Showing posts with label Irannese oorlog. Show all posts
Showing posts with label Irannese oorlog. Show all posts

Sunday, 20 May 2012

Die stilte voor die storm?

Die verwysings in die media na 'n moontlike oorlog teen Iran het die laaste tyd ietwat afgeneem. Beteken dit dat die waarskynlikheid van so 'n oorlog ook afgeneem het, of is dit net die stilte voor die storm? In hierdie essay wys ek daarop dat daar 'n hele paar dinge is wat eers in plek moet wees voordat die Weste by so 'n oorlog betrokke sal raak.  Maar wanneer dit gebeur, kan ons verwag dat dit maklik tot 'n wye Midde-Oosterse oorlog kan uitkring.  

Daar was momente in die geskiedenis wat altyd onthou sal word omdat dit so ironies was.  Een daarvan is die verwysing van die destydse Britse eerste minister Neville Chamberlain op 30 September 1938 na "vrede vir ons tyd". Dit was kort nadat die belangrikste Europese moondhede en Nazi Duitsland die Munich Ooreenkoms gesluit het, waarvolgens hulle die Nazi's tegemoet gekom het met hul instemming tot die anneksasie van Sudetenland in Tsjeggo-Slowakye. Binne 'n jaar daarna het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek.

Daar geld vandag 'n baie soortgelyke situasie. Nadat die spanning met Iran in die eerste paar maande van 2012 aansienlik toegeneem het, het die groot moondhede (Ses Nasies) intussen hul gesprek met Iran rondom die land se atoom verrykingsprogram hervat. Die eerste gesprek het op 14 April in Istanbul in Turkye plaasgevind en die volgende byeenkoms is op 23 Mei in Bagdad in Irak. Dit lyk of hulle die Irannese op 'n manier probeer tegemoet kom - soos die Europese moondhede destyds met die Nazi's.  Barak Obama is gewoon die hedendaagse Chamberlain wat agteroor buig om 'n oorlog te probeer vermy.  Die kaarte is egter baie swaar teen enige vreedsame oplossing gelaai. Die kans dat so 'n oorlog gaan uitbreek is baie groot - al wat dit teëhou is die feit dat die wêreldsituasie (vanuit 'n Westerse perspektief) nog nie heeltemal vir so 'n oorlog gereed is nie.

Waarom is so 'n oorlog bykans onafwendbaar?

Die enkele belangrikste rede vir so 'n oorlog is seker dat Israel die Irannese verrykingsprogram as 'n eksistensiële bedreiging beskou.  Dit beteken dat die Israeli's van mening is dat hierdie program tot die kernbewapening van Iran kan lei, wat die toekomstige voortbestaan van Israel sal bedreig.  Die Israeli's verwys in hierdie verband na die Nazi holokarst - die eerste minister Benjamin Netanyahu het reeds genoem dat hy sal toesien dat so iets nie weer gebeur nie. Die Israeli's sal nie enige kanse met hul eie voortbestaan as 'n volk in die land Israel neem nie.

Die Israeli's wys daarop dat die Irannese leiers al verskeie dreigemente in hierdie verband gemaak het - op Sondag 20 Mei het die militêre stafhoof, Maj. Gen. Hassan Firouzabadi, weer tydens 'n toespraak aan 'n verdedigingsbyeenkoms gesê: “The Iranian nation is standing for its cause and that is the full annihilation of Israel".  Die Irannese het ook 'n tyd gelede dit reggekry om 'n verrykkingsgraad van 20% te bereik (wat beteken dat verryking vir wapendoeleindes binne hul bereik is). Voorts is hulle baie sku om met die Internasionale Atoomenergie Agentskap (IAEA) saam te werk - veral wat hul ondergrondse fasiliteit by Parchin betref. Die Israeli's is van mening dat die Irannese vir tyd speel in 'n poging om alle bewyse van  kern-verwante ploftoetse daar te verwyder. Verder is hulle bekommerd oor die ander ondergrondse fasiliteit by Dasht e-Kavir (Groot Sout Woestyn). Die Irannese bedreiging het oor die jare toegeneem en is nou op 'n stadium waar dit 'n wesentlike gevaar vir Israel kan inhou.

Ons moet egter nie die Israelse bedreiging los van die groter prentjie sien nie. Israel se belange is ten nouste met die Anglo-Amerikaanse belange verweef.  Ons kan eintlik van die Anglo-Amerika-Israel belange praat.  Die belangrikste rede waarom die Engelse destyds tot die Israeli's se vestiging in die land Israel toegestem het (die Balfour Verklaring), was omdat dit 'n eenvoudige manier was om 'n permanente vastrap plek vir hul eie belange in die Midde-Ooste te verseker.  Vanuit 'n geopolitieke perspektief was dit 'n briljante skuif.

Die Anglo-Amerikaners het deur die eeue hul belange deur vrede sowel as oorlog bevorder. Hulle werk volgens 'n langtermyn plan waarvolgens hulle hul finansiële belange deur opeenvolgende oorlog en vredesiklusse bevorder (sien die artikel wat ek op 8 Januarie 2012 op hierdie blog gepos het, "Is 'n Irannese Oorlog op hande? - 'n ondersoek na oorlog en vredesiklusse"). My studie van historiese oorlog en vredesiklusse dui daarop dat ons rondom die jaar 2014 'n baie groot oorlog teen Iran kan verwag (Hierdie datum is op die 4 oorlog en vredesiklusse van die vorige 100 jaar gebaseer). Die rede waarom Iran (saam met Sirië) vir hierdie oorlog op gelyn word, is nie net omdat hulle 'n eksistensiële bedreiging vir Israel inhou nie, maar ook omdat hulle 'n kritiese bedreiging vir die Anglo-Amerikaanse belange in die Islamitiese Midde-Ooste inhou.  Sulke oorloë volg tipies wanneer daar 'n kompeterende moondheid is wat die Anglo-Amerikaanse belange ernstig bedreig.

As dit sou gebeur dat Islamitiese groepe regdeur die gebied waar die Arabiese Lente voorgekom het met Iran affilieer, sal hulle die Weste effektief uit daardie gebied kan uitsluit. Maar nou word die hele Sunni-groepering onder die Moslems (die Moslembroeder-groepe ingesluit) in effek in 'n losse alliansie teen die Iran-Sirië-Hezbollah groepering betrek (sien die artikel wat ek op 27 Februarie 2012 op hierdie blog gepos het: "Die Siriese konflik verdeel Israel se vyande"). Dit beteken dat bykans die hele Moslem wêreld (die Midde-Oosterse Sunni groepering) gedwing word om met die Weste saam te werk omdat hulle Iran as 'n vyand beskou - hoofsaaklik omdat Iran die Siriese regering teen die rebelle ondersteun. Dit is waarom dit so belangrik is dat die aanloop tot so 'n oorlog reg "bestuur" word om te verseker dat die Weste nie net as beskermers van Israel optree nie, maar ook van die Sunni Moslems (soos hulle in Libië gedoen het). So 'n oorlog sal baie van die lande waar die Arabiese Lente plaasgevind het, in 'n meer permanente alliansie met die Weste betrek.

