Monday, 16 February 2015

Resensie: Nieuwe en oude dingen

Nieuwe en oude dingen (Vuurbaak, 2013) onder redaksie van Koert van Bekkum, Rob van Houwelingen en Eric Peels, bring die gewone leser op hoogte omtrent die kontemporêre gesprekke (nieuwe dingen) asook ontwikkelinge oor die afgelope honderd jaar (oude dingen) in die gereformeerde Bybelwetenskap by die Nederlandse universiteite Kampen en Apeldoorn. Die resensie het onlangs in In die Skriflig (Vol 48, No 2, 2014), tydskrif van die Gereformeerde Teologiese Vereniging van SA, verskyn.

Alhoewel die bydraers soms die klem verskillend laat val, is die oogmerk by hierdie universiteite om die Bybelwetenskap op 'n "Skrifgetroue" wyse te beoefen in samehang met geesgenote uit die evangeliese en presbiteriaanse tradisie. Daar word gepoog om 'n middeweg te vind tussen die simplisme wat die Fundamentalisme kenmerk en die Kritiese Bybelwetenskap, wat spanning skep met die geloof in die inspirasie van die Bybel en die belydenis dat die Skrif God se Woord is.

Die bydraes wat in die boek opgeneem is, spreek 'n verskeidenheid relevante en eietydse kwessies aan. Alhoewel die Skrifkritiese lesing verwerp word, is daar wel 'n kritiese bestudering van die historiese prosesse waarin en die menslike wyse waarop die Bybel as Heilige Teks tot stand gekom het. Alhoewel dit in die Skrif primêr oor die openbaring van God aan die mens gaan, is daar volle erkenning dat die Bybel deur mense tot stand gekom het.

Die boek volg 'n drie-ledige indeling waarin die kanon, outeurskap asook die boodskap van die Bybel onder die loep kom. Binne hierdie raamwerk word 'n verskeidenheid temas deur die onderskeie bydraers aangespreek, waaronder die tydvak waarin die Ou Testamentiese kanon as afgehandeld beskou is, die invloed van die Septuaginta op die Nuwe Testamentiese denke (veral in die boek Hebreërs), die herinterpretasie van Ou Testamentiese profesieë in die boek Openbaring waar Rome as die nuwe Tirus uitgebeeld word, skryfkuns en skrywers in die antieke tyd, die eenheid en outeurskap in die boek Jesaja, apostoliese outeurskap in die Nuwe Testament, volksmoord in die naam van God en so meer.

Die boek is tydig in die lig van die feit dat die formele studie van die Bybel oor die afgelope half-eeu al meer in verskillende benaderings vertak het. Dit plaas 'n duidelike alternatief vir die Kritiese Bybelwetenskap op die tafel, wat steeds gekniehalter gaan onder hul modernistiese wortels. Voorts bied dit 'n alternatief vir die postmoderne stroom in Bybelwetenskap. Tog tree Nieuwe en oude dingen nie direk in gesprek met die ander benaderings nie en geen argumente word aangebied waarom hierdie behoudende benadering op akademiese gronde verkies behoort te word nie. Alhoewel 'n Skrifgebaseerde lees van die teks nagestreef word, kan ons steeds wonder in watter opsig hierdie benadering akademies voortreflik is bo die ander alternatiewe. Ek sou dink dat hierdie saak meer aandag in die boek moes kry. 

Oor die algemeen is die bydraes in 'n gemaklik leesbare trant geskryf (ook vir die Afrikaanse leser) en enigeen wat geïnteresseerd is in hierdie gesprekke sal beslis by die boek baat vind. Daar is sekerlik 'n behoefte aan akademiese leesstof wat hierdie middelweg in die godsdiensgesprek volg.

Dr. Willie Mc Loud (Ref. wmcloud.blogspot.com)
(Die resensie is ietwat aangepas vir publikasie)

In die volgende essays maak ek voorstelle rakende 'n alternatiewe denkraamwerk wat 'n ruimte tussen die rotse van modernisme en post-modernisme daarstel:
Part 1: Can we still believe the Bible? A hermeneutical perspective
Postmodernism faces its first great challenge

Wat die Septuaginta betref:
The importance of the Septuagint in Biblical studies

Thursday, 5 February 2015

Hoe moet Christene die huidige paradigma-verskuiwing in die samelewing benader?

