"As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?" (Ps. 11:3) 
  
Die kerk in Suid-Afrika staar 'n krisis in die oë.  Die kerk se  reaksie gaan bepaal of sy in die volgende geslag nog relevant sal  wees en of sy ook soos in Europa bykans irrelevant gaan word.  In  hierdie ope brief maak ek  praktiese voorstelle oor hoe die kerk relevant kan bly.  Lesers is  welkom om dit aan hul eie geestelike leiers aan te stuur.  
Daar  is 'n roering in Afrikaanse geledere. Ander opinies en denke as die  waaraan ons gewoond is, is aan die orde van die dag.  Ons hoor gereeld  van teoloë, predikante en gewone mense wat sê dat hulle aan die Bybelse  boodskap twyfel.  In radio gesprekke, koerant artikels en briewe, op  internet gespreksforums, in boeke, op blogs, om die kampvuur en oral  vind gesprekke plaas waarin mense oor hierdie dinge praat. Oral op die  intellektuele markplein word kompeterende idees bespreek en  gedebatteer.  En dit lyk of baie mense deur die stroom van twyfel  meegevoer word. Al meer mense raak los van die kerk.  Lidmaat getalle  neem af.  In baie gemeentes is dit meestal ou mense wat kom.  Jong mense  bly weg.  Die vraag is: wat moet die kerk in 'n tyd soos hierdie doen?   In hierdie ope brief maak ek 'n paar voorstelle oor wat gemeentes kan  doen om vandag steeds relevant te bly. 
Relevant
Alhoewel die  kerk nie altyd daarop ag slaan nie, is die omringende samelewing besig  om baie vinnig te verander.  Ons hele kultuur is besig om te verander.   Waardes wat vroeër hoog aangeslaan is, verval in onguns - ander waardes  kom in hulle plek.  Ek praat nou nie net van morele waardes nie; ek  praat van kultuurwaardes.  Waar die Afrikaanse kultuur vroeër baie op gesag klem gelê het, is dit vandag in om gesag te betwyfel.  Die  outokratiese posisie van die pa in die gesin, die onderwyser by die  skool en die dominee in die gemeenskap het plek gemaak vir 'n meer  demokratiese styl waarin verskillende opinies en insigte binne die  raamwerk van 'n oop gesprek hoog aangeslaan word.  Vaste oortuigings en  sieninge maak plek vir meer genuanseerde perspektiewe.  Oorgelewerde  beginsels word bevraagteken; dit word opsy gesit as oorlewering van die  ou mense.  
Dit is binne hierdie veranderende klimaat  dat die kerk haarself vandag bevind.  Omdat die kerk uit die tyd van  outokraties-vaste oortuigings kom, is dit vir baie Christene moeilik om  aan te pas en te verander. In baie gemeentes toon die manier van kerk  hou, die kleredrag (dink aan die swart pakke en wit dasse), die samesang  en die liturgie dat hulle tot 'n vorige era behoort.  Soms lyk dit soos  'n toneel wat 'n mens aan die Amerikaanse Amish laat dink.  Hierdie  manier van doen maak nie meer vir die hedendaagse mens sin nie.  Dit is  dan ook verblydend dat baie gemeentes vernuwe - gesonde maar tog  ingrypende vernuwing, nie net kosmetiese veranderinge wat aangebring  word nie.  As die kerk vandag steeds relevant wil bly, sal gemeentes oor  hierdie dinge moet saampraat, saamdink en saamdoen.  As die  verskeidenheid gawes van die gemeentelede nie werklik in die gemeente  tot hul reg kom nie, sal mense mettertyd belang in die kerk begin  verloor.  Ons hoef nie aan die voorpunt van verandering te wees nie, maar ons moet ook nie agter die tyd wees nie.
Die  samelewing verander egter ook in ander opsigte.  Wat vir die kerk van  belang is, is die wyse waarop die wetenskap deel van die Afrikaanse  lewens- en wêreldbeskouing geraak het.  Die oorgrote meerderheid  Afrikaanse mense dink nie meer aan die wetenskap as ondergeskik aan  geloof nie.  Hulle aanvaar die wetenskaplike uitsprake en baie stoei om  dit met hul geloof te versoen.  Weereens is daar sekere vaste  oortuigings wat dele van die kerk kenmerk.  Daar is diegene wat hul  interpretasie van Bybelse gedeeltes tot onaantasbare waarhede verhef -  terwyl daar regoor die wêreld baie ander Christene in hul eie teologiese  stroom is (hetsy gereformeerd, evangelies, pinkster of charismaties)  wat ander interpretasies voorstaan wat makliker met die wetenskap  versoenbaar is.
