In hierdie artikel word die geloofwaardigheid van die Bybelse verhaal oor die uittog van Israel uit Egipte bespreek. As daar geen argeologiese bewyse vir die uittog is nie, beteken dit dat ons om daardie rede die historisiteit daarvan moet betwyfel? Dat dit dus nie plaasgevind het nie? Hierdie vrae het baie te doen met die vermoë van argeologie om finale uitsprake te maak. Die eintlike vraag is dus: Wat is die limiete van argeologie en teksstudies, en hoe raak dit ons verstaan van die uittog. Die artikel (met voorskrif) het in die September 2012 uitgawe van die tydskrif Markplein verskyn.
Daar het die laaste paar maande (sedert Markplein 2012/01) 'n intense gesprek oor die beperkinge van argeologie en teksstudies ontstaan, met spesifieke verwysing na die Israeliete se uittog. Ek het in 'n aantal briewe aangevoer dat Diek van Wyk (sien sy artikels in Markplein 2012/04 en 2012/05) en Sakkie Spangenberg (sien sy reaksie in Markplein 2012/06) vanuit 'n modernistiese perspektief te hoog opgee vir hierdie dissiplines. Ek het in hierdie verband selfs van "pseudo-wetenskaplikheid" gepraat, onder andere in verwysing na "Bybelwetenskap". In hierdie artikel bespreek ek die limiete van beide argeologie en teksstudies (Bybelwetenskap) in meer detail.
Die wetenskap word tradisioneel in Afrikaanse kringe baie hoog aangeslaan. Daar word algemeen aanvaar dat wetenskaplikes weet waarvan hulle praat. Ons vind dan ook dat feitlik alle dissiplines in Afrikaans as "wetenskappe" beskryf word - so ook argeologie en teksstudies (Bybelwetenskap). Maar hoe wetenskaplik is hierdie "wetenskappe"? Wat is die limiete van hierdie dissiplines? En wat is die implikasies daarvan vir uitsprake wat hierdie dissiplines kan en nie kan maak nie? Ook ten opsigte van die historisiteit van Bybelse verhale soos die uittog.
Daar was 'n tyd toe alle dissiplines gepoog het om as empiriese wetenskappe (dit is wat in Engels onder "wetenskap" verstaan word) erken te word. So ook argeologie en teksstudies. Maar is hierdie empiriese wetenskappe? Alhoewel argeoloë met waarneembare objekte werk, en dit dus as 'n empiriese dissipline beskou kan word, voldoen dit nie aan die vereistes van 'n empiriese wetenskap soos dit wêreldwyd verstaan word nie. Die belangrikste onderliggende rede hiervoor is dat argeoloë nie toegang het tot die historiese werklikheid (soos dit destyds bestaan het) wat hulle ondersoek nie - die argeologiese rekord is altyd onherroeplik onvolledig. Ook teksstudies - wat vandag as 'n hermeneutiese (interpreterende) dissipline erken word - het geen toegang tot die werklike teksgeskiedenisse (ook nie van die Bybel) nie. Daarteenoor ondersoek beide natuur- en sosiale wetenskaplikes 'n huidig-bestaande (alhoewel ontoeganklike) werklikheid.
As gevolg van hierdie beperking kom argeoloë (teksstudies word later aangespreek) voor twee onoorbrugbare probleme te staan. Ten eerste is alle opgrawings 'n nie-herhaalbare ervaring. Ander argeoloë sou nie noodwendig tot dieselfde gevolgtrekkings kom nie. Daar is 'n menigte gevalle waar argeoloë oor die interpretasie van opgrawings verskil. Ten tweede weet argeoloë nooit of hul data (statisties gesproke) verteenwoordigend van die destydse historiese situasie is nie. Opgrawings is nie herhaalbare eksperimente soos in die natuurwetenskappe of gekontroleerde ondersoeke soos in die geesteswetenskappe nie. Alhoewel argeologie "ervaring" insluit, is opgrawings nie eksperimente nie; opgrawings is nie herhaalbaar of 'n verteenwoordigende steekproef nie. In die tyd van die sogenaamde Nuwe Argeologie in die vroeë sestiger jare is daar nog gepoog om argeologie op 'n "wetenskaplike" basis te plaas, maar daardie benadering het intussen plek gemaak vir "Postprosesualisme", wat kontekstuele en interpreterende argeologie insluit. Sedertdien is daar ruimte vir 'n "plurality of readings" ooreenkomstig verskillende interpretasies soos Julian Thomas skryf: "[E]ven artifacts will be understood in different ways by people who come to them with different understandings which emerge from different social experiences... In understanding may give rise to hegemonic struggles over the definition of reality. It would be a mistake to argue in these circumstances that one group has a true appreciation of the situation, while another is laboring under false consciousness" [1]. Daar is vandag in die filosofie van argeologie 'n reaksie teen vroeëre hegemoniese pogings tot beheer oor interpretasie (wat voortbou op die Franse filosoof Michel Foucault se werk oor "mag").
Argeologie het dood gewoon nie die vermoë wat soms (veral deur argeoloë self) daaraan toegeken word nie. In baie gevalle het daar net nie genoeg bewyse oorgebly om die literêre bronne te bevestig of te ontken nie. Alhoewel argeoloë soms weens 'n gebrek aan bewyse aanvaar dat sekere gebeure (soos die uittog) nie plaasgevind het nie, is dit 'n positivisties-modernistiese aanslag wat nie deur enige wetenskapfilosoof onderskryf kan word nie. Geen bewyse is beslis nie 'n bewys van geen bewyse nie. Ten spyte hiervan het sommige argeoloë 'n oordadige vertroue (so tipies van die modernisme) in die genoegsaamheid van die argeologiese bewyslas soos blyk uit Diek se aanhaling van die argeoloog William G. Dever, wat selfversekerd noem dat argeologiese data as "primêre bron" gebruik moet word om die geskiedenis (soos die van Israel) te rekonstrueer. Alhoewel argeologiese data sekerlik 'n belangrike bron van inligting is, is dit beslis nie die enigste nie en die verheffing daarvan tot "primêre bron" gaan teen al die problematiek van praktiese argeologie in. Ek kan hoeveel voorbeelde gee om die ontoereikendheid van argeologiese data te illustreer. Neem byvoorbeeld die oorblyfsels van die Akkadiese Ryk (ca. 2300-2100 vC) - wat deur die millennia as die grootste van alle ryke in antieke Mesopotamië onthou is. Mario Liverani skryf: "If we didn't know from the texts that the Akkad empire really existed, we would not be able to postulate it from changes in settlement pattern, nor from the evolution of material culture" [2]. Ons kan dieselfde omtrent die Dawidiese ryk sê. Voor die ontdekking van die Tel Dan stela 'n paar jaar gelede, waarop die woorde "huis van Dawid" verskyn, was daar 'n konsensus onder baie geleerdes dat hy nooit gelewe het nie.