Daar is ook ekonomiese redes vir so 'n oorlog. Soos ek in die genoemde artikel oor oorlog en vredesiklusse aantoon, het al die groot oorloë oor die afgelope eeu groei in die Westerse ekonomieë gestimuleer.  Al hierdie oorloë het dan ook op 'n periode van ernstige ekonomiese insinking gevolg.  Die oorlogsfase begin met 'n groot finansiële krisis en gepaardgaande resessie/depressie (oor die afgelope eeu: 1907-8, 1929-33, 1957-58, 1980-82), gevolg deur 'n periode van ekonomiese stagnasie en 'n verdere resessie, waarna die oorlog uitbreek. Die mees onlangse siklus het duidelik met die ekonomiese krisis en "groot resessie" van 2008-9 begin.  Verskeie Europese ekonomieë is tans besig om 'n verdere resessie in te gaan (sommige is al lankal daarin) en die kans is goed dat dit die VSA ekonomie kan aftrek. Dit is tipies wanneer ons die volgende oorlog kan verwag.  

Wat moet eers in gereedheid gebring word?

Daar is egter baie dinge wat eers in gereedheid gebring moet word voordat die Weste met so 'n oorlog gemaklik sal wees. Ek gaan gewoon 'n aantal daarvan kortliks toelig:

1. Die belangrikste gevaar vir die Westerse belange is dat 'n Israeliese aanval teen Iran die Moslem wêreld teen Israel sal verenig. Dit is waarom die VSA baie sterk daaroor voel dat so 'n aanval binne die raamwerk van breër alliansie plaasvind wat nie alleen NAVO nie, maar ook belangrike Moslem lande soos Katar, die Verenigde Emirate en selfs Saoedi-Arabië insluit.  Dit is ook die rede waarom die VSA so by Israel aanhou om die vredesproses met die Palestyne aan die gang te kry - al bereik hulle nie enige resultate nie. Dit temper die negatiewe sentiment jeens Israel. Dit is dan ook opvallend dat Benjamin Netanyahu vroeg in Mei die Kadima party by sy regerende alliansie ingesluit het (nadat Kadima net twee weke te vore van leierskap verwissel het). Sy vorige alliansie vennote het nie aan hom veel ruimte vir sulke onderhandelinge gegee nie - die Kadima party daarenteen, is sterk op vrede met die Palestyne gefokus.

Die nuwe alliansie plaas Israel in 'n uitstekende posisie om 'n aanval op Iran te loods. Dit is nie alleen die breedste regerende alliansie in Israel se geskiedenis nie (wat 'n baie stabiele regering beteken), dit sluit ook drie vorige stafhoofde van die Israeli weermag in, naamlik Ehud Barak (minister van verdediging), Shaul Mofaz (visie eerste minister - die Kadima leier) en Moshe Yaalon (minister van strategiese belange).  Shaul Mofaz is nou verantwoordelik om die Palestynse weerstand teen die vredesproses af te breek en dit weer aan die gang te kry.  

2. Dit is belangrik dat Hamas, die Moslem groep wat die Gaza gebied (direk suid van Israel) regeer, verder van die Iran alliansie vervreemd raak.  Alhoewel Hamas hulleself tot onlangs nog primêr ten opsigte van hul vyandskap met Israel gedefinieer het, het die Siriese konflik hulle gedwing om van posisie te verander.  Hulle steun nou die Siriese opposisie teenoor die regering wat op hul beurt deur die Irannese ondersteun word. Die rede vir hierdie verandering is dat die Siriese opposisie die Siriese Moslembroeders insluit wat soos Hamas 'n uitvloeisel van die Egiptiese Moslembroeders is.  Daar is selfs berigte dat die Moslembroeders, wat 'n groot invloed in die Siriese Nasionale Raad het (wat as 'n buitelandse spreekbuis vir die opposisie optree), nou aktief met die bewapening van die Vrye Siriese Weermag begin het.

Daar is verskillende dinge wat Hamas na die middelgrond dwing.  Nadat die verhouding tussen Iran en Hamas onlangs begin agteruit gaan het, het die Irannese begin om die Islamitiese Jihad, 'n ander groep in die Gaza gebied, van wapens te voorsien. Hamas bevind hulle dus nie meer aan die ekstreme end van die spektrum nie. Die pragmatisme van die ander Broeders groepe (veral die in Egipte, Tunisië en Sirië), dien ook as voorbeeld vir Hamas. Verder begin Hamas en Fatah, die ander Palestynse groep wat oor die Wesbank heers, ook al nouer saamwerk en daar is 'n moontlikheid dat hulle ooreenkoms om voor die einde van die jaar 'n verkiesing te hou, sal realiseer. Dan sal Hamas nie meer die absolute heerser in die Gaza gebied wees nie.  Dit beteken dat Hamas, soos die ander Broeders groepe in die lande waar die Arabiese opstande suksesvol was, as 'n normale politieke party binne 'n demokratiese bestel sal begin funksioneer.

3. Die lande waar die Arabiese opstande plaasgevind het, moet stabiele regerings hê. Stabiele regerings sal verseker dat daar nie groepe in daardie lande is wat vryelik opereer en in staat sal wees om die anti-Iran alliansie te destabiliseer nie. Dit is veral waar van Libië waar daar in Junie 'n verkiesing gehou word.  Verkiesings is egter nie genoeg nie; dit moet regerings wees wat 'n demokratiese bestel onderskryf, wat in staat is om daardie lande effektiewelik te beheer en bereid is om (vanuit 'n Westerse perspektief) met Westerse lande saam te werk. In Tunisië is daar reeds 'n stabiele regering wat grotendeels pro-Westers is. In Egipte is daar al parlementêre verkiesings gehou. Alhoewel die Islamiete omtrent 70% van die setels gewen het, het die parlement nie veel uitvoerende mag nie.  Die presidensiële verkiesings is op 23 en 24 Mei, met die tweede rondte op 16 en 17 Junie.

4. Die Siriese konflik polariseer die Moslem wêreld.  Hoe langer dit voortduur, hoe meer sal die Moslem lande waar die Arabiese opstande plaasgevind het - waar die Islamitiese partye (en veral die Moslembroeder groepe) oor die algemeen baie steun geniet - in 'n anti-Iran groepering gekonsolideer word.  Dit beteken dat dit in die Westerse belang is dat die konflik solank moontlik uitgerek word.  Sodra die omringende lande uiteindelik wel direk by die konflik betrokke raak (deur bv. buffersones), is die moontlikheid groot dat dit in 'n wyer Midde-Oosterse oorlog kan uitkring waarin lande soos Iran, Turkye, Katar, Saoedi-Arabië (en dalk Egipte, Tunisië en Libië) asook NAVO betrokke is. Selfs Rusland kan indirek (selfs direk?) daarby betrokke raak. So 'n oorlog sal die anti-Iran groepering redelik suksesvol binne 'n permanente alliansie met die Weste kan intrek.

