"My volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis" - Hosea 4:6
Daar is 'n lewendige godsdiensgesprek wat nou al vir 'n aantal jaar in Suid-Afrika plaasvind. Ek het my deelname by hierdie gesprek in Julie 2011 op my blog aangekondig met 'n skrywe getiteld "Hoekom blog jy, Willie?" (op www.wmcloud.blogspot.com). Sedertdien het ek op verskeie terreine aan hierdie gesprek deelgeneem. In 2012 is ek nogal deur die gesprek meegesleur - veral in gesprekke wat in die Nuwe Hervorming gesinde tydskrif Markplein plaasgevind het. In hierdie verband het my nuutste boek Op soek na Abraham en sy God, 'n studie oor die historisiteit van die Genesis-verhale (Griffel, 2012) heelwat reaksie uitgelok.
Oor die laaste aantal jaar was daar sekere dinge wat my opgeval het. Een daarvan is die geweldige impak wat modernisme op die ouer generasie (en sommige van die huidige generasie) Suid-Afrikaanse teoloë gehad het. Een van die artikels wat ek daaroor geskryf het is "Om te glo of nie te glo nie..." wat ek op 15 April 2012 op my blog gepos het. Hierdie artikel het ook in die tydskrif Pomp 12 (Griffel, 2011) verskyn. Hierdie modernistiese aanslag bou voort op die foutiewe aanname dat daar in teksstudies ("Bybelwetenskap") op een of ander wyse "wetenskaplike" uitsprake soortgelyk aan die ander empiriese wetenskappe gemaak kan word - wat dui op 'n totale misverstaan van die "wetenskaplikheid" van hierdie dissipline.
Teksstudies is in werklikheid slegs maar 'n hermeneutiese (interpreterende) dissipline wat altyd vanaf sekere veronderstellings werk en waar ander interpretasies altyd moontlik is. Hulle vertrekpunt dat gebrek aan "genoegsame" argeologiese vondse bewys dat daardie gebeure nie plaasgevind het nie dui op 'n baie simplistiese en verouderde konsep van argeologie as empiriese wetenskap. Ek bespreek hierdie problematiek in my artikel getiteld "A critique of archaeology as a science" wat op 19 Augustus 2012 my blog gepos is. Die invloed van modernisme op die ouer geslag akademici is na my mening een van die belangrikste redes waarom daar oor die afgelope 40 jaar so 'n skeptiese inslag in Suid-Afrikaanse teologiese kringe ontstaan het.
Ek is verbaas oor die onkritiese wyse waarop daar by die modernistiese paradigma ingekoop is (soos daar weer deesdae by post-modernisme ingekoop word). In verskeie van my artikels het ek die lesers aangemoedig - in navolging van 'n skrywe deur die bekende moderne filosoof Immanuel Kant - om vir hulleself te dink. Om wyer na te lees en uiteindelik self dinge te beoordeel. Om nie maar net die "geleerdes" na te loop soos mense voorheen die priesters nageloop het en te dink dat hulle al die antwoorde het nie. Om nie maar net een verouderde paradigma vir 'n ander te verruil wat nie veel beter is nie. Alhoewel ons baie by die gedissiplineerde studie oor die Bybel kan leer, het akademici nie al die antwoorde nie - daar is wel sommige van hulle wat baie arrogant dink dat hulle by die bron van kennis gearriveer het. Ons moet ons nie veel aan hulle steur nie - hulle beïndruk eintlik net hulleself.
Ek het ook probeer om 'n gebalanseerde beskouing vir gesonde geloof uit te spel. In hierdie verband het ek artikels oor wetenskap en geloof (07/11/2011), geloof en rede (01/05/2012) asook Bybelwetenskap en tradisionalisme (31/10/2012) geskryf. Wat my hier bekommer, is dat baie tradisionele Christene in 'n anti-intellektuele raamwerk vasgevang is. Hulle staan baie wantrouig teenoor die wetenskap, rede en teksstudies. Hulle vergeet dat Jesus self geleerd was (Luk. 2:47; Joh. 7:15). So ook die persone wat die grootste impak op die geskiedenis van die Christendom gehad het - Paulus, die kerkvaders, Martin Luther, Johannes Calvyn, John Wesley en baie ander. As Christene nie sinvolle voorstelle op die tafel plaas nie, sal ander stemme daardie intellektuele gesprek oorheers en sal hulle mettertyd die aanvaarde norme van die samelewing bepaal. Dit is ons verantwoordelikheid om aan die gesprek deel te neem en te toon dat die Bybel vandag nog relevant, betroubaar en geloofwaardig is. Hoe kan mense die Bybelse boodskap van verlossing glo as hulle nie ter self ter tyd oortuig is van die relevansie van die Bybelse teks vir vandag nie? Dit is waarom ek my blog as 'n intellektuele eerder as 'n geestelike gespreksforum ingerig het.