Wanneer dit by migrasie kom (soos die uittog en intog van Israel), is die situasie selfs nog meer problematies. Die argeologiese getuienis wat met migrasie verband hou is so oop vir interpretasie dat argeoloë in baie gevalle nie kan besluit hoe om die argeologiese rekord te interpreteer nie. Ek gee verskeie voorbeelde van sulke verskille in interpretasie in my artikel "A critique of archaeology as a science" wat op 19 Augustus 2012 op my blog gepos is by www.wmcloud.blogspot.com. In baie gevalle sou argeoloë nooit van sulke migrasies weet as dit nie in literêre bronne vermeld is nie. Neem byvoorbeeld die migrasie van die handelaars wat hulleself in die Ou Assiriese periode (ca.1800 v.C.) in Anatolië (in die hedendaagse Turkye) gaan vestig het. Malcolm Weiner skryf hieromtrent: “As Machfeld Mellink, James Mellaart and others have observed, had the tablets not survived little else would suggest the existence of an Assyrian colony, since the colonists adopted local architecture and pottery... Tablets tell us of many Assyrian trading colonies in Anatolia... [i]t would be very difficult to identify something which is specifically Assyrian without the tablets” [3]. Sonder die tekste sou argeoloë nie vermoed het dat groot getalle Assiriërs na Anatolië migreer het en daar teenwoordig was nie. Alhoewel ek kan verstaan dat Dick skryf "Dit spreek dus vanself dat die Israeliete op hul staanplekke in die Sinai-woestyn ook oorblyfsels moes nagelaat het" (Markplein 2012/05), is dit duidelik dat die situasie allermins so eenvoudig is. Alhoewel die Bybel die roete aandui waarlangs die Israeliete sou trek, verskil navorsers oor die interpretasie van die gegewens. Die Israeliete sou voorts lank op 'n plek moes bly om noemenswaardige getuienis agter te laat. Die Sinai is soos die Bybel noem en ekself al meermale gesien het, 'n "groot en vreeslike" woestyn waar die hitte, winde en stortreëns alle oorblyfsels tot niet maak en bedek. Om na oorblyfsels daar te soek is soos om na die spreekwoordelike naald in 'n hooimied te soek (nie dat daar al deeglik gesoek is nie!).
Daar is selfs 'n verdere probleem, naamlik dat daar in die tyd van die Nuwe Argeologie 'n sterk partydigheid in argeologiese kringe teen migrasie was soos David Anthony skryf: "Migration has been demonized and has mystified Western archaeologists since the rise of ‘New Archaeology’ in the late 1960’s… Several writers have noted that the rise and fall of the popularity of migration and diffusion in western archaeology seems closely linked to the prevailing milieu in politics, national interests and intellectual trends” [4]. Dit toon dat baie nie-wetenskaplike invloede 'n impak op argeologiese sieninge het en dat "polities korrekte" sieninge soms op hegemoniese wyse afgedwing word. Alle argeologiese data is wyd oop vir interpretasie - die hegemonie van polities korrektheid gee erkenning aan sekere sieninge en wys andere af. Ina Brand vertel in Markplein 2012/07 hoe hierdie aanslag steeds in die praktyk onder argeoloë voorkom. Sy skryf: "In die jongste tyd is daar egter 'n beweging wat die Bybel as artefak heeltemal wil verban en dit as blote propaganda-fiksie wil uithou uit alle argeologiese bevinding". Geen wonder dat daar so geredelik in krities-argeologiese kringe aanvaar word dat die uittog nie plaasgevind het nie.
In enige ondersoek na die verlede is tekste soos die Bybel ook belangrik. Die belangrikste vraag omtrent tekste is: hoe betroubaar is die inligting wat daarin voorkom? Om hierdie saak te ondersoek word die teksgeskiedenis van tekste soos die Bybel bestudeer. Dissiplines soos teksstudies het egter dieselfde probleem as argeologie, naamlik dat die werklike teksgeskiedenis onherroeplik verlore is. In die tyd van positivisme is daar veronderstel dat niks omtrent 'n teks soos die Bybel geglo kan word as dit nie deur argeologiese bewyse gesteun word nie. Daar is oordadig krities na die teks gekyk en mettertyd is daar op grond van verkeerde verwagtinge aanvaar dat die meeste van die gebeure wat daarin vertel word nie plaasgevind het nie. Vandag weet ons egter dat argeologie nie 'n empiriese wetenskap is nie en dat feitlik alle argeologiese data onvolledig, onder-verteenwoordigend en voorlopig is. In soverre teksstudies in die positivisties-modernistiese metodiek van die verlede gegrond is (wat ook alle wondergebeure in beginsel ontken) en steeds so 'n aanslag volg, is dit ten diepste gekompromitteer. Omdat die data wat vir die bevestiging van hipoteses en uiteindelik teorieë gebruik word, so voorlopig en oop vir interpretasie is, staan dissiplines soos teksstudies op dryfsand en daar is geen manier waarop daardie geleerdes kan bewys dat hul teorieë beter met die historiese situasie ooreenkom as die tradisionele beskouing wat die inligting in die teks as betroubaar aanvaar nie. Dit is geen wonder dat 'n bekende Christen filosoof soos Alvin Plantinga die volgende sê nie: "There is no compelling or even reasonably decent argument for supposing that the procedures and assumptions of [historical Biblical criticism] are to be preferred to those of traditional Biblical commentary" (Biblical Archaeology Review Jul/Aug 2012).
