Showing posts with label Markplein. Show all posts
Showing posts with label Markplein. Show all posts

Sunday, 3 February 2013

Die limiete van argeologie en teksstudies: die uittog

In hierdie artikel word die geloofwaardigheid van die Bybelse verhaal oor die uittog van Israel uit Egipte bespreek. As daar geen argeologiese bewyse vir die uittog is nie, beteken dit dat ons om daardie rede die historisiteit daarvan moet betwyfel? Dat dit dus nie plaasgevind het nie? Hierdie vrae het baie te doen met die vermoë van argeologie om finale uitsprake te maak. Die eintlike vraag is dus: Wat is die limiete van argeologie en teksstudies, en hoe raak dit ons verstaan van die uittog. Die artikel (met voorskrif) het in die September 2012 uitgawe van die tydskrif Markplein verskyn.

Daar het die laaste paar maande (sedert Markplein 2012/01) 'n intense gesprek oor die beperkinge van argeologie en teksstudies ontstaan, met spesifieke verwysing na die Israeliete se uittog. Ek het in 'n aantal briewe aangevoer dat Diek van Wyk (sien sy artikels in Markplein 2012/04 en 2012/05) en Sakkie Spangenberg (sien sy reaksie in Markplein 2012/06) vanuit 'n modernistiese perspektief te hoog opgee vir hierdie dissiplines. Ek het in hierdie verband selfs van "pseudo-wetenskaplikheid" gepraat, onder andere in verwysing na "Bybelwetenskap". In hierdie artikel bespreek ek die limiete van beide argeologie en teksstudies (Bybelwetenskap) in meer detail. 

Die wetenskap word tradisioneel in Afrikaanse kringe baie hoog aangeslaan. Daar word algemeen aanvaar dat wetenskaplikes weet waarvan hulle praat. Ons vind dan ook dat feitlik alle dissiplines in Afrikaans as "wetenskappe" beskryf word - so ook argeologie en teksstudies (Bybelwetenskap). Maar hoe wetenskaplik is hierdie "wetenskappe"? Wat is die limiete van hierdie dissiplines? En wat is die implikasies daarvan vir uitsprake wat hierdie dissiplines kan en nie kan maak nie? Ook ten opsigte van die historisiteit van Bybelse verhale soos die uittog.

Daar was 'n tyd toe alle dissiplines gepoog het om as empiriese wetenskappe (dit is wat in Engels onder "wetenskap" verstaan word) erken te word. So ook argeologie en teksstudies. Maar is hierdie empiriese wetenskappe? Alhoewel argeoloë met waarneembare objekte werk, en dit dus as 'n empiriese dissipline beskou kan word, voldoen dit nie aan die vereistes van 'n empiriese wetenskap soos dit wêreldwyd verstaan word nie. Die belangrikste onderliggende rede hiervoor is dat argeoloë nie toegang het tot die historiese werklikheid (soos dit destyds bestaan het) wat hulle ondersoek nie - die argeologiese rekord is altyd onherroeplik onvolledig. Ook teksstudies - wat vandag as 'n hermeneutiese (interpreterende) dissipline erken word - het geen toegang tot die werklike teksgeskiedenisse (ook nie van die Bybel) nie. Daarteenoor ondersoek beide natuur- en sosiale wetenskaplikes 'n huidig-bestaande (alhoewel ontoeganklike) werklikheid.

As gevolg van hierdie beperking kom argeoloë (teksstudies word later aangespreek) voor twee onoorbrugbare probleme te staan. Ten eerste is alle opgrawings 'n nie-herhaalbare ervaring. Ander argeoloë sou nie noodwendig tot dieselfde gevolgtrekkings kom nie. Daar is 'n menigte gevalle waar argeoloë oor die interpretasie van opgrawings verskil. Ten tweede weet argeoloë nooit of hul data (statisties gesproke) verteenwoordigend van die destydse historiese situasie is nie. Opgrawings is nie herhaalbare eksperimente soos in die natuurwetenskappe of gekontroleerde ondersoeke soos in die geesteswetenskappe nie. Alhoewel argeologie "ervaring" insluit, is opgrawings nie eksperimente nie; opgrawings is nie herhaalbaar of 'n verteenwoordigende steekproef nie. In die tyd van die sogenaamde Nuwe Argeologie in die vroeë sestiger jare is daar nog gepoog om argeologie op 'n "wetenskaplike" basis te plaas, maar daardie benadering het intussen plek gemaak vir "Postprosesualisme", wat kontekstuele en interpreterende argeologie insluit. Sedertdien is daar ruimte vir 'n "plurality of readings" ooreenkomstig verskillende interpretasies soos Julian Thomas skryf: "[E]ven artifacts will be understood in different ways by people who come to them with different understandings which emerge from different social experiences... In understanding may give rise to hegemonic struggles over the definition of reality. It would be a mistake to argue in these circumstances that one group has a true appreciation of the situation, while another is laboring under false consciousness" [1].  Daar is vandag in die filosofie van argeologie 'n reaksie teen vroeëre hegemoniese pogings tot beheer oor interpretasie (wat voortbou op die Franse filosoof Michel Foucault se werk oor "mag").

Argeologie het dood gewoon nie die vermoë wat soms (veral deur argeoloë self) daaraan toegeken word nie. In baie gevalle het daar net nie genoeg bewyse oorgebly om die literêre bronne te bevestig of te ontken nie. Alhoewel argeoloë soms weens 'n gebrek aan bewyse aanvaar dat sekere gebeure (soos die uittog) nie plaasgevind het nie, is dit 'n positivisties-modernistiese aanslag wat nie deur enige wetenskapfilosoof onderskryf kan word nie. Geen bewyse is beslis nie 'n bewys van geen bewyse nie. Ten spyte hiervan het sommige argeoloë 'n oordadige vertroue (so tipies van die modernisme) in die genoegsaamheid van die argeologiese bewyslas soos blyk uit Diek se aanhaling van die argeoloog William G. Dever, wat selfversekerd noem dat argeologiese data as "primêre bron" gebruik moet word om die geskiedenis (soos die van Israel) te rekonstrueer. Alhoewel argeologiese data sekerlik 'n belangrike bron van inligting is, is dit beslis nie die enigste nie en die verheffing daarvan tot "primêre bron" gaan teen al die problematiek van praktiese argeologie in. Ek kan hoeveel voorbeelde gee om die ontoereikendheid van argeologiese data te illustreer. Neem byvoorbeeld die oorblyfsels van die Akkadiese Ryk (ca. 2300-2100 vC) - wat deur die millennia as die grootste van alle ryke in antieke Mesopotamië onthou is. Mario Liverani skryf: "If we didn't know from the texts that the Akkad empire really existed, we would not be able to postulate it from changes in settlement pattern, nor from the evolution of material culture" [2]. Ons kan dieselfde omtrent die Dawidiese ryk sê. Voor die ontdekking van die Tel Dan stela 'n paar jaar gelede, waarop die woorde "huis van Dawid" verskyn, was daar 'n konsensus onder baie geleerdes dat hy nooit gelewe het nie.

Wanneer dit by migrasie kom (soos die uittog en intog van Israel), is die situasie selfs nog meer problematies. Die argeologiese getuienis wat met migrasie verband hou is so oop vir interpretasie dat argeoloë in baie gevalle nie kan besluit hoe om die argeologiese rekord te interpreteer nie. Ek gee verskeie voorbeelde van sulke verskille in interpretasie in my artikel "A critique of archaeology as a science" wat op 19 Augustus 2012 op my blog gepos is by www.wmcloud.blogspot.com. In baie gevalle sou argeoloë nooit van sulke migrasies weet as dit nie in literêre bronne vermeld is nie. Neem byvoorbeeld die migrasie van die handelaars wat hulleself in die Ou Assiriese periode (ca.1800 v.C.) in Anatolië (in die hedendaagse Turkye) gaan vestig het. Malcolm Weiner skryf hieromtrent: “As Machfeld Mellink, James Mellaart and others have observed, had the tablets not survived little else would suggest the existence of an Assyrian colony, since the colonists adopted local architecture and pottery... Tablets tell us of many Assyrian trading colonies in Anatolia...  [i]t would be very difficult to identify something which is specifically Assyrian without the tablets” [3].  Sonder die tekste sou argeoloë nie vermoed het dat groot getalle Assiriërs na Anatolië migreer het en daar teenwoordig was nie. Alhoewel ek kan verstaan dat Dick skryf "Dit spreek dus vanself dat die Israeliete op hul staanplekke in die Sinai-woestyn ook oorblyfsels moes nagelaat het" (Markplein 2012/05), is dit duidelik dat die situasie allermins so eenvoudig is. Alhoewel die Bybel die roete aandui waarlangs die Israeliete sou trek, verskil navorsers oor die interpretasie van die gegewens. Die Israeliete sou voorts lank op 'n plek moes bly om noemenswaardige getuienis agter te laat. Die Sinai is soos die Bybel noem en ekself al meermale gesien het, 'n "groot en vreeslike" woestyn waar die hitte, winde en stortreëns alle oorblyfsels tot niet maak en bedek. Om na oorblyfsels daar te soek is soos om na die spreekwoordelike naald in 'n hooimied te soek (nie dat daar al deeglik gesoek is nie!).

