Sunday, 5 January 2014

Wat moet Christene in 'n tyd soos hierdie doen?

In hierdie skrywe bespreek ek die Groot Skeiding in die samelewing. Wat is dit en hoe kan ons dit sinvol aanspreek? Ek maak voorstelle oor hoe Christene die speelveld kan verander.

Ons staan weereens by die begin van 'n nuwe jaar. Met die draai van elke die jaar is dit 'n goeie tyd om na te dink. Om 'n bietjie te herkou. Ons kan onsself afvra: Wat staan uit ten opsigte van die afgelope jaar? Wat is belangrike tendense? En sulke nadenke kan lei tot nuwe idees. Tot nuwe voorstelle. Ons kan vra: Wat kan of moet ons in die lig van ons waarneming doen? Mense het allerhande nuwejaarsvoornemens. Maar ons kan gewoon ten opsigte van die nuwe jaar vra: Wat kan ons in hierdie jaar doen om 'n verskil te maak? Christene kan vra: wat moet ons in 'n tyd soos hierdie doen?

Terwyl ek so nagedink het, was daar veral een waarneming wat vir my uitgestaan het. Ek wil dit die Groot Skeiding noem. Dit lyk vir my of daar 'n groot kloof deur die samelewing loop. Alhoewel ons baie skeidings en verskille in die groter samelewing kan waarneem, is hierdie een belangrik omdat dit nog 'n baie groot impak op die toekoms van die evangeliese Christendom gaan hê. Dit het hoofsaaklik met mense se ingesteldheid ten opsigte van die wetenskap te doen. Ons kan dit in meer diepte beskou en kyk wat ons as Christene moet doen om oor die lang termyn 'n verskil te maak.

Aan die een kant merk ek 'n groot groep mense op wat ons as "tradisioneel" kan beskryf. Wat hierdie groep in gemeen het is dat hulle oor die algemeen deel van die tradisionele stroom van denke uitmaak. Hulle staan by dit waarmee hulle grootgeword het. Onder hierdie mense is baie Christene. Baie onder hulle is of negatief of agnosties oor die wetenskap. Daar bestaan by hulle 'n persepsie dat wetenskaplikes die Bybel probeer ondermyn [nota 1]. Dat die Bybel en die wetenskap in konflik is. Baie van hierdie Christene maak 'n bewuste keuse vir die Bybel teenoor die wetenskap. 

Aan die ander kant is daar die groep wat miskien in die verre verlede "verlig" genoem sou word omdat hulle 'n meer kritiese benadering het. Hulle dink krities oor dinge na. Hierdie groep onderskryf die wetenskap en baie staan agnosties teenoor die geloof. Op die markplein van denke behoort  feitlik al die stemme wat in die wyer media as gesaghebbend aangehaal word, naamlik in die daaglikse en weeklikse koerante of op nasionale TV, tot hierdie groep. Hulle is die meningsvormers van die tyd. Waar hierdie groep jare gelede betreklik klein was, beperk tot sommige vrydenkendes by universiteite, is daar vandag 'n groot segment van die samelewing wat hier tuis is. Baie van die professionele beroepsmense bevind hulle hier. Ons kan dit die wetenskaplik-ingeligte groep noem.

Waarom is die Groot Skeiding vir ons as Christene belangrik? Die antwoord is eenvoudig: die jonger geslag is oor die algemeen baie meer gesofistikeerd in hul denke en voel hulleself tuis in die tweede groep. Op skool leer hulle nie meer soos in vergange dae dat die Bybel die belangrikste rigsnoer van ons lewe is nie; hulle leer dat die wetenskap die antwoorde het. Al meer van hulle huldig 'n sekulêre lewensbeskouing. Al meer staan agnosties ten opsigte van die geloof of is selfs ateïste. Soos die wyer samelewing met gesaghebbende stemme van regoor die wêreld bekend raak en wetenskaplik-ingelig is, so raak die eerste groep kleiner terwyl die tweede groep deurentyd groei. Christene bevind hulle al meer op die rand van die samelewing en hul impak gaan in die toekoms al kleiner word. As ons ons kinders verloor, het ons die toekoms verloor.