Met hierdie agtergrond kan ons in meer detail op die uittog fokus. As ons die genoemde problematiek omtrent sulke migrasies in ag neem, asook die voortdurende stryery onder argeoloë oor die interpretasie van argeologiese fondse en datering (veral wat Israel betref), dan is dit glad nie voor die hand liggend waarom die uittog ontken moet word nie. Soos James K. Hoffmeier in sy boek The Archaeology of the Bible (2008) aantoon, is daar heelwat ondersteunende getuienis vir die Bybelse verhaal oor Israel se verblyf in Egipte, die uittog en die verowering van Kanaan. Ek noem enkele voorbeelde. Daar is uitbeeldings van Semitiese slawe wat stene maak (en deur stokke geslaan word) uit die tyd van koning Thutmose III van die Agtiende Dinastie (1479-1425 v.C.). Alhoewel daar nie fisiese bewyse vir Israel se tyd in die woestyn is nie, is daar wel getuienis dat Jerigo verwoes is en daarna vir lank onbewoond was soos in die Bybel vertel word (Jos. 6:26; 1 Kon. 16:34). Hierdie verwoesting is aanvanklik deur John Garstang tot ca.1400 v.C. gedateer, maar Kathleen Kenyon het dit later tot ca.1550 v.C. herdateer. Onlangs het Bryant Wood egter geargumenteer dat Kenyon sekere krities-belangrike pottery verkeerd gedateer het en dat Garstang se datering reg was. Hierdie datum kom goed met die Bybelse datering ooreen. Hoffmeier verskil met W.F Albright se teorie van 'n dramatiese verwoesting van Kanaänitiese stede en onderskryf 'n "limited conquest of key sites in strategic areas" ooreenkomstig die inligting in Josua 11:3 en Exodus 23:29-30. Hiervolgens is net Jerigo, Ai en Hazor verbrand. Daar is inderdaad bewys dat Hazor ook in daardie tyd verbrand is (die datum is ietwat onseker). Die naam "Israel" word die eerste (en enigste) keer in 1208 v.C. in 'n Egiptiese inskripsie, deur koning Merneptah, die seun en opvolger van Raamses II, genoem in 'n konteks wat op hul teenwoordigheid in die land dui. Rondom hierdie tyd is daar skielik 'n dramatiese toename in landbou dorpies in Israel waarneembaar (93% van hierdie dorpe is nuut). Dit word tipies met die aanwas van Israel in die nuwe land verbind. Die monoteïstiese hervormings van Akhenaten van die Agtiende Dinastie (1352-1336 v.C.) hou dalk ook met Israel se vroeëre verblyf in Egipte verband.
Daar kan uiteindelik verskeie narratiewe omtrent die uittog gekonstrueer word. Diek verwys na die narratief van die argeoloë Israel Finkelstein en Neil Asher Silberman (Markplein 2012/05). Hulle is van mening dat die verhale oor die uittog in die sewende eeu v.C. in die tyd van koning Josia saamgesnoer is. In hierdie geval sou die verhaal op ‘n metaforiese vlak uitdrukking gee aan die stryd tussen die jong koning Josia en farao Necho en aan die vrese, aspirasies en hoop op ‘n nuwe toekoms van die Juda van die tyd. Hierdie narratief aanvaar dat die uittog nie plaasgevind het nie en probeer verduidelik waar die verhaal ontstaan het. Alhoewel hierdie hipotese op die oomblik vir sommige geleerdes sin maak, sal die volgende geslag waarskynlik (soos tipies in hierdie milieu gebeur) nie veel waarde daaraan heg nie.
Hierteenoor onderskryf ek die tradisionele narratief. Dit is na my mening uit die Bybelse teks duidelik dat die verhaal van die uittog ten diepste in die Israelitiese psige ingeweef was. Mense soos ek wat die gediskrediteerde histories-kritiese paradigma wat uit die modernisme gegroei het verwerp, kan geen rede sien waarom die Bybelse inligting omtrent die uittog nie aanvaar kan word nie. Saam met Richard Averbeck (in 'n artikel in die boek "Mesopotamia and the Bible", sien p107) is ek van mening dat die Bybelse verhale deur die eeue sorgvuldig in die raamwerk van 'n aaneenlopende tradisie oorgedra en opgeteken is soos daar op baie plekke in die Bybelse teks genoem word [5]. Argeologiese data korreleer ook heel goed met die inligting in die Bybel. Ek sluit af met 'n aanhaling uit my boek Op soek na Abraham en sy God (Griffel, 2012): "Alhoewel daar 'n sekere kritiese weergawe oor die Bybelse teks saamgestel kan word... (wat) dit as laat en vol twyfelagtige legendes afmaak, kan daar na my mening 'n beter weergawe saamgestel word wat toon dat dit goed met ander buite-Bybelse tekste en argeologiese data korreleer" (p109).
[1] Thomas, Julian. 2005. Materiality and the Social. In Pedro Paulo Funari, Andres Zarankin and Emily Stovel (eds.), Global Archaeological Theory. Contextual Voices and Contemporary Thoughts. New York: Kluwer Academic/Plenum Publishers.
[2] Liverani, M. 1993. Akkad: An Introduction. In Mario Livernai (ed.), Akkad. The First World Empire: structure, ideology and traditions. Padova: Sargon srl.
[3] Wiener, Malcolm H. 1984. Crete and the Cyclades in LM I: The tale of the conical cups. In Hägg, R. and Marinatos, N. (eds.), The Minoan Thalassocracy, Myth and Reality. Stockholm.
[4] Anthony, David W. 1997. Prehistoric Migration as Social Process. In Chapman, J. and Hamerow, H. (eds.), Migrations and Invasions in Archaeological Explanation, BAR International Series 664. Oxford: Archaeopress, Oxford.
[5] Averbeck, Richard E. 2002. Mesopotamia and the Bible. In Mark W. Chavalas & K. Lawson Younger (jr) (eds.), Sumer, the Bible, and Comparative Method; Historiography and Temple Building. Grand Rapids: Baker Academic.
Willie Mc Loud
Dr Willie Mc Loud se ander skrywes aan Markplein is ook op hierdie blog gepos (www.wmcloud.blogspot.com) en kan gelees word deur op die sleutelwoord "Markplein" regs op die blog te klik.
Klik om te lees: A critique of archaeology as a science
Asook A critique of Biblical Criticism as a scholarly discipline
Showing posts with label oorspronge. Show all posts

Sunday, 3 February 2013
Monday, 3 September 2012
Abraham is die skakel
Is daar enige bewyse dat Abraham 'n historiese figuur was soos wat in die Genesis verhaal vertel word? Dit is die tema van hoofstuk 1 van my nuwe boek oor Abraham en sy God wat hier gepos word.
“En Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en Sarai, sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en dié het saam met hulle uit Ur van die Chaldeërs getrek om na die land Kanaän te gaan” (Gen. 11: 31).