Daar is selfs 'n verdere probleem, naamlik dat daar in die tyd van die Nuwe Argeologie 'n sterk partydigheid in argeologiese kringe teen migrasie was soos David Anthony skryf: "Migration has been demonized and has mystified Western archaeologists since the rise of ‘New Archaeology’ in the late 1960’s… Several writers have noted that the rise and fall of the popularity of migration and diffusion in western archaeology seems closely linked to the prevailing milieu in politics, national interests and intellectual trends” [4]. Dit toon dat baie nie-wetenskaplike invloede 'n impak op argeologiese sieninge het en dat "polities korrekte" sieninge soms op hegemoniese wyse afgedwing word. Alle argeologiese data is wyd oop vir interpretasie - die hegemonie van polities korrektheid gee erkenning aan sekere sieninge en wys andere af.  Ina Brand vertel in Markplein 2012/07 hoe hierdie aanslag steeds in die praktyk onder argeoloë voorkom. Sy skryf: "In die jongste tyd is daar egter 'n beweging wat die Bybel as artefak heeltemal wil verban en dit as blote propaganda-fiksie wil uithou uit alle argeologiese bevinding". Geen wonder dat daar so geredelik in krities-argeologiese kringe aanvaar word dat die uittog nie plaasgevind het nie.

In enige ondersoek na die verlede is tekste soos die Bybel ook belangrik. Die belangrikste vraag omtrent tekste is: hoe betroubaar is die inligting wat daarin voorkom? Om hierdie saak te ondersoek word die teksgeskiedenis van tekste soos die Bybel bestudeer. Dissiplines soos teksstudies het egter dieselfde probleem as argeologie, naamlik dat die werklike teksgeskiedenis onherroeplik verlore is. In die tyd van positivisme is daar veronderstel dat niks omtrent 'n teks soos die Bybel geglo kan word as dit nie deur argeologiese bewyse gesteun word nie. Daar is oordadig krities na die teks gekyk en mettertyd is daar op grond van verkeerde verwagtinge aanvaar dat die meeste van die gebeure wat daarin vertel word nie plaasgevind het nie. Vandag weet ons egter dat argeologie nie 'n empiriese wetenskap is nie en dat feitlik alle argeologiese data onvolledig, onder-verteenwoordigend en voorlopig is. In soverre teksstudies in die positivisties-modernistiese metodiek van die verlede gegrond is (wat ook alle wondergebeure in beginsel ontken) en steeds so 'n aanslag volg, is dit ten diepste gekompromitteer.  Omdat die data wat vir die bevestiging van hipoteses en uiteindelik teorieë gebruik word, so voorlopig en oop vir interpretasie is, staan dissiplines soos teksstudies op dryfsand en daar is geen manier waarop daardie geleerdes kan bewys dat hul teorieë beter met die historiese situasie ooreenkom as die tradisionele beskouing wat die inligting in die teks as betroubaar aanvaar nie. Dit is geen wonder dat 'n bekende Christen filosoof soos Alvin Plantinga die volgende sê nie: "There is no compelling or even reasonably decent argument for supposing that the procedures and assumptions of [historical Biblical criticism] are to be preferred to those of traditional Biblical commentary" (Biblical Archaeology Review Jul/Aug 2012).

Met hierdie agtergrond kan ons in meer detail op die uittog fokus.  As ons die genoemde problematiek omtrent sulke migrasies in ag neem, asook die voortdurende stryery onder argeoloë oor die interpretasie van argeologiese fondse en datering (veral wat Israel betref), dan is dit glad nie voor die hand liggend waarom die uittog ontken moet word nie. Soos James K. Hoffmeier in sy boek The Archaeology of the Bible (2008) aantoon, is daar heelwat ondersteunende getuienis vir die Bybelse verhaal oor Israel se verblyf in Egipte, die uittog en die verowering van Kanaan. Ek noem enkele voorbeelde. Daar is uitbeeldings van Semitiese slawe wat stene maak (en deur stokke geslaan word) uit die tyd van koning Thutmose III van die Agtiende Dinastie (1479-1425 v.C.). Alhoewel daar nie fisiese bewyse vir Israel se tyd in die woestyn is nie, is daar wel getuienis dat Jerigo verwoes is en daarna vir lank onbewoond was soos in die Bybel vertel word (Jos. 6:26; 1 Kon. 16:34). Hierdie verwoesting is aanvanklik deur John Garstang tot ca.1400 v.C. gedateer, maar Kathleen Kenyon het dit later tot ca.1550 v.C. herdateer. Onlangs het Bryant Wood egter geargumenteer dat Kenyon sekere krities-belangrike pottery verkeerd gedateer het en dat Garstang se datering reg was. Hierdie datum kom goed met die Bybelse datering ooreen. Hoffmeier verskil met W.F Albright se teorie van 'n dramatiese verwoesting van Kanaänitiese stede en onderskryf 'n "limited conquest of key sites in strategic areas" ooreenkomstig die inligting in Josua 11:3 en Exodus 23:29-30. Hiervolgens is net Jerigo, Ai en Hazor verbrand. Daar is inderdaad bewys dat Hazor ook in daardie tyd verbrand is (die datum is ietwat onseker). Die naam "Israel" word die eerste (en enigste) keer in 1208 v.C. in 'n Egiptiese inskripsie, deur koning Merneptah, die seun en opvolger van Raamses II, genoem in 'n konteks wat op hul teenwoordigheid in die land dui. Rondom hierdie tyd is daar skielik 'n dramatiese toename in landbou dorpies in Israel waarneembaar (93% van hierdie dorpe is nuut). Dit word tipies met die aanwas van Israel in die nuwe land verbind. Die monoteïstiese hervormings van Akhenaten van die Agtiende Dinastie (1352-1336 v.C.) hou dalk ook met Israel se vroeëre verblyf in Egipte verband.

Daar kan uiteindelik verskeie narratiewe omtrent die uittog gekonstrueer word. Diek verwys na die narratief van die argeoloë Israel Finkelstein en Neil Asher Silberman (Markplein 2012/05). Hulle is van mening dat die verhale oor die uittog in die sewende eeu v.C. in die tyd van koning Josia saamgesnoer is. In hierdie geval sou die verhaal op ‘n metaforiese vlak uitdrukking gee aan die stryd tussen die jong koning Josia en farao Necho en aan die vrese, aspirasies en hoop op ‘n nuwe toekoms van die Juda van die tyd. Hierdie narratief aanvaar dat die uittog nie plaasgevind het nie en probeer verduidelik waar die verhaal ontstaan het. Alhoewel hierdie hipotese op die oomblik vir sommige geleerdes sin maak, sal die volgende geslag waarskynlik (soos tipies in hierdie milieu gebeur) nie veel waarde daaraan heg nie.

Hierteenoor onderskryf ek die tradisionele narratief. Dit is na my mening uit die Bybelse teks duidelik dat die verhaal van die uittog ten diepste in die Israelitiese psige ingeweef was. Mense soos ek wat die gediskrediteerde histories-kritiese paradigma wat uit die modernisme gegroei het verwerp, kan geen rede sien waarom die Bybelse inligting omtrent die uittog nie aanvaar kan word nie. Saam met Richard Averbeck (in 'n artikel in die boek "Mesopotamia and the Bible", sien p107) is ek van mening dat die Bybelse verhale deur die eeue sorgvuldig in die raamwerk van 'n aaneenlopende tradisie oorgedra en opgeteken is soos daar op baie plekke in die Bybelse teks genoem word [5]. Argeologiese data korreleer ook heel goed met die inligting in die Bybel. Ek sluit af met 'n aanhaling uit my boek Op soek na Abraham en sy God (Griffel, 2012): "Alhoewel daar 'n sekere kritiese weergawe oor die Bybelse teks saamgestel kan word... (wat) dit as laat en vol twyfelagtige legendes afmaak, kan daar na my mening 'n beter weergawe saamgestel word wat toon dat dit goed met ander buite-Bybelse tekste en argeologiese data korreleer" (p109).

