Tuesday 13 March 2012

Het die Israelitiese uittog regtig plaasgevind?

In die Februarie 2012 uitgawe van die tydskrif Markplein word die historisiteit van die uittog betwyfel.  Alhoewel dit as deel van die redaksionele kommentaar onder die "reaksie van ons lesers" verskyn het, het ek tog besluit om daarop te reageer.  My brief is toe in die Maart uitgawe geplaas.  Ek pos beide die betrokke gedeeltes wat in die tydskrif verskyn het hieronder.  Lesers is welkom om kommentaar te lewer. 

Markplein Februarie 2012
REAKSIE VAN ONS LESERS

Coenie se klip in die bos in die Desember-uitgawe het gehandel oor die logistieke probleme in verband met die Israeliete se uittog uit Egipte. Riaan Pienaar het van hom laat hoor na aanleiding daarvan en ‘n ander interessante gesigspunt na vore gebring. Ja, wraggies, Riaan, wie het nou al so daaraan gedink! Terloops, die jongste argeologiese navorsing kon geen bewyse van ‘n uittog vind nie en ontdekkings dui al meer daarop dat die Israeliete maar altyd in Kanaän gewoon het.
"Oor die uittog uit Egipte het ek ook al baie gewonder oor die logistiese probleme wat so 'n gebeurtenis moes oplewer. Die ding wat my nog al die jare gepla het, is hoe de swernoot Moses en Aaron telkens so 'n groot klomp mense kon toespreek sonder 'n moewiese klankstelsel. Selfs al was daar net 'n paar duisend en nie miljoene nie, is daar nie 'n manier waarop die skare, met die uitsondering van die klompie heel voor, die spreker kon hoor nie. En baie het nogal afgehang van dit wat die volk meegedeel is."

Markplein Maart 2012
REAKSIE VAN ONS LESERS

Ons het van Willie McLoud ‘n reaksie ontvang op ‘n paar dinge wat in die afgelope aflewering van Markplein geskryf is. Dankie vir jou brief, Willie. Dit is net wat ons in Markplein wil hê: hoe groter die verskeidenheid standpunte hoe beter. Ons hou ook daarvan om aangevat te word waar ons lesers van ons verskil.

Miskien is daar lesers wat o.a. wil reageer op Willie se toepassings van die konsep van pseudo-wetenskap.

"Ek het die nuutste uitgawe van Markplein met belangstelling gelees. Die naam het my dadelik opgeval omdat ekself verlede jaar in my eerste artikel op my blog die kontemporêre gespreksruimte met die beeld van 'n markplein toegelig het. In Plato se "Apologie", waarin hy Sokrates se verdediging voor die Atheense hof opteken, noem laasgenoemde hoe hy die gewoonte gehad het om by die toonbanke op die markplein gesprekke aan te knoop. Sy bevinding was egter dat diegene wat hy daar raakgeloop het, tipies daarvan oortuig was dat hulle werklike kennis oor dinge het, terwyl hulle eintlik in totale onkunde gelewe het. Ek wil voorstel dat dieselfde situasie in ons tyd geld: bykans almal praat asof hulle wetenskaplikes is!

Sokrates noem verder, in 'n latere gesprek voor sy teregstelling (aldus Plato), dat "teorieë waarvan die bewys op waarskynlikheid berus, bedrieglik is". Dit is 'n fout wat ook vandag algemeen voorkom. Sonder om Markplein in hierdie opsig uit te sonder, wil ek tog 'n paar voorbeelde hiervan in die vorige uitgawe uitwys (1/2012). In die toeligting van een van die briewe word die maatstaf van waarskynlikheid byvoorbeeld op 'n pseudo-wetenskaplike wyse ingespan om uitsprake oor die historisiteit van Bybelse verhale soos die uittog te maak (i.e. op grond van die moontlike logistieke probleme). So asof daar nie regdeur die geskiedenis - en tot vandag - vreemde en buitengewone dinge gebeur het nie. Voorts word die argeologie op dieselfde pseudo-wetenskaplike wyse ingespan om hierdie siening te onderskryf. Ons weet dat argeologiese opgrawings weinig 'n verteenwoordigende steekproef van data uit enige periode verteenwoordig. Argumente wat op stilswye gebaseer is (i.e. daar is geen bewyse vir die uittog gevind nie), is dus hopeloos onwetenskaplik. Ons kan in hierdie verband aan die Tel Dan Stela dink wat 'n paar jaar gelede die akademiese appelkar omgegooi het. Dit toon dat Dawid wel gelewe het soos uit die bewoording "huis van Dawid" op die stela gesien kan word - in teenstelling met die konsensus wat tot op daardie stadium in 'n groot deel van die akademiese gemeenskap bestaan het dat die vroeë monargistiese verhale onhistories is (dit is die lot van sogenaamde Bybelse "wetenskaplikes" wat hulle na my mening met 'n pseudo-wetenskap besig hou). Sommige was so oortuig van hul saak, dat hulle aanvanklik nie die fonds as eg wou aanvaar nie!

Alhoewel ek die hoofartikel oor die sogenaamde Nuwe Hervorming insiggewend gevind het, het hierdie dinge vir my 'n bietjie afbreek aan die tydskrif gedoen. Ek dink juis ons moet die hedendaagse pseudo-wetenskaplikheid wat so baie gesprekke op die kontemporêre markplein kenmerk, probeer vermy. Ek is juis bekommerd dat die Suid-Afrikaanse markplein in die voetspore van die Atheense markplein kan volg indien sommige pseudo-wetenskaplikes die groter bevolking so beïnvloed dat hulle uiteindelik die stemme van profete soos Sokrates verwerp en probeer dooddruk.

Sterkte met jul werk.
Willie Mc Loud

No comments:

Post a Comment