Wat ek voorstel is dat Christene na 'n middelgrond in die geloof beweeg. Wat bedoel ek hiermee? Gewoon dat hulle probeer om 'n balans tussen die uiterstes te vind. Dat hulle gesonde interpretasies nastreef. Dit is egter nie maklik nie. Sommige staan vas by die tradisionele paradigma van denke en sien ander interpretasies as die waaraan hulle gewoond is as kompromie. Sodra 'n mens na die middelgrond beweeg, dink baie tradisionele Christene dat jy nou "liberaal" raak - al staan jy by die beginsels van die evangeliese Christendom. Hulle sien jou as deel van die "ander" groep terwyl jy hoegenaamd nie enige liberale sieninge onderskryf nie. Dit is moontlik een van die redes waarom baie behoudende Christene te bang is om regtig te sê wat hulle dink. Andere in die geleerde milieu kyk weer neer op die eenvoudige evangelie sonder dat hulle enige belewing van die lewensveranderende krag daarvan ondervind. As jy nie deel van die "Bybelwetenskaplike" denkgroep uitmaak nie, dink hulle dat jy sekere simplistiese opvattinge het wat hulle met die tradisionele groep vereenselwig.
Ek kan hierdie probleem met 'n paar voorbeelde illustreer. Neem byvoorbeeld my nuwe boek Abraham en sy God. In hierdie boek argumenteer ek dat daar genoegsame rede is om die glo dat Abraham 'n historiese persoon was en dat die verhale in Genesis 2-11 saam met hom van Sumerië na Kanaan gebring is waar dit later deel van Israel se oergeskiedenis uitgemaak het. Ek voer ook ander aspekte van Israel se tradisie soos hul geloof in die God El asook hul wêreldbeskouing na daardie wêrelddeel terug. As my argumente aanvaar word, maak dit 'n baie sterk saak dat die bronmateriaal vir die boek Genesis deur vroeë profete soos Abraham (Gen. 20:7) in Israelitiese kringe oorgelewer is en nie in die tyd van die ballingskap uit Babilon ontleen is nie. Sommige Christene het dadelik aanstoot geneem - volgens hulle kan ons nie die inligting in die Bybel na Sumerië terugvoer nie. God het dit aan Moses geopenbaar. Maar hoe het dit gebeur? Het God dit by die berg Horeb aan hom gedikteer? Hulle het geen begrip vir die milieu waarbinne die Bybelse teks ontstaan het nie. Ons moet tog die sosiale en historiese konteks waarin die Bybel opgeskryf is ondersoek. Sommige van hierdie Christene is net met drie bronne bekend: wikipedia, creation.com en The Two Babylons (eerw. Alexander Hislop, 1916). Nie een van hierdie bronne het enige gesag in akademiese kringe nie.
Ek het 'n tyd gelede met Lynette Francis op RSG se Praat Saam program oor die antieke Bybelse konsepte van die hemel en die hel gepraat (op 13 September 2012). Daar is baie Christene wat nie besef dat die Bybelse mens 'n totaal ander wêreldbeskouing as ons gehad het nie. Die tema sluit aan by 'n bespreking oor die antieke wêreldbeeld in my nuwe boek Abraham en sy God. Sommige luisteraars wat met die konsepte onbekend is, het dadelik aanvaar dat ek nie in die hemel of die hel glo nie! Ek was nogal verbaas om te sien dat iemand op Facebook skryf dat hy na my geluister het en dat ek nie in die hel glo nie. Hy het selfs die skakel na die gesprek gepos. Wat ek wel in die gesprek gesê het, is dat daardie mense 'n baie gesofistikeerde siening gehad het (in stryd met die uitsprake van sommige hedendaagse Bybelgeleerdes) en dat hulle daardie domains in die onsigbare deel van die kosmos geplaas het - wat ek met die hoër dimensionele struktuur van die kosmos vereenselwig. Ek glo dus dat daardie domains bestaan - maar dit is beslis nie in die raamwerk van die wêreld wat ons ken nie.