Dit wat die kerk sê moet (soos dit wat  die kerk doen) vir die gemiddelde persoon in die samelewing sin maak.   Dit help nie om die wetenskaplike verstaan van ons kosmos as onsin af te  maak nie - die gewone persoon kan dit net nie meer aanvaar nie.  Die  wetenskap ondersoek immers God se openbaring in die natuur - wat  sekerlik nie in stryd met God se openbaring in die Skrif sal wees nie.   Die fout lê nie noodwendig by die wetenskap nie; dit kan ook by ons  simplistiese interpretasie van die Bybelse teks lê.  Ek bepleit nie dat  Christene die wetenskap klakkeloos napraat nie.  Daar is sekere dinge  soos die oorsprong van lewe waarvoor die wetenskap nog nie antwoorde het  nie.  Sommige wetenskaplike teorieë soos die neo-Darwinistiese teorie van evolusie is na my mening ook  nog problematies (sien my artikel "Wetenskap en Geloof").
Tog  is dit ook so dat daar ander dinge is waaroor daar al lankal konsensus  bereik is soos dat die aarde baie oud is.  Wetenskaplike dissiplines  soos astronomie, geologie en argeologie toon onomwonde dat die aarde oud  is. Dit help nie dat ons die wetenskap feitlik in totaliteit verwerp  net omdat dit met ons interpretasie van gedeeltes soos Genesis 1 (wat  verskillend verstaan kan word) verskil nie.  
Op grond van hierdie beskouing dink die gemiddelde persoon in die samelewing dat die Bybel totaal onvanpas vir vandag is.   Hulle dink dat die Bybel - en dus ook die kerk - nie meer relevant vir  ons tyd is nie.  Hoe kan hulle in die Bybelse God glo, as hulle nie  vertroue in die Bybelse boodskap het nie? 
Eietydse impak
As dit wat die kerk doen en sê vir die gemiddelde  persoon sin maak, dan is daar altyd iewers 'n geleentheid waar gemeentes 'n impak op so iemand se lewe kan maak. Dit beteken dat die  kerk ook vandag - en juis vandag - dinge moet doen wat 'n verskil in  mense se lewens maak.  Die vraag is: waar maak ons daardie verskil?   Baie kerke is so na binne gerig en hul lidmate lewe in so 'n gemaksone,  dat hulle geen impak op die wêreld daarbuite het nie. Die bedoeling is  sekerlik nie dat die kerk net 'n sosiale klub moet wees nie; sy moet 'n  boodskap vir die mense van haar tyd hê.  
Die kerk moet 'n vars boodskap hê wat toon dat en hoe die Bybelse boodskap in hul eie tyd relevant is  (dit sal voortspruit uit 'n verhouding met die hoof van die kerk,  naamlik Jesus Christus).  Die vraag is of die kerk dit regkry om daardie  boodskap prakties uit te dra en uiteindelik vrug op hul arbeid het.
Die kerk het geen ander alternatief as om op 'n wye front aktief aan die  kontemporêre gesprek deel te neem nie.  Dit sal nie help om maar net  vir die beste te hoop nie.  Soos in die bekende lese "ora et labora"  (bid en werk) genoem word, sal die kerk ook moet werk.  Geestelike leiers, gemeentelede en andere behoort oor kontemporêre  kwessies saam te praat - hulle behoort die inisiatief te neem om  toepaslike gesprekke op 'n relevante wyse binne die raamwerk van die  sosiale markplein van denke te voer.  Om sinvol aan  hierdie gesprek te kan deelneem, sal al die media benut moet word -  veral ook die elektroniese media.  Dit is immers waar 'n baie groot deel  van die gesprek plaasvind.
Alhoewel daar baie kerke is  wat webtuistes  het, is daar baie min mense buite hul kerk wat dit besoek. Sommige het  groepe op Facebook - maar dit is weereens tot gemeentelede beperk wat  daar saampraat.  Dink net daaraan: bykans een uit elke sewe mense op die  aarde gebruik Facebook en internetgebruikers spandeer omtrent een uit  elke sewe minute op Facebook!  Dit is nie alleen 'n geweldige groot  gespreksruimte nie, dit bied 'n enorme geleentheid vir die kerk om sy  boodskap in die wêreld uit te dra.  Om 'n groter impak te hê, moet  verskillende benaderings  op die internet gekombineer word, naamlik webtuistes, Facebook profiele  en groepe, blogs, links asook gespreksforums. 