Soos die Siriese konflik voortsleep, sal die twee opponerende Siriese groepe - wat hulle by die rebelle of die regering skaar - ook al duideliker uitkristaliseer. Die Siriese opposisie, wat redelik verdeeld is, sal moet begin saamwerk om 'n meer verteenwoordigende liggaam daar te stel met wie die "Vriende van Sirië" kan saamwerk. Daar is sommige onder die opposisie wat van mening is dat die invloed van die Moslembroeders in die Siriese Nasionale Raad te groot is en dat hulle Sirië op 'n ondemokratiese wyse sal regeer as hulle aan bewind kom.  Hulle is ook bang dat die Sunni's wraak op die regerende Alawiete sal neem. Hoe dit ook al sy, dit lyk of die Vrye Siriese Weermag die afname in geweld tydens die pogings om die VN-plan van Kofi Annan te implementeer, gebruik om beter te organiseer en te bewapen. Die Internasionale Rooi Kruis is van mening dat die konflik in dele van Sirië reeds as 'n burgeroorlog geklassifiseer moet word. Dit beteken dat die Siriese konflik waarskynlik nog lank sal voortduur - tot die Weste gereed is om betrokke te raak.  

5. Daar is verskeie algemene dinge wat hierby gevoeg kan word. So is daar die Israelse en NAVO se missielskilde wat al funksioneer, maar nog nie ten volle operasioneel is nie. Die Israeli's het hul nuut opgerigte skild 'n paar weke gelede getoets toe die Islamitiese Jihad Israel met missiele bestook het en dit was besonder suksesvol. Die VSA sal verder ook graag hul betrokkenheid in Afganistan wil afskaal voordat so 'n oorlog uitbreek (hul huidige betrokkenheid duur tot 2014). Op die afgelope NAVO vergadering is daar dan ook besluit dat die Afgaanse troepe vanaf mid-2013 die leiding in alle operasies sal begin neem.

En dan is daar natuurlik die VSA presidentsverkiesing in November. Dit is baie onwaarskynlik dat president Obama, wat homself as iemand voorhou wat vrede eerder as oorlog voorstaan, voor die verkiesing by 'n oorlog teen Iran betrokke sal raak. Alhoewel hy daarna meer gewillig sal wees, is die waarskynlikheid vir 'n oorlog baie groter as die Republikeinse kandidaat (waarskynlik Mitt Romney) die verkiesing in November wen.  Laastens is daar die Westerse olieboikot teen Iran waarvolgens lande wat Irannese olie invoer tot 28 Junie tyd het om ander verskaffers te vind. Dit sal hopenlik die impak van so 'n oorlog op die olieprys verminder.

Slot

Alhoewel die konflik met Iran die laaste tyd al minder in die nuus was, is die Weste onverpoosd besig om hulle op so 'n moontlike oorlog voor te berei. Die VSA het die laaste tyd aan verskeie oorlogsoefeninge in die Middellandse See, Jordanië (langs die Siriese grens) en elders deelgeneem. Daar is ook baie ander dinge wat stadig maar seker in plek skuif sodat die Westerse belange deur so 'n oorlog bevorder kan word.  Die heel belangrikste is seker om te verseker dat 'n wye Sunni-Moslem groepering van regoor die Midde-Ooste (en Noord-Afrika) by so 'n alliansie teen Iran ingesluit word.

Die hernude pogings om 'n ooreenkoms met Iran oor hul atoom verrykingsprogram te bereik, het wel die situasie ietwat getemper, maar ons moet dit waarskynlik in dieselfde lig sien as die destydse pogings om 'n kompromis met Nazi Duitsland te bereik. Dit is onwaarskynlik dat daar "vrede vir ons leeftyd" sal wees. Alhoewel niemand die toekoms kan voorspel nie, lyk dit so al of daar 'n baie groot oorlog op pad is.

 Skrywer: Dr Willie Mc Loud (http://www.wmcloud.blogspot.com/)

Sunday, 8 January 2012

Is 'n Irannese oorlog op hande? - 'n ondersoek na oorlog- en vredesiklusse

In hierdie artikel ondersoek ek die hipotese dat oorlog en vrede deel van 'n aaneenlopende siklus is wat herhalend voorkom.  Alhoewel sulke siklusse oënskynlik al vir eeue voorkom, fokus ek veral op die laaste eeu.  Om so 'n siklus sinvol te omskryf, bou ek voort op die werk van vroeë baanbrekers soos prof. Spykman van Yale Universiteit.  As ons veronderstel dat sulke siklusse met 'n finansiële krisis begin, gevolg deur 'n ekonomiese insinking, 'n groot oorlog en 'n daaropvolgende tyd van voorspoed, kan ons vier siklusse in die 1907-2007 periode onderskei.  Ons kan vra waarom sulke siklusse sou voorkom en kyk watter vooruitskouings op grond daarvan gemaak kan word.  As ons die model van oorlog- en vredesiklusse ernstig opneem, lyk dit of ons binne die volgende paar jaar 'n groot oorlog teen Iran te wagte kan wees.

Is oorlog en vrede bloot 'n onvoorspelbare aspek van ons wêreld?  Of is daar 'n sekere reëlmaat waarvolgens oorlog en vrede afwisselend op die wêreldtoneel voorkom?  Volgens sommige analiste is daar al vir baie eeue 'n sekere patroon waarvolgens opeenvolgende oorlog- en vredesiklusse mekaar opvolg.  Is dit werklik so?  En as dit inderdaad so blyk - wat is die implikasies vir ons wêreld?  Dit lyk of ons daaruit kan aflei dat 'n groot oorlog met Iran op hande is.

Vroeë baanbrekerswerk

In enige studie - ook van internasionale aangeleenthede - is dit belangrik om geskiedkundige tendense versigtig te ondersoek met die hoop dat ons daardeur iets omtrent die toekoms kan leer.  Die groot vraag is altyd of sulke tendense toevallig is en of dit deur een of ander patroon onderlê word.  As 'n patroon teenwoordig is, is daar gewoonlik een of ander onderliggende rede waarom dit voorkom.  Ons kan presies dieselfde in ons ondersoek na die moontlike bestaan van opeenvolgende oorlog- en vredesiklusse doen.  Indien daar wel getuienis vir die bestaan van sulke siklusse is, kan ons kyk wat so 'n model voorspel.

Een van die belangrikste studies wat ooit oor oorlog onderneem is, is die van Nicholas J. Spykman, Sterling professor van Internasionale Verhoudinge (Public Relations) aan die Yale Universiteit.  In sy studie, "America's Strategy in World Politics", wat deur die Yale Instituut van Internasionale Studies geborg en in 1942 gepubliseer is, maak hy die opspraakwekkende onthulling dat sekere oorloë - die waarin Brittanje deelneem - 'n duidelike sikliese patroon volg.  Volgens hom word die Britse beleid van die vorige paar eeue deur "a constant succession of cycles of shifting partners, isolation, alliance and war" gekenmerk.

Prof. Spykman onderskei drie verskillende tipes oorloë waaraan Brittanje deelgeneem het.  Die belangrikste tipe is die wat teen die lande gevoer is wat op 'n bepaalde stadium as imperialistiese Brittanje se grootste teenstanders beskou is.  Die doel was om die magsbalans binne die raamwerk van Europa vir hulleself te behou, en die politieke en gebiedsuitbreiding van enige Europese staat te verhoed.  Vir hierdie doel is militêre alliansies saamgestel wat telkens sterker as die van die opponente was. Hierdie alliansies het voortdurend verander namate die internasionale politieke situasie verander het. Dit is hierdie tipe oorloë wat deel was van 'n siklus van oorloë.  Die tweede tipe oorlog was die wat in effek daarop gerig was om die situasie vir die volgende groot oorlog op te stel.  Die derde tipe is imperialistiese oorloë wat daarop gerig was om beheer oor strategiese bronne te verkry.