Die persepsie wat die tweede groep van die Christene het is dat hulle primitief dink, dat hulle ongeloofwaardige posisies probeer verdedig en dat dit wat hulle sê glad nie in die hedendaagse konteks sin maak nie. Alhoewel Christene voel dat so 'n beoordeling onredelik is, is dit ongelukkig waar dat dit al meer 'n algemene persepsie in die wyer samelewing raak. Sommige Christene dink dat die evangelie noodwendig vir die wêreld sal aanstoot gee en dat dit maar die lot van Christene is. Alhoewel dit waar is dat die evangelie vir baie aanstoot gee, is dit ook so dat baie Christene posisies verdedig wat lankal nie meer vir die gemiddelde wetenskaplik-ingeligte persoon sin maak nie. Die probleem lê nie by die evangelie nie; dit lê by die verpakking van die evangelie. 

Wat is die oplossing? Aan die een kant is daar 'n geestelike oplossing, naamlik dat ons die krag van God in aksie moet sien [nota 2]. In soveel gevalle weerspreek Christene se lewens en optrede dit wat hulle predik. Ons het 'n geestelike opwekking nodig. Maar aan die ander kant is daar ook 'n intellektuele oplossing. Christene sal die Groot Skeiding moet oorsteek. Hulle sal 'n taal moet praat wat vir die wetenskaplik-ingeligte mense van ons tyd sin maak. Die tradisionele Christen paradigma en die wetenskaplike paradigma (i.e. waarin wetenskaplikes en baie professionele beroepsmense opereer), praat verskillende tale wat in die algemeen glad nie wedersyds verstaan word of sin maak nie. Vir my lê die wonder daarin dat die Bybelse teks so dinamies is dat dit juis gesofistikeerde interpretasies ondersteun. Ons kan die Bybel op 'n eenvoudige wyse verstaan, maar ons kan ook op 'n gesofistikeerde wyse daarmee omgaan. En sonder sulke gesofistikeerde interpretasies wat die inspirasie van die teks onderskryf (let wel), sal die Bybel dood gewoon nie vir die wetenskaplik-ingeligte groep sinmaak nie.

In 'n poging om sinvolle interpretasies op die tafel te plaas, het ek het oor die afgelope jaar artikels op hierdie blog gepos waarin ek op twee aspekte gefokus het. Ten eerste het ek getoon dat die Christelike wêreldbeskouing - soos die bestaan van die hemel - kredietwaardig is [nota 3]. Alhoewel die wetenskap nie hieroor kan uitsluitsel gee nie, is dit wel so dat die Christenstandpunt gemaklik met die wetenskap versoenbaar is. Agnostici of ateïste wat glo dat ons wêreld tot die materiële aspek beperk is (dat daar geen gees of hemel is nie), moet nou toon dat die wetenskap nie 'n geesteswêreld kan akkomodeer nie. En dit kan hulle nie doen nie. Ek argumenteer dat die geesteswêreld waarbinne die hemel lê maklik met die kwantum realm, wat 'n hoër dimensionele tekstuur kan hê, wat binne die raamwerk van ons materiële wêreld ingebed is, kan ooreenkom.

Ten tweede het ek geargumenteer dat die Bybelse narratief geloofwaardig is. Ek het begin by die boek Genesis, wat vir baie mense problematies is en artikels oor die Skepping asook Adam en Eva gepos. In die komende jaar beplan ek verder ook artikels oor die tuin van Eden, die slang asook die Godskonsep in Genesis 1-3 (en die vraag oor die geldigheid van die bronneteorie van die Pentateug!). So het ek getoon dat die Bybelse teks in Genesis 1-2 glad nie in stryd is met wetenskaplike bevindinge oor die ouderdom van die kosmos en die aarde nie [nota 4].

Christene wat 'n sesduisend jaar oue skepping in Genesis 1 probeer inlees, het enorme probleme om hul siening te regverdig (sien [nota 4]). Wat meer is, daardie siening het tot gevolg dat diegene wat wetenskaplik-ingelig is dink dat dit die Bybel is wat sulke lagwekkende uitsprake maak en daarom totaal irrelevant vir vandag is - terwyl dit eerder waar is van daardie interpretasies wat voortbou op 'n ongesofistikeerde lees van die teks. Alhoewel sommige wetenskaplik-ingeligte mense vanweë die scientistiese invloede in die samelewing ook nie ruimte maak vir dinge soos die opstanding nie (dink maar aan diegene in die Nuwe Hervorming), laat die Bybelse teks ons toe om dit sinvol te verdedig [nota 5]. Gesofistikeerde interpretasies is nie in stryd met die Goddelike inspirasie of wondergebeure in die geskiedenis nie. Vir baie Christene is dit kompromie om die wetenskaplike bevindinge vir byvoorbeeld 'n ou aarde te aanvaar - hulle besef nie dat die Bybelse teks daarmee gemaklik is en glad nie 'n sesduisend jaar oue aarde onderskryf soos hulle geleer is om te dink nie.

