Monday, 1 October 2012

Die goderaad in Hebreeuse tradisie

Die goderaad is 'n baie belangrike konsep in die Bybel (veral in die Ou Testament). Alhoewel baie Christene onkundig daaromtrent is, staan die goderaad sentraal in die antieke Hebreeuse denke oor God. Dit verteenwoordig hul vroegste denke omtrent God, uit die tyd toe daar nog van "gode" gepraat is in plaas van engele. Die konsep van die goderaad kom nie net in die Bybel voor nie, maar ook regoor die antieke Midde-Oosterse wêreld. Hierdie agtergrond is uiters belangrik as ons die godskonsep van Abraham beter wil verstaan.  In die vyfde hoofstuk van my nuwe boek oor Abraham en sy God, fokus ek op die goderaad - en op Abraham se verering van El-Elyon (God, die Allerhoogste), wat in die Bybel as die "vader van die gode" voorgestel word. Hierdie is 'n uittreksel uit daardie hoofstuk. (Die sesde hoofstuk handel oor Abraham se verering van El-Sjaddai (God, die Almagtige), die familie se voorvaderlike God, wat oënskynlik sedert die vroegste tyd as die Koning van die gode in die goderaad beskou is. Die oorsprong van die benaming "Elohim" en van Satan, die teenstander in die raad, word ook bespreek).

“Wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge [i.e. Seuns van God], ’n God grootliks gedug in die raad van die heiliges [i.e. heilige wesens]” (Ps. 89:7, 8).[60]

Ons het tot nou toe grotendeels op daardie deel van die Genesis-verhaal gefokus wat in die Bybel as die vroegste geskiedenis van die mensdom, en veral van Abraham se voorsate, geneem word. Hierdie verhaal oor die vroeë tyd bevat egter ook ander materiaal wat oorspronklik na die Sumeriese milieu kan teruggaan. Ek wil dus nou die soeklig na daardie aspekte van die Israelitiese tradisie uitbrei. Daar is goeie rede om te dink dat belangrike elemente van die Hebreeuse godsdiens en wêreldbeskouing ook na antieke Sumerië teruggevoer kan word. Dat die aanbidding van die God El – onder die name waarin Hy in Genesis genoem word – reeds vroeg onder die Semiete (en selfs Sumeriërs) in Mesopotamië voorgekom het.

Alhoewel ’n mens kan dink dat die God wat vir Abraham geroep het, vir die eerste keer in die geskiedenis daar Sy verskyning gemaak het, is dit nie wat ons in die Genesis-verhaal vind nie. Hiervolgens is die God van Israel reeds deur Adam en Eva aanbid. Sy verering het later na vroeë Sumerië versprei waar Hy deur Henog en Noag aanbid is (ek veronderstel hulle het daar gewoon). Hy was onder andere ook by gebeure soos die vloed en taleverwarring betrokke. Dit was ook daar in Sumerië waar God aanvanklik aan Abraham (toe nog Abram) verskyn het (Gen. 15: 7; Hand. 7: 2, 3), nog voordat Hy deur hom en sy nageslag in Kanaän vereer is. Dit impliseer dat die verering van Abraham se God na Sumerië teruggevoer kan word. Alhoewel God ’n nuwe begin met Abraham (toe nog Abram) maak, was hy beslis nie die eerste persoon wat God aanbid het nie. In die volgende twee hoofstukke fokus ek op hierdie Bybelse aanspraak dat die Hebreeuse God reeds vroeg in Sumerië aanbid is.

El-Elyon, Vader van die Gode

Ons kan ten eerste vra: Onder watter naam het Abraham sy God vereer? Was dit die naam Jahweh? Volgens Eksodus 6: 2 was die naam Jahweh nie aan Abraham of enige van die aartsvaders bekend nie. Ons lees: “Verder het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE (Jahweh). En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige (El-Sjaddai), maar met my Naam HERE (Jahweh) het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie” (Eks. 6: 2). Hiervolgens was Moses die eerste wat die naam Jahweh aan die Hebreeuse God gegee het – nadat Hy in die brandende bos aan Moses verskyn en sy naam aan hom bekend gemaak het.

