Monday, 17 September 2012

Sakkie Spangenberg en Modernisme

Sedert die begin van die jaar vind daar 'n gesprek oor die wetenskaplikheid van sogenaamde "Bybelwetenskap" in die tydskrif Markplein plaas. In 'n brief aan Markplein (Junie 2012) het ek aangevoer dat Bybelwetenskap in effek 'n "pseudo-wetenskap" is.  Sakkie Spangenberg het toe in 'n brief daarop gereageer (Julie 2012). My reaksie op sy skrywe verskyn in die nuutste uitgawe van Markplein (September 2012). Ek plaas dit ook hier op my blog.

Willie McLoud reageer in sy brief op Sakkie Spangenberg se artikel wat in die Julie uitgawe van Markplein verskyn het en waarin hy verduidelik het hoe die Bybelwetenskap werk.
Ek wil graag op Sakkie Spangenberg se reaksie op my brief in Markplein (5/2012) reageer. Volgens Sakkie het ek 'n broertjie dood" aan die woord "Bybelwetenskaplike". Dit lyk vir my so al of Sakkie my met hierdie opmerking soos 'n lastige vlieg probeer afskud. Hy ignoreer my problematiek en gaan gewoon voort om te bevestig dat "vakspesialiste" soos hy weet wat hulle doen. So asof ander mense geen reg het om vrae te vra nie. So asof net hy en ander "Bybelwetenskaplikes" die reg het om uiteindelik uitsprake oor die "wetenskaplikheid" van hul studieveld te maak. Na my mening gaan dit hier oor die wortel van die problematiek wat die huidige godsdienstige gesprek in Suid-Afrika raak. In Afrikaans word die woord "wetenskaplik" in 'n baie wye sin gebruik - dit kan 'n empiriese wetenskap maar ook hermeneutiese dissiplines soos teksstudies insluit. Hierdie vaagheid in die omskrywing van die woord "wetenskap" gaan terug na die tyd van modernisme toe verskeie dissiplines (soos teksstudies) in hul poging om as "wetenskappe" erken te word, nog empiries-wetenskaplike benaderings nagestreef het. My aanklag is dat dit die vakgebied ten diepste gekompromitteer en uiteindelik ook gediskrediteer het, juis omdat die dissipline vanuit sulke positivistiese wortels gegroei het. Ek maak die aantuiging dat die verwerping van die historisiteit van alle wondergebeure in die Bybel juis die gevolg is van hierdie benadering wat deur die jare in die studie van die Bybelse teks gevolg is.

My betoog is dat ons nie alleen tussen die ou pre-moderne en die latere moderne paradigma moet onderskei soos Sakkie noem nie, maar ook tussen die moderne en postmoderne paradigma. Alhoewel ek nie by die postmoderne paradigma inkoop nie, stel ons situering in die postmoderne era ons in staat om die moderne paradigma sinvol te kritiseer. Dit lyk vir my so al of Sakkie nog in die raamwerk van die moderne (waarby ek modernistiese bedoel) paradigma opereer (Diek se artikels in Markplein toon dieselfde inslag). Dit blyk vir hom moeilik te wees om te aanvaar dat ons vandag vir verskeie narratiewe kan ruimte maak en dat "wetenskaplikes" soos hy wat in hul vakdissiplinêre paradigma vasgevang is (soos die wetenskapsfilosoof Hans Kuhn uitgewys het) dit uit die aard van die saak moeilik vind om te aanvaar dat ander narratiewe ook geldig kan wees. Oor sy summiere verwerping van die moontlikheid dat prominente Bybel figure soos Abraham werklik kon lewe, kan ek net na die werk van Martin Bernal verwys (veral bekend vir sy boek "Black Athena"), wat toon dat die "hiperkritiese" en "beterweterige" houding van geleerdes nie aan die feit verander dat diegene wat die tekste geskryf het baie nader aan daardie gebeure gelewe het nie (in direkte kontinuïteit van daardie vroeë tradisie). Hulle was in sekere opsigte in 'n baie beter posisie as ons om oor daardie geskiedenis te oordeel. Ons weet vandag (in die postmoderne tyd) dat hipotese-toetsing in teksstudies altyd voorlopige data insluit (dit is nie in empiriese eksperimentering of gekontroleerde ondersoek gegrond nie) en dat Bybelse geleerdes in effek nooit in 'n posisie sal wees om te weet of hulle enigsins "reg" is nie. Soos reeds genoem, vind alle hipotese-toetsing verder in die raamwerk van die "wetenskaplike" tekskritiek paradigma plaas wat onherroeplik deur sy modernistiese wortels gekompromitteer is.

