Showing posts with label wederkoms. Show all posts
Showing posts with label wederkoms. Show all posts

Tuesday, 25 October 2011

Die Arabiese Opstande - Inhoudsopgawe

1. Die Tien Horings
Inleiding
Die profesie wys tot by die wederkoms
‘n Kort bespreking van die profesie
Die Romeinse Ryk
Die voortsetting van die Romeinse Ryk
Die tien tone
‘n Eietydse interpretasie van die tien tone/horings
Nuwe gebeure in die Europese Unie
Die Arabiese opstande
Die nuwe toring van Babel
Die tien tone/horings

2. Die Ander Horing
Inleiding
Die skaapram en die bokram
Die horings van Daniël 7 en 8
Antiochus Epiphanus in Daniël 11
‘n Verdere toekomstige vervulling van die profesie
Die dier van Openbaring 13
Die dier en die prostituut
Die tyd wanneer die horing kom

3. Die Rooi Slang Familie en die Tempelskatte
Inleiding
Die Rooi Slang
Die Rooi Slang simboliseer ‘n familielyn
Die Rooi Draak
Die nasate van die duiwel?
Et in Arcadia ego …
‘n Staatsgeheim
Die Tempelskatte
‘n Koning uit die stam van Dawid?
In die raamwerk van die Europese Unie
Die horing van Daniël 7?
Die komende Antichris?

4. Libië in Bybelprofesie
Inleiding
Libië in Esegiël 38
Eietydse vertolkings van die profesie
‘n Muur in Israel
Wat van Libië?
Wat van Iran?
Oorlogs- en vredesfases
‘n Komende Moslem leier?

5. Die vyeboom as teken van die wederkoms
Inleiding
Matteus se weergawe
Lukas se weergawe
Bergpieke van profesie
Die vyeboom en die laaste geslag
Verkeerde gevolgtrekkings
Tevergeefse pogings
Die 70 jaarweke
Die laaste sewe jaar
Israel as deel van die antichristelike ryk
Wat van die millennium?
Slot

Monday, 10 October 2011

Gaan Griekeland in die Eurosone bly? - 'n eskatologiese perspektief

In hierdie artikel analiseer ek die huidige krisis in Griekeland vanuit 'n eskatologiese perspektief.  As ons inderdaad tydens die aanvang van die laaste dae lewe, kan ons verwag dat Griekeland binne die Eurosone sal bly.

Inleiding 

Die Europese Unie staan voor die grootste krisis in sy geskiedenis.  Dit is die opinie van die president van die Europese kommissie, José Manuel Barroso.  Verskeie Europese lande vind dit moeilik om hul skuld te diens, en 'n reddingstou moes reeds na verskeie van daardie lande uitgegooi word.  Dit is veral Griekeland wat diep in die moeilikheid is.  Daar is 'n algemene verwagting dat Griekeland binnekort nie meer sy verpligtinge sal kan nakom nie.  En dan kan daar 'n domino effek wees - ander, en groter lande, kan ook sink.  Verder is van die groot Franse en Duitse banke in die moeilikheid omdat daardie lande soveel geld aan die banke skuld.  Verskeie ontleders het al genoem dat die Eurosone (dit is die 17 Europese lande wat saam die Euro as geldeenheid deel) maklik kan opbreek en dat Griekeland daaruit gedwing kan word.  Maar is dit wat gaan gebeur?

'n Eskatologiese perspektief

Daar is verskillende maniere waarop die situasie ontleed kan word.  Die mees algemene is om op ekonomiese of politieke oorwegings te fokus (ek het reeds vroeër 'n artikel daaroor op my blog gepos: Die Europese Unie, wat gaan aan?).  In hierdie artikel wil ek egter vanuit 'n heeltemal ander invalshoek na die huidige Europese situasie kyk.  Ek wil vra: Wat kan ons vanuit 'n eskatologiese (eindtydse) perspektief oor Griekeland sê.  Hierdie vraag is natuurlik net relevant as ons die huidige Europese situasie op een of ander wyse met Bybelse profesieë oor die eindtyd in verband kan bring.  

