Sunday 6 January 2013

Middelgrond in die geloof

In hierdie skrywe praat ek oor die redes vir my deelname aan die kontemporêre godsdiensgesprek en wat ek uiteindelik daardeur wil bereik.  Ek begin ook om my betoog vir 'n middelgrond in die geloof meer eksplisiet uit te spel.  As die Christendom relevant wil bly, sal hulle die middelgrond moet betree. Verder skets ek my visie vir die toekoms. 

"My volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis" - Hosea 4:6

Daar is 'n lewendige godsdiensgesprek wat nou al vir 'n aantal jaar in Suid-Afrika plaasvind. Ek het my deelname by hierdie gesprek in Julie 2011 op my blog aangekondig met 'n skrywe getiteld "Hoekom blog jy, Willie?" (op www.wmcloud.blogspot.com).  Sedertdien het ek op verskeie terreine aan hierdie gesprek deelgeneem.  In 2012 is ek nogal deur die gesprek meegesleur - veral in gesprekke wat in die Nuwe Hervorming gesinde tydskrif Markplein plaasgevind het.  In hierdie verband het my nuutste boek Op soek na Abraham en sy God, 'n studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale (Griffel, 2012) heelwat reaksie uitgelok.

Oor die laaste aantal jaar was daar sekere dinge wat my opgeval het.  Een daarvan is die geweldige impak wat modernisme op die ouer generasie (en sommige van die huidige generasie) Suid-Afrikaanse teoloë gehad het.  Een van die artikels wat ek daaroor geskryf het is "Om te glo of nie te glo nie..." wat ek op 15 April 2012 op my blog gepos het.  Hierdie artikel het ook in die tydskrif Pomp 12 (Griffel, 2011) verskyn.  Hierdie modernistiese aanslag bou voort op die foutiewe aanname dat daar in teksstudies ("Bybelwetenskap") op een of ander wyse "wetenskaplike" uitsprake soortgelyk aan die ander empiriese wetenskappe gemaak kan word - wat dui op 'n totale misverstaan van die "wetenskaplikheid" van hierdie dissipline.

Teksstudies is in werklikheid slegs maar 'n hermeneutiese (interpreterende) dissipline wat altyd vanaf sekere veronderstellings werk en waar ander interpretasies altyd moontlik is. Hulle vertrekpunt dat gebrek aan "genoegsame" argeologiese vondse bewys dat daardie gebeure nie plaasgevind het nie dui op 'n baie simplistiese en verouderde konsep van argeologie as empiriese wetenskap.  Ek bespreek hierdie problematiek in my artikel getiteld "A critique of archaeology as a science" wat op 19 Augustus 2012 my blog gepos is. Die invloed van modernisme op die ouer geslag akademici is na my mening een van die belangrikste redes waarom daar oor die afgelope 40 jaar so 'n skeptiese inslag in Suid-Afrikaanse teologiese kringe ontstaan het.

Ek is verbaas oor die onkritiese wyse waarop daar by die modernistiese paradigma ingekoop is (soos daar weer deesdae by post-modernisme ingekoop word).  In verskeie van my artikels het ek die lesers aangemoedig - in navolging van 'n skrywe deur die bekende moderne filosoof Immanuel Kant - om vir hulleself te dink. Om wyer na te lees en uiteindelik self dinge te beoordeel.  Om nie maar net die "geleerdes" na te loop soos mense voorheen die priesters nageloop het en te dink dat hulle al die antwoorde het nie.  Om nie maar net een verouderde paradigma vir 'n ander te verruil wat nie veel beter is nie.  Alhoewel ons baie by die gedissiplineerde studie oor die Bybel kan leer, het akademici nie al die antwoorde nie - daar is wel sommige van hulle wat baie arrogant dink dat hulle by die bron van kennis gearriveer het.  Ons moet ons nie veel aan hulle steur nie - hulle beïndruk eintlik net hulleself.