Vir enige "oop gesprek" is dit belangrik dat die gespreksgenote regtig probeer om na mekaar te luister. Ek is nie seker of Sakkie (en Diek) regtig "hoor" wat ek sê nie. My siening is in my boek Op soek na Abraham en sy God (Griffel) beskikbaar.

Willie McLoud


My vorige skrywes aan Markplein is ook op hierdie blog gepos (www.wmcloud.blogspot.com) en kan gelees word deur op die sleutelwoord "Markplein" regs op die blog te klik. 'n Belangrike artikel oor Bybelwetenskap getiteld "Om te glo of nie te glo nie..." het in Pomp 12 verskyn en verskyn onder die lys van populêre artikels regs op hierdie blog.

Monday, 3 September 2012

Abraham is die skakel

Is daar enige bewyse dat Abraham 'n historiese figuur was soos wat in die Genesis verhaal vertel word? Dit is die tema van hoofstuk 1 van my nuwe boek oor Abraham en sy God wat hier gepos word.

“En Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en Sarai, sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en dié het saam met hulle uit Ur van die Chaldeërs getrek om na die land Kanaän te gaan” (Gen. 11: 31).

Ons studie begin by Abraham (eers Abram genoem). Volgens die Bybel was Abraham een van die belangrikste voorouers van Israel. God het hom geroep terwyl hy nog in die stad Ur in die suidelike Sumeriese vlaktes gewoon het (Gen. 11: 28, 12: 1, 15: 7; Hand. 7: 2). Alhoewel die Bybel nie daaroor uitbrei nie, kry ’n mens die indruk dat sy familie toe alreeds vir baie jare daar woonagtig was. Die Bybel verwys na dié stad as Ur “van die Chaldeërs” – wat aandui watter Ur ter sprake is. Die Chaldeërs is ’n ander naam vir die Neo-Babiloniërs en die uitdrukking word sporadies vanaf die tiende eeu v.C. vir die gebied suid van die stad Babel gebruik.

Ur is ’n baie ou Mesopotamiese stad wat naby die mond van die Eufraatrivier by die Persiese Golf geleë was. Die seevlak het sedertdien gedaal en die ruïnes van Ur (Tell el-Huqayyar) lê vandag redelik ver van die see. Dit was ’n baie belangrike Sumeriese stad wat tot so laat as die laaste deel van die derde millennium v.C. (±2000 v.C.) nog die sentrum van die Sumeriese kultuur was. In daardie tyd was dit die hoofstad van die konings van die Derde Dinastie van Ur (Ur III) – die laaste Sumeriese heersers wat oor Mesopotamië sou regeer.

Volgens die Bybel het Abraham saam met ’n aantal van sy familielede uit Ur na die land Kanaän geïmmigreer. Hulle het al met die Eufraatrivier op tot by die stad Haran getrek en vandaar suidwaarts na Kanaän. Abraham verteenwoordig dus ’n baie belangrike skakel tussen die antieke Sumeriese beskawing en die latere Israel. As
ons oorblyfsels van die Sumeriese tradisie in die Israelitiese literatuur waarneem, dan moet ons die moontlikheid oorweeg dat dit ten minste gedeeltelik deur Abraham na Sumerië teruggaan – dit is nou as ons die Abrahamse verhaal ernstig kan opneem …

’n Historiese Abraham?

As ons die geskiedkundigheid van die Abraham-verhaal wil ondersoek, moet ons eers weet wanneer hy sou lewe. Om ’n datum vir Abraham vas te stel, word twee belangrike jaartellings in die Bybel gebruik, naamlik die tydsduur van Abraham se koms na Kanaän tot Israel se uittog uit Egipte (Eks. 12: 40) asook die tydsduur van die uittog tot die bou van die tempel (1 Kon. 6: 1).