Die kritiese leser sal dadelik sinies opmerk dat 'n mens darem seker nie alles wat op die wêreldfront gebeur na die Bybel moet probeer deurtrek nie.  Ek stem saam.  Ek dink dan ook nie dat die huidige finansiële krisis as sodanig met Bybelprofesieë verband hou nie.  Wat ek wel dink, is dat die groter wêreldtoneel stadig maar seker in 'n rigting begin beweeg wat wel treffend ooreenkom met dit wat in Bybelprofesieë vir die eindtyd voorspel word.  Dit is hierdie verband dat die huidige krisis van belang kan wees: dit kan bepaal hoe die opkomende Europese Unie uiteindelik daar gaan uitsien.  En dit wat uiteindelik binne die raamwerk van die Unie gebeur kan met die vervulling van Bybelprofesieë verband hou.  

Die huidige finansiële krisis kan verskillende uitkomste hê.  Ek sal twee noem.  Dit kan daartoe lei dat die Eurosone uitmekaar spat - dat Griekeland die Eurosone verlaat.  Dit kan egter ook die teenoorgestelde tot gevolg hê, naamlik dat die Eurosone verder integreer in 'n poging om in die toekoms meer bestand teen sulke ekonomiese skokke te wees.  Dit kan beteken dat die monetêre unie (die Eurosone) tot 'n fiskale unie uitgebrei word ('n gebied wat ekonomies as 'n eenheid bestuur word).  Dit is byvoorbeeld goed moontlik dat die reddingsfonds wat tans op die been gebring word, mettertyd tot 'n Europese Staatskas uitgebrei kan word, wat weer deur 'n belasting op finansiële transaksies in die Unie aangevul word.  Die groot vraag is of Griekeland deel van so 'n fiskale unie gaan wees?  En of so 'n unie - of dalk eerder 'n uiteindelike politieke unie - wat Griekeland insluit, met Bybelprofesieë in verband gebring kan word.

Griekeland en die tien-tone ryk van Daniël 2

Ek het elders (in my boek "Die Arabiese Opstande") voorgestel dat daar mettertyd binne die raamwerk van die Eurosone 'n groep lande sal wees wat verder integreer om 'n Verenigde State van Europa te vorm.  Hierdie lande sal nie alleen 'n monetêre of fiskale unie vorm nie - hulle sal sover gaan om 'n politieke unie tot stand te bring.  Ek het verder voorgestel dat hierdie lande uiteindelik met die tien-tone ryk wat in Daniël 2 vir die eindtyd voorspel word, kan ooreenkom.  Die tien tone van die beeld van Daniël 2 verteenwoordig die laaste wêreldryk wat kort voor die opkoms van die finale Antichris in die gebied van die oud Romeinse Ryk op die wêreldfront sal verskyn (Ek bespreek die profesie volledig in "Die Arabiese Opstande").  En dit lyk of Griekeland deel van hierdie ryk sal wees. 


Volgens die profesie van Daniel 2 kom die verskillende dele van die beeld wat Nebukadnesar in 'n droom gesien het, met daardie verskillende wêreldryke ooreen wat deur die loop van die eeue op die wêreldtoneel sou/sal verskyn en oor Israel gesag sou/sal uitoefen. Ons vind dan ook dat die verskillende dele van die beeld inderdaad treffend met daardie ryke ooreenkom wat sover reeds in die ontvouing van die geskiedenis verskyn het.  Ek verwag dus dat die res van die profesie ook so vervul sal word.  