Die gesag van die Bybelse teks as die geïnspireerde Woord van God is oor die afgelope paar eeue veral deur Bybelse Kritiek (Biblical Criticism/Bybelwetenskap) ondermyn, eers met hul positivisties-modernistiese en deesdae met hul post-modernistiese aanslag. Alhoewel evangeliese Christene, veral aan sommige universiteite in die VSA, goeie teen-antwoorde gee, weet baie Christene nie altyd hoe om hierdie denke effektief te weerlê nie. In hierdie verband is filosofie een van die mees effektiewe stukke gereedskap tot ons beskikking, in teenstelling met wat baie Christene dink - veral kontemporêre hermeneutiek. Ek het dus ook 'n artikel in hieroor gepos waarin ek Bybelse Kritiek vanuit 'n filosofiese hoek gekritiseer het [nota 6].

Ongelukkig is baie tradisionele Christene negatief oor filosofie. Hulle verbind dit met Paulus se "wysheid van die wêreld" (1 Kor 3:19). Alhoewel dit sekerlik waar is dat filosofie in sigself ons nie op die regte pad kan lei nie, kan dit tog 'n handige middel wees in die verdediging van die evangelie. Paulus self het in Griekeland op die Areopagus met die filosowe gedebatteer en dit is duidelik dat hy in hierdie verband goed in die antieke denke onderlê was. Waar evangeliese Christene (meestal in die VSA) wel filosofie studeer en in debatte benut, fokus hulle ongelukkig meestal op die Middeleeuse Christenfilosowe. Ons kan sekerlik baie by hulle leer, maar ek dink die debat vra dat ons baie meer van die kontinentale filosofie (veral van hermeneutici soos Gadamer asook van Immanuel Kant, wie se filosofie tans 'n groot oplewing beleef) moet maak. Voorts is dit belangrik om kontinentale filosofie te bestudeer omdat dit so 'n groot impak op die kontemporêre wêreldbeskouing het.

Dit bring my by die belangrike vraag: Hoe kan ons as Christene die speelveld verander? Dit is duidelik nie iets wat vinnig sal gebeur nie, maar ek het twee voorstelle:

1. Christene in die akademie moet hulle daarvoor beywer dat sinvolle en gesofistikeerde narratiewe ten opsigte van die Christen wêreldbeskouing en Bybelse teks in die akademiese gemeenskap aanvaar word. Alhoewel sulke narratiewe nooit as die enigste korrekte aanvaar sal of hoef te word nie, is dit heeltemal voldoende dat sulke alternatiewe in die akademiese literatuur erken word. Gesprekke in wetenskaplike en filosofiese kringe syfer uiteindelik tot op voetsool vlak deur. Alhoewel sulke gesprekke en artikels soms baie tegnies kan wees, gebruik baie ander skrywers die essensie daarvan in hul gesprekke en argumente. Dit sal aan Christene die nodige gereedskap gee om effektief op die markplein van denke me te ding.

Dit beteken dat Christene hulleself in die toepaslike dissiplines sal moet bekwaam en bereid wees om vir hul standpunte op te staan. In hierdie verband is dit interessant hoeveel Christene wat deur die eeue 'n groot impak op die geskiedenis gehad het, sedert Paulus, geleerde mense was. Paulus se skrywe was ook vir baie van sy tydgenote moeilik om te verstaan (vgl. 2 Pet 3:15, 16), maar het die intellektuele basis vir toekomstige eeue se gesprek gelê. Sonder Paulus se skrywes sou ons maar 'n baie beperkte insig in die soendood van Jesus Christus gehad het. So het geleerde Christene, en nie altyd teoloë nie, deur die eeue telkens nuwe stukrag aan die kerk verleen (dink aan C. S. Lewis in die vorige eeu) deur die nodige gereedskap daar te stel wat die kerk op daardie stadium vir hul gesprek in die samelewing nodig gehad het. 