[1] Thomas, Julian. 2005. Materiality and the Social. In Pedro Paulo Funari, Andres Zarankin and Emily Stovel (eds.), Global Archaeological Theory. Contextual Voices and Contemporary Thoughts. New York: Kluwer Academic/Plenum Publishers.
[2] Liverani, M. 1993. Akkad: An Introduction. In Mario Livernai (ed.), Akkad. The First World Empire: structure, ideology and traditions. Padova: Sargon srl.
[3] Wiener, Malcolm H. 1984. Crete and the Cyclades in LM I: The tale of the conical cups. In Hägg, R. and Marinatos, N. (eds.), The Minoan Thalassocracy, Myth and Reality.  Stockholm.
[4] Anthony, David W. 1997. Prehistoric Migration as Social Process. In Chapman, J. and Hamerow, H. (eds.), Migrations and Invasions in Archaeological Explanation, BAR International Series 664.  Oxford: Archaeopress, Oxford.
[5] Averbeck, Richard E.  2002.  Mesopotamia and the Bible.  In Mark W. Chavalas & K. Lawson Younger (jr) (eds.), Sumer, the Bible, and Comparative Method; Historiography and Temple Building.  Grand Rapids: Baker Academic.

Willie Mc Loud

Dr Willie Mc Loud se ander skrywes aan Markplein is ook op hierdie blog gepos (www.wmcloud.blogspot.com) en kan gelees word deur op die sleutelwoord "Markplein" regs op die blog te klik.
Klik om te lees: A critique of archaeology as a science
Asook A critique of Biblical Criticism as a scholarly discipline

Wednesday, 31 October 2012

Paradigmas in konflik: Bybelwetenskap vs tradisionalisme

Sedert die wetenskaplike ondersoek na die Bybel jare gelede begin het, het die godsdienstige landskap stadig maar seker ontvou in twee breë godsdienstige strome wat langs mekaar vloei en mekaar grotendeels uitsluit. Daar is baie kerke wat hulleself in die tradisionele stroom van die Christendom bevind wat die legitimiteit van Bybelwetenskap in beginsel ontken. Bybelwetenskaplikes - wat veral in die raamwerk van die gereformeerde teologie 'n tuiste gevind het (alhoewel sommige van hulle selfs daar ongemaklik voel) - is weer van mening dat die eersgenoemde groep 'n pre-wetenskaplike benadering tot die Bybel volg wat in die wetenskaplike tyd waarin ons lewe geen legitimiteit meer het nie. Tussen hierdie pole is daar baie mense wat oor die geldigheid van hierdie paradigmas nadink. 'n Boek soos Hier staan ek... is 'n voorbeeld daarvan (sien bespreking). Uiteindelik gaan dit oor die ruimte wat vir geloof geskep word.

Ons lewe in 'n tyd waarin daar 'n intense godsdienstige debat plaasvind. Aan die een kant is daar die Christene wat in 'n bykans twee-duisend jaar oue tradisie staan wat glo dat ons die Bybel onvoorwaardelik kan en moet glo en toepas. Aan die ander kant is daar die Bybelwetenskaplikes en ander teoloë wat radikaal met die tradisionele opvattinge gebreek het en wat die Bybelse teks glad nie as "heilig" beskou nie, maar gewoon as 'n boek waarin daar van mense se denke oor God vertel word. Tussen hierdie teenpole is daar natuurlik meer genuanseerde sieninge, asook die groter samelewing met baie mense wat vrae vra, wat wonder of hulle maar net als so kan glo, wat twyfel. Die eerste groep loop die gevaar dat hulle hulself uit die gesprek uitsluit en dat hulle mettertyd feitlik geen inpak meer op die samelewing sal hê nie. Die tweede groep kan mense se geloof radikaal ondermyn en in effek die deur na 'n sekulêre samelewing oopmaak (sommige van hulle glo self nie meer nie).

In hierdie skrywe bekyk ek elk van hierdie groepe van nader. Ek kyk watter persepsies hulle van mekaar het, wat hulle essensiële vertrekpunte is, wat die inpak van hul sieninge op geloof is en hoe gewone Christene sinvol hul eie perspektief kan vorm. Ekself kom uit 'n tradisioneel-Christelike agtergrond (soos bykans almal in Suid Afrika) en beskou myself as 'n behoudende Christen. Ek het die afgelope tyd oor verskeie sake met persone wat hulle aan die kant van die Bybelwetenskap skaar, asook met Sakkie Spangenberg self, binne die raamwerk van die tydskrif Markplein gesprek gevoer. Ek sal in hierdie skrywe meer van my eie ervaring in hierdie verband vertel.

Persepsies skep die werklikheid

Tradisionele Christene en Bybelwetenskaplikes bevind hulleself in twee opponerende paradigmas wat grotendeels onversoenbaar met mekaar is. Elk leef in hul eie paradigma - dit is perspektiewe wat oor jare deur andere, veral die leiers in hul gemeenskap, by hulle ingeprent is. Alhoewel hulle dit nie besef nie, is hulle 'n produk van die godsdienstige of intellektuele kultuur waaruit hulle kom. Soos die filosowe Martin Heidegger (in die algemeen) en Thomas Kuhn (meer spesifiek vir die akademiese wêreld) getoon het, is alle mense - gewoonlik sonder dat hulle dit besef - tot in hul diepste menswees deur die kultuur waaruit hul kom gevorm. Dit beteken dat hulle in effek nie vry en openlik oor sake nadink nie. Hulle denkpatrone is gevorm deur die persone waarna hul opsien, die boeke en tydskrifte wat hul lees en die algemene perspektiewe wat in hul kringe gehandhaaf word. Hulle praat 'n eiesoortige taal, het sekere gemene gebruike asook sekere verwagtinge van mekaar wat as aanvaarbare gedrag in hul geledere beskou word. Hulle is oor jare - soos hulle in daardie paradigma opgebring is - gevorm tot die mense wat hulle is.

Hierdie verbondenheid tot 'n bepaalde paradigma het noodwendig tot gevolg dat almal (selfs in die algemeen) 'n sekere blindekol het. Wanneer 'n mens na iemand luister wat uit 'n ander paradigma kom, dan word dit dadelik binne die paradigma waaruit jyself kom verstaan. Daardie persoon word dadelik verstaan volgens die perspektiewe wat daardie paradigma van die ander een het. Sodra die hoorder die spreker aan 'n sekere paradigma toegeken het, word daar summier aanvaar dat als wat hulle sê - en gaan sê - ooreenkom met die karikatuur wat daardie groep van die ander het. Dit beteken dat die persepsies wat die groepe van mekaar het uiteindelik die werklikheid is waarbinne hulle met mekaar in interaksie kom. Die gevolg is dat hulle nie mekaar "hoor" nie en in effek by mekaar verby praat. Daar word gewoon van meets af aanvaar dat die ander persoon se siening "verkeerd" is en daar word nie ruimte gemaak dat daardie persoon ook 'n geldige punt kan hê nie. In baie gevalle is hul uitsprake gewoon vir die ore van ander luisteraars bedoel om hulle na hul siening te probeer oorhaal.

Wat sulke persepsies betref, beskou die tradisionele Christene die Bybelwetenskaplikes as persone wat die wetenskap klakkeloos naloop en in die proses die geloof verloën. Dat hulle daarop uit is om die Bybelse teks radikaal te kritiseer en so die gesag daarvan ondermyn. Dat hulle die basiese waarhede van die evangelie prysgegee het. Aan die ander kant beskou Bybelwetenskaplikes die tradisionele Christene as mense wat op 'n pre-wetenskaplike wyse met die Bybelse teks omgaan. Hul sieninge is primitief en onvanpas vir die wetenskaplike eeu waarin ons lewe. Hulle is van die werklikheid verwyder.

Die tradisionele Christendom het ongelukkig ook in die verlede baie mense van die kerk vervreem deur hul liefdeloosheid, onbuigsame dogma en die harde sweep van sensuur. Dit het nie alleen diep psigologiese letsels gelaat nie, dit het ook daardie groep onherroeplik van die tradisionele Christendom vervreem. In die boek Hier staan ek... maar ek kan nie sê wie ek is nie en ek is nie alleen nie (Griffel, 2011) vertel 'n aantal persone, waaronder vyf anonieme predikante, omtrent hul negatiewe belewing van die tradisionele Christelike geloof. Onder hulle tel 'n groot aantal persone wat hulle tans in die sfeer van die Bybelwetenskaplike denke bevind - waaronder Sakkie Spangenberg wat as 'n leidende figuur in daardie kringe erken word.