In hierdie essay fokus ek op "paradigmas". Ek kyk na die samelewing se veranderende paradigma. In hierdie verband onderskei ek twee tipe paradigma-skuiwe wat plaasvind. En ek vra hoe Christene in hierdie konteks 'n verskil kan maak.

Ons lewe in 'n tyd met groot uitdagings. Die samelewing verander vinnig en mense dink anders oor dinge as 'n paar jaar gelede. Dit raak al moeiliker om mense met die evangelie te bereik. Al minder mense besoek die tradisionele kerke. Die groot vraag is: Hoe kan Christene vandag 'n verskil maak? Baie kerke en Christene gaan maar net voort op die tradisionele wyse. Hulle dink dat daar op geen punt toegegee kan word sonder om kompromie met die "wêreld" aan te gaan nie. Die probleem is egter dat die kerke oor die algemeen krimp en dat ons nie van mense kan verwag om die evangelie te glo as ons nie sinvolle antwoorde op hul vrae kan gee nie.

In hierdie essay bekyk ek die veranderinge in die samelewing van nader. Ons moet nie al die veranderinge as 'n bedreiging sien nie – baie daarvan stel gewoon 'n uitdaging soos soveel ander waarmee die kerk van Christus deur die eeue moes worstel. In stede daarvan dat tradisionele oplossings, metodes en antwoorde oor en oor herhaal word, sal daar slegs tot die uitdagings opgeleef kan word indien daar ook vernuwing plaasvind. Wat nodig is, is gesonde vernuwing op verskillende terreine: in ons houding en gesindheid, tegnieke en metodes asook in ons bereidwilligheid om die Bybelse teks soos die destydse gemeente in Berea (Hand. 17:11) met 'n oop gemoed te bestudeer in die lig van ons kontemporêre kennis oor die antieke wêreld. Ons moet kyk na geestelike vernuwing, asook vernuwing in ons metodiese aanslag en interpretasie van die Bybelse teks. Dit behoort nie oor oorlewing te gaan nie, maar oor wat die kerk moet doen om dinamies te groei.

Paradigmas in konflik?

Wanneer ons oor veranderinge in die samelewing praat is die konsep van "paradigma" baie belangrik. Dit beteken gewoon dat daar in gemeenskappe sekere denkraamwerke en gepaardgaande praktyke bestaan wat hulle tot 'n koherente groep saambind. Ons kan 'n paradigma met tradisie vergelyk – waar tradisie oor die oorlewering van gevestigde denkpatrone en gebruike in gemeenskappe gaan, is 'n paradigma 'n meer gesofistikeerde konsep wat verwys na 'n diep-gevestigde denkraamwerk waarin bepaalde teoretiese modelle, denkrigtings, tegnieke, metodes en praktyke opereer. Anders as tradisie, wat 'n meer algemene konsep is, gaan paradigmas veral oor die gevestigde denkpatrone van akademiese gemeenskappe. Aangesien sulke denkraamwerke 'n beslissende rol in die vorming van die denke in die samelewing speel – deur die "meningsvormende media" – is dit sinvol om die term paradigma ook vir die samelewing en selfs groepe binne die samelewing (kerkgroepe ens.) te gebruik.