Ek het ook probeer om 'n gebalanseerde beskouing vir gesonde geloof uit te spel. In hierdie verband het ek artikels oor wetenskap en geloof (07/11/2011), geloof en rede (01/05/2012) asook Bybelwetenskap en tradisionalisme (31/10/2012) geskryf.  Wat my hier bekommer, is dat baie tradisionele Christene in 'n anti-intellektuele raamwerk vasgevang is.  Hulle staan baie wantrouig teenoor die wetenskap, rede en teksstudies.  Hulle vergeet dat Jesus self geleerd was (Luk. 2:47; Joh. 7:15).  So ook die persone wat die grootste impak op die geskiedenis van die Christendom gehad het - Paulus, die kerkvaders, Martin Luther, Johannes Calvyn, John Wesley en baie ander.  As Christene nie sinvolle voorstelle op die tafel plaas nie, sal ander stemme daardie intellektuele gesprek oorheers en sal hulle mettertyd die aanvaarde norme van die samelewing bepaal. Dit is ons verantwoordelikheid om aan die gesprek deel te neem en te toon dat die Bybel vandag nog relevant, betroubaar en geloofwaardig is.  Hoe kan mense die Bybelse boodskap van verlossing glo as hulle nie ter self ter tyd oortuig is van die relevansie van die Bybelse teks vir vandag nie? Dit is waarom ek my blog as 'n intellektuele eerder as 'n geestelike gespreksforum ingerig het.

Wat ek voorstel is dat Christene na 'n middelgrond in die geloof beweeg.  Wat bedoel ek hiermee? Gewoon dat hulle probeer om 'n balans tussen die uiterstes te vind.  Dat hulle gesonde interpretasies nastreef. Dit is egter nie maklik nie. Sommige staan vas by die tradisionele paradigma van denke en sien ander interpretasies as die waaraan hulle gewoond is as kompromie. Sodra 'n mens na die middelgrond beweeg, dink baie tradisionele Christene dat jy nou "liberaal" raak - al staan jy by die beginsels van die evangeliese Christendom.  Hulle sien jou as deel van die "ander" groep terwyl jy hoegenaamd nie enige liberale sieninge onderskryf nie.  Dit is moontlik een van die redes waarom baie behoudende Christene te bang is om regtig te sê wat hulle dink.  Andere in die geleerde milieu kyk weer neer op die eenvoudige evangelie sonder dat hulle enige belewing van die lewensveranderende krag daarvan ondervind. As jy nie deel van die "Bybelwetenskaplike" denkgroep uitmaak nie, dink hulle dat jy sekere simplistiese opvattinge het wat hulle met die tradisionele groep vereenselwig.

Ek kan hierdie probleem met 'n paar voorbeelde illustreer.  Neem byvoorbeeld my nuwe boek Abraham en sy God.  In hierdie boek argumenteer ek dat daar genoegsame rede is om die glo dat Abraham 'n historiese persoon was en dat die verhale in Genesis 2-11 saam met hom van Sumerië na Kanaan gebring is waar dit later deel van Israel se oergeskiedenis uitgemaak het. Ek voer ook ander aspekte van Israel se tradisie soos hul geloof in die God El asook hul wêreldbeskouing na daardie wêrelddeel terug. As my argumente aanvaar word, maak dit 'n baie sterk saak dat die bronmateriaal vir die boek Genesis deur vroeë profete soos Abraham (Gen. 20:7) in Israelitiese kringe oorgelewer is en nie in die tyd van die ballingskap uit Babilon ontleen is nie. Sommige Christene het dadelik aanstoot geneem - volgens hulle kan ons nie die inligting in die Bybel na Sumerië terugvoer nie. God het dit aan Moses geopenbaar. Maar hoe het dit gebeur? Het God dit by die berg Horeb aan hom gedikteer? Hulle het geen begrip vir die milieu waarbinne die Bybelse teks ontstaan het nie. Ons moet tog die sosiale en historiese konteks waarin die Bybel opgeskryf is ondersoek. Sommige van hierdie Christene is net met drie bronne bekend: wikipedia, creation.com en The Two Babylons (eerw. Alexander Hislop, 1916).  Nie een van hierdie bronne het enige gesag in akademiese kringe nie.