Ons studie begin by Abraham (eers Abram genoem). Volgens die Bybel was Abraham een van die belangrikste voorouers van Israel. God het hom geroep terwyl hy nog in die stad Ur in die suidelike Sumeriese vlaktes gewoon het (Gen. 11: 28, 12: 1, 15: 7; Hand. 7: 2). Alhoewel die Bybel nie daaroor uitbrei nie, kry ’n mens die indruk dat sy familie toe alreeds vir baie jare daar woonagtig was. Die Bybel verwys na dié stad as Ur “van die Chaldeërs” – wat aandui watter Ur ter sprake is. Die Chaldeërs is ’n ander naam vir die Neo-Babiloniërs en die uitdrukking word sporadies vanaf die tiende eeu v.C. vir die gebied suid van die stad Babel gebruik.
Ur is ’n baie ou Mesopotamiese stad wat naby die mond van die Eufraatrivier by die Persiese Golf geleë was. Die seevlak het sedertdien gedaal en die ruïnes van Ur (Tell el-Huqayyar) lê vandag redelik ver van die see. Dit was ’n baie belangrike Sumeriese stad wat tot so laat as die laaste deel van die derde millennium v.C. (±2000 v.C.) nog die sentrum van die Sumeriese kultuur was. In daardie tyd was dit die hoofstad van die konings van die Derde Dinastie van Ur (Ur III) – die laaste Sumeriese heersers wat oor Mesopotamië sou regeer.
Volgens die Bybel het Abraham saam met ’n aantal van sy familielede uit Ur na die land Kanaän geïmmigreer. Hulle het al met die Eufraatrivier op tot by die stad Haran getrek en vandaar suidwaarts na Kanaän. Abraham verteenwoordig dus ’n baie belangrike skakel tussen die antieke Sumeriese beskawing en die latere Israel. As
ons oorblyfsels van die Sumeriese tradisie in die Israelitiese literatuur waarneem, dan moet ons die moontlikheid oorweeg dat dit ten minste gedeeltelik deur Abraham na Sumerië teruggaan – dit is nou as ons die Abrahamse verhaal ernstig kan opneem …
’n Historiese Abraham?
As ons die geskiedkundigheid van die Abraham-verhaal wil ondersoek, moet ons eers weet wanneer hy sou lewe. Om ’n datum vir Abraham vas te stel, word twee belangrike jaartellings in die Bybel gebruik, naamlik die tydsduur van Abraham se koms na Kanaän tot Israel se uittog uit Egipte (Eks. 12: 40) asook die tydsduur van die uittog tot die bou van die tempel (1 Kon. 6: 1).
Volgens die Joodse geskiedskrywer, Josefus (Antiquities of the Jews, XV: 2), wat kort ná die tyd van Christus geskryf het, het Abraham 430 jaar voor die uittog uit Egipte in Kanaän aangekom. Ons vind hierdie selfde inligting in die Nuwe Testament (Gal. 3: 16, 17) waar Paulus (soos baie ander Nuwe Testamentiese skrywers) uit die Septuaginta, die Griekse vertaling van die Bybel wat uit die tyd voor Christus dateer, aanhaal. Ons lees in die Septuaginta: “Now the sojourning of the children of Israel, and of their fathers, which they sojourned in the land of Canaan and in the land of Egypt, was 430 years” (Eks. 12: 40). Ons Bybel (in al die vertalings) laat die gedeelte weg wat ek in kursief geplaas het [5]. Verder was die tydsduur van die uittog tot die vierde jaar van koning Salomo, toe hy met die bou van die tempel begin het, 480 jaar (1 Kon. 6: 1). Dit verskil weereens van die Septuaginta wat die getal jare as 440 aangee. As ons die huidige aanvaarde datum vir die vierde regeringsjaar van Salomo as 967 v.C. neem, dan het Abraham volgens die Septuaginta in 1837 v.C. van Haran na Kanaän getrek. Volgens ons Bybel was dit heelwat vroeër.
Aangesien Abraham nie ’n bekende koning uit die antieke tyd is nie, is die kans dat daar enige argeologiese bewys vir sy bestaan oorgebly het ontsettend klein. Wat ons wel kan doen, is om te kyk of die milieu waarbinne die Bybel hom plaas, inpas by die raamwerk van daardie tyd. Daar is verskeie studies wat op aspekte soos die politieke, kulturele en sosiale omgewing fokus en toon dat die beskrywings in die Bybel heel goed met ander data uit daardie tyd korreleer. Ek wil gewoon op die belangrikste gebeure in Abraham se lewe fokus en kyk of daar onafhanklike getuienis daarvoor bestaan.
Die Elamitiese inval in Kanaän
Die belangrikste gebeurtenis wat Abraham in die raamwerk van die wyer Midde-Oosterse wêreld plaas, is die Elamitiese inval wat in sy tyd sou plaasvind. Elam was in die suidweste van hedendaagse Iran, oos van Mesopotamië, geleë. Volgens Genesis 14 het ’n koalisie van magte onder die aanvoering van die Elamitiese koning, Kedor-Laómer, ’n inval in die omgewing van die Dooie See geloods. Abraham het toe saam met ’n aantal Amoritiese vorste die plunderaars agternagesit en hulle verslaan.
Is daar enige buite-Bybelse bronne wat van so ’n gebeurtenis melding maak? Volgens Mesopotamiese tekste was daar net een geleentheid waarop die magte van ’n Elamitiese heerser in die vroeg-tweede millennium v.C. tot bo in Sirië opgetrek het. Dit was in 1822 v.C. (volgens die sogenaamde hoë kronologie) toe Siwepalar-
huppak, die koning van Elam (1826-1799 v.C.), probeer het om sy gesag oor die hele Mesopotamië af te dwing. Suidelike Mesopotamië het op daardie stadium onder sy beheer geval en bekende heersers van daardie tyd, soos Hammurabi van Babilon en Zimri-Lim van Mari, het hom as “vader” aangespreek. Hierdie inval het egter daartoe gelei dat die Elamiete uit Mesopotamië verdryf is [6].
As hierdie die inval is waarna die Bybel verwys – en daar is geen ander inval wat ter sprake kan wees nie – dan was daar ’n groep onder die Elamitiese invallers wat vanuit Sirië ’n inval in die Dooie See-gebied geloods het. Dit was dan hierdie groep wat deur Abraham en sy bondgenote verslaan is. Wat die datum van die inval
betref, korreleer dit ook goed met die datum in die Septuaginta (wat toon dat die Septuaginta die korrekte datering bevat). Hiervolgens sou Abraham in 1837 v.C. uit Haran na Kanaän vertrek en 15 jaar later by hierdie geveg betrokke wees.