Hy onderskei die volgende oorloë as deel van so 'n siklus:
1. Die Napoleontiese Oorlog van 1793-1815 teen Frankryk
2. Die Turkse Oorlog van 1827-1829 teen Turkye (en Egipte)
3. Die Krimeaanse Oorlog van 1853-1856 teen Rusland, (Pruise) en die VSA
4. Die Russies-Turkse Oorlog van 1977-1878 teen Rusland
5. Die Spaans-Amerikaanse Oorlog van 1898-1899 teen Spanje (en Duitsland)
6. Die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 teen Duitsland, Oostenryk-Hongarye, Turkye en Bulgarye
7. Die Tweede Wêreldoorlog van 1939-1945 teen Duitsland, Japan, Hongarye, (Italië) ens.

In sy boek oor die "City" van Londen getiteld "The Empire of 'The City', the Jekyll/Hyde nature of the British Government" (1946), skryf E.C. Knuth dat die eintlike hand agter hierdie oorloë die geldmagnate van die "City" van London is wat in effek agter die Bank van Engeland (wat 'n privaat besit is) verskuil is en in die naam van die "Crown" opereer.  Hy noem veral Lord Rothschild, wie se rol in hierdie verband duidelik blyk uit onder andere 'n verwysing in die Britse eerste minister David Lloyd George (1916-1922) se boek "Better Times".  Volgens hom het hierdie geldmagnate hulleself later versteek agter instellings soos die IMF en die Internasionale Bank vir Rekonstruksie en Ontwikkeling wat in 1944 by Bretton Woods ingestel is.  Volgens die statute van hierdie organisasies is hulle bo alle regsprosesse verhewe en is hulle immuun teen enige regsaksies (wat daarop gemik is om enige iets by hulle te soek, te konfiskeer of te vervreem). 

Knuth verwys verder na die betrokkenheid van die Franse by al die Britse sikliese oorloë sedert die Napoleontiese oorlog (1793-1815).  Volgens hom is die rede hiervoor dat die Franse finansiële oligargie onder leiding van Baron Edouard de Rothschild soortgelyke mag oor die Franse uitgeoefen het.  Ek moet hier noem dat hierdie Brits-Franse alliansie met president De Gaulle, wat die Franse uit NAVO se geïntegreerde militêre beheerstruktuur onttrek het, tot 'n einde gekom het en eers weer in 2010 deur president Sarkozy hernu is.  (In 'n artikel op hierdie blod, getiteld "Die Europese Unie - wat gaan aan?" bespreek ek die rol van die Gaulistiese Frans-Kontinentale opponente van die Anglo-Amerikaners in die totstandkoming van die Europese Unie).  Knut noem verder dat die Engelse geldbase onder leiding van Cicil Rhodes ook in 1902 'n alliansie met hul Amerikaanse eweknieë gesluit het.  Hierdie alliansie is goed gedokumenteer deur die bekende geskiedkundige, Prof. Carroll Quigley, in sy boek "The Anglo-American Establishment" (1949).  Hierdie alliansie geld steeds vandag.

Alhoewel ek tot nou nog net na die Britse sikliese oorloë verwys het, is die geldbase van die "City" in Brittanje asook in die VSA natuurlik ook belangrike rolspelers in die wêreldmarkte.  Die veronderstelde oorlog- en vredesiklusse staan dan ook ten nouste met die wêreldekonomie in verband.   'n Verdere boek wat veral op hierdie ekonomiese aspek fokus, is "War Cycles, Peace Cycles" (1985) van Richard Kelly Hoskins.  Volgens hom is die oorlog- en vredessiklusse 50 jaar lank, wat hom by die gevolgtrekking bring dat dit Jubilee siklusse is.  Hy onderskei 'n periode van hoë pryse en ekonomiese voorspoed en 'n periode van lae pryse, depressie en oorlog. Sy werk toon baie ooreenkoms, en is waarskynlik beïnvloed deur, die welbekende Kondratiev ekonomiese golfteorie wat siklusse van ongeveer 50 jaar postuleer.

Daar is sekerlik nog baie skrywers wat hieroor geskryf het, maar ek volstaan hiermee.  Van hierdie skrywers het redelik lank terug geskryf en dit is 'n ope vraag of hierdie siklusse nog steeds voorkom.  In hierdie artikel wil ek voorstel dat, alhoewel daar 'n groot element van onvoorspelbaarheid in die wêreldmarkte en ekonomie is, dit tog lyk of ons steeds sulke siklusse kan onderskei.  Na my mening moet ons nie die ekonomiese siklusse voorop stel nie, maar die oorlogsiklusse wat binne die ekonomiese siklusse ingebed is.  Tog is beide die oorlogstyd en die vredestyd van ekonomiese voorspoed onlosmaaklike dele van dieselfde siklus.

Oorlog- en vredesiklusse

Uit die werk van bogenoemde skrywers blyk dit dat die genoemde oorlog- en vredesiklusse na twee opeenvolgende periodes in een siklus verwys, naamlik een van finansiële krisis, ekonomiese insinking en oorlog en 'n daaropvolgende een van ekonomiese groei en voorspoed. In my ondersoek na historiese oorlog- en vredesiklusse het ek die gebeure van die afgelope eeu in ag geneem.

Ek veronderstel dat die oorlogsfase van die siklus tipies met 'n finansiële krisis begin wat lei tot 'n resessie/depressie en 'n periode van stagnasie, gevolg deur 'n groot oorlog teen een van die Anglo-Amerikaners se vernaamste imperialistiese mededingers.  Soms is daar wel 'n tyd van matige ekonomiese groei na die aanvanklike krisis, maar dit lei uiteindelik tot 'n resessie waarna die oorlog uitbreek. Tydens die oorlog word daar gepoog (nie altyd suksesvol nie) om die belangrikste politieke en ekonomiese mededingers wat in die voorafgaande vredestyd na vore getree het weer op hul plek te sit en die Anglo-Amerikaanse belange polities-territoriaal uit te bou.  Dit vestig ook 'n nuwe magsbalans wat daarop gemik is om al die belangrikste rolspelers in toom te hou.

Wat die vredesfase van die siklus betref, begin dit direk na die einde van die oorlog.  Dit word tipies deur 'n na-oorlogse resessie (a "reconversion crisis") gekenmerk, gevolg deur 'n redelike lang periode van groei en voorspoed.  Gedurende hierdie periode is daar soms kleinere ekonomiese insinkings.  Alhoewel dit 'n vredesfase genoem word, kom daar wel van die ander tipe oorloë in hierdie tyd voor waartydens die toneel vir die volgende groot oorlog reggeskuif word.  Tydens die vredesfase word daar gepoog om al meer lande in die raamwerk van wêreldhandel te betrek met die oënskynlike doel om die winste van die Anglo-Amerikaanse geldbase, wat bowenal 'n beleid van vrye handel nastreef, te optimeer.  