Ek het 'n tyd gelede met Lynette Francis op RSG se Praat Saam program oor die antieke Bybelse konsepte van die hemel en die hel gepraat (op 13 September 2012). Daar is baie Christene wat nie besef dat die Bybelse mens 'n totaal ander wêreldbeskouing as ons gehad het nie. Die tema sluit aan by 'n bespreking oor die antieke wêreldbeeld in my nuwe boek Abraham en sy God. Sommige luisteraars wat met die konsepte onbekend is, het dadelik aanvaar dat ek nie in die hemel of die hel glo nie! Ek was nogal verbaas om te sien dat iemand op Facebook skryf dat hy na my geluister het en dat ek nie in die hel glo nie. Hy het selfs die skakel na die gesprek gepos. Wat ek wel in die gesprek gesê het, is dat daardie mense 'n baie gesofistikeerde siening gehad het (in stryd met die uitsprake van sommige hedendaagse Bybelgeleerdes) en dat hulle daardie domains in die onsigbare deel van die kosmos geplaas het - wat ek met die hoër dimensionele struktuur van die kosmos vereenselwig. Ek glo dus dat daardie domains bestaan - maar dit is beslis nie in die raamwerk van die wêreld wat ons ken nie.

Aan die ander kant is daar weer diegene uit tekskritiek kringe wat in beginsel enige historiese basis vir die Genesis verhale verwerp.  Hulle wil gewoon nie aanvaar dat Abraham - of enige van die persone wat in die oergeskiedenis in Genesis 2-12 vermeld word (Noag, Henog ens.) - gelewe het nie. Volgens hulle moet die teks nie op daardie manier gelees word nie - so asof hulle verstaan van die teks die enigste geldige interpretasie is!  Een van die resensente uit hierdie geledere het dadelik die afleiding gemaak dat ek nog deel van die pre-wetenskaplike (tradisionele) paradigma is. As hy die moeite gedoen het om die boek met 'n oop gemoed te lees sou hy gou agterkom dat dit nie die geval is nie. 'n Ander resensent het veronderstel dat ek iemand is wat die Bybel "letterlik" vertolk en dat ek dus die siening onderskryf dat die kosmos sesduisend jaar gelede in ses sondae geskep is. Nou ja, nodeloos om te sê, dit is nie die geval nie. Soos ek reeds genoem het is daar nie by hierdie geleerdes 'n begrip dat hul vakgebied 'n hermeneutiese dissipline is wat gewoon nie finale uitsprake kan maak nie (hulle staan tipies in die modernistiese paradigma waarna ek vroeër verwys het). In der waarheid is ander interpretasies as hul eie nie net moontlik nie; dit maak selfs beter sin.

Die middelgrond is dus 'n moeilike terrein om te betree omdat die opponerende groepe jou tipies by die ander groepeer sonder dat hulle werklik hoor wat jy sê. Maar die tyd het gekom dat ons as Christene wat ons in die middelgrond bevind openlik sê dat ons nie gemaklik is met 'n simplistiese anti-wetenskaplike lees van die teks soos ons dit in tradisionele kringe vind of die sekularistiese benadering wat in Bybelwetenskaplike kringe gevolg word nie. Ons kan nie wonderwerke prysgee of aan die inspirasie van die Skrif twyfel nie. Ons kan nie twyfel in die krag van God om lewens te verander nie. Die middelgrond is 'n breë terrein waar daar vir verskeie interpretasies en dus gesonde gesprek ruimte is. Ons moet egter nie ten alle koste die middelgrond nasteef nie - alhoewel gesonde interpretasies ons wel daar sal uitbring.