Vir die doeleindes van hierdie artikel is slegs die onderste deel van die beeld van belang - van die bene af ondertoe (vir 'n bespreking van die res, sien "Die Arabiese Opstande").  So kom die yster bene byvoorbeeld treffend met die Romeinse Ryk ooreen - wat ook "hard" en "sterk" soos yster was.  Van al die ryke wat ter sprake kom, was dit verreweg die magtigste ryk.  Hierdie ryk is ook later in twee verdeel - ooreenkomstig die twee bene.  In die weste was Rome die hoofstad en in die ooste - waar Griekeland die hartland van die ryk gevorm het - was Konstantinopel (die "Nuwe" Rome) die hoofstad.  

Die twee bene loop natuurlik uit op die twee voete.  Die beeld se voete was gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.  Die teenwoordigheid van die yster beklemtoon dat hierdie ryk voortkom uit die vorige een wat deur die twee yster bene uitgebeeld is (die Romeinse Ryk).  Ons lees dat die yster en klei deur "menslike gemeenskap" met mekaar vermeng sal raak (Dan. 2:43).  Ons kan daaruit aflei dat dit op die twee verskillende groepe volke dui wat in die raamwerk van die latere Romeinse Ryk teenwoordig was, naamlik die Latynse volkere en die Germaanse volkere.  Soos voorspel, het daar dan ook twee ryke uit die twee dele van die Romeinse Ryk voortgekom  - ooreenkomstig die twee voete.  Dit is die Bisantynse Ryk in die ooste - wat ook die "Griekse Ryk" genoem is - en die Heilige Romeinse Ryk in die weste.  Hierdie ryke het onderskeidelik in 1460 (in die Peloponnesus) en in 1806 tot 'n einde gekom.     


Dit bring my by die tien tone.  Dit bestaan ook uit yster en klei.  Dit is duidelik slegs 'n verdere ontwikkeling in die raamwerk van die oud Romeinse Ryk.  In Daniël 7 word hierdie tien-tone ryk ook as tien horings op die kop van 'n vreesaanjaende dier met yster tande uitgebeeld.  Dit dui op 'n enkele ryk wat kort voor die verskyning van die uiteindelike Antichris - wat as 'n verdere horing op die kop van die dier uitgebeeld word - sal verskyn (Dan. 7:24).  Ons verwag dus nie alleen dat hierdie ryk in die geografiese gebied van die oud Romeinse Ryk sal verskyn nie, maar ook dat dit opnuut die twee dele van daardie ryk - waaronder die Griekse deel - in 'n eenheid sal saambring.  Dit kan dus in 'n sekere sin as 'n herstelde Romeinse Ryk beskou word.  Hierdie ryk het duidelik nog nie verskyn nie.  Dit sal kort voor die wederkoms - wat in Daniël 7 as die koms van die "Seun van 'n Mens" met die wolke van die hemel uitgebeeld word - op die wêreldfront verskyn.

Griekeland in die eindtyd

Dit bring ons by die huidige wêreldsituasie.  Dit is opvallend dat die Europese Unie presies - soos die profesie voorspel - in die geografiese area van die oud Romeinse Ryk opkom, met insluiting van sekere lande soos Duitsland wat in die Germaanse dele lê wat destyds buite die grense van daardie ryk geval het (en in die beeld deur klei uitgebeeld word).  Verder sluit die Unie ook lande van beide dele van die oud Romeinse Ryk in.  Die opkoms van die Europese Unie verteenwoordig duidelik 'n baie belangrike verdere ontwikkeling in die raamwerk van die na-Romeinse wêreld in Europa.  Dit is dus moontlik dat die tien-tone ryk mettertyd binne die raamwerk van die opkomende Europese Unie beslag kan kry.  Aangesien Griekeland destyds die hartland van die oostelike deel van die oud Romeinse Ryk gevorm het, verwag ek dat dit (nou as 'n moderne staat) ook deel van hierdie tien-tone ryk sal wees.  