Ek kon sedert die begin van die vorige eeu vier sulke oorlog- en vredesiklusse siklusse onderskei.  Omdat die VSA na die Eerste Wêreldoorlog as die senior vennoot na vore getree het, fokus ek hoofsaaklik op hul rol gedurende hierdie periode. 

1. Die siklus begin met die paniek van 1907 en die gepaardgaande resessie van 1907-8 in die Westerse wêreld waartydens daar 'n 31% afname in die besigheidsaktiwiteit in die VSA was.  Dit is gevolg deur die resessies van 1910-11 en 1913-14.  Die 1907 gebeure het gekulmineer in die wet van 1914 waardeur die Federale Reserwe Bank (ook in privaat besit) ingestel is. In Brittanje was dit veral die 1913 depressie wat baie erg was.  Daarna het die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 gevolg waartydens Duitsland die belangrikste imperialistiese opponent was.  Hierdie oorlog het die VSA ekonomie weer laat inskop.  Brittanje het slegter gevaar en met 'n geweldige skuldlas daaruit gekom, gevolg deur die na-oorlogse depressie van 1919-21.  Die jare van 1921-1929 was goeie jare in die VSA, ook bekend as die "roaring twenties". Die periode het 22 jaar geduur.

2. Die siklus begin met die val van die aandelemark in 1929.  Dit is gevolg deur die "Groot Depressie" van 1929-1933, waartydens daar 'n 26.7% afname in die VSA se BBP was. Die globale ekonomiese insinking het tot laat in die 30's voortgeduur, met 'n verdere resessie in 1937.  Daarna het die Tweede Wêreldoorlog van 1939-1945 gevolg, weereens teen Duitsland en haar bondgenote.  Die na-oorlogse Jelta beraad het die magsbalans vir die volgende aantal dekades opgestel.  Die oorlog het weereens die VSA ekonomie laat inskop. Die tydperk 1945-56 was oor die algemeen 'n periode van groei, waarvan veral die vroeë 50's "booming years" was. Dit is wel in 1953 deur 'n effense resessie (die na-Koreaanse Oorlog resessie) onderbreek.  Die periode het 28 jaar geduur.

3. Die siklus begin nie met 'n finansiële krisis nie omdat daar 'n "nie-paniek" konsensus in finansiële kringe bestaan het.  Tog was die 1957-8 globale resessie die ergste sedert die Groot Depressie.  Hierdie insinking het tot in die vroeë 1960's geduur.  In 1961 sluit die VSA 'n militêre verdrag met die Suid-Viëtnamese regering.  Die eerste ondersteuningstroepe is in 1961 daarheen gestuur en daarna aanhoudend vermeerder totdat die VSA in 1965 direk by hierdie Koue Era militêre konflik betrokke geraak het (As mede-voorsitter van die Geneva ooreenkomste kon Brittanje nie openlik by die oorlog betrokke raak nie. Tog toon gedeklassifiseerde leërs dat Brittanje wel op klandestiene wyse daarby betrokke was).  Hierdie oorlog was hoofsaaklik daarop gemik om die USSR - wat op groot skaal indirek daarby betrokke was - se mag in te perk.  Enige direkte konfrontasie met daardie moondheid was onmoontlik omdat beide die VSA en die USSR kernwapens besit het.  Die VSA ekonomie het gedurende die oorlogsperiode van 1961-1969 gegroei. In 1973 (toe die VSA betrokkenheid by die oorlog beëindig is) volg die eerste oliekrisis en 'n gepaardgaande resessie, gevolg deur 'n groeiperiode.  Die periode het 22 jaar geduur.

4. Die siklus begin met die tweede energie krisis in 1979.  Dit is gevolg deur die globale resessie(s) van 1980-82.  Die 1981-2 resessie word as die ergste resessie sedert die Groot Depressie beskou. In 1982 het die Latyns-Amerikaanse staatskuld krisis ook dramaties geïntensifiseer.  Ek beskou die beroemde toespraak van president Ronald Reagan in 1982 waarin hy NAVO se groot vyand, die USSR, as "totalitarian evil" beskryf het as die begin van die dramatiese intensifisering van die Koue Oorlog. Van daardie tyd af het die VSA se militêre spandering geweldig gegroei en daarmee saam hul ekonomie (1982-90). (Aan die ander kant van die wêreld het die twee moondhede mekaar ook indirek in Afganistan die stryd aangesê).  Na die val van Kommunisme in 1989-91 het die langste periode van groei in die VSA gevolg. Dit is deur die dot.com insinking onderbreek (die aandelemark het baie ingesink maar die gepaardgaande resessie was matig) waarna daar 'n verdere tyd van besondere goeie groei was. Die periode het 28 jaar geduur.

5.  Die siklus begin met die finansiële krisis van 2007-11 en die Groot Resessie van 2008-9, die ergste sedert die Groot Depressie. Verder is daar die EU staatskuld krisis wat steeds voortduur.

Ons vind dat die totale oorlog- en vredesiklus, wat beide fases insluit, gemiddeld 25 jaar geduur het - die gemiddelde tydsduur van die oorlogsfase was 13.7 jaar; die van die vredesfase was 11.2 jaar.  Dit korrespondeer goed met die gemiddelde tydperk tussen die aanvang van die verskillende groot oorloë wat met voorspelbare reëlmaat op mekaar gevolg het, naamlik 23 jaar (Ek het al 9 oorloë sedert die begin van die Napoleontiese Oorlog in 1793 in ag geneem.)  Hierdie periode is omtrent die helfte van Hoskins se 50 jaar siklus (of die Kondratiev golf), wat impliseer dat hy in effek twee siklusse in een gereken het.    

Die resessies/depressies waarmee die siklusse begin het (1907-8, 1929-33, 1957-58, 1980-82, 2008-9) - wat telkens die groot oorloë voorafgegaan het - is nie alleen mooi uit mekaar gespasieer nie (22-28 jaar uitmekaar); dit verteenwoordig ook die ergste ekonomiese insinkings van die afgelope 100 jaar.  Dit is duidelik dat die militêre-industriële kompleks telkens tydens hierdie oorloë die Anglo-Amerikaanse ekonomieë na die groot insinkings laat inskop het.  (Lande soos China gebruik op hul beurt groot infrastruktuur projekte om die ekonomie aan te dryf).  Verder het dit ook die finansiële belange van die Anglo-Amerikaanse geldbase ten koste van hul belangrikste opponente in ander lande uitgebou.  Die siklusse het oënskynlik nie met die Tweede Wêreldoorlog tot 'n einde gekom het nie, maar duur steeds voort.  Wat wel belangrik is, is dat die gebruik van kernwapens tot gevolg gehad het dat daar sedert die Tweede Wêreldoorlog geen direkte konfrontasies tussen die Anglo-Amerikaanse geallieerde magte en hul opponent (die USSR) kon plaasvind nie.

'n Komende oorlog teen Iran?