Ons kan beide 'n intellektuele benadering tot die Bybelse teks volg en terselfdertyd glo dat die God van die Bybel vandag nog steeds in en deur mense in die geskiedenis werksaam is. Ons kan daarna streef om sinvolle interpretasies van die teks voor te staan wat sin maak vir die mense van ons tyd. Ons kan ook daarna streef dat God ons in hierdie tyd as werktuie sal gebruik om die wêreld deur ons te bereik. Soveel Christene wat intellektueel ingesteld is raak vervreemd van die geestelike krag van God wat in ons lewens werk, terwyl soveel Christene wat daardie krag ervaar mettertyd vanweë hul anti-intellektuele ingesteldheid vervreemd raak van die samelewing waarin hulle lig en sout moet wees. Ek het vroeër in 'n ope brief die kerk in Suid-Afrika uitgedaag om vandag relevant te wees.

Ek het oor die afgelope tyd by verskeie geleenthede voorgestel dat ons interpretasies van die Bybelse teks moet voorstaan wat vir die ingeligte mense van ons tyd sin maak.  Ons moet die teks op 'n sinvolle wyse herinterpreteer soos Jesus self in sy tyd gedoen het. Was dit nie Hy wat gesê het: "Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is... Maar Ek sê vir julle...".  Dink aan sy radikale nuwe verstaan van die Sabbat en hoe kwaad die tradisionele groep hieroor was. Hy het dramatiese nuwe interpretasies van die teks aan die skares voorgehou wat 'n groot impak op hulle gehad het. Ons moet dieselfde doen. Ons moet ook interpretasies voorstaan wat wegbreek van daardie "oorlewering van die ou mense" wat uitgedien geraak het.

Dit is teen hierdie agtergrond dat ek beplan om in hierdie jaar voorstelle op die tafel te plaas. Daar is 'n artikel oor die Septuagint (die Griekse vertaling van die Ou Testament wat deur die Bybelskrywers en die vroeë kerk gebruik is) waaruit die waarde van gesonde tekskritiek duidelik blyk - in hierdie geval het tekste wat tussen die Dooie Seerolle gevind is belangrike implikasies vir ons verstaan van die teks. Daar is 'n artikel oor die skeppingsnarratief van Genesis 1 waarin die problematiek rondom die sewe skeppingsdae aangespreek word - die teks ondersteun nie sieninge wat teen die wetenskap indruis nie. Ook die vraag of Adam die eerste mens was word in 'n artikel aangespreek. Verder is daar 'n artikel waarin die filosofiese basis vir geestelike intuïsie (wat Christene "God se stem" noem) beredeneer word. Ek beoog om hierdie artikels op my blog te pos en ook - saam met goeie artikels deur ander skrywers - in my ebrief "Undertanding the World" in te sluit.

Ek hoop dat daar uiteindelik al meer Christene sal wees wat openlik en gemaklik die middelgrond van geloof betree. Dat daar gemeentes uit verskeie kerkgenootskappe asook verskillende bedieninge sal wees wat rondom so 'n middelgrond sal hande vat om die mense van ons tyd met die evangelie te bereik. Dat daar 'n netwerk van Christene sal ontstaan wat nie alleen die dinamika van gesonde intellektualisme onderskryf nie, maar wat terselfdertyd die krag van God op 'n nuwe en lewende wyse in hul eie lewens ervaar. Ek vertrou dat hierdie stroompie uiteindelik tot 'n magtige geestelike rivier sal groei wat oor kerkgrense heen sal saamwerk om op nuwe maniere en met nuwe metodes na die mense van ons tyd uit te reik. Wat die evangelie op so 'n wyse aanbied dat dit nie alleen vir die mense van ons tyd sin maak nie, maar dat hulle ook hul lewens deur geloofsvertroue aan die God van die Bybel sal wy.  Dat ons opnuut soos 'n stad bo-op 'n berg sal wees vanwaar die helder lig vreemdelinge en ronddwalendens uitnooi om nader te staan. Dat ons 'n oase sal wees waar menigte siele se dors geles sal word. Dat ons in die tyd waarin ons lewe 'n verskil sal maak.