Daar is ook ’n ooreenkoms tussen die naam van die Elamitiese heerser wat volgens die Bybel agter die inval gesit het, naamlik Kedor-Laómer, en Kudu-zulus, die broer van die Elamitiese koning. Kedor kan duidelik ’n vervorming van Kudu wees en Laómer is moontlik ’n bynaam. Kudu-zulus was koning van die Elamitiese stad Susa en het onder die oorhoofse gesag van sy broer Siwe-palar-huppak gestaan. Sy dienaars was vroeër ook betrokke by invalle na die Weste. Hulle het byvoorbeeld die stad Esnunna in Mesopotamië geplunder waarna Kudu-zulus daar gaan woon het.
Ons vind dus dat Kudu-zulus die direkte leier van die westelike Elamitiese magte was en dat sy dienaars plundertogte soos dié waarna daar in Genesis 14 verwys word, onderneem het. Daar is dus ’n baie goeie korrelasie tussen die Bybelse en buite-Bybelse beskrywings van daardie tydsomstandighede. Soos die Bybel noem, is die Elamiete ook ná hierdie inval uit die land verdryf.
Abraham in Egipte
’n Ander belangrike gebeurtenis in die Abrahamse verhaal, is dat hy oënskynlik kort na sy aankoms in Kanaän, verder na Egipte afgereis het omdat daar ’n hongersnood in die land was (Gen. 12). Dit plaas Abraham ook in die Egiptiese konteks. Sy koms na Egipte het nie ongesiens verbygegaan nie omdat sy vrou Sara (toe nog Sarai genoem) baie mooi was en sy die aandag van die Egiptiese vorste getrek het.
Aangesien Abraham bang was dat hulle hom vir sy vrou om die lewe sou bring, het hy voorgegee dat sy sy suster was. Sy is dus in die farao se paleis opgeneem, terwyl Abraham met geskenke oorlaai is. Die farao het egter uitgevind dat sy Abraham se vrou was en hulle is uit Egipte verdryf. Is daar enige bewys van Abraham se besoek aan Egipte? Daar is getuienis wat moontlik met Abraham se besoek verband hou. By Beni Hasan in Egipte is daar ’n uitbeelding in die graf van ’n plaaslike goewerneur, ene Khnumhotep II, wat ’n groep Semiete voorstel wat oënskynlik van Kanaän na Egipte gereis het. Die leier van die groep word genoem as Abi-shai/r, ’n Amoritiese vorm van die naam Abraham [7].
Is hierdie ’n uitbeelding van Abraham se besoek aan Egipte? Volgens die Bybel was Abraham wel ’n vername persoon wat so ’n uitbeelding sou regverdig – hy word byvoorbeeld ’n “vors (magtige prins)” genoem (Gen. 28: 6). Sy koms na Egipte het ook opspraak verwek. Alhoewel die naam ook elders voorkom, is dit duidelik moontlik dat hierdie ’n uitbeelding van Abraham se besoek aan Egipte kan wees – as dit in die regte tyd val.
Die groot vraag is dus of hierdie uitbeelding in die tyd val toe Abraham Egipte besoek het. Ons is gelukkig in die sin dat die besoek in die genoemde Beni Hasan-uitbeelding redelik goed gedateer kan word. Dit het in die sesde jaar van koning Senuseret II se regering plaasgevind. Die regering van hierdie koning kan met behulp van ’n astronomiese waarneming van die heliese opkoms van die ster Sirius wat in die tyd van sy opvolger Senuseret III gemaak is, redelik akkuraat bereken word. Daarvolgens het hy van 1844-1837 v.C. regeer.8 Dit beteken dat die besoek van Abi-shai/r (Abraham), in Senuseret II se sesde regeringsjaar, in 1838 v.C. sou plaasvind.
Indien die Bybelse Abraham direk van Haran na Egipte gereis het, dan sou hy so vroeg as 1837 v.C. daar aankom. As ons in gedagte hou hoe lank terug hierdie dinge plaasgevind het, en die foutgrens waarbinne so ’n datering gedoen word in ag neem, dan kan daar eintlik nie enige wesenlike twyfel bestaan dat hierdie na dieselfde gebeurtenis verwys nie. As ons verder al die ooreenkomste in ag neem – dat beide groepe Semiete van Kanaän was, met Abi-shai/r (Abraham) as leier, wat ’n vermelding in Egipte regverdig – dan is die kans inderdaad baie klein dat verskillende gebeure ter sprake is. Ons kan dus aanvaar dat dit waarskynlik Abraham se besoek is wat by Beni Hasan uitgebeeld word.
Ons vind dus dat daar heelwat buite-Bybelse gegewens is wat korrespondeer met die Bybelse weergawe van gebeure. Daar was ’n tyd toe navorsers ’n positiwistiese benadering gevolg het – of te wel, “bring eers al die bewyse voor ons iets aanvaar” – maar die akademiese klimaat het verander en daar is vandag ’n begrip vir die feit dat daar baie dinge is wat ons nie weet of ooit sal weet nie. Die bevestiging dat daar inderdaad in Abraham se tyd ’n Elamitiese inval in Sirië plaasgevind het, wys net weer dat ’n mens nie te gou moet wees om die geskiedskrywing in die Bybel te betwyfel nie. Saam met die uitbeelding in die Beni Hasan-graf, is dit nogal sterk getuienis dat die Abrahamse verhaal in die Bybel ernstig opgeneem kan word.
Die bevestiging dat daar ’n Elamitiese inval in Abraham se tyd plaasgevind het en dat die Beni Hasan-uitbeelding mooi met Abraham se besoek aan Egipte korreleer, toon dat ons wel die Abrahamse verhaal in Genesis as geskiedkundig kan beskou – ten spyte van die konsensus onder baie geleerdes dat die patriargale verhale in Genesis nie as geskiedenis gelees kan word nie. So was daar in baie kringe ook vroeër ’n konsensus dat die vroeë monargiese verhale (soos dié van koning Dawid) nie as geskiedenis gelees moet word nie – dit was totdat die mid-negende-eeuse Tel Dan Stela in 1993/4 ontdek is waarin daar eksplisiet na die “Huis van Dawid” verwys word.