Volgens my analise van die oorlog- en vredesiklusse, het die laaste siklus in 2007 begin.  Uit die tendense wat ons in die vorige siklusse waarneem, lyk dit of ons moontlik binnekort 'n verdere resessie en 'n daaropvolgende groot oorlog kan verwag.  Maar wanneer kan ons so 'n oorlog verwag?  Die gemiddelde tydsverloop van die begin van die siklus - met die aanbreek van die finansiële krisis - tot die uitbreek van die oorlog (of dan die Anglo-Amerikaanse betrokkenheid daarby) was 7 jaar gedurende die vorige vier siklusse. Dit beteken dat die jaar 2014 die grootste waarskynlikheid vir die uitbreek van so 'n oorlog het.  As ons egter in ag neem dat daar vanjaar (2012) reeds 30 jaar verloop het sedert die intensifisering van die Koue Oorlog - wat langer is as die gemiddelde tydsverloop van 23 jaar tussen die uitbreek van hierdie oorloë (die eerste twee oorloë wat ons in ag neem het ook 34 jaar uitmekaar begin) - dan lyk dit of hierdie oorlog selfs vroeër kan plaasvind.

Dit is nie moeilik om te voorspel watter land die volgende teiken van die Anglo-Amerikaanse oorlogsmasjien sal wees nie.  Dit is Iran.  Op hierdie stadium hou Iran die grootste bedreiging vir die Anglo-Amerikaanse belange in die Midde-Ooste in - veral omdat hulle binnekort kernwapens tot hul beskikking kan hê.  Soos al die vorige opponente van hierdie groep, het Iran ook 'n imperialistiese ingesteldheid en ondersteun hulle verskillende lande en groepe buite hul grense wat die Weste vyandig gesind is.

Die Anglo-Amerikaners het dan ook deur 'n hele aantal oorloë oor die laaste paar jaar - die twee Golfoorloë, die oorlog in Afganistan en die Libiese oorlog - die toneel vir so 'n groot oorlog teen Iran opgestel.  Twee buurlande, naamlik Irak en Afganistan, het nou goeie verhoudings met die VSA (alhoewel Irak na die ontrekking van die VSA se troepe aan die einde van 2011 meer oop vir Irannese invloede is).  VSA troepe is ook al rondom Iran gestasioneer, naamlik in Afganistan, Koeweit, Bahrein, Katar, Jemen en Saoedi-Arabië.  Irak en Libië sal verseker dat die Weste selfs tydens so 'n oorlog toegang tot genoeg olie het. In 'n artikel op hierdie blog, naamlik "Oorlogswolke begin oor die Midde-Ooste saampak", bespreek ek die moontlike koalisies wat in so 'n oorlog teenoor mekaar te staan kan kom.  Omdat die Europese ekonomie baie erg deur die huidige ekonomiese krisis geraak word, verwag ek dat Brittanje en Frankryk 'n prominente rol in so 'n oorlog sal speel (om so die Europese ekonomie te laat inskop).

Dit is te betwyfel of die Anglo-Amerikaners sal poog om Iran heeltemal as 'n vyand te elimineer. Die insluiting van verskeie Arabiese lande by hul koalisie berus op die voortbestaan van die Irannese bedreiging. Dit is verder moontlik dat so 'n oorlog teen Iran die eerste van verskeie sal wees, net soos wat daar twee Wêreldoorloë teen Duitsland en twee groot oorloë teen die USSR gevoer is - die Viëtnamese Oorlog en die (finale intensifisering van die) Koue Oorlog.  Na so 'n Irannese Oorlog sal 'n nuwe magsbalans tussen die groot moondhede (die VSA, die EU en Rusland) in die Midde-Ooste gevestig word.  Ons kan byvoorbeeld verwag dat Sirië deel van die Westerse invloedsfeer kan word.

Slotgedagtes

Uiteindelik ken niemand die toekoms nie.  Hierdie is ook nie 'n poging om die toekoms te voorspel nie. Wat ek in hierdie artikel doen, is om die historiese oorlog- en vredesiklusse te ondersoek en te bepaal of daar genoegsame getuienis vir die bestaan van sulke siklusse is.  My gevolgtrekking is dat dit inderdaad lyk of sulke siklusse voorkom.  Alhoewel daar 'n element van willekeurigheid is, is dit moontlik dat ons die herhalende elemente kan gebruik as 'n model om sekere vooruitskouings omtrent die toekoms te maak.  Op grond daarvan kan ons 'n verdere ekonomiese insinking voorsien - wat tipies direk voor die uitbreek van die oorlog voorkom - asook 'n daaropvolgende oorlog.  Ander oorwegings toon dat Iran die mees waarskynlike Anglo-Amerikaanse opponent tydens so 'n oorlog sal wees. Dit lyk of ons in die volgende paar jaar 'n groot oorlog teen Iran kan verwag.

Indien hierdie vooruitskouings korrek is, sal ons meer vertroue in die bestaan van oorlog- en vredesiklusse kan hê.  Dit sal impliseer dat ons nie maar hierdie patrone in die geskiedenis inlees nie, maar dat dit waarskynlik werklik bestaan. As dit so uitkom, sal ons ook ander aspekte van die siklusse verder kan ondersoek.

Willie Mc Loud
Ref. wmcloud.blogspot.com

Monday, 5 December 2011

Oorlogswolke begin oor die Midde-Ooste saampak

Die situasie in Sirië het die laaste tyd baie versleg en die konflik aldaar het die potensiaal om dramaties te eskaleer.  Gaan Sirië dieselfde pad as Tunisië, Egipte en Libië loop deurdat die populêre opstand uiteindelik op die val van die regime uitloop? Of gaan die konflik in Sirië tot 'n oorlog uitkring waarby die omringende lande ingesuig word?  Gaan Iran uiteindelik daarby ingesleep word?  In Die Arabiese Opstande het ek voorgestel dat ons in die afsienbare toekoms so 'n oorlog kan sien.

Die outokratiese regerings van Tunisië, Egipte en Libië het geval.  Gaan Sirië volgende aan die beurt wees?  Die situasie in Sirië is stadig maar seker besig om te intensifiseer.  Aangesien die rewolusies in die ander lande nou al op 'n manier besleg is, is al die aandag op die oomblik op Sirië.  Anders as met die ander lande, het Sirië egter 'n paar belangrike bondgenote, wat nie alleen aan daardie regering meer beweegruimte bied nie, maar wat ook daartoe kan lei dat die situasie uiteindelik op 'n Midde-Oosterse oorlog uitloop.  Ons kan reeds sien hoedat die opponerende koalisies begin vorm aanneem.  As dinge verder versleg, kan hierdie groepe maklik in 'n oorlog teenoor mekaar te staan kom.  Daar is egter baie nuanses wat in ag geneem moet word.
 
Die Siriese situasie 

Die populêre opstand in Sirië is nou al vir bykans 'n jaar aan die gang.  Sedert dit in Maart vanjaar in 'n volskaalse rewolusie ontwikkel het, het daar volgens Menseregte organisasies reeds meer as 4000 mense gesterf - maar die syfer is waarskynlik baie hoër.  Hierdie ongevalle syfer spruit voort uit die geweldadige wyse waarop die regering van president Bashar al-Assad probeer om die opstande te onderdruk.  Tenks en sluipskutters is in die dorpe waar die meeste opstande voorkom ontplooi.  Duisende betogers is al in hegtenis geneem en baie het as gevolg van marteling in aanhouding gesterf - dit sluit heelwat kinders in.