Om 'n verskil te maak moet ons waag. Ons moet bereid wees om op te offer. Ons moet bereid wees om uit ons gemaksone te beweeg. Ons moet bereid wees om met 'n oop gemoed dinge te ondersoek. Ek het gedurende die tyd waarin ek die boek Abraham en sy God geskryf het baie met Abraham se lewe geïdentifiseer en later vyf geestelike oordenkings daaroor op RSG se godsdiensprogram gedoen. Abraham het in gehoorsaamheid aan God sy vaderland - die land van die bekende, Sumerië - verlaat en na 'n onbekende land getrek. So moet ons ook soms die land van die bekende - die paradigma waaraan ons bekend is - verlaat om na die middelgrond van relevante en geloofwaardige interpretasies van die Bybelse teks te beweeg.  Interpretasies wat steeds die evangeliese beginsels onderskryf. As ons dit nie doen nie, gaan die Christendom al meer irrelevant word. Ons kan na Europa kyk vir 'n toekomsblik op ons eie land - dit is 'n godlose plek waar die evangeliese Christendom bykans uitgesterf het. As ons niks doen nie, sal ons land waarskynlik ook oor 40 jaar ook so lyk. So die vraag is: Gaan ons die pad aandurf? Ek het besluit: Ek trek die land binne. Almal wat wil saamtrek, is welkom.

Skrywer: Dr Willie Mc Loud Ref. www.wmcloud.blogspot.com

Lees ook
Die profeet
A message for the church
God hoor
Wrong choices
The Power of God
Something or Someone is Missing
Revival is of the Lord


Om te glo of nie te glo nie

5 comments:

  1. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete
  2. Baie dankie vir jou uitdaging en aanmoediging om aan die kontemporêre gesprek deel te neem. Binne die konteks van jou artikel wil ek graag twee aspekte uitlig: (1) die realiteit van paradigmas in almal se lewens en (2) ‘n aanmoediging om na die historiese te kyk in ons soeke na antwoorde. Ek sou verder ook kommentaar wou lewer oor jou idee van ‘herinterpretering’, maar sal dit reserveer vir jou artikel oor die onderwerp.

    Betreffende paradigmas wil ek net weer beklemtoon dat almal in ‘n sekere paradigma ‘vasgevang’ is. Ek dink nie dat dit moontlik is om te dink en te redeneer sonder ‘n paradigma nie. Die vraag, volgens my, is nie of mens vanuit ‘n sekere paradigma na sake kyk nie, maar eerder of (1) mens van jou paradigma bewus is en of (2) mens die grense van jou paradigma dogmaties afforseer op andere wat met jou verskil. Dit is ‘n geweldige oorvereenvoudiging (en selfs ietwat naief) om te dink dat mens vrygekom het van alle paradigmas. Baie maal is die implikasie van mens se onbewustheid van jou paradigma/s dat mens weier om met ‘n oop gemoed na die antwoorde van mense waarmee jy op sekere punte verskil (bv. ‘n ander tradisie) of wat uit ander tye (bv. die mideleeue) kom te kyk. Eers wanneer mens bewus raak van jou paradigma dring die werklikheid tot jou deur dat dit (i.e., die paradigma) jou weerhou om na die ander idees te luister. Dit is dus uiters belangrik om bewus te wees van ‘n mens se paradigma en daarmee te handel.

