Wednesday, 31 October 2012

Paradigmas in konflik: Bybelwetenskap vs tradisionalisme

Sedert die wetenskaplike ondersoek na die Bybel jare gelede begin het, het die godsdienstige landskap stadig maar seker ontvou in twee breë godsdienstige strome wat langs mekaar vloei en mekaar grotendeels uitsluit. Daar is baie kerke wat hulleself in die tradisionele stroom van die Christendom bevind wat die legitimiteit van Bybelwetenskap in beginsel ontken. Bybelwetenskaplikes - wat veral in die raamwerk van die gereformeerde teologie 'n tuiste gevind het (alhoewel sommige van hulle selfs daar ongemaklik voel) - is weer van mening dat die eersgenoemde groep 'n pre-wetenskaplike benadering tot die Bybel volg wat in die wetenskaplike tyd waarin ons lewe geen legitimiteit meer het nie. Tussen hierdie pole is daar baie mense wat oor die geldigheid van hierdie paradigmas nadink. 'n Boek soos Hier staan ek... is 'n voorbeeld daarvan (sien bespreking). Uiteindelik gaan dit oor die ruimte wat vir geloof geskep word.

Ons lewe in 'n tyd waarin daar 'n intense godsdienstige debat plaasvind. Aan die een kant is daar die Christene wat in 'n bykans twee-duisend jaar oue tradisie staan wat glo dat ons die Bybel onvoorwaardelik kan en moet glo en toepas. Aan die ander kant is daar die Bybelwetenskaplikes en ander teoloë wat radikaal met die tradisionele opvattinge gebreek het en wat die Bybelse teks glad nie as "heilig" beskou nie, maar gewoon as 'n boek waarin daar van mense se denke oor God vertel word. Tussen hierdie teenpole is daar natuurlik meer genuanseerde sieninge, asook die groter samelewing met baie mense wat vrae vra, wat wonder of hulle maar net als so kan glo, wat twyfel. Die eerste groep loop die gevaar dat hulle hulself uit die gesprek uitsluit en dat hulle mettertyd feitlik geen inpak meer op die samelewing sal hê nie. Die tweede groep kan mense se geloof radikaal ondermyn en in effek die deur na 'n sekulêre samelewing oopmaak (sommige van hulle glo self nie meer nie).

In hierdie skrywe bekyk ek elk van hierdie groepe van nader. Ek kyk watter persepsies hulle van mekaar het, wat hulle essensiële vertrekpunte is, wat die inpak van hul sieninge op geloof is en hoe gewone Christene sinvol hul eie perspektief kan vorm. Ekself kom uit 'n tradisioneel-Christelike agtergrond (soos bykans almal in Suid Afrika) en beskou myself as 'n behoudende Christen. Ek het die afgelope tyd oor verskeie sake met persone wat hulle aan die kant van die Bybelwetenskap skaar, asook met Sakkie Spangenberg self, binne die raamwerk van die tydskrif Markplein gesprek gevoer. Ek sal in hierdie skrywe meer van my eie ervaring in hierdie verband vertel.

Persepsies skep die werklikheid

Tradisionele Christene en Bybelwetenskaplikes bevind hulleself in twee opponerende paradigmas wat grotendeels onversoenbaar met mekaar is. Elk leef in hul eie paradigma - dit is perspektiewe wat oor jare deur andere, veral die leiers in hul gemeenskap, by hulle ingeprent is. Alhoewel hulle dit nie besef nie, is hulle 'n produk van die godsdienstige of intellektuele kultuur waaruit hulle kom. Soos die filosowe Martin Heidegger (in die algemeen) en Thomas Kuhn (meer spesifiek vir die akademiese wêreld) getoon het, is alle mense - gewoonlik sonder dat hulle dit besef - tot in hul diepste menswees deur die kultuur waaruit hul kom gevorm. Dit beteken dat hulle in effek nie vry en openlik oor sake nadink nie. Hulle denkpatrone is gevorm deur die persone waarna hul opsien, die boeke en tydskrifte wat hul lees en die algemene perspektiewe wat in hul kringe gehandhaaf word. Hulle praat 'n eiesoortige taal, het sekere gemene gebruike asook sekere verwagtinge van mekaar wat as aanvaarbare gedrag in hul geledere beskou word. Hulle is oor jare - soos hulle in daardie paradigma opgebring is - gevorm tot die mense wat hulle is.

Hierdie verbondenheid tot 'n bepaalde paradigma het noodwendig tot gevolg dat almal (selfs in die algemeen) 'n sekere blindekol het. Wanneer 'n mens na iemand luister wat uit 'n ander paradigma kom, dan word dit dadelik binne die paradigma waaruit jyself kom verstaan. Daardie persoon word dadelik verstaan volgens die perspektiewe wat daardie paradigma van die ander een het. Sodra die hoorder die spreker aan 'n sekere paradigma toegeken het, word daar summier aanvaar dat als wat hulle sê - en gaan sê - ooreenkom met die karikatuur wat daardie groep van die ander het. Dit beteken dat die persepsies wat die groepe van mekaar het uiteindelik die werklikheid is waarbinne hulle met mekaar in interaksie kom. Die gevolg is dat hulle nie mekaar "hoor" nie en in effek by mekaar verby praat. Daar word gewoon van meets af aanvaar dat die ander persoon se siening "verkeerd" is en daar word nie ruimte gemaak dat daardie persoon ook 'n geldige punt kan hê nie. In baie gevalle is hul uitsprake gewoon vir die ore van ander luisteraars bedoel om hulle na hul siening te probeer oorhaal.