Abraham sou sy God dus onder die naam El ken. Dit is die naam waaronder die Midde-Oosterse Semiete, ook in antieke Kanaän, die Oppergod vereer het. In die boek Genesis kom twee vorme van die naam El voor, naamlik El-Elyon (God, die Allerhoogste) en El-Sjaddai (God, die Almagtige). Hierdie twee vorme is meer prominent as die ander attribute wat aan Hom toegedig word.

Melgisedek, die koning van Salem (Jerusalem), was ’n priester van El-Elyon (Gen. 14: 18-22). Hy het Abraham (toe nog Abram) tydens hul ontmoeting ná die oorwinning oor die invallende Elamiete, in die naam van El-Elyon geseën (Gen. 14: 17-24). Abraham het later ook saam met sy seun Isak ’n offer by die “berg van die HERE” in Salem (duidelik aan El-Elyon) gaan bring (Gen. 22: 2, 13, 14; vgl. 2 Kron. 3: 1). Die Abrahamse familie het El weer onder die naam El-Sjaddai as hul voorvaderlike God vereer (Gen. 17: 1; 28: 3; 35: 11; 43: 14; 48: 3; Eks. 6: 3 ens.).

Ek wil eers op El-Elyon fokus en kyk hoe hierdie naam verder in die Hebreeuse Bybel gebruik word. Dit is gou duidelik dat hierdie naam na El se rol as vader van die “gode” verwys. Alhoewel ons in die latere Hebreeuse literatuur vind dat die heilige wesens saam met God engele genoem word, was dit nie oorspronklik so nie. In die vroeë Hebreeuse literatuur is die heilige wesens of dan “heiliges” (asook ooreenkomstige gevalle wesens) nog “gode” genoem, net soos in die Kanaänitiese en Sumeriese tradisies. El-Elyon is as die vader van die gode gereken, wat op hul beurt as “Seuns van God (Elohim)” of gewoon “gode” beskou is (Gen. 6: 2; Job 2: 1).[61]

Een van die mooi beskrywings van El-Elyon as “vader van die gode” kom in Psalm 82 voor waar ons lees: “Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste (Elyon)” (Ps. 82: 6). Ons vind ’n ander mooi beskrywing in Deut. 32: 8 en 9 waar ons lees: “Toe die Allerhoogste (Elyon) aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die Seuns van God. Want die HERE (Jahweh) se erfdeel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel.” (In vroeë vertalings is die grondteks gebruik wat “kinders van Israel” in plaas van “Seuns van God” lees, maar die ontdekking van ’n ou fragment by Qumran in Israel [62] het getoon dat die Septuaginta dit korrek as “Seuns van God” aangee.) Hier word vertel hoedat El-Elyon, duidelik as vader van die gode, die nasies as erfdeel onder die Seuns van God verdeel het.[63]

Die Seuns van God

Wie was hierdie Seuns van God? Alhoewel die Seuns van God nie in die Hebreeuse tradisie duidelik geïdentifiseer word nie, is daar tog enkele gedeeltes wat ons na die vroeë Hebreeuse denke hieromtrent terugneem. So lees ons in Genesis 6: 2 van die Seuns van God wat by die mense se dogters kinders verwek het. (Ek bespreek dit in diepte in my komende boek oor die Gevalle Engele.) Hier verwys dit oënskynlik na gevalle engele (2 Pet. 2: 4, 5; Jud. 1: 6, 7). Ons lees ook elders in die boek Job van hulle, naamlik waar vertel word hoe “die Seuns van God” voor die aangesig van die HERE (Jahweh) verskyn het (Job. 1: 6; 2: 1). Die Satan was tussen hulle.