Aan die ander kant is daar weer diegene uit tekskritiek kringe wat in beginsel enige historiese basis vir die Genesis verhale verwerp. Hulle wil gewoon nie aanvaar dat Abraham - of enige van die persone wat in die oergeskiedenis in Genesis 2-12 vermeld word (Noag, Henog ens.) - gelewe het nie. Volgens hulle moet die teks nie op daardie manier gelees word nie - so asof hulle verstaan van die teks die enigste geldige interpretasie is! Een van die resensente uit hierdie geledere het dadelik die afleiding gemaak dat ek nog deel van die pre-wetenskaplike (tradisionele) paradigma is. As hy die moeite gedoen het om die boek met 'n oop gemoed te lees sou hy gou agterkom dat dit nie die geval is nie. 'n Ander resensent het veronderstel dat ek iemand is wat die Bybel "letterlik" vertolk en dat ek dus die siening onderskryf dat die kosmos sesduisend jaar gelede in ses sondae geskep is. Nou ja, nodeloos om te sê, dit is nie die geval nie. Soos ek reeds genoem het is daar nie by hierdie geleerdes 'n begrip dat hul vakgebied 'n hermeneutiese dissipline is wat gewoon nie finale uitsprake kan maak nie (hulle staan tipies in die modernistiese paradigma waarna ek vroeër verwys het). In der waarheid is ander interpretasies as hul eie nie net moontlik nie; dit maak selfs beter sin.
Die middelgrond is dus 'n moeilike terrein om te betree omdat die opponerende groepe jou tipies by die ander groepeer sonder dat hulle werklik hoor wat jy sê. Maar die tyd het gekom dat ons as Christene wat ons in die middelgrond bevind openlik sê dat ons nie gemaklik is met 'n simplistiese anti-wetenskaplike lees van die teks soos ons dit in tradisionele kringe vind of die sekularistiese benadering wat in Bybelwetenskaplike kringe gevolg word nie. Ons kan nie wonderwerke prysgee of aan die inspirasie van die Skrif twyfel nie. Ons kan nie twyfel in die krag van God om lewens te verander nie. Die middelgrond is 'n breë terrein waar daar vir verskeie interpretasies en dus gesonde gesprek ruimte is. Ons moet egter nie ten alle koste die middelgrond nasteef nie - alhoewel gesonde interpretasies ons wel daar sal uitbring.
Ons kan beide 'n intellektuele benadering tot die Bybelse teks volg en terselfdertyd glo dat die God van die Bybel vandag nog steeds in en deur mense in die geskiedenis werksaam is. Ons kan daarna streef om sinvolle interpretasies van die teks voor te staan wat sin maak vir die mense van ons tyd. Ons kan ook daarna streef dat God ons in hierdie tyd as werktuie sal gebruik om die wêreld deur ons te bereik. Soveel Christene wat intellektueel ingesteld is raak vervreemd van die geestelike krag van God wat in ons lewens werk, terwyl soveel Christene wat daardie krag ervaar mettertyd vanweë hul anti-intellektuele ingesteldheid vervreemd raak van die samelewing waarin hulle lig en sout moet wees. Ek het vroeër in 'n ope brief die kerk in Suid-Afrika uitgedaag om vandag relevant te wees.
Ek het oor die afgelope tyd by verskeie geleenthede voorgestel dat ons interpretasies van die Bybelse teks moet voorstaan wat vir die ingeligte mense van ons tyd sin maak. Ons moet die teks op 'n sinvolle wyse herinterpreteer soos Jesus self in sy tyd gedoen het. Was dit nie Hy wat gesê het: "Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is... Maar Ek sê vir julle...". Dink aan sy radikale nuwe verstaan van die Sabbat en hoe kwaad die tradisionele groep hieroor was. Hy het dramatiese nuwe interpretasies van die teks aan die skares voorgehou wat 'n groot impak op hulle gehad het. Ons moet dieselfde doen. Ons moet ook interpretasies voorstaan wat wegbreek van daardie "oorlewering van die ou mense" wat uitgedien geraak het.