Wat sulke persepsies betref, beskou die tradisionele Christene die Bybelwetenskaplikes as persone wat die wetenskap klakkeloos naloop en in die proses die geloof verloën. Dat hulle daarop uit is om die Bybelse teks radikaal te kritiseer en so die gesag daarvan ondermyn. Dat hulle die basiese waarhede van die evangelie prysgegee het. Aan die ander kant beskou Bybelwetenskaplikes die tradisionele Christene as mense wat op 'n pre-wetenskaplike wyse met die Bybelse teks omgaan. Hul sieninge is primitief en onvanpas vir die wetenskaplike eeu waarin ons lewe. Hulle is van die werklikheid verwyder.

Die tradisionele Christendom het ongelukkig ook in die verlede baie mense van die kerk vervreem deur hul liefdeloosheid, onbuigsame dogma en die harde sweep van sensuur. Dit het nie alleen diep psigologiese letsels gelaat nie, dit het ook daardie groep onherroeplik van die tradisionele Christendom vervreem. In die boek Hier staan ek... maar ek kan nie sê wie ek is nie en ek is nie alleen nie (Griffel, 2011) vertel 'n aantal persone, waaronder vyf anonieme predikante, omtrent hul negatiewe belewing van die tradisionele Christelike geloof. Onder hulle tel 'n groot aantal persone wat hulle tans in die sfeer van die Bybelwetenskaplike denke bevind - waaronder Sakkie Spangenberg wat as 'n leidende figuur in daardie kringe erken word.

Bybelwetenskaplikes beklee egter nie die morele hoë grond nie en sommige tree op dieselfde wyse op teenoor diegene wat met hulle verskil. Daar is duidelik persone aan albei kante van die spektrum wat nie ander standpunte kan verdra nie - en wat hard en liefdeloos oorkom. Ek het persoonlik al sulke gedrag in verskeie situasies beleef. Ook vanuit Bybelwetenskaplike kringe. Ek kan dit toelig uit my ervaring met die elektroniese tydskrif Markplein. In Januarie 2012 het ek die eerste maal die tydskrif per epos ontvang. Die redakteurs van die tydskrif was vroeër deel van die redakteurspan van Hier staan ek.

Daar het deur die loop van 2012 'n lewendige gesprek oor dinge soos die historisiteit van die Israeliete se uittog en die wetenskaplikheid van Bybelwetenskap ontwikkel. Op 'n stadium was ek en Sakkie Spangenberg die belangrikste opponerende stemme (oor die wetenskaplikheid van Bybelwetenskap). Daarom het dit my nogal verbaas dat die redakteurs hom - as my direkte opponent in die gesprek - gevra het om my boek Op soek na Abraham en sy God, 'n studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale (Griffel, 2012) te resenseer ('n mens sou dink dat iemand neutraal so iets moet doen). Ek kan uit die resensie aflei dat hy waarskynlik nie meer as die inleiding en die eerste hoofstuk gelees het nie. Hy het die resensie as 'n geleentheid gesien om sy venyn op my te projekteer en het probeer om my belaglik te maak. Hy aanvaar gewoon dat sy paradigma die enigste geldige een is en dit het nie by hom opgekom dat ek gewoon nie by sy paradigma inkoop nie. (Gelukkig het daar darem net te vore 'n baie meer vriendelike resensie in die TEO verskyn - die tydskrif van die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria - geskryf deur Gerda de Villiers wat self in daardie paradigma staan.) [1]  In 'n sekere sin het presies gebeur waarteen ek vroeër in 'n brief aan Markplein (Feb 2012) gewaarsku het, naamlik dat sommige Bybelwetenskaplikes soos die Atheners van destyds nie ander stemme op die markplein kan verdra nie en hul bes sal doen om sulke stemme te smoor (soos destyds met Sokrates gebeur het).

Dit was vir my duidelik dat Sakkie glad nie belang gestel het om te hoor wat ek sê nie. Ek het reeds in 'n brief in die vorige uitgawe (Sep 2012) geskryf: "Volgens Sakkie [se skrywe in Markplein Mei/2012] het ek ''n broertjie dood' aan die woord 'Bybelwetenskaplike'. Dit lyk vir my so al of Sakkie my met hierdie opmerking soos 'n lastige vlieg probeer afskud. Hy ignoreer my problematiek en gaan gewoon voort om te bevestig dat 'vakspesialiste' soos hy weet wat hulle doen. So asof ander mense geen reg het om vrae te vra nie. So asof net hy en ander 'Bybelwetenskaplikes' die reg het om uiteindelik uitsprake oor die 'wetenskaplikheid' van hul studieveld te maak. Na my mening gaan dit hier oor die wortel van die problematiek wat die huidige godsdienstige gesprek in Suid-Afrika raak...

Dit lyk vir my so al of Sakkie nog in die raamwerk van die moderne (waarby ek modernistiese bedoel) paradigma opereer (Diek se artikels in Markplein toon dieselfde inslag). Dit blyk vir hom moeilik te wees om te aanvaar dat ons vandag vir verskeie narratiewe kan ruimte maak en dat 'wetenskaplikes' soos hy wat in hul vakdissiplinêre paradigma vasgevang is (soos die wetenskapsfilosoof Hans Kuhn uitgewys het) dit uit die aard van die saak moeilik vind om te aanvaar dat ander narratiewe ook geldig kan wees. Oor sy summiere verwerping van die moontlikheid dat prominente Bybel figure soos Abraham werklik kon lewe, kan ek net na die werk van Martin Bernal verwys (veral bekend vir sy boek 'Black Athena'), wat toon dat die 'hiperkritiese' en 'beterweterige' houding van geleerdes nie aan die feit verander dat diegene wat die tekste geskryf het baie nader aan daardie gebeure gelewe het nie (in direkte kontinuïteit van daardie vroeë tradisie)... Vir enige 'oop gesprek' is dit belangrik dat die gespreksgenote regtig probeer om na mekaar te luister. Ek is nie seker of Sakkie (en Diek) regtig 'hoor' wat ek sê nie." (brief verkort) Na die episode het ek gewonder of ons mekaar ooit sal "hoor" en of daar nie 'n onoorbrugbare paradigmatiese gaping tussen ons is nie.