Alhoewel dit so is dat baie Christene bang is dat diegene wat gaan verder studeer (veral in rigtings soos teologie en filosofie) deur liberalisme ingesluk sal word - dink maar aan almal wat met 'n brandende hart gaan teologie studeer het net om later die pad byster te raak vanweë liberale invloede aldaar - glo ek dat daar wel 'n oplossing in hierdie verband is. Dit is die daarstel van 'n goeie akademiese inrigting met evangeliese waardes waar alle vakrigtings aangebied word. Ons moet werk vir die oprigting van 'n goeie geakkrediteerde Christen universiteit in Suid-Afrika wat die belange van die wyer Christengemeenskap kan dien - en nie net hierdie of daardie kerk nie. Kritici kan maar sê wat hul wil, maar daar is in die meeste beroepe nie iets soos 'n neutrale posisie nie - en die posisie by die meeste universiteite is sekulêr. So 'n universiteit sal mense in alle beroepe toerus om uiteindelik hul stem op die markplein van denke te laat hoor.

2. Christene moet effektief op die markplein van denke deelneem. Dit sal net gebeur as daar mettertyd 'n wye netwerk van evangeliese Christene tot stand kom wat nie net geestelik is nie, maar ook akademies ingestel is. Hulle kan op 'n wye verskeidenheid vlakke saamwerk om die Groot Skeiding oor te steek en die wetenskaplik-ingeligte groep ook (soos baie ander groepe in die tradisionele groepering in die samelewing en elders) effektief met die evangelie te bereik. As evangeliese Christene mettertyd in posisies regoor die spektrum verteenwoordig is, kan almal in so 'n netwerk saamwerk om sinvolle en gesofistikeerde Christen stemme in die wyer samelewing en media te bevorder.

So 'n netwerk sal net realiseer as evangeliese Christenleiers op een of ander wyse begin saamwerk. En dit sal net gebeur as daar een of ander struktuur of forum is wat so 'n netwerk tot stand bring en dit ook op verskeie wyses bevorder. So 'n forum moet die ruimte skep waarbinne so 'n netwerk kan funksioneer i.e. nie om dit te organiseer nie, maar bloot om die ruimte daarvoor te skep. Daar is soveel verskillende bedieninge en gemeentes wat binne die raamwerk van so 'n netwerk oor kerkgrense heen sal kan saamwerk en floreer.  Maar dit sal ons iets kos. Christenleiers sal van wantroue en trots moet afsien - ons sal ruimte vir mekaar moet maak al staan ons dalk ver van mekaar in ons opvattinge en sieninge.

Dit is eers wanneer so 'n netwerk tot stand kom dat die oprigting van 'n universiteit met evangeliese Christelike waardes 'n werkbare opsie sal word. Die rede hiervoor is dat so 'n netwerk ook die voedingsbron vir so 'n universiteit sal wees. Alhoewel teologiese skole van kleiner kerke vir akkreditering met so 'n universiteit kan saamwerk en teologiese studente hul nagraadse studies daar kan doen, is daar natuurlik soveel ander Christene in verskillende kerke wat nie noodwendig teologie wil studeer nie, maar wat by so 'n universiteit kan studeer. Voorts kan studente wat hul graad daar verwerf weer by ander erkende universiteite verder gaan studeer. Dit sal vir daardie studente die intellektuele basis lê selfs al sou die rigtings waarin hulle verder by ander universiteite gaan studeer as moeilike rigtings vir evangeliese Christene beskou word (dink aan die NG kerk kweekskool).

Daar is ongelukkig baie weerstand onder 'n groot deel van die tradisionele Christengemeenskap teen verandering - veral die soort waarvan ek hier praat. Baie van ons het groot geword in 'n paradigma waar net ons eie posisie as korrek beskou word - terwyl daar tipies verskeie ander soortgelyke en selfs beter posisies elders onder evangeliese Christene aanvaar word. Ons besef nie altyd hoe beperk ons eie insigte en sieninge is nie! Ek glo dat ons in die Christengemeenskap ons harte moet verruim om vir mekaar ruimte te maak. Een van die gevolge van die voorstelle wat ek hier maak sal juis wees dat so 'n gesonde oop gesindheid in die wyer Christengemeenskap bevorder word.