Bybelwetenskaplikes beklee egter nie die morele hoë grond nie en sommige tree op dieselfde wyse op teenoor diegene wat met hulle verskil. Daar is duidelik persone aan albei kante van die spektrum wat nie ander standpunte kan verdra nie - en wat hard en liefdeloos oorkom. Ek het persoonlik al sulke gedrag in verskeie situasies beleef. Ook vanuit Bybelwetenskaplike kringe. Ek kan dit toelig uit my ervaring met die elektroniese tydskrif Markplein. In Januarie 2012 het ek die eerste maal die tydskrif per epos ontvang. Die redakteurs van die tydskrif was vroeër deel van die redakteurspan van Hier staan ek.

Daar het deur die loop van 2012 'n lewendige gesprek oor dinge soos die historisiteit van die Israeliete se uittog en die wetenskaplikheid van Bybelwetenskap ontwikkel. Op 'n stadium was ek en Sakkie Spangenberg die belangrikste opponerende stemme (oor die wetenskaplikheid van Bybelwetenskap). Daarom het dit my nogal verbaas dat die redakteurs hom - as my direkte opponent in die gesprek - gevra het om my boek Op soek na Abraham en sy God, 'n studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale (Griffel, 2012) te resenseer ('n mens sou dink dat iemand neutraal so iets moet doen). Ek kan uit die resensie aflei dat hy waarskynlik nie meer as die inleiding en die eerste hoofstuk gelees het nie. Hy het die resensie as 'n geleentheid gesien om sy venyn op my te projekteer en het probeer om my belaglik te maak. Hy aanvaar gewoon dat sy paradigma die enigste geldige een is en dit het nie by hom opgekom dat ek gewoon nie by sy paradigma inkoop nie. (Gelukkig het daar darem net te vore 'n baie meer vriendelike resensie in die TEO verskyn - die tydskrif van die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria - geskryf deur Gerda de Villiers wat self in daardie paradigma staan.) [1]  In 'n sekere sin het presies gebeur waarteen ek vroeër in 'n brief aan Markplein (Feb 2012) gewaarsku het, naamlik dat sommige Bybelwetenskaplikes soos die Atheners van destyds nie ander stemme op die markplein kan verdra nie en hul bes sal doen om sulke stemme te smoor (soos destyds met Sokrates gebeur het).

Dit was vir my duidelik dat Sakkie glad nie belang gestel het om te hoor wat ek sê nie. Ek het reeds in 'n brief in die vorige uitgawe (Sep 2012) geskryf: "Volgens Sakkie [se skrywe in Markplein Mei/2012] het ek ''n broertjie dood' aan die woord 'Bybelwetenskaplike'. Dit lyk vir my so al of Sakkie my met hierdie opmerking soos 'n lastige vlieg probeer afskud. Hy ignoreer my problematiek en gaan gewoon voort om te bevestig dat 'vakspesialiste' soos hy weet wat hulle doen. So asof ander mense geen reg het om vrae te vra nie. So asof net hy en ander 'Bybelwetenskaplikes' die reg het om uiteindelik uitsprake oor die 'wetenskaplikheid' van hul studieveld te maak. Na my mening gaan dit hier oor die wortel van die problematiek wat die huidige godsdienstige gesprek in Suid-Afrika raak...

Dit lyk vir my so al of Sakkie nog in die raamwerk van die moderne (waarby ek modernistiese bedoel) paradigma opereer (Diek se artikels in Markplein toon dieselfde inslag). Dit blyk vir hom moeilik te wees om te aanvaar dat ons vandag vir verskeie narratiewe kan ruimte maak en dat 'wetenskaplikes' soos hy wat in hul vakdissiplinêre paradigma vasgevang is (soos die wetenskapsfilosoof Hans Kuhn uitgewys het) dit uit die aard van die saak moeilik vind om te aanvaar dat ander narratiewe ook geldig kan wees. Oor sy summiere verwerping van die moontlikheid dat prominente Bybel figure soos Abraham werklik kon lewe, kan ek net na die werk van Martin Bernal verwys (veral bekend vir sy boek 'Black Athena'), wat toon dat die 'hiperkritiese' en 'beterweterige' houding van geleerdes nie aan die feit verander dat diegene wat die tekste geskryf het baie nader aan daardie gebeure gelewe het nie (in direkte kontinuïteit van daardie vroeë tradisie)... Vir enige 'oop gesprek' is dit belangrik dat die gespreksgenote regtig probeer om na mekaar te luister. Ek is nie seker of Sakkie (en Diek) regtig 'hoor' wat ek sê nie." (brief verkort) Na die episode het ek gewonder of ons mekaar ooit sal "hoor" en of daar nie 'n onoorbrugbare paradigmatiese gaping tussen ons is nie.

Die kernwaarhede van elke paradigma

Elk van die groepe huldig sekere sieninge wat hulle tot onaantasbare "waarhede" verhef. Dit is veral die verskillende wyses waarop hulle die Bybel as teks beoordeel wat hulle fundamenteel van mekaar skei. Tradisionele Christene aanvaar dat die Bybelse tekste oorspronklik deur bekende skrywers soos Moses, Samuel, Dawid en so meer opgeteken is, dat dit oorspronklik onder leiding van die Heilige Gees woordeliks korrek geskryf is, dat dit as sodanig (behalwe vir kleinere foute wat met die oordra ingesluip het) aan ons oorgelewer is, dat dit 'n betroubare bron oor die geskiedenis is, dat dit in geheel gesien oor God se verlossingsplan met die mens handel en dat dit as die geïnspireerde "Woord van God" beskou moet word. Bybelwetenskaplikes is op hul beurt van mening dat die Bybelse teks op 'n laat stadium deur (meestal) onbekende skrywers opgeteken is (die tekste van die Ou Testament is grotendeels tydens en na die Babiloniese ballingskap geskryf en die Nuwe Testament lank na die gebeure waaroor dit handel), dat dit op dieselfde vlak as ander antieke tekste beskou moet word, dat dit nie 'n betroubare bron oor die geskiedenis is nie, dat dit grotendeels oor mense se denke oor God handel en dat dit dus as "mense se woorde oor God" gereken moet word.

Tradisionele Christene aanvaar hul sieninge "deur die geloof". Alhoewel hulle die Bybelse teks natuurlik baie versigtig bestudeer, neem hulle in baie gevalle nie kennis van ander buite-Bybelse antieke literatuur wat lig op die Bybelse teks kan werp nie. Hulle word ook nie aan die wyer gesprek oor die tekste blootgestel nie en behou uiteindelik hul kohesie deurdat hul sieninge gewoon as norm binne hul eie geledere beskou word. Baie tradisionele Christene glo dat hulle nie op enige van die "Bybelse waarhede" kan skiet gee nie omdat dit niks anders as kompromie met liberalisme sal wees nie. Wat die Bybelwetenskaplikes betref, aanvaar hulle dat die "wetenskap" hul sieninge onderskryf. Hulle aanvaar dat argeologiese ondersoek getoon het dat die Bybel nie 'n betroubare bron oor die geskiedenis is nie (meestal omdat daar in baie gevalle volgens hulle nie "genoegsame" bewyse gevind kon word nie). In die raamwerk van akademiese studies dwing hulle hul beskouing as die enigste geldige benadering tot die Bybelse teks af.

Daar is baie Christene wat probeer om hul geloof op 'n manier met die wetenskaplike benadering tot die Bybel te versoen. Binne die raamwerk van die gereformeerde teologie - waar die wetenskaplike ondersoek na die Bybel as vertrekpunt geneem word - word verskillende strategieë gevolg om dit te bewerkstellig. So word daar tipies aanvaar dat die waarde van die teks vir ons geloof uiteindelik daarin lê dat ons baie kan leer oor die wyse waarop daardie mense oor God nagedink het. Die teks moet dus nie as 'n bron oor die geskiedenis beskou word nie; dit gaan uiteindelik oor die teologiese denke wat in die teks na vore tree. So skryf Gerda de Villiers in die genoemde resensie oor my boek Abraham en sy God waarin ek 'n saak vir die betroubaarheid van die Genesis-verhale as 'n bron oor die antieke geskiedenis van Israel maak, die volgende:

"[O]m die tekste met argeologie en harde historiese feite te laat klop, misken die intensie van die Bybel: dit wil juis nie ‘n betroubare gesaghebbende bron van die geskiedenis wees nie... Die vraag is dan nie na Abraham as historiese figuur nie, maar na die teologie – of teologieë rondom die Abraham-figuur. Deur tekste het Ou Israel nie ‘n historiese Abraham nie, maar ‘n teologiese Abraham en sy God beskryf. En dít is die Bybelwetenskappe se soektog: nie ‘n historiese Abraham nie, maar ‘n Abraham soos wat Ou Israel hom verstaan het." [2]

Hierdie strategie oorkom die wetenskaplike problematiek rakende gebrek aan bewyslas (vir Bybelse gebeure) asook wonderwerke. Maar dit ondermyn die gesag van die Bybel tot so 'n mate dat dit bykans vir die gemiddelde persoon onhoudbaar word om steeds vertroue in die Bybelse boodskap van verlossing te hê. As die betroubaarheid van die Bybel as bron oor die geskiedenis prysgegee word, dan kom ons uiteindelik voor die vraag te staan: moet ons dieselfde omtrent Jesus doen? Is sy historisiteit ook nie belangrik nie. Op hierdie punt gooi gereformeerde teoloë wal. Sommige soos Ben de Toit (in sy boek God? Geloof in 'n postmoderne tyd (Griffel, 2012)) skop by Jesus vas. Alhoewel hy die bestaan van Satan prysgee en uiteindelik in 'n "God agter God" glo, is die opstanding van Jesus die plek waar hy die streep trek. Maar hoe volhoubaar is so 'n posisie in die raamwerk van Bybelwetenskap?