Die kernwaarhede van elke paradigma

Elk van die groepe huldig sekere sieninge wat hulle tot onaantasbare "waarhede" verhef. Dit is veral die verskillende wyses waarop hulle die Bybel as teks beoordeel wat hulle fundamenteel van mekaar skei. Tradisionele Christene aanvaar dat die Bybelse tekste oorspronklik deur bekende skrywers soos Moses, Samuel, Dawid en so meer opgeteken is, dat dit oorspronklik onder leiding van die Heilige Gees woordeliks korrek geskryf is, dat dit as sodanig (behalwe vir kleinere foute wat met die oordra ingesluip het) aan ons oorgelewer is, dat dit 'n betroubare bron oor die geskiedenis is, dat dit in geheel gesien oor God se verlossingsplan met die mens handel en dat dit as die geïnspireerde "Woord van God" beskou moet word. Bybelwetenskaplikes is op hul beurt van mening dat die Bybelse teks op 'n laat stadium deur (meestal) onbekende skrywers opgeteken is (die tekste van die Ou Testament is grotendeels tydens en na die Babiloniese ballingskap geskryf en die Nuwe Testament lank na die gebeure waaroor dit handel), dat dit op dieselfde vlak as ander antieke tekste beskou moet word, dat dit nie 'n betroubare bron oor die geskiedenis is nie, dat dit grotendeels oor mense se denke oor God handel en dat dit dus as "mense se woorde oor God" gereken moet word.

Tradisionele Christene aanvaar hul sieninge "deur die geloof". Alhoewel hulle die Bybelse teks natuurlik baie versigtig bestudeer, neem hulle in baie gevalle nie kennis van ander buite-Bybelse antieke literatuur wat lig op die Bybelse teks kan werp nie. Hulle word ook nie aan die wyer gesprek oor die tekste blootgestel nie en behou uiteindelik hul kohesie deurdat hul sieninge gewoon as norm binne hul eie geledere beskou word. Baie tradisionele Christene glo dat hulle nie op enige van die "Bybelse waarhede" kan skiet gee nie omdat dit niks anders as kompromie met liberalisme sal wees nie. Wat die Bybelwetenskaplikes betref, aanvaar hulle dat die "wetenskap" hul sieninge onderskryf. Hulle aanvaar dat argeologiese ondersoek getoon het dat die Bybel nie 'n betroubare bron oor die geskiedenis is nie (meestal omdat daar in baie gevalle volgens hulle nie "genoegsame" bewyse gevind kon word nie). In die raamwerk van akademiese studies dwing hulle hul beskouing as die enigste geldige benadering tot die Bybelse teks af.

Daar is baie Christene wat probeer om hul geloof op 'n manier met die wetenskaplike benadering tot die Bybel te versoen. Binne die raamwerk van die gereformeerde teologie - waar die wetenskaplike ondersoek na die Bybel as vertrekpunt geneem word - word verskillende strategieë gevolg om dit te bewerkstellig. So word daar tipies aanvaar dat die waarde van die teks vir ons geloof uiteindelik daarin lê dat ons baie kan leer oor die wyse waarop daardie mense oor God nagedink het. Die teks moet dus nie as 'n bron oor die geskiedenis beskou word nie; dit gaan uiteindelik oor die teologiese denke wat in die teks na vore tree. So skryf Gerda de Villiers in die genoemde resensie oor my boek Abraham en sy God waarin ek 'n saak vir die betroubaarheid van die Genesis-verhale as 'n bron oor die antieke geskiedenis van Israel maak, die volgende:

"[O]m die tekste met argeologie en harde historiese feite te laat klop, misken die intensie van die Bybel: dit wil juis nie ‘n betroubare gesaghebbende bron van die geskiedenis wees nie... Die vraag is dan nie na Abraham as historiese figuur nie, maar na die teologie – of teologieë rondom die Abraham-figuur. Deur tekste het Ou Israel nie ‘n historiese Abraham nie, maar ‘n teologiese Abraham en sy God beskryf. En dít is die Bybelwetenskappe se soektog: nie ‘n historiese Abraham nie, maar ‘n Abraham soos wat Ou Israel hom verstaan het." [2]

Hierdie strategie oorkom die wetenskaplike problematiek rakende gebrek aan bewyslas (vir Bybelse gebeure) asook wonderwerke. Maar dit ondermyn die gesag van die Bybel tot so 'n mate dat dit bykans vir die gemiddelde persoon onhoudbaar word om steeds vertroue in die Bybelse boodskap van verlossing te hê. As die betroubaarheid van die Bybel as bron oor die geskiedenis prysgegee word, dan kom ons uiteindelik voor die vraag te staan: moet ons dieselfde omtrent Jesus doen? Is sy historisiteit ook nie belangrik nie. Op hierdie punt gooi gereformeerde teoloë wal. Sommige soos Ben de Toit (in sy boek God? Geloof in 'n postmoderne tyd (Griffel, 2012)) skop by Jesus vas. Alhoewel hy die bestaan van Satan prysgee en uiteindelik in 'n "God agter God" glo, is die opstanding van Jesus die plek waar hy die streep trek. Maar hoe volhoubaar is so 'n posisie in die raamwerk van Bybelwetenskap?