    Dit bring my by die tweede punt, naamlik om kers op te steek by diegene wat in die verlede ‘n impak op die Christendom gehad het. Jy verwys na die geleerdes wat “die grootste impak op die geskiedenis van die Christendom gehad het.” Waarom moet ons met so baie probleme worstel en probeer om die middelgrond te vind terwyl ons by die geloofsreuse van die verlede kan leer en op hulle idees kan voortbou? Die kwessie van die balans tussen geloof en rede, om maar net een voorbeeld uit een tydperk te noem, is iets waarvoor die kerk in die mideeleeue baie goeie antwoorde gehad het. Die rede waarom ons nie na hulle idees wil kyk nie lê miskien in jou verwysing na “die onkritiese wyse waarop daar by die modernistiese paradigma ingekoop is (soos daar weer deesdae by post-modernisme ingekoop word).” Miskien het baie van ons nie net by die moderne (en post-moderne) paradigmas ingekoop betreffende hul metodologie nie, maar ook by hul siening oor die middeleeue in die algemeen. Met ander woorde, ons glo dalk die skewe prentjie van die sg. donker middleeue wat die moderniste vir ons probeer skilder het in plaas daarvan dat ons self die middeleeuse toneel bestudeer. Dit is dus nog ‘n verouderde paradigma waarvan ons vry moet kom. Dit is sekerlik maklik om die realiteit van so ‘n paradigma (i.e., die prentjie van ‘n ander era wat vir ons geskilder is) as onsin af te maak, maar hoeveel van ons is bereid om byvoorbeeld die middeleeuse geleerdes te lees en te bestudeer? Ek dink ‘n heel gepaste teks in hierdie verband is Jeremia 6:16: “So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.” Interessant genoeg is die teks se betekenis en konteks heel van pas hier en is dit nie eens nodig om die betekenis daarvan te herinterpreteer nie.

    ReplyDelete
  3. Ek reageer graag op jou skrywe. Wat paradigma's betref, stem ek grotendeels met jou saam dat ons op een of ander wyse gewortel is in daardie paradigma waarin ons opgebring (opgevoed) is of waarby ons oor tyd ingekoop het. Ek stem ook saam dat dit baie belangrik is om van ons eie paradigmatiese verbondenheid bewus te wees - dit help ons om met 'n oop gemoed na onsself te kyk - na ons eie voorveronderstellings ens. (tot die mate waartoe ons ons eie blindehoeke kan oorkom). Tog dink ek dat ons ook mettertyd ons eie perspektief kan uitkap namate ons nuut dink en nuwe antwoorde vir eietydse vraagstukke bedink. Ons behou dalk aspekte van die ou paradigma wat steeds vir ons sin maak, maar in geheel gesien kom daar nuwe denkpatrone en idees tot stand. Dit is moontlik dat so 'n nuwe wending oor tyd weer in 'n nuwe paradigma kan ontwikkel namate mense daarby inkoop.

    Wat die verlede betref, is ek dit ook met jou eens dat ons baie daaruit kan leer en dat ons soms sinvolle skrywes uit die verlede ignoreer omdat dit vanuit ons paradigmatiese hoek (in die paradigmatiese tradisie waaruit ons kom) as "onaanvaarbaar" beskou word. Dit is voorwaar jammer - maar dit is deel van ons werklikheid dat mense so te se gebreinspoel is om nie sekere ander sieninge te oorweeg nie (dink byvoorbeeld aan kritiese Bybelgeleerdes wat onmiddellik die tradisionele literatuur verwerp of andersom). Ek dink egter dat ons nie in die verlede kan vasval nie. Daar het oor tyd 'n sekere ontwikkeling in die denke van die wyer samelewing plaasgevind en as ons enigsins sinvol aan die kontemporêre gesprek wil deelneem, sal ons bowenal oor kontemporêre gesprekspunte moet praat. Ons kan dus uit die verlede put (selfs buite ons bepaalde paradigmatiese hoek - dit is juis wat enige studie besonders maak, nl dat dit al die argumente sover moontlik objektief en sinvol bymekaar trek), maar ons moet nie by strydpunte en kwessies van die verlede vasval nie. Dan isoleer ons onsself (ons raak een van 'n paar spesialiste wat op een of ander spesifieke historiese kwessie fokus) en staan in effek buite die kontemporêre gesprek. Ons roeping is juis om vandag vir vandag se mense sinvolle voorstelle op die tafel te plaas.

    Dankie vir die positiewe wyse waarop ons gesprek voer. Ek geniet die gesprekke wat so oor die Atlantiese Oseaan gevoer word. Seen daar.