Ons vind ’n ekwivalente uitdrukking as Seuns van God in Psalm 29: 1 en 89: 7, waar hulle “Seuns van die Magtige” (as “hemelinge” vertaal in die Ou Afrikaanse vertaling van die Bybel) genoem word. Hierdie uitdrukking is waarskynlik oorspronklik ook as “Seuns van God” gelees soos in die Septuaginta en die vroeë Kanaänitiese Ugarit-literatuur gesien kan word.[64,65] Ons lees in hierdie gedeeltes: “Gee aan die HERE (Jahweh), o Seuns van God, gee aan die HERE (Jahweh) eer en sterkte” (Ps. 29: 1) en “die hemele loof u wondermag, o HERE (Jahweh), ook u trou in die vergadering van die heiliges (i.e. heilige wesens). Want wie kan in die hemel met die HERE (Jahweh) vergelyk word? Wie is soos die HERE (Jahweh) onder die Seuns van God” (Ps. 89: 6-7). In hierdie geval verwys dit na goeie engele en hemelwesens. Ons sien dus dat die “Seuns van God” oënskynlik goeie sowel as gevalle hemelwesens ingesluit het.

Verder is daar Deuteronomium 4: 19 en 20, wat duidelik by Deuteronomium 32: 8 en 9 aansluit, waar na die “Seuns van God” verwys word (sien die bespreking in die vorige paragraaf). Ons kan weer Deuteronomium 32: 8 en 9 aanhaal: “Toe die Allerhoogste (Elyon) aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die Seuns van God. Want die HERE (Jahweh) se erfdeel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel.” In Deuteronomium 4: 19 en 20 word daar ook so na die goddelike erflating (aan die “Seuns van God”) verwys, alhoewel daar nou na God, as vader van die gode, onder sy latere naam Jahweh verwys word. Ook hier word genoem dat Jahweh die volk Israel as erfdeel ontvang het.

Ons lees: “[Neem julle dan terdeë in ag] dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie – dinge wat die HERE (Jahweh) jou God aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het. Maar die HERE (Jahweh) het julle geneem en julle uit die yster-smeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy erfvolk te wees soos dit vandag is.” As ons hierdie gedeelte met Deuteronomium 32: 8 en 9 vergelyk dan lyk dit of die gode van die son, maan en sterre onder die Seuns van God gereken is.

Daar is baie ander gedeeltes wat dit bevestig. Ek noem enkeles. In 1 Konings 22 word diegene rondom God se troon ook, soos in Deuteronomium 4: 19, as die “hemelse leërskare” beskryf (1 Kon. 22: 19). Dit is ’n term wat na die hemelliggame, die sterre en planete, verwys (Ps. 33: 6). Ons lees verder in die boek Job hoe God vir hom (Job) vra: “[Waar was jy] toe die môresterre saam gejubel en al die Seuns van God gejuig het” (Job 38: 7) asook in die Lied van Debora hoedat die sterre aan die geveg deelgeneem het: “Uit die hemel het die sterre geveg, uit hul bane het hulle teen Sisera geveg” (Rigt. 5: 20 – vgl. ook Dan. 8: 10, 11).

Hierdie konsepte was nie uniek aan Israel nie. Dit is konsepte wat wyd oor die antieke Midde-Ooste voorgekom het. Net soos in Israel, is El ook onder die Kanaäniete as die vader van die gode gereken. Ook daar is die gode van die son, maan en sterre onderskei en is hulle “Seuns van God (El)” genoem.[66] Ons vind hierdie konsepte ook in antieke Sumerië, waar die God An as die vader van die gode gereken is. Die God An kom feitlik presies met die Ugaritiese El ooreen.

Die goderaad

El-Elyon was nie alleen die vader van die gode nie; die gode het ook op sy berg byeengekom. Hierdie berg is die “godeberg” of “berg van samekoms” genoem omdat die gode daar vergader het (Eseg. 28: 16; Jes. 14: 13). Ons lees dat hierdie berg in die uithoeke van die noorde te vinde was: “En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste (Elyon)” (Jes. 14: 13,14).

Ons lees nie alleen dat die gode op die godeberg byeengekom het nie; ons lees ook dat hulle saam raad gehou het. Daarom word daar ook in die Hebreeuse literatuur na hierdie samekoms van die gode as die godevergadering of goderaad verwys. Ons lees in Psalm 82: “God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode” (Ps. 82: 2). Hier word God (Elohim) [67] uitgebeeld waar Hy regspraak lewer in die goderaad. Ons lees ook in Psalm 89: “Wie is soos die HERE (Jahweh) onder die Seuns van God (sien die vroeëre bespreking), ’n God grootliks gedug in die raad van die heiliges (i.e. heilige wesens)” (Ps. 89: 7, 8). Die goderaad was duidelik ’n baie belangrike konsep in die Hebreeuse tradisie.