Christene - veral diegene uit die meer tradisionele stroom - sien hierdie uitkoms as een rede waarom daar in die eerste plek nie aan die eise van die wetenskap toegegee moet word nie. Die gemiddelde persoon is egter nie gemaklik met 'n geloof wat glad nie op 'n sinvolle wyse met die wetenskap in gesprek tree nie. Hulle staan voor 'n dilemma: daar word algemeen aanvaar dat die wetenskap die norm vir alle studievelde moet wees, maar terselfdertyd lyk dit of die wetenskap alle deure vir geloof toemaak. Die vraag is egter of die wetenskap inderdaad die sieninge van Bybelwetenskap onderskryf? Alhoewel dit op die oog af so mag lyk, is dit nogal nie die geval nie. Oor die laaste aantal jare is daar 'n nuwe wending in feitlik alle studievelde waarin daar indringende vrae oor die filosofiese gronde - dit is die basiese veronderstellings wat deur wetenskaplikes gemaak word - gevra word. Die vraag is dus: Hoe wetenskaplik is die wetenskap - en meer spesifiek Bybelwetenskap?

Alhoewel Bybelwetenskaplikes gewoonlik aanvaar dat die "waarhede" van die tradisionele Christendom onhoudbaar is, is hul eie "waarhede" nie so vas en seker as wat hulle self dink nie. Bybelwetenskap is glad nie 'n empiriese wetenskap soos byvoorbeeld fisika, biologie en so meer nie. Dit word onder die sogenaamde "hermeneutiese" dissiplines gereken - dit is die interpreterende studievelde. Hier gaan dit oor die interpretasie van tekste. Alhoewel Bybelwetenskaplikes van mening is dat ander studievelde soos argeologie hul aanslag tot die tekste noodsaak, is dit nie so nie. Daar was oor die laaste aantal jare indringende gesprekke binne argeologiese kringe en daar is grotendeels afgesien van alle pogings om argeologie as 'n empiriese wetenskap te bedryf (sien die artikel op my blog: A critique of archaeology as a science). Daar het 'n groter openheid ontwikkel dat daar verskeie interpretasies van die data kan wees en dat verskillende narratiewe moontlik is. Dit lyk egter nie of die implikasies van hierdie gesprek al werklik tot Bybelwetenskaplike kringe deurgedring het nie. Hul liefde vir die uitdrukking "Bybelwetenskap" (wat eintlik net teksstudies is) en hul houding laat dit soms lyk of hulle onder die wanindruk verkeer dat hulle 'n ware (empiriese) "wetenskap" bedryf.

Alhoewel dit vir die Bybelwetenskap ondenkbaar is, is daar duidelik ruimte vir ander interpretasies van die Bybelse teks as die wat hulle voorstaan. Argeologiese ondersoek het beslis nie die Bybel verkeerd bewys nie (die saak van Bybelwetenskaplikes in hierdie verband berus grotendeels op die gebrek aan "genoegsame" data) en die Bybelskrywers self maak daarop aanspraak dat hulle 'n betroubare weergawe van Israel en later die kerk se geskiedenis opgeteken het. Die probleem het eerder met wonderwerke te doen. Die vraag is dan of ons kan glo dat God bonatuurlik in die geskiedenis ingegryp het en of ons dit op wetenskaplike gronde as mites en magiese beskouinge van primitiewe mense afmaak. Op hierdie punt gaan dit uiteindelik daaroor of ons glo dat God wonderbaarlik in Israel en die kerk se geskiedenis kon werk of nie. Dit val buite die raamwerk van die wetenskap.

Hoe om die geloof te behou?

Daar kan uiteindelik gevra word: Wat is die impak van die verskillende paradigmas op geloof? Daar kan geen twyfel bestaan dat die tradisionele Christendom baie mense deur hul harde en liefdelose dogma van die geloof vervreem het nie. In die boek UnChristian, what a new generation really thinks about Christianity... and why it matters (BakerBooks, 2007), waarin navorsing oor buitestaanders se persepsies oor evangeliese Christene in die VSA bespreek word, skryf die outeurs (self evangeliese Christene): "Painful encounters with the faith also have a strong influence on what a person thinks of Christianity. In fact, we discovered that one-fifth of all outsiders, regardless of age, admitted they 'have had a bad experience in a church or with a Christian that gave them a negative image of Jesus Christ'... Being hurt by Christianity is far more common among the young than among older outsiders. Three out of every ten outsiders said they have undergone negative experiences in churches and with Christians" (p32).

Die persoonlike getuienisse in Hier staan ek is duidelik in lyn met hierdie navorsing. Wat egter opval, is dat die meeste van die persone wie se getuienisse in die boek opgeneem is, ouer mense is. Dit staan in kontras met die Amerikaanse getuienis. Wat kan die rede wees? Dit het moontlik daarmee te doen dat die Afrikaner kultuur in sigself 'n paar dekades terug soms nog 'n harde, ongenaakbare kant gehad het. Die Christelike belewenis in Afrikaner kringe was tot 'n groot mate 'n weerspieëling en projeksie van die wyer Afrikaner kultuur. Dit verander egter nie aan die feit dat die meeste bydraers ook hul vervreemding van die kerk aan die "simplistiese en onhoubare" sieninge van die tradisionele Christendom toeskryf nie. Vir hulle is die tradisionele beskouinge net nie meer relevant tot die wetenskaplike eeu waarin ons lewe nie.

Wat verder omtrent die bydraers opval, is hoeveel van hulle predikante is of was. Hoekom sal so baie predikante hul geloof verloor of ten minste twyfel? Die antwoord hierop het duidelik nie net met die praktiese belewing in die kerk te doen nie maar ook met die teologiese opleiding waartydens hul intellektuele-godsdienstige basis gelê is. Uit die voorafgaande bespreking is dit duidelik dat die Bybelwetenskaplike aanslag wat in die gereformeerde teologie gevolg word 'n belangrike bydraende faktor in hul geloofsherbesinning kon wees. As die wetenskaplike aanslag tot die Bybel onkrities tot sy noodwendige implikasies deurgevoer word, is dit duidelik dat die ruimte vir geloof aansienlik ingeperk word. Die Bybelwetenskaplike benadering werk ongeloof aan die hand. Daarom is dit nodig dat die wetenskaplike basis vir hierdie benadering opnuut onder oë geneem word - dit is nie so "wetenskaplik" as wat algemeen veronderstel word nie.