Christene - veral diegene uit die meer tradisionele stroom - sien hierdie uitkoms as een rede waarom daar in die eerste plek nie aan die eise van die wetenskap toegegee moet word nie. Die gemiddelde persoon is egter nie gemaklik met 'n geloof wat glad nie op 'n sinvolle wyse met die wetenskap in gesprek tree nie. Hulle staan voor 'n dilemma: daar word algemeen aanvaar dat die wetenskap die norm vir alle studievelde moet wees, maar terselfdertyd lyk dit of die wetenskap alle deure vir geloof toemaak. Die vraag is egter of die wetenskap inderdaad die sieninge van Bybelwetenskap onderskryf? Alhoewel dit op die oog af so mag lyk, is dit nogal nie die geval nie. Oor die laaste aantal jare is daar 'n nuwe wending in feitlik alle studievelde waarin daar indringende vrae oor die filosofiese gronde - dit is die basiese veronderstellings wat deur wetenskaplikes gemaak word - gevra word. Die vraag is dus: Hoe wetenskaplik is die wetenskap - en meer spesifiek Bybelwetenskap?

Alhoewel Bybelwetenskaplikes gewoonlik aanvaar dat die "waarhede" van die tradisionele Christendom onhoudbaar is, is hul eie "waarhede" nie so vas en seker as wat hulle self dink nie. Bybelwetenskap is glad nie 'n empiriese wetenskap soos byvoorbeeld fisika, biologie en so meer nie. Dit word onder die sogenaamde "hermeneutiese" dissiplines gereken - dit is die interpreterende studievelde. Hier gaan dit oor die interpretasie van tekste. Alhoewel Bybelwetenskaplikes van mening is dat ander studievelde soos argeologie hul aanslag tot die tekste noodsaak, is dit nie so nie. Daar was oor die laaste aantal jare indringende gesprekke binne argeologiese kringe en daar is grotendeels afgesien van alle pogings om argeologie as 'n empiriese wetenskap te bedryf (sien die artikel op my blog: A critique of archaeology as a science). Daar het 'n groter openheid ontwikkel dat daar verskeie interpretasies van die data kan wees en dat verskillende narratiewe moontlik is. Dit lyk egter nie of die implikasies van hierdie gesprek al werklik tot Bybelwetenskaplike kringe deurgedring het nie. Hul liefde vir die uitdrukking "Bybelwetenskap" (wat eintlik net teksstudies is) en hul houding laat dit soms lyk of hulle onder die wanindruk verkeer dat hulle 'n ware (empiriese) "wetenskap" bedryf.

Alhoewel dit vir die Bybelwetenskap ondenkbaar is, is daar duidelik ruimte vir ander interpretasies van die Bybelse teks as die wat hulle voorstaan. Argeologiese ondersoek het beslis nie die Bybel verkeerd bewys nie (die saak van Bybelwetenskaplikes in hierdie verband berus grotendeels op die gebrek aan "genoegsame" data) en die Bybelskrywers self maak daarop aanspraak dat hulle 'n betroubare weergawe van Israel en later die kerk se geskiedenis opgeteken het. Die probleem het eerder met wonderwerke te doen. Die vraag is dan of ons kan glo dat God bonatuurlik in die geskiedenis ingegryp het en of ons dit op wetenskaplike gronde as mites en magiese beskouinge van primitiewe mense afmaak. Op hierdie punt gaan dit uiteindelik daaroor of ons glo dat God wonderbaarlik in Israel en die kerk se geskiedenis kon werk of nie. Dit val buite die raamwerk van die wetenskap.

Hoe om die geloof te behou?

Daar kan uiteindelik gevra word: Wat is die impak van die verskillende paradigmas op geloof? Daar kan geen twyfel bestaan dat die tradisionele Christendom baie mense deur hul harde en liefdelose dogma van die geloof vervreem het nie. In die boek UnChristian, what a new generation really thinks about Christianity... and why it matters (BakerBooks, 2007), waarin navorsing oor buitestaanders se persepsies oor evangeliese Christene in die VSA bespreek word, skryf die outeurs (self evangeliese Christene): "Painful encounters with the faith also have a strong influence on what a person thinks of Christianity. In fact, we discovered that one-fifth of all outsiders, regardless of age, admitted they 'have had a bad experience in a church or with a Christian that gave them a negative image of Jesus Christ'... Being hurt by Christianity is far more common among the young than among older outsiders. Three out of every ten outsiders said they have undergone negative experiences in churches and with Christians" (p32).

Die persoonlike getuienisse in Hier staan ek is duidelik in lyn met hierdie navorsing. Wat egter opval, is dat die meeste van die persone wie se getuienisse in die boek opgeneem is, ouer mense is. Dit staan in kontras met die Amerikaanse getuienis. Wat kan die rede wees? Dit het moontlik daarmee te doen dat die Afrikaner kultuur in sigself 'n paar dekades terug soms nog 'n harde, ongenaakbare kant gehad het. Die Christelike belewenis in Afrikaner kringe was tot 'n groot mate 'n weerspieëling en projeksie van die wyer Afrikaner kultuur. Dit verander egter nie aan die feit dat die meeste bydraers ook hul vervreemding van die kerk aan die "simplistiese en onhoubare" sieninge van die tradisionele Christendom toeskryf nie. Vir hulle is die tradisionele beskouinge net nie meer relevant tot die wetenskaplike eeu waarin ons lewe nie.

Wat verder omtrent die bydraers opval, is hoeveel van hulle predikante is of was. Hoekom sal so baie predikante hul geloof verloor of ten minste twyfel? Die antwoord hierop het duidelik nie net met die praktiese belewing in die kerk te doen nie maar ook met die teologiese opleiding waartydens hul intellektuele-godsdienstige basis gelê is. Uit die voorafgaande bespreking is dit duidelik dat die Bybelwetenskaplike aanslag wat in die gereformeerde teologie gevolg word 'n belangrike bydraende faktor in hul geloofsherbesinning kon wees. As die wetenskaplike aanslag tot die Bybel onkrities tot sy noodwendige implikasies deurgevoer word, is dit duidelik dat die ruimte vir geloof aansienlik ingeperk word. Die Bybelwetenskaplike benadering werk ongeloof aan die hand. Daarom is dit nodig dat die wetenskaplike basis vir hierdie benadering opnuut onder oë geneem word - dit is nie so "wetenskaplik" as wat algemeen veronderstel word nie.

Daar is natuurlik baie predikante en ander Christene wat met die Bybelwetenskap bekend is, maar wat nie by al haar veronderstellings inkoop nie. Hulle aanvaar dat daar plek vir 'n gesonde vorm van tekskritiek is, maar hulle aanvaar nie die veronderstelling dat die Bybelse teks slegs as teologiese nadenke oor God beskou moet word nie. Hulle is van mening dat daar genoegsame getuienis is dat die Bybelse verhale wel as betroubaar aanvaar kan word. Vir hulle is hierdie punt baie belangrik omdat dit die gesag van die Bybel as "Woord van God" onderlê. Sommige van hulle staan nader aan die tradisionele beskouinge en onderskryf dinge soos die woordelikse inspirasie van die Bybel, die skepping in ses sondae en so meer. Andere onderskryf eerder 'n integriteitsiening van inspirasie (sien die bylaag in my boek Abraham en sy God) en is gemaklik met die Groot Knal (alhoewel dalk nie met Neo-Darwinistiese evolusie nie). Maar hulle staan by die basiese leerstellings van die Christelike geloof. En hulle streef hopenlik om deurgaans in hul interaksie met andere (en veral diegene wat met hulle verskil) die gesindheid van Christus te openbaar.