Ons kan na my mening aanvaar dat so ’n voorvader van Israel genaamd Abraham gelewe het en dat sommige oorblyfsels van die Sumeriese tradisie wat in Genesis (en elders in die Hebreeuse Bybel) aangetref word, met sy koms uit daardie wêrelddeel verband hou.
Bronverwysings
[5] Die Masoretiese teks (die standaard Hebreeuse teks wat vir ons Bybelvertalings gebruik is) verskil op verskeie plekke van die Hebreeuse Vorlage-teks, wat in die paar eeue v.C. vir die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuaginta genoem) gebruik is. Soms is die Septuaginta se teks beter – die heel oudste teks van die Bybel wat by Qumran onder die Dooie See-rolle gevind is en nog in ’n paleo-Hebreeuse skrif geskryf is, stem byvoorbeeld eerder met die Vorlage as met die Masoretiese teks ooreen (Hengel 2002: 84). Die Nuwe Testamentiese skrywers gebruik (anders as hedendaagse Christene) meestal ’n teks wat met die Septuaginta ooreenkom. Die rede vir verskille tussen tekste het gedeeltelik daarmee te doen dat die vroegste tekste nie altyd vir die latere geslagte duidelik was nie. Dit kan baie mooi gesien word in die vroegste bestaande Hebreeuse teks (alhoewel nie van die Bybel nie) wat in 2008 naby Jerusalem ontdek is. Dit dateer uit die tyd van koning Dawid en is in ’n paleo-Kanaänitiese skrif geskryf. Dit sou nie vir latere generasies maklik wees om die teks te lees nie (vgl. 1 Kron. 4: 22).
[6] Van de Mieroop 2005:17
[7] Hoffmeier 2008:42
[8] Dit veronderstel dat die waarneming by Elephantine in die suide van Egipte gemaak is. Die berekening is deur Krauss gedoen (Rohl 1995: 390). Na my mening gee hierdie Sotiese datering (i.e. gebaseer op Sirius se heliese opkoms) saam met die hoë kronologie in Mesopotamië die beste resultate vir ’n geïntegreerde datering van alle periodes in die wyer Midde-Ooste.
Skrywer: Dr Willie Mc Loud (Ref. wmcloud.blogspot.com).
Aangehaal uit sy boek Op soek na Abraham en sy God, 'n studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale (Griffel).
Lees ook: Abraham en sy God; Inleiding

Tuesday, 7 August 2012
Abraham en sy God - Inleiding
Hierdie is die inleiding van die boek Op soek na Abraham en sy God, 'n Studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale.
“[Sumer] for all practical purposes lies within and, in fact,
chronologically and literarily, at the beginning of the historical
stream of biblical Israel” – Richard Averbeck
Kan ons vandag nog die Genesis-verhale ernstig opneem? Kan ons dit as geskiedenis beskou? Vir baie Christene is dit nie belangrike vrae nie. Hulle glo gewoon dat daardie verhale korrek is. Daar is egter baie ander wat oor hierdie saak nadink. As die Bybelse verhale wel geskiedkundig is, dan verwag ’n mens dat sommige van daardie gebeure ook in ander buite-Bybelse bronne sal voorkom. Is daar enige bewyse dat hierdie verhale nie net in die Bybel voorkom nie, maar ook in die verhale van ander antieke volkere soos die Sumeriërs? Volgens Genesis speel sommige van die verhale juis in vroeë Mesopotamië af.
In hierdie boek fokus ek op die verhale van Genesis 2-14. Dit is die verhale oor die vroegste geskiedenis van die Abrahamse familie [1] – van lank voordat hulle in Kanaän gaan woon het. Hiervolgens het Abraham aanvanklik in antieke Mesopotamië (in hedendaagse Irak) gewoon en speel ’n groot deel van die vroeë verhaal daar af. Dit is waar die vlakte van Sinear (Gen. 11: 2) asook Abraham se geboortestad, “Ur van die Chaldeërs” (Gen. 11: 28) geleë was.
Alhoewel dit nie duidelik is hoe lank Abraham se voorsate daar vertoef het nie, is daar geen twyfel dat sommige van hulle volgens Genesis 2-14 op ’n stadium daar gewoon het nie. Daar is dan ook ’n goeie rede waarom hulle daar sou wou woon: van ten minste sesduisend jaar gelede tot vierduisend jaar gelede het een van die mees besondere antieke beskawings, dié van die Sumeriërs, in die suidelike Mesopotamiese vlaktes floreer. As ons meer omtrent die oorspronge en tradisies van die Abrahamse familie wil verstaan, is dit sekerlik sinvol om die Sumeriese literatuur te ondersoek. Dit kan belangrike lig op daardie tradisies werp.
In hierdie boek ondersoek ek die Sumeriese wortels van die vroegste Bybelse tradisies. Ek toon aan dat daardie vroeë verhale waaronder dié van Henog, Nimrod, die vloed en die toring van Babel ook in die Sumeriese bronne vermeld word. Maar is daar enige buite-Bybelse bewys dat hierdie dinge regtig gebeur het? Om hierdie vraag te beantwoord, ondersoek ek die argeologiese getuienis wat daarmee verband hou. As ons in die regte periode soek, vind ons getuienis wat daarop dui dat die Genesis-verhaal wel breedweg bevestig kan word. Die Sumeriese literatuur help ons ook om ander temas in Genesis 2-14 – soos die boom, Adam asook die Bybelse wêreldbeskouing – beter te verstaan.
Dit is egter nie net die vroeë verhale wat na Sumerië teruggaan nie; daar is rede om te glo dat die vroegste vorm van die Israelitiese godsdiens – soos die verering van die God El as beide die Allerhoogste en die Almagtige deur Abraham – ook na daardie wêrelddeel teruggevoer kan word. Dit is vanuit daardie Sumeriese fondasies dat die latere Israelitiese godsdiens in die Kanaänitiese milieu verder gegroei het.
Daar is geleerdes wat reken dat die vroeë Genesis-verhale [2] eerder tydens die Babiloniese ballingskap uit Babilonië ontleen is omdat daar ’n mate van ooreenstemming tussen die Bybelse en Babiloniese tradisies is. Hierdie boek daag daardie siening uit. Na my mening is die verskille tussen die Babiloniese en Hebreeuse tradisies net te groot om direkte ontlening ernstig te oorweeg. Dit is verder ook uiters onwaarskynlik dat Joodse skrywers hul eie volk se geskiedenis sou versin en dat hul volksgenote, wat met die oeroue oorgelewerde tradisies bekend was, dit sonder meer sou aanvaar. Ek stel dus voor dat die ooreenstemming eerder toon dat beide tradisies na ’n baie vroeër gemene tradisie uit die Sumeriese tyd teruggaan, toe Abraham se familie nog in Sumerië gewoon het.