Daar is natuurlik baie predikante en ander Christene wat met die Bybelwetenskap bekend is, maar wat nie by al haar veronderstellings inkoop nie. Hulle aanvaar dat daar plek vir 'n gesonde vorm van tekskritiek is, maar hulle aanvaar nie die veronderstelling dat die Bybelse teks slegs as teologiese nadenke oor God beskou moet word nie. Hulle is van mening dat daar genoegsame getuienis is dat die Bybelse verhale wel as betroubaar aanvaar kan word. Vir hulle is hierdie punt baie belangrik omdat dit die gesag van die Bybel as "Woord van God" onderlê. Sommige van hulle staan nader aan die tradisionele beskouinge en onderskryf dinge soos die woordelikse inspirasie van die Bybel, die skepping in ses sondae en so meer. Andere onderskryf eerder 'n integriteitsiening van inspirasie (sien die bylaag in my boek Abraham en sy God) en is gemaklik met die Groot Knal (alhoewel dalk nie met Neo-Darwinistiese evolusie nie). Maar hulle staan by die basiese leerstellings van die Christelike geloof. En hulle streef hopenlik om deurgaans in hul interaksie met andere (en veral diegene wat met hulle verskil) die gesindheid van Christus te openbaar.

Alhoewel die Bybelwetenskap nooit die tradisionele perspektief waarin alle tekskritiek summier afgewys word se geldigheid sal aanvaar nie, is daar geen rede om die bestaansreg van ander sinvolle narratiewe te ontken nie. Alhoewel hierdie geleerdes vanweë hul langdurige blootstelling aan die voorveronderstellings van hul eie paradigma nie met ander narratiewe gemaklik is nie, is dit hoog tyd dat hulle afsien van hul pogings tot hegemoniese beheer oor interpretasie. Dit is juis wat die postmoderne mens uit die foute van modernisme geleer het: niemand het 'n alleenreg op interpretasie nie. As Gerda de Villiers dus skryf: "[Die Bybel] wil juis nie ‘n betroubare gesaghebbende bron van die geskiedenis wees nie", dan is dit beslis nie 'n feitlike wetenskaplike stelling nie; dit is gewoon 'n projeksie van haar eie paradigmatiese verbondenheid.

Baie Christene is, net soos die gemiddelde persoon op die markplein van denke, op soek na sinvolle interpretasies. Interpretasies wat relevant is vir die wetenskaplike tyd waarin ons lewe, maar wat terselfdertyd genoeg ruimte skep vir geloof. Tradisionele Christene huldig soms sieninge wat net nie meer vir die kontemporêre mens sin maak nie en dus geloof ondermyn. Ingeligte mense kan net nie meer vrede maak met sieninge wat teen alle wetenskaplike feite ingaan nie. Aan die ander kant huldig Bybelwetenskaplikes sieninge wat nie alleen geen wetenskaplike gronde het nie (wat die vakgebied vanweë haar diep wortels in modernisme geërf het), maar wat ook die ruimte vir geloof aansienlik inperk. Beide paradigmas dra dus by tot ongeloof. Wat nodig is, is sinvolle interpretasies wat genoegsame ruimte vir geloof skep.

Slot

Die tradisionele Christendom en die Bybelwetenskap staan as twee onversoenbare teenpole teenoor mekaar. Twee paradigmas wat nie mekaar se taal verstaan nie en wat ook nie geïnteresseerd is om na mekaar te luister nie. Twee paradigmas wat oor jare gevorm is en wat nie maklik sal verander nie. Beide hou vas aan hul "waarhede" - die een groep aan die waarhede van die "geloof" en die ander aan die waarhede van die "wetenskap". Tog is die geloof nie van meets af in kompetisie met die wetenskap nie - ons kan in wonderwerke glo al dink ons dat die wetenskap oor die algemeen die wette van ons wêreld goed beskryf. Die dae waarin Bybelwetenskaplikes gedink het dat hulle narratief die enigste geldige narratief is, is ook verby. Bybelwetenskap is glad nie so wetenskaplik as wat soms in daardie kringe gedink word nie. Dit is juis hierdie beperking van Bybelwetenskap wat die ruimte skep waarin ander geldige interpretasies kan bestaan. Daar is vandag ruimte vir verskillende sinvolle narratiewe. Daar is ruimte vir die gemiddelde persoon om hul eie narratief saam te stel - om vir hulleself te dink. Om dit so te konstrueer dat dit ruimte maak vir geloof.

[1]  In Op soek na Abraham en sy God argumenteer ek dat die Genesis-verhale sedert die vroegste tye in Israelitiese kringe oorgelewer is (die pre-patriargaalse verhale is dus nie tydens die ballingskap uit Babilonië ontleen nie). Ek voer verskeie argumente hiervoor aan wat veral op argeologiese getuienis, vroeë Sumeriese en Akkadiese tradisies asook die oorspronge van die Israeliete se godskonsep berus (die oorspronge van El-Elyon, El-Sjaddai, Elohim - en Satan - in die raamwerk van die Hebreeuse goderaad).  Alhoewel ek laasgenoemde as my belangrikste argument beskou, het nie Sakkie of Gerda enige opmerkings daaromtrent gemaak nie.

[2]  Gerda gee te hoog op. Bybelwetenskaplikes kan nie daarop aanspraak maak dat hulle toegang tot die denke van Ou Israel het en dus weet hoe hulle Abraham verstaan het nie. Ons rekonstruksie van hul perspektiewe is maar net ons eie perspektiewe oor hulle.

Skrywer: Dr Willie Mc Loud. Ref. www.wmcloud.blogspot.com; wmcloud@yahoo.com
As jy die artikel sinvol vind, stuur dit aan andere wat ook in die kontemporêre godsdienstige gesprek geïnteresseerd is. Share dit. So kan al meer mense saampraat.