Volgens die Joodse geskiedskrywer, Josefus (Antiquities of the Jews, XV: 2), wat kort ná die tyd van Christus geskryf het, het Abraham 430 jaar voor die uittog uit Egipte in Kanaän aangekom. Ons vind hierdie selfde inligting in die Nuwe Testament (Gal. 3: 16, 17) waar Paulus (soos baie ander Nuwe Testamentiese skrywers) uit die Septuaginta, die Griekse vertaling van die Bybel wat uit die tyd voor Christus dateer, aanhaal. Ons lees in die Septuaginta: “Now the sojourning of the children of Israel, and of their fathers, which they sojourned in the land of Canaan and in the land of Egypt, was 430 years” (Eks. 12: 40). Ons Bybel (in al die vertalings) laat die gedeelte weg wat ek in kursief geplaas het [5]. Verder was die tydsduur van die uittog tot die vierde jaar van koning Salomo, toe hy met die bou van die tempel begin het, 480 jaar (1 Kon. 6: 1). Dit verskil weereens van die Septuaginta wat die getal jare as 440 aangee. As ons die huidige aanvaarde datum vir die vierde regeringsjaar van Salomo as 967 v.C. neem, dan het Abraham volgens die Septuaginta in 1837 v.C. van Haran na Kanaän getrek. Volgens ons Bybel was dit heelwat vroeër.

Aangesien Abraham nie ’n bekende koning uit die antieke tyd is nie, is die kans dat daar enige argeologiese bewys vir sy bestaan oorgebly het ontsettend klein. Wat ons wel kan doen, is om te kyk of die milieu waarbinne die Bybel hom plaas, inpas by die raamwerk van daardie tyd. Daar is verskeie studies wat op aspekte soos die politieke, kulturele en sosiale omgewing fokus en toon dat die beskrywings in die Bybel heel goed met ander data uit daardie tyd korreleer. Ek wil gewoon op die belangrikste gebeure in Abraham se lewe fokus en kyk of daar onafhanklike getuienis daarvoor bestaan.

Die Elamitiese inval in Kanaän

Die belangrikste gebeurtenis wat Abraham in die raamwerk van die wyer Midde-Oosterse wêreld plaas, is die Elamitiese inval wat in sy tyd sou plaasvind. Elam was in die suidweste van hedendaagse Iran, oos van Mesopotamië, geleë. Volgens Genesis 14 het ’n koalisie van magte onder die aanvoering van die Elamitiese koning, Kedor-Laómer, ’n inval in die omgewing van die Dooie See geloods. Abraham het toe saam met ’n aantal Amoritiese vorste die plunderaars agternagesit en hulle verslaan.

Is daar enige buite-Bybelse bronne wat van so ’n gebeurtenis melding maak? Volgens Mesopotamiese tekste was daar net een geleentheid waarop die magte van ’n Elamitiese heerser in die vroeg-tweede millennium v.C. tot bo in Sirië opgetrek het. Dit was in 1822 v.C. (volgens die sogenaamde hoë kronologie) toe Siwepalar-
huppak, die koning van Elam (1826-1799 v.C.), probeer het om sy gesag oor die hele Mesopotamië af te dwing. Suidelike Mesopotamië het op daardie stadium onder sy beheer geval en bekende heersers van daardie tyd, soos Hammurabi van Babilon en Zimri-Lim van Mari, het hom as “vader” aangespreek. Hierdie inval het egter daartoe gelei dat die Elamiete uit Mesopotamië verdryf is [6].

As hierdie die inval is waarna die Bybel verwys – en daar is geen ander inval wat ter sprake kan wees nie – dan was daar ’n groep onder die Elamitiese invallers wat vanuit Sirië ’n inval in die Dooie See-gebied geloods het. Dit was dan hierdie groep wat deur Abraham en sy bondgenote verslaan is. Wat die datum van die inval
betref, korreleer dit ook goed met die datum in die Septuaginta (wat toon dat die Septuaginta die korrekte datering bevat). Hiervolgens sou Abraham in 1837 v.C. uit Haran na Kanaän vertrek en 15 jaar later by hierdie geveg betrokke wees.