Dit intensiteit van die konflik het toegeneem toe al meer soldate uit die weermag begin dros het eerder as om op die betogers te skiet.  Hulle het die Vrye Siriese Weermag gevorm wat nou volgens berig al omtrent 20 000 lede het.  Skermutselings met die weermag begin toeneem en die term "burgeroorlog" word al meer gebruik.  Die Arabiese Bond het Sirië onlangs uitgeskop en sanksies teen die regering goedgekeur.  Die VN se menseregte raad het ook die geweld veroordeel.

Tog het die Buiteland nog nie - soos in die Libiese situasie - direk by die situasie in Sirië begin betrokke raak nie. Alhoewel daar al 'n poging by die VN se sekuriteitsraad was om die Siriese regering vir die geweld veroordeel, het Rusland en China dit geveto.  Die VSA en die EU het wel sanksies ingestel en alle olie invoere van Sirië gestaak.  Na die instelling van sanksies deur die Arabiese Bond, is daar nou weer 'n poging om die VN daarby te betrek, maar dit is onwaarskynlik dat Rusland daartoe sal instem.  Die Franse het voorgestel dat humanitêre korridors afgedwing word om mense te help om die geweld te ontvlug.  Die Turke het ook al van 'n buffersone langs die Turkse grens gepraat.  Daar is egter nog geen eenstemmigheid oor hierdie voorstelle of die implementering daarvan nie.

Sirië is anders as Libië

Alhoewel dit mag lyk of Sirië mettertyd dieselfde pad as Libië sal loop waar die VN 'n intervensie goedgekeur het om die mense teen die geweldadige optrede van die regering te beskerm, is daar belangrike verskille tussen hierdie lande.  Die belangrikste enkele verskil is seker die rol van Rusland.  Tot dusver in die konflik het die Russiese media die Siriese narratief oor gebeure nagepraat, naamlik dat die weermag nie teen weerlose betogers optree nie, maar teen gewapende boewe.

Die Russe, wat enige VN resolusie kan veto, het lang historiese bande met Sirië.  Hierdie bande gaan terug na die Koue Oorlog en Rusland het selfs nog militêre personeel op die grond in Sirië.  Hulle het ook onlangs 72 supersoniese cruise missiele, wat al 'n geruime tyd terug deur die Siriërs bestel en betaal is, afgelewer.  Dit het 'n reikwydte van 300km en is hoofsaaklik vir die verdediging van hul kuslyn bedoel.  Die Russe het ook 'n vliegdekskip en twee ondersteuningskepe na die Middellandse See gestuur (waar die VSA reeds 'n vliegdekskip het).

Die Russe sien Sirië as 'n baie belangrike strategiese vennoot in die Midde-Ooste.  Behalwe vir Iran, is dit die enigste land met wie hulle werklik diepliggende bande het.  As die rewolusie in Sirië sou slaag, en daar 'n demokraties-verkose regering aan bewind kom, sal die nuwe regering beslis nie dieselfde bande met Rusland handhaaf nie - juis vanweë die Russe se steun aan die Assad regering.  Rusland sal dus alles in hul vermoë doen om te verhoed dat die Libië situasie in Sirië herhaal word.

Daar is egter ook ander belangrike verskille.  Sirië het ook belangrike vennote in die direkte omgewing, terwyl die Libiese regering - behalwe vir sommige Afrika en Suid-Amerikaanse lande (waaronder Suid-Afrika!) - baie geïsoleerd was.  Daar is veral twee sulke lande, naamlik Iran en Libanon.  In Libanon het die militante Moslem groep, Hezbolla, tans 'n sterk invloed in die regering en hulle weier dan ook om die sanksies van die Arabiese Bond teen Sirië te implementeer (Sirië se ander buurlande, Irak en Jordanië, sal vanweë hul afhanklikheid van Siriese handel ook nie op hierdie stadium al die sanksies instel nie).  Die leier van Hezbolla, Hassan Nasrallah, het dit duidelik gestel dat hulle bereid is om saam met die Siriese regering te veg. Hulle is waarskynlik alreeds saam met die Irannese by die onderdrukking van die Siriese opstand betrokke.

Soos die Irannese, behoort Hezbolla tot die Shi'ite groepering onder die Moslems.  Ook die Alawiete, waartoe die Siriese heersers behoort, het uit die Shi'ites ontstaan. Hulle is 'n  minderheidsgroep in beide Sirië en Libanon.  Hierdie groepe is dus godsdienstige bondgenote.  Dit is dus moontlik dat hulle mettertyd by die konflik in Sirië ingesleep sal word. 

Die rol van Iran

Indien daar direkte buitelandse inmenging in Sirië plaasvind, kan dit uiteindelik gebeur dat Iran tot die konflik toetree.  Iran is baie magtiger as Sirië en indien dit sou gebeur dat hulle by die konflik betrek word, kan dit op 'n baie groot oorlog uitloop.  Die Westerse konflik met Iran het die laaste tyd ook dramatiese toegeneem nadat die Internasionale Atoomenergie Agentskap (IAEA) in hul verslag verlede maand genoem het dat daar aanduidings is dat Iran by die bou van kernwapens betrokke is. Israel het selfs met 'n aanval op die Irannese installasies gedreig.  Alhoewel hulle oogmerk waarskynlik is om die Russe en Chinese te beïnvloed om nie verdere sanksies teen Iran in die VN se veiligheidsraad te veto nie, is die Israeli's baie onvoorspelbaar en is so 'n aanval nie uitgesluit nie.  Hulle het vroeër ook die Siriese kernprogram met 'n aanval vernietig.   

Die aanval van Irannese betogers op die Britse ambassade in Teheran het die situasie verder laat versleg.  Beide lande het hul diplomatieke personeel onttrek en daar is dus nie veel kanale oop om enige misverstande wat mag opduik uit die weg te ruim nie (die VSA praat al lankal nie met die Irannese nie).  Verder het die Europese Unie nou ook sanksies teen Iran ingestel.  Hulle oorweeg selfs 'n boikot van Irannese olie - wat seker eers sal realiseer wanneer Libië se olieproduksie dit kan aanvul.  In geval van 'n militêre konflik sal die Weste dus nie van Iran se olie afhanklik wees nie.

Die NAVO magte beplan al lankal vir so 'n gebeurlikheid.  Dit is die groot rede waarom hulle al 'n geruime tyd daaraan werk om 'n missielskild vir die Europese lande op te rig.  Turkye het dan ook onlangs ingestem om 'n vroeë waarnemingstelsel as deel van 'n NAVO skild te huisves.  Dit het tot gevolg gehad dat 'n Irannese bevelvoerder gesê het dat Iran dit sal aanval as hulle bedreig word.  Die belangrikste rede waarom hierdie skild nog nie ten volle gerealiseer het nie, is omdat die Russe dit teenstaan.  Hulle is van mening dat so 'n skild maklik in 'n verdedigingskild teen Russiese missiele omgesit kan word.  Volgens hulle gaan dit teen die gedagte van wedersydse ontwapening in.  Dit lyk egter of daar nou met die oprigting daarvan voortgegaan word.      

'n Komende oorlog?