Lees Willie Mc Loud se artikels
A critique of Biblical Criticism as a scholarly discipline
A critique of archaeology as a science

Lees die resensie van Gerda de Villiers in TEO hier.

Die Markplein uitgawe (Okt 2012) waarin Sakkie Spangenberg se resensie van Abraham en sy God verskyn, is nog nie op hul webblad gepos nie.

6 comments:

  1. Baie dankie vir ‘n sinvolle en leersame artikel. Ek wil graag net twee aspekte uitlig wat my bietjie laat kopkrap het.
    Eerstens is daar die idee dat (volgens Heidegger, et al.) mense weens hul diepgewortelde paradigmas “in effek nie vry en openlik oor sake nadink nie”. Dit laat my met respek wonder tot watter mate jy self vry nadink en of jy nie ook maar in ‘n sekere paradigm vasgevang is nie. Wat sou die kriteria wees om te bepaal of mens regtig ‘n vry denker is?
    Tweedens maak jy die opmerking in die slot dat die “Bybelwetenskap ... die ruimte skep waarin ander geldige interpretasies kan bestaan.” Dit wil voorkom of jy ‘n saak maak vir meervoudige geldige interpretasies (wat dan per implikasie beteken dat die Bybelwetenskaplikes se interpretasie ook ‘n geldige interpretasie kan wees.) As daar ruimte vir “verskillende sinvolle narratiewe” is, watter narratief is dan korrek? Waarom dring ons dan nog daarop aan dat ons tradisie geloofwaardig is – is die Roomse tradisie dan nie net so geldig as die Gereformeerde of selfs die Wesleyaanse tradisie nie? Sover ek verstaan kan geen narratief korrek wees as daar baie narratiewe is wat korrek is nie.
    Ek vertrou dat jy nie my opmerkings as wysneusigheid of pedantrie sal sien nie, maar eerder as ‘n ernstige besorgdheid oor die effek van postmodernisme op die Kerk.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek antwoord graag. In hierdie artikel probeer ek gewoon die impak van paradigmatiese verbondenheid uitwys - ek argumenteer nie dat ons nie ook vry kan nadink nie. Aan die einde van die artikel noem ek juis dat elkeen sy of haar eie narratief moet saamstel. Ek is van mening dat die paradigma waarin ons opgroei 'n groot impak op ons denke het - maar mense gaan soms deur paradigma verskuiwings in hul lewe omdat aspekte van daardie paradigma nie meer vir hulle sin maak nie. ('n Mooi voorbeeld is iemand wat in later jare skepties raak oor die geloof of iemand wat 'n bekering ondergaan). As ons kennis het omtrent paradigmas, kan dit ons help om nie maar net een paradigma vir 'n ander te verruil wat weereens nuwe oogklappe op ons oe plaas nie (bv. die Christelike vir die sg "wetenskaplike").
      Wat jou tweede punt betref, dink ek dat jy my verkeerd aanhaal. Ek se nie dat die Bybelwetenskap ruimte vir ander interpretasies skep nie. Ek se dat "hierdie beperking van Bybelwetenskap" (ie dat dit nie so wetenskaplik is as wat sommige geleerdes dink nie) die ruimte skep vir ander geldige interpretasies. Dit beteken gewoon dat daardie geleerdes nie daarop kan aanspraak maak dat hulle interpretasie die enigste geldige een is nie (soos hulle in praktyk doen). Daar is ruimte vir ander interpretasies - wat elkeen toelaat om sy/haar eie sinvolle narratief daar te stel (ek hou daarvan as mense vir hulleself dink).
      Wat die korrekheid van narratiewe betref - niemand kan daarop aanspraak maak dat sy/haar narratief absoluut "reg" is nie (hoe sal so iemand dit kan bewys?). Tog dink ek dat daar beter en swakker narratiewe bestaan - ek is ongemaklik met narratiewe wat bv. wonderwerke in beginsel ontken (dit is reduksionisties); net so is ek ongemaklik met narratiewe wat teen alle wetenskaplike getuienis in gaan (dit is simplisties). Ek is ongemaklik met narratiewe waarin tradisie die lewenskrag verdryf (soos in die Roomse tradisie), net so is ek ongemaklik met narratiewe waarin geen waarde aan tradisie (die insigte van ons geestelike voorsate) gegee word nie (soos in sommige Charismatiese groepe). Dit is nie verkeerd as iemand glo dat sy/haar narratief reg is nie (dit is natuurlik vir mense om so te dink), maar dit is sekerlik verkeerd as so iemand nie oop is vir enige argumente wat hul narratief kan verbeter nie (dit is kleingeestigheid).