Alhoewel paradigmas met gevestigde denkpatrone en gebruike te doen het, kan dit tog verander. Dit word 'n "paradigma-skuif" genoem en is nie iets wat gereeld of maklik gebeur nie. Wanneer daar elemente van die gevestigde paradigma is wat vir al meer persone in die gemeenskap nie sin maak nie, kan dit mettertyd gebeur dat daar 'n kompeterende denkraamwerk ontwikkel wat dinge beter verklaar. Dan kan daar op 'n sekere stadium 'n wye konsensus binne daardie gemeenskap ontwikkel dat die nuwe denkraamwerk dinge beter verklaar of beskryf. Dan volg daar 'n "paradigma-skuif". Die oorgrote meerderheid van die gemeenskap beweeg van die ou na die nuwe paradigma. So gebeur dit in akademiese gemeenskappe dat hulle oortuig raak van 'n nuwe teorie en op 'n sekere stadium die teorie wat vroeër aanvaar is, aanpas of selfs heeltemal verwerp. Dieselfde proses vind ook in die samelewing plaas – al meer mense raak oortuig (deur die hoofdenkers in die gemeenskap en die media) dat die ou maniere van dink nie meer werk nie en dat daar beter maniere is om dinge te verstaan.

Daar was 'n tyd dat die kerk 'n groot rol in die samelewing gespeel het. Die kerk het 'n groot impak in die destydse paradigma van die samelewing gehad. Daardie tyd is egter verby. Die samelewing het verander en vandag is die kerk se invloed maar redelik beperk. Ons kan sê dat die samelewing tot 'n groot mate 'n paradigma-skuif ondergaan het. Omdat 'n groot deel van die kerk nie saam verander het nie, het daar 'n al groter gaping tussen die paradigma van die samelewing en dié van die kerk(e) ontstaan. Dit is hierdie gaping wat 'n groot uitdaging vir die kerk inhou.

Ons moet nie dadelik dink dat al die veranderinge in die samelewing noodwendig 'n bedreiging vir die kerk inhou nie. Soos ek dit sien is daar twee soorte veranderinge wat oor tyd in die samelewing plaasvind. Die eerste is 'n kultuurskuif. Die kultuur in die samelewing verander. Ons kan veral drie terreine in hierdie verband uitsonder: 1. Mense is sosiaal-sensitief. Daar is 'n fyn ingesteldheid op verhoudings en enige ongesofistikeerde uitsprake asook konflik tussen iemand se woorde en dade wek afkeur. 2. Mense is tegnologies-vaardig. 'n Groot deel van mense se algemene lewenservaring is deur middel van sosiale tegnologie. Mense netwerk, lewe interaktief, praat saam op baie forums en kom tot aksie op nuwe maniere (dink aan die Arabiese Lente). 3. Mense is wetenskaplik-ingelig. Deur die internet is daar toegang tot ontsaglik baie inligting. Mense oorweeg ander alternatiewe en probeer sin maak van dit alles.Vir sommige beteken dit dat hulle inkoop in die scientistiese paradigma (i.e. dat die wetenskap die enigste meetsnoer van waarheid is) en so die Christelike paradigma waarmee hulle grootgeword het prysgee.

Die groot probleem is dat die kerk in die groter geheel nie tred hou met hierdie kultuurskuif nie. Daar is soms 'n reuse verskil tussen die kerkkultuur en die kultuur van die samelewing – soveel so dat dit soms bykans soos twee verskillende kulture lyk! In stede dat kerke en geestelike groepe aanpas en op 'n gesonde wyse byhou by hierdie veranderinge, word bykans alle verandering soms onder die term "wêreld" en "kompromie" gesorteer en is daar in baie gevalle geen daadwerklike pogings tot vernuwing op hierdie front nie. Selfs waar daar wel op een terrein aangepas word, is daar nie breë en genoegsame vernuwing op al die belangrike terreine nie - juis omdat kultuur so diep gaan en so moeilik verander. Dit beteken dat dit bykans net so moeilik is om die mense in ons eie samelewing te bereik as om na ander kulture uit te reik.

As ons nou die genoemde drie terreine van verandering in die samelewing verder ondersoek, dan vind ons die volgende: Daar is 'n persepsie by 'n groot deel van die samelewing dat Christene nie lewe volgens wat hulle predik nie, dat kerkgaan 'n oninspirerende ervaring is, dat die boodskap van die kerk vir kinders bedoel is en nie vir denkende mense nie. Baie mense het 'n negatiewe ervaring van Christene en die kerk – Christene is dikwels beterweterig en arrogant (op Facebook en elders), kerkhou is 'n eenrigting en nie-meelewende affêre (in 'n koue gebou), die kerk se interpretasies van die Bybelse teks maak glad nie sin nie (bv. dat die aarde ongeveer ses duisend jaar oud is, dat Adam en Eva die eerste mense was ens.).