Die  kerk het in die verlede foute gemaak.  Baie van die mense wat vandag erg  krities teenoor die kerk staan, het op 'n stadium binne die raamwerk  van die kerk seer gekry.  Sommige van hulle het met 'n harde,  ongenaakbare, liefdelose kerkstruktuur te doen gekry.  Die kerk het  haarself ook baie maal in die verlede (ook in Suid Afrika tydens die Apartheidsjare)  gekompromitteer deur met die heersende politieke gesag hande te vat.   Dit is egter ook so dat daar menigtes is wat deur die eeue die liefde  van Christus in die kerk se ontferming en ondersteuning beleef het.   Christenstemme was deur die eeue die gewete van die samelewing (al het die kerk ook baie maal daarin misluk) en  het 'n groot bydrae gelewer tot die uitroeiing van euwels soos  slawerny.  Die kerk moet nie dat gebeure uit die verlede haar  vrymoedigheid wegneem om as morele stem in die samelewing op te tree  nie.  Maar dan sal die kerk ook prakties 'n voorbeeld moet stel.
'n Besondere boodskap 
Ons  lewe in 'n postmoderne wêreld waarin verskillende  narratiewe (maniere om die wêreld te verstaan) met mekaar meeding.  (Dit beteken nie dat 'n mens by post-modernisme as filosofie en ideologie inkoop nie). Ons almal is bekend  met die wetenskaplike narratief wat fokus op daardie deel van die wêreld  wat vir ons instrumenteel toeganklik is.  Die wetenskap ondersoek die  sigbare, tasbare wêreld van die sintuie en maak uitsprake oor hoe  daardie wêreld werk.  Ons weet egter ook dat die kosmos baie meer  kompleks is as wat wetenskaplikes ooit sou kon droom -  daar is vandag  sprake van 'n hoër dimensionele struktuur van die kosmos en deeltjies  wat nie waargeneem kan word nie. Die Scientistiese beskouing wat die  omvang van die kosmos tot hierdie instrumenteel-waarneembare aspek  reduseer, is duidelik baie simplisties - al is daar sommige in  Afrikaanse kringe wat vandag nog hieroor opgewonde raak (sien my artikel  "Om te glo of nie te glo nie...").
Die Christelike narratief sê dat  die kosmos uit baie meer as net atome en molekules bestaan. Dit glo in  die bestaan van 'n groter werklikheid - dat daar meer is as net die koue materiële wat in die wetenskap ondersoek word.  Christene sien in hul  daaglikse lewe die wonder van God se hand.  Dat God lewe, dat Hy in ons  lewens betrokke is, dat Hy vandag nog wonders doen.  Dat Christenwees  'n besondere ervaring is.  In 'n wêreld waar koue materialisme die  wonder van hoop uitdoof, sal daar altyd 'n plek vir die Christelike  boodskap wees - om soos lig in die wêreld te skyn.
Slot
Die  kerk in Suid-Afrika staan voor 'n baie belangrike kruispad - gaan sy  maar op die ou manier voortgaan en al meer irrelevant word?  Gaan sy  vasstaan by uitgediende metodes en sieninge? Gaan sy al meer op die rand  van die samelewing uitgestoot word?  Of gaan sy aanpas?  Gaan sy  pragmaties die uitdaging in die oë kyk en vra: hoe kan ons, sonder om  die kernwaarhede prys te gee, verander sodat dit wat ons doen en sê vir  die mense van ons tyd sin maak? Meer nog: hoe kan ons boodskap vandag  relevant wees? Die kerk het 'n besondere boodskap van hoop - maar hulle  sal dit op 'n geloofwaardige wyse moet oordra. Ek glo dat die mense  van ons tyd in afwagting na die kerk kyk om te sien of sy gaan opleef  tot die oomblik. Die groot vraag is: gaan sy?
Hierdie  artikel is gebaseer op praatjies wat die skrywer oor dieselfde onderwerp in gemeentes gee.
Skrywer: Dr Willie Mc Loud (ws.mcloud@gmail.com)
Verdere artikels deur Dr Willie Mc Loud:
Wetenskap en Geloof 
Om te glo of nie te glo nie...  
Sy nuutste boek is Op Soek na Abraham en sy God. Dit handel oor die betroubaarheid van die vroeë Genesis verhale.