Daar is ook ’n ooreenkoms tussen die naam van die Elamitiese heerser wat volgens die Bybel agter die inval gesit het, naamlik Kedor-Laómer, en Kudu-zulus, die broer van die Elamitiese koning. Kedor kan duidelik ’n vervorming van Kudu wees en Laómer is moontlik ’n bynaam. Kudu-zulus was koning van die Elamitiese stad Susa en het onder die oorhoofse gesag van sy broer Siwe-palar-huppak gestaan. Sy dienaars was vroeër ook betrokke by invalle na die Weste. Hulle het byvoorbeeld die stad Esnunna in Mesopotamië geplunder waarna Kudu-zulus daar gaan woon het.

Ons vind dus dat Kudu-zulus die direkte leier van die westelike Elamitiese magte was en dat sy dienaars plundertogte soos dié waarna daar in Genesis 14 verwys word, onderneem het. Daar is dus ’n baie goeie korrelasie tussen die Bybelse en buite-Bybelse beskrywings van daardie tydsomstandighede. Soos die Bybel noem, is die Elamiete ook ná hierdie inval uit die land verdryf.

Abraham in Egipte

’n Ander belangrike gebeurtenis in die Abrahamse verhaal, is dat hy oënskynlik kort na sy aankoms in Kanaän, verder na Egipte afgereis het omdat daar ’n hongersnood in die land was (Gen. 12). Dit plaas Abraham ook in die Egiptiese konteks. Sy koms na Egipte het nie ongesiens verbygegaan nie omdat sy vrou Sara (toe nog Sarai genoem) baie mooi was en sy die aandag van die Egiptiese vorste getrek het.

Aangesien Abraham bang was dat hulle hom vir sy vrou om die lewe sou bring, het hy voorgegee dat sy sy suster was. Sy is dus in die farao se paleis opgeneem, terwyl Abraham met geskenke oorlaai is. Die farao het egter uitgevind dat sy Abraham se vrou was en hulle is uit Egipte verdryf. Is daar enige bewys van Abraham se besoek aan Egipte? Daar is getuienis wat moontlik met Abraham se besoek verband hou. By Beni Hasan in Egipte is daar ’n uitbeelding in die graf van ’n plaaslike goewerneur, ene Khnumhotep II, wat ’n groep Semiete voorstel wat oënskynlik van Kanaän na Egipte gereis het. Die leier van die groep word genoem as Abi-shai/r, ’n Amoritiese vorm van die naam Abraham [7].

Is hierdie ’n uitbeelding van Abraham se besoek aan Egipte? Volgens die Bybel was Abraham wel ’n vername persoon wat so ’n uitbeelding sou regverdig – hy word byvoorbeeld ’n “vors (magtige prins)” genoem (Gen. 28: 6). Sy koms na Egipte het ook opspraak verwek. Alhoewel die naam ook elders voorkom, is dit duidelik moontlik dat hierdie ’n uitbeelding van Abraham se besoek aan Egipte kan wees – as dit in die regte tyd val.

Die groot vraag is dus of hierdie uitbeelding in die tyd val toe Abraham Egipte besoek het. Ons is gelukkig in die sin dat die besoek in die genoemde Beni Hasan-uitbeelding redelik goed gedateer kan word. Dit het in die sesde jaar van koning Senuseret II se regering plaasgevind. Die regering van hierdie koning kan met behulp van ’n astronomiese waarneming van die heliese opkoms van die ster Sirius wat in die tyd van sy opvolger Senuseret III gemaak is, redelik akkuraat bereken word. Daarvolgens het hy van 1844-1837 v.C. regeer.8 Dit beteken dat die besoek van Abi-shai/r (Abraham), in Senuseret II se sesde regeringsjaar, in 1838 v.C. sou plaasvind.

Indien die Bybelse Abraham direk van Haran na Egipte gereis het, dan sou hy so vroeg as 1837 v.C. daar aankom. As ons in gedagte hou hoe lank terug hierdie dinge plaasgevind het, en die foutgrens waarbinne so ’n datering gedoen word in ag neem, dan kan daar eintlik nie enige wesenlike twyfel bestaan dat hierdie na dieselfde gebeurtenis verwys nie. As ons verder al die ooreenkomste in ag neem – dat beide groepe Semiete van Kanaän was, met Abi-shai/r (Abraham) as leier, wat ’n vermelding in Egipte regverdig – dan is die kans inderdaad baie klein dat verskillende gebeure ter sprake is. Ons kan dus aanvaar dat dit waarskynlik Abraham se besoek is wat by Beni Hasan uitgebeeld word.

Ons vind dus dat daar heelwat buite-Bybelse gegewens is wat korrespondeer met die Bybelse weergawe van gebeure. Daar was ’n tyd toe navorsers ’n positiwistiese benadering gevolg het – of te wel, “bring eers al die bewyse voor ons iets aanvaar” – maar die akademiese klimaat het verander en daar is vandag ’n begrip vir die feit dat daar baie dinge is wat ons nie weet of ooit sal weet nie. Die bevestiging dat daar inderdaad in Abraham se tyd ’n Elamitiese inval in Sirië plaasgevind het, wys net weer dat ’n mens nie te gou moet wees om die geskiedskrywing in die Bybel te betwyfel nie. Saam met die uitbeelding in die Beni Hasan-graf, is dit nogal sterk getuienis dat die Abrahamse verhaal in die Bybel ernstig opgeneem kan word.

Die bevestiging dat daar ’n Elamitiese inval in Abraham se tyd plaasgevind het en dat die Beni Hasan-uitbeelding mooi met Abraham se besoek aan Egipte korreleer, toon dat ons wel die Abrahamse verhaal in Genesis as geskiedkundig kan beskou – ten spyte van die konsensus onder baie geleerdes dat die patriargale verhale in Genesis nie as geskiedenis gelees kan word nie. So was daar in baie kringe ook vroeër ’n konsensus dat die vroeë monargiese verhale (soos dié van koning Dawid) nie as geskiedenis gelees moet word nie – dit was totdat die mid-negende-eeuse Tel Dan Stela in 1993/4 ontdek is waarin daar eksplisiet na die “Huis van Dawid” verwys word.

Ons kan na my mening aanvaar dat so ’n voorvader van Israel genaamd Abraham gelewe het en dat sommige oorblyfsels van die Sumeriese tradisie wat in Genesis (en elders in die Hebreeuse Bybel) aangetref word, met sy koms uit daardie wêrelddeel verband hou.


Bronverwysings

[5] Die Masoretiese teks (die standaard Hebreeuse teks wat vir ons Bybelvertalings gebruik is) verskil op verskeie plekke van die Hebreeuse Vorlage-teks, wat in die paar eeue v.C. vir die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuaginta genoem) gebruik is. Soms is die Septuaginta se teks beter – die heel oudste teks van die Bybel wat by Qumran onder die Dooie See-rolle gevind is en nog in ’n paleo-Hebreeuse skrif geskryf is, stem byvoorbeeld eerder met die Vorlage as met die Masoretiese teks ooreen (Hengel 2002: 84). Die Nuwe Testamentiese skrywers gebruik (anders as hedendaagse Christene) meestal ’n teks wat met die Septuaginta ooreenkom. Die rede vir verskille tussen tekste het gedeeltelik daarmee te doen dat die vroegste tekste nie altyd vir die latere geslagte duidelik was nie. Dit kan baie mooi gesien word in die vroegste bestaande Hebreeuse teks (alhoewel nie van die Bybel nie) wat in 2008 naby Jerusalem ontdek is. Dit dateer uit die tyd van koning Dawid en is in ’n paleo-Kanaänitiese skrif geskryf. Dit sou nie vir latere generasies maklik wees om die teks te lees nie (vgl. 1 Kron. 4: 22).
[6] Van de Mieroop 2005:17
[7] Hoffmeier 2008:42
[8] Dit veronderstel dat die waarneming by Elephantine in die suide van Egipte gemaak is. Die berekening is deur Krauss gedoen (Rohl 1995: 390). Na my mening gee hierdie Sotiese datering (i.e. gebaseer op Sirius se heliese opkoms) saam met die hoë kronologie in Mesopotamië die beste resultate vir ’n geïntegreerde datering van alle periodes in die wyer Midde-Ooste.

Skrywer: Dr Willie Mc Loud. Aangehaal uit sy boek Op soek na Abraham en sy God, 'n studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale (Griffel).  Klik op die foto van die boek regs op hierdie blog om ook die inleiding te lees.  Die boek kan op die webtuiste www.williemcloud.co.za aangekoop word.