Geleerdes beweer ook dat die vroeë Israelitiese tradisies baie uit die Kanaänitiese milieu ontleen het. Veral wat die Israelitiese godsdiens betref, lyk dit of El se rol as “vader van die gode” in daardie wêreld tuis hoort. Ook Jahweh se rol as koning in die goderaad is volgens Bybelse geleerdes uit daardie wêreld ontleen. Volgens sommige was die eerste millenniumse (v.C.) Siries-Kanaänitiese godsdiens die model vir hierdie ontwikkeling in die Israelitiese godsdiens. Ek wil egter voorstel dat daardie model eerder in vroeë Sumerië te vinde is, waar El al vroeg aanbid is.
Dit bring my by die vraag: Hoe het dit gebeur dat daardie Sumeriese tradisies in Israelitiese kringe bly voortleef het? Die antwoord hierop lê in die Abrahamse verhaal opgesluit. Volgens die Bybelse verhaal het Abraham van Sumerië gekom – sy koms na Kanaän gee duidelik ’n baie sinvolle verduideliking oor hoe sulke Sumeriese tradisies later deel van Israel se erfenis kon word. Alhoewel baie geleerdes skepties staan oor die geskiedkundigheid van die Abrahamse verhaal, is daar nou meer as ooit tevore rede om te glo dat dié verhaal
’n betroubare weergawe van gebeure is.
Na my mening het hierdie tradisies saam met die Abrahamse familie na Kanaän gekom. Daarna is dit vir geslagte mondeling onder sy nasate oorgedra, alhoewel vroeë skriftelike bronne (wat in die mis van die verlede verlore geraak het) nie uitgesluit kan word nie. Diegene wat hierdie tradisies getrou van geslag tot geslag oorgedra en bewaar het, was die profete. Onder diegene wat dit aanvanklik opgeskryf het, word Moses as ’n belangrike skakel vermeld (Eks. 17: 14; 24: 7).[3]
Profete het oënskynlik van die vroegste tyd onder die Israeliete voorgekom. Ons vind dat Abraham reeds ’n profeet genoem word (Gen. 20: 7). Moses was ’n profeet (Deut. 18: 15; 34: 10); so ook Aäron (Eks. 7: 1) en sy suster Miriam (Eks. 15: 20). In hulle tyd sou daar ook ander profete soos Eldad en Medad opereer (Num. 11: 26). Later kom Deborah en Samuel. In die tyd van Saul was daar ook groepe profete bedrywig (1 Sam. 10: 5). Die Israelitiese profete was regdeur Israel se geskiedenis tot ná die ballingskap aktief.
Dit lyk of die Israelitiese profete baie soos die digters en sjamane van ander antieke volke geopereer het, wat die bewakers van daardie volke se tradisies was en dit van geslag na geslag oorgedra het. Profesieë is dan ook tipies in digterlike vorm uitgespreek. Ons lees in baie gevalle dat die profete nie alleen in hul geestelike ervarings die Oppergod gesien het nie, maar dat hulle selfs toegang tot die goderaad (’n baie belangrike konsep in die Bybel) gehad het – wat daarop dui dat hierdie raad deel van ’n lewende tradisie was, wat deur die eeue in hul midde bly voortleef het.
Dit is opvallend dat hulle ook diegene was wat die “Jahweh-alleen”- tradisie in stand gehou het.[4] Aangesien hulle die oudste tradisies in stand gehou het, kan dit daarop dui dat daardie tradisie baie oud was. Volgens die Bybel het dié tradisie by Moses ontstaan aan wie God Hom vir die eerste maal as Jahweh geopenbaar het
(Eks. 6: 2).
Ek gaan nie in hierdie boek die Genesis-verhale volledig behandel nie. Hierdie is nie as ’n volledige werk oor die onderwerp bedoel nie. Ek gaan gewoon enkele aspekte aanspreek. Ek begin met Abraham (Hoofstuk 1). As sy verhaal as geskiedenis geneem kan word, is hy ’n belangrike skakel tussen die Sumeriese en Israelitiese wêrelde.
Dan kyk ek na die ooreenkoms tussen die Bybelse en Sumeriese weergawes van die na-vloedse periode, die identifisering van enkele Bybelpersone soos Nimrod, Henog en Adam in die raamwerk van die Sumeriese geskiedenis, die aanbidding van die Hebreeuse God El in Sumerië, die Sumeriese verstaan van die “drieverdieping” wêreldbeskouing wat ons in die Bybel vind asook die vroeë voorkoms van sjamanisme en die profetiese tradisie. Ek het die onderwerpe gekies op grond van my eie belangstelling.
Hierdie boek is die vrug van jare se studie in die vroeë Bybelse en Sumeriese geskiedenis en tradisies. In die proses het ek die vroeë Sumeriese literatuur deeglik deurgelees en verskeie navorsingstoere saam met ’n paar vriende na sommige van die wêrelddele waarin die verhale afspeel onderneem.Verskeie foto’s, wat deur skrywer se reisgenoot Evert Buurman geneem is tydens hul reise, is in hierdie boek opgeneem. Ek het ook ’n wye studie van die akademiese materiaal oor die onderwerp gedoen. Verder was ek bevoorreg om vir ’n paar jaar deel van ’n Sumeriese leesgroep te wees waar ek ’n liefde vir die Sumeriese wigskrif en taal ontwikkel het. Dit is egter belangrik om te onthou dat hierdie nie ’n literêre of teologiese studie is nie, maar ’n
studie oor die geskiedkundigheid van die Genesis-verhale.
Die boek is gewoon as ’n inleiding tot die onderwerp bedoel. Dit is op die gemiddelde leser gerig wat geen agtergrond oor die Sumeriese wêreld het nie. Die boek is so geskryf dat hulle dit stimulerend en interessant sal vind. Tog is dit ook so dat die kwessies wat ek in hierdie boek aanspreek, allermins eenvoudig is. Sommige daarvan is werklik moeilike sake. In ons tyd is daar baie Afrikaanse mense wat vir die eerste keer werklik vir hulleself oor dinge begin nadink (en hopelik nie maar net weer andere in die stroom van skeptisisme naloop
nie). Ek vertrou dat hulle by hierdie boek, waarin sulke sake ook vanuit ’n behoudende Christenperspektief onder die soeklig kom, sal baat vind.