Ons vind ’n besondere mooi beskrywing van die goderaad in 1 Konings 22: 19-22. In hierdie geval lees ons hoedat die profeet Miga self in die gees in die goderaad teenwoordig is en die bespreking in die raad dophou. Ons lees: “En die HERE (Jahweh) het gesê: Wie sal Agab oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gilead? En die een het so gesê, en die ander weer so. Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die HERE (Jahweh) staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die HERE (Jahweh) vra hom: Waarmee? En hy sê: Ek sal uitgaan en ’n leuengees word in die mond van al die profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so.” In hierdie geval word daar na die betrokke lid van die raad as “die gees” verwys – dit staan in kontras met die ouer tradisie toe die lede van die raad “gode” genoem is.

Die konsep van die godeberg, waar die goderaad byeenkom, was nie uniek tot die Israelitiese tradisie nie. Dit het wyd oor die antieke Midde-Ooste voorgekom. Die Kanaäniete sowel as die Sumeriërs het dieselfde konsep gehuldig. Ons vind in die Kanaänitiese tradisie, net soos in die Hebreeuse tradisie, dat die gode op El se berg byeengekom het. Ook in Mesopotamië was daar ’n baie ou tradisie dat die gode eens op An, die vader van die gode, se berg vergader het.[68] In latere tye het Enlil egter daar in die plek van sy vader An koning van die gode geword en het hulle rondom hom byeengekom.

Waar was die godeberg?

Dit is duidelik dat die konsep van die godeberg baie oud is. In die vroegste tradisies is dit die berg van die vader van die gode, waar al sy “kinders”, die Seuns (of kinders) van God, vergader het. Verder staan die verskillende tradisies nie los van mekaar nie; inteendeel, daar is ’n duidelike kontinuïteit in hierdie tradisie wat baie ver in die geskiedenis teruggaan.

Die vroegste verwysings na hierdie berg kom in die Sumeriese literatuur voor. Hiervolgens is die godeberg “Hursag” genoem, wat “groot/hoof/oudste berg” beteken [69]. Die berg was iewers in die noorde te vinde en is oënskynlik met een of ander berg in die noordelike Zagrosgebergtes verbind [70]. As dit in die gebied van Aratta geleë was, kan ons dit dalk met een van die hoë berge in die gebied van Urartu vereenselwig (sien die bespreking in Hoofstuk 2).

Sien plaat 12 op bladsy 122 vir 'n foto van die berg Sahand, agter in die Zagros-gebergtes en naby die Urmia-meer in die noorde van die hedendaagse Iran. Was dit dalk die godeberg in die noorde?

In latere weergawes van die Gilgamesh-heldeverhaal verskuif die ligging van hierdie berg na die weste en word dit iewers in die Westelike Sederberge, wat na die Amanusgebergtes verwys, geplaas [71]. Ons lees hoedat die helde van hierdie heldeverhaal uiteindelik na ’n lang tog die berg te siene gekry het: “They were gazing at the Cedar Mountain, the dwelling of the gods, the trone-dais of the goddesses” [72].

Hierdie Westelike godeberg is waarskynlik presies dieselfde godeberg wat deur die Kanaäniete erken is. Hulle het een van die hoogste pieke in die Amanus, Berg Haman, met die godeberg van El vereenselwig. Hierdie berg is “Hursanu” genoem [73] – duidelik afgelei van die Sumeriese naam “Hursag”. As hierdie berg regoor die Midde-Ooste as godeberg erken is, dan verwag ons dat die godemitologie wat met hierdie berg vereenselwig is, ook grotendeels sou ooreenstem.

