asook 'n daaropvolgende oorlog. Ander oorwegings toon dat Iran die mees waarskynlike Anglo-Amerikaanse opponent tydens so 'n oorlog sal wees. Dit lyk of ons in die volgende paar jaar 'n groot oorlog teen Iran kan verwag.
Indien hierdie vooruitskouings korrek is, sal ons meer vertroue in die bestaan van oorlog- en vredesiklusse kan hê. Dit sal impliseer dat ons nie maar hierdie patrone in die geskiedenis inlees nie, maar dat dit waarskynlik werklik bestaan. As dit so uitkom, sal ons ook ander aspekte van die siklusse verder kan ondersoek.
Willie Mc Loud
Ref. wmcloud.blogspot.com
No comments:
Post a Comment