Ek glo dat daar in die huidige intellektuele klimaat in Suid-Afrika ’n behoefte aan ’n boek soos hierdie is, wat op die vroegste wortels van Israel (en in effek die Christentradisie) fokus. As denker en skrywer is ek verplig om die kernvrae wat in ons tyd rondom hierdie kwessies gevra word, aan te spreek en vir die gewone denkende Christen sinvolle voorstelle op die tafel te plaas – wat hopelik verdere debat daaroor sal stimuleer. Ek beskou dit gewoon as ’n inleidende gesprek oor daardie dinge. Die boek is hoofsaaklik gerig op persone
wat dink, wat wonder en wat selfs twyfel.
Alhoewel sommige van die dinge wat ek in hierdie boek bespreek vir die gemiddelde Christen vreemd sal voorkom omdat hulle dalk nie die Bybel so versigtig vir leidrade fynkam, wat lig op die heel vroegste sieninge kan werp nie (die Bybel werp ’n sluier oor baie van daardie vroeë sieninge; dit is die “verborge dinge” – Deut. 29: 29), glo ek dat die nuutste argeologiese en literêre data juis aantoon dat die Bybelse verhale – en meer spesifiek die verhale van Genesis 2-14 – as betroubaar aanvaar kan word. Alhoewel daar steeds baie
gebreke in ons kennis is, het ons vandag ’n uitgebreide argeologiese kennis oor die totale periode waaroor die Bybel handel. Soos ons in die boek Daniël lees, word dinge al duideliker soos wat die “kennis vermeerder” (Dan. 12: 4). Om onduidelikhede te help opklaar, het ek verskeie notas in die teks ingevoeg.
Diegene wat ná die lees van hierdie boek uitsien na ’n meer indiepte bespreking van die vroeë tradisies, kan my komende boek omtrent die vroegste buite-Bybelse tradisies oor die Gevalle Engele aanskaf. Ek skryf ook van tyd tot tyd relevante artikels op my blog, http://wmcloud.blogspot.com/. Lesers kan daarop inskryf.
Willie Mc Loud
Januarie 2012
Die Strand
Notas
1. By Abrahamse familie bedoel ek nie net Abraham se nasate nie, maar ook diegene wat saam met hom in Ur gewoon het.
2. Hulle reken veral dat die pre-patriargale verhale uit Babiloniese (en Griekse) bronne saamgeflans is.
3. Volgens die Hebreeuse tradisie het die profete (en ander Bybelskrywers) onder die inspirasie van God se Gees geopereer (2 Sam. 23: 2; 2 Tim. 3: 16; 1 Pet. 1: 11; 2 Pet. 1: 21). Hul geskrifte word dus deur behoudende Christene, waaronder ek myself reken, as Goddelik geïnspireerd beskou. Sien Bylaag 1 vir my siening oor Bybelse inspirasie.
4. Dit is die tradisie waarvolgens Jahweh die enigste God is wat aanbid mag word.

Sunday, 29 July 2012
Op soek na Abraham en sy God

Dr Willie Mc Loud se nuwe boek het pas verskyn. Die titel is Op soek na Abraham en sy God, 'n Studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale. Hier is die teks op die agterblad asook die Inhoudsopgawe.
Teks op die agterblad
Op soek na Abraham en sy God is ’n tydige boek oor ’n uiters relevante onderwerp. Dit lewer ’n baie belangrike bydrae tot die kontemporêre gesprek oor die betroubaarheid van die Bybelse verhale. Daar is vandag al meer mense wat wonder of ons nog die Genesis-verhale kan glo? Of Abraham regtig gelewe het? Of ons die verhale oor die “toring van Babel”, die taleverwarring, die vloed en die tuin van Eden nog ernstig kan opneem? Vir sommige is die tradisionele antwoorde net nie meer aanvaarbaar nie. Sekere dinge word net nie meer geglo nie. Maar beteken dit dat die Genesis-verhale maar net stories is wat in latere tye meestal uit Babiloniese bronne saamgestel is? Beteken dit dat ons daardie verhale maar as onbetroubaar kan afskryf?

In hierdie boek toon die skrywer dat dit nié so is nie. Hy formuleer ’n grondige kritiek op sommige geleerde opinies hieroor. Hy verbreed die gesprek oor die Genesis-verhale deurdat hy, anders as baie ander geleerdes, die antieke Sumeriese bronne raadpleeg. Hy toon dat onlangse argeologiese ontdekkings daarop dui dat ons alle rede het om in ’n historiese Abraham te glo. Verder het ons goeie rede om te dink dat die vroegste verhale in Genesis saam met die Abrahamse familie uit Mesopotamië na Kanaän saamgebring is.
Die boek fokus ook op die God van Abraham. Was Hy maar net ’n vroeë stamgod? Of is daar rede om te glo dat Hy sedert die vroegste tye in Mesopotamië vereer is soos die Genesis-verhale impliseer? Die skrywer bespreek ook ander antieke konsepte soos die “Seuns van God”, die goderaad, die godeberg in die uithoeke van die noorde, die drieverdiepingkosmos, die “hemel” en die “doderyk”, Satan, die boom van die lewe, die slang en die gerubs wat die boom bewaak het.
Die inhoud is aktueel, stimulerend en bied beslis stof tot nadenke. Die boek is ’n goeie belegging vir elkeen wat belangstel in die betroubaarheid van die Bybelse verhale.
Inhoudsopgawe
1. Abraham is die skakel - 13
2. Die vlakte van Sinear - 19
3. Die toring van Babel - 27
4. Wie was Henog? - 37
5. Die goderaad - 47
6. Die “God van julle vaders” - 57
7. Die drieverdiepingkosmos - 71
8. Sjamane en profete - 83
9. Slotgedagtes - 93
Inhoudsopgawe
1. Abraham is die skakel - 13
2. Die vlakte van Sinear - 19
3. Die toring van Babel - 27
4. Wie was Henog? - 37
5. Die goderaad - 47
6. Die “God van julle vaders” - 57
7. Die drieverdiepingkosmos - 71
8. Sjamane en profete - 83
9. Slotgedagtes - 93
Subscribe to:
Posts (Atom)