Indien die Eurosone nie disintegreer nie, maar verder integreer om 'n fiskale unie te vorm, kan dit maklik 'n belangrike stap op pad na die vorming van die uiteindelike tien-tone ryk wees.  Ek het vroeër genoem dat daar binne hierdie fiskale unie sommige lande kan wees wat steeds verder beweeg en 'n politieke unie vorm.  Dit is eers wanneer dit gebeur dat ons kan begin uitkyk vir die moontlike totstandkoming van die tien-tone ryk.  Omdat Griekeland uiteindelik deel van daardie tien-tone ryk sal uitmaak, is daar - vanuit 'n eskatologiese perspektief - rede om te glo dat sy nie die Eurosone sal verlaat nie. 

Slot

In soverre ons vanuit 'n eskatologiese perspektief na die huidige gebeure in die Europese Unie kan kyk, lyk dit dus of ons - in stryd met dit wat die meeste ontleders die laaste paar weke gesê het - kan verwag dat Griekeland binne die Eurosone sal bly.  Meer nog, dit impliseer dat Griekeland ook deel van 'n fiskale unie sal wees - wanneer en indien dit beslag kry.  Dit impliseer verder dat Griekeland uiteindelik ook deel sal vorm van 'n politieke unie indien dit binne die raamwerk van die Europese Unie beslag kry.  Dit is nou as ons inderdaad in die laaste pylvak is en die huidige gebeure met die vervulling van Bybelse profesieë oor die eindtyd verband hou.

Ons kan dus die huidige situasie fyn dophou.  Gaan Griekeland in die Eurosone bly?  Dit is die uitkoms wat ek verwag indien die opkomende Europese Unie die voorloper van die tien-tone ryk is.  As Griekeland, ten spyte van die geweldige krisis, in die Eurosone bly, kan dit 'n aanduiding wees dat die einde inderdaad nie meer baie ver is nie.

Willie Mc Loud

Monday, 26 September 2011

Die Arabiese Opstande - Voorwoord

Hierdie boekie is die verwerking van ‘n reeks lesings wat ek onlangs by ‘n gemeente in Bloemfontein gegee het. Ek is gevra om oor die huidige wêreldsituasie in die lig van Bybelprofesieë te praat. Alhoewel ek nie iemand is wat alles wat in die wêreld gebeur na die Bybel probeer deurtrek nie – daar is baie ingrypende gebeure wat nie direk met Bybelprofesieë verband hou nie – is ek tog van mening dat sekere gebeure soos die Arabiese opstande wat tans in Noord-Afrika en die Midde-Ooste voorkom, met die vervulling van Bybelprofesieë in verband kan staan. Na my oordeel kan dit – afhangende van hoe die situasie verder ontvou – ‘n belangrike baken op die pad na die einde wees. Dit kan dus vir ons sê of die wederkoms nou wel regtig naby is of nie.

Een van die belangrikste redes waarom die Arabiese opstande belangrik is vir enige studie oor Bybelprofesieë, is omdat dit die potensiaal het om die hele situasie in die Midde-Ooste en die Middellandse See-gebied dramaties te verander. As daar ‘n demokratiese groepering van lande rondom die Middellandse See tot stand kom, sal dit maklik by die opkomende Europese Unie ingeskakel kan word (miskien met sekere beperkings soos die op vrye migrasie). Dan sal die Unie al meer soos ‘n herstelde Romeinse Ryk lyk. So ‘n Ryk kan maklik in die eindtydse antichristelike ryk oorgaan as die Antichris beheer daarvan oorneem.

Intussen is daar ‘n groep lande binne die Europese Unie wat ook vanjaar van die ander begin wegbeweeg het. Hulle vorm ‘n kerngroep lande wat mettertyd al verder polities sal integreer. Dit is in hul midde dat daar ‘n heerser vir Europa kan verrys. Dit is in elk geval wat agter die skerms beplan word. In sekere geheime groepe word beplan dat iemand uit die sogenaamde “Rooi Slang” familie mettertyd die leisels van die Europese Unie sal oorneem.