Alhoewel die Bybelwetenskap nooit die tradisionele perspektief waarin alle tekskritiek summier afgewys word se geldigheid sal aanvaar nie, is daar geen rede om die bestaansreg van ander sinvolle narratiewe te ontken nie. Alhoewel hierdie geleerdes vanweë hul langdurige blootstelling aan die voorveronderstellings van hul eie paradigma nie met ander narratiewe gemaklik is nie, is dit hoog tyd dat hulle afsien van hul pogings tot hegemoniese beheer oor interpretasie. Dit is juis wat die postmoderne mens uit die foute van modernisme geleer het: niemand het 'n alleenreg op interpretasie nie. As Gerda de Villiers dus skryf: "[Die Bybel] wil juis nie ‘n betroubare gesaghebbende bron van die geskiedenis wees nie", dan is dit beslis nie 'n feitlike wetenskaplike stelling nie; dit is gewoon 'n projeksie van haar eie paradigmatiese verbondenheid.

Baie Christene is, net soos die gemiddelde persoon op die markplein van denke, op soek na sinvolle interpretasies. Interpretasies wat relevant is vir die wetenskaplike tyd waarin ons lewe, maar wat terselfdertyd genoeg ruimte skep vir geloof. Tradisionele Christene huldig soms sieninge wat net nie meer vir die kontemporêre mens sin maak nie en dus geloof ondermyn. Ingeligte mense kan net nie meer vrede maak met sieninge wat teen alle wetenskaplike feite ingaan nie. Aan die ander kant huldig Bybelwetenskaplikes sieninge wat nie alleen geen wetenskaplike gronde het nie (wat die vakgebied vanweë haar diep wortels in modernisme geërf het), maar wat ook die ruimte vir geloof aansienlik inperk. Beide paradigmas dra dus by tot ongeloof. Wat nodig is, is sinvolle interpretasies wat genoegsame ruimte vir geloof skep.

Slot

Die tradisionele Christendom en die Bybelwetenskap staan as twee onversoenbare teenpole teenoor mekaar. Twee paradigmas wat nie mekaar se taal verstaan nie en wat ook nie geïnteresseerd is om na mekaar te luister nie. Twee paradigmas wat oor jare gevorm is en wat nie maklik sal verander nie. Beide hou vas aan hul "waarhede" - die een groep aan die waarhede van die "geloof" en die ander aan die waarhede van die "wetenskap". Tog is die geloof nie van meets af in kompetisie met die wetenskap nie - ons kan in wonderwerke glo al dink ons dat die wetenskap oor die algemeen die wette van ons wêreld goed beskryf. Die dae waarin Bybelwetenskaplikes gedink het dat hulle narratief die enigste geldige narratief is, is ook verby. Bybelwetenskap is glad nie so wetenskaplik as wat soms in daardie kringe gedink word nie. Dit is juis hierdie beperking van Bybelwetenskap wat die ruimte skep waarin ander geldige interpretasies kan bestaan. Daar is vandag ruimte vir verskillende sinvolle narratiewe. Daar is ruimte vir die gemiddelde persoon om hul eie narratief saam te stel - om vir hulleself te dink. Om dit so te konstrueer dat dit ruimte maak vir geloof.

[1]  In Op soek na Abraham en sy God argumenteer ek dat die Genesis-verhale sedert die vroegste tye in Israelitiese kringe oorgelewer is (die pre-patriargaalse verhale is dus nie tydens die ballingskap uit Babilonië ontleen nie). Ek voer verskeie argumente hiervoor aan wat veral op argeologiese getuienis, vroeë Sumeriese en Akkadiese tradisies asook die oorspronge van die Israeliete se godskonsep berus (die oorspronge van El-Elyon, El-Sjaddai, Elohim - en Satan - in die raamwerk van die Hebreeuse goderaad).  Alhoewel ek laasgenoemde as my belangrikste argument beskou, het nie Sakkie of Gerda enige opmerkings daaromtrent gemaak nie.

[2]  Gerda gee te hoog op. Bybelwetenskaplikes kan nie daarop aanspraak maak dat hulle toegang tot die denke van Ou Israel het en dus weet hoe hulle Abraham verstaan het nie. Ons rekonstruksie van hul perspektiewe is maar net ons eie perspektiewe oor hulle.

Skrywer: Dr Willie Mc Loud. Ref. www.wmcloud.blogspot.com; wmcloud@yahoo.com
As jy die artikel sinvol vind, stuur dit aan andere wat ook in die kontemporêre godsdienstige gesprek geïnteresseerd is. Share dit. So kan al meer mense saampraat.

Lees Willie Mc Loud se artikels
A critique of Biblical Criticism as a scholarly discipline
A critique of archaeology as a science

Lees die resensie van Gerda de Villiers in TEO hier.

Die Markplein uitgawe (Okt 2012) waarin Sakkie Spangenberg se resensie van Abraham en sy God verskyn, is nog nie op hul webblad gepos nie.

Monday, 17 September 2012

Sakkie Spangenberg en Modernisme

Sedert die begin van die jaar vind daar 'n gesprek oor die wetenskaplikheid van sogenaamde "Bybelwetenskap" in die tydskrif Markplein plaas. In 'n brief aan Markplein (Junie 2012) het ek aangevoer dat Bybelwetenskap in effek 'n "pseudo-wetenskap" is. Sakkie Spangenberg het toe in 'n brief daarop gereageer (Julie 2012). My reaksie op sy skrywe verskyn in die nuutste uitgawe van Markplein (September 2012). Ek plaas dit ook hier op my blog.

Willie McLoud reageer in sy brief op Sakkie Spangenberg se artikel wat in die Julie uitgawe van Markplein verskyn het en waarin hy verduidelik het hoe die Bybelwetenskap werk.
Ek wil graag op Sakkie Spangenberg se reaksie op my brief in Markplein (5/2012) reageer. Volgens Sakkie het ek 'n broertjie dood" aan die woord "Bybelwetenskaplike". Dit lyk vir my so al of Sakkie my met hierdie opmerking soos 'n lastige vlieg probeer afskud. Hy ignoreer my problematiek en gaan gewoon voort om te bevestig dat "vakspesialiste" soos hy weet wat hulle doen. So asof ander mense geen reg het om vrae te vra nie. So asof net hy en ander "Bybelwetenskaplikes" die reg het om uiteindelik uitsprake oor die "wetenskaplikheid" van hul studieveld te maak. Na my mening gaan dit hier oor die wortel van die problematiek wat die huidige godsdienstige gesprek in Suid-Afrika raak. In Afrikaans word die woord "wetenskaplik" in 'n baie wye sin gebruik - dit kan 'n empiriese wetenskap maar ook hermeneutiese dissiplines soos teksstudies insluit. Hierdie vaagheid in die omskrywing van die woord "wetenskap" gaan terug na die tyd van modernisme toe verskeie dissiplines (soos teksstudies) in hul poging om as "wetenskappe" erken te word, nog empiries-wetenskaplike benaderings nagestreef het. My aanklag is dat dit die vakgebied ten diepste gekompromitteer en uiteindelik ook gediskrediteer het, juis omdat die dissipline vanuit sulke positivistiese wortels gegroei het. Ek maak die aantuiging dat die verwerping van die historisiteit van alle wondergebeure in die Bybel juis die gevolg is van hierdie benadering wat deur die jare in die studie van die Bybelse teks gevolg is.

My betoog is dat ons nie alleen tussen die ou pre-moderne en die latere moderne paradigma moet onderskei soos Sakkie noem nie, maar ook tussen die moderne en postmoderne paradigma. Alhoewel ek nie by die postmoderne paradigma inkoop nie, stel ons situering in die postmoderne era ons in staat om die moderne paradigma sinvol te kritiseer. Dit lyk vir my so al of Sakkie nog in die raamwerk van die moderne (waarby ek modernistiese bedoel) paradigma opereer (Diek se artikels in Markplein toon dieselfde inslag). Dit blyk vir hom moeilik te wees om te aanvaar dat ons vandag vir verskeie narratiewe kan ruimte maak en dat "wetenskaplikes" soos hy wat in hul vakdissiplinêre paradigma vasgevang is (soos die wetenskapsfilosoof Hans Kuhn uitgewys het) dit uit die aard van die saak moeilik vind om te aanvaar dat ander narratiewe ook geldig kan wees. Oor sy summiere verwerping van die moontlikheid dat prominente Bybel figure soos Abraham werklik kon lewe, kan ek net na die werk van Martin Bernal verwys (veral bekend vir sy boek "Black Athena"), wat toon dat die "hiperkritiese" en "beterweterige" houding van geleerdes nie aan die feit verander dat diegene wat die tekste geskryf het baie nader aan daardie gebeure gelewe het nie (in direkte kontinuïteit van daardie vroeë tradisie). Hulle was in sekere opsigte in 'n baie beter posisie as ons om oor daardie geskiedenis te oordeel. Ons weet vandag (in die postmoderne tyd) dat hipotese-toetsing in teksstudies altyd voorlopige data insluit (dit is nie in empiriese eksperimentering of gekontroleerde ondersoek gegrond nie) en dat Bybelse geleerdes in effek nooit in 'n posisie sal wees om te weet of hulle enigsins "reg" is nie. Soos reeds genoem, vind alle hipotese-toetsing verder in die raamwerk van die "wetenskaplike" tekskritiek paradigma plaas wat onherroeplik deur sy modernistiese wortels gekompromitteer is.