      Delete
  2. Ek will graag beklemtoon dat ek heelhartig met jou oorhoofse idee, nl. dat ons ernstig na betekenisvolle antwoorde moet soek en nie net sekere (ekstreme) posisie klakkeloos moet navolg nie, saamstem. Ek is ook eens met jou seining oor paragigmas, naamlik dat ons die lewe interpreteer in die lig van ons onderskeie paradigmas wat ‘n produk is van ons intellektuele, emosionel, kulturele, en geestelike ervarings in ons verlede. Dieselfde geld vir die realiteit van paradigma verskuiwings. Die twee punte wat ek probeer uitlig mag triviaal voorkom, maar ek glo dat dit ‘n groot invloed het op hoe ons probleme in die algemeen benader..
    Soos jy tereg opmerk is dit belangrik om te besef dat ons almal paradigmas het wat funksioneer as ‘n ‘brille’ waardeur ons alle ervarings en inligting (insluitende die Bybel) interpreteer. Dit sluit natuurlik almal in, selfs diegene wat al paradigma verskuiwings ondergaan het. Waarom is dit so belangrik? Baie Christene glo byvoorbeeld dat hulle die Bybel letterlike lees en interpreteer vir wat dit is sonder dat hulle enige veronderstellings na die teks toe bring; dit is egter ‘n naiewe veronderstelling. Wat dus belangrik is is dus nie om sonder ‘n ‘bril’ na die teks te kyk nie, maar om mens se ‘bril’ te identifiseer en dit in ag te neem met die beoordeling van mens se interpretasie of narratief asook die interpretasie van ander narratiewe. Ek dink ons almal behoort te waak teen ‘n tipe van ‘n esoteriese houding en dink dat ons tot so ‘n mate verlig is dat ons nie meer enige blinde kolle, voorafopgestelde idees, oogklappe, ens. het nie, selfs al het ons ‘ontvlug’ van enige ekstreme posisies.
    Betreffende jou punt oor veelvuldige geldige interpretasies verstaan ek dat die beperking van Byblewetenskap die ruimte skep vir ander geldige interpretasies, en nie bloot die betsaan van Bybelwetenskap nie. (Ek stem inderdaad met jou saam oor die probleme in die sg. Byblewetenskap. My punt is dus nie soseer met Byblewetenskap as ‘n geldige interpretasie nie, maar eerder met veelvuldige geldige interpretasies.) Miskien is dit nodig dat ek eers my seining oor die aard van die waarheid uitlig: Waarheid, soos ek dit verstaan, lê in die korrespondering van ‘n stelling met die werklikheid. (As ek dus sê dat daar ‘n pienk Mini in die oprit staan is daar net een toets om te bepaal of dit ‘n ware of false stelling is, naamlik of dit korrespondeer met die werkilkheid van ‘n pienk Mini in die oprit.) Daar kan egter grade van waarheid wees, i.e., die mate waartoe ‘n stelling ooreenstem met die werklikheid of realiteit. As ons van God of geestelike waarhede praat kan ons egter net analogies praat en sal sulke stellings waar wees tot die mate waartoe die analogie die realiteit korrek verantwoord. Ek stem dus nie saam dat ons die waarheid vir onsself ‘skep’ nie, maar eerder dat ons waarheid ‘ontdek’.In daardie sin kan daar wel narratiewe wees wat waar of reg is tot die mate waartoe dit getrou en akkuraat met al die inligting handel. ‘n Narratief wat beter is as ‘n ander is dus een wat meer waar of reg is. Jy self sê tog dat sommige narratiewe beter as ander is en ook dat dit nie verkeerd is dat iemand glo dat sy narratied reg is nie alhoewel jy ook opmerk dat niemand daarop aanspraak kan maak dat sy narratied absoluut reg is nie. (As ek jou reg verstaan kan iemand dus aanspraak maak op die waarheid van sy alternatief, alhoewel hy dit nie as die absolute waarheid kan beskryf nie.) Dit mag dalk na ‘n onbelangrike punt lyk, maar die probleem is dat as baie alternatiewe reg of waar is dan is die waarheid relatief en kan nie een regtig waar wees nie. Verder, as baie alternatiewe waar of reg is, waarom wil ons dan nog mense oortuig van die superioriteit van ons alternatief. (Die effek van sulke relativisme op die stand van die hedendaagse Kerk is fenominaal, ‘n onderwerp waarvoor ruimte hier ontbreek.) As mens regtig in iets glo gaan jy tog dink dit is meer reg of waar as ander sieninge en andere daarvan probeer oortuig, iets wat jy self ook met groot sukses doen.

    ReplyDelete
  3. Ek sien jy is veral geïnteresseerd in die "aard van die waarheid". Alhoewel dit by die huidige tema aansluit, is dit eintlik 'n saak wat 'n redelike uitgebreide argument verg. Ek kan wel noem dat die korresponderingsteorie van die waarheid (correspondence theory of truth) na my mening baie problematies is. Ek bespreek dit in my artikel "A critique of archaeology as a science". Ons het modelle vir die werklikheid - maar ons weet nie hoe die werklikheid waarlik daar uitsien nie. Ons kan dit ook nooit weet nie. Dit geld veral die meer komplekse aard van werklikheid soos dit in diepste essensie daar uitsien. Ons vind dat modelle soos kwantumfisika en algemene relatiwiteit, wat die werklikheid baie verskillend modelleer, beide goed met die data korreleer. As die korresponderingsteorie reeds in die fisika so vasval, hoeveel te meer wanneer dit by die geestelike werklikheid waarin ons glo kom. Ek dink ons moet na ander benaderings kyk.