Profesieë wat in hierdie boek ter sprake kom, is dié in Daniël en Openbaring oor die dier wat tien horings het (Dan. 2, 7; Open. 13), oor die Antichris wat as ‘n ander horing tussen die tien horings uitgebeeld word, profesieë oor Libië, Iran, die Slag van Gog en Magog (Eseg. 38, 39) asook oor Israel se herstel in 1948 (die vyeboom wat bot?) en die Millennium (wat nie in 2000 n.C. gekom het nie). Ek kyk krities na sieninge wat telkens nuwe lappe op ou geskeurde klere plak. Voorts ontwikkel ek alternatiewe interpretasies wat meer inpas by die huidige stand van sake.

Hierdie is nie ‘n reeks teoretiese lesings oor die profesieë nie – die gedagte was eerder om ‘n gemaklike gesprek te voer oor die praktiese implikasies van hierdie gebeure in die raamwerk van Bybelprofesieë oor die eindtyd. Die boek is vir die gemiddelde Christenleser bedoel wat ‘n belangstelling in beide wêreldgebeure en Bybelprofesieë het.

Die reeks lesings waarna verwys word kan per reeks DVDs verkry word by die volgende adres: Ebenhaeser Gemeente, Posbus 28593, Danhof, 9310 (Selfoon 0828980853).

Willie Mc Loud (http://wmcloud.blogspot.com/)
Julie 2011
Die Strand

Saturday, 3 September 2011

Nuwe Boek: Die Arabiese Opstande

Verwagtinge en voorspellings van die wederkoms is so oud soos die Christendom self.  Onlangs was daar weer die volgelinge van Harold Camping wat onsuksesvol was in hul voorspellings oor die  wegraping op 21 Mei 2011.

Vir die ernstige student oor die wederkoms was 1948 ’n besondere baken.  Dit was die jaar van die  herstel van Israel en die gepaardgaande verwagting dat die laaste geslag aangebreek het. Baie verklaarders het gevolglik gedink dat Jesus se koms voor 2000 n.C. sou plaasvind en daarmee saam die 1,000 jaar vrederyk.

Waar het hierdie verklaarders verkeerd gegaan? Moet ons nou alle vertroue in die profetiese woorde van die Bybel laat vaar? Sekerlik nie sê die skrywer van Die Arabiese Opstande.  In hierdie boek skets Willie Mc Loud ’n toekomsperspektief gebaseer op verskeie bekende Bybelprofesieë en toon dat die eindtoneel inderdaad stadig maar seker in gereedheid kom.

Hy toon dat die huidige opstande in die Arabiese lande ’n belangrike baken is op hierdie pad. Eers was daar die opstande in Oos-Europa, toe in die lande oos en noord van die Swart See, en nou in die  Arabiese lande al rondom die Middellandse See. Is dit toevallig? Is dit slegs maar die opmars van  demokrasie? Nee, ’n nuwe wêreldorde is stadig maar seker besig om vorm aan te neem – een wat treffend ooreenkom met die eindtydse toneel wat lank terug in die Bybel voorspel is.

Hy toon aan dat die opkomende Europese Unie wat op verstommende wyse van 6 tot 27 lidlande gegroei het, sentraal staan in hierdie nuwe orde. As die Arabiese demokrasieë later ook in die Unie geakkomodeer word, sal dit al meer na ’n herstelde Romeinse Ryk begin lyk. Dit is die antichristelike ryk waarvan die Bybel profete gepraat het. Hy bespreek ook die “Rooi Slang” familie wat onverpoos agter die skerms werk om een uit hulle geledere uiteindelik op die troon van ’n toekomstige Unie te plaas.

Hierdie boek is ’n absolute moet vir elkeen wat in eindtydse profesieë belangstel. Daar is vars insigte oor die interpretasie van belangrike profesieë asook ’n geïntegreerde perspektief op die toekoms.

Dr Willie Mc Loud bestudeer al vir bykans 25 jaar die verband tussen wêreldgebeure en  Bybelprofesieë.  Hy het al verskeie boeke oor die tema geskryf en tree gereeld as spreker op.