Dit is teen hierdie agtergrond dat ek beplan om in hierdie jaar voorstelle op die tafel te plaas. Daar is 'n artikel oor die Septuagint (die Griekse vertaling van die Ou Testament wat deur die Bybelskrywers en die vroeë kerk gebruik is) waaruit die waarde van gesonde tekskritiek duidelik blyk - in hierdie geval het tekste wat tussen die Dooie Seerolle gevind is belangrike implikasies vir ons verstaan van die teks. Daar is 'n artikel oor die skeppingsnarratief van Genesis 1 waarin die problematiek rondom die sewe skeppingsdae aangespreek word - die teks ondersteun nie sieninge wat teen die wetenskap indruis nie. Ook die vraag of Adam die eerste mens was word in 'n artikel aangespreek. Verder is daar 'n artikel waarin die filosofiese basis vir geestelike intuïsie (wat Christene "God se stem" noem) beredeneer word. Ek beoog om hierdie artikels op my blog te pos en ook - saam met goeie artikels deur ander skrywers - in my ebrief "Undertanding the World" in te sluit.
Ek hoop dat daar uiteindelik al meer Christene sal wees wat openlik en gemaklik die middelgrond van geloof betree. Dat daar gemeentes uit verskeie kerkgenootskappe asook verskillende bedieninge sal wees wat rondom so 'n middelgrond sal hande vat om die mense van ons tyd met die evangelie te bereik. Dat daar 'n netwerk van Christene sal ontstaan wat nie alleen die dinamika van gesonde intellektualisme onderskryf nie, maar wat terselfdertyd die krag van God op 'n nuwe en lewende wyse in hul eie lewens ervaar. Ek vertrou dat hierdie stroompie uiteindelik tot 'n magtige geestelike rivier sal groei wat oor kerkgrense heen sal saamwerk om op nuwe maniere en met nuwe metodes na die mense van ons tyd uit te reik. Wat die evangelie op so 'n wyse aanbied dat dit nie alleen vir die mense van ons tyd sin maak nie, maar dat hulle ook hul lewens deur geloofsvertroue aan die God van die Bybel sal wy. Dat ons opnuut soos 'n stad bo-op 'n berg sal wees vanwaar die helder lig vreemdelinge en ronddwalendens uitnooi om nader te staan. Dat ons 'n oase sal wees waar menigte siele se dors geles sal word. Dat ons in die tyd waarin ons lewe 'n verskil sal maak.
Om 'n verskil te maak moet ons waag. Ons moet bereid wees om op te offer. Ons moet bereid wees om uit ons gemaksone te beweeg. Ons moet bereid wees om met 'n oop gemoed dinge te ondersoek. Ek het gedurende die tyd waarin ek die boek Abraham en sy God geskryf het baie met Abraham se lewe geïdentifiseer en later vyf geestelike oordenkings daaroor op RSG se godsdiensprogram gedoen. Abraham het in gehoorsaamheid aan God sy vaderland - die land van die bekende, Sumerië - verlaat en na 'n onbekende land getrek. So moet ons ook soms die land van die bekende - die paradigma waaraan ons bekend is - verlaat om na die middelgrond van relevante en geloofwaardige interpretasies van die Bybelse teks te beweeg. Interpretasies wat steeds die evangeliese beginsels onderskryf. As ons dit nie doen nie, gaan die Christendom al meer irrelevant word. Ons kan na Europa kyk vir 'n toekomsblik op ons eie land - dit is 'n godlose plek waar die evangeliese Christendom bykans uitgesterf het. As ons niks doen nie, sal ons land waarskynlik ook oor 40 jaar ook so lyk. So die vraag is: Gaan ons die pad aandurf? Ek het besluit: Ek trek die land binne. Almal wat wil saamtrek, is welkom.
Skrywer: Dr Willie Mc Loud Ref. www.wmcloud.blogspot.com
Lees ook
Die profeet
A message for the church
God hoor
Wrong choices
The Power of God
Something or Someone is Missing
Revival is of the Lord
Om te glo of nie te glo nie