Daar is egter ook 'n ander paradigma skuif wat in ons samelewing plaasvind. Dit is dat die samelewing al meer by die postmoderne paradigma inkoop. Alhoewel ons reeds by die kultuurskuif van die post-moderne mens kan praat, gaan dit hier oor die postmodernistiese denkwyse. Die eerste wys gewoon daarop dat mense dinge anders doen as in die "moderne" periode (wat grotendeels deur die kultuurskuif saamgevat word) terwyl die tweede met 'n nuwe mega-denkraamwerk en selfs ideologie te doen het. Die postmoderne paradigma staan op sekere sleutel-areas in konflik met die Bybel. Hiervolgens is alle narratiewe aanvaarbaar: alle gelowe en lewenstyle moet nie alleen gerespekteer word nie, dit moet op gelyke vlak met die Christelike geloof en lewensstyl beskou word. In die media lyk dit soms of gespreksleiers hierdie perspektief bevorder. Alhoewel Christene hiervan kennis neem, neem hulle nie altyd doeltreffend aan die gesprek deel nie en sinvolle antwoorde is maar skaars.

Alhoewel die paradigma-skuif na 'n postmoderne denkraamwerk nie al die fasette van so 'n denkverskuiwing in die samelewing insluit nie (sommige het skielik die rasionele-modernistiese paradigma herontdek - meestal in die konteks van die scientistiese denkraamwerk, ens.), is dit waarskynlik tans die dominante paradigma in die media. Beide die kultuur en post-modernistiese skuif hou groot uitdagings vir die kerk in. Wat die kultuurskuif betref, is die uitdaging om sinvol aan te pas by die tyd – om nie uitpas met normale kultuurveranderinge te wees nie. Wat die postmodernistiese skuif betref, is die uitdaging om sinvolle antwoorde op die tafel te plaas. In die algemeen gaan dit oor gesonde aanpassing en vernuwing sonder om die sentrale geloofswaarhede asook die gesag en integriteit van die Bybelse teks in te boet.

Wat is die antwoord?

Alhoewel sommige Christene hierdie veranderinge as 'n bedreiging vir hul eie styl, siening of interpretasie beskou (wat hulle gewoonlik as Die Waarheid sien), is daar baie ander wat dit opmerk en iets daaraan probeer doen. Daar is Christene en kerkleiers wat op elk van die drie fronte wat ek uitgelig het, aktief besig is om hul antwoord as oplossing te bevorder of wat aktief na antwoorde soek. Hierdie proses vind binne en buite die tradisionele kerk plaas. So is daar diegene wat hul op die Christene se lewenswandel toespits. Dat die kerk weer soos die Nuwe Testamentiese kerk met Goddelike krag vervul moet wees. In hierdie verband is die gedagte van 'n geestelike herlewing belangrik. Daar is ook diegene wat hul op nuwe metodes en tegniek toespits. Volgens hulle moet die kerk nuwe metodes ontwikkel om effektief (missionaal) in die samelewing uit te reik. Deurdat Christene byvoorbeeld sosiaal in hul omgewing betrokke raak, kan hul andere vir Christus win. Laastens is daar ook diegene wat op die akademiese debat fokus. Hulle reël debatte met ateïste en probeer rasioneel antwoorde op die tafel lê.