Vir enige "oop gesprek" is dit belangrik dat die gespreksgenote regtig probeer om na mekaar te luister. Ek is nie seker of Sakkie (en Diek) regtig "hoor" wat ek sê nie. My siening is in my boek Op soek na Abraham en sy God (Griffel) beskikbaar.

Willie McLoud


My vorige skrywes aan Markplein is ook op hierdie blog gepos (www.wmcloud.blogspot.com) en kan gelees word deur op die sleutelwoord "Markplein" regs op die blog te klik. 'n Belangrike artikel oor Bybelwetenskap getiteld "Om te glo of nie te glo nie..." het in Pomp 12 verskyn en verskyn onder die lys van populêre artikels regs op hierdie blog.

Ref. wmcloud.blogspot.com

Monday, 4 June 2012

Is Bybelse wetenskap 'n pseudo-wetenskap?

In 'n brief in die Maart uitgawe van die tydskrif Markplein het ek genoem dat Bybelse "wetenskaplikes" hulle na my mening met 'n pseudo-wetenskap besig hou. Daar was heelwat reaksie op die brief en die hoofartikel in die Mei uitgawe het spesifiek op wetenskap vs pseudo-wetenskap gefokus. Na aanleiding van daardie artikel het ek my probleem met die Bybelse "wetenskaplikes" verder uitgelig in 'n brief wat pas in die Junie uitgawe verskyn het. Ek plaas die brief hier.


Dit lyk of my verwysing na "pseudo-wetenskaplike" metodiek asook na "sogenaamde Bybelse 'wetenskaplikes' wat hulle na my mening met 'n pseudo-wetenskap besig hou", in Markplein (Maart 2012), behoorlik die tonge aan die gons het. Soveel so dat Diek dit goedgedink het om met die hoofartikel in die Mei uitgawe daarop te reageer. Ek wil graag op my opmerkings uitbrei en sommer op my beurt op sy artikel reageer.


1.    Soos Diek tereg noem, moet ons eerstens oor die uitdrukking "wetenskap" besin. Hoe moet ons die term "Bybelse wetenskaplikes" verstaan wat deesdae gereeld in die media vir mense soos Sakkie Spangenberg gebruik word? Daar kan na my mening geen twyfel bestaan dat hierdie geleerdes (hoofsaaklik in navolging van die Duitse positivistiese tradisie) 'n modernistiese aanslag tot die ontleding van die Bybelse teks volg waarvolgens daar gepoog word om hierdie vakdissipline op 'n empiries-wetenskaplike basis te plaas nie. Dit is waarom hulle byvoorbeeld nie wonderwerke - wat 'n groter werklikheid as die wetenskaplik-toeganklike aspek van die kosmos veronderstel - in hul perspektief kan akkommodeer nie. Daarom glo daardie geleerdes nie in die maagdelike geboorte of die opstanding nie. Ek wil hierdie vertrekpunt ten sterkste kritiseer - ek dink nie ons moet enigsins so met die Bybelse teks omgaan nie. As ons "wetenskap" eerder as "sistematiese studieveld" (Diek se "kennis-paradigma") definieer, kan ons altyd 'n groter werklikheid veronderstel en op 'n sistematiese wyse van byvoorbeeld Kant se "praktiese rede" in ons hermeneutiese studie van die teks gebruik maak. Op hierdie wyse kan ons vir wonderwerke ruimte maak (sien in hierdie verband my artikel in Pomp.
 
2.    Indien die empiriese wetenskap (implisiet of eksplisiet) as vertrekpunt tot die studie van die Bybelse teks geneem word, dan moet die maatstaf van empiriese toetsing en verifikasie onderskryf word soos in die natuur- en sosiale wetenskappe. En hier lê die probleem. Ten spyte van die ensemble van geleerde opinies, is daar geen manier waarop hierdie "wetenskaplikes" hul teoretiese modelle aan gekontroleerde empiriese toetsing kan onderwerp en dus enige wesentlike kennis-uitsprake kan maak nie. Die ontstaansgeskiedenis van die Bybelse teks is vir altyd verlore wat impliseer dat geen van hul hipoteses hieromtrent sinvol getoets kan word nie - die JEPD hipotese oor die bronne vir die Ou Testament wat vir lank aanvaar is, het byvoorbeeld in die laaste tyd heeltemal verkrummel. Voorts is die argeologiese data feitlik nooit genoegsaam verteenwoordigend nie (dit is nie 'n gekontroleerde steekproef nie!) en ook nooit sonder interpretasie nie (wat soms wyd uiteenlopend is). Ons kan niks anders doen as om ruimte te maak vir verskeie narratiewe nie. Ek bring juis binnekort 'n boek uit waarin ek 'n totaal ander narratief as die heersende "wetenskaplike" beskouing omtrent die vroeë Genesis-verhale verdedig, naamlik dat ons met baie ou Israelitiese tradisies te doen het wat deur die Abrahamse familie uit Sumerië saamgebring is (Op soek na Abraham en sy God. 'n Studie oor die historisiteit van die vroeë Genesis verhale, Griffel). Dit beteken dat Abraham 'n historiese figuur was - ek toon dan ook dat daar goeie argeologiese getuienis is wat so 'n siening ondersteun. Verder is daar Sumeriese bronne en argeologiese data wat die historisiteit van die pre-patriargale verhale breedweg ondersteun.
 
3.    My grootste probleem met die gebruik van die benaming "Bybelse wetenskaplikes", is dat daardie geleerdes hierdie term gebruik om gewig aan hul uitsprake te gee. Hulle probeer daardeur hul narratief teenoor ander narratiewe as die "wetenskaplike" narratief voorhou - waarby hulle na my mening 'n empiriese wetenskap bedoel (dit is ook hoe die term in die volksmond verstaan word). Dit is nie alleen onwaar nie (hul studieveld voldoen glad nie aan die vereistes daarvoor nie), dit is inderwaarheid misleidend. Dit mislei die publiek wat dink dat hulle "wetenskaplikes" in die empiries-wetenskaplike sin is en wat op grond daarvan hulle uitsprake hoog aanslaan. Hierdie is tipies die situasie wanneer ons met 'n pseudo-wetenskap te doen het. Alhoewel daar 'n voortdurend-veranderende grys area tussen wetenskap en pseudo-wetenskap bestaan, vereis wetenskapsfilosowe tipies dat toetsbaarheid in die afbakeningskriteria wat tussen die twee onderskei, ingesluit word. Die wiki-definisie vir pseudo-wetenskap wat Diek aanhaal beklemtoon ook dat dit nie "betroubaar getoets" kan word nie. Hyself lê klem op "bewyse". Dit is ongelukkig presies wat in die "Bybelse wetenskap" ontbreek - daar is geen manier waarop hul hipoteses op 'n empiries-betroubare wyse getoets kan word nie. 

Ek is dankbaar dat Markplein vir ander opinies ruimte maak. Alhoewel Coenie in die laaste uitgawe van Markplein wonder of godsdienstige gesprek oor uiteenlopende standpunte heen sinvol kan plaasvind, wil ek hom bemoedig: Markplein skep so 'n gespreksruimte en ek is seker dat ons mettertyd 'n ware "oop gesprek" hier sal sien.

Klik by "onderwerpe" (regs op die blog) op die woord "Markplein" om die ander brief ook te lees.

Tuesday, 13 March 2012

Het die Israelitiese uittog regtig plaasgevind?

In die Februarie 2012 uitgawe van die tydskrif Markplein word die historisiteit van die uittog betwyfel.  Alhoewel dit as deel van die redaksionele kommentaar onder die "reaksie van ons lesers" verskyn het, het ek tog besluit om daarop te reageer.  My brief is toe in die Maart uitgawe geplaas.  Ek pos beide die betrokke gedeeltes wat in die tydskrif verskyn het hieronder.  Lesers is welkom om kommentaar te lewer. 