Die Sion-godeberg

Dit is moontlik dat die heilige berg in Jerusalem reeds in die tyd van Abraham of selfs vroeër as ’n plaaslike weergawe van die godeberg erken is. As sodanig was dit ’n aardse weergawe van die kosmiese godeberg waar God regeer. Volgens die Genesis-verhaal is El-Elyon, die vader van die gode wat op die godeberg byeenkom (vgl. die bogenoemde bespreking), reeds in die tyd van Melgisedek daar – waarskynlik op dieselfde berg – in Jerusalem (wat toe nog Salem genoem is) vereer. Ons vind dan ook dat die benaming van El-Elyon se berg as “berg van samekoms in die uithoeke van die noorde” (Jes. 14: 13, 14), ook op hierdie berg, wat later Sion genoem is (Ps. 9: 11; 74: 2; 76: 2 ens.), van toepassing gemaak is soos ons lees:
“[D]ie berg Sion, in die uithoeke van die noorde …” (Ps. 48: 3, letterlik vertaal.[74])

Volgens die Genesis-verhaal het Abraham self ook vir El as El-Elyon vereer. Ons kan dit sien in die verhaal van die oorwinning oor die Elamiete waar Melgisedek, die priester van El-Elyon, vir hom as priester opgetree het (Gen. 14: 17-24). Hy het self ook na die berg van El-Elyon gegaan – dit is as ons aanvaar dat die berg waar hy vir Isak moes gaan offer dieselfde berg in Jerusalem is waar Melgisedek die priester-koning was. Dit maak sin dat hy daarheen sou gaan omdat Melgisedek vroeër as sy priester opgetree het. Hierdie berg word dan ook “berg van die HERE” (Gen. 22: 14) genoem.

Wie was El-Elyon?

As El-Elyon reeds in daardie vroeë tyd deur die Abrahamse familie op die godeberg in Salem as die plaaslike weergawe van die vader van die gode vereer is, dan is dit heel moontlik dat hulle Hom as die eweknie van die Sumeriese vader van die gode beskou het. Vanweë hul afkoms uit Sumerië sou hulle Hom ook onder sy Sumeriese naam An ken. Wat Elyon betref, is dit opvallend dat Hy nie alleen soos An as die vader van die gode beskou is nie, maar dat die betekenis van die naam Elyon, naamlik “Allerhoogste”, feitlik presies met die naam van die God An ooreenkom (sien hieronder).

Soos ek vroeër genoem het, is die wigskrifsimbool wat gebruik is om An se naam te skryf ook gebruik om...
(einde van die aanhaling uit hoofstuk 5 van Op soek na Abraham en sy God)


Notas in die aangehaalde teks

60. In die Ou Afrikaanse vertaling word die Godsnaam Yahweh as HERE geskryf.
61. Hierdie terminologie sal vir baie Christene vreemd klink omdat dit nie baie in die Bybel voorkom nie. As hulle aan “gode” dink, dan dink hulle dadelik aan afgode. Dit is egter nie wat die term hier beteken nie. Dit is gewoon die antieke manier om na “hemelse wesens” te verwys, waarvan sommige goed was en andere gevalle geraak het. In latere tye het hierdie term in die Hebreeuse tradisie in onbruik verval en is daar van engele gepraat – waarvan sommige ook goed en ander gevalle was. Latere variante van die Septuaginta vertaal dan ook die uitdrukking “Seuns van God” in Gen. 6: 2 as “engele”.
62. Die tekste is in 1947 daar ontdek.
63. Ons vind ook later dat daar in die Hebreeuse literatuur melding gemaak word van sekere “vorste” wat oor volke soos die Perse en Grieke geheers het (Dan. 10: 20). Hier is die benaming “god” (vir die gode van die ander volke) met “vors” (duidelik ’n engel) vervang.
64. Mullen 1980:191
65. Die betekenis van die woord “El” (God) is ook “Magtige”.
66. Mullen 1980:195-196
67. Dit is die mees algemene Hebreeuse woord vir God.
68. Jacobsen 1987:280
69. George 2003:466
70. Falkowitz 1983:108
71. George 2003:93
72. George 2003:603
73. Mullen 1980:130
74. Mullen 1980:154

Die aanhaling is uit hoofstuk 5 van Op soek na Abraham en sy God, 'n studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale, deur Dr Willie Mc Loud (uitgewer: Griffel, 2012).

Lees ook: Abraham en sy God - Inleiding
Hoofstuk 1: Abraham is die skakel
Ref. wmcloud.blogspot.com

No comments:

Post a Comment