Al hierdie aspekte is belangrik, maar sonder 'n geïntegreerde benadering is die impak beperk. Ons kan vir 'n geestelike herlewing bid, maar ons moet seker ook iets doen in terme van metodes en tegniek soos die bekende spreekwoord sê: Ora et labora (Bid en werk). Ons kan mense bereik, maar as ons evangelie nie vir hulle sin maak nie, hoe sal hulle glo? Is dit nie eers wanneer mense – en ons praat van wetenskaplik-ingeligte mense – oortuig raak van die betroubaarheid van die Bybel as God se woord, dat hulle hul tot Hom bekeer nie? Is dit nie die boodskap van Romeine 10 nie? As ons net bid – en slegs in die Christengemeenskap werk – hoe sal die kerk diegene in die wyer gemeenskap en veraf lande (Europa is bykans weer 'n heiden land) vir Christus bereik? As ons werk, maar God werk nie ook in krag nie, sal ons pogings nie maar tevergeefs wees nie? As ons net rasionele antwoorde gee (waarmee net 'n groepie akademies-ingestelde Christene gemaklik is), hoe sal ons tot mense se gees deurdring?

Soos ek dit sien is die grootste probleem dat daar nie werklik samewerking in hierdie verband in evangeliese geledere plaasvind nie. Daar is soveel individuele Christene en groepe wat op hul eie manier positiewe verandering in die kerk bewerk – maar baie maal is die kerk nie op sulke pogings buite hul eie denominasie ingestel nie. Alhoewel almal uiteindelik saamwerk om sinvolle verandering in die gemeente van Christus te bewerk, is dit glad nie effektief nie omdat evangeliese Christen leiers nie 'n raamwerk daarstel waarbinne sulke gesprek en samewerking kan plaasvind wat uiteindelik die kultuurskuif in die kerk kan fasiliteer nie. 

Dit is eers wanneer ons na die verskillende stemme in die Christen gemeenskap luister, by mekaar leer, dinge vir onsself uitmaak, raakvlakke met mekaar vind en persone, groepe en selfs kerke begin om rondom sekere idees saam te werk, dat daar daadwerklike verandering sal kom en die kerk uiteindelik ook 'n sinvolle paradigma-skuif sal kan maak en sodoende effektief na die mense van ons tyd sal kan uitreik. Dan eers sal die evangeliese gemeenskap teoreties en prakties toegerus kan word om as 'n effektiewe instrument in hierdie tyd te opereer (soos ek in 'n vroeëre essay genoem het, kan dit selfs die daarstel van akademiese inrigtings insluit).

Die werklike probleem is soms dat Christen leiers dit moeilik vind om saam te werk. Die redes kan menigvuldig wees. Elk werk in sy eie wingerd en is baie besig met al die uitdagings wat dit inhou. Soms is daar verskille oor allerlei dinge soos benadering en interpretasie. Dit lyk soms vir my of evangeliese Christenleiers eintlik baie min met mekaar in gemeen het buite die skakeling binne hul eie denominasie of groep. Ek dink baie maal aan daardie teks in die profeet Haggai: "Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword... Waarom? Spreek die HERE van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop" (Hab. 1:9).

Die vraag is: Wat is daar wat evangeliese leiers op genoeg vlakke sal kan saambind dat hulle so 'n ruimte sal kan skep waarbinne Christene van oraloor sal kan saamwerk in God se koninkryk? Miskien kan die werk van Andrew Murray insake die geestelike lewe as basis dien vir samewerking. Hy het nogal voor 'n soortgelyke probleem as vandag te staan gekom soos blyk uit die titel van sy een boek: "Die ongeloof van ons tyd". Ten minste moet ons met mekaar praat oor hierdie dinge. Die groter Christengemeenskap sal baie beter toegerus wees as hulle leiers het wat nie vasgevang is in die tradisies van die verlede nie, maar wat oop is vir gesonde vernuwing en wat voorstelle en antwoorde op die tafel plaas.

Slot

Ek glo ons lewe in 'n kritieke tyd in die geskiedenis en toekomstige geslagte sal ons verwyt of eerbiedig dat ons in hierdie tyd tot die eise van die tyd opgeleef het. As ons nie opleef nie kan dit maklik gebeur dat die stagnasie van die kerk en haar onvermoë om effektief teen die vloedgolf van liberalisme en postmodernisme op te tree daartoe lei dat die evangeliese Christengemeenskap uiteindelik ook in ons eie land verklein tot 'n weglaatbare groepie soos in die meeste lande van Europa. Ons het so 'n geweldige verantwoordelikheid op ons skouers. Wat gaan ons doen?