    Ek dink ons moet luister as Paulus se dat ons kennis altyd slegs gedeeltelik sal wees (dis nou in hierdie lewe). Ons kan dus nie aanspraak maak dat enige van ons die absolute waarheid het nie - ons kyk deur 'n spieël in 'n raaisel. Volgens die NT is die Waarheid eerder 'n persoon nl Jesus Christus - en ons kan Hom nooit deurgrond nie. Ons kan wel geloofwaardige narratiewe van die waarheid hê. Ek dink die beste benadering tot hierdie problematiek omtrent die waarheid is om die regbank as vertrekpunt te neem, waar daar deur baie soorte getuienis - data, kundiges, ooggetuies, ondervraging ens. bepaal word wat werklik gebeur het (al sal ons nooit daardie "werklikheid" kan terugkry nie). Dit gaan dus oor baie aspekte wat saamkom wanneer narratiewe - en veral godsdienstige narratiewe - saamgestel word. Is die getuies betroubaar? (Dink byvoorbeeld aan die kritiek waaraan die Bybel al vir eeue onderwerp is, en steeds kan ons die betroubaarheid van die Bybelse getuies onderskryf - dit is nou as ons nie sekere paradigmas soos die sg Bybelwetenskap, blindelings naloop nie). Ondersteun die historiese data en ons geestelike belewing daardie getuies? Hier is beide die rasionele en die intuitiewe (geestelike) belewing belangrik - soos ek vroeër in my artikel "Faith and reason - finding the balance" (en in ons daaropvolgende gesprekke op die blog) geargumenteer het. Dit is vanuit hierdie hoek dat ek van beter en swakker narratiewe praat. Ek verwerp dus die gedagte dat ons deur die korresponderingsteorie van waarheid en rasionele denke alleen die waarheid kan bepaal. Maar ek verwerp ook die gedagte dat elkeen maar sy/haar eie geldige "waarheid" het - elkeen het miskien 'n eiesoortige perspektief, maar dit hou nie noodwendig met die "waarheid" verband nie. Daar is in enige regsaak geloofwaardige en ongeloofwaardige getuies. Ek koop dus nie by enige van die modernistiese (wat bowenal die rasionele beklemtoon) of die post-modernisme (wat ervaring beklemtoon) in nie. Ek staan 'n meer genuanseerde benadering voor.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek stem met jou saam dat die onderwerp oor die aard van die waarheid geweldig omvangryk is en dat hierdie bespreking nie daaraan reg sal doen nie.Dit is ook duidelik dat ons vanuit verskillende paradigmas na die saak kyk en redelik by mekaar verby praat. Verder dink ek ook dat ons sekere ondgedefinieerde terme gebruik sonder dat ons noodwendig presies dieselfde daarmee bedoel. Desnieteenstaande sal ek probeer om die kern van dit wat my kwel kortliks aan te spreek en dit dan daar laat.
      Ek glo my model maak daarvoor voorsiening vir die realiteit dat ons nie in hierdie lewe die volle omvang van die absoluete waarheid sal ken nie. Ek sé tog duidelik dat iets waar is tot die mate waartoe dit oorenstem met die absolute, m.a.w. ons soeke is na die absolute waarheid wat wel bestaan. Verder stem ek ook saam dat daar verskeie maniere is om analogies oor non-empiriese waarhede te praat. My problem is egter dat jy in die artikel na “ander geldige interpretasies” (mv.) en “verskillende geldige narratiewe” (mv.) verwys. Tog verwys jy na “beter en swakker narratiewe” asook “geloofwaardige en oneloofwaardige getuienisse”. Jy voer ook baie goeie redes aan waarom jou narratief/interpretasie die beste met al die data handel. Dit lyk dus duidelik nie of jy die narratiewe gelykstel nie, iets waarmee ek heelhartig saamstem. Vanuit my paradigma sou ek dit verwoord as sieninge wat meer of minder korrespondeer met die absolute en dus meer of minder waar is. Ek dink nie iemand glo regtig in praktyk aan veelvuldige geldige of sinvolle narriewe nie. As dit so was, waarom aanvaar jy nie nader narratiewe as geldig sonder om andere te probeer oortuig van die superioriteit van jou narratief nie. Jy kan tog nie aanspraak maak op versillende geldige narratiewe en terselfdertyd weier om ander narratiewe met jou eie gelyk te stel nie. Ek is van mening dat die idee van veelvuldige geldige narratiewe/interpretasies gekoppel met die idee dat waarheid nie korrespondeer met iets objektiefs nie ‘n baie (on)gesonde teelaarde vir postmodernisme is. Is dit nie die rede waarom moraliteit al so gerelativiseer is in die wéreld en ook in Christen geledere nie?
      Nota oor Jesus as die waarheid: As God is Jesus inderdaad die Waarheid. Waarheid in daardie sin is ‘n transendentaal wat op ‘n ander manier na die absoluutheid van God verwys, m.a.w. ‘n meta-fisiese stelling. (Dit is waarskynlik ook iets waaroor ons verskillende seining het.) Waarheid word egter grotendeels in die meer standaard proposionele sin in die Bybel gebruik. Mens kan dus sé dat die waarheid beide transendentaal is in ‘n metafisiese sin, maar propositioneel in die algemene manier van praat.
      Baie dankie vir die sinvolle gesprek.

      Delete
    2. Ek kan dalk my verwysing na "ander geldige" narratiewe meer toelig. Wat bedoel ek by "geldig"? Ek bedoel nie dat dit noodwendig 'n "goeie" narratief is nie; ek bedoel gewoon dat ons na daardie narratief kan luister en iets daarby kan leer. Dit bevat elemente van geldigheid wat dit as 'n narratief laat sinmaak. Wat die geldigheid van die Bybelwetenskap/teksstudies betref, het ek in my artikel 'n grondige kritiek daarteen uitgespreek. Maar ek het ter self ter tyd genoem dat "gesonde tekskritiek" (wat uiteindelik 'n produk van teksstudies is) sinvol is. Ons kan dit in 'n goeie narratief akkomodeer.

      Kortom - ek se nie dat 'n "geldige" narratief noodwendig 'n goeie narratief is nie. Ek bring dit nie direk met "waarheid" in verband nie. Maar as ek by jou manier van praat kan aansluit - dit bevat elemente van waarheid. Daar is na my mening baie moontlike geldige narratiewe - sommige beter as ander. Ons kan nie eens die moontlikheid van verskeie "goeie" narratiewe uitsluit nie. Jy dink duidelik jou narratief is "goed"; ek dink dieselfde van myne. Andere sal verskil. Die saak is kompleks - soos ek in die vorige skrywe uitgewys het. Maar dit moet ons nie verhoed om daarna te strewe om elkeen vir onsself ons eie narratief saam te stel nie - as ons oop is om na andere te luister kan ons by mekaar leer en so steeds verbeter aan ons narratief. Die probleem - wat ek in die artikel uitwys - is dat sommige geleerdes so oortuig is van hul saak dat hulle selfs met minagting met ander narratiewe omgaan - en dit terwyl dit vir enige persoon buite hul paradigma duidelik is dat hul narratief in ernstige opsigte gebrekkig is.

      Delete