Ons vind dat die koalisies wat tydens so 'n oorlog teenoor mekaar te staan kan kom, al hoe duideliker uitkristaliseer.  Ek het reeds na die Siriese bondgenootskap met Iran en Libanon verwys.  Alhoewel Rusland hulle goedgesind is en Vladimer Putin, wat waarskynlik volgende jaar weer die Russiese president sal word, 'n baie hardvogtige houding jeens die Weste openbaar, sal Rusland nie somaar direk by so 'n konflik betrokke raak nie.  Rusland sal nie somaar so baie waag vir 'n land soos Sirië nie.

Wat 'n moontlike teen-koalisie betref, het die boikotaksie van die Arabiese Bond daardie lande in effek alreeds in 'n bondgenootskap teen Sirië verenig.  Sommige van daardie lande soos Katar, Jordanië en die Verenigde Emirate was ook vroeër by die aanvalle teen Libië betrokke.  Sommige ander lande, soos Saoedi-Arabië, is ook al vir jare aan die voorpunt van die stryd teen die Irannese invloed in die Midde-Ooste. Die vermeende sameswering van persone met Irannese bande om die Saoedi ambassadeur in die VSA te vermoor, het hul verhouding met Iran verder versuur.  Ook die Bahreinse regering het die Irannese onlangs daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om die brug na Saoedi-Arabië op te blaas.     

Die belangrikste ander Moslem land (buite die Arabiese Bond) wat deel van hierdie groepering uitmaak, is Turkye.  Turkye het deurentyd die Arabiese Bond oor Sirië gekonsulteer, en het ook hul eie sanksies teen Sirië ingestel.  Alhoewel Turkye amptelik 'n beleid van zero probleme met hul buurlande navolg, het die gebeure in Sirië hulle in direkte konfrontasie met daardie regering gebring.  Die rede hiervoor is dat Turkye hulleself as die model van 'n Moslem demokrasie beskou - as die segsman van die Moslem massas wat deur opstande demokrasie nastreef.  Die huidige bewindhebbers, die AK party (Adalet ve Kalkınma Partisi), is ook 'n gematigde godsdienstige Moslem party wat, soos die meeste lande van die Arabiese Bond, tot die Sunni groepering onder die Moslems behoort.  

Soos in Turkye, het sulke partye ook in beide Tunisië en Egipte (en moontlik ook Libië) die meerderheid steun.  Alhoewel Iran hierdie groepe as vennote wil sien in hul anti-Westelike benadering, is hierdie groepe in effek alreeds deel van die Westers-gesinde groepering van Moslemlande.  Die rede hiervoor is dat hul Moslembroeders in Sirië in die voorste linie teen die Assad regering betrokke is.  Hulle staan dus in opposisie tot die Siriese regering.  Die lande waar hierdie groepe na die rewolusie deel van die nuwe regerings vorm, is dan ook almal deel van die Arabiese Bond state wat die sanksies teen Sirië ingestel het.  Verder word hierdie groepe deesdae oor die algemeen in die Westerse media in 'n positiewe lig uitgebeeld as "gematig" (mild) godsdienstig en dit lyk of die Westerse regerings oor die algemeen 'n positiewe houding jeens hulle het. Hulle verteenwoordig 'n Islamitiese middelgrond teenoor die uiters konserwatiewe Salafiste.

Die enigste rede waarom baie persone in daardie Islamitiese kringe nie met so 'n pro-Westerse alliansie gemaklik sal wees nie, is omdat een so 'n groep, Hamas, die groot vyand van Israel in Gaza is.  Indien Israel in die alliansie teen Iran ingesluit word, kan hierdie uitgebreide Moslem alliansie teen Sirië en Iran wankelrig raak.  Dit is waarom die Siriese groepering sal probeer om Israel by die konflik in te sleep (soos Saddam Hoessein ook destyds probeer doen het) en waarom die VSA alles in hul vermoë sal doen om Israel daaruit te hou of die vredesproses aan die gang te kry (wat nie somaar sal gebeur nie).  Die verbreking van bande tussen Turkye en Israel na die flotilla debakel kan moontlik ook in hierdie lig gesien word.

Hoe sal dit gebeur?


Ons kan duidelik sien hoedat 'n moontlike alliansie teen Sirië en Iran begin vorm aanneem.  Die konflik tussen die twee groeperinge het ook in die laaste maand dramaties toegeneem - alhoewel dit natuurlik nog net op 'n mondelinge vlak is.  Indien die situasie verder versleg, kan enige vonk die kruitvat laat ontplof.  Dit is moontlik dat Turkye uiteindelik nie meer bereid sal wees om op die kantlyn te sit terwyl die dodetal in Sirië toeneem nie.  In so 'n geval sal hulle - ten spyte van die Russiese veto - saam met sekere bondgenote by 'n humanitêre aksie aldaar betrokke raak.  Sodra dit gebeur is die weg oop vir enige van die ander lande om hulle van enige kant by die konflik aan te sluit.  Daar is natuurlik verskeie ander dinge wat ook tot so 'n oorlog aanleiding kan gee.


Alhoewel dit mag lyk of hierdie opbou na 'n konflik spontaan gebeur, is dit nie die geval nie.  In my boek oor die Arabiese opstande bespreek ek die opeenvolgende vredes- en oorlogsfases waardeur die wêreld gaan.  Ek gaan dit nie nou hier bespreek nie.  Die rede waarom Iran in die spervuur kom, is omdat hulle die belangrikste kwesbare opponent van die Westerse belange in die Midde-Ooste verteenwoordig.  Die groot aansporing vir al Iran se vyande - ook in die Midde-Ooste - is om te verhoed dat hulle 'n kernwapen ontwikkel.  Indien dit gebeur, sal die Midde-Oosterse magsbalans dramaties ten gunste van Iran draai.  Lande maak nie oorlog as hul opponente kernwapens het nie - dit sal dus as 'n afskrikmiddel vir enige aggressie teen Iran dien.  

Slotgedagtes

 
Alhoewel ons kan vind dat Rusland uiteindelik toegee aan die oproep vir buitelandse betrokkenheid by Sirië en daardie regering soos die Libiese regering tot 'n val kom, lyk so 'n uitkoms baie onwaarskynlik. Rusland sal waarskynlik aanhou om hul veto te gebruik - en dit kan daartoe lei dat die konflik dramaties eskaleer omdat die Westerse lande (waarby ek veral Turkye insluit) se morele beskouing hulle uiteindelik sal dwing om betrokke te raak.  Dit kan dan tot oorlog lei - wat nie deur die VN se sekuriteitsraad gereguleer word nie.  

Dit is sekerlik moontlik dat gemoedere weer op een of ander wyse kan kalmeer.  Sanksies kan die Siriese regering dwing om toegewings te maak en 'n onderhandelde skikking met die opposisie te bereik.  Op hierdie stadium lyk so 'n uitkoms baie onwaarskynlik.  Solank die Libanese banke die Siriërs help en Rusland hulle ondersteun, het hulle nie veel rede om tot 'n skikking te kom nie.  Die Siriese heersers weet baie goed dat hulle nie alleen onttroon sal word soos in Tunisië en Egipte nie, maar dat hulle ook vir misdade teen die mensdom vervolg sal word. Hulle is reeds by die omdraaipunt verby.

Willie Mc Loud