Markplein Februarie 2012
REAKSIE VAN ONS LESERS

Coenie se klip in die bos in die Desember-uitgawe het gehandel oor die logistieke probleme in verband met die Israeliete se uittog uit Egipte. Riaan Pienaar het van hom laat hoor na aanleiding daarvan en ‘n ander interessante gesigspunt na vore gebring. Ja, wraggies, Riaan, wie het nou al so daaraan gedink! Terloops, die jongste argeologiese navorsing kon geen bewyse van ‘n uittog vind nie en ontdekkings dui al meer daarop dat die Israeliete maar altyd in Kanaän gewoon het.
"Oor die uittog uit Egipte het ek ook al baie gewonder oor die logistiese probleme wat so 'n gebeurtenis moes oplewer. Die ding wat my nog al die jare gepla het, is hoe de swernoot Moses en Aaron telkens so 'n groot klomp mense kon toespreek sonder 'n moewiese klankstelsel. Selfs al was daar net 'n paar duisend en nie miljoene nie, is daar nie 'n manier waarop die skare, met die uitsondering van die klompie heel voor, die spreker kon hoor nie. En baie het nogal afgehang van dit wat die volk meegedeel is."

Markplein Maart 2012
REAKSIE VAN ONS LESERS

Ons het van Willie McLoud ‘n reaksie ontvang op ‘n paar dinge wat in die afgelope aflewering van Markplein geskryf is. Dankie vir jou brief, Willie. Dit is net wat ons in Markplein wil hê: hoe groter die verskeidenheid standpunte hoe beter. Ons hou ook daarvan om aangevat te word waar ons lesers van ons verskil.

Miskien is daar lesers wat o.a. wil reageer op Willie se toepassings van die konsep van pseudo-wetenskap.

"Ek het die nuutste uitgawe van Markplein met belangstelling gelees. Die naam het my dadelik opgeval omdat ekself verlede jaar in my eerste artikel op my blog die kontemporêre gespreksruimte met die beeld van 'n markplein toegelig het. In Plato se "Apologie", waarin hy Sokrates se verdediging voor die Atheense hof opteken, noem laasgenoemde hoe hy die gewoonte gehad het om by die toonbanke op die markplein gesprekke aan te knoop. Sy bevinding was egter dat diegene wat hy daar raakgeloop het, tipies daarvan oortuig was dat hulle werklike kennis oor dinge het, terwyl hulle eintlik in totale onkunde gelewe het. Ek wil voorstel dat dieselfde situasie in ons tyd geld: bykans almal praat asof hulle wetenskaplikes is!

Sokrates noem verder, in 'n latere gesprek voor sy teregstelling (aldus Plato), dat "teorieë waarvan die bewys op waarskynlikheid berus, bedrieglik is". Dit is 'n fout wat ook vandag algemeen voorkom. Sonder om Markplein in hierdie opsig uit te sonder, wil ek tog 'n paar voorbeelde hiervan in die vorige uitgawe uitwys (1/2012). In die toeligting van een van die briewe word die maatstaf van waarskynlikheid byvoorbeeld op 'n pseudo-wetenskaplike wyse ingespan om uitsprake oor die historisiteit van Bybelse verhale soos die uittog te maak (i.e. op grond van die moontlike logistieke probleme). So asof daar nie regdeur die geskiedenis - en tot vandag - vreemde en buitengewone dinge gebeur het nie. Voorts word die argeologie op dieselfde pseudo-wetenskaplike wyse ingespan om hierdie siening te onderskryf. Ons weet dat argeologiese opgrawings weinig 'n verteenwoordigende steekproef van data uit enige periode verteenwoordig. Argumente wat op stilswye gebaseer is (i.e. daar is geen bewyse vir die uittog gevind nie), is dus hopeloos onwetenskaplik. Ons kan in hierdie verband aan die Tel Dan Stela dink wat 'n paar jaar gelede die akademiese appelkar omgegooi het. Dit toon dat Dawid wel gelewe het soos uit die bewoording "huis van Dawid" op die stela gesien kan word - in teenstelling met die konsensus wat tot op daardie stadium in 'n groot deel van die akademiese gemeenskap bestaan het dat die vroeë monargistiese verhale onhistories is (dit is die lot van sogenaamde Bybelse "wetenskaplikes" wat hulle na my mening met 'n pseudo-wetenskap besig hou). Sommige was so oortuig van hul saak, dat hulle aanvanklik nie die fonds as eg wou aanvaar nie!

Alhoewel ek die hoofartikel oor die sogenaamde Nuwe Hervorming insiggewend gevind het, het hierdie dinge vir my 'n bietjie afbreek aan die tydskrif gedoen. Ek dink juis ons moet die hedendaagse pseudo-wetenskaplikheid wat so baie gesprekke op die kontemporêre markplein kenmerk, probeer vermy. Ek is juis bekommerd dat die Suid-Afrikaanse markplein in die voetspore van die Atheense markplein kan volg indien sommige pseudo-wetenskaplikes die groter bevolking so beïnvloed dat hulle uiteindelik die stemme van profete soos Sokrates verwerp en probeer dooddruk.

Sterkte met jul werk.
Willie Mc Loud

Friday, 22 July 2011

Hoekom blog jy, Willie?

Waarom blog ek? Hoekom skryf skrywers?  Soos ek dit sien, kan die idee van 'n markplein dit mooi verduidelik.  Dit is die plek waar mense saamgekom het om met mekaar oor allerhande dinge te praat. Om mense te vind wat in soortgelyke dinge as hulle belangstel. Om stimulerende gesprekke oor allerhande interessante dinge te voer. Op die markplein was daar sommige wat praat en baie ander wat luister. Soos die gesprek ontwikkel volg 'n klop omstanders dit en sommige van hulle gooi ook soms 'n klip in die bos.

Uiteindelik kan een gesprek 'n groot impak op die samelewing hê! Soos wat al meer mense die gesprek voortsit en daaroor nadink - miskien op 'n gekoördineerde wyse - kom daar 'n punt waar mense met invloed gedwing word om daarop te reageer. Dan begin dit om 'n impak op die samelewing te hê. Gesprekke verander ons samelewing. Vandag vorm die media, met al die nuwe moontlikhede vir gesprek, die eietydse intellektuele markplein van ons wêreld. In die Arabiese lande lei dit tot dramatiese politieke veranderinge. In Suid-Afrika bring dit ook stadig maar seker verandering in ons samelewing. Dit noodsaak my om ook aan sommige van hierdie gesprekke deel te neem. My blog is nie alleen my bydrae tot die eietydse gesprek nie maar ook ‘n beskeie poging om hierdie gesprek ten opsigte van daardie sake wat my interesseer te stimuleer. 

Die dinge waaroor ek nadink het meestal met die essensie van ons menslike bestaan te doen. Watter rede het ons om te dink dat daar meer aan die wêreld is as gewoon die fisies-waarneembare dinge? Aan die een kant het ons die wetenskap wat die fisiese wêreld ondersoek. Aan die ander kant het ons 'n boek soos die Bybel wat sekere aansprake oor 'n geestelike wêreld maak. Hoe integreer ek hierdie dinge in my lewe? Wat die geestelike betref, is daar mense wat iewers 'n baie negatiewe belewing daarvan gehad het - wat dit as onderdrukkend en beperkend beleef.  Daar is egter ook baie mense wat dit as bevrydend beleef - mense wat vervulling in 'n geestelike verhouding met God vind. Waarom is dit so?

Ek dink nie net na oor die groter geheel van dinge nie. As daar so 'n groter geheel is - as God en die geesteswêreld bestaan - dan is dit sekerlik 'n sinvolle afleiding dat dit nie alleen in ons persoonlike lewe sal impakteer nie, maar ook in ons wyer wêreld. Dink maar aan Bybelse profesieë oor eindtydse dinge. As die einde nader kom, sal ons seker merk dat die toneel al meer ooreenstem met dit wat die profetiese woord voorspel. In my vorige skrywes het ek dan ook telkens op eietydse gebeure gereageer. Toe die "New Age" 'n besprekingspunt word, het ek 'n boekie daaroor geskryf. Toe Christene die wederkoms aan die einde van die vorige eeu verwag het, het ek Oppad na Armageddon geskryf. Toe The Da Vinci Code verskyn, het ek Discovering the Keystone, Solving the Riddle of the Red Serpent after 40 years geskryf.  Ek het selfs vir sewe jaar 'n twee-maandelikse blad getiteld Perspektief op Wêreldgebeure uitgegee.  En nou, met die Arabiese opstande, het ek weer 'n boek op pad.

Ek hoop om mettertyd ‘n wye verskeidenheid artikels oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe vir ‘n wye verskeidenheid lesers en gespreksgenote (saampraters) op my blog te plaas. Die dinge waarin ek belangstel word elders op my blog gelys. Loer maar so van tyd tot tyd in. Miskien sal jy ook genot put uit sommige dinge wat ek skryf.