    ReplyDelete
  4. Jammer ek skryf nou eers terug. Ek lewer graag kommentaar op jou reaksie en laat dit dan daar. Betreffende paradigmas dink ek ons verskille spruit hoofsaaklik voort uit ons verskillende gebruike van die term. Dit is duidelik dat jy ‘n openbare of publieke paradigma (as ek dit so mag noem) in gedagte het, terwyl ek weer ‘n private of persoonlike paradigma in gedagte het. In die sin waarin jy die term gebruik stem ek saam dat mens van ‘n paradigma (bv. post-modernisme, sekulêre humanisme, ens.) kan vrykom. Indien daar dan ‘n nuwe perspektief uitkristalliseer en die perspektief op ‘n wyer gebied aanvaar word, raak dit dan gewoonlik met tyd ‘n nuwe (publieke) paradigma in die mate waartoe die aanhangers van die perspektief geyk raak in hul benadering. Soos reeds genoem het ek egter meer ‘n persoonlike paradigma in gedagte wat seker tot ‘n groot mate met ‘n wêreldbeskouing (‘worldview’) ooreenstem. Elke mense se persoonlike paradigma of wêreldbeskouing het tot gevolg dat hy sekere blindhoeke het en na alles deur daardie ‘bril’ (of ‘grid’) kyk. Dit is in daardie sin dat ek bedoel dat dit naief vir iemand sou wees om te dink dat hy vry is van enige paradmas en gevolglike vooroordele.
    Wat die tweede punt beterf dink ek ongelukking dat jy op die sg. strooiman reageer. Ek het gladnie gesê (of selfs gesuggereer) dat ons ons moet onttrek van die kontemporêre gesprek of die hedendaagse relevante kwessies moet ignoreer ter wille van gister se uitdagings nie. (Selfs met die aanhaling van die versie uit Jeremia het ek nie so iets gesuggereer nie; ek dink nie dit sou reg doen aan die historiese-grammatiese beginsel nie.) Inteendeel, ek is sterk gekant daarteen dat Christene hulle van die openbare debat onttrek. Ek stem dus heelhartig daarmee saam dat ons in alle aspekte aan die kontemporêre gesprek moet deelneem – elke tyd het tog sy relevante gesprek en ons behoort ons bydrae te lewer. My kommer wat ek oorspronklik uitgepreek het is dat ons die hedendaagse probleme aanspreek sonder dat ons die idees en oplossings van ons voorgangers betrek. Ek het die die kwessie van geloof en rede as voorbeeld gebruik; dit is ‘n lewendige gesprek vir vandag waarvoor ons voorgangers in die middeleeue relevante oplossings gehad het. My probleem is dus nie met deelname aan die moderne gesprek nie, maar die neiging dat ons die verlede wil ignoreer en die spreekwoordelike wiel so te sê wil herontdek. Dikwels is dit ons paradigma (of wêreldbeskouing) wat ons verhinder om na daardie perspektiewe te kyk, iets waarmee jy saamstem. Dit beklemtoon net my punt dat ons nooit regtig vry is van ‘n paradigma (etsi persoonlik) nie. Verder ondersteun dit my punt dat dit beter is om bewus te wees van, en te handel met, ons persoonlike paradigma as om verkeerdelik onder die indruk te verkeer dat ons vrydenkend is en nie enige blindhoeke het nie.
    (Net ‘n opmerking oor “spesialiste wat op een of ander spesifieke historiese kwessie fokus”. Alhoewel ek gladnie daarna verwys het in my kommentaar nie, dink ek tog dat daar meriete vir sulke spesialiste is. Net soos die hele liggaam nie ‘n oog kan wees nie, net so kan almal nie apologete of spesialiste wees nie. Sonder apologete sal niemand die geloof verdedig nie en sonder spesialiste sal daar nie baie navorsing wees om te doen nie. Dit is juis die spesialiste se werke wat ons in staat stel om met gesag aan die kontemporêre debat deel te neem.)

    ReplyDelete
  5. Ek stem saam dat sulke spesialiste van groot belang is om te verseker dat die kontemporêre gesprek goed gefundeerde argumente uit die historiese materiaal by die kontemporêre gesprek kan betrek. My opmerking is gewoon in die konteks van die artikel - dit gaan oor sinvolle deelname aan die huidige gesprek.

    ReplyDelete