Sommige sal nooit insien dat dit vandag deel van die Goddelike opdrag is dat ons die Groot Skeiding moet oorsteek om mense met die evangelie te bereik nie. Ons moet hulle maar agterlaat. Ons moet nie dat hulle ons terughou nie. Maar daar sal andere wees wat, al gaan hulle nie self nie, ten minste ruimte sal maak vir diesulke wat wel geroepe voel om te gaan. Ons moet ons vir so 'n gesindheid beywer - om 'n netwerk daar te stel waarin ons nie net op verskillende vlakke en raamwerke volgens ons roeping en gawes saamwerk nie, maar waar ons ook ruimte maak dat sommige geroepe is om na die wetenskaplik-ingeligte mense in die tweede groep uit te reik. Ons mense is glad nie toegerus om met diegene rondom hulle wat wetenskaplik-ingelig is gesprek te voer nie - die voorstelle hierbo sal 'n veilige milieu skep waarin dit prakties kan gebeur.  As ons dit nie doen nie, sal die evangeliese Christendom al meer sy stem en impak in die samelewing verloor.

Die voorstelle wat ek hier noem sal net realiseer - en dalk eers oor baie jare - as ons as Christene hieroor nadink, bid en met 'n gesprek onder mekaar begin. As evangeliese Christene wie se harte deur die Heilige Gees opgewek is met geestelike leiers wat na hul mening oop is vir hierdie gedagtes oor hierdie saak gaan praat. As Christenleiers wat die probleem sien, met mekaar begin praat. As sulke leiers moeite doen om met ander wat ook so voel in aanraking te kom en die gesprek oor die forum te begin. Ons sal veral moet besef dat hierdie saak nie net op 'n intellektuele vlak benader kan word nie; dit is bowenal 'n geestelike saak. Dit gaan immers oor die uitbouing van God se koninkryk. Dit is slegs deur baie gebed dat hierdie dinge uiteindelik sal realiseer.

Die realisering van hierdie visie sal ware leierskap vra - geestelike leiers sal ten spyte van opposisie uit hul eie kring 'n besluit moet neem om hulle vir so 'n ideaal te beywer. Ware leierskap is om ten spyte van weerstand, jou op 'n wyse en gesofistikeerde wyse te beywer vir daardie dinge waarin jy glo. As Christenleiers nie in die lig van die veranderende situasie sulke leierskap toon nie, sal toekomstige geslagte van Christene ons verkwalik dat ons niks gedoen het nie. As iemand soos Nelson Mandela nie die groter ideaal van 'n demokratiese Suid-Afrika voor oë gehou het nie, en aan die beswaardes in sy geledere geluister het, sou ons dalk in SA dieselfde konflik gesien het wat lande soos Egipte en Irak kwel.

Ons moet eers besef daar is 'n wesentlike krisis - en dat dit nie voldoende is as ons slegs in die raamwerk van ons bekende veilige omgewing funksioneer en dink nie (ons kan gerus onthou hoe naby 'n groef en graf aan mekaar lê). As ons slegs binne die raamwerk van die kleiner wordende tradisionele groep opereer sal ons nooit die wyer samelewing bereik nie. Ons sal dalk die veraf volke deur sendingwerk bereik, maar in ons eie leefwêreld sal ons 'n groot en vinnig groeiende segment van die samelewing verloor. Christene sal die Groot Skeiding moet oorsteek. Ons moet die mense van ons tyd bereik.

Ek vertrou dat hierdie skrywe so 'n gesprek sal stimuleer.

[1] Sien my artikel: Wetenskap en geloof
[2] Ek het in die afgelope jaar verskeie geestelike artikels op hierdie blog gepos:
 Die profeet
 God hoor
My oordenkinge oor die lewe van Abraham wat op RSG uitgesaai is, is intussen in die boek Begin jou dag met God (Carpediem Media, 2013) opgeneem.
[3] Sien die artikel: Kan ons nog in die hemel glo?
[4] Sien o.a. : Does the creation narrative of Genesis 1 support the idea of a young earth?
[5] Sien my artikel: Om te glo of nie te glo nie...
[6] A Critique of Biblical Criticism as a scholarly discipline


Skrywer: Dr Willie Mc Loud (Ref. www. wmcloud.blogspot.com)
Kontak my